Christus se een offer voor ons sondes was vir altyd genoeg

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 30 H.K.

LITURGIE:
L. Hebr. 9: 22-10: 31
Ps. 40: 3, 4
Ps. 40: 5
SB. 8: 1, 2
Ps. 26: 2, 5
Ps. 5: 4, 6

Broeders en susters,

Is dit nog wel sinvol om aparte aandag te gee aan die Roomse Mis-opvatting?

Ons kan verstaan dat die Heidelbergse Kategismus 'n belangrike plek inruim vir die bestryding van die Roomse lerings. In die jare waarin hierdie leerboekie onstaan het, het hierdie kwessies in die middelpunt van die belangstelling gestaan. Baie Gereformeerdes wat hulle wel aan die Roomse Kerk onttrek het, was nog nie heeltemal vry van allerlei Roomse dwalings nie.

Aanvanklik het die skrywers van die Kategismus gemeen dat die vrae en antwoorde van Sondag 28 en 29 oor die Nagmaal wel voldoende was om daardie dwalings te oorwin. In die eerste uitgawe van die Kategismus ontbreek die eerste vraag van Sondag 30, vraag 80, oor die onderskeid tussen die Nagmaal van die HERE en die Mis van Rome. Maar ter wille van die duidelikheid is vanaf die tweede druk hierdie vraag nog ingevoeg. Behalwe die laaste sin, dat "die Mis dus in wese niks anders is nie as 'n verloëning van die enige offer en lyding van Christus en 'n afgodery wat vervloek is". Dié sin is by die uitgawe van die derde druk nog toegevoeg, vermoedelik as 'n reaksie op die uitsprake van die Roomse Konsilie wat in daardie dae in Trente gehou is, omdat in die uitsprake juis 'n vervloeking uitgespreek is oor almal wat die Roomse misleer verwerp het.

Maar ons leef vandag 4 eeue later, gemeente. Daardie twis oor die Nagmaal tussen Katoliek en Protestant lê alweer ver agter ons. Is dit nog sinvol om vandag in 'n preek, wat tog die verkondiging van die blye evangelie moet wees, aandag aan daardie ou leerstryd te gee?

Wie in daardie dae openlik durf bely het dat die Paapse Mis in wese 'n vervloekte afgodery is, het die gevaar geloop om dié belydenis met die dood te moet bekoop. Dié moes bereid wees om die brandstapel te beklim.

Maar vandag het die verhoudings mos heeltemal verander! Rooms en Protestant leef vreedsaam naas mekaar en deur mekaar. Die verskil in siening is nog wel aanwesig maar daar daar vloei geen bloed meer uit nie. Ons sien eerder dat Protestantse en Roomse teoloë besig is omdie Mis en die Nagmaal na mekaar toe te praat en die skerp kante bietjie af te slyp. Dit gebeur selfs al wel dat 'n Protestantse predikant saam met 'n Roomse pastor 'n eugaristieviering lei. Mens moet vandag mos ekumenies wees in plaas van om mekaar oor allerhande verskille te verketter.

Is dit dus nog wel sinvol om die Roomse Mis vanaand krities te gaan bespreek?

Ja, dit is, gemeente.

Veral noudat die erns van die verskil tussen die Nagmaal en die Mis toegesmeer word en die strydbyl begrawe is, is dit van léwensbelang dat die kerk van Christus die fundamentele verskil tussen die Mis en die Nagmaal bly raaksien.

Want daardie verskil raak inderwaarheid ons lewe!

Moet antwoord 80 maar 'n slag mooi lees: die groot vraag by die Mis en die Nagmaal is: Hoé ontvang ons vergewing van al ons sondes. Op dié vraag gee die Nagmaal van die Here en die Mis van Rome 'n teengestelde antwoord: was daarvoor Christus se een offer aan die kruis op Golgota genoeg? Of moet daardie offer nog daagliks deur priesters of aarde herhaal en toegepas word?

Ons sal dus vanaand nie net 'n interessante kerkstryd uit die verlede bekyk nie. Maar ek moet u uit die Woord van die HERE verkondig hoédat u aan die offer van Christus tot versoening van u sondes, waar ons deur brood en wyn reëlmatig by bepaal word, deel het.

Daaroor handel ook die ander twee vrae van Sondag 30. Dit lyk miskien asof daardie twee vrae niks meer met die kwessie van die Mis uit te waai het nie. Maar die hooflyn is die hele Sondag 30 is dus die belang van Christus se offer vir ons.

