Wat is God se bedoeling met die doopwater?

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 27 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 105: 2, 3
Geloofsbelydenis
Ps. 105: 1
L. Artikel 34 NGB
Doopsformulier
Ps. 105: 5
Gebed
Kollekte
SB. 24: 1, 2, 6
Prediking
SB. 15: 1, 2
Gebed
Ps. 78: 3, 4
Seën

Het ons nie in hierdie diens 'n groot fout begaan nie, broeders en susters? Het ons nie iets gedoen wat die Here ons glad nie opgedra het nie?

Mog ons wel vir Marijke Roos, so'n klein babatjie nog, die doop laat kry het?

Dis dalk 'n goeie ding dat ons onsself 'n slag dié vraag afvra.

Want as ons nie onsself dié vraag vra nie, is daar wel ander mense wat dit doen. Mense wat uit oortuiging die doop van klein kindertjies verwerp. Hulle glo dat die doop vir grootmense wat met hul hele hart vir God gekies het, bedoel is.

U weet: daar is baie van sulke mense in ons land. U ontmoet hulle by u werk, ons kinders praat met hulle in die Hoërskool......

En hierdie mense kan met so'n oortuiging hul standpunt verdedig, met 'n indrukwekkende beroep op allerhande gedeeltes in die Bybel, dat hulle 'n mens sommer van stryk kan bring.

Ons susterkerk te Kaapstad is nog onlangs opgeskrik toe 'n meelewende egpaar skielik besluit het om hulle te onttrek aan die Vrye Gereformeerde Kerk en om hulle te laat herdoop by 'n sekte wat die grootdoop voorstaan. En dalk het u in die mededelingsblad van ons susterkerk te Johannesburg gelees dat ook daar 'n jonge broeder hom onttrek het omdat hy in die ban van 'n soortgelyke sekte gekom het.

Trouens, ook in ons eie gemeente was daar in die afgelope jare 'n aantal jongmense wat hulle opnuut laat doop en by 'n sekte aangesluit het.

Weet u nog waarom ook ons klein kindertjies "behoort gedoop te wees", soos ons Doopsformulier sê?

Het u nog 'n weerwoord teen die voortdurende aanvalle op die kinderdoop, broeders en susters, julle jongmense? Is u nog in staat om hul skynbaar oortuigende beroep op die Skrif te weerlê?

Of maak die sterk propaganda vir die grootdoop ook u dalk onseker en twyfel u partymaal aan u eie doop?

'n Mens kan hierdie kwessie nie met een of twee Bybeltekste beslis nie. Die voorstanders van die grootdoop wys wel op voorbeelde van mense wat eers as volwassenes die doop ontvang het, maar in dié voorbeelde betref dit telkens mense wat ook eers as volwassenes met die Evangelie van God in aanraking gekom het. En daar staan nie 'n teks in die Bybel wat dit verbied om kinders te doop nie.

Aan die ander kant kan ons as voorstanders van die kinderdoop nie een bepaalde teks aanwys waarin die HERE beveel om ook kinders te doop nie.

Met die beroep op een of twee tekste gaan ons mekaar dus nooit oortuig nie.

Eers as ons God se bedoeling met die doopwater reg leer verstaan het, word dit duidelik of die Here die doop ook vir klein kindertjies bedoel het, of net vir grootmense.

Daarom wil ek vanaand saam met u oor die vraag weer 'n keer nadink: wat is God se bedoeling met die doopwater?

Ons sal ons daarby noodgedwonge ook moet besighou met 'n aantal verkeerde opvattings m. b. t. die doop. Konfrontasie met verkeerde gedagtes kan 'n mens naamlik help om die regte betekenis van die doop des te beter te kan raaksien.

'n Mens kan sê, gemeente, dat die verdediging van slegs 'n grootdoop ontstaan het as 'n reaksie op die Roomse nooddoop.

Die eerste groot propagandiste vir die grootdoop was naamlik die sogenaamde "Wederdopers" of "Anabaptiste" in die 16de eeu wat saam met die Gereformeerdes weggebreek het uit die Roomse Kerk. Ons praat nou dus van die tyd waarin ook ons Heidelbergse Kategismus ontstaan het, en ons Nederlandse Geloofsbelydenis.

