Die gebod van God tot heiliging van Sy Naam

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 36 H. K.

Die rooi lig vir die Naam van God.

Lees: Levitikus 24: 10 - 23
Teks: Sondag 36 H. K.
Sing: Ps. 75: 1, 4, 6
na wet Ps 119: 21
na belydenis Sb. 8: 5
Ps 26: 1, 2, 4, 11
Ps. 72: 10 en 11
Ps. 8: 7

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Wanneer ons met 'n motorkar 'n verkeerslig nader, kan dit gebeur dat die lig skielik rooi word. Daar dreig gevaar want die verkeer uit die ander rigting gaan die kruising gebruik.

Om die rooi lig te ignoreer is om met jou lewe te speel. Die rooi lig het enorme waarskuwingskrag. Nou, iets dergeliks is met hierdie derde gebod aan die hand: Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. Sien ons in die laaste woorde die rooi lig?

Die Here volstaan nie met net die verbied van die ydel gebruik van sy Naam nie. Hy het daar ook 'n skerpe strafdreiging aan toegevoeg Daar is maar net twee gebooie waaraan die Here 'n bedreiging verbind het: die tweede en hierdie derde. Dit word in antwoord 100 nogeens ekstra onderstreep, deur te verklaar dat daar geen groter sonde is of een wat God meer vertoorn nie as die lastering van sy Naam.

Is die derde gebod dan so belangrik? Waarom het die Here God alleen aan hierdie en aan die tweede gebod so 'n sterk bedreiging toegevoeg? Het ons by die derde gebod weleens gedink aan dit wat ons Heiland in Matt. 12 gese het, nadat die fariseers Hom verwyt dat Hy deur Beelsebul, die aanvoerder van die duiwels, die duiwels uitdrywe? Ons Heiland se dan: "Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. Sien ons hier nie dieselfde rooi lig nie? Lastering van die Naam van God kan op lastering van die Heilige Gees uitloop. Daar is niks kosbaarder as die Heilige Naam van God nie. "

Daarom het die Here Israel vir die lastering van sy Naam gewaarsku. Christus het dit vir ons as die pinkster gemeente van die nuwe verbond verdiep, deur vir die lastering van die Heilige Gees te waarsku!

Is daar in hierdie goddelose en anti-goddelike tyd nie alle rede om ons, as gemeente van die nuwe verbond, aangaande die diep inhoud van die derde gebod, te laat onderrig nie? Daarom spreek ons oor:

DIE GEBOD VAN GOD TOT HEILIGING VAN SY NAAM

  1. Dit waarsku om nie die Naam te misbruik nie;
  2. Dit wek op om die Naam reg te gebruik;
  3. Dit laat sien wat by hierdie gebod op die spel staan.

I Opnuut staan, soos in die eerste en tweede gebod, ook in die derde gebod, God sentraal. In sy Naam het God Homself aan ons mense geopenbaar. In hierdie tyd het baie mense daarmee moeite en vra: Het God homself wel geopenbaar? Bestaan God regtig? Gemeente die sekularisme neem in ons tyd hand oor hand toe. Sekularisme is dat God steeds meer uit die lewe verdring word.

Sekularisme is 'n vorm van ateisme al is dit ook 'n ander soort as die ateisme wat deur die Marxisme gepropageer is. Hulle het die godsdiens bestry deur dit belaglik te maak en God as 'n ou man voorgestel wat bo die wereld op 'n troon sit en deur middel van oorlogstuig die wereld regeer. Die geloof in God is dan aan kapitalisme gelyk gestel.

Die sekularisme, die ateisme van vandag is anders, dit ontken die bestaan van God. 'n God wat in die hemel sy troon het en oor die wereld regeer? Moenie glo nie. 'n Persoonlike God tot wie gebid kan word en na jou node luister? Wie glo daar vandag aan? Hoogstens word gese dat God in ons naaste na ons toekom. Religie word dan 'n vorm van mede menslikheid. Ons moet lief vir mekaar wees!

Veral in die rooms-katolieke kring kom die leer van die mede-menslikheid sterk vorentoe. Daar word deur baie moderne mense gevra: As daar regtig 'n transendente, 'n God wat bo die wereld uitgaan bestaan, wat is dan sy naam, hoe moet ek hom dan sien? Gemeente, moenie dink dat dit net vrae van hierdie tyd is nie. Die vrae is so oud as die wereld! Mense het altyd al daarmee geworstel om God te leer ken. Wie is Hy en waar kan ons Hom vind?

