Jou doop as die instrument van die heiligmakende Gees

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

Ps 34: 1, 2, 3
Ps 4: 2, 3, 4
Geloofsbelydenis
Ps 116: 6-10
Lees: 1 Kor 10: 1-22
Teks: Sond 26

Geliefde gemeente,

Vandag hou ons die voorbereiding vir die viering van die Heilige Nagmaal. Volgende week Sondag wil ons saam weer die Nagmaal van ons Here Jesus Christus vier.

Nou lyk dit 'n bietjie ongelukkig te tref dat in die Kategismus prediking vanmiddag Sondag 26 aan die beurt van behandeling is. Die Sondag oor die Doop.

Maar laat ons daaroor nie 'n groot probleem maak nie. Ons het in die vorige Sondag van die Kategismus gesien dat die beide sakramente wat ons in die kerk het, die doop en die Nagmaal, altwee instrumente van die Heilige Gees is.

En soos 'n timmerman nou weer sy saag hanteer en dan weer sy hamer, so werk die Heilige Gees ook maar voortdurend met sy verskillende instrumente.

As ons praat van die werk van die timmerman dan gaan ons belangstelling nie in die eerste plek uit na die instrumente wat hy gebruik nie, maar gaan dit veral om die materiaal wat hy daarmee bewerk en watter doel hy daarmee wil bereik.

So wil ons vanmiddag spesiaal aandag gee aan die instrument van die doop. Maar omdat die Heilige Gees in die Nagmaal nog 'n soortgelyke instrument hanteer kan ons daarna ook rustig kyk.

Immers ons eintlike belangstelling le nie by die instrument nie, maar by die doel wat dit wil bereik.

Die gelowige moet namelik in sy geloof gesterk word. Hy moet so gesterk word dat hy sy lewe al hoe meer begin heilig.

Want eers dan bereik die Heilige Gees wat hy wil bereik namelik dat daar mense op aarde kom waarna God met vreugde kan kyk. Want God soek mense wat van hul lewe wil maak wat God met hul lewe bedoel het. En dit is die Heilige Gees wat as 'n heiligmakende Gees hom daarvoor inspan.

Ons tema vir die preek van vanmiddag is:

Jou doop as die instrument van die Heiligmakende Gees

Daarvoor moet jy

  1. die noodsaak van jou Doop erken
  2. met die feit van jou Doop werk

Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Laat ons dit 'n bietjie anders beklemtoon. Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Gemeente vanmiddag wil ons nie die teorie van die doop bespreek nie. Daardie teorie ken u almal wel.

Vanmiddag wil ek met u praat oor die praktyk van die doop.

En dan bedoel ek geensins die manier waarop in ons kerk of in ander kerke die doop as 'n christelike simbool bedien word nie, maar ek bedoel dat ons vanmiddag moet praat oor die werking van die doop in u lewe.

Ek weet dat vrywel almal van u wat hier vanmiddag sit gedoopte mense is.

Vir u almal was daar een dag in u lewe dat daar in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees water oor u uitgegiet is. En daarmee is die doop in u lewe 'n feit.

Ek sal nie wil beweer dat die feit op sig van geen betekenis is nie, maar u sal my almal kan verstaan as ek se dat dit daar tenslotte om gaan wat u met daardie feit doen.

Ek se nou, wat u daarmee doen, maar die kategismus kom nog veel direkter, nog veel minder afstandelik na u toe.

Hy kom gewoon reg voor jou staan en kyk jou reg in die oe en se: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van christus aan die kruis jou ten goede kom?

Van daardie vraag mag dus vanmiddag niemand van julle wegskram nie. Dit geld vir almal. Vir die volwassenes maar ook vir die jeug selfs vir die kinders. Die kategismus vra dit van elkeen van ons.

Hoe gebruik jy jou doop? En jy, wat maak jy daarmee?

Daarop soek ek vanmiddag se, tweehonderd antwoorde.

Of liewers die antwoorde soek ek nie, maar die Heilige Gees wil dit van elkeen van julle weet: Hoe laat jy die offer van die kruis van Christus aan jou ten goede kom?

Kom ons dink saam na oor die antwoord wat ons moet gee, of wil gee, of kan gee miskien.