U weet wat die Roomses van die doop gemaak het? Dit het bykans 'n wondermedisyn geword: so gou as wat die water op 'n baba se koppie gekom het, het daardie kind se erfsonde verdwyn en het dit die reg op die hemel ontvang. Die doopwater self het so'n goddelike krag, dat dit 'n mens wat in sonde ontvang en gebore was, in een keer vry van skuld voor God plaas. Daarom word die doop ook die mees noodsaaklike sakrament genoem. Daarsonder kan g'n mens die saligheid beërwe nie.

Maar daarom moet natuurlik ook alle babas so gou as moontlik gedoop word. Want sê-nou 'n kind sou ongedoop sterwe. Dit sou vir ewig verlore wees!

In geval van nood, as die kind tydens of direk na die geboorte in lewensgevaar sou verkeer, moet maar die pa of die dokter gou-gou doop. Beter so'n nooddoop as glad nie gedoop nie.

U kan verstaan dat sulke opvattings m. b. t. die doop 'n mens heeltemal laat vertrou op daardie bietjie water wat hy eens op sy kop gekry het. Jy glo nie eintlik meer in die Here Jesus Christus as jou Redder nie maar jy glo aan jou doop. As jy daardie noodsaaklike sakrament ontvang het, kan daar dus eintlik nie meer so veel verkeerd gaan nie. Want die wondermedisyn doen nou sy werk wel, tensy jy deur die doen van 'n doodsonde die krag van die doopmedisyn breek.

Teenoor hierdie snaakse doopsopvatting het toe die Wederdopers, net soos die Gereformeerdes, alle nadruk daarop gelê dat 'n mens slegs deur die geloof in Jesus Christus gered word. Nie die water by die doop red jou van God se toorn nie, maar die geloof in Christus se offer op Golgota.

Maar toe het die Wederdopers na die ander uiterste deurgeswaai en geleer dat 'n mens ook eers reg het op die doop as jy tot geloof in Christus se versoenende offer gekom het. By die Roomses het die doop die geloof bykans oorbodig gemaak, by die Wederdopers het daarteenoor die geloof juis die noodsaaklike voorwaarde geword om gedoop te kan word.

En klein kindertjies kan nog nie glo nie, dus moet ons hulle ook nog nie doop nie. Ons moet wag tot hulle eendag hulle geloof publiek bely. Eers dan kan ook hulle in die gemeente van Christus ingelyf word.

Tussen hierdie twee uiterstes: nooddoop of grootdoop, het in die eerste helfte van hierdie eeu nog 'n ander siening op die doop ontstaan wat 'n tyd lank 'n groot invloed gehad het op verskeie Gereformeerde Kerke orals in die wêreld, ook hier in Suid-Afrika. Ek bedoel nou die doopsleer van die Nederlandse teoloog Dr Abraham Kuyper.

Kuyper het duidelik die invloed van die Doperse denke ondergaan. Ook hy het geglo en geleer dat die reeds aanwesige geloof die voorwaarde is om gedoop te kan word. Daar moet geloof in 'n mens wees, anders is die doop maar net 'n vermorsing van water.

Dit sou dus voor die hand liggend gewees het, as Kuyper ook vir die grootdoop sou gekies het. Kan daar in klein kinders mos al sprake wees van geloof?

Nogtans het Kuyper oortuig aan die kinderdoop bly vashou.

Want terwyl die Wederdopers gedink het dat dit 'n mens se eie vrye wil is om te glo of nie te glo nie, het Kuyper die gedagte van 'n eie vrye wil by die mens hartgrondig verwerp en God se verkiesing in ons lewe bly eerbiedig. Geloof is nie 'n ding wat 'n mens na verloop van tyd self kan ontwikkel nie. God géé dit aan wie Hy wil. Hy gee dit aan wie Hy tot sy kind gekies en aangeneem het.

Kuyper het geglo dat die Here in sy uitverkose mensekinders al in die moederskoot 'n kiem van geloof, 'n steggie wat tot 'n blom van geloof sal uitgroei, geplant het. Dit is by die geboorte reeds in 'n mens aanwesig en dan sal dit ook al hoe meer sigbaar word. By die wat nie uitverkies is, is dit nie aanwesig nie, en sal dit ook nooit in hom kom nie.

