Christus se eer is: Hy het hier een keer Sy ewig offer gebring

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

28-07-91

SONDAG 30

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 143 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 143 : 6, 7
Skriflesing: Mattheus 26 : 20-30, Hebreërs 10 : 1-25
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 50 : 7, 8, 10, 11
Lesing van: Sondag 30
Prediking
Sing: SB. 44 : 2, 4
Dankgebed
Sing: Ps. 23 : 3 (1ste beryming)
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

oor twee weke sal ons hier voor in die kerk weer die heilige Nagmaal vier. Die tafel sal weer deur die koster en die diakens gereed gemaak word, soos die 12 dissipels die laaste Paasmaaltyd in opdrag van die Here voorberei het. Daar sal brood en wyn wees, soos die eerste Nagmaal wat Jesus toe saam met sy vriende gevier het. Ek het daarom Matteüs 26 met u gelees: om deur middel van die eie woorde van ons Here en deur middel van die gebeure van daardie eerste keer eerbiedig te word. Eerbied: dis mos wat jou moet omgee en vervul, so dikwels in die christelike kerk dieselfde pragtige maaltyd in naam van Christus gevier word.

Dit is al die derde Sondag van die Kategismus wat oor die Nagmaal gaan. Mens kan sê: dit is darem 'n voorbereiding op die volgende viering van die Nagmaal, op 11 Aug! Ek hoop dat u eerbied élke Sondag daar is, sodat u nie van al die aandag vir die sakramente moeg word nie. Daar is mos nie een moment in die geloof wat ons so naby die Here Jesus bring nie, by daardie hoogte- en dieptepunt van sy lewe op ons aarde! Dit was toe Hy sy offer van sy vlees en bloed in brood en wyn vir ons uitgebeeld het en ons geleer het hoe om dit te vier.

Die derde Sondag oor die heilige Nagmaal maak die offer van ons Here nog meer vlees en bloed. Nou praat ons oor die daaglikse werklikheid van dwaling en sonde waarin ons lewe, waarvan ons 'n deel is. Dwaling en sonde: soos daar leer is, is daar dwaalleer en soos daar lewe is, is daar sonde. Die duiwel doorkruis mos ons gedagtes en dade. Die dwaalleer van die Roomse kerk word in hierdie Sondag bestry en die vraag word gevra wie so kan sondig dat hy nie aan die tafel van die Here mag kom nie. Gedagtes wat mense mislei, sondes wat mense laat verdwaal: dit is die wêreld, ons wêreld waarin die Heiland gekom het. Dit is die wêreld wat Hy so goed geken. Dit is die wêreld wat die Vader so liefgehad het. Ons eer Hom, ons eerbiedig Hom, omdat Hy so naby gekom het en nog altyd naby wil wees. Ek bedien u die Woord van ons Heiland vanmôre:

CHRISTUS SE EER IS: HY HET HIER EEN KEER SY EWIG OFFER GEBRING

Ons

  1. veg vir sy eer,
  2. skuil onder sy eer,
  3. waak oor sy eer.

1. ONS VEG VIR CHRISTUS SE EER

Die laaste woorde van v/a 80 trek die meeste aandag: die mis in die Rooms-katolieke kerk is 'n "vervloekte afgodery". Die mis is die manier waarop die Roomse kerk die nagmaal vier. Dit is 'n vervloekte afgodery, sê ons belydenis. Ons is eintlik nie meer aan sulke harde taal gewoond nie. Ja, maar ons word darem as kerk ook nie meer bestry nie. Die taal van die vyandskap het ons eintlik verleer, terwyl die Bybel vol is van die geestelike, werklike stryd van God se volk. Daar was en daar is definitief dwalings wat 'n groot gevaar vir jou geloof is. Kan jy oor dwalings ontsteld wees?? Kan jy kwaad word, as jy hoor hoe mense mislei word? Of lewe ons so maklik en tevrede dat die geestelike stryd wat in die land aangaan, ons feitelik nie beroer nie?

