Christus skenk die ampsdraers 'n sleutelposisie deur vir hulle die bediening van die versoening toe te vertrou

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 31 H.K.

LITURGIE:
L. 1 Korint. 5: 10-6: 2
Ps. 95: 1, 2
Ps. 95: 4
Ps. 146: 4, 8 (na die doop)
Ps. 32: 1, 4, 6
Ps. 65: 2, 3
SB. 49: 3, 4, 6 (na die bevestiging van E.A.de Boer)
Ps. 89: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hierdie Sondag is 'n dag waarna ons uitgesien het.

Eindelik kom daar 'n einde aan die predikantsvakature vir die helfte van ons gemeente wat meer as 5 jaar geduur het. Eindelik kan daar 'n beter verdeling van die ampswerk kom. Die weeklikse prediking kan nou oor twee leraars verdeel word, die katkisasieklasse kan kan gedeel word sodat daar tyd vrykom vir ander aktiwiteite tot opbouing van die gemeente, die leiding van die kerkraadsvergaderinge kan voortaan beurtelings deur twee predikante waargeneem word....

Veral in wyk Oos is daar natuurlik dankbaarheid: eindelik kan die ampswerk ook in dié wyk op volle sterkte verrig word. Die broeders en susters in wyk Oos hoor en sien die bedienaar van die Woord nie meer net op die preekstoel nie, maar hoop hul eie leraar ook af en toe in hul huise te mag ontvang. En hulle hoop dat die wins van sulke besoeke by die huis ook weer in die prediking sal deurklink. Die ouderlinge en diakens van Oos hoop om 'n korrigerende en stimulerende invloed van hul wykpredikant te mag ondergaan....

Ons kan as gemeente vanaf hierdie Sondag weer met volle krag vorentoe.

Maar as ons dit so uitdruk, broeders en susters: òns kan as geméénte weer vorentoe, sê ons dit feitlik nie reg nie.

Nee, ons Hére Jesus Christus kan met ons weer met volle krag verder!

Ds De Boer staan naamlik nie in òns diens nie, maar in Christus se diens. Hy staan nie in diens van hierdie gemeente nie, maar Christus is sy Sender en Opdraggewer. Ds De Boer word vanoggend nie bevestig om voortaan ons loopjong te wees en om aan al óns wense te voldoen nie. Maar Christus het hom in diens geneem, in die diens van sy Koninkryk. En Hy wil verder kom. Hy wil met sy Koninkryk vooruitkom. Sy Koninkryk moet vol word!

Dit bepaal vanaf vandag Ds De Boer se posisie in onder ons. Christus het vir hom 'n sleutelposisie gegee met die oog op die voortgang van sy Koninkryk. En eers as u hom só ontvang sal dit ook iin u eie belang wees!

Dié besondere posisie van die ampsdraers in Christus se gemeente moet ek u vanoggend uit God se Woord aanwys. Ons sal daarby aandag gee aan wat dié sleutelposisie beteken sowel vir die ampsdraers self as vir die gemeente waaraan hulle gegee is.

Ek vat die boodskap soos volg saam:

CHRISTUS SKENK DIE AMPSDRAERS 'N SLEUTELPOSISIE DEUR VIR HULLE DIE BEDIENING VAN DIE VERSOENING TOE TE VERTROU.

EN DAN LET ONS DUS OP TWEE PUNTE:

  1. DIE AMPSDRAERS MOET IN DIE GEMEENTE MET CHRISTUS SE LIEFDE OPTREE
  2. DIE GEMEENTE MOET IN DIE AMPSDRAERS CHRISTUS SE LIEFDE OPMERK.

1. Die wat in God se Koninkryk wil ingaan en daar die vrede en die versoening wil ontvang en geniet, moet by doodgewone mense wees, gemeente.

Christus het heel gewone manne tot beheerders van die weldade van sy Koninkryk gemaak. Dié manne wat ons "ampsdraers" noem: leraars, ouderlinge, diakens.

