Die doop is die paspoort van God se Koninkryk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 27 HK

LITURGIE:
Ps. 146: 1, 4, 8
Gebed
L. 2 Petr. 1: 1-11 & Titus 3: 3-7
Prediking
Ps. 119: 33, 39
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
SB. 14: 1, 2

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek wil vanaand my bes doen om 'n maklike preek te hou.

Nie uit gemaksug nie. Maar ek moet oor u doop praat. En ons Verbondsgod het die doop aan u gegee om dit maklik vir u te maak.

So bely ons dit mos in Sondag 25 van die Kategismus. Die Heilige Gees van God wil deur die sakramente van doop en nagmaal ons geloof versterk. God het die sakramente ingestel om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die Evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. En so het ons as Kerk dit ook vasgelê in art. 33 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: God het die sakramente by sy Woord gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee....

Wat beteken dit anders as: God wil dit makliker maak vir ons om Hom op sy Woord te glo.

Daar is baie gestry en geskryf oor die doop. So veel dat 'n mens amper die indruk sou kry die doop is maar 'n moeilike ding waarvan jy nie mooi weet wat om daarmee aan te vang nie.

Ek sê nie dat al die stryery oor die doop sinloos was nie. Want in daardie diskussies moes die Kerk tog ook daarvoor stry dat ons die eenvoud van die doop nie sal verloor teenoor allerhande menslike bedenksels nie. Dis hoekom ook in die Kategismus taamlik uitvoerig oor die doop geskryf is. Dit was nodig om die eenvoud van die doop te beskerm teen die Roomse opvatting asof deur die doopwater sélf klaar die sondes weggewas word, in elk geval die erfsonde. Dit is natuurlik 'n growwe oorskatting van die doop. Aan die ander kant moes die eenvoud van die doop beskerm word teen die lerings van die Wederdopers wat gesê het die doop kry eers betekenis en mag eers bedien word as 'n mens sélf vir God kies en kan wys dat hy weergebore is. Dit is juis 'n growwe onderskatting van die doop, asof die doop maar net 'n beseëling is van iets wat die mens self klaar bereik het.

Daarteenoor is Sondag 27 van die Heidelbergse Kategismus geskrywe. Dit is geen ekstra Sondagsafdeling om alles nog 'n bietjie ingewikkelder te maak nie. Maar hierdie vrae en antwoorde wil dit ekstra duidelik vir u aanwys: so eenvoudig is dit feitlik. Kyk hoe maklik het God dit vir ons gemaak! Wat is daar met die doop baie in ons hande gelê. Ons, en ook alreeds ons kinders, kry sommer 'n paspoort van die Koninkryk van God.

So wil ek vanaand die betekenis van u doop weereens vir u aanwys, met hierdie beeldspraak.

Ek vat my boodskap soos volg saam:

DIE DOOP IS DIE PASPOORT VAN GOD SE KONINKRYK

  1. DIT IS AAN SONDAARS GEADRESSEER
  2. OUERS KRY OOK REEDS EEN VIR HUL KINDERS IN BEHEER
  3. SLEGS DEUR DIT TE GEBRUIK SAL ONS DAARVAN KAN PROFITEER.

1. Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore, broeders en susters, en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die Ryk van God kan inkom nie...

U weet: met dié woorde begin ons doopsformulier. Dit is indringend ernstige woorde. En die wat die erns van hierdie woorde nie ten volle besef nie, sal ook van die verder verhaal in die formulier niks begryp nie.

God se Ryk is toe vir sondige mensekinders. Die grens is gesluit vir enige nakomeling van Adam wat in sonde ontvang en gebore is. Die heilige God kan geen onheilige skepsels soos ons is, in sy nabyheid verdra nie. Vir sondaars is Hy 'n verterende vuur.

Ons kan eers in sy Koninkryk inkom as ons opnuut gebore word.

U ken die betekenis van daardie sterk uitdrukking: ons moet heeltemal nuwe mense word. So nuut dat daar geen sonde meer in ons lewe te vinde is nie. Slegs dan sal die grens van God se Koninkryk vir ons oopgesluit word.

Maar broeders en susters, wie van ons gaan dit ooit regkry? ! Wie kan 'n totaal nuwe mens van homself maak? U kan dit probeer, maar ek verseker u: u sal maar net al hoe meer agterkom hoe sleg u is, hoe diep die wortels van die sonde in u lewe vasgegroei is.