Dis dié dat Kuyper toe wel aan die kinderdoop bly vashou het, maar tegelyk geleer het dat daar twee soorte kinderdoop is: 'n egte een en 'n onegte. As daar reeds die geloofsteggie in die kind aanwesig is, is die doop 'n egte doop; as 't ware die noodsaaklike water waardeur die steggie tot 'n plant kan uitgroei. Maar as God niks in die kind gelê het nie, is die doop ook nie 'n egte doop nie. Dis soos water in 'n blompot sonder blom.

Ons kan by klein kindertjies ongelukkig nie al vasstel of God hierdie kind tot sy kind gekies en aangeneem het nie. Maar ons moét kinders doop. Daarom doop ons vereers maar elke baba, in die veronderstelling dat God hom aangeneem het. En dan kom ons vanself agter of ons ons misgis het.

As ons die drie verskillende benaderings van die doop, soos ek dit nou taamlik uitvoerig weergegee het, met mekaar vergelyk, broeders en susters, blyk daar by alle verskille en selfs teenoorgestelde gedagtes, darem een ding te wees waarin hulle ooreenkom: in al hierdie gevalle word 'n mens op 'n manier geleer om die sekerheid oor jou saligheid in jouself te soek.

Immers: die Roomse Kerk leer: as jy gedoop is, het jy die vergewing van jou sondes soos 'n medisyn in jou opgeneem. Jy hét dit nou! Dit maak van jou 'n weergebore mens.

Die Wederdopers leer: as jy as volwassene toegelaat word om gedoop te word, beteken dit dat die saligmakende geloof in jou gegroei het. Jy hét dit nou! Jy is voortaan 'n weergebore mens.

En Abraham Kuyper het geleer: as jy die egte doop gekry het, is jy dus 'n egte kind van God. Dan is al voor jou geboorte die plant van die saligmakende geloof in jou geplant. Jy hét dit nou! Jy behoort tot die wat danksy God se verkiesing uit die staanspoor weergebore is.

In aldrie die gevalle kan 'n mens dus staatmaak op iets wat in elk geval vanaf die doop in hom aanwesig is.

Dit kan 'n mens sommer selfversekerd maak. Dit kan 'n valse rus 'n jou lewe bring. Dit kan jou hoogmoedig maak en jou verhewe laat voel bo mense wat nog nie sover soos jy is nie.

Ons het dit in die kerkgeskiedenis ook sien gebeur: in die Roomse Kerk het talle mense so staatgemaak op die feit dat hulle gedoop is, en ook die ander noodsaaklike sakramente van hulle kerk ontvang het, dat hulle in hul lewe nie meer met erns hul God en Saligmaker gesoek en gedien het nie. Hulle het nie eintlik meer geluister na en geleef by God se Wóórd nie, maar vertrou op 'n klompie uiterlike verrigtinge van hulle kerk.

Maar ook by die Wederdopers wat teenoor die Roomse outomatisme die noodsaak van 'n lewende gelóóf so benadruk het, het daar al gou 'n valse gerustheid en selfversekerdheid en 'n gevoel van verhewenheid bo die meeste ander mense gekom: hulle was as gedooptes mos die ware gelowiges! Die ander mense met hulle kinderdoop was nie die egte volk van God nie. Nee, hulle was die egte weergebore mense in wie die Heilige Gees in volheid kom woon het. Hulle het in hulle hoogmoed selfs so ver gegaan dat hulle geglo het dat die Heilige Gees nou regstreeks, sonder die Bybel, God se boodskappe aan hulle deurgegee het.

En moet maar mooi kyk, gemeente: 'n dergelike houding loop ons vandag steeds by die meeste sektes raak wat die grootdoop so vurig verdedig. Hulle is die egte Christene, hulle is regtig met die Heilige Gees gedoop, hulle kan nou in engeletale praat, ontvang regstreekse insprake van God, beskik oor wonderlike gawes.....

Abraham Kuyper se teorieë m. b. t. die doop het ook so'n selfingenomenheid veroorsaak. As jy tot die uitverkorenes behoort en dus met die egte doop gedoop is, kan daar mos nie eintlik meer baie skeefloop in jou lewe nie.

Maar dit is net die een kant van die medalje. Want as 'n mens die sekerheid oor jou saligheid in jouself moet soek, sal almal wat opreg die HERE en sy genade soek, juis baie onseker en vol twyfel raak.

