God en ons geld

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 42 H. K.

Nie vat nie, maar deel

Lees: Lukas 16: 1 - 15
Teks: Sondag 42 H. K.
sing: Sb. 26: 1, 2, 9, 11
na wet Ps. 15: 5
na belydenis Sb. 24: 3
Ps. 62: 1, 6, 7, 8
Ps 37: 13 en 14
Ps 33: 7 en 8

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Daar is lande wat op die rand van bepaalde munte die Naam van God noem. Daaruit blyk dat die bestuurders van die lande in vroeer tye erken het dat God alles met geld te doen het. Daar moet verantwoording afgele word van wat ons met die geld gedoen het. Ons geld kom van God! Dis ook die agtergrond van die agste gebod: Jy mag nie steel nie.

Daarin se ons hemelse Vader vir ons: Die geld kom van My, jy mag dit tot My eer en tot welsyn van jou naaste bestee. Daar is 'n sterke samehang in die gebooie van die Here wat die Here ons in die tweede tafel van sy wet gee. Eers in die sesde gebod word ons lewe onder sy heilige beskerming gestel: Jy mag nie doodslaan nie. Daarna het Hy ons huwelik onder sy beskerming geneem: Jy mag nie egbreek nie. Nou in die agste gebod word ons geld onder sy beskermende hande geplaas: Jy mag nie steel nie.

Ons kategismus het in antwoord 110 ook die diepgang van hierdie gebod aan die lig gebring. God verbied nie alleen die diefstal en roof wat die owerheid straf nie. Die agste gebod is geen artikel uit die landswette nie, dit is ons hart wat daardeur, net soos deur die ander gebooie geraak word. In hierdie gebod word alle geldsug, alle omgaan met geld buite ons Here om, deur Hom verbied. In antwoord 111 word gese dat ons die geld in diens en tot hulp van ons naaste moet gebruik. Immers die geld het van God gekom! So wil ons oor hierdie gebod nadink, as ons spreek oor: GOD EN ONS GELD.

Ons sien:

  1. Die geld kom van Hom;
  2. Dit mag ons nie misbruik nie;
  3. Dit moet ons in liefde tot Hom en ons naaste bestee.

I Het ons weleens daaroor nagedink dat ons kerklidmaatskap 'n finansieele basis het? Ons kom saam in 'n kerkgebou wat geld gekos het, soos ook die orrel wat ons sang begelei. In die kerk is daar baie geld nodig. Die diens van die Woord moet onderhou word. Die diakens het in hul diens van barmhartigheid geld nodig. Die sending vra ook baie.

Dan is daar nog die stroom van hulp aanvrae vir christelike instellings en doeleindes wat nooit ophou nie. Die hulpaanvrae word tog nie veronagsaam, om in die asemmer te beland nie? Geld is onmisbaar om die kerklike lewe en die christelike instellings in stand te hou. Waar sal die rande en tjeks vandaan kom?

Ja, dis nogal eenvoudig dit word deur die kerkvolk verdien. Maar daarmee is nie alles gese nie. Want gemeente dit kom van God. Dis Hy wat die geldstroom deur die wereld bestuur. Dink maar aan Psalm 24: 1. Daar staan: "Die aarde en alles wat daarop is, die wereld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here. " Wat dink ons? Slaan dit nie ook op die geld wat ons verdien en ons besittings nie? Alles kom van die Here, Hy is die groot Ekonoom van hierdie wereld, wat Hy ook ekonomies in stand hou.

Het ons daar weleens aan gedink dat dit in die paradys al so was? Natuurlik was daar nog geen geld en alles wat daarmee saamhang nie. Maar wie het daar vir die lewens onderhoud van Adam en Eva gesorg? Dit was God, sien ons hoe belangrik die eerste bladsye van die Bybel is? Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangele, en die mens daar laat woon. Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit. Daar was vrugte in oorvloed. God het nie karig met sy mensekinders om gegaan nie, maar hulle alles in oorvloed geskenk. Daar het 4 riviere met helder water deur die paradys gevloei. En die goud van daardie land was suiwer. Alles wat Adam en Eva op stoffelik gebied vir hul lewensonderhoud benodig, het God oorvloedig geskenk.