Die HERE kan darem raas oor die dwalinge van sy volk. In die eerste hoofstuk van Jesaja lees ons hoe die HERE die mense afwys wat op hul eie wyse Hom wil dien. Hy noem sy volk n.b. Sodom en Gomorra. Hy doen dit nie vanweë sondes in Israel nie, maar vanweë dwalings. Dan vra Hy vir sy volk: "Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? Ek is sat van die brandoffers van ramme, Ek het geen behae in die bloed van stiere". Dit sê die HERE wat self die offerdiens ingestel het! En: "As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap?", vra die HERE wat self wens dat sy volk voor sy aangesig, by Hom kom. Dan dreig Hy: "As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie".

Skeld, baie skerp praat kan ook die apostel Paulus. Hy verwyt die gemeente in Galasië dat hulle so maklik mislei word. Hy sê dan: "maar al sou ons (apostels) of selfs 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees" (Gal. 1:9). Die vloek van God sal hom tref! Dit sê 'n apostel wat mooi weet hoe om troosvol en uitnodigend te praat. Nou skeld hy: die vloek van God sal hom tref wat 'n dwaalleer bring! Ja, en dit is presies wat die Roomse kerk gedoen het. Toe Rome in die 16de eeu agterkom dat die Reformasie in Europa bloei, het hulle 'n konsilie saamgeroep wat 'n teenreformasie aan die gang moes kry: die kontra-reformasie. Daar is toe in Trente 'n konsilie saamgeroep wat bykans al punte van die gereformeerde leer veroordeel het. Elke veroordeling eindig met die woorde: "laat die vloek van God hom tref wat die dinge glo" (anathema sit). Hulle het gepraat soos die apostel Paulus. Die veroordeling van die gereformeerde leer oor die Nagmaal het vroeg in 1563 plaasgevind.

Die Heidelbergse Kategismus was toe in druk: binne 'n paar maande alreeds die 3de druk! Toe het die skrywers vinnig op daardie veroordeling gereageer en v/a 80 herskryf. Nou sê die mense van daardie tyd nie: dus sê ons nou dat God se vloek al Roomse mense moet tref nie. Nee, hulle sê nie oor die mense nie, maar wel oor die léér: dit is 'n vervloekte afgodery. Die vloek van God sal dit tref! Die dwaling van die Roomse nagmaalsleer is dat dit die gelowiges, die gewoon mense van Christus verwyder hou. Dit is net die priester wat die sakrament kan laat gebeur: hy moet die wyding van brood en wyn voltrek, sodat dit verander in die liggaam en bloed van Christus. Ja, die moderne Roomse leer het verander. Dit is egter nog altyd die kern van hulle leer: die kerk is aktief betrokke in die offer van Christus. Dié dwaling veroorsaak ander dwalings. Nog altyd is die afstand tussen die gewoon mense en die hemelse Here in die Roomse kerk baie groot. Daar is altyd mense wat in die pad staan: die priester of heiliges. Hulle moet die afstand vir jou oorbrug.

Die gereformeerde leer van die Nagmaal bring die Here Jesus naby jou. Hy het gesê: "My liggaam, my bloed: dis vir jou, dis Ek vir jou". Vat asseblief die nabyheid van my Heiland nie van my af nie. Die hele antwoord 80 van die Kategismus herken ons in Hebr. 10. Die offer hoef nie herhaal te word nie: een keer was genoeg, hoe groot ook al my sondes is. Ook al is ek opnuut 'n sondaar op God se aarde, in die lang geskiedenis: sy offer is groot genoeg. Die offer is beskikbaar in die geloof. Die herhaling was mos die groot probleem van die offers van die Ou Verbond. "Elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat ... tog nooit die sondes kan wegneem nie". Daar teenoor staan Christus "net een maal" sy offer gebring het (:8). "Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word" (:14). Die mooi besluit is: "waar daar nou vergifnis van al die ongeregtighede en sondes is, is daar geen offer meer vir die sonde nodig nie" (:18).

