Die Here haat 'n verering waarmee ons Hom onder beheer wil kry

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 35 H.K.

LITURGIE:
L. Psalm 50
Ps. 97: 1, 4
Ps. 97: 6
Ps. 50: 3, 4, 7, 8, 11
Ps. 103: 9
Ps. 40: 3, 4

Broeders en susters,

'n Waarskuwing teen die maak van afgodsbeelde- is dit vandag nog wel nodig?

Wie maak mos vandag nog beelde? "Gesnede beelde"- is dit nie iets uit 'n ver verlede nie? En iets wat ons vandag hoogstens nog by 'n enkel primitiewe volk vind?

Vir die volk Israel destyds was dit 'n baie konkrete en aktuele gebod aangesien die heidense beeldediens hulle aan alle kant bedreig het. En ook nog in die dae dat hierdie Kategismus opgestel is, was beeldediens 'n reële gevaar vir God se kinders.

Maar vandag? In 'n Gereformeerde Kerk?

Maar dan sal ons vanmiddag weer moet leer dat sonde teen die Tweede Gebod ook in 'n Gereformeerde Kerk nog volop kan voorkom. Dat selfs die Nagmaal vir u 'n gesnede beeld kan word waarmee u u teenoor die HERE besondig. Of die Doop. Of die preek.

Want as ek die waarskuwing van die Tweede Gebod van God se verbondswet probeer saamvat, kan ek dit so formuleer:

DIE HERE HAAT 'N VERERING WAARMEE ONS HOM ONDER BEHEER WIL KRY.

  1. ONS KAN HOM VIND IN SY LEWENDE WOORD
  2. HY KAN ONS VIND IN SY VREESLIKE TOORN.

1. Hoekom het die mens in die verlede afgodsbeelde begin maak, broeders en susters? Hoekom het die mens hom in aanbidding voor hout of klip neergebuig? Was hy regtig so onnosel dat hy gedink het daardie stuk hout of klip is 'n god?

Nee, ook heidene het wel geweet dat daardie beeld nie die god self was nie. Ook hulle het geglo 'n god is 'n gees, 'n ongrypbare wese wat êrens ver weg woon. Ook heidene het geglo in 'n hemel. U weet: as Paulus en Barnabas in Listre in die Naam van Jesus 'n verlamde man gesond maak, roep die omstanders verwonderd: "Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe".

Maar die probleem van 'n heiden was: hoe kan jy met 'n god wat ver woon en ongrypbaar is, nogtans kommunikeer en van sy goddelike kragte profiteer? Die God wat ver is, moet naby gebring word; sy kragte wat ongrypbaar is, moet binne bereik gebring word.

En dis diè dat hulle beelde begin maak het. Hulle het geglo dat, as jy 'n beeld aan jou godheid wy, hy daardeur met jou wil kommunikeer en daarin sy kragte konsentreer. In die beeld kom die verre godheid naby en kry jy sy kragte onder beheer.

Ons kan dalk 'n vergelyking met elektrisiteit maak, gemeente. Elektrisiteit is vir die meeste mense ook so'n ongrypbare saak. Wonderlik, en terselfdertyd gevaarlik. Jy kan dit nie sien nie, en nogtans is dit daar as 'n geheimsinnige krag met groot moontlikhede en groot gevaar. Jy moet net sorg dat jy dit onder beheer kry. Maar ons het dit onder beheer gekry. Via kragdrade en skakelaars maak ons nou veelvuldig van elektriese stroom gebruik.

'n Afgodsbeeld was vir 'n heiden soos ons kragdrade en skakelaars: 'n middel om die geheimsinnige goddelike kragte op te vang, te lei en so hanteerbaar, beskikbaar en bruikbaar te maak.

Hy kon nou na daardie beeld toe gaan, daarvoor kniel en offer en by daardie beeld die kragte van sy god ondergaan. Hy kon desnoods daardie beeld saamneem in die oorlog om so die goddelike kragte van sy god in die stryd te werp. In die beeld het hy sy god onder beheer gekry.

