Dankdag vir gewas en arbeid is ’n feesdag

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-05-09
Teks: 
Deuteronómium 26
Preek Inhoud: 

Deuteronomium 26:10,11

Johannesburg, 9 Mei 2010 - Dankdag vir Gewas en Arbeid

Lees: Deuteronomium 26:1-15; 14:22-29.
Sing: Ps 65:1,3; Ps 65:2; Ps 85:3,4; Ps 65:6-9; Ps 133:1,2.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Dankdag vir gewas en arbeid behoort ’n feesdag te wees. Ons mag geniet van God se sorg. In ons samelewing sien ons egter dat daar baie armes is, mense wat elke dag worstel om te oorleef en reëlmatig sonder kos die nag ingaan. Ook in ons eie kring is daar mense wat reëlmatig worstel om die pot aan die kook te hou. Moet ons, terwille van hulle, nalaat om fees te vier? En moet die behoeftiges self dan elke fees ontbeer? Beteken hul behoeftigheid dat hulle nooit mag geniet van goeie dinge van die lewe? Ja, mag hulle nog wel by tye fees vier? Gun ons hulle nog wel ’n fees? Ja, wat belangriker is, gun die Here hulle nog wel ’n fees? Kom, ons kyk na die woorde van die teks.

Ek verkondig vir julle Dankdag vir gewas en arbeid is ’n feesdag:

1.      ’n dag om God alleen te eer;

2.      om te geniet van God se gawes; en

3.      om mededeelsaam te wees.

Deut 26 is ’n blye, feestelike gedeelte van die boek Deuteronomium. In Deut word meermale gesê: Julle moet voor die aangesig van die Here vrolik wees. Daardie woorde bereik in ons teks hul klimaks: "en jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het" (vers 11). Gemeente, hoewel dit nie uitdruklik genoem word nie, mag ons aanneem dat dit hier veral gaan oor die Huttefees, die laaste oesfees vir God se volk. Daar word mos gepraat van die eerstelinge van al die vrugte van die land. Dit omvat die opbrengs van die graangewasse, van wingerde en van olyfbome. Die wyn en olie is in Kanaän eers gereed in die herfs teen die tyd van die huttefees.

In ons hoofstuk word nie alles genoem wat vir die fees na God se heiligdom saamgeneem moet word nie. Daar word net ’n seleksie gemaak. Waarom hierdie keuse? Deur net te praat van die eerstelinge van al die vrugte van die land, benadruk Moses die feit dat die land Kanaän ’n geskenk van die Here is. God is die Eienaar van die land en God se verbondsvolk moet Hom as die Eienaar erken. Hoe? Deur die eerstelinge van die vrugte van die land vir Hom te gee. Hierdie eerstelinge verteenwoordig die hele oes. Deur ’n deel saam te bring na die huis van die Here, bely jy dat jy alles van Hom ontvang het. En dat jy daarom ook die vreugde oor hierdie seën aan Hom wil laat blyk.

In die eerste elf verse ontvang ons ’n soort liturgie van Israel se eerste dankdag vir gewas in die beloofde land. So moet die Israeliete handel wanneer hulle eenmaal in Kanaän woon en die goeie uit God se hand ontvang het. Dan moet hulle iets van die vrugte neem en dit in ’n mandjie in die heiligdom van die Here na die priester bring. Moses noem verskillende onderdele in die liturgie.

Eers sê jy vir die priester: "Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het, wat die HERE aan ons vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee." Jy erken dat die land aan die Here behoort. Hy het dit vir jou in bruikleen gegee. Jy is net ’n rentmeester, ’n beheerder, wat aan jou groot Eienaar erkenning en rekenskap wil gee.

Vervolgens sit die priester jou mandjie voor die altaar neer. Die altaar is die plek van versoening. Dit wys op die versoening deur Christus se bloed. Daar gebied die Here die seën. Die oes van die land word as seën van die Here erken. Vanuit die versoening kom Israel se welvaart voort. Ons sou vandag sê: Danksy Christus se bloed ontvang jy vandag nog steeds kos en klere en onderdak, ja oor die algemeen nog baie meer as dit. Danksy die bloed van versoening is daar nog steeds in ons lewe God se seënryke versorging. Dis genade dat jy nog steeds mag eet en drink. Dink aan 2 Kor 8:9: "Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word."