Dit is Christus se eer wat niemand mag wegvat: een keer was genoeg, omdat dit Hom is wat sy lewe gegee en ons stryd gestry het. Wil jy vir sy eer veg? Jy het die grootste voorreg wat 'n mens tydens sy hele lewe op aarde kan kry: om naby Christus te mag kom. Is jy bereid om te veg om dit te behou? Vir jouself én vir almal wat geroep word om christen te wees: veg daarvir dat die geloof suiwer en duidelik bly. Jy benodig dit, 'n ander benodig die suiwerheid en die duidelikheid van die evangelie: om die sondes van die hart en die dwalings van die gedagtes ontwil.

2. ONS SKUIL ONDER CHRISTUS SE EER

Watter tipe mense is dit wat so vurig vir hul Here kan veg? Dit is glad nie strydbare tipes wat in hulself iets kan wys nie. Nee, dit is nie mense wat alles mooi weet en dit daarom vir die hele wêreld mooi kan vertel nie. Ja, u kan wel mooi vir die hele wêreld vertel, maar dan wat die Here sê! Dit is wat Hy vir my en alle andere mense praat: oor sonde en genade.

V/a 81 is die mooiste een: dit sê hoe mens daarna kan verlang om die teken van God se genade te ontvang. Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? Van die mense word 4 dinge gesê. Dit is al die mense wat (1) vanweë hulle sondes 'n afkeer van hulleself het. Jy kan vir die ander sê: man, as iemand in die oë van die Here 'n afskuwelike mens moet wees, dan ek. Jy kan darem rustig Nagmaal vier! 'n Afkeer van jouself hê: dit is mooi weet watter dinge die Here in jou moes afwys. Dis die dinge waarmee jyself 'n probleem gekry het, omdat jy weet jou Heiland wys dit af. Dit is die sondes wat vir jou elke keer die vrede met God versteur en verdriet in die hemel veroorsaak. Sulke mense kom skuil onder Christus se eer: die ewig offer wat Hy een keer, ook met jou in sy gedagtes gebring het.

Daarom volg die tweede (2) tipering: aan die Nagmaal soek die Here mense wat Hom op sy Woord vertrou. Jy mag vertrou dat daardie tipe sondes, die dwalings van jou gedagtes vergewe word. Ons is geneig om die een sonde as erger te beskou as die ander. Owerspel is verskriklik, kwaadspreek is minder erg. U weet egter baie mooi dat die HERE glad nie onderskeid maak nie: elke sonde, sê die Bybel, breek God se wet. Dit moet u onthou, wanneer u oor enige se publieke sonde praat. "Met 'n gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie", sê Paulus. Die HERE noem nie die een sonde erger as die ander nie: dit is ook 'n gedagte wat u mag help! My eie sonde beskou ek mos dikwels as die ergste. Of: daar is niemand wat so swak is as ek, wat altyd opnuut vir vergewing moet kom vra. Vetrou maar: die Here Jesus het al sondes en al sondaars geken voordat Hy sy offer gebring het. Jou tipe sonde, die dwalinge van jou gedagtes: Hy ken hulle en tog bied Hy vergewing vir die wat sy eie sondes en dwalinge begin verafsku.

Watter tipe mens kom vier die Nagmaal? Dit is ook nie een wat dit nou definitief reg tussen God en hom gemaak het nie. Daar is mos nog altyd die sondige aard, my spesifieke swaktes wat ek saamdra, as ek Nagmaal toe kom. Daarom sê die belydenis: dit is mense wat (3) vertrou ook dat die swakhedes wat nog oor is, met Jesus se lyding en sterwe bedek is. Die swakhedes wat nog oor is: dit wat jy nie in jouself kan uitskakel nie, hoe graag jy dit ook om Jesus ontwil sou wens nie. Broers en susters, u het al 'n hele pad ver gekom, as u sover is dat dit jou pla dat jy 'n sondige aard het. Dit is nie 'n algemene vasstelling nie: ag, almal is mos sondaars. Nee, dit pla my dat ék ewig en altyd 'n swakkeling is. Dit pla my dat ék nie meer vir die Here wêrd kan wees nie. Ek wil mos 'n kind, 'n kneg van die Here wees, maar watter kneg en watter kind is dit?