Ek verkondig u:

CHRISTUS SE EEN OFFER VOOR ONS SONDES WAS VIR ALTYD GENOEG

DAAROM

  1. BELY DIE KERK DIE VOLKOMENHEID VAN DIÉ OFFER
  2. ONTVANG DIE KERK VRYMOEDIGHEID DEUR DIÉ OFFER
  3. WAAK DIE KERK TEEN ONVERSKILLIGHEID T.A.V. DIÉ OFFER

1. So dikwels as wat ons die Nagmaal vier, broeders en susters, word u opgewek om nie net u oë te rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie, maar om u harte na die hemel op te hef, waar Jesus Christus ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader is. Brood en wyn sal net-nou rondgedeel word, maar dan word eers ons aandag heeltemal van daardie sigbare tekens losgetrek. Dit is nie meer as tékens nie. Die harte moet omhoog.

Maar dit is in die Mis presies andersom. Daar word juis wel alle aandag na die brood en die wyn op die altaar voor in die kerk toegetrek. Daar hoef die harte nie omhoog nie, want Christus self kom omlaag!

In 'n indrukwekkende, misterieuse seremonie hef die priester voor almal se oë die brood omhoog, om dit aan die HERE as 'n offergawe aan te bied tot 'n versoening van sy eie sondes en van die skuld van die hele kerk, ja, selfs van die wat reeds gesterf het. Vervolgens word ook die beker met wyn op dié wyse omhooggehou.

Na 'n aantal gebede en gesange spreek die priester die instellingswoorde van die Nagmaal en dan hef hy die brood opnuut omhoog, sodat nou die mense in die kerk dit sal aanbid, terwyl ook die priester self in aanbidding neerkniel. Almal se oë rig hulle nou op daardie brood en wyn. Want asof deur 'n wonder het die brood die vlees van Christus geword. En die wyn sy egte bloed. Ons Heiland self het uit die hemel neergedaal, ligaamlik, om Homself opnuut as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, op die altaar te offer.

Oënskynlik het die Roomse Mis 'n groot voordeel bo ons nagmaalsviering. Want hoe naby word Christus gebring in die Mis!

Wat word die vergewing van sondes naby gebring op die altaar! Uit die hemel daal die Middelaar neer in 'n kerk vol sondaars en Hy offer Homself opnuut vir hul sondes. En die mense- hulle sién dat dit gebeur, en hulle mag dit proe met hul mond. Hoe ryk en troosvol lyk dit. Hoe heilig en heerlik is so'n Roomse erediens.

As ons ons eenvoudige nagmaalvierings daarmee vergelyk - hoe arm lyk ons dan. Hoe leeg bly dan ons dienste. Want by ons kom Christus nie liggaamlik in die kerk nie, maar Hy bly ver weg in die hemel. Daar bly 'n groot afstand tussen sy hemelse heerlikheid en ons aardse ellende.

Ons Nagmaal vertel van 'n Christus wat hoog en ver weg is, nie op die aarde nie maar in die hemel, en wat daar aanbid wil word. Maar die Mis wys ons Christus wat vlak by ons is, wat tot ons neergedaal het in die kerk en op die altaar en wat ons dáár mag aanbid. Is die Mis nie veel ryker nie?

Maar die groot vraag is, gemeente: is dit regtig noodsaaklik dat ons Here Jesus Christus elke dag nog opnuut deur mispriesters geoffer word om die versoenende krag van sy kruisdood op Golgota na ons toe te bring? Of lê die vergewing van ons sondes lankal onwrikbaar vas in die een offer wat Hy eenmaal aan die kruis gebring het?

Die Roomse kerk leer: Jy ontvang geen vergewing van sondes as Christus nie elke dag opnuut geoffer word nie.

Die kerke van die Reformasie sê: ons vergewing van sondes is gelukkig nie afhanklik van die daaglikse herhaling en toepassing van Christus se offer onder die hande van mispriesters nie. Want ons Hoëpriester het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God om dáár, in die hemel, voortaan daagliks ons skuld by die Vader te bedek.

Want so sê die Skrif dit onweerlegbaar. Ons het 'n gedeelte van die brief aan die Hebreërs gelees. Staan dit daar nie baie duidelik dat Christus se een offer vir ons sondes genoeg was nie?

Voor Golgota het daar daagliks priesters by die altaar gestaan om deur 'n aanhoudende stroom van offers die sondes in gedagtenis te hou. Meer kon hulle met hulle offers ook nie doen nie. Hulle kon die sondes nie versoen nie, "want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem".