Gemeente, wat is dit heerlik dat ons, as antwoord op al daardie vrae, op die Bybel kan wys. In die Bybel het God Homself aan mense geopenbaar, daarin leer ons Hom ken. God het Homself in sy Naam geopenbaar en in hierdie derde gebod leer ons hoe kosbaar die Naam van God is. Dit kan ons in Ex. 3 lees, toe God Homself by die berg Sinai aan Moses geopenbaar het. Die geskiedenis is baie bekend, maar in verband met die derde gebod wil ons dit duidelik vir ons aandag kry.

Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag tot hy by Horeb die berg van God gekom het. Daar sien Moses 'n snaakse ding 'n doringbos wat aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Moses gaan nader om die wonderlike verskynsel te bekyk. Toe hy naderkom roep die Here uit die doringbos: "Moses! Moses!" Moses antwoord: "Hier is ek. " Die Here se toe vir hom: "Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond". Dan maak God Homself as die God van die verbond bekend: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob. " Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

God se dan vir Moses: "Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die Farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry. " Moses skrik, hy probeer met alle moontlike uitvlugte van die roeping los te kom. Onder andere se Moses vir God: "Se nou maar ek kom by die Israeliete en ek se vir hulle: 'Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur, ' en hulle vra vir my: 'Wat is sy Naam? ' wat moet ek dan vir hulle se? " Dis nou die selfde vraag wat die mense van ons tyd vra: "Wie is tog God? Hoe is sy Naam? Hoe kan ons Hom ken? "

Hoor nou wat God vir Moses antwoord: "Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete se: 'Ek is' het my na julle gestuur. " Ja dis 'n besondere Naam, waaroor ons nie sommer klaar gedink het nie. Dis met hierdie Naam net soos met die gelykenisse van die Here Jesus wat ons ook tot nadinke aanspoor. Die moeite om tot die inhoud deur te dring word egter steeds met 'n heerlike boodskap beloon. So is dit ook met hierdie Naam van God. "Ek is wat Ek is" of soos die Statevertaling vertaal het: "Ek sal wees, wat Ek sal wees" Daarin openbaar God Homself as die God wat jy kan vertrou waarop jy altyd staat kan maak.

Dis 'n Naam wat op die verlede terugsien, maar ook in die toekoms sekerheid gee. Want aan die Naam: "Ek is wat Ek is. " moet Moses toevoeg: " Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle gestuur. " Dit wil se: Die God wat Ek vir julle voorvaders was, is Ek nou vandag nog, vir jou Moses en vir die Israeliete in hul nood. En dit sal Ek nog wees as julle uit Egipte bevry, in Kanaan sal woon!

Dis die God van die verbond wat in die verlede in die hede en die toekoms in, by sy volk sal wees. Die God wat die hele heilsgeskiedenis deur met ons saamgaan! Die betekenis van die Naam Here, Jaweh in die Hebreeus, kom ook uit Num. 6 heerlik na ons toe: "Die Here sal jou seen en jou behoed;" Die Here seen ons lewe en beskerm dit! "die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;" Immers, in sy beloftes laat Hy ons, in elke situasie in ons lewe, sy vriendlik aangesig sien. Hy stel ons in 'n situasie van met Hom versoen wees. " die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. " Dit is die vrede, die Sjaloom, waarmee Hy in die verbond die lewe seen.

Weet ons dat ons Heiland die Naam: "Ek is wat Ek is" op Homself toegepas het? In Joh. 14: 9 se Jesus vir Filippus: "Wie My sien, sien die Vader. " Hy is Jaweh wat in die Vlees verskyn het, in Hom ontmoet ons God self! Hy is by ons al die dae tot die voleinding van die Wereld. (Mat. 28: 20) So het God Homself in die heerlike Naam Here, Jaweh, aan sy volk geopenbaar. In Christus is Hy vir ons die God van die verlede, die hede en die toekoms. In Spreuke 18: 10 is dit soos volg verwoord: "Die Naam van die Here is 'n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling. " In 'n vesting is jy veilig geen vyand kan jou daar oorwin nie. So veilig is die regverdige wat Hom aan die Naam van die Here vasklem.

Gemeente nou verstaan ons hoe die Here in die derde gebod oor die kosbare Naam van Hom waak. Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie. Dit gaan hier nie oor 'n vreemde, 'n God wat ver is nie, maar oor God die Here, Jaweh, onse God van die verbond!