Daarby neem ons ons startpunt in die begin van die formulier wat ons in die kerk gebruik as ons klein kinders doop. Dit begin so: "Die hoofsaak van die leer van die heilige doop word in hierdie drie punte saamgevat: Ten eerste: Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie tensy ons opnuut gebore word. Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word, sodat ons vermaan word on 'n afkeer van onsself te he, ons voor God te verootmoedig en ons saligheid buite onsself te soek. "

Nou gaan my dit hierom, die formulier wys aan dat die allereerste les uit die sakrament van die doop is dat ons sondige mense is. Die doop is 'n simbool van wassing en daar is by elkeen van ons iets om te was. Namelik wat hier genoem word: die onreinheid van ons siel. Dit wil se daar is nie net aanwysbare sondes of oortredings af te was nie, maar ons siel is onrein. Ons siel, ons binneste self, die kern van ons persoon is onrein. Onrein, iets om ver van weg te bly, te smerig om aan te vat, volstrek verwerpelik vir God.

Gemeente ek wys daarop met nadruk die doop, die feit dat jy gedoop is is nie in die eerste plek iets om trots op te wees nie. Die doop is ongelukkig 'n noodsaak. Jy is onrein, jy kan nie in die ryk van God kom nie tensy jy gewas word.

Dit is die eerste les wat die Heilige Gees jou met die doop wil leer. Jou siel, jy self is onrein en totaal onbruikbaar vir God.

Laat ons begin om hierdie les van harte vir onsself te aanvaar.

Meen nie dat jy dit lankal gedoen het of dat dit vir jou tog nie so nodig is nie. Meen ook nie dat dit maklik is nie want dit is die moeilikste wat daar vir 'n mens is. Ook vir 'n gedoopte mens.

Want die Heilige Gees wil jou iets leer, hy wil jou leer om 'n afkeer van jouself te he.

Hier blyk ook dat ons baie naby die gedagtegang van die Nagmaalsformulier is, immers daar word as eerste van die noodsaak van selfondersoek gese dat moet leer om aan onsself 'n mishae te he.

Daardie afkeer van jouself of die mishae aan jouself is nie bedoel om altyd so oor jouself te voel nie, maar is bedoel as 'n middel om jou so voor God te verootmoedig. 'n Christen is nie iemand wat altyd sleg oor homself voel of wat hom altyd sleg oor homself behoort te voel nie, maar 'n christen voel sleg so gou as wat hy reg voor die Here geplaas word en dan na homself kyk. En tegelykertyd is dan die kenmerk van 'n christen dat hy met sy slegte gevoel oor homself onmiddellik naar Christus kan gaan en mag weet daar is redding van hierdie onreinheid van my. Daar is verlossing! Daar is 'n Verlosser!

Maar na die verlossing kan jy slegs gryp as jy eers bereid is om jouself te verootmoedig.

Verootmoediging dit is dus waaroor dit hier gaan.

Jou hoof buig voor die Here onder erkenning van skuld.

Wie kan dit? Wie wil dit?

Se nie te vinnig: Ja, ek!

Want dit is die moeilikste wat van 'n mens gevra kan word.

Verootmoediging.

Om jou te verootmoedig gaan in teen jou gevoel van eie waarde. Dit bots met jou trots.

Trots is die groot sonde diep in jou hart. Sinds die sonde van Adam en Eva is die sonde daar. Jy wil nie buig voor die Here nie. Jy wil self soos God wees. Jy wil liewers dat voor jou gebuig moet word. Daarom is dit so verskriklik moeilik om skuld te erken.

Ook teenoor mekaar.

Ons is eintlik almal te trots daarvoor om teenoor 'n ander te erken dat jy verkeerd was. Ons is almal geneig om te meen dat net jou siening reg is. Ons kyk maar al te graag neer op 'n ander. Ek is beter as jy. Ek is meer as hom.

Wel solank 'n mens so besig is om af te kyk sien jy seker ook nie kans om op te kyk na die Here nie. En dan is daar geen ruimte vir 'n opregte skuldbelydenis nie.

As ons dan al 'n slag werklik moet toegee dat ons verkeerd was in ons optrede dan staan ons klaar met tal van verskonings.

"Ag ek was toe baie moeg gewees... Maar eintlik is ek nie so sleg nie... "

Die interessante is dat juis as ons moeg is, of as ons onverhoeds gevang word, dat juis dan ons ware aard sigbaar word. As ons in ons gewone doen is kan ons mos baie beter ons rol speel en teenoor mekaar 'n skyn ophou.

Maar teenoor die Here kan ons nie die skyn ophou nie al probeer ons ook daar hoe hard.

Want dit is wat natuurlik gebeur dat ons tog wil probeer om ook teenoor die Here 'n skyn op te hou.

En dan kom daar oppervlakkigheid in ons relasie met Hom. En oppervlakkigheid is 'n groot gevaar vir die relasie.

