Die viering van die nagmaal vorm die hoogtepunt in ons verbond met God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 30b HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 5: 4, 5, 6, 10, 11
Gebed
L. 1 Korint 10: 16-22 & 11: 23-31
Ps. 15: 1, 2
Prediking
Ps. 139: 1, 2, 12
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
SB. 44: 2, 3, 4
Seën.

Broeders en susters,

Ons Nagmaalstafel is 'n feestafel.

Ons dink daar weliswaar terug aan 'n vreeslike sterwe.

Maar ons vier dat ons as gevolg van daardie sterwe mag léwe!

Ja, ons beleef aan die Nagmaalstafel die lewende band aan Hom wat eens vir ons wou sterwe: Christus. Hy wat op Golgota gesterf het, lééf vandag; en ons mag saam met Hom lewe. Ons mag met Hom saamleef: ons beleef aan die Nagmaalstafel die gemeenskap (dieselfde woord as wat ons vir die intieme huweliksverkeer van man en vrou gebruik!) met ons Here en Heiland.

Ons gereelde Nagmaalsvierings vorm die hoogtepunte in ons liefdesverkeer met Christus.

Dis dié dat ons hele lewe in die kerk hom afspeel rond die Nagmaalstafel.

Dalk was u nog nooit so bewus daarvan nie, maar die viering van die Nagmaal vorm as 't ware die spil waaromheen ons lewe in die kerk hom beweeg.

Die opvoeding van ons kinders is van kleinsaf daarop gemik dat hulle eendag ook hul plek aan Christus se tafel sal inneem. Ouers, die onderwysers in die skool, die dominee in die Katkisasieklas, die leier van die jeugvereniging werk saam daaraan dat ons gedoopte kinders eendag in die openbaar hul geloof in God en Christus sal bely en die toegang tot die Nagmaalstafel sal verkry.

Maar dié wat as belydende lidmate eenkeer aan die nagmaal toegelaat is, moet ook vir die res van hul lewe gehelp word om waardige tafelgenote van Christus te bly. Daarom het ons as Gereformeerde Kerke van ouds in ons Kerkorde die huisbesoek deur die ouderlinge gereël. Oorspronklik was die huisbesoek selfs direk aan die viering van die Nagmaal gekoppel: "sowel voor as na die Nagmaal" moes die ouderlinge alle lidmate besoek!

Ons hou ook elke keer voor die nagmaalsviering 'n voorbereidingsdiens met 'n voorbereidingspredikasie.

En as daar ongeloof by 'n lidmaat opgemerk word, as iemand hardnekkig vashou aan 'n sonde en na vermaan nie wil luister nie, word so 'n lidmaat al gou van die Nagmaal afgehou.

U sien dus: die Nagmaal vorm die middelpunt van ons christelike lewe. Omdat dit die hoogtepunt is van ons lewe met Christus.

Maar dit wat 'n hoogtepunt is, moet ook 'n hoogtepunt bly. As die nagmaalsviering in die greep van sleur, bygeloof of ongeloof tereg sou kom, sou die hartaar van ons lewe as Christus se gemeente daarmee aangetas word. Dit sou dodelik wees vir ons lewe met ons Here!

Daarom gaan ons vanaand nogmaals spesiaal stilstaan by die betekenis van ons gereelde Nagmaalsviering en dié keer sal ek aan die hand van die tweede helfte van Sondag 30 van ons Kategismus vir u aanwys hoé ons die Nagmaal as 'n hoogtepunt kan en moet hooghou.

Kom ek van my boodskap so saam:

DIE VIERING VAN DIE NAGMAAL VORM DIE HOOGTEPUNT IN ONS VERBOND MET GOD

  1. ONS MOET DOOPLIDMATE DAARHEEN LEI
  2. BELYDENDE LIDMATE MOET HULLE TELKENS WEER DAAROP VOORBEREI
  3. ONGELOWIGE LIDMATE MAG DIT NIE ONTWY

1. Indien die Nagmaal so 'n hoogtepunt is in die verbond wat God met ons gesluit het, hoekom onthou ons dan aan ons kinders bewus hierdie hoogtepunt? Hoekom mag kinders nie die Nagmaal saamvier nie?

