Op berge en in dale, God is daar! Maar hoe is Hy daar?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-06-13
Teks: 
Eségiël 1:28b
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Preek – Esegiël 1:28b – lees Esegiël 1, 10, 11, 43:1-12, 48:29-35, Markus 2:13-17

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus, 

“Op berge en in dale, ja, oral is my God…” – almal van ons ken waarskynlik hierdie bekende woorde. ‘n Pragtige lied wat sing van God se alomteenwoordigheid. Wat ook al in hierdie wêreld, in ons land, en in ons persoonlike lewens gebeur, God is dáár! Maar, gemeente, dit is nog nie genoeg om maar net stil te staan by ‘n leerstuk wat gaan oor God se alomteenwoordigheid nie; dit is nie genoeg om maar net te sê “God is daar” nie. Ons moet verder as dit gaan; dit is van die grootste belang dat ons ook die vraag stel: “Maar hoe is God daar vir my? Hoe is God daar vir ons as kerk?” Dát God daar is, is onbetwisbaar. Maar die vraag hoe Hy daar is vir my, vir ons... ja, dit vra selfondersoek. En dít is die vraag waarmee die eerste hoofstuk van Esegiël ons konfronteer. 

Tema: Op berge en in dale, God is daar! Maar hoe is Hy daar?

1. Die pot en die vleis

2. Die troonwa in Babel

Voordat ons na hierdie twee punte kyk, kom ons kry eers vir onsself die nodige agtergrond vir hierdie boek waarmee ons onsself in die komende tyd wil besighou…

In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand – dit is die tydsaanduiding waarmee die – dikwels moeilike – profesie van Esegiël begin. Waarop dui dit presies? Wel,  vanuit die wette van Moses kan ons aflei dat die ‘dertigste jaar’ waarskynlik dui op die dertigste lewensjaar van Esegiël. Dit was immers op daardie leeftyd dat die priesters – en volgens vers 3 was Esegiël ‘n priester – aktief tot hulle amp toegetree het (Num. 4). Moontlik dat die dag- en maandaanduiding (die vyfde dag van die vierde maand in vers 1) selfs ‘n verwysing is na Esegiël se verjaarsdag – dalk het hy op hierdie einste dag dertig jaar oud geword. 

Onder normale omstandighede sou Esegiël op hierdie heuglike dag tot die priesteramp toegetree het, maar die omstandighede was allerbehalwe normaal. Esegiël was immers deel van die groep ballinge wat vyf jaar gelede – in 597 v.C. – deur Nebukadnesar na Babel weggevoer is (sien vers 2). Ook al wou hy, hy kón nie priester word nie, want hy was duisende kilometers verwyder van die tempel in Jerusalem. Daar was dus geen vreugdesange op Esegiël se dertigste verjaarsdag nie, maar waarskynlik eerder die woorde van ‘n lied soos Psalm 137: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink.” Inderdaad, by die riviere van Babel, meer spesifiek by die Kebarrivier (1:1 en 3), dáár het Esegiël saam met die ander ballinge gesit. Ver van Jerusalem, ver van die tempel, en ver van die aangesig van die Here… (so het hulle altans gedink). 

Maar, broers en susters, dan gebeur daar iets besonders – op die einste dag waarop Esegiël eintlik met die uitvoering van sy priesteramp moes begin het, roep die Here hom tot ‘n ander amp; in plaas van priester word Esegiël profeet! En om hom vir sy taak as profeet te roep en toe te rus, openbaar die Here Homself op ‘n asemrowende wyse aan Esegiël – en dit is waaroor die res van hoofstuk 1 gaan. Ons vind hier ‘n openbaring, ‘n visioen, wat in die Skrif byna nie sy gelyke het nie – ongelooflik, verstommend, heerlik, vreesaanjaend, sommer alles tegelyk. Geen wonder dat Esegiël die hele week daarna geestelik en liggaamlik buite aksie was nie; hierdie visioen het hom verstom en tot die siel toe uitgeput (3:15). 