En juis daarom het die HERE aan sy volk in die Tweede Gebod van sy verbondswet die maak van enige beeld verbied. Israel kon in Kanaän maklik die wyse van erediens van die volkere rondom oorneem. Nie direk om ander gode voortaan te vereer nie. Maar om Hom, die HERE, op dieselfde wyse soos die heidene binne bereik te wil kry. Want die Tweede Gebod is nie min of meer 'n herhaling van die Eerste Gebod, teen afgodediens gerig, nie. Die Tweede Gebod handel oor die verering van die HERE. Maar die Tweede Gebod verbied om die HERE op dieselfde wyse soos die heide hulle afgode vereer, te dien. Dis nie genoeg om jou rug op die afgode te draai nie, dis vervolgens ook baie belangrik om op die regte wyse voor die God van Israel te kniel.

Want daardie heidense gedagtewêreld is baie aantreklik en besmetlik.

Dit het al geblyk terwyl die HERE nog besig was om die Tweede Gebod vir Moses op 'n kliptafel neer te skryf: aangesien Moses meer as 'n maand bo op die berg Horeb gebly het, het die Israeliete gedink, hy het gesterf. Maar hulle het op heidense wyse ook gemeen Moses was die kragdraad wat hulle met die HERE verbind het en wat sy goddelike krag beskikbaar gemaak het. En dus moes daar 'n nuwe verbindingsmiddel kom om die kragte van God in op te vang en binne bereik te bring. En so het hulle Aäron 'n goue bulkalf laat maak, 'n simbool van lewenskrag. Nie om die HERE te los nie. Maar juis om die HERE weer onder hulle beheer te kry noudat Moses nie meer daar was nie.

Koning Jerobeam maak later feitlik presies dieselfde, as hy twee beelde van bulle in Bethel en Dan opstel. Hy het gemeen die tempel in Jerusalem is soos by die heidene die kommunikasiemiddel tussen die HERE en sy volk. Maar omdat hy uit politieke oorwegings die volk wat hom tot koning gemaak het, uit Jerusalem in die ryk van Rehabeam wou weghou, het hy twee nuwe kommunikasiepunte vir die HERE opgerig, sodat sy onderdane ook sonder die tempel van die krag van die HERE kon profiteer.

Ons sien in die geskiedenis van Israel dat selfs sigbare middele wat die HERE self in die erediens van sy volk voorgeskryf het, op 'n heidense wyse tot 'n gesnede beeld kon word. Soos die ark van die verbond, wat deur die priesters Hofni en Pinehas in die stryd teen die Filistyne saamgeneem word, in die verwagting dat hulle daarmee outomaties die onoorwinbare krag van die HERE teen die vyand in stelling kon bring.

Ja, daar is 'n hele aantal Skrifgedeeltes, waaronder Psalm 50, waaruit dit duidelik word dat selfs die daaglikse offerdiens wat die HERE in sy wet voorgeskrywe het, sonde teen die Tweede Gebod kan word; jy offer wel trou en sorgvuldig volgens die voorskrifte, mens kan jou dus nie verwyt dat jy die HERE op 'n ander manier as wat Hy in sy Woord beveel het, vereer nie, maar nogtans het dit 'n ritueel geword waarmee jy, net soos die heidene, meen om die HERE binne bereik te bring, Hom tevrede te stem en sy helpende kragte outomaties los te maak.

Pleks van dat diè offers by jou die skuldbesef oor jou sondes lewendig hou en jou leer om na die beter, volmaakte offer vir jou skuld uit te sien.

En dan kan dit so ver kom dat die HERE sê: "Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers. En Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie" (Jes. 1: 11).

Hoekom haat die HERE so'n verering van Hom, gemeente?

Omdat dit in die verhouding tussen God en die mens die rolle heeltemal omkeer en God feitlik aan die mens ondergeskik maak.