Die Here het Adam en Eva in die paradys ook 'n taak gegee. Hulle moes die tuin bewerk en oppas. By die versorging van die mens deur God het Hy die mens self ingeskakel. Die paradys was geen luilekkerland nie! Inteendeel Adam en Eva moes die hande uit die mou steek! Vir die werk en oppas van die tuin het ons 'n Nuwe Testamentiese woord, naamlik: bestuurder. Die woord ken ons uit die gelykenis van die onregverdige bestuurder, ons sal daar later by uitkom. 'n Bestuurder pas die goed van sy heer op asof dit sy eie goed is. Hy lewer sy allerbeste. Nou so was Adam en Eva bestuurders van die Here.

Ons weet hoe Adam en Eva die bestuurtaak verrig het. Die Here God het die mens beveel: Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van kennis mag jy nie eet nie. Toe hulle tog van die boom geeet het het hulle van God gesteel. Jaseker die eerste mens in die paradys het gesteel! God het hulle oorvloed gegee, dit was nie nodig om te steel nie. Die mens wou egter nie lewe van wat God gee nie, die verbode vrug het hy uit die hand van sy God gesteel. Daar in die paradys het die sonde teen die agste gebod begin.

Dink nou nie, dit was in die paradys, in daardie toestand leef ons vandag nie meer nie. Die Bybel spreek egter verder nie net oor die geestelike lewe nie, maar ook oor die stoflike, materiele kant van ons bestaan. Neem die volk Israel: God het sy eie verbondsvolk op materiele gebied ryk geseen. Dit kan selfs vergelyk word met wat God vir Adam en Eva in die paradys gegee het. Ons mag dit so se: Vir Israel het die paradys in die beloofde land terug gekom. Kyk net na die ryke beloftes wat God vir Israel gegee het.

God het belowe om hulle in 'n land wat oorloop van melk en heuning te bring. 'n Heerlike belofte! Heuning kom van blomme en melk van vrugbare vleie. Dit alles gaan God vir sy volk skenk. In die tyd van Salomo het elke Israeliet sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit. Daar was nie 'n heerliker plek in die wereld nie. Daarby die besondere wette wat God vir Israel ingestel het. Gemeente dink aan die jubeljaar, elke vyftig jaar het God met sy volk 'n nuwe begin gemaak.

In Israel het die rykes nie al maar ryker geword en die armes nie steeds armer geword nie. Elkeen wat sy grond verloor het, het sy erfdeel weer terug gekry. Hulle wat dit gekoop het moes dit weer terug gee. Eenmaal in die sewejaar was daar die sabbatsjaar, Alle skulde moes dan kwyt geskeld word en alle slawe vrygelaat. Die grond moes 'n jaar rus, so het God uitputting van die veld voorkom.

God het heel besonder vir sy volk gesorg. Milde wette het Hy vir die armes ingestel, soos: die kant van hul land nie heeltemal afoes, die are wat val, nie versamel nie, hul wingerd nie skoon afoes nie en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moes hulle dit laat oorbly.

Lees maar die geskiedenis van Rut daar sien ons hoe die wette in die praktyk gewerk het. Nadruklik het die Here gese: "Daar moet geen arme by jou wees nie, want die Here sal jou ryklik seen". (Deut. 15: 4) Niemand mog sy naaste verdruk nie. (Lev. 25: 17) Iets van die heerlikheid van die paradys het in daardie wette vir Israel gele. Gemeente dit is die agtergrond van die agste gebod!

Ook hierdie gebod moet in die lig van die opskrif van die wet gelees word: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Toe God sy wet met die evangeliese opskrif vir sy volk gegee het, het Hy al aan die ekonomiese bepalings vir sy volk gedink. Sy volk het nie nodig om te steel nie hul God sal vir oorvloed sorg dra. Hulle mog nie steel nie, want alles wat hulle in die beloofde land ontvang het, het van die Here gekom en was sy eiendom.

Die Bybel vertel ons hoe streng die Here sy hand aan hierdie gebod gehou het. In die agste gebod laat God beslis nie met Hom spot nie. Dink aan koning Agab wat die wingerd van Nabot gesteel het. Let wel: God het hom as koning alles geskenk wat hy vir sy koningskap benodig. Tog het hy die wingerd van Nabot, Nabot se vaderlik erfdeel, gesteel. Elia het koning Agab die straf aangekondig: "Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. " (1 Kon. 21: 19) So het dit dan ook gebeur!