Ons kry in die kerk met die wonder van die gewone te make. Christus lê sy groot skatte in die hande van klein mensies. Sake met 'n ewigheidswaarde word in beheer gegee aan mense wat sterflik is.

'n Aantal manne wat ewe sondig en beperk is soos ons almal, kry as voorgangers in Christus se gemeente 'n sleutelposisie. Hulle mag, solank as Christus self nog in die hemel bly, as sy saakwaarnemers hier op aarde die voorregte van die lewe in die Koninkryk van die hemel vir die mense oopsluit of afgrendel.

Hulle het die sleutels: nie net van die toegangspoort nie, maar ook van al die ander deure en kaste in Christus se Koninkryk waaragter en waarin die tallose skatte gebêre is. Hulle het namens Christus die beheer oor alles. Hulle mag volop uitdeel aan elkeen wat kom met 'n gelowige hart. Hulle moet al hoe meer weier aan elkeen wat besig is om sy rug op die Koning van hierdie Ryk te draai. Hulle het die volledige seggenskap oor die gang van sake.

En wie dus wil deel in die voorregte van die Ryk van die hemel: soos die herstelde lewe met God, en as gevolg daarvan vrede, egte vryheid, blydskap en liefde, en eendag die ewige vreugde, kan hierdie sleuteldraers nie sommer verbyloop nie.

In die gedeelte wat ons uit die tweede brief van Paulus aan die Korinthiërs gelees het, vat die apostel die sleutelposisie van die ampsdraers kernagtig saam in hierdie term: God het aan hulle "die bediening van die versoening" gegee.

Dit wat allesbeheersend is vir die lewe in die Koninkryk van God: die versoening met God deur Jesus Christus, vryspraak van ons skuld en vergewing van al ons sondes, en as gevolg daarvan weer 'n heeltemal nuwe lewe- dít het die ampsdraers in beheer gekry.

Nee, hulle hoef die versoening nie self nog tot stand te bring, te bewerk nie. U onthou dalk uit die preek van verlede Sondag na aanleiding van Sondag 30 van die Kategismus, dat dit juis die groot dwaling in die misleer is: die Roomse kerk leer wél dat spesiale ampsdraers, gewyde priesters, elke dag opnuut die versoening met God, die vergewing van ons sondes weer moet tot stand bring deur Christus opnuut op die altaar in die kerk te offer.

Maar God se Woord is op hierdie punt duidelik genoeg: die versoening ís klaar verdien en bewerk. Deur die een offer van ons Here en Heiland op Golgotha. Die ampsdraers hoef, maar kán ook nie meer doen nie as om dit wat Christus klaar bewerk het, te bedien. En wat is bediening anders as om iets wat reeds klaar aanwesig is, na die ander toe te dra en vir die ander aan te reik?

Daarvoor het Christus die ampsdraers in diens geneem: om dit wat Hy vir sy volk verdien het: die versoening met God, uit te deel.

Maar hoé doen hulle dit?

Wel, die manne wat Christus hiervoor inskakel, is heel gewoon.

Maar die wyse waarop die versoening mag bedien is so moontlik nog gewoner.

Hulle verrig nie allerlei wonders in die midde van die gemeente nie. Hul hande bly leeg. Hulle praat net!

Kyk 2 Korint. 5 eerste vs. 18, waar Paulus praat van die "bediening" van die versoening, en daarna vs. 19 waar hy sê dat God die "woord" van die versoening aan die ampsdraers toevertrou het.

Christus lê die sleutels van sy Koninkryk nie in hul hande nie, maar in hul monde! Want die skatte van sy ryk kom in die vorm van woorde na die mense toe, woorde vol beloftes wat in geloof aanvaar moet word.

Maar wie dit in geloof aanvaar sal agterkom dat daardie woorde tog meer as maar net woorde was. Dit is 'n krag tot redding behoud vir elkeen wat glo. Want Gód se woorde is altyd 'n werklikheid!