Maar toe Christus in die wêreld ingekom het en sy eie liggaam wat God vir die groot offer toeberei het, aan die kruishout geoffer het, het Hy deur daardie offer "vir altyd volmaak die wat geheilig word"

Daarom mog ons Heiland ook gaan sit in die hemel, broeders en susters. Moet eens daarop let hoeveel nadruk dit in hierdie brief ontvang. Ons vind dit reeds in hfst. 8: 1: "Die hoofsaak van wat ons nou gesê het, is dit: ons het so'n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel". En in die gedeelte wat ons uit hfst. 10 gelees het, word die die staande priesters van die Ou Verbond teenoor die Priester van die Nuwe Verbond wat sit, geplaas. Sy een offer was genoeg.

Die mis leer: Hy kry daarbo geen rus nie, want elke dag moet Hy weer aarde toe kom om sy kruisdood opnuut in die kerk sigbaar te maak, te herhaal en toe te pas. Maar God se Woord leer: ons Priester sit rustig in die hemel, en Hy bly ook daar, want waar kan Hy beter ons sondes bedek as daar voor die aangesig van sy Vader?

En wie is nou ryker: die wat die Mis meemaak, of die wat die Nagmaal vier?

Rome sê: u ontvang geen vergewing van sondes, u kry geen deel aan Christus en al sy weldade nie, as die kérk dit nie vir u beskikbaar stel nie. U saligheid lê feitlik in die hande van die mispriesters. Kan u verstaan, gemeente, dat ons Kategismus dit reguit "'n vervloekte afgodery" noem? U lewe ne toekoms het heeltemal van 'n stukkie brood en 'n beker wyn in die hande van 'n gewyde geestelike geword.

God se Woord leer gelukkig vir ons, en só verseker die Nagmaal dit vir ons, dat die vergewing van ons sondes nie afhanklik is van die hande van mense waardeur Christus opnuut geoffer sou moet word nie. Al sou ook die kerk staak, en geen priester meer die Mis wil bedien nie, al sou geen predikant meer die Nagmaal wil bedien nie, al bly ek ook so ver van 'n kerk dat ek huisgodsdiens moet hou en jare lank die Nagmaal nie kan vier nie- my saligheid lê veilig en vas in die hande van my Heiland in die hemel. En as ek nou maar vol vertroue my hart ophef na die hemel hoef ek nie daaraan twyfel nie dat ek die volkome vergewing van al my sondes uit sy hand ontvang, net so werklik as wat ek die brood en die drank uit die hand van die predikant ontvang.

2. Nee, daaraan hoef ek nie te twyfel nie.

Nogtans, en ons kyk nou na die tweede vraag in Sondag 30, was daar in die kerkgeskiedenis tog telkens christene wat wel daaraan getwyfel het. Nie omdat hulle meer vertroue in die Mis gehad het nie. Maar omdat selfs die eenvoud van die Nagmaal vir hulle nog te heilig gelyk het. Hulle het geweet dat Christus die offer vir die sondes van sy volk aan die kruis gebring het. Hulle het geglo dat brood en wyn by die nagmaalviering tekens en waarborge is dat daardie offer ook vir jou gebring is. Maar hulle het nie durf glo dat ook hulle daardie brood en wyn sommer mog vat en eet en drink nie.

Die Skrif sê mos dat 'n mens hom vooraf reg moet beproef. Elkeen moet sy sonde en vervloeking oordink, 'n afkeer van homself kry en homself voor God verootmoedig.

Maar hierdie noodsaaklike selfbeproewing het vir daardie mense regtig 'n beproewing geword! Hulle het die las van hul sondes so swaar op hulle voel druk, dat hulle nie meer na die tafel van die Here dúrf kom het nie. Hulle het gemeen hulle is te sleg. Hulle het, soos dit genoem is, nie die vrymoedigheid gehad om die Nagmaal te vier nie. Want hulle het gedink daar moet eers iets in jou verander voordat jy goed genoeg is om aan die heilige tafel van die Here aan te skuif.

Ek praat nou van hierdie tipe van mense in die verlede tyd, maar daar is nog altyd sulke christene. Dikwels heel opregte kinders van die HERE, vir wie die sonde 'n vreeslike werklikheid in hul lewe is. Wat dit aanbetref kan ons nog wel van hulle leer! Hoeveel van ons voel so sleg oor hul sondes dat hulle amper nie die Nagmaal durf saamvier nie?

Maar tog is so'n twyfel nie nodig nie.