En nou is dit die wonder wat ek aan u mag verkondig: God laat ons nie self met ons sondes sukkel nie. Hy wag nie tot ons sélf nuwe mense geword het nie. Hy wag nie eens tot ons tenminste iéts van 'n verandering in ons lewe aan Hom kan wys nie.

Nee, Hy sê vir ons: Ja, julle moet opnuut gebore word, anders kan julle nie in my Ryk inkom nie. Maar Ek weet dat julle dit self nooit gaan regkry nie. Dit hoéf ook nie. Ek sal dit regkry! My Seun Jesus het klaar 'n nuwe lewe vir julle moontlik gemaak deur julle sondes op Hom te neem en die straf daaroor te dra. En sy Gees sal nuwe mense van julle maak. Die Heilige Gees sal julle so'n heropvoeding gee dat julle verander tot ordentelike burgers van my Ryk.

En daarom sê Ek vandag alreeds tot julle, ten spyte van al jul sondes: Wees welkom in my Koninkryk!

Dit is vir ons byna ongelooflik, gemeente.

Kan sondaars soos wat ons is, in die Ryk van die heilige God inkom? ! Sodat ons dit egter vas sou glo het die HERE die doop aan ons saamgegee as 'n konkrete onderstreping van sy belofte. Hy verseker dit nie net aan ons met woorde, in die Evangelie, nie, maar Hy het dit vir ons ook sigbaar vasgelê in die doop. Ons doop is as 't ware die paspoort wat waarborg dat ons, goddelose sondaars, by die grens van God se Koninkryk nie deur grimmige engele teruggestuur sal word nie, maar dat die lewe in daardie Koninkryk vir ons ooplê.

Die HERE plaas eiehandig sy handtekening op ons paspoort wanneer Hy by die doopvont sê: Jy sondige menskind op wie feitlik my toorn moes rus, Ek, die drieenige God, Vader, Seun en Heilige Gees, Ek aanvaar jou as 'n wettige burger van die Koninkryk van die hemele. Gaan saam, jy is welkom!

Dit is die wonder van u doop, broeders en susters. U ontvang die toegang tot die ewige lewe en die ewige vreugde in die Koninkryk van die hemel. God gebruik 'n eenvoudige middel om dit vir u sigbaar te bevestig: water. Daardie water herinner u enersyds aan u eie ellendige toestand. U is so vuil dat daar nooit en te nimmer vir u 'n plek kan wees in God se Koninkryk nie. Maar daardie water waarborg terselfdertyd: God sal daardie vuilheid skoonwas. Hy sal 'n ander mens van u maak. Hy sal vir 'n komplete wedergeboorte sorg.

Daarom durf die apostel Paulus die doop rustig "die bad van die wedergeboorte" te noem. Die wat die bad van die doop ondergaan het, word deur God as nuwe mense beskou. Nee, natuurlik kan daardie water geen sondes wegwas nie. Dit kan alleen die bloed van die Here Jesus Christus wat ons skuld by God bedek; en sy Heilige Gees wat ons leer om die sonde te haat en te ontvlug. Maar God het van die doop 'n betroubare waarborg gemaak: net so seker as wat ons met die doopwater gewas is, sal die HERE ons sondes wegwas en volwaardige burgers van sy Ryk van ons maak. Ons kan maar daarop staatmaak. Ons sien in onsself nog niks daarvan nie, ons staar ons nog blind teen soveel sonde en ongehoorsaamheid. Maar vir die HERE is ons wedergeboorte klaar 'n werklikheid, al moet die Heilige Gees dit ook nog in ons totstandbring. God het Homself daartoe in die doop verplig. En daarmee het God terselfdertyd die ingang in sy Koninkryk vir ons oopgesluit. Soos die stempels en 'n handtekening in 'n paspoort van 'n paspoort 'n betroubare reisdokument maak, so het God ons doop in sy Naam, die naam van Vader, Seun en Heilige Gees, tot 'n betroubare reisdokument na die Koninkryk van die hemel gemaak.

Besef u nog hoeveel u in u doop van God ontvang het, broeders en susters?

God het daarin sy goedheid en genade aan u adres vasgelê. Totaal onverdiend kry u 'n toegangsbewys vir sy ewige Koninkryk. Omdat Christus dit vir u verdien het.

"Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie", skryf die apostel Paulus in Titus 3, "maar na sy barmhartigheid het God ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. "

Daardie christene in Titus se dae aan wie die apostel allereerst gedink het, was vroeër "op 'n dwaalweg", sêmaar op pad om verlore te gaan. En so is in feite nog elke baba wat in sonde ontvang en gebore word. Ons doopsformulier sê mos: "aan allerhande ellende, ja selfs aan die verdoemenis onderworpe". Maar kyk hoe mag ons deur die doop, die bad van die wedergeboorte, onsself nou beskou, Titus 3: 7: "erfgename wat nou hoop, uitsig, het op die ewige lewe". En ons het dit alles aan God se genade te danke.

Daardie genade is so groot, dat God vandag alreeds baie sterk woorde gebruik om alle twyfel by ons uit te ban. Hy praat rustig van die doop as "die afwassing van die sondes". Hy noem die doop sommer "die bad van die wedergeboorte". Want ons moét Hom glo op sy Woord!

Ten spyte van al ons sondes het ons die geldige paspoort vir God se Koninkryk klaar in ons besit.

Sal u daaraan dink as u in sondes val, broeders en susters? Moet dan nie wanhoop nie. Nie vertwyfeld uself gaan afvra of daar vir u wel ooit plek in die Ryk van God kan wees nie. Maar moet eenvoudig die paspoort van u doop weer tevoorskyn haal en daarop staatmaak. Daarvoor het God dit mos gegee! Moet dus nie moedeloos in die sonde bly lê nie. Nee, u mag opstaan en verdergaan. God het regtig nie u paspoort ingetrek of ongeldig verklaar omdat u in sonde geval het nie. Inteendeel, juis met die oog op ons voortdurende struikelinge het Hy die paspoort van die doop aan ons, sondaars, gegee. As 'n bemoediging.

En veral as eendag alles u ontval omdat die dood sy kloue na u uitsteek, hou dan u paspoort vas. Dit waarborg dat die dood u sal moet laat glip omdat by u sterwe die grenswagters van God se Koninkryk u op opwag en saamneem na die hemelse heerlikheid toe.

2. "Moet die jong kinders ook gedoop word? "

Of, anders gesê: is die paspoort van die Koninkryk van die hemel ook alreeds vir babas, vir kleuters en skoolkinders en vir pubers bestem?

Vir ons is dit heel vanselfsprekend, maar u weet dat dit vir baie mense nie so is nie. Dis hoekom die Kategismus dié vraag spesiaal vra in Sondag 27.

Agter hierdie vraag lê 'n wêreld van stryd. Die stryd teen die Wederdopers in die dae van die Reformasie, wat vandag nog hul geesverwante het in die Baptiste en in die diverse Pinkstergroepe soos die AGS.

Hulle meen dat 'n doop van kinders nog hoegenaamd geen betekenis het nie, en dat mense wat wel as kind gedoop is, 'n herdoop behoort te kry.

Waarom dink hulle so?

Wel, feitlik is by hulle die doop nie meer aan sondaars geadresseer nie, maar aan ex-sondaars. Die doop is bedoel vir wedergebore mense, sê hulle. En hulle bedoel: jy moet in jou lewe so ver kom dat jy vir die HERE kies, dat jy die Here Jesus in jou hart toelaat, soos hulle dit uitdruk. En dan vervul die Heilige Gees van die Here Jesus jou en eers dán is jy reg om gedoop te word. Eers as dit begin sigbaar word dat jy 'n goeie burger van God se Koninkryk sal wees, kan die doop aan jou bedien word, en die doop is dan feitlik maar net 'n beseëling van dit wat jy klaar bereik het.

Verstaan u, gemeente, hoe sleg hierdie gedagtes is? Die verskil tussen ons en hulle is nie maar net dat hulle ten gunste van 'n grootdoop is en ons ten gunste van die kinderdoop nie. Die verskil is baie groter. Hulle het in der waarheid niks van die betekenis van die doop verstaan nie.

Hul doopsopvatting ontneem aan ons alle sekerheid wat God juis in die doop vir ons wil gee. Want volgens hierdie dwaling moet jy die sekerheid in jousélf soek en vind. Jy moet by jouself eers die begin van 'n nuwe lewe as burger van God se Koninkryk opmerk voordat jy die doop kan ontvang.