So ook Gehasi die kneg van Elisa. Elisa wou geen sent van Naaman die Sirier vir sy genesing van melaatsheid aanneem nie. Dit was mos die Here wat Naaman genees het. Maar Gehasi het deur 'n leuen twee talente silwer en twee stel klere uit Naaman uitgekry. Die Here het hom toe streng gestraf: Die melaatsheid van Naaman sal Gehasi en sy nageslag vir ewig aankleef. (2 Kon. 5: 27) Agan die dief het Goud van Jerigo wat vir die skat van die huis van die Here bestem was, gesteel. Agan met sy hele gesin en sy besittings is gestenig en met vuur verbrand. God laat nie met sy gebooie spot nie! Op die heilige grond van God is die diefstal gepleeg.

Dit het almal onder Israel gebeur, maar wat moet ons onder die nuwe verbond daaraan doen, ons kan dit mos vandag nie meer volbring nie? Inderdaad kan ons dit nie doen nie en die Here vra dit vandag ook nie van ons nie. Egter die grondgedagte agter die verordenings, naamlik: Dat die Here vir ons sorg, dat Hy ons genoeg gee en dat ons vandag nie mag steel nie, ook nie nodig het om te steel nie is vir ons ook geldig.

Hoe ons vandag in die nuwe verbond met geld moet omgaan het die Here ons in die gelykenis van die onregverdige bestuurder geleer. Ons het saam gelees dat die man aangekla is dat hy die goed van sy heer verkwis. Sy heer het rekenskap gevra en wou hom in die pad steek. Baie slim het die bestuurder toe die skuldenaars van sy heer by hom geroep. Soos ons gelees het, het hy vir almal die skuldbewyse in hul voordeel laat herskrywe. So het hy deur diefstal en vervalsing vriende gemaak, wat hom in hulle huise sal ontvang as hy van sy bestuurderskap afgesit is.

Ons Heiland vertel verder dat die heer die onregverdige bestuurder geprys het, omdat hy verstandig gehandel het. Die Here se dan: "Die kinders van hierdie wereld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig. En Ek se vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang. " "En Ek se vir julle, " in daardie woorde begin ons Heiland met Messiaanse krag die gelykenis toepas.

Gemeente, die toepassing is nie maklik om te begryp nie. Maar in verband met die agste gebod is dit die moeite werd om daaroor na te dink.

Maak julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang. Die onregverdige mammon is die Nuwe-Testamentiese aanduiding vir die mag van die geld. Doodgewoon die rande wat kontant, of deur tjeks elke dag deur ons hande gaan. Van geld se die spreekwoord: Geld wat sleg is maak krom wat reg is. Nou se ons Heiland: daardie geld het die onregverdige bestuurder gebruik om vriende in die geslag van hierdie wereld te maak.

Nou se ons Heiland ons as kinders van die lig moet dieselfde geld ook gebruik om vriende te maak, maar in die geslag van die lig. Met ander woorde ons moet dit goed gebruik in diens van die koninkryk van God. Vir werke van barmhartigheid, kerkbou en sending. Tegelyk gee ons Heiland vir ons dan uitsig op die vrug van hierdie goeie mammon gebruik, naamlik: dat ons in die ewige tente ontvang word.

Gemeente ons geld het ewigheidswaarde. Die christelike gebruik van die mammon het gevolge tot in die ewige lewe. As ons lewe tot 'n end kom en die geld nie meer deur ons hande gaan nie, dan word ons daarbo deur ons vriende verwelkom. Die armes en siekes hulle wat deur ons gawes die blye boodskap kon hoor en aanvaar en ons in die ewige lewe voor gegaan het, sal ons daarbo vriendelik inwag. Wat 'n teenstelling met die onregverdige bestuurder, wat vriende op aarde gemaak het, maar ons mag vriende maak met die oog op die toekoms wat altyd by God wees inhou.