Ons laat hulle mos ook doop? !

Ons het 'n paar weke gelede, by Sondag 27 van die Kategismus, vasgestel dat kleine kindertjies wel gedoop moet word.

Want klein kinders behoort net so goed soos die volwassenes tot die verbond van God en sy gemeente. God kies nie net groot mense nie.

Hy kies ook hulle kinders tot sy kinders. En dus wil Hy hê dit moet direk deur die teken van die verbond sigbaar gemaak en onderstreep word.

Maar as dus ons kinders al vanaf die moederskoot ook tot God se verbond behoort en aan Christus mag deelhê, hoekom weer ons hulle dan van die tweede sakrament wat Christus ingestel het om sy verbond met ons te onderstreep: die Nagmaalstafel? Waarom mag ons kinders daardie hoogtepunt in die verbond nie volop meebeleef nie?

U weet waarskynlik dat hierdie vraag deesdae al hoe luider klink in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Daar was in die onlangse Sinode Suid-Transvaal selfs al 'n voorstel om die deelname van kinders aan die Nagmaal moontlik te maak. Dit is gelukkig met slegs 'n geringe stemverskil afgewys maar sal beslis in die Algemene Sinode volgende jaar weer aan die orde gestel word. Beeld het hierdie saak nog 'n bietjie ekstra aangeblaas deur 'n groot foto op te neem van 'n leraar met 'n seuntjie wat saam die Nagmaalsbeker vashou.

Dit is trouens baie snaaks dat in dieselfde NG Kerk terselfdertyd al hoe meer stemme opgaan teen die kinderdóóp. In die rubriek "Briewe" en ook in ander artikels 'n hele debat daaroor gevoer wat steeds nie afgerond is nie.

Dis nou presies die omgekeerde as by ons: hulle sê: kinders hoef nie gedoop te word nie, grootdoop is dalk beter.

Maar ook: kinders moet wel saam met die gemeente die Nagmaal vier.

Terwyl ons sê: nee, kinders moet wél gedoop word. Maar ons moet hulle nog nie die Nagmaal laat saamvier nie.

Hoe werk dit nou? !

Hierdie skynbare teenstrydigheid verdwyn heeltemal, broeders en susters, as ons 'n oog bly hou vir die eienaardie karakter van God se verbond met ons.

Ons moenie uit die oog verloor dat die HERE in die verbond 'n pad saam met ons loop waarop Hy geleiedelik verder met ons kom. Die weg bestaan nie direk uit hoogtepunte nie, maar lei ons algaande na die hoogtepunt toe.

Aan die begin van die pad, by ons geboorte, is ons nog heeltemal passief. Alle aktiwiteit kom nog alleen van God se kant af: Hy het ons in sy genade gekies om sy kind te wees. Hy gee ons aan gelowige ouers wat hul kind van kleinsaf by sy verbondsbeloftes sal grootmaak. Hy gebruik hul christelike en godvresende opvoeding om ons deur sy Heilige Gees te regeer.

Daarom wil Hy hê moet die die kind ook so gou as moontlik gedoop word. Die doop onderstreep mos sy werk, sy verkiesing en genade oor hierdie kind. Die kind hoef self nog niks te doen nie. Dit word gedoop: passief. Die kind kán self ook nog niks doen nie. Dit is daarvoor nog te klein.

God begin sy verbond met ons dus heeltemaal eensydig: net deur sy inisiatief.

Maar die verbond wat eensydig ontstaan het, moet wel toenemend tweesydig begin bestaan, sê ons dan in die katkisasieklas.

Met ander woorde: die HERE wil op die pad wat Hy deur sy genadige inisiatief met ons by ons geboorte begin loop het, wél verder kom.