As ons skuldbelydenis oppervlakkig is, dan se die boodskap van vergewing ook nie veel meer nie.

Wie nie verdrietig kan wees oor sy mislukkings as gelowige nie, kan ook nie bly wees oor die evangelie wat vir jou verkondig word nie.

En dan kom God die Vader en sy seun Jesus Christus nie aan hulle eer nie.

Dis hoekom die Heilige Gees soveel werk maaak van die sakramente. Sowel die Doop as die Heilige Nagmaal wil voor alles vir ons leer dat ons skuldenaars is wat hulle skuld moet bely.

Omdat dit in hierdie sondag veral oor die Doop gaan wil ons daaraan die meeste aandag gee.

Die Kategismus se: Christus het hierdie uitwendige waterbad ingestel. Hy het dus beveel om jou te laat doop.

Kom ons vertel die verhaal eers vir die kinders. En dan hoo[p ons maar dat die groot mense dit ook begryp.

Die Here Jesus het self gese dat al die mense in die kerk gedoop moet word. Waarom is dit eintlik nodig? Wel dit is nodig omdat hulle gewas moet word. Nou nie van gewone vuil nie. Daarvoor moet die mense maar by die huis onder die stort of in die bad gaan.

Nee by die doop gaan dit om 'n afwassing van 'n ander onreinheid. Jou sondes moet afgewas word.

Nou het julle al dikwels gesien dat klein babatjies gedoop word voor in die kerk. Ook hulle word gewas. Nou sou mens se: maar wat is dan verkeerd met hulle? Hulle kon mos nog niks doen nie. Hulle kon nog nie stout wees nie. Hulle kon nog nie ongehoorsaam wees nie. Wat is dan verkeerd? Ek sien niks verkeerds nie.

Wel ek stem saam daar. Die dominee sien ook niks verkeerds aan 'n pasgebore baba nie. Dis net pragtig.

Maar tog se die Here Jesus: Ek wil dat hulle ook gedoop moet word. Want al lyk die buitekant van die kind nog so pragtig en gaaf. Ek sien dat in die kind 'n sondige hartjie is.

En daarom moet die vader en die moeder met hul babaatjie voor in die kerk kom staan en eers van hul kindjie erken dat dit 'n kind is, in sonde ontvang en gebore. Dit beteken dat hulle moet bely dat hulle kindjie van af die allereerste begin van sy lewe reeds deur die sonde bederf is en dit glad nie verdien om as kind van God aangeneem te word nie.

Wel, as jy eers se die kind verdien dit om die dood te ontvang en dan mag hoor dat die kindjie tog mag lewe dan kan jy voorstel dat die vader en moeder op die dag van die doop van hul kindjie baie bly is en ook deur almal in die kerk geluk-gewens word. Want deur die doop is nou vir hulle en vir almal duidelik dat dit ondanks die sonde tog 'n kind van God is.

Ons stop nou weer met ons spesiale verduideliking vir die kinders en gaan weer verder met punt twee.

Punt een was: jy moet die noodsaak van jou doop erken.

Punt twee is:

Jy moet met die feit van jou doop werk

Deurdat ons so formuleer: jy moet met die feit van jou doop werk, kan dit duidelik wees dat die feit van jou doop op sig nie voldoende is nie.

Jy kry mense wat so dink: Ek is gedoop en dan is ek dus volgens die doopformulier in die verbond en in die ryk van God. Dan het ek dus 'n belofte van ewige lewe en dan sal ek dit dus ook een dag ontvang.

Wel so'n redenering werk nie.

Dit is wel 'n waarheid, maar dan geen waarheid as die slotsom van 'n redenering nie. Dit is slegs 'n waarheid wat 'n mens net kan gryp in ootmoedigheid en geloofsvertrouwe op die Here.

Sonder verootmoediging kan jy die belofte wat jy ontvang het jouself nie toeeien nie.

Ons het vanmiddag gelees wat Paulus aan die gemeente van Korinte skryf in hoofstuk 10 van sy eerste brief.

Hy haal daarin die geskiedenis van die volk Israel aan as 'n waarskuwing vir die gemeente van Korinte en ons kan dit ook maar op onsself toepas.

Blykbaar was die situasie in die gemeente van Korinte so dat die mense gemeen het, hulle behoort nou aan Jesus Christus dus nou is hulle heeltemal vry om te doen wat hulle wil. Hulle het kennelik 'n probleem gehad met die invulling van hul christelike vryheid.

Hulle het regtig gedink, ons is nou gedoop dus ons is klaar. Ons is gered en niemand kan dit meer van ons afneem nie.