Want wie op hierdie wyse twyfel of hy wel mag aangaan, verstaan die bedoeling van die Nagmaal nie meer mooi nie. Hy soek voor die Nagmaal eers in homself, dit wat hy juis in die Nagmaal van Christus ontvang. Hy soek eers in homself die sekerheid dat sy sondes vergewe is, voordat hy Nagmaal toe durf kom. Terwyl Christus die sekerheid van die vergewing van sondes juis in die Nagmaal skenk!

Hy meen hy moet eers voldoende vrymoedigheid vind om tot die heilige tafel van Christus te mag nader. Maar Christus skenk juis aan sy tafel die vrymoedigheid om tot God se heilige troon te mag nader.

Die brief aan die Hebreërs gebruik die woord "vrymoedigheid" 'n hele aantal kere. Maar hierdie woord beteken hier meer as maar net 'n rustige gevoel in jou. Vrymoedigheid is allereers iets buite jou, wat jou so'n rustige gevoel gee. Dis hoekom die skrywer in hoofstuk 10: 35 ook kan skryf dat ons ons vrymoedigheid nie moet "wegwerp" nie.

Ons sou die woordjie "vrymoedigheid" in die brief aan die Hebreërs kan omskrywe met: "vergunning", "toegangsbewys".

As ons ons op 'n terrein bevind waar 'n mens alleen met 'n vergunning mag kom, en daar verskyn skielik 'n beampte wat ons vra of ons wel die reg het om hier te wees, dan sal ons baie onseker wees as ons nie 'n toegangsbewys kan toon nie. Maar as as so'n skriftelike vergunning saamgeneem het, sal ons met volle vrymoedigheid daardie beampte te woord staan.

Om as 'n sondige mens voor God se troon te mag nader, benodig ons ook so'n vergunning.

Maar ons kan selfs so'n vergunning nooit bemeester nie. Dit is nie te koop nie. Ons kan dit nie verdien nie. Iemand anders moet dit vir ons bemeester en dit aan ons skénk.

Maar dit hét Christus mos gedoen! Christus het met sy een offer op Golgota die vergunning om weer tot God te nader vir my gekoop.

Feitlik het Christus self my vergunning geword. Soos Hy alreeds vir sy dissipels gesê het: "Ek is die weg. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. " Hy Self staan Borg daarvoor dat ons skuld by God versoen is.

Maar hierdie Borg kom in die heilige Nagmaal na ons toe, gemeente. En dáár deel Christus die vergunning aan ons uit. Want daar maak Hy ons een met Hom, deur sy Heilige Gees, net so werklik as wat ons die brood en die wyn in ons opneem. Hy beweeg ons aan sy tafel om ons in geloogf aan Hom toe te vertrou en so lyf Hy ons in by Hom en dan neem Hy ons saam na sy Vader toe.

Mag ek wel aangaan aan die tafel van die Here en brood en wyn gebruik? Is ek daarvoor wel goed genoeg?

Ek moét aangaan!

Want nie vir mense wat hulleself goed genoeg ag nie, maar juis vir mense wat vanweë hul sondes 'n afkeer van hulleself het, is die Nagmaal deur Christus ingestel. Dié mag daar hoor en proe dat daar volkome versoening vir al hul sondes is. Ons hoef nie eers in ons eie lewe die oorwinning op die sonde te behaal voordat ons Nagmaal mag vier nie. Ons kán dit nie eens nie!

Hy vra slegs geloof. Meer is nie nodig nie. Ek hoef maar net vol vertroue te glo dat Hy met sy een offer al my sondes by die Vader bedek, net so seker as wat ek die brood en die wyn -herinneringstekens aan sy offer- ontvang.

In die Roomse kerk meen hulle, die kérk moet eers nog self iets doen voordat jy die vergewing van sondes deur Christus se offer kan ontvang.

Maar ons moenie dieselfde fout maak, broeders en susters, en meen dat die méns self eers iets moet doen voordat hy aan die vergewing van sondes kan deelkry nie.

Christus se een offer vir ons sondes was ook vir my genoeg. Danksy daardie offer mag ek oortuig wees daarvan dat geen sonde of swakheid wat teen my wil in my oorgebly het, kan verhinder dat God my in genade aanneem en 'n plek aan die tafel van sy Seun waardig keur nie.