Hy het ons uit die staanspoor sy liefde bewys. Maar in 'n egte verbond kan die liefde mos nie altyd van een kant bly kom nie. Namate ons ouer word en in allerlei opsigte selfstandig, aktief begin raak, verwag die HERE ook 'n toenemende aktiwiteit teenoor Hóm. Sy liefde moet beantwoord word. Die liefde moet van twee kante beleef word en tot 'n volledige gemeenskap in die verbond uitgroei.

En eers dan het die tyd vir die Nagmaalsviering aangebreek.

Dáár lê mos die verskil tussen die Doop en die Nagmaal: die doop kan 'n mens nog heeltemal passief ondergaan; maar by die Nagmaal word daar een en al aktiwiteit van jou gevra: jy gaan na die tafel van die HERE, jy neem die brood en die beker, jy eet en drink, jy moet gedenk en glo, en so die dood van die Here verkondig... Alles aktiewe werkwoorde.

In die Nagmaalsgemeenskap het die Here groot vorderinge gemaak, gemeente.

Sy liefdesaanbod by die Doop het al hoe meer in die hart deurgedring en word nou in die openbaar met wederliefde beantwoord.

Daarvoor is egter tyd nodig. Om sover te kom, moet 'n kind eers groei, 'n ontwikkeling deurmaak. Hy moet die HERE, en sy beloftes, geleidelik leer ken, hy moet homself al hoe beter leer ken teenoor die HERE....

Hy moet sover kom dat hy homself kan beproef.

U weet, daardie woord gebruik die apostel Paulus in die gedeelte wat ons saam uit sy brief aan die gemeente te Korinthe gelees het. En ook ons Nagmaalsformulier gebruik dié woord.

Die Nagmaalsformulier vertel ook wat so 'n selfbeproewing of selfondersoek behels: "Ten eerste moet 'n kind van die HERE nadink oor sy sondes en vervloeking en besef dat hy God se toorn verdien. Ja, hy moet sover kom dat hy vanweë die sonde 'n afkeer kry van homself.
Ten tweede moet 'n kind van die HERE homself ondersoek of hy die vaste belofte van God glo dat al sy sondes hom alleen op grond van die lyding en dood van Jesus Christus vergewe is.
Ten derde eis die selfbeproewing van 'n kind van God dat hy homself sal ondersoek of hy van voorneme is om van nou af met sy hele lewe uit ware dankbaarheid God te dien en opreg voor Hom te wandel; of hy alle vyandsakp, haat en nyd wil laat vaar en voortaan in ware liefde en vrede met sy naaste wil lewe. "

Dit is basies dieselfde as wat hier in Sondag 30 in antw 81 van die Kategismus genoem word.

Eers as 'n mens so met homself kan besigwees, kan hy ook die Nagmaal vier.

Maar dit kan ons van 'n kind nog nie alles vra nie.

'n Kind moet hierin eers geduldig opgevoed word. Hy moet stap vir stap begelei en verder gehelp word op die die pad waarop die HERE hom by sy geboorte geplaas het.

Deur Pa en Ma by die huis, in hul gesprekke, hul voorlees uit die Bybel, as hulle hul kind leer hoe om te bid....

Deur die onderwysers by die skool, deur hul Bybelonderrig, maar ook deur die wyse waarop hulle in al die ander vakke die HERE en sy werk konkreet aanwys....

Deur die Sondagse preke as die kind oud genoeg geword het om saam te gaan kerk toe.

En dan ook deur die dominee in die katkisasieklas.

Veral ook daar word baie konkreet daaraan gewerk dat gedoopte kerkkinders voortgehelp word op die pad na die Nagmaalsviering.

Die leerboekie, die Heidelbergse Kategismus, is mos eintlik maar net 'n hulpmiddel wat jou wil leer om jouself te beproef met die oog op die Nagmaal.