God is in die oë van die mens aanvanklik wel verhewe en magtig, geheimsinnig en gevaarlik. Maar nogtans sien die mens kans om die goddelike kragte onder beheer te kry. Met 'n aantal religieuse pligplegings kan hy sy God aan sy kant kry, hanteerbaar maak, sodat hy nou vryelik oor Hom kan beskik.

Dalk kan ek dit nog 'n keer met die beeld van elektrisiteit verduidelik: alhoewel elekriese stroom vir ons 'n geheimsinnige krag bly, het dit in die praktyk van ons lewe 'n alledaagse gebruiksvoorwerp geword. Sonder vrees en sonder verwondering hanteer ons daagliks dikwels die skakelaars om van die krag van elektrisiteit te profiteer.

Maar dit gebeur ook, as die mens meen hy kan God deur middel van sy godsdienstige rituele onder beheer kry. Dan word God gedegradeer tot 'n gebruiksvoorwerp wat jy gebruik vir sover jy dit benodig of daaraan behoefte het. God moet doen wat jy wil, pleks van dat jy doen wat Hy wil. Jy soek met jou erediens op die ou end nog maar net jouself en nie meer jou God nie. Jou erediens het louter eiebelang geword. En al lei jy ook 'n goddelose lewe, as jy maar jou godsdienstige rituele nakom, hou jy jou god aan hou kant.

En dit sal vir die HERE vir ewig onaanvaarbaar bly, broeders en susters!

Hy, die enigste lewende God, wil die afstand tot die sondige mens oorbrug. Hy wil nie 'n verre God wees nie, maar 'n God van naby. Dis hoekom Hy 'n verbond met sy volk gesluit het. Hy soek gemeenskap met sy volk. Hy wil met hulle wandel en by hulle woon. Diè woorde gebruik Hy self. Maar daarvoor kies Hy Sèlf die tye en plekke en geleenthede. Hy laat Homself nie deur die mens naby haal nie, Hy laat Homself nie deur rituele dwing nie, maar die inisiatief bly altyd en heeltemal by Hom alleen.

Die eerste kontak word nooit deur die mens tot stand gebring nie. Maar Hy kom na die mens toe en roep hom om sy kind te wees. En vanaf diè dag is die enigste kommunikasiemiddel sy lewende Woord. Hy spreek en ons luister. Hy wys die pad waarop ons met Hom mag saamgaan en Hy vra net: gehoorsaamheid. Ons hoef nie ver te soek en deur allerhande religieuse kunsgrepe probeer uitvind wat God van plan is nie. Die HERE het deur Moses gesê (Deut. 30): "Dit is nie in die hemel nie sodat jy moet sê: wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat weet, dat ons dit kan doen? Nee, baie naby jou is die woord, in jou mond (jy kan eventueel God se wet van buite leer) en in jou hart (jy kan die wil van God in jou hart saamdra), om dit te doen".

Ons moet maar net hoor en dan gehoorsaam wees. Hom op sy woord vertrou. Glo dat Hy daarin naby is. En dan sal ons agterkom dat Hy met sy goddelike kragte in ons lewe heel werklik aanwesig is. Ook daarvan is die geskiedenis van die HERE met sy volk een deurlopende bewys.

God het op die duidelikste bewys hoeseer die gemeenskap met Hom alleen van sy kant tot stand gebring en in stand gehou word, toe Hy sy eie Seun in die wêreld gestuur het om onder ons te woon en om deur sy offer vir ons sondes te bewerk dat God voortaan meer as ooit tevore naby ons kan wees: deur sy Heilige Gees wat in ons harte woon. Maar ook die Heilige Gees kies nog altyd die weg van die Woord om in ons lewe binne te kom. Net as ons luister en in verwondering die Woord van ons Verbondsgod aanneem, sal ons die goddelike energie van die Gees as 'n werklikheid in ons lewe ervaar. Reddend, vernuwend, vertroostend en bemoedigend.

Broeders en susters, dalk verstaan u nou hoekom ek in die begin van my preek kon sê dat sonde teen die Tweede Gebod ook onder ons in 'n Gereformeerde Kerk sonder beelde nog volop kan voorkom.