Se nou self: het ons ooit iets te kort gekom vir hierdie heerlike doelstelling? Soos ons Heiland vir sy dissipels gevra het: "Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? en hulle antwoord: niks nie. " (Luk. 22: 35) Het ons ook nie altyd nog gegee hoe moeilik die ekonomiese situasie ook geword het nie? Gemeente Adam en Eva mog nie steel nie, want die verbode vrug was van God, hulle het ook nie nodig om te steel nie want God het hulle oorvloed gegee. Vir Agab Gehasi en Agan was steel verbied en ook onnodig, want God het vir hulle die land van melk en heuning gegee. Is dit vir ons anders? Die vraag van Christus kom ook na ons toe: Het dit jou ooit aan iets ontbreek vir die saak van die koninkryk van God? Wat is daarop ons antwoord?

II Tog gemeente, tog word daar baie, ook deur christene, in hierdie wereld gesteel. Hier in sondag 42 is 'n stuk skerpe mensekennis bely. Dit kom al in die eerste sin van antwoord 110 vorentoe. God verbied nie alleen die diefstal en roof wat die owerheid straf nie; Ja, daar is baie misdadigheid in hierdie wereld, die nuusmedia is daarvan vol. Die kategismus se dit word deur die owerheid gestraf, maar God straf dit ook! Wie van die groot misdadigers reken nog met God? Egter God is daar en wie hom aan die goed van ander vergryp, sal ervaar dat God straf.

Dis waar dat gereformeerde mense hulle maar selde aan daardie growwe misdade skuldig maak. Daarom se antwoord 110 openlik dat God ook straf alle bose dade en listige planne waarmee ons dink om die goed van ons naaste aan onsself toe te eien. Let op die woord 'ONS' dis nie om dowe neute dat die woord 'ons' gebruik word nie, daardie praktyke kom ook onder ons kerkmense voor! Die kategismus hou vir ons 'n spieel voor, om ons daaraan te ontdek.

Dis waar, daar word dade genoem wat veral in die sestiende eeu gebruiklik was. So 'n opsomming kan ons egter vandag ook maak, om enkele te noem: Oneerlike voorleggings om so hoog moontlike versekering uitkerings te kry. Werktyd wat van die werkgewer gesteel word. Oneerlikheid in die handel of in finansiele transaksies. Moenie dink daarin is ek ook nie genoem nie, want die kategismus vervolg of deur enig middel wat God verbied; daarby ook alle gierigheid, alle misbruik en verkwisting van die gawes wat God gee. Word die sondes nie in ons almal se harte gevind nie?

Die apostel Paulus het dit goed geweet. Hy skryf vir Timoteus dat 'n ouderling nie geldgierig mag wees nie en 'n diaken mag nie op oneerlike winsbejag uit wees nie. In die laaste dae sal mense selfsugtig wees, geldgierig, skryf Paulus aan Timoteus in sy tweede brief hoofstuk 3: 1, 2. Weer die woord geldgierig, die kwaad word deur die Apostel kragtig bestry: "Maar die wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinnelose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word.. Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. " (1 Tim. 6: 9, 10)

As daardie kwaad in die gemeente nie voorgekom het nie sou die apostel daar dan so nadruklik teen gewaarsku het? Die kwaad is daar, dus is ons gewaarsku! Met antwoord 110 bely ons nadruklik dat God ook die gierigheid verbied. Dink daarom nogmaals aan die mooi woord bestuurder, wat in die begin van die preek al genoem is.

Dis nie so eenvoudig om 'n goeie bestuurder te wees oor dit wat God ons toevertrou het nie. Daar word vandag baie oor regstellende aksie gepraat. Daar moet 'n ander samelewings struktuur tot stand gebring word, dit word selfs deur party christene gepropageer. Hulle volg egter eerder Karl Marx en andere sosialistiese lerings as dat hulle Christus volg.

Niemand sal ontken dat daar vroeer geen onreg plaas gevind het nie. Wes Europa het skatte aan die slawehandel en uitbuiting van die derde wereld verdien. Na die opkoms van die industrie het fabriekeienaars kapitale deur uitbuiting van hul werkmense verdien. En in ons land is swart arbeid vir eie gewin misbruik. Dis nie die struktuur wat sondig, nie, maar die mens wat dit in sonde gebruik.

Die bekende sosialis Proudon het die stelling: eiendom is diefstal, verkondig. Dis nie waar nie. Dis egter wel die besit wat partymaal egoiste kweek. In Wes Europa is daar enkele lande waar 'n welvaartstaat ontstaan het, waar elkeen wettelik van 'n menswaardige bestaan verseker is.