Die Naam van ons Here mag ons nou nie ydellik gebruik nie. Letterlik lees ons in die Hebreeus nie ophef tot wat sjaw is nie. Die woord sjaw laat hom nie in een Afrikaans woord vertaal nie. Dit hou ydellik, misbruik, niksbeduidend en selfs ook demonies in. Daarvoor het die Here sy heerlike Verbondsnaam nie gegee nie. Die Naam is daarvoor te kosbaar. Die Naam is nie 'n stuk gereedskap, mag nie soos die sleutel van jou motorkar 'n gebruiksvoorwerp wees nie. Dis die heerlike en heilige Naam van onse God en Vader!

In die Naam het God Homself vir sy volk gegee. Daarom is dit nie vreemd dat God by hierdie gebod 'n bedreiging gevoeg het nie. As ons die Naam in ons mond neem, dit ophef tot iets wat die Naam onwaardig is, dan het ons God self aangerand. Dink maar aan die Skrifgedeelte wat ons saam gelees het. Die man wat in 'n twis gesprek die Godsnaam lasterlik gebruik het. Moes buitekant die kamp gestenig word. So het die Here in Israel oor sy heilige Naam gewaak. Uitdruklik moes Moses die volk nogeens ekstra inskerp: "Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry".

In die begin van die preek is daar oor die rooi verkeerslig gespreek. Die rooi wat van lewensgevaar praat. So het die Here in die derde gebod vir ons die rooilig tot waarskuwing gegee. Die kategismus bring deur die indringende bewoording van antwoord 99 die erns van hierdie gebod onder ons aandag. Dat ons nie alleen deur te vloek of deur 'n valse eed nie, maar ook deur onnodig te sweer die Naam van God nie moet laster of misbruik nie. In Nederland het die misbruik van die Naam van God 'n volkssonde geword, so het die onnodig sweer dit vir ons volk geword.

So gemaklik word 'n belofte bevestig met: Die Here hoor my! Natuurlik moet ons as ouers daarop toesien dat ons kinders nie vloek of die gewoonte oorneem om onnodig te sweer nie. Ons moet hulle op die verskriklike daarvan wys, maar tegelyk die geleentheid aangryp om ons kinders van die ryke inhoud van die Naam van die Here te vertel. Ons moet hulle van die heiligheid van die Naam deurdring.

As die heiligheid van die Naam gesien word, sal ons nie die gewoonte van vloek ook nie in die verfynde vorm of onnodig sweer oorneem nie. Ja, as dit in ons teenwoordigheid voorkom met alle krag teenstaan. Eintlik is een wat vloek of onnodig sweer 'n magtelose mens. Op n manier is hy hom daarvan bewus dat sy eie woorde of beloftes geen krag het nie. Daarom gryp hy na die bonatuurlike na die Naam van God. Ons woorde moet egter krag in hulself he. Christus het ons geleer: Laat jou ja, ja wees en jou nee, nee! As ons woorde daardie krag nie het nie is dit beter om stil te bly. Dis mos afskuwelik om ons onheilige woorde met die heerlike en heilige Naam van God te onderstreep?

Antwoord 99 maak nog 'n behartigingswaardige opmerking dat ons ook deur te swyg of dit toe te laat aan sodanige verskriklike sondes geen deel moet he nie. Ja deur te swyg as die Naam van die Here misbruik word of ook as daarmee gespot word, oortree ons ook die derde gebod. Blykbaar kan ons dan in 'n omgewing lewe waar die Here belaglik gemaak word. 'n Christen kan daar mos nie in lewe nie? Net soos dikwels by ander gebooie bly die kategismus nie net by die uiterlike oortreding van die gebod staan nie, maar dring tot die hart van die saak deur. Ons praat van omgewingsbesoedeling, nou om te vloek is omgewingsbesoedeling.

II Nadat ons belydenis hom fel teen die misbruik van die Naam van God gerig het, word ons nou op die regte gebruik van die Naam van God gewys. Met die woord kortom word heel die voorgaande saamgevat, om dit in positiewe sin op te som. Dat ons die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied moet gebruik nie, sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys word.