Want die heidense gedagte dat ons God deur ons godsdienstige pligplegings onder beheer kan kry, blyk onuitroeibaar te wees. Ek sou 'n hele aantal voorbeelde daarvan uit die kerkgeskiedenis, ook van die Nuwe Verbond, kan aanwys: die hele klomp wetreëls van die Fariseërs waarmee hulle gemeen het om die HERE te kan tevrede stel, alhoewel hulle hart ver van die HERE was; die erediens in die Roomse kerk: Christus was daagliks liggaamlik aanwesig voor in die kerk op die altaar, die omgang met God was in die omgang met die geestelikheid en in die aanskouwing van beelde van heiliges sigbaar en tasbaar gemaak, sodat 'n Bybel en 'n lewende verkondiging vir die leek, die gewone lidmaat, heeltemal nie nodig was nie- hy moes net kerk toe kom.....

Ek kan die ellende van die mystiek noem: jy soek in allerhande ekstatiese genietinge 'n direkte gemeenskap met God, waarby jy geen Bybel benodig nie. En jy beskou jou persoonlike intieme kommunikasie met God as die beste bewys dat jy God aan jou kant het.

Ek kan wys op die denkbeelde wat die moderne vrysinnige teologie van God gemaak het: hulle praat ook van ons moderne "godsbeeld" wat nie meer dieselfde soos in vroeër dae kan wees nie.

Maar kom ons kyk na onsself.

Ook ons erediens kan soos die aanknip van 'n ligknoppie word: verpligte rituele om die HERE binne bereik te kry en binne bereik te hou. As jy maar kerk toe kom, as jy maar gedoop is, as jy maar reëlmatig die Nagmaal vier, as jy maar by die huis boeke vat en jou gebed nie vergeet nie... dan het jy outomaties die HERE onder beheer gekry. Jy leef nie in aanhoudende verwondering dat die HERE met sy lewende en lewendmakende Woord na jou toe gekom het nie, maar jy dink jy kan jouself met jou godsdienstigheid na Hom toe bring. Jy leef ewemin in vrees en ontsag vir sy heiligheid waarteen jy nog voortdurend sondig, maar jy dink jy het Hom soseer onder beheer dat Hy nou wel sal doen wat jy begeer, al doen jy ook in baie opsigte nie wat Hy begeer nie. God moet jou weer gesond maak, Hy moet jou nuwe werk laat vind, hy moet 'n goeie oes gee, Hy moet jou eendag 'n plek in die hemel gee...

Maar as die ouderlinge jou vermaan oor 'n swak kerklike meelewe, of oor 'n sondige lewenshouding, of wat ook al, dan dink jy jy kan jouself verskoon met te sê: maar ek kom tog trou kerk toe! Of: maar ek lees wel uit die Bybel en ek bid reëlmatig.

Jy kan selfs 'n sondige weg goedpraat met die verskoning dat jy die HERE ernstig oor hierdie saak gebid het en dat Hy jou laat weet het jy is reg. En as die ouderlinge by aanhou met vermaan, onttrek jy jou aan hulle opsig en tug en kies 'n ander kerk. Jy kan mos ook in 'n ander kerk die HERE wel dien....

Dan het jou kerkgang, jou Nagmaalviering, jou Bybellees by die huis, jou gebed 'n gesnede beeld geword. Sonde teen die Tweede Gebod. Want jy het die HERE nie deur middel van sy woord gevind nie, maar deur middel van jou eie rituele en denkbeelde gesoek.

2. Maar as ons die HERE nie in sy lewende Woord alleen soek nie, sal Hy ons vind in sy vreeslike wraak. As ons dink ons het Hom hanteerbaar gemaak en so onder beheer gekry dat Hy nou wel outomaties sal doen soos wat ons begeer, dan sal Hy ons laat agterkom dat ons Hom nooit onder beheer kry. As ons meen ons kan Hom soos elektrisiteit naar beliewe aanskakel of nie aanskakel nie en laat doen wat ons wil, kan Hy sommer die hoogspanning van sy aanwesigheid laat wegval en ons aan onsself oorlaat. Hy kan Homself uit ons lewe terugtrek en ons aan 'n goddelose lewe (letterlik: 'n lewe sonder Hom) oorgee.