Want wanneer mag jy volkome seker wees daarvan dat God jou regtig aangeneem en al jou sondes vergewe het?

By die Roomses lyk dit nie so'n probleem te wees nie. Die doop het mos jou sondeskuld klaar weggewas en God se genade oor jou lewe uitgegiet? Ja, dit mag so wees, maar daar bly aanhoudend die gevaar dat jy 'n doodsonde doen en daarmee die krag van die doop verbreek. Dan moet jy eers weer pastoor toe gaan en bieg en die genade van God terugverdien. Maar is jy altyd bewus daarvan as jy 'n doodsonde doen...? En as jy nou nie meer die kans kry om te bieg nie, omdat jy skielik in 'n padongeluk dood is.....

By die mense van die grootdoop kan daar eweneens sommer groot twyfel ontstaan. Want die doop was die onderstreping, sê-maar: die sertifikaat dat jy die regte keuse gedoen het. Jy het regtig met die sonde gebreek en in 'n nuwe lewe met die Here opgestaan. Jy is 'n weergebore mens wat die sonde agter jou gelaat het.

Maar as jy nou eendag heeltemal terugval in die sonde? En dit gebeur, broeders en susters, ook by mense wat hulle by 'n sekte aangesluit het. Die duiwel sal nie sommer loslaat nie! Het dan die doop sy waarde vir jou verloor? Of moet jy selfs tot die gevolgtrekking kom dat jy destyds die doop nog nie verdien het nie? Het jy dalk te vroeg gedink jy is nou weergebore?

'n Soortgelyke twyfel het Abraham Kuyper se doopteorieë veroorsaak. In hierdie geval was dit vir elkeen die groot vraag: het ek as baba 'n egte of 'n onegte doop gekry? Behoort ek tot God se uitverkore kinders? Of behoort ek tot die wat verwerp is? Die antwoord op dié benouende vraag moes elkeen maar in homsélf probeer agterkom: groei daar iets soos 'n plant van geloof? Of is dit alles dalk net skyn, onkruid wat wel 'n rukkie bedrieglik na die egte geloofsplant lyk maar dit darem nie is nie?

En wat moet jy glo as jou baba sterf? Dit was nog te vroeg om te kan vasstel of daar 'n geloofsteggie aanwesig was. Is jou kind nou by die Here in die hemel? Of klaar in die hel? Sy doop kan jou op dié vraag nie die antwoord gee nie.

Talle opregte kinders van die HERE het as gevolg van Kuyper se idees jare in 'n verterende twyfel geleef en Sondag na Sondag bykans wanhopig uit die kerk uit gekom.

Die groot fout wat in al hierdie gevalle gemaak word is dat mense die sekerheid op die een of ander manier in hulleself soek. 'n Baie slim misleiding van die duiwel om God se kinders by Christus weg te trek!

Want die doop is juis deur ons Here ingestel om ons af te leer om die lewe in onsself te soek. Die doop leer ons juis om 'n afkeer van onsself te kry, ons voor God te verootmoedig en ons saligheid buiten onsself in Jesus Christus te soek.

Die doop is slegs 'n sigbare konkretisering en bevestiging van wat die HERE in sy Woord bladsy na bladsy aan ons verseker.

Die HERE verseker ons in sy Woord egter niks oor iets wat in onssélf tot stand kom nie. Hy herinner ons op talle manier aan wat Hy in Chrístus tot stand gebring het. In Jesus Christus het Hy ons sondes saamgetrek. In Jesus Christus het Hy die sondes weggedoen deur sy volle toorn oor Hom te ontlaai. In Jesus Christus is daar nou vergewing en die moontlikheid van 'n nuwe lewe vir elkeen wat tot Hom sy toevlug neem en agter Hom skuil.

Daartoe roep die HERE ons onophoudelik op: om daagliks by Christus te skuil. Ja, daagliks. Want agter Christus skuil- dis nie 'n eenmalige daad waartoe 'n mens op een bepaalde dag besluit ("jy laat Jesus in jou hart kom") en daarna bly dit so nie. Dit moet 'n mens dag vir dag opnuut doen. Want elke dag opnuut is die sonde daar weer in jou lewe en staan jy weer skuldig voor God. Maar elke dag opnuut is die HERE ook weer daar met sy belofte in die Evangelie dat daar vergewing van sondes is vir elkeen wat sy toevlug tot die gekruisigde Christus neem. En elke dag opnuut moet ons ons aan daardie belofte gelowig gewonne gee.