Nou, gemeente, as hierdie visioen so ‘n belangrike rol gespeel het in die roeping van Esegiël, dan spreek dit vanself dat ons, in ons behandelinge van hierdie boek, ook die nodige tyd daaraan moet spandeer om dit te probeer verstaan. Ja, ‘verstaan’ – dalk moet ons daarvan nie ‘n te groot verwagting koester nie. Ons kan maar net verstaan sover as wat ons kan … verstaan. Want die majesteit en heerlikheid wat in hierdie visioen uitgebeeld word, is so ontsagwekkend, so anders as ons werklikheid, dat selfs Esegiël worstel om dit goed te beskryf. Hy struikel as’t ware om die regte woorde te vind. Amper twintig keer in sy beskrywing van hierdie visioen gebruik Esegiël vae terme soos: “dit het gelyk soos…”, “ek het iets gesien soos…”, “iets in die vorm van…” Al struikelend en strompelend worstel Esegiël om die onbeskryflike vir ons in mensetaal te beskryf. Kom ons strompel vir ‘n oomblik saam met hom (en dan fokus ek, t.w.v. die tyd, spesifiek op die hoofelemente van hierdie visioen)…

Esegiël sien uit die noorde ‘n wolk aankom. Hoekom uit die noorde? As die Here uit Israel – uit Palestina – sou gekom het, dan moes Hy mos uit die weste gekom het? (sien die kaartjie) Inderdaad het Israel wes van Babel gelê, maar nou moet ons nie dink dat die paaie van daardie tyd sommer so reguit van wes na oos geloop het nie. As dít die geval was, dan sou jy gou-gou in die onherbergsame woestyn beland het. Nee, die roete wat die mense van Israel na Babel gevolg het – en wat ook deur die ballinge vyf jaar gelede gevolg is – het eers noord gegaan, en vervolgens afgebuig na die suide. Dus, vanuit Esegiël se perspektief, waar hy daar in Babel gesit het, het die wolk vanuit die noorde gekom. En dit is inderdaad ook waarvandaan hy iemand kon verwag wat vanuit die geliefde vaderland sou kom. 

Soos wat die wolk naderkom, beskryf Esegiël wat hy sien, en hy doen dit van onder-af boontoe. Die eerste wat hy sien, is vier lewende wesens, elkeen met vier gesigte. Anders gestel: elkeen van die wesens het ‘n kop, met aan al vier kante ‘n ander gesig. Dit lyk asof die menslike gesig die voorkant was, met aan die regterkant die gesig van ‘n leeu, aan die linkerkant die gesig van ‘n bees, en aan die agterkant die gesig van ‘n arend. Omdat hierdie hele visioen, volgens vers 28, die heerlikheid van God weerspieël, mag ons aanneem dat ook die onderdele iets oor God vertel. Nou, in hoofstuk 10 sien Esegiël weer die verskyning van die vier wesens, en daar noem hy hulle cherubs. Cherubs was ‘n soort engel wat ons in die bybel altyd in die teenwoordigheid van God vind. En dit is húlle op wie in hierdie visioen God se heerlikheid afstraal, en daardie heerlikheid is so oorweldigend dat vier gesigte nodig is om dit goed te kan beskryf – die menslike gesig dui waarskynlik op God se wysheid en insig en intelligensie; die leeukop dui op God se krag, die beeskop dui op God se onveranderlikheid en konstantheid (net soos wat ‘n bees onverhinderd voortgaan om die ploeg te trek), en die arendskop dui op God se skerp oog wat alles sien. Só weerspieël hierdie vier cherubs God se heerlikheid, en in daardie kapasiteit is hulle die draers van God se troon. Met twee van hulle vier vlerke raak elkeen van hulle aan die vlerke van die volgende cherub, en so vorm hulle – in ‘n soort vierkant – die onderstel van hierdie goddelike troonwa. 