Die HERE het in die Tweede Gebod daaraan herinner dat daar ook nog soiets as sy toorn bestaan. Hy is 'n jaloerse God wat dit nie kan verdra dat sy volk in sy erediens nie werklik Hòm soek nie, maar feitlik maar net hulleself. Hy merk dit wanneer ons erediens nie voortkom uit die liefde en verwondering van ons hele hart en lewe nie, maar maar net in uiterlike pligplegings bestaan. En vir Hom is dit nie minder as 'n misdaad nie. 'n Misdaad wat Hy aan die kinders tot in die derde en vierde geslag sal besoek.

Nee, dis nie so dat die kinders dan die straf moet dra wat die ouers verdien het nie. Die HERE het duidelik laat weet dat Hy nie die kinders straf oor die sonde van die ouers nie. Maar hierdie dreigende woorde in die Tweede Gebod bevat 'n waarskuwing juis vir die ouers: as jy jou nie tenvolle aan God se Woord onderwerp nie, maar op jou eie wyse die God van die verbond onder beheer wil kry, trek die HERE Hom juis uit jou lewe terug. En as jy jou kinders in so'n verkeerde godsdienstigheid voorgaan, sal hulle jou voetstappe druk en nog meer as jy vir God se lewende woord doof word. Sodat die HERE Hom uit hulle lewe nog verder moet terugtrek. En na drie, vier geslagte het die lewe volslae goddeloos geword. Jy gaan vandag miskien nog wel trou kerk toe, jy vier nog Nagmaal en bid by die huis. Maar omdat dit maar net rituele om die HERE onder beheer te hou, geword het, sal jou kinders al dikwels nie meer kerk toe gaan nie, of alleen nog as die Nagmaal gevier word en op Oujaarsaand. Maar jou agterkleinkinders gaan glad nie meer kerk toe nie, ken die Bybel totaal nie meer nie, soek ook geen enkele kontak met die HERE meer nie. Die vreeslike toorn van 'n jaloerse God het 'n hele geslag aan die goddeloosheid moet prysgee.

Ons ken baie voorbeelde daarvan, broeders en susters. Van families wat uit die kerk en in die wêreld verdwyn het, omdat die omgang met die HERE 'n uiterlike aangeleentheid, waar die liefde van die hart nie meer by betrokke was, geword het.

Laat u daardeur waarsku. Want teenoor die vreeslike bedreiging in die Tweede Gebod staan daar ook die wonderlike belofte van God se oneindige barmhartigheid "tot in die duisendste geslag" (dit is 'n beter vertaling as "aan duisende") van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

As ons een en al oor vir sy lewende Woord is, hoef ons sy toorn nie te vrees nie. Maar dan sal Hy van geslag op geslag in sy Woord met sy Heilige Gees naby wees. Dan mag ons voortdurend onder die hoogspanning van sy goddelike aanwesigheid lewe, sonder om daardeur verteer te word. Inteendeel, dan sal daardie hoogspanning ons hele lewe 'n ongekende krag gee en ook vir ander mense tot 'n kragbron maak.

Gemeente, u mog vandag die gemeenskap met u Here in die hemel weer belewe. God was ons seer naby. Die lewendmakende Gees van God het die krag van God in u lewe wil binnedra.

Het u dit alles in 'n diepe verwondering en met 'n hart vol dankbaarheid oor God se liefde vir u ondergaan? Of was die dienste van vandag vir u maar net die vaste godsdienstige ritueel van elke sondag? In diè laaste geval het u, as u ook van hierdie preek niks geleer het nie, u 'n oordeel geluister.

Want 'n mens kan Hom aan die hoogspanning van God se heilige aanwesigheid ook doodskok!

AMEN.

(Pretoria, 21 Mei 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)