Daarna, ten derde, moet jy vir die Here kortliks jou geskiedenis noem. Ons lees hiervan in verse 5-10a:

"Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was 'n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar 'n groot, magtige en talryke nasie geword. Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en 'n harde diens op ons gelê. Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders; en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het."

Waarop word in hierdie belydenis die nadruk gelê? Nie op God se werk as Skepper en onderhouer nie. ’n Mens sou dit op hierdie feesdag vir die gewas kon verwag het. Maar nee, die nadruk val juis op die verlossingswerk van die Here. Jy sou kan sê: Op die dankdag noem jy nie in die eerste plek die eerste geloofsartikel van ons belydenis nie, naamlik: ek glo in God die Vader die almagtige Skepper van hemel en aarde. Nee, op die dankdag vir die gewas pas dit om as eerste die tweede geloofsartikel te noem: die verlossing deur Jesus Christus. Dis opvallend. Jy noem eerstens die heilsfeite.

Die oesfees moet ’n herdenkingsfees wees waarop jy besef dat die seën nie vanselfsprekend is nie. Die Here moes daarvoor ’n lang pad van verlossing stap. So bely die Israeliet die lang pad van die swerwende aartsvader Jakob via die verdrukking in Egipte na die verlossing uit Egipte en die inbesitneming van Kanaän, die beloofde land. Waar bly die roemryke name: Abraham, Isak en Jakob? Hulle word nie met name genoem nie. As kind van God kan jy nie roem in jou afkoms nie. Alles wat jy is, is jy danksy God se genadige ingryping. Dit geld ook vir ons vandag. Beroem jou nie op jou voorgeslag nie. Hoe vernaam hulle in hul tyd ook al mog gewees het. Jy is vandag wat jy is danksy God se leiding en verlossing. Laat die bevoorregte blankes hulle dan ook nie beroem teen die onbevoorregtes in ons samelewing nie. Voordat God ingegryp het, was ons voorouers ook barbare, heidene wat in duisternis en bygeloof geleef het. Niks beter as massas wat vandag God nie werklik ken nie en nog leef in vrees vir die voorvadergeeste. Laat ons eerder roem in God. In sy verkiesing en verlossing. Aan Hom kom alle lof, dank en eer toe.

Gemeente, as die Israeliete God alleen die lof en eer moes gee vir sy verlossing uit Egipte, hoeveel te meer is ons dan verskuldig om die lof en dank aan God alleen te gee. Hy het ons immers, na sy groot barmhartigheid, die wedergeboorte geskenk tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry wat in die hemele vir ons bewaar is (1 Petr 1:3,4). In vergelyking met Christus se opstanding uit die graf verbleek selfs die glans van die magtige bevryding uit Egipte. Ons is bowendien bevry uit die juk van Satan en die mag van die duisternis. Ons erfenis is ook baie ryker as die erfenis wat die Ou Testamentiese verbondsvolk in Kanaän ontvang het. Ons erfenis is onverganklik, ewig. Hoeveel te meer pas dit ons dan om God te loof en dank.

Sien daar die aanbieding van die veelbetekenende mandjie. Moses vat dit in ons teks saam met die woorde: "Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die Here jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die Here jou God." Ja, jy moet jou diep neerbuig voor die Here. In lof en aanbidding.

Nou kom ons by die tweede gedagte: die dankdag vir gewas en arbeid is ’n dag om te geniet van God se gawes. Die teks praat hiervan met die woorde: "En jy moet vrolik wees oor die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het."

In Deuteronomium word die uitdrukking: "Jy moet voor die aangesig van die Here vrolik wees", meermale gebruik. Uit Deut 14:26 is dit duidelik dat verwys word na ’n vrolike offermaaltyd. Dit gaan daar oor die eerstelinge en tiendes wat die Israeliete, veral op die Huttefees, na die heiligdom moet bring. Die Israeliete word beveel om noukeurig die hele opbrengs van hul saad te vertien en dit voor die aangesig van die Here te bring. Daar moet jy, sê die Here, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee. Die Here mergel sy volk nie uit deur sware laste op hulle te lê nie. Die Here gun sy volk ’n blye fees waarin hulle voor sy aangesig mag eet en drink en vrolik wees.

Die tiendes was bestem vir die heiligdom. Vir die onderhoud van die Leviete, wat op hul beurt weer ’n tiende deel moes afstaan aan die priesters. Die tiendes was dus bestem vir die ampsdraers. Elke Israeliet of hy nou baie verdien het of min moes die tiendes afdra. Soos die Here vandag ook vir elkeen van ons wat inkomste het ’n kerklike bydrae verwag. Die erediens moet onderhou word. As jy dit, terwyl jy inkomste het, weier, beledig  jy die Here, maak nie saak wat jy verder met die geld doen nie. Laat elkeen dit ter harte neem.