Die volgende wat Esegiël sien, is vier wiele, langs die vier lewende wesens. Maar dit is nie sommer enige wiele nie – nee, ons lees dat hulle só gemaak is asof daar ‘n wiel binne-in ‘n wiel is. Ons kan onsself dit dalk die beste só voorstel dat daar een wiel is, met daar binne-in op ‘n 90-grade hoek nog ‘n wiel. Op dié manier kan die wiele in enige rigting beweeg sonder dat dit nodig is om te draai. Hierdie konstruksie beklemtoon dus die mobiliteit van die hemelse troonwa; lees maar vers 17: “Na al vier kante het hulle gegaan as hulle gaan: hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.” Ook die lewende wesens, wat aan vier kante ‘n gesig gehad het, het nie nodig gehad om hulleself om te draai nie – vers 12: “Hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan…”; hulle het selfs reguit bene gehad (vers 7), ‘n kniegewrig was nie nodig om te draai nie. Só wys sowel die wesens as die wiele iets van God se alomteenwoordigheid. Hy sien alles: die vier wesens sien immers vorentoe, na links, na regs en agtertoe. God se troonwa ken ook nie, soos ons voertuie, ‘n dooie moment wanneer dit moet draai nie. Die cherubs en die wiele kan heen en weer snel met die spoed van ‘n bliksemstraal (vers 14). En hierdie alomteenwoordigheid van God word nog ekstra bevestig wanneer ons lees dat die vellings van die wiele (die ‘rims’, soos wat ons daarvan praat) rondom vol oë was; volgens hoofstsuk 10:12 was ook die cherubs self vol met oë. God is oral, en sy oë sien alles, daar is niks wat sy blik ontgaan nie. 

Die volgende hoofelement van Esegiël se visioen vind ons in vers 22: iets in die vorm van ‘n uitspansel wat blink soos die wonderbare kristal, bo-oor die hoofde van die cherubs. Dit is nie heeltemal duidelik presies waarmee ons hier te make het nie, maar wat ons wel kan sê, is dat hierdie uitspansel iets uitgestreks is, en dat dit ‘n mens laat dink aan kristal en daarom waarskynlik deursigtig is. En dit sluit aan by wat ons hierbo reeds gesê het, naamlik dat God alles sien. Die beeld van ‘n deursigte uitspansel onder God se troon pas goed hierby aan. God, wat in die hemel woon, se uitsig word dus nie geblokkeer nie. Hy kyk dwarsdeur die vloer van sy paleis!

En dan sien Esegiël ten slotte nog iets van wat daar bo die uitspansel was – ‘n reuse saffiersteen in die vorm van ‘n troon. En wie sit op die troon? ‘n Gestalte wat soos ‘n mens lyk. Meer kry ons nie te hore van hierdie persoon nie, maar vanuit die geheel is dit duidelik dat ons hier met die Here self te make het. Rondom Hom was ‘n heerlike glans wat Esegiël herinner het aan die reënboog. Was dit dalk die simbool van God se genade, soos in die dae van Noag? Dit is goed moontlik. Te midde van God se heerlikheid en majesteit kon Esegiël dus ook iets van sy genade en barmhartigheid aanskou: Onse Vader wat in die hemel is… 

Esegiël kry nie kans om enigsins verder te verduidelik nie. Die verskyning van die heerlikheid van die Here – soos wat hy die visioen in vers 28 saamvat – is vir hom eenvoudig een te veel. En dit was ook presies die bedoeling van die Here. Die Here wou indruk maak op Esegiël, en dit het Hy op ‘n oorweldigende wyse gedoen. Esegiël besef dat elke vergelyking te kort skiet om aan God se grootheid reg te doen. Slegs ‘n opeenstapeling van vae beelde kan ‘n poging wees om iets van God se heerlikheid, sy krag, sy almag weer te gee. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid – dit is die belydenis wat God se verskyning oproep. Esegiël voel die oneindige afstand tussen die heerlikheid van God en homself as die mensekind; hy ervaar ook God se alomteenwoordigheid – op berge en in dale, God is daar! Máár dit bring ons terug by ons oorspronklike vraag: hoe is God daar? Hoe is God daar vir sy volk? Ons let in die eerste plek op die pot en die vleis…