Moet ook maar kyk in Sondag 31: daar sê die Kategismus dat God ons in sy Woord "betuig dat al ons sondes vergewe is, so dikwels as wat ons die belofte van die Evangelie met 'n ware geloof aanneem". Ons kan van God se genade oor ons lewe nie 'n voorraad opslaan nie, ook nie in die doop nie. God se genade moet elke dag nuut na ons toe kom.

Maar God se genade sál ook elke dag nuut na u toe kom, as u die HERE op sy Woord glo, broeders en susters.

U doop is 'n ekstra versekering deur die HERE dat Hy u sondes wíl vergewe. Net so seker as wat die water op u kop was, is daar 'n volkome versoening van al u sondes. U hoef dit maar net te kom haal. Nooddoop en grootdoop, of die leer van tweeërlei doop- dit veroorsaak op die ou end maar net die ene twyfel in 'n menselewe. Maar die doop soos die Here dit bedoel het, wil juis alle twyfel by ons uitban. Ons sekerheid lê in God se betroubare belofte. Ons hoef Hom maar net op sy woord te glo.

Vergelyk u doop maar met 'n waarborg soos u dit vir allerhande sake kry: by 'n nuwe wasmasjien, 'n nuwe horlosie. Daardie waarborg bevestig swart op wit, met 'n stempel en 'n naamtekening, die belofte dat die ding wat u gekoop het verniet reggemaak of vervang sal word as daar binne sê-maar 'n jaar skielik gebreke openbaar word.

Maar daardie waarborg gaan u niks help nie as u dit net in u kas of lessenaar bêre en nooit weer daaruit haal en gebruik nie. Daardie waarborg maak u wasmasjien nie weer reg nie. Dit is nie meer nie as 'n aansporing om maar vrymoedig by die leweransier daarop aan te dring dat dit reggemaak word.

Maar as u u waarborg gebruik, hoef u ook glad nie meer te twyfel nie.

Soos dit ook met u doop: die doop as sulks was u sondes nie weg by God nie. Maar die doop spoor u aan om die vergewing by Christus te haal. Maar as u dit doen, is daar vir u regtig 'n volkome vergewing. Gewaarborg!

Die vraag waarop ons vanaand fokus, is: moet klein kindertjies ook al gedoop word?

As die doop die sigbare bewys moet wees van iets wat 'n mens in homself bereik het- ja, dan het daardie vraag beslis meriete.

Maar as die doop nie meer is nie as die onderstreping van God se belofte dat Hy om Christus ontwil ons sondes wil vergewe- wie durf dan nog daardie vraag te vra?

Dan kan ons net so wel vra: mag ons ons kinders wel van kleinsaf aanspoor om die HERE op sy Woord te glo en die vergewing van hulle sondes in Christus te soek?

Wil die HERE maar net grootmense se sondes vergewe? Is God die God van maar net grootmense? Is kinders vir Hom nie belangrik nie?

Nie een of twee tekste nie, maar die hele Bybel leer ons dit anderste. God staan nie en wag totdat mense groot en slim genoeg geword het om na Hóm toe te kom nie. Hy kom uit eie beweging na ons toe en roep ons om met Hom in 'n verbond te lewe. En dan kom Hy nie net na grootmense toe nie, maar Hy roep gesinne, geslagte, 'n hele volk tot die lewe in 'n verbond met Hom.

Toe Hy Abram geroep het om voortaan met Hom te lewe, het die HERE aan Abraham die belofte van 'n nuwe toekoms sigbaar in sy vlees ingesny: die besnydenis.

Dit was met daardie teken net soos met die doop vandag: die teken alleen kon Abraham nie verder bring nie. Eers as hy homself deur daardie teken sou laat aanspoor om hom in geloof aan God se beloftes uit te lewer, sou hy God se genade oor sy lewe ook gaan ervaar.