Gemeente, uit Deut 14 blyk dat ’n deel van die tiendes by die heiligdom vir ’n feesmaal gebruik mag word. Iets waarvan jy as gewer ook self mag geniet. Dis natuurlik nie die bedoeling dat die volle tiende van die jaarlikse opbrengs in ’n fees van een of meerdere dae deurgebring word nie. Dit gaan om ’n deel van die tiendes wat in dankbare vreugde gebruik mag word. Die res moet aan die Leviete toekom. Die uitbundigheid van die fees moet dus wel in ’n gesonde verhouding tot die totale inkomste van die jaar staan. Tog mag daarmee wel werklik fees gevier word. Sonder skroom. Met dankbaarheid en vreugde. Die Here wil dat elkeen so voor Hom feesvier.

In sy liefdevolle sorg tref die Here ook reëlings vir die geval dat die afstand na die heiligdom te ver sou wees om alle tiendes en eerstelinge daarna saam te neem. Die Here wil al sy verlostes daar voor Hom sien met ’n vrolike hart. Daarom reël die Here dat in so ’n situasie die tiendes en eerstelinge in geld omgesit kan word. Dan hoef jy net die geld na die heiligdom saam te neem. En dan lees ons in Deut 14:26: "Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die Here jou God en vrolik wees, jy en jou huis." Jy kon dus alles wat vir die feesmaal nodig was koop en die res aan die Leviete gee om in die toekoms daarvan te kan lewe. Nadruk val op die feit dat God se kinders in sy nabyheid vrolik moet wees.

Ja, gemeente, juis die Huttefees was ’n uitbundige fees. Huttefees was die laaste oesfees en dus van die hele oes, van die graanoes tot die wynoes. Dit was daarom die mees uitbundige fees in Israel. Daarom praat Deut 16 van "net maar vrolik wees." Luister maar na Deut 16:14,15: "En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is. Sewe dae lank moet jy vir die Here jou God fees hou op die plek wat die Here sal uitkies; want die Here jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees."

Wat ’n teenstelling met die heidense godsdienste. Die Kanaänitiese godsdiens het die mense voortdurend met sorg en angs vervul. Sentraal in hul feeste was die magiese poging om die lewe vir die komende seisoen te verseker. Hulle is in die waan gelaat dat hulle hulleself deur offers en rituele van ’n goeie opbrengs van die land moes verseker. Volgens heidense gedagtes het in die herfs en winter die veld en akker onder die mag van die dood kom lê, vanweë die jaarliks sterwende god. Oor die Kanaänitiese oesfeeste het so die stank van die dood gehang. Daarom het hulle die bokkie in sy moeder se melk gekook en die melk dan op die land gesprinkel. Deur daardie seremonie het hulle gehoop om hulleself van die nuwe lewe te verseker. Die moedermelk was mos ’n simbool van lewe soos die bokkie ’n simbool van jonkheid en onsterflikheid was.

Broeders en susters, onder God se volk is so ’n angs vir die toekoms onvanpas. Israel is mos die volk van die Here God. Die Here het in Egipte gewys dat Hy magtiger as die dood is. En Hy het belowe om vir sy volk te sorg. Die HERE, Jahwe, die Verbondgod wat Homself bewys het as die onderhouer en verlosser van sy volk. Die God van die lewe. As jy hierdie God ken dan hoef jy nie oor die toekoms angstig te wees nie. Jy mag weet dat Hy sal sorg. Daarom het Moses ook beveel om weg te bly van die heidense feesgebruike en om getrou na die heiligdom van die Here te gaan met die vereiste tiendes en eerstelinge en om bly en opgewek te wees. Voor God se aangesig kan en mag jy vrolik feesvier. Ook al was die opbrengs en inkomste in die afgelope seisoen teleurstellend. Jy kan nie en hoef nie ’n toekoms vir jouself te waarborg nie. Die toekoms is in die hande van jou lewende verbondsgod. Hy sal sorg. Dit het Hy belowe. Daarom kan jy in geloof ook rustig feesvier, ook by skaarste. Hy sal jou seën.