Moet maar kyk: die drie hoofstukke van die Kategismus is dieselfde as die drie onderdele wat sowel in ons Nagmaalsformulier as hier in antw 81 genoem word i. v. m. die selfbeproewing. Immers, waaroor gaan dit in die Kategismus?

"Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is.
Ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos word.
Ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees. "

Al die katkisasiejare vorm die voorbereiding op die Nagmaalsviering wat moet kom.

Moeilike vrae soos: wat is sonde presies? Waarvandaan kom die sonde? Watter straf het God op die sonde bepaal? Wie is Christus? Waarom moes Hy God én mens terselfdertyd wees? Hoé moes Hy ons van die sonde verlos en waarom alleen so? Hoe kry ek deel aan Hom? word geduldig en by herhaling bespreek.

Juis in die moeilike jare wat elke kind moet deurmaak, die puberteitsjare, waarin jy selfstandig begin nadink, maar waarin daar ook soveel vrae en twyfels jou bestorm, veral vrae en twyfels oor die HERE, oor die waarheid van die Bybel, oor die sinvolheid of sinloosheid van die lewe, oor die toekoms van hierdie wêreld - juis in dié jare is daar elke week die hand van die predikant wat God se kinders vashou of weer vasgryp en verder neem op die pad met die HERE.

Maar dan moét hierdie begeleiding ook eendag uitmond in die Nagmaalsviering.

As jongmense geleidelik die leeftyd bereik waarop hulle 'n selfstandige lewe begin lei: hulle verlaat die Hoërskool, kies 'n studierigting of begin werk, hulle gaan in 'n eie woonstelletjie bly, hulle open hulle eie bankrekening, hulle begin 'n verhouding... dan verwag die HERE dat hulle nou ook m. b. t. Hom 'n selfstandige keuse maak. As hulle in alle opsigte aktiewe mense word, kan hulle in die verbond met Hom nie passief bly nie. Nou het die tyd aangebreek om sy keuse vir jou ook met vir keuse vir Hom te beantwoord en dit te wys aan sy tafel.

Nou moet dit duidelik word of sy liefde jou hart geraak en wederliefde gewek het.

2. So moet ons ons kinders eers geduldig na die hoogtepunt in die verbond van God heenlei, gemeente.

Daardie hoogtepunt, die eerste Nagmaalsviering na 'n jarelange voorbereiding, is egter nie terselfdertyd ook die eindpunt nie.

Voortaan moet dit nou van die een hoogtepunt na die volgende een gaan.

Voortaan moet die lewe hom beweeg van die een Nagmaal na die ander.

Daar mag nie 'n stilstand kom na die ontwikkeling wat van die Doop na die Nagmaal heengelei het nie.

Want stilstand word onvermydelik agteruitgang.

Daarom word ook belydende lidmate nog telkens opgeroep om hulleself op die volgende Nagmaal voor te berei en hulleself opnuut te beproef.

Die les van die katkisasies mag nooit meer verleer word nie.

Wat ons jong geleer het, daarmee moet ons tot op ons ou dag besig bly.

Ons bereik nooit 'n stadium waarop ons klaar gedink het oor ons ellende as gevolg van die sonde, ons verlossing deur Christus en ons lewe uit dankbaarheid nie.

Inteendeel elke nuwe Nagmaalsviering, sal ons des te meer laat worstel met die aangrypende wete dat ons nie kan lewe met God nie, en dat ons nogtans mag lewe met God, ja, dat ons ook weer wil lewe met God.

Elke Nagmaalsviering plaas ons mos die gekruisigde Christus voor oë. En wie Hom sien, die Man van smarte, moét ook wel weer indringend na homself kyk. Dit was mos óns siektes, óns sondes, óns smarte wat Hy moes dra. Ter wille van ons oortredinge is Hy aan die kruis deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel. Die HERE het die ongeregtighede van ons almal op Hom laat neerkom.

So groot was God se toorn oor ons sonde dat Hy, eerder as om dit ongestraf te laat bly, sy geliefde Seun daarvoor gestraf het met die bitter en smadelike dood aan die kruis.