Gemeente dit gaan in hierdie gebod om ons antwoord op die Naam van God. Ons God en Vader het in sy Naam sy vrindelik aangesig na ons toegedraai. Daarin kom Hy met al sy deugde, goedheid, genade, liefde en veel meer na ons toe. Nou word van ons die antwoord verwag, die weerwoord op sy heilige Naam wat Hy vir ons gegee het. In Jesus Christus het Hy homself bekend gemaak. Soos ons Heiland dit in Joh. 17: 26 vir God bely: "Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle. "

Gemeente is dit dan nie geweldig nie? Deur ons die Naam van God te openbaar het Christus die liefde van God in ons oorgestort. As 'n vioolbouer 'n viool gemaak het, is vir hom die beproewing van die snare die mees spanningsvolle moment. Sal die klank wat hy in die instrument wou le, daar wees? As 'n skrywer se boek op die mark verskyn, wag hy met spanning af, of die boek sal verkoop en wat die resensente daar van skrywe. Nou die Here onse God het in Christus vir ons sy Naam bekend gemaak, nou word deur Hom in spanning op ons reaksie gewag. Dis wat die kategismus bedoel as daar gese word: sodat Hy deur ons reg bely en aangeroep word.

Gemeente, bely is 'n suiwer Bybels woord. In Matt. 10: 32 se Jesus: "Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. " Eintlik beteken bely iets openlik uitspreek. In die openbaar verklaar. Ons Heiland roep ons, om sy evangelie na te spreek en orals daarvoor uit te kom. Bely word nie in die geheim gedoen nie, maar openbaar in die publiek. Openlik bely ons dat ons volgelinge van Jesus Christus ons Here is. In Hom het ons die kosbaarheid van die Naam van God raakgesien en dit is wat ons nou bely!

As christene bely ons persoonlik, maar as die kerk van God doen ons dit ook gemeenskaplik. So het die ou Kerk al vroeg in die twaalf artikels van die geloof die evangelie van Jesus Christus nagespreek. Soos dit ook in die geloofsbelydenis van Nicea en van Atanasius gedoen is. Daarmee het die kerk van die ou dae teenoor die ketterye aan die Christus van die Skrif trou gebly. Soos die gereformeerde kerke in die tyd van die reformasie met die drie formuliere van enigheid die evangelie nagespreek het om uit genade alleen te lewe.

Die belydenis van die kerk is die suiwere antwoord-klank wat God soek, soos die vioolbouer dit soek in die viool wat hy gemaak het. In sy Naam het die Here ons die vrye genade en barmhartigheid oor sondaars bekend gemaak. Nou wil Hy in ons antwoord, in ons belydenis, die heerlikheid van sy Naam hoor. Ons sal sy Naam reg bely, nie alleen in die belydenis wat deur die kerke aanvaar is nie, maar in die totaal van die openbaring van God. In die kerkgeskiedenis vind ons tye dat die belydenis streng volgens die letter vasgehou is, maar dit tog nie in die lewe van die kerk tot uitdrukking gekom het nie. Die belydenis het dan versteen.

Die Naam van God reg bely is geen bewaring van die letter van die belydenis, soos dit by die dooie ortodoksie gevind word nie. Die reg bely is om met geesdrif in hierdie wereld vir die heerlike Naam van God uit te kom. Ook hier beweeg die kerk oor 'n smal randjie, aan die eenkant die kloof van konfessionalisme, en aan die anderkant die afgrond van die ekumenisme wat die eenheid ten koste van die regte belydenis soek. Besielend sal ons saam met die kerk van die eeue die Naam van God bely, die Christus as die Seun van God en ons Here bely wat deur sy bloed volkome versoening vir ons bewerk het. Dan is ons teen beide gevare bewapen.

Die Naam van God word ook elke sondag in die prediking van die Evangelie bely. As die Woord bedien word is dit die kerk wat bely. Die Naam van God klink op vir elkeen wat dit wil hoor. Gesamentlik word met die twaalf artikels die geloof bely. In die katkisasieklas klink die belydenis van die grote Naam van God. Die kinders van die kerk word daar gevorm om die Naam van God te bely. Ja die hele gemeente word elke sondag in die eredienste daarin gevorm.

Dis 'n geweldige verantwoordelikheid wat op die bedienaars van die Woord rus. Hulle moet die gemeente op die regte paaie lei en in die Woord van God laat wei. Sodat die gemeente in die lewe van elke dag die Naam van God uitdra. Bedink gemeente dat daarin dieselfde inspanning as van die predikers van u gevra word. U moet die Woord van God hoor in dit verwerk! Want alleen dan sal ons die Naam van God vir die mense reg kan bely. Dan sal ons naam deur Christus voor God ons Vader in die hemele bely word.

