Onse troos in die hemelvaart van Christus

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 18 H. K.

Ons ten goede

Lees: Kolossense 2: 16 - 3: 4
Teks: Sondag 18 H. K.
Sing: Ps. 68: 8 en 9
na wet Ps 65: 2
na belydenis Ps 47: 3
Sb. 9: 1, 5, 6
Sb. 24: 7

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Die skilder Wilbrink het een dag 'n aangrypend skildery gemaak. Hy het die bekende pilaarheilige Simeon Stylites uit die kerkgeskiedenis van omstreeks 400 na Christus uitgebeeld. Naby Antiogie het daardie man op 'n suil of pilaar gaan sit, om hom so aan die bose wereld te onttrek. Hy was dus 'n paalsitter, maar in 'n andere sin as die dwase paalsitters van ons tyd wat vir sensasie soos rekordjag op 'n paal gaan sit.

Ons dwase pilaarheilige het vir die mense van sy tyd al vinnig die oureool van heiligheid gekry. Hy het hulle vanaf sy pilaar toegespreek en vir hulle boodskappe geskryf. Jare lank het hy dit op sy pilaar vol gehou. Die pilaarheilige is teen die agtergrond van 'n brandende stad geskilder, maar dit het Simon glad nie ontstel nie. Simon het hom mos uit die wereld onttrek. In stille aanbidding van sy God sit hy ver van die gewoel van die wereld bo op sy paal met sy hande gevou.

Moet ons as christene nou ook so ons lewe lei? Net soos so baie christene, as kluisenaar of in 'n klooster, ons van die bose wereld afsonder? Of soos die mense van die middeleeue gese het met 'n boekie in 'n hoekie gaan sit. Is dit die boodskap wat die evangelie van die hemelvaart van ons Heiland vir ons bring? Die oe boontoe want hier onder is dit nie. Is die hemel dan alleen maar belangrik?

Gemeente dit het selfs nie die skyn daarvan nie. Sondag 18 laat ons juis sien dat Christus na die hemel opgevaar het, om in die hemel vir ons wat op aarde lewe, ten goede daar te wees. Nie om ons van die lewe op aarde weg te roep nie. Beslis nie! Maar sodat ons juis op aarde ons roeping onder 'n oop hemel sal vervul. Die magtige van hierdie belydenis is dat daar van hierdie hemelvaart-evangelie 'n kragtige bemoediging uitgaan. Die belydenis: Ek glo in Jesus Christus wat opgevaar het na die hemel, is 'n onderdeel van ons enigste troos. Dis nie vir dowwe neute dat in vraag 49 gevra word: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons? Met ander woorde wat doen ons met die hemelvaart van Christus in ons lewe van elke dag? Daaroor wil ons vanmiddag/more nadink in ons spreke oor:

ONSE TROOS IN DIE HEMELVAART VAN CHRISTUS

Die troos ontdek ons in:

  1. Die feit van die hemelvaart;
  2. Die belofte daarin geskenk;
  3. Die roeping wat daaruit voortvloei.

I Gemeente, Die hemelvaart-evangelie van ons Heiland is in vergelyking met die ander heilsfeite 'n verbasend vredige en lieflike gebeurtenis. Die kersevangelie konfronteer ons met die felle teenstelling tussen die hemelse heerlikheid van engele met hul boodskap van Ere aan God en die armoede van die Kind wat in die krip le. Pase sal ons onder die indruk van die majesteit-openbaring van die opstanding van Christus bring. Engele, blink soos weerlig, het tydens 'n geweldige aardbewing die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit. Van skrik het die wagte gebewe en soos dooies geword. Party van hulle het in die stad aan die priesterhoofde vertel wat gebeur het.

Die hemelvaarts-evangelie is daar teenoor vol van vredige lieflikheid. Jesus het sy dissipels uit die stad op die pad na Betanie gelei. Onderwyl het die dissipels vir Jesus gevra: Here is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig? Hy het hulle geantwoord: Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Na die gespek het Hy sy hande opgehef en hulle geseen, terwyl Hy in die hemel opgeneem word. Die dissipels het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem terug gegaan.

Die aan die kruis deurboorde hande wat seenend oor die dissipels uitgestrek was, sal stellig groot indruk op die dissipels gemaak het. 'n Stroom van seen het oor die apostels uitgevloei, tot 'n wolk Hom uit hulle gesig weggeneem het. Hy is in die vaderhuis opgeneem. Dissipels wat met blydskap terugkeer. Daar is geen geweld of majesteits- openbaring in die hemelvaart evangelie nie. Net 'n vredige lieflikheid.

Op twee punte word in antwoord 46 sterk die nadruk gele: Ons Heiland is van die aarde na die hemel opgeneem, terwyl sy dissipels dit sien. Die eerste is 'n aksie van Vader Hy het Hom opgeneem, om so te se: tuis gehaal. In die tweede plek: dit het voor die oe van die dissipels gebeur. Die hemelvaarts-evangelie is geen mite nie, daar was ooggetuies wat dit waarheids-getrou deurgegee het. Die kategismus heg daar soveel waarde aan dat vir ons drie Skrifgedeeltes genoem word: Markus, Lukas en Handelinge. Daar is betroubare getuies!

Net soos die opstandings-evangelie word ook die hemelvaarts-evangelie deur moderne teoloe tot 'n mite verklaar. Daardie voorstelling is vir die mense van hierdie tyd glad nie meer aanvaarbaar nie. Hulle wereldbeeld het geen hemel of hel meer nie, daar word alleen met dinge wat wetenskaplik waarneembaar is gewerk. Ook die opstandingsverhale moet ontmitologiseer word. Dit gaan net om die boodskap daarin dat God ons in Christus naby is. Verbeel jou: Christus in die hemel opgeneem? Hoe kan 'n mens dit in hierdie tyd nog glo?

Hoe gelukkig is ons gemeente dat ons in ons belydenis teen daardie verwerplike dwaling al kragtig posisie ingeneem het. Juis deur te stel dat Christus voor die oe van sy dissipels in die hemel opgeneem is. Die Bybel spreek ook gewoon oor hemel en aarde, reeds van die aanvang af: In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Daar was toe eenheid die hemel die woonplek van God en sy heilige engele, die aarde is as woonplek vir die mens gegee.

Tussen hemel en aarde is geen teenstelling nie. Wanneer Adam en Eva nie sou geval het nie, sou die afstand tussen die woning van God en die woning van die mens ook eenmaal en vir goed opgehef word. Dit is die groot betekenis wat die leer van die werkverbond ook voor die hemelvaarts-evangelie van ons Heiland het. Adam het geval, maar Christus het in al sy versoekinge staande gebly. Nou word deur die Vader aan Christus geskenk wat in die begin aan die mens belowe was.

Ons Heiland het by sy hemelvaart nie 'n vreemde wereld wat in teenstelling met ons wereld sou staan, betree nie. Nee, Vader het Hom