Dít word ons gedwing om elke keer weer te besef.

Ons soek by die selfbeproewing nie naarstig of daar dalk ook flaters en tekortkominkies was nie. Maar ons besef dat ons nie minder nie as die ewige toorn van God verdien het. Ons verdien dit om vervloek te wees. Soos Christus vir ons aan die vloekhout gehang het.

En ons voel diep en diep skuldig.

Maar dan kom ons terselfdertyd ook weer voor die vraag te staan of ons God se vaste beloftes glo dat al ons skuld danksy Christus se dood vergewe is en steeds weer vergewe sal word.

Nee, die vraag is nie of ons geloof wel vas en sterk genoeg is nie. Die vraag is slegs of ons wel genoeg het aan God se vas en sterk beloftes.

Gee ek my daaraan heeltemal oor? Of meen ek tog elke keer weer dat ek ook sélf iets moet doen om vir die HERE weer aanvaarbaar te wees?

Is dit miskien selfs so dat ek nogal met myself ingenome is en met my lewe wat immers gunstig afsteek by baie ander mense se lewens!

Elke nuwe Nagmaalsviering dwing my om myself eerlik die vraag af te vra. Soek ek die lewe buiten myself, in Christus? Of vertrou ek tog ook graag op allerlei dinge in myself, buiten Christus?

Of ons op derglike vrae 'n eerlike antwoord -en die regte antwoord!- gee kan elkeen by homself sommer nagaan, broeders en susters. Want dan wil ons tog ook g'n dag langer in die sonde lewe nie? Dan begeer ons maar een ding: om daagliks te groei (ons Jaartema!) in 'n dankbare lewe voor God se aangesig en in 'n liefdevolle en versoende verhouding ook tot ons medemense. Dit is die proef op die som.

So voortdurend met onsself besig wees- dit is die selfbeproewing wat noodsaaklik is om te voorkom dat ons lewe met Christus, wat aan die Nagmaalstafel sy hoogtepunt vind, in 'n groef geraak.

Hierdie selfondersoek laat 'n mens dus nie worstel met die vraag, soos dikwels gedink is: "Mág ek wel Nagmaal toe gaan? Is ek wel goed genoeg? Is God se beloftes ook vir my bestem? " nie.

Christus roép ons mos na die Nagmaalstafel: "Doén dit tot my gedagtenis!" En sy beloftes is vas en seker.

Met 'n derglike "selfbeproewing" beproef ons God!

Maar die regte selfbeproewing dwing 'n mens om jouself eerlik af te vra: "Ek moet na die Nagmaal toe- maar kán ek wel Nagmaal toe gaan? Voel ek my wel sleg genoeg? Wíl ek wel van God se beloftes alleen lewe? "

Daaroor kom u ouderlinge tenminste een keer per jaar met u praat. Hoe leef u met Christus? Hoe leef u van die een Nagmaal na die ander? Ken u u eie sondes so goed dat u regtig 'n afkeer van uself het? Ken u die swaarte van God se toorn? Maar ook: ken u Christus as die Redder van ook u lewe? En: dwing sy liefde u tot 'n nuwe lewe met God en u naaste?

Is daar 'n geestelike groei by u: begeer u om hoe langer hoe meer u geloof te versterk en u lewe te verbeter?

Ook die gereelde voorbereidingspreke op die Sondag voor die Nagmaal bied u hulp by u selfbeproewing.

Maar eintlik alle preke vorm 'n hulpmiddel om die Nagmaal elke keer weer as 'n hoogtepunt te ervaar.

Met name ook die vaste Kategismusprediking elke Sondag waarin mos die 3 hoofonderdele van die selfbeproewing uiteengesit en bespreek word: hoe groot my sonde en ellende is; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word; en hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees.