Vraag 99 vra egter nie alleen die reg bely van die Naam van God nie, maar ook dat ons God reg aanroep. God het sy Naam vir ons gegee. Dit wil Hy ook hoor in die aanroeping van sy Naam. In ons gebed kom ons in lewend verbondsverkeer met die Here te staan. In baie situasies word die Naam van die Here aangeroep, by ons maaltye, met boekevat, in ons eredienste, met huisbesoeke van ouderlinge of diakens en ook in ons bybelstudieverenigings. So maklik word daarby in 'n sleur verval! Die voorgaan in gebed thuis en in vergadering is dan ook 'n uiters verantwoordelik werk.

In die slot van antwooord 99 word ons opgeroep om dit so te doen dat die Naam van God in al ons woorde en werke geprys word. In ons gebede tuis of in vergadering moet die lof van die Naam van God gehoor word. Om te bid vra voorbereiding, nadink oor wat gebid moet word. Om te bid is net soos bely, antwoord gee op die Naam van God wat Hy vir ons gegee het. As die Naam van God nie die sentrum van ons gebede is nie kan dit in vloek verander. Die derde gebod vra van ons geestelike inspanning deurdat ons op die Naam van die Here konsentreer. In Kol. 3: 17 word ons deur Paulus opgeroep: "Wat julle ook al se of doen, se en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. "

III So het ons tot die laaste van dit wat in die derde gebod op die spel staan gekom. Opnuut sien ons die rooi lig van die begin. Die Here sal die een wat sy Naam tot sjaw, ydelheid, ophef, nie ongestraf laat bly nie. In antwoord 100 word dit ekstra beklemtoon deur daarop te wys dat in die OU-Testament die doodstraf daarvir deur God geeis is. Nuut Testamenties mag ons hier aan die sonde teen die heilige Gees dink.

Die welbewus en hardnekkig laster van die Naam van die drieenige God, en die hardnekkig tot op die sterfbed toe volgehoue ongeloof, is dit nie onvergeeflik nie? Dis die barmhartigheid van God dat Hy telkens as die wet gelees word ook die rooi lig vir ons wys, die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. Die rooi lig is daar om ons te waarsku!

Gemeente ons lewe in 'n kritieke tyd. 'n Tyd dat die newel van ateisme en Godverlating die samelewing deurtrek. Ons weet hoe mis die skerpe lyne vervaag. Die moderne mens lewe in 'n newel van Godloening. Tegnies is amper alles moontlik. Die mens kan in 'n proefbuis menslik lewe verwek. Die hemelruim word gebruik die, maan is deur mense betree. Hy dink nou, waar het ek nou nog 'n god vir nodig? God is dood en die Naam van die Here word nie meer genoem nie.

Teen hierdie menslike hoogmoed word deur die derde gebod kragtig verweer gebied. God het sy kosbare Naam in hierdie wereld laat uitroep. In die derde gebod waak die Here oor die heiligheid van sy Naam. Hy is aanwesig in Hom leef ons en beweeg ons. Nog altyd kom Hy na ons toe met die naam: Ek is wat Ek is. Met die rooi lig verskeur God die newel van godlogening en ateisme. Met krag word kerk, owerheid en volk tot heiliging van sy Naam opgeroep.

In die derde gebod word ons opgeroep om die Naam van God gelowig in hierdie wereld te bely. Die toekoms van die kerk van God en ons saligheid staan op die spel! Vra ons hoe dit in hierdie goddelose wereld moontlik is. Stel dan jou vertroue op Christus, ons Heiland.

Ons het Hom hoor se: "Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wereld gegee het". Deur sy plaasvervangend middelaarswerk, het Hy ons wat van nature vloekers van sy Naam is, tot belyers van die Naam van God gemaak. Vlug tot Hom met al jou tekorte in die bely van die Naam van God. Want ons Middelaar het ook die derde gebod tot in die dood toe vir ons volbring. Neem daarom toevlug tot daardie gehoorsaamheid van ons Heiland wat vir ons ook die derde gebod volbring het.

Leer dan ook van Hom met heel jou hart bid: Laat u Naam geheilig word! Leer van Hom die Naam van God reg bely! Vlug tot die Naam van die Here, dis 'n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling. (Spreuke 18: 10) Gemeente, Geloof sy God die Here, die God van Israel. Dis net Hy wat magtige dade doen! Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word, mag die hele wereld vol wees van sy majesteit. Amen, ja amen. (Psalm 72: 18, 19)

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)