1. Kom ons spring gou van Esegiël en die ballinge daar in Babel terug na Jerusalem. Want dit is juis die agtergeblewenes in Jerusalem wat gereken het dat God se heerlikheid by húlle was. En hulle het dit ook met ‘n opmerklike uitdrukking verwoord; in hoofstuk 11, waar ons weer met die heerlikheid van die Here te make kry, sê die agtergeblewenes in vers 3: “hierdie stad is die pot, en ons die vleis.” Hulle het Jerusalem dus as ‘n kookpot gesien waarin daar ‘n heerlike stuk vleis gelê het. Daardie heerlike en goeie stuk vleis was hulle self. Alles buite die pot was afval. Ja, dit is mos so? Húlle is mos nie die deel wat weggevoer is nie; dus, húlle is nie deur die Here gestraf nie. Die Here het nie die goeie vleis gestraf nie, maar die afval; die afval is deur God verlaat, laat hulle maar daar in Babel sit. Maar die agtergeblewenes daar in Jerusalem – húlle God nog steeds aan hulle kant gehad. Immers, dáár staan die tempel, dáár in die allerheiligste was die ark, en daar het die offers gerook. Solank dít nog steeds gebeur het, was hulle seker van God se teenwoordigheid en beskerming. Ons sien iets soortgelyks in Jeremia, wat ‘n tydgenoot van Esegiël was; in hoofstuk 7:4 lees ons hoe die volk sê: “Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit.” Hoeveel Jeremia ook al profeteer, ons het in elk geval die tempel hier by ons – en dus is die Here self by ons aanwesig. Dié deel wat in ballingskap weggevoer is, dit is hulle wat uit die pot gegooi is. 

Broers en susters, ons hoor hierin die oortuiging, wat die volk by die heidene geleer het, naamlik dat die godheid aan ‘n spesifieke plek gebonde is, en solank as wat jy by daardie plek was, was jy veilig. Jy moes maar net seker maak dat jy binne die godheid se invloedsfeer bly. Ons sien ‘n voorbeeld hiervan by Ragel in Genesis 31 toe sy saam met haar man, Jakob, van Laban af weggevlug het. Dan vat sy die huisgode saam met haar, want ja, sy gaan na ‘n onbekende gebied toe, en dan is dit belangrik om die gode naby te hê. Ons sien dieselfde ook in die geskiedenis van Hofni en Pinehas in 1 Samuel 4: “As ons maar net die ark in ons midde het, dan sal ons die stryd wen! Wie God by hom het, staan mos sterk.” Maar die nederlaag was groot. Nou, broers en susters, dit is presies hierdie gedagtegang wat ons in Esegiël se dae teëkom – God se tempel is hier, en daarom is God hier; en solank as wat ons nog hier kan wees, is ons naby God. Die weggevoerde ballinge – dit is húlle wat gestraf en deur God verlaat is. 

En opmerklik, die ballinge – insluitende Esegiël – het ook so daaroor gedink. Hulle het ook gedink dat hulle die afval was, en dat die agtergeblewenes in Jerusalem die goeie vleis was. Hoor maar wat sê Esegiël wanneer Pelatja in hoofstuk 11 dood neerval: “Ag, Here HERE, wil U ‘n einde maak aan die oorblyfsel van Israel?” (vers 13) Diegene daar in Jerusalem – húlle is die oorblyfsel, so asof daar geen weggevoerde Israeliete bestaan het nie. By Esegiël leef die gedagte dat hy deel is van die verstote deel van Israel. In sy belewing woon God nog steeds in Jerusalem, daar troon Hy bo die ark van die verbond. Esegiël kan maar net hoop en bid dat hulle so spoedig moontlik mag terugkeer na Israel, sodat hulle hulself weer kan aansluit by dié deel van die volk wat nie deur die Here verstoot is nie. 