Die Kategismusprediking maak egter tegelyk ook duidelik dat ons ons selfbeproewing nie tot slegs die week voor die Nagmaalsondag kan beperk nie. Hierdie selfondersoek vra God élke dag van u en my. Want ons het dit nie net vir die driemaandelikse Nagmaalsviering nodig nie, maar ook om elke dag getroos te kan lewe en op God se tyd getroos te kan sterwe. Dit is mos wat die Heidelbergse Kategismus al direk in Sondag 1 aan sy katkisante duidelik maak: wat die Nagmaal ons van tyd tot tyd as 'n hoogtepunt laat vier, daarvan moet ons elke dag leef!

En wie nie elke dag daarvan leef nie, kan ook die Nagmaal nie vier nie.

3. Dit is die laaste ding waarop ek vanaand nog kortliks moet wys. Lidmate wat met hul belydenis en daaglikse lewe wys dat hulle in feite ongelowig en goddeloos is, mag die Nagmaal nie ontwy nie.

Enigiemand kan nie sommer aan die Here se tafel gaan sit nie. Want dan sou die Nagmaal al gou nie meer 'n hoogtepunt in die gemeenskap met Christus wees nie.

Die Nagmaal sou tot 'n dieptepunt in God se verbond met ons word en ons sou onsself God se verskriklike toorn op die hals haal.

Daarom moet ons as gemeente almal saam daarop toesien wie na die Nagmaalstafel van die Here toe kom.

Die kerk ken geen Oop Nagmaalstafel nie. Dis nie elkeen se eie verantwoordelikheid of hy wil Nagmaal vier nie.

Dis ons almal se verantwoordelikheid. Ons almal waak daaroor dat slegs die egte gelowiges brood en beker sal gebruik.

Dit begin al by die Openbare Geloofsbelydenis.

Die vrae wat dan gevra word, is sê-maar die toelatingseksamen tot die Nagmaalsviering.

Die gemeente ondersoek eers deur middel van die kerkraad, en stel daarna tydens 'n erediens vas of die gedoopte seuns en dogters so ver gevorder het op die HERE se verbondsweg dat hulle voortaan die Nagmaal kán saamvier.

Dit is nie 'n oorbodige formaliteit, of nie meer as 'n ou tradisie nie. So word daarop toegesien dat Christus se tafel nie ontwy word nie.

En daarby kyk kerkraad en gemeente nie net of die katkisante hul lessie goed geleer het nie. Hulle kyk of die les van die katkisasie hul lewe geraak en verander het.

Belydende broeders en susters uit 'n ander gemeente word nie eers sommer aan ons Nagmaalstafel toegelaat nie. Hulle sal 'n getuienis van hul eie kerkraad moet wys dat daar geen beswaar is dat hulle die Nagmaal saamvier nie. Dit kan mos wees dat iemand in sy eie gemeente van die Nagmaal afgehou moes word?

Want enige tyd kan iemand wat eers tot die Nagmaalsviering toegelaat was, weer daarvan afgehou word. So gou hy naamlik in sy lewe weer 'n vastrapplek aan die sonde gun en na waarskuwing en vermaan nie meer wil luister nie.

Dan moét die gemeente hom die toegang tot die tafel weier.

Daar kan natuurlik ook huigelaars in die kerk wees wat skynheilig die Nagmaal saamvier. Daaraan kan die gemeente niks doen nie.

Gód sal hulle hul skynheiligheid vergelde. Hulle eet en drink 'n oordeel oor hulleself.

Maar as die gemeente ook dié wat sigbaar en hoorbaar in die sonde lewe, nie sou weier nie, sou die hele gemeente 'n oordeel oor homself eet en drink!

Juis in die tug oor verharde sondaars moet die kerk wys wat die Nagmaal vir hom beteken: die hoogtepunt in ons lewe met God en Christus. Die viering van die wonder van ons verlossing.

Afhouding van 'n broeder of suster veroorsaak 'n intense verdriet.

Maar liewer die verdriet as 'n Nagmaalstafel wat nie meer 'n feestafel is nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)