Daarom volg ook die vierde kenmerk van die gelowige wat by die Here kom skuil: dit is mense (4) wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Dis nie 'n vae verlange nie: "dalk word op 'n dag my geloof 'n bietjie sterker". Nee, dit is 'n sterke verlange, omdat dit die werklikheid is: naamlik dat die geloof sterker, die lewe beter kán word! Dit is die werklikheid van die skuil by Christus: daar word 'n mens oorgiet met genade, daar stroom jy vol met nuwe moed, want Hy het vir my gesterf! Nie ek het vir Hom kom soek en lewe nie, maar Hy het vir my kom sterf.

Kyk nog 'n keer mooi vir die vraag (81): "wie moet na die Nagmaalstafel van die Here kom?". Daar staan nou nie: wie màg kom en wie moet asseblief wegbly, wie is waardig en wie is onwaardig. Nee, daar staan: wie moet kom?! Watter tipe mense behoord by die Nagmaal aanwesig te wees! Dit is al sulke mense wat besef wat sonde en dwaling in hul lewe is. Ja, ook wat besef hoe 'n groot gevaar dit vir hulle is. Besef u dit: besef dan ook dat ú verwag word. Dit is Christus se eer: Hy skaam Homself nie ons sy broers en susters te noem nie. Dit wat jou "waardig" maak om Nagmaal te kom vier, is dat jy besef dat jy in jouself onwaardig is. Dit is Christus se eer dat Hy jou hart ken en jou darem nooi. Daarom is dit ook nie vier moeilike kenmerke wat mens een-een verower nie. Nee, dis almal dieselfde: die verlange om naby Christus te mag kom skuil, omdat ek swak en Hy sterk is.

Dit is darem snaakse gaste wat 'n Koning, wat Jesus het. Hy het dit in die gelykenis verduidelik: gaan uit na die hoeke van die strate en nooi die armes en verminktes, die kreupeles en die blindes (Luk. 14)! Sulke mense sou u sonder Hom geword het. Dalk besef u: ek is nog altyd so 'n mens. Want nou besef ek hoe blind ek is. Dit is mense wat weet hoe mooi dit is om te kan skuil: die armes, verminktes, kreupeles en blindes, almal gestremdes. Besef jy hoe gestremd jy is deur die mag van die sonde en die dwaling van jou gedagtes?

3. ONS WAAK OOR CHRISTUS SE EER

Die werklike eerbied teenoor die Here is 'n saak van die hart, jou diepste wese. Dis hoekom ons ook wil waak as dit oor mense gaan. As dit gaan oor mense soos ons self is, 'n mens wat worstel met sondes wat hom pla en met gedagtes wat dwaal. Die slot van v/a 81 praat van die "huigelaars". Hoe ervaar jy daardie woord? Is dit 'n skeldwoord? Dit lyk nog erger as in v/a 80 met die "vervloekte afgodery", omdat nou nie slegs die sonde maar ook die persoon beskimp word? Ja, dit is definitief 'n baie skerp woord. Daar word egter nie persone aangewys nie, juis omdat sulke mense nie aangewys kan word nie! Tog is daar mense wat so is, wat huigel. Hulle moet deur die prediking skrik, want daar is nie 'n ander manier om hulle te laat skrik nie. Huigelaars is mense wat 'n vaste plek in die kerk het en wat nie om 'n bepaalde dwaling of sonde by sy ampsdraers bekend is nie. Kyk: die belydenis van die kerk gaan nie daarvan uit dat kerklid-wees genoeg is nie. Ja, selfs die feit dat alles reg lyk, is nie genoeg.