Maar juis in daardie lande het die selfsugtigheid en gierigheid enorm toegeneem. Elkeen gaan steeds meer vir homself lewe. Die werklike welvaart le nie in 'n teorie oor strukture vir die samelewing nie, maar by die Here. "Dit is die seen van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie. " (Spreuke 10: 22) Dis 'n seen van God om 'n goeie bestuurder van die gawes wat God skenk te wees, aan so 'n bestuurder sal God sy seen nie onttrek nie.

III Nou kom ons tot die laaste wat sondag 42 vir ons op die hart wil bind. Nadat ons kragtig voorgehou is wat God in die agste gebod verbied, gaan ons nou met antwoord 111 bely wat God in die agste gebod gebied. So het die kategismus dit ook al by die ander gebooie gedoen. Aan die een kant die sondes wat deur die Here verafsku word, aan die anderkant word ons onderrig hoe ons positief die gebooie sal volbring. In hierdie gebod is dit weer die verhouding tot ons naaste wat alle nadruk kry. In die tweede tafel van die wet van die Here leer ons wat dit is: Jy moet jou naaste liefhe soos jouself.

Antwoord 111 trek ons uit die harde wereld van roof en diefstal weg, na die milde en sonnige land waar die welsyn van die naaste gesoek word. Heel fraai word gese: Dat ek die belange van my naaste, waar ek kan en mag, moet bevorder; met hom so moet handel soos ek sou wens dat die mense met my moet handel. Die kategismus wil se: So kan en mag ons nou vanuit Christus lewe wat om ons ontwil van alle besit beroof is. Kaal is Hy vir ons aan die kruis gespyker!

Gemeente ons mag geen oomblik vergeet nie dat ons Heiland ook hierdie gebod vir ons volkome volbring het. Hy het al sy naastes volmaak tot die einde toe liefgehad toe Hy alles wat syne was, sy lewe, tot verlossing en bevryding van sy naastes gegee het. Geen moment het Hy vir homself gelewe nie. Nooit het Hy Homself gesoek nie, tot die laaste toe het Hy Homself verloen. As ons so ons lewe in die lig van die lewe van Christus sien, sal ons moet erken: Ons het in hierdie lewe onsself baie toegeeien wat ons nie toegekom het nie. Christus het dit nooit gedoen nie, maar juis aan Vader terug gegee wat mense van God gesteel het.

Christus het die straf vir ons oortreding van hierdie gebod, gedra. Hy het nie geneem nie, maar net gegee, alles, sy lewe gegee! Sal ons dan nie vanuit daardie volbragte werk van ons Heiland soek dit wat die heil van ons naaste kan bevorder nie? Toe Paulus van die ouderlinge van Efese afskeid geneem het, het hy hulle as voorbeeld daaraan herinner dat hy nooit geld of klere van iemand begeer het nie maar met sy hande hard gewerk om armes te kan help. Paulus het hulle toe aan die woord van ons Heiland herinner: "Om te gee maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang. " (Hand. 20: 35)

Let op die woord 'gelukkiger', om te ontvang maak gelukkig, maar om te gee ruim en mild maak nog gelukkiger. Ons moet nie neem wat ons kan bemagtig nie, maar ons moet gee. In die koninkryk van God na alle kante ruim uitdeel. Ouers leer julle kinders om ruim te gee, as julle vir hulle geld vir die kollekte in die kerk saamgee. Van daardie eenvoudige handeling in die koninkryk van God, kan, vir die hele lewe van die kind, krag uitgaan. Leer ons kinders al vroeg in hul lewe om met blydskap vir die Here en die naaste te gee. Leer hulle om hul sakgeld te bestuur as bestuurders van die Here. Jong geleer is oud gedoen!

Daarom word hierdie sondag met die treffende woorde beeindig: Dat ek getrou moet arbei, nie om so gou moontlik die huislening terug te betaal nie, ook nie om die paaiemente op my dure spogmotor te kan betaal nie, of om 'n rok in 'n boetiek te koop soos my suster langs my in die kerk het nie. Nee, maar, sodat ek die behoeftiges kan help. Nie neem nie, maar uitdeel! God sy met ons, as bestuurder van die geld wat Hy ons gee.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)