En dan skielik, op sy dertigste verjaarsdag, kom Esegiël oog in oog met die heerlikheid van die Here – in Babel, in ‘n heidense land! Kan dit wees? Is dit moontlik dat die heerlikheid van die Here die ark verlaat het? Inderdaad, gemeente! Doen jouself ‘n guns en gaan lees op jou eie hoofstukke 8-11 – hoe die heerlikheid van die Here die tempel en Jerusalem verlaat het. En dit bereik in hoofstuk 11:23 sy klimaks, waar ons lees: “En die heerlikheid van die HERE het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.” God het die tempel en Jerusalem verlaat. Hy laat nie met Hom speel nie – Hy het geen verbond met ‘n klomp stene (die tempel), of met harte van steen (die inwoners van Jerusalem) wat Hom nie werklik dien nie. Hy is die God wat aan niks gebonde is nie – nie aan Jerusalem nie, nie aan die tempel nie, nie aan Israel nie. Hy wil uit vrye genade ‘n Vader wees vir diegene wat hulle harte aan Hom gee, maar Hy is nooit ‘n outomatiese besit nie. Hy laat Homself nooit inperk binne menslike grense nie. Die inwoners daar in Jerusalem was verkeerd om te dink dat die Here by húlle was, bloot omdat hulle die tempel in hulle midde gehad het. 

Broers en susters, meen ons dat die Here by ons is? Wel, dit is mos wat ons elke week in die eredienste hoor: “Genade vir julle en vrede…” En ons probeer mos om volgens die Here se reëls te lewe. Dus: ja, die Here is by ons. Maar laat ons dit nie te vinnig sê nie. God se bewegende troonwa moet ons laat nadink en moet ons laat selfondersoek doen. En Esegiël se visioen moet ons laat bid: “Here, laat ons u heerlikheid sien, maak van ons visioenêre mense! Laat u hand op ons wees, ook al is dit pynlik. Skenk aan ons die seën van die verontrusting, sodat ons onsself kan ondersoek. Want ons is so ‘gewoond’ aan u oneindige liefde dat ons nie eens meer die wonder daarvan raaksien nie. Ons neem so vanselfsprekend aan dat U by ons is, dat ons die kerk van Christus is. Die monster van die gewoonte dreig om ons in te sluk, ons dreig om daaraan dood te gaan!”

Is die Here met ons? Dit is ‘n vraag waaroor ons moet nadink. Dit is ‘n vraag waaroor ons met mekaar moet praat. Want, gemeente, ook wanneer ons byvoorbeeld nie twyfel aan die gesag van die bybel nie, ook wanneer ons die belydenis hooghou, ook wanneer ons ons bydrae lewer in die kerk, dan is dit nog geen waarborg dat God by ons is nie. Daar bestaan naamlik soiets soos ‘n kerk sonder God en ‘n christendom sonder Christus – net soos wat daar in Esegiël se tyd ‘n tempel sonder God se heerlikheid was, terwyl die agtergeblewenes van die vaste oortuiging was dat God by hulle was. Maar moet nie te vinnig spreek nie; plaas die hand op die mond en oorweeg in kleinheid voor God se heerlikheid: is God by ons? En hoe is Hy by ons? Is Hy by ons in sy genade of in sy toorn? Esegiël se visioen is nie slegs iets van daardie tyd nie. Nee, dit is iets vir vandag, dit is iets vir ons om biddend te oorweeg: “Here, laat ons tog u heerlikheid sien!”

En dan ons tweede gedagte: die troonwa in Babel.

2. Met troon en al verskyn die Here aan die Kebarrivier. Nou, gemeente, so iets was ondenkbaar; daarom dat daar in vers 3 so uitdruklik gesê word: “en die hand van die Here was daar op hom.” Met ekstra klem op die ‘daar’ – juis omdat dit so ongewoon was. Die boodskap hiervan was ingrypend vir Esegiël en die ander ballinge. Hulle verwronge idees oor waar die Here nou eintlik was, moes bygestel word. Hulle moes leer, wat ek hierbo reeds gesê het, dat die Here uit vrye genade ‘n Vader wou wees vir diegene wat hulle harte aan Hom gee. Want dít is waarna God kyk! 