Dié pad het ons Here gekies om na ons toe en om dit wat Hy vir ons verdien het by ons te laat uitkom: Hy laat sy woorde van genade en vergewing klink uit die monde van medemense. Sodat die evangelie van sy Koninkryk "van man tot man" bedien sou word. Hy skakel manne in wat die blye boodskap van bevryding van mens tot mens aan ons kom voorhou, met die eis tot bekering en geloof, om op dié wyse die heil van God in ons lewe binne te dra, by ons tuis te besorg, voor ons neer te sit en dit ons op die hart te bind. Hulle mag vir die hele gemeente, wanneer almal in 'n erediens saamgekom het, maar ook vir elkeen persoonlik by die huis verkondig en openlik betuig, dat al hulle sondes hulle waarlik deur God vergewe is, omdat Christus die straf daarvoor gedra het.

Hulle mag die jeug van die kerk al vroeg vertroud maak met die weldade van Christus se Koninkryk deur middel van katkisasieklasse. In 'n geduldige onderwysing mag hulle ewige skatte oopsluit en vir die seuns en dogters sê: Kyk hierso, dis vir jou. Oók vir jou! Dit is reeds by jou doop aan jou beloof.

Dit is die taak van die ampsdraers om die vrede en versoening van Christus ook baie persoonlik aan te dra in huise waar 'n harde stryd met die duiwel gestry moet word. Of waar 'n ernstige siekte is, 'n kwaai oorspanning, diep verdriet. In vertroulike sielssorg mag dan die evangelie as 'n medisyn aangereik word. En moet met baie geduld die pad na die vrede en die vergewing ontsluit word.

So sluit Christus die herstelde lewe in sy Koninkryk vir ons oop.

Net deur die wóórd van die ampsdraer. Die woord wat tot geloof en aanvaarding van dit wat gesê word, wil beweeg. Sy woord is die sleutel wat die toegang tot hul harte forseer en so die poorte van sy Koninkryk oopmaak.

U kan dus 'n kneg van Christus slegs aan sy wóórde uitken, broeders en susters. Daar is baie manne, en teenswoordig ook al vroue, wat hulleself as ampsdraers van Christus aan u presenteer. Maar die egte kneg van Christus is sommer herkenbaar aan die woord wat hy spreek. Christus soek vir die beheer in sy Koninkryk nie primêr bedryfsleiers, sosiale werkers, slim ouens en derglike nie, maar manne wat in alle eenvoud maar met volle oortuiging sy Woord vanuit die Skrif kan spreek. 'n Skerpsinnigheid wat elkeen beïndruk of 'n natuurlike hartlikheid, die eienskap om goed te kan luister- dit alles kan baie help in die ampsdiens, maar dit is nie Christus se eerste vereistes nie. Die eerste vereiste vir 'n ampsdraer is, dat hy self die Woord van sy Here baie goed ken. En dat hy homself deur Christus se woord telkens opnuut laat aanspreek en oortuig.

Daarom sal u, ds De Boer, die stilte van die studeerkamer moet bly soek om daar aanhoudend die Skrifte te bly ondersoek. En u, gemeente, moet dit u predikante nie verkwalik as hulle doelgerig wil bly studeer met die oog op sy ampsbediening nie. Dis nodig om 'n goeie ampsdraer te bly.

Ook u, broeders ouderlinge en diakens, moet ywerig die woord van u Here bly ondersoek om u vir u amp te bekwaam. U sal geduldig moet luister, en in allerhande aktuele situasies van God se volk vandag probeer verstaan wat die wil van hul Here is en hoedat u u broeders en susters by die vryheid van Christus kan bewaar. Ja, u sal u veral telkens opnuut sélf in die ban van die woord van u Sender moet raak, daardie woord waarin Christus se liefde vir ons oopgaan. Dit maak 'n ampsdraer eers regtig tot 'n goeie ampsdraer: as sy eie hart van die liefde van sy Here vervul is. Sy mond moet oorloop van dit waar sy hart vol van is: die liefde van Christus.

Die egte kneg van Christus probeer nie om sy hoorders vir homself te win nie, maar vir die Koninkryk van sy Heer. Hy praat nie die mense na die mond om self daardeur in aansien te kom nie. Maar hy druk sy hoorders Christus se liefde op die hart.