Maar omdat God se beloftes nie net vir Abraham alleen bestem was nie, maar ook vir sy nageslag, het die HERE dieselfde teken voortaan aan alle seuntjies reeds ag dae na hulle geboorte laat insny. Sodat gelowige ouers hulle kinders van kleinsaf des te sterker by God se beloftes kon grootmaak.

Toe die HERE met die volk Israel sy die Sinaiberg sy verbond hernuwe het, het Hy nie net aandag vir grootmense gehad nie. Hy het gesê: "Hierdie woorde wat Ek jou vandag beveel, moet jy ook jou kinders inskerp en daaroor spreek wanneer jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.. ".

En God se groot Seun, die vervuller van al sy beloftes, het self klein kindertjies omhels, die hande opgelê en geseën. En gesê: "Aan sulkes behoort juis God se Koninkryk. "

Waar die HERE daarom ouers geroep het tot 'n lewe met Hom, mag ook die klein kinders uit die staanspoor by sy groot beloftes opgevoed word. God wil ook hul deur die bloed van sy Seun red, nie minder as die volwassenes nie. Maar sou ons dan die doopwater, die sigbare onderstreping van God se beloftes, aan daardie kindertjies moet onthou?

Inteendeel, ouers mag die doop juis gebruik om hul kinders te leer om met die HERE te wandel in 'n daaglikse skulderkenning en 'n daaglikse bekering.

En as die HERE een of meer van hul kinders uit hierdie lewe wegneem voordat die kind bewus God se beloftes in ongeloof kon verwerp, mag hulle daarvan oortuig wees dat hul kind nou altyd by Christus in die hemel is, volkome versoen deur sy bloed.

Ons sal die doop dus as 'n waardevolle handreiking van ons Verbondsgod, ook vir ons kinders, mag bly verdedig, gemeente. Maar dan sal u die kinderdoop wel moet bly gebruik soos die HERE dit bedoel het. En vir u kinders leer om hulle doop te gebruik.

Die doop wil ons mos nie laat vertrou op wat ons eendag gekry het nie, maar dit wil ons laat verlang na wat God elke dag opnuut wil gee.

Dus sal ons kinders moet léér wat die HERE vir hulle wil gee. Hulle sal moet léér Wie die HERE is en Wie Hy was in die verlede en hoe Hy sal wees in die toekoms. Hulle sal moet léér hoe om in 'n nuwe lewe met Hom op te staan.

Dié verantwoordelikheid rus op ons as volwassenes. En dan dink ek nie net aan die ouers nie, maar aan die hele gemeente. Ook die wat self nie kinders ontvang het nie. Op ons saam rus die taak om gedoopte kerkkinders te leer hoe om in die verbond met die HERE daagliks te lewe. Deur ons voorbeeld. Deur ons eie lewe met die HERE.

Deur saam skoolonderwys te voorsien en instand te hou waar ons kinders in alle opsigte as verbondskinders opgevoed word. En as die finasiële laste vir die ouers in hierdie tyd al hoe swaarder word en die skulde van die skoolbestuur al hoe hoër, is dit 'n toets vir die hele gemeente om te wys of ons die betekenis van Gereformeerde onderwys as dooponderwys nog wel raaksien. Is ook lidmate wat self nie kinders by die skool het nie, bereid om hierdie belangrike onderwys in stand te hou?

Op u rus die taak om u kinders volgens hul doop te leer lewe, deur betrokke te wees by die Katkisasieklasse wat aan hulle gegee word. Het u al ooit 'n slag gekyk na die lesmateriaal wat hulle deesdae gebruik?

En hoe staan dit met u betrokkenheid by hul gesamentlike verenigingswerk? Weet u wat hulle weekliks bespreek? Hoekom word belangrike vergaderings van die Ouervereniging so uitermate swak bygewoon: gemiddeld 25 à 30 mense op 'n gemeente van meer as 800 lidmate? Waarom het die onlangse Jaarvergadering van ons ouer jeug so'n bedroewende opkomssyfer vertoon?

Sulke dinge dwing my om vir u te vra, broeders en susters: besef u nog wel die werklike bedoeling wat God met ons doop het? Gebruik u die doop nog wel as 'n daaglikse aansporing tot 'n lewe met die HERE vir uself en vir u kinders?

Besef u wel dat dit mee ú skuld kan wees as ons jongmense in die greep van die sekte met sy grootdoopgedagtes vasgevang raak?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)