Maar dit is 'n groot misverstand. 'n Gevaarlike misverstand selfs.

En daarom verwys Paulus na die geskiedenis van die volk Israel.

Kyk se hy dan. Die volk Israel het almal deur die see gegaan by hul vertrek uit Egipte. Daardie see was 'n beeld van hul doop. Hulle laat die slawelewe definitief agter hulle en hulle ontvang die vryheid. Almal. Almal het die doop in die see ondergaan. Almal het die geestelike gawes van God geniet.

En tog het hulle naderhand almal omgekom in die woestyn. Want God het in hulle geen welgevalle gehad nie. En waarom kon God nie van hulle geniet bie?

Omdat hulle begerig was na slegte dinge, vertel vers 6.

Hulle het hul doop in die see nie gebruik om dit 'n beginpunt van 'n nuwe lewe te maak nie.

Hulle het voortgegaan met 'n lewe van afgode diens. En daarin het hulle sover gegaan dat die Here 'n einde aan hul lewe gemaak het. Hy kon dit van hulle nie verdra nie. Hy het vir hulle 'n nuwe lewe belowe en ook gegee, maar hulle was dit glad nie werd nie.

Hulle het die belofte van God verspeel!

En die verhaal word aan ons as 'n spieel voorgehou. Jy kan blykbaar die belofte van God verspeel.

Wie die doop ontvang het is daarmee in gemeenskap met Jesus Christus gebring. En dit is 'n groot voorreg.

Maar moenie vergeet, daardie gemeenskap is nie 'n onbedreigde besit nie.

Daar sal bedreigings kom van die gemeenskap in die vorm van versoekings.

Daar is die versoeking om jouself aan afgodediens oor te gee.

Daardie afgodediens kan allerhande vorme aanneem. Jy kan op allerhande sake jou vertroue begin stel in plaas van op Jesus Christus. Jy kan jouself oorgee aan tal van begeertes wat jou van Christus af wegtrek.

En daarom is daar van Paulus maar een raad vir die Gemeente van Christus.

Geliefdes vlug vir die afgodediens. Vlug!

In die algemeen is vlug nou nie juis 'n uiting van dapperheid nie, maar as dit by afgodediens kom dan is dit nie tyd vir speletjies nie. Dan kan 'n dapper gelowige maar een ding doen, Hy vlug.

'n Slappeling in die geloof bly staan as daar verleidings tot afgodediens kom. Hy hou van die versoeking en hy val daarin.

Wat leer ons uit die verhaal van Paulus in hierdie hoofstuk vir ons onderwerp van vanmiddag?

Dit, jou doop wat jy eendag ontvang het, is 'n opdrag om mee te werk. Heel jou lewe.

As jy gedoop is behoort jou lewe aan Jesus Christus. En dit maak alles anders.

Want nou is daar 'n roeping om jou lewe te heilig tot eer van God.

Die Heilige Gees is aan jou gegee om jou daarin te lei. Hy werk met jou en in jou. Maar jy moet hom met jou laat werk.

'n Mens, ook 'n gedoopte mens kan hom verset teen die Heilige Gees. Dan wil jy jou nie deur hom laat lei nie. En dan kan God met jou nie verder nie.

Maar daarom is dit ook so lewensbelangrik dat jy bly werk met jou doop. Dit beteken dat jy steeds weer terugkeer na die punt: Ek moet my verootmoedig voor die Here. Ek is 'n sondaar en kan geen van sy gebooie hou nie. En tog glo ek dat daar beloftes vir my gegee is en nog steeds geldig is. So werk jy met jou doop. En dan is dit ook 'n kragtige instrument in die hande van die Heilige Gees.

En dan kan ons maar dieselfde se van die Heilige Nagmaal.

Die Heilige Gees wil dit gebruik as 'n instrument om jou te versterk in die geloof. Wel dan moet jy elke keer as dit weer Nagmaal is deur die selfbeproewing gaan van: Wat vra die Here van my? En hoever is ek op die pad van lewensvernuwing?

En dan sal jy moet erken dat jy nog steeds 'n groot sondaar is wat genade nodig het.

Vanuit die verootmoediging voor die Here kom die besef: wat is God met my geduldig!

En Here help my asseblief om teen my sonde te stry, help my om so'n lewe te begin lei dat u daarin 'n vreugde het.

Wel as daardie proses by ons weer op gang kom dan beantwoord die sakramente aan hul doel. Dan is hulle werklik instrumente van 'n heiligmakende Gees van God.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)