Christus se liefde- dit beheers die toonhoogte van sy spreke. Dit gee warmte, oortuigingskrag aan sy woorde. Dit maak sy woorde so indringend as hy op teëstand en onwil om te luister stuit. Hy weet dat ons almal eendag voor die regterstoel van Christus moet verskyn om geoordeel te word volgens wat ons gedoen het, of dit goed is of kwaad. Hy weet ook dat ons alleen sonder verskrikking voor Christus se regterstoel kan verskyn as ons die Regter as ons Redder aanvaar het. Wie dus nou Christus se liefde verwerp, word dan buite toe gewerp.

Dis dié dat die ampsdraer vandag met sy hele wese almal saam en elkeen afsonderlik probeer oorreed: Om Christus wil: laat julle met God versoen!

Want hy weet ook dat dit mee van sy diens afhang of die mense wat aan sy sorge toevertrou is, in Christus se Koninkryk sal binnegaan of moet buitestaan. Die woorde wat hy nou spreek, die tug wat hy nou bedien, is mee beslissend vir aanstonds. Hy beskik oor die ewige lewe of die ewige dood van ander mense. En wee die sleutelbewaarder wat die sleutels nie reg gebruik het nie of hulle selfs kwytgeraak het!

2. U ontvang vanoggend in Ds De Boer weer so'n gesant van Christus, gemeente. Naas die ampsdraers wat daar alreeds was.

En daar is groot dankbaarheid. Eindelik die tweede predikant vir ons gemeente!

Maar dié blydskap moet nog daar wees as alles weer gewoon geword het. As u al heeltemal aan Ds De Boer gewoond geraak het. Dan moet u nog altyd in sy werk onder ons die liefde van Christus opmerk. En u aan sy woord gewonne gee.

Die gevaar bestaan dat daar, as alles weer gewoon geword het, gewenning ontstaan. Dat u nie meer so intens na sy prediking luister as in die begin nie. Dat u toenemend krities begin luister en u vererg oor allerhande klein bysake, sodat u al hoe meer die hoofsaak van die boodskap aan u laat verbygaan. Die gevaar is daar dat u op 'n verkeerde manier die predikante onderling begin vergelyk, en ons het hier in Pretoria inmiddels 4 predikante om te kan vergelyk as ons die sendelinge saamreken!

Soos ons ook altyd maar geneig is om die ouderlinge en diakens te vergelyk en ons oor allerhande klein menslike tekortkominkies dadelik vir hul woorde toesluit.

As ons so maak, sal ons in elk geval nie meer wil hoor en gehoorsaam as die ampsdraers wat Christus aan sy gemeente hier gegee het, ons in die prediking en tydens huisbesoeke indringend moet waarsku en vermaan nie. Om nog te swyg van tugmaatreëls wat hulle miskien moet tref.

Maar u moet in die werk van die ampsdraers, hoe gewoon en hoe menslik beperk ook al, die liefde van Christus vir u bly opmerk, broeders en susters. Dit is dwaas en kortsigtig om daardie manne te verag of te ignoreer. Niemand in die gemeente kan hierdie sleuteldraers meer ignoreer nie. U sou Christus se liefde verag en ignoreer. Daarom moet niemand sê nie: "Ek kan ook sonder die kerk en sonder 'n preek sondags wel glo". Of: "As hy preek gaan ek in elk geval nie soontoe nie". Niemand moet dink: "Ek kan my kinders ook sonder die katkisasie wel by Jesus grootmaak, daarvoor het ek die predikant nie nodig nie". Niemand moet meen: "Ek het daardie jaarlikse huisbesoek van die ouderlinge nie so nodig nie. Wat het hulle feitlik ook met my uit te waai? " En: "As dié broeder kom, kan hy maar daarop reken dat ek hom nie sal ontvang nie".

En hoe dwaas is dit om as jy in materiële probleme geraak het, in elk geval te weier om 'n beroep op die diakens te doen.