3. Maar dan kan ek ook slegs met 'n groot skaamte en verwondering my plek aan die tafel van my Here inneem. Want sy een offer was wel genoeg om my sondes te versoen. Maar sy offer was die swaarste offer wat ooit in die wêreld gebring is en gebring sal word: die dood van die Seun van God! So groot was God se toorn oor my sondes dat Hy, liewer as om dit ongestraf te laat bly, sy geliefde Seun daaroor gestraf het met die bittere en smadelike dood aan die kruis.

Die wetenskap moet ons beheers so dikwels ons na Christus se tafel genooi word, gemeente. Niemand mag nou sommer uit gewoonte og tradisie die nagmaal vier nie.

Want die wat nie regtig vergéwing van sy sondes by Christus kom soek nie, omdat hy nouliks besef wat sy sondes is, eet en drink homself 'n oordeel aan die Nagmaal.

In die Roomse misleer is dit nie moontlik om jouself 'n oordeel te eet en te drink nie. Elkeen wat die Mis saamvier, ontvang die versoening oor sy sondes. Daaroor is in die jare van die Reformasie 'n hele stryd gevoer tussen Roomse en Gereformeerde teoloë; of naamlik ook die onwaardiges aan Christus se offer deelkry. U vind die spore van daardie stryd nog terug in art. 35 van die NGB waar die voorbeelde genoem word waaroor veral gestry is: Judas, die verraaier (wat nog wel by die instelling van die Nagmaal aanwesig was) en Simon die towenaar (u onthou: daardie man uit Samaria wat aanvanklik wel 'n kerklidmaat geword het en dus ook die Nagmaal saamgevier het, maar later deur Petrus en Johannes as 'n huigelaar ontmasker is).

Vir Roomse teoloë was dit onmiskenbaar dat ook Judas die verraaier en Simon de towenaar die weldade van Christus ontvang het. Hulle het mos ook die brood en wyn ontvang!

Maar die Skrif maak dit vir ons baie duidelik, broeders en susters, dat elkeen wat nie in geloof met ontsag en eerbied die tekens van Christus se offer aanneem nie, homself besondig aan daardie brood en wyn en die toorn van God oor sy lewe nog groter maak.

Het ons dit nie in Hebr. 10 gelees nie: "As ons opsetlik sondig -en dit is nie dieselfde as: somtyds uit swakheid in sonde val nie, maar: in die sonde bly lewe sonder om daarvan 'n afkeer te hê- nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie". Want "wie die Seun van God vertrap, en die bloed van die nuwe verbond waardeur hy geheilig was, onrein geag en gesmaad het, hou nog slegs die verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat hul sal verteer oor".

Die wat feitlik onverskillig bly teenoor Christus se offer vir ons sondes, kan en mag die Nagmaal dan ook nie meer saamvier nie.

Daar is huigelaars in die kerk. Mense wat toneelspeel en hulle wel as opregte gelowiges voordoen. God sal hulle oordeel.

Maar daar is ook mense wat in woorde en dade duidelik wys dat hulle die waarde van Christus se offer nie regtig raaksien nie. Terwyl hulle nogtans doodluiters Nagmaal toe bly kom.

Hulle is presies die teenoorgestelde van die broeders en susters wat wat vanweë die gevoel van hul skuld by God nie nagmaal toe durf kom nie.

Waar so'n onverskilligheid aan die lig gekom het, moet ook die kerk optree. Dan moet die gemeente deur die diens van die ouderlinge sulke lidmate die toegang tot die nagmaaltafel verbied. En so oor die heiligheid van Christus se tafel waak.

Dié tugmaatreël wil die sondaar na Christus se offer terugroep.

En wil tegelyk die gemeente by daardie offer bewaar. Want 'n gemeente wat dié mense wat in leer en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is, aan die Nagmaal bly toelaat, raak self ook toenemend onverskillig teenoor Christus se offer en wek God se toorn oor die hele gemeente op.

Iemand afhou van die nagmaalstafel is vir die kerkraad een van die moeilikste besluite wat geneem moet word, gemeente. Maar dit moét partymaal gedoen word. Want soos die Mis in wese 'n vervloekte afgodery is, soos is die Nagmaalsviering van 'n lidmaat want nie regtig 'n afkeer van sy sonde het nie, ewe goed afgodery.

Die kerk moet dan met duidelike tugmaatreëls wys dat hy dit nie kan verdra nie. Omdat God dit nie kan verdra nie.

Omdat God vir die versoening van ons sondes die hoogste prys wou betaal: die offer van sy Seun.

En omdat die Nagmaal die viering van die wonder van daardie offer moet bly.

AMEN.

(Pretoria, 10 Junie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)