Christus gee in die kerk mense die ruimte om hul harte vir mekaar oop te maak. Dit is die gemeenskap, die kontak in die geloof. Die Gees wil die harte vervul, met mekaar in kontak bring. Alleen Hy wat die Gees is, ken egter die harte: "HERE, U deurgrond en ken my", sê die Psalm. Vir die ander kan ek egter my hart toe hou, terwyl ek hom net dit laat weet wat ek wil prysgee. Eerbied, het ek gesê, is 'n saak van die hart. Ek kan egter ook iets vir my medekerkmense wys wat soos eerbied lyk. Jy kan een huisbesoek lank volhou: deur die bekende en regte woorde te gebruik, sonder om jou hart vir broers oop te maak. Dit is "gehuigelde" geloof en skyngemeenskap. Sulke mense soek nie die hulp van 'n medelidmaat, omdat daar nie werklik stryd teen die sonde en die dwaling is nie. Dié mense word huigelaars genoem. Net die Here God kan deur sy Gees hom nog raak!! Dit is hoekom daar altyd ook vermanings moet wees vir hom of haar wat nie werklik eerbied vir die Here het nie. Daarom waak ons: omdat sulke mense definitief gehelp moet word, selfs al sien hulle dit nie raak nie.

Wat soek iemand in die kerk, ja, wat soek hy aan die Nagmaal wat nie werklik 'n gelowige, eerbiedige mens is nie? Dit is altyd die sosiale posisie: in die huwelik, in die gesin, die grootfamilie, die kring van vriende, kollega's. Die kerk is mos ook 'n samelewing. Elkeen het in 'n sekere mate daarin 'n vaste plek waarvan hy afhanklik is. Daar kom die gevaar in: wanneer die kerk nie geloofsgemeenskap vir jou is nie. Broers en susters, besef mooi dat ook ons gemeente, die VGK-Pretoria sosiaal 'n sterk klem op sy mense lê. Van elkeen word verwag om saam te werk, die verenigings te besoek, beskikbaar te wees, op besoek te kom. Vul al die ontmoetings asseblief met geloofsgemeenskap, sodat ons mekaar in die harte bereik! Die Sondag mag nie net uit stomme geloofsgemeenskap bestaan, omdat ons darem saam in die kerk sit nie. Die kerkdiens is 'n ontmoeting voor die aangesig van die Here. Spesiaal aan die tafel van die Nagmaal ontmoet mense mekaar: in die nabyheid van die Heiland wat Heer oor hulle saam is. Waak oor mekaar deur ook oor die stryd van die geloof te praat.

Daarom is dit ook dat die prediking ook harte moet raak wat toe is vir die Here. In die Nagmaalsformulier word mense vermaan om om hulself ontwil weg te bly en hulself te bekeer. Sulke skerp waarskuwing is nie bedoel om weg te jaag nie! Dit is bedoel om wakker te laat skrik en die stryd van die geloof aan te wakker.

Nee, ek het nog niks oor v/a 82 gesê nie: oor die feit dat mense van die Nagmaalstafel weggehou word wat "met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig of goddeloos is". Hiermee is mense bedoel van wie by die ampsdraers bekend is dat hulle ernstig in hul gedagtes dwaal of in hul dade vreselik sondig. Ons waak oor mekaar in opdrag van Christus. Ons vrees in die kerk die toorn van God: ook oor 'n ander, my naaste, my broer of suster. Ook as ons skerpe Bybeltaal moet gebruik, is dit om Christus se eer. Dit is dat Hy naby is met sy oorvloed van genade en liefde. 'n Ongelowige, 'n goddelose, 'n huigelaar: die Here sou my ook so moet noem, as Hy nie naby my was nie. Maar Hy is ... naby!

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)