Want Christus self het hierdie manne in sy diens geneem om vir u die rykdom en vreugde van sy Ryk te ontsluit. En as u hulle diens, hulle woord ignoreer, sluit u voor u self die Koninkryk toe!

Ons sal steeds daarvan bewus moet bly: in daardie gewone ampsdraers soek Christus my met sy Koninkryk. Deur hulle mond spreek die Koning van die Koninkryk van die hemele self my aan. En as die gesant van Christus, hoe gebrekkig dalk ook, die woord van sy Here bring, dan moet ook elkeen voor daardie woord buig. Dan maak die persoon nie saak nie, maar die woord wat hy spreek- dit moet gehoor en gehoorsaam word. Ook as dit sny in jou sondige vlees, as dit teen jou eie begeerte indruis, as dit jou eie verkeerde sienings ontmasker, sondige swakhede oopvlek. Die woord wat namens Christus gespreek word, is nou maar eenmaal nie altyd aangenaam vir die hoogmoedige mensehart nie. Dit begin altyd om allereers die sonde in ons lewe oop te vlek. Dit dwing jou om met skaamte jou skuld teenoor jou hemelse Vader te bely. En dit dring aan op 'n totale vernuwing van jou lewe.

Maar wee jou as jy daarom nie wil luister nie. Jy sluit vir jouself die skatte van die ryk van Christus toe.

Moet maar dankbaar wees, broeders en susters, dat u deur die diens van die ampsdraers u lewe lank aan u sondige aard herinner word. Daardeur maak hulle juis elke keer weer die pad na Christus se Koninkryk vir u oop.

Moet maar dankbaar wees dat die ampsdraers die kerkjeug op daardie so beslissende leeftyd onder hul hoede neem en deur middel van 'n geduldige onderwysing in die katkisasieklas ontvanklik maak vir die ewige vreugde in God se Koninkryk.

Profiteer daarvan dat u met allerlei persoonlike moeite en aanvegting by die ampsdraers tereg kan vir heel vertroulike sielsorg.

Aanvaar dit positief as die ampsdraers op toenemende lewensheiliging aandring: hulle wil u maar net al hoe meer gelyk maak aan Christus, u Koning en Verlosser.

Selfs as die tug bedien moet word, moet u die liefde van Christus daarin bly opmerk. Dan word nie 'n onwillige lidmaat uit die kerk uitgewerk nie, maar dan stry Christus deur die diens van sy ampsdraers in intensiewe stryd om iemand by die lewe in God se Koninkryk te bewaar. Nou dat vermaning-alleen nie gehelp het nie, moet die vermaan wel deur tugmaatreëls onderstreep word, hopende dat die broeder of suster daarvan eindelik sal skrik en tot inkeer kom.

Gemeente, oënskynlik lyk die werk van die ampsdraers maar baie gewoon. Maar in hul gewone, troue ampsdiens kom die buitengewone sorg en liefde van Christus na u toe. Dit is die wónder van hierdie gewone!

Daarom moet ons ons oë en harte daarvoor oopmaak. Vandag nog. Ons het ons Skriflesing uit Paulus se tweede brief aan die Korinthiërs geëindig met die woorde: "Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae, kyk, nou is dit die dag van heil". Die woorde herinner aan 'n belofte van God aan sy Kneg wat vir die sondes van die volk moes ly. God het beloof dat Hy eendag hierdie lydende Kneg tot Koning sal verhef, waarna Hy almal wat by Hom skuil, mag red. Dié dag het nou aangebreek, mag die apostel van Christus verkondig. Maar met die woorde wil Paulus ons terselfdertyd waarsku. Ons moet nou ook vandág na hierdie Koning luister, wanneer sy gesante ons roep tot sy heil. Want wie vandag nie wil luister nie, is dalk môre te laat! Miskien kom daar nie meer 'n móre nie.

Met die erns moet u, Ds De Boer, moet ons, broeders ampsdraers, in dié gemeente die versoening bedien.

Maar met dié erns moet u, gemeente, ook luister. En u láát versoen. Voordat dit te laat is.

AMEN.

(Pretoria, 17 Junie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)