Meestal is hierdie tipe van mense aanvanklik dan ook baie sélfversekerd. Hulle noem hulself wedergebore christene en maak asof die sonde en die duiwel in hul lewe heeltemal tot die verlede behoort. Maar wat bly daar van hul sekerheid oor as hulle agterkom dat die duiwel ook in hul lewe darem steeds daar is, wat as hulle in sonde val...? Waaraan moet hulle dan vashou? ! Hulle kan hul nie aan die doop vasklamp nie, maar moet juis vertwyfeld hulleself afvra of hulle dalk ten onregte gedoop is.

Boonop is daar in hulle opvatting glad nie plek vir kinders in die kerk nie. Asof God 'n God van alleen groot mense is! In ons formulier vir die kinderdoop word heel tereg daaraan herinner dat ons Here Jesus Christus eendag kinders die hande opgelê en geseën het. Dit was toe sy dissipels die ma's van daardie kleintjies wou wegstuur, omdat hul Here met belangriker sake as klein kinders besig was. Ons lees dan in die Bybel dat die Here baie kwaad geword het. Daar staan in die grondteks 'n baie sterk uitdrukking. God se Koninkryk is nie te groot vir klein kinders nie. Inteendeel, as ons nie almal soos kinders word en ons eiewysheid en selfversekerdheid afleer, sal ons in daardie Ryk nie kan inkom nie!

Die belangrikste dwaling by die voorstanders van net grootdoop is egter, dat God nie meer ten volle die God van genade bly nie. Want volgens hul leer kies jy eerste vir God en eers daarna kies God ook vir jou. Jy breek eers sélf met jou sondige verlede en besluit om die pad na God se Koninkryk te loop, en daarna gee God jou in die doop die sertifikaat dat jy die regte pad gekies het.

Maar die Evangelie van genade leer juis vir ons: God doen alles. Hy kies eerste.

God kies grootmense as Hy die pad bepaal waarlangs Hy met die Evangelie na hulle toe kom; sy Gees is die wat by die uitverkorenes die hart oopsluit en dit ontvankelik maak vir die Evangelie van redding van sondaars.

God kies kinders as Hy hulle op eie inisiatief deur geboorte of deur adopsie 'n plek gee in sy kerk, in 'n gesin van gelowige ouers. En dan sê God vir daardie kleintjies presies dieselfde as vir die volwassenes: jy is 'n goddelose sondaar, in sonde ontvang en gebore en daarom onder my toorn. Jy kan so nie in my Ruk inkom nie. Hierdie doopwater onderstreep dit. Maar: Ek was in my genade deur die bloed en die Gees van van Seun jou skoon sodat jy nogtans in my Ryk kan inkom, Dit wys die doopwater ook. Hierso, hier is die paspoort vir my Koninkryk, ook vir jou.

Klein kinders kan dit self nog nie beheer nie. Hulle weet nog nie wat om daarmee te moet maak nie. Maar dit is vir God geen rede om voorlopig nog met die uitreiking van die paspoort te wag nie. Die ouers mag dit vereers vir hul kind beheer. Want die HERE wil nie hê hulle moet jarelank heeltemal in onsekerheid verkeer of daar vir hulle kind wel plek in God se Koninkryk is nie. Sê nou hul kind sterf skielik as baba of kleuter of laerskoolleerling. En hoe veel ouers is daar nie onder ons wat 'n kind op dié leeftyd sien heengaan het?

Moet hulle nou vir die res van hul lewe bly twyfel wat daar van hul kind geword het? Sal hulle hul kind wel eendag weersien in God se Koninkryk?

Nee, dan mag hulle 'n groot troos uit die doop put! Daar is geen twyfel moontlik nie: daardie kinders het ons voorgegaan op die weg na God se Koninkryk. Hulle het mét hul paspoort alreeds die grens van die dood gepasseer en is deur die engele na ons Koning toe gebring. Na daardie Koning wat eendag vir sy dissipels gesê het: "Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die Koninkryk van God".

3. Ek het so pas gesê, en so het ek die hele inhoud van die tweede punt van hierdie preek saamgevat: ouers mag alreeds 'n paspoort vir hul kinders beheer.

Maar beheer is nie dieselfde as bewaar nie. Hulle sal vir hul kinders ook algaande moet leer om dié paspoort van die doop te gebruik. Dit wil ek tenslotte in my derde punt nog sê.