Dink aan die woorde van Christus uit Mt 6 gesê het: "Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word." Let op die woorde: "en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word." Sou ons met sulke beloftes dan nie rustig feesvier nie en rustig die toekoms tegemoet gaan nie. Dink ook aan die belofte van God in Rom 8:32: "Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie." Het ons nog rede om bekommerd en angstig te wees. Laat ons eerder dankbaar en vrolik wees, geniet van sy gawes en onsself toevertrou aan Hom en sy beloftes.

Nou die derde gedagte. Die dankdag vir gewas en arbeid is ’n dag om mededeelsaam te wees. Ons lees in ons teks: "En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is."

Hebr 13:15,16 noem as twee kenmerke van die Christen: aanbidding van God en mededeelsaamheid. Hebr 13:15: "Laat ons dan gedurig aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely". ’n Pragtige samevatting van ons eerste punt. Daarna Hebr 13:16: "Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers". ’n Mooi samevatting van hierdie laaste punt. Daardie twee dinge: aanbidding van God en mededeelsaamheid gaan altyd saam. As jy in jou hart vol van lof op God is, dan staan jou hart ook oop vir die nood van ander. Al is jy nie ryk in aardse goedere nie, jy het dan tog wel ’n meegevoel en ’n vriendelike woord. Dit bied dikwels ook meer troos vir ’n gevoelige hart as geld. Let op die volgorde: eers aanbidding, daarna mededeelsaamheid. God wil dat jy jou dank en lof vir Hom wys deur ander mense te laat deel in die vrugte van sy weldadigheid.

Behalwe dat jy self van God se gawes mag geniet, moet jy ander ook daarin laat deel. Op verskillende plekke noem Deut die Leviet wat geen erfdeel het nie, die vreemdeling wat onder God se volk vertoef sonder besittings, die wees en weduwee. Net na ons teks word ook gewys op die arme tiendes wat elke drie jaar in die eie woonplek vir die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee moet word. God leer ons om hart te hê vir die behoeftiges.

Die hele erediens praat van die mensliewendheid van God. Dit kom egter juis by die tiendes sterk na vore. Die tiendes was vir die Here bestem en moes elke jaar, behalwe elke derde jaar, na sy heiligdom gebring word. ’n Deel daarvan moes daar dan met die behoeftiges in die gemeente gedeel word, terwyl die res heeltemal vir die behoeftiges bestem was. Hoe skerp moet dan die verwyt van die Here Jesus teen die Joodse leiers geklink het: "Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle na: die reg en die barmhartigheid en die trou." (Mt 23:23). Hoe bestaan dit om wel die tiendes te gee en tog die barmhartigheid te vergeet. ’n Mens sou die ware godsdiens so kan tipeer: Die hemelse Vader vra nie baie vir Homself nie. Hy gee baie aan jou. Laat jou naaste dit ook gewaarword.

Dis pragtig hoe ons God leer ken in sy genade en goedheid. Wat ’n verademing in ’n materialistiese en selfsugtige samelewing. God leer ons om te dink aan hulle wat arm is en om hulle te help. Die tiendes behoort aan die Here. Maar Hy wil daarmee baie bly maak. Hy vind dit ’n vreugde om in die behoeftes van al sy kinders te voorsien. Hy maak sy hand oop en versadig al wat leef.

En nie net dit nie. Dit is ook vir Hom ’n vreugde om ons te gebruik om sy goedheid na ander te laat uitgaan. Hoe heerlik is dit om te mag gee. Om mildelik te gee aan kerk en diakonie. Wat ’n voorreg om deur God gebruik te word om sy liefdegawes aan behoeftiges te gee. Om uitdelers te wees van sy goedheid.

Nou terug na die begin. Is dit verkeerd om fees te vier terwyl daar nog soveel armes is? Dit hoef op sigself nie verkeerd te wees nie. Ons mag by sekere geleenthede fees vier, ook al is daar baie armes. Armes sal daar altyd wees. Dit weerhou ons nie om ons dankfeeste te vier nie. Ons teks het ons geleer dat die dankdag ’n dag is om die Here alleen te eer, om te geniet van sy gawes en om mededeelsaam te wees. Is dit wat ons doen wanneer ons feesvier? Ook wanneer ons ons verjaarsdae of herdenkingsfeeste vier? Laat ons dan ons dankfeeste vier voor die aangesig van die Here. Hom alleen die eer gee. Met ’n vrolik hart. Met ’n hart wat oopstaan vir die nood van ander, veral vir die huisgenote van die geloof.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)