Dink maar vir ‘n oomblik aan Psalm 139: hierdie psalm begin met die belydenis van God se alomteenwoordigheid: “U deurgrond en ken my; U ken my sit en my opstaan…” Ja, dit is so. Maar om dit te erken, is nog iets anders as om die slot van hierdie psalm van harte te kan saamsing; daardie slot lyk baie soos die begin, maar is tog op ‘n beslissende punt anders. In die laaste verse konstateer die digter nie meer net feite nie. Nee, daar vra hy vir die Here: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg.” Die visioen van God se bewegende troonwa vertel presies dieselfde verhaal. Die Here wil by ons wees in sy genade en liefde wanneer ons Hom in nederigheid en opregtheid wil dien. En dan maak dit nie saak waar ons onsself bevind nie – in Jerusalem of in Babel…

Gemeente, God wil nie by diegene woon wat in selfvoldaanheid meen dat hulle Hom as ‘n outomatiese besit by hulle het nie. En daarom is dit so belangrik dat ons onsself sal ondersoek hoe ons met die Here omgaan. Hoe praat en hoe dink ons oor die Here se teenwoordigheid hier in dié gemeente? Dink ons: VGK Maranata = God is hier? Of verneder ons onsself voor sy verstommende heerlikheid in die besef dat ons sy teenwoordigheid nooit verdien nie? Want slegs dán wil die Here by ons woon. Die boodskap van die troonwa, wat uit Jerusalem verdwyn en aan die Kebarrivier verskyn, is duidelik: die Here het dié lief en Hy wil by dié woon, wat klein voor Hom geword het!

Dit is presies die boodskap wat Maria eeue later in haar lofsang verwoord. Die Here het aan haar die Verlosser belowe, die Immanuel – God met ons! God met ons – nie in die verstommende heerlikheid van Esegiël 1 nie, maar in die verborge heerlikheid van Jesus Christus. Maar vir wie is Hy bedoel? Wel, om mee te begin het die Here die nederige toestand van sy diensmaagd, Maria, aangesien. Die Here het die nederige Maria opgesoek om in haar naby aan sy volk te kom. Daarenteen het Hy die hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart verstrooi. Die Here het maghebbers van hulle trone afgeruk, maar nederiges het Hy verhoog. Die Here het hongeriges met goeie dinge vervul, maar rykes het Hy met leë hande weggestuur. 

Die Here het gekom om by die nederiges van hart te woon! En presies dit het die Here Jesus dwarsdeur sy bediening hier op aarde bevestig. Hy het met die hoere en die tollenaars omgegaan, Hy het die sondaars opgesoek, Hy het die kleintjies om Hom heen versamel. En wanneer die skrifgeleerdes en Fariseërs eendag vir die dissipels vra: “Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink?”, dan antwoord Jesus: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Mark. 2:16-17). Die Here is nie daar vir ‘n kerk vol selfvoldane gereformeerdes nie; die Here is nie daar vir mense wat hulleself voortdurend op hulle ‘ware kerk-wees’ beroep nie. Die Here wil wees by diegene wat hulleself voor Hom verneder, omdat hulle hulleself ken: ek, ellendige mens! Ek, die grootste van alle sondaars! O God, wees my, sondaar, genadig! Almal – en elke gemeente – wat só gesind is, wil God sekerlik in genade aanneem en as waardige tafelgenote van sy Seun, Jesus Christus, beskou – dit is wat ons verlede week in die nagmaalsformulier kon lees. 

Broers en susters, kom ons raak weer onder die indruk van God se asemrowende heerlikheid; kom ons sien onsself weer in ons eie kleinheid. En ontmoet dan vir Jesus Christus – heerlike God, nederige dienskneg. Immanuel – God met ons. Ja, hoe wonderlik is dit om in geloof in Jesus Christus te mag sê en dit ook te mag ervaar: God is hier by ons. Nie vanweë onsself nie, maar ten spyte van onsself. Op berge en in dale, ja, oral is my God… in sy genade vir my, arme sondaar.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 133

Wetslesing + genadeverkondiging (Rom 3:19-24)

Sing Ps. 66:6-9

Gebed

Lees: Esegiël 1 en 11

Lukas 1:46-56

Sing Ps. 93

Teks: Esegiël 1:3b en 28b

Preek

Amenlied Skr. 1:1, 3 en 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 146:1, 5 en 8

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)