Solank die kinders te klein is om iets daarvan te verstaan, het hul doop die meeste betekenis vir die ouers. Maar as die kinders tot hul verstand begin kom, moet hul doop ook vir hulleself betekenis gaan kry. En dan sal hulle die doop moet leer gebruik, soos ook die ouers self hul eie doop moet gebruik.

So is dit mos met 'n paspoort: dit waarborg vir jou die vrye toegang in die land wat dit aan jou verstrek het, maar jy sal jou paspoort wel moet gebruik as jy in daardie land wil binnekom. 'n Paar jaar terug was daar talle mense agter die Ystergordyn wat baie graag na die vrye Weste toe wou gaan. Net 'n enkeling het egter 'n visum in sy paspoort gekry. Daardie visum was 'n geweldige besit, die waarborg dat jy die grens kon passeer en na die vryheid reis. Maar dit was nog nie die vryheid self nie. Daarvoor moes jy eers op reis gaan, in die vliegtuig of die trein klim en met die daad die grens oorgaan.

Soos dit ook met die doop, broeders en susters. En dit moet ons bly besef teenoor die Roomse oorskatting van die doop asof ons daarmee klaar in die Koninkryk van God binnegebring sou wees: die doop is 'n geweldige waarborg dat die vryheid van die Ryk van die hemel vir ons ooplê. Maar ons sal wel op reis moet gaan, en op reis moet bly totdat ons die eindbestemming van ons paspoort bereik het. Slegs deur die paspoort van ons doop te gebruik, kan ons daarvan profiteer.

Konkreet beteken dit: ons sal ons voortdurend deur God moet laat saamroep op die weg van sy Koninkryk. Ons sal ons deur die sondagse prediking en ons eie Bybellees, deur die besoeke van ons ampsdraers telkens aan die reisdoel van ons lewe moet laat herinner. Ons sal onsself aan die vernuwingswerk van die Heilige Gees moet onderwerp in 'n daaglikse bekering na die wet van die Koninkryk van die hemel. Ons sal ons moet laat meetrek deur die ander in die reisgeselskap as ons dreig om agter te bly of die pad kwyt te raak.

En so sal ouers ook hul kinders moet leer om die paspoort van hul doop te gebruik. Leer watter wonderlike lewensbestemming ons het. Leer om die lewe vandag reeds deur daardie bestemming te laat beheers.

Hulle moet so hul kinders ook laat leer, soos hulle dit by die doop beloof het, deur 'n sorgvuldige keuse van die skoolonderwys, 'n saamwerk aan die instandhouding van voluit gereformeerde skoolonderwys; deur hulle kinders die katkisasieklasse te laat volg, maar ook met hul kinders dit wat in daardie katkisasieklasse geleer word, te bespreek en te oordink. Hulle maak dankbaar gebruik van die verenigingswerk wat vir die jeug georganiseer is en leef met die daad saam met die werk van die Ouervereniging.

Dit alles is nodig om as ouers en kinders saam ook regtig profyt te trek van die paspoort van God se Koninkryk wat ons in die doop gekry het.

Ons het by die apostel Petrus die opwekking gelees om nie so blind en kortsigtig wees dat ons dadelik "die reiniging van ons vorige sondes weer vergeet" nie. Ons moet juis aanhoudend daarmee besig bly. Ons is geroep en verkies om burgers van die Ryk van die hemel te mag wees. Ons het die paspoort van God se Ryk klaar in ons besit. Maar ons moet daardie roeping en verkiesing nou wel vas maak. Dit kan natuurlik nie beteken dat ons onsself nog die verkiesing tot die burgerskap van God se Koninkryk moet waardig maak nie. Petrus bedoel maar net dat ons daardie roeping en verkiesing moet opvolg, ons hele lewe daarvolgens moet inrig. Want om geroep en verkies te wees, beteken nog niks as jy daarmee nie aan die werk spring nie.

"Slegs as julle dit doen, sal julle nooit struikel op die pad na die Ryk van God toe nie", skryf Petrus. "Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige Koninkryk van onse Here en Saligmaker Jesus Christus".

Hierdie preek, broeders en susters, is 'n soortgewlyke opwekking as daardie begin van Petrus se tweede brief. Ek roep u vanaand op om die paspoort van die doop so te gebruik soos die HERE dit bedoel het.

En dit is regtig nie moeilik nie.

God het dit baie maklik vir u gemaak.

Dit is heeltemal u eie skuld as u nou nog nie die Koninkryk bereik nie.

AMEN.

Pretoria, 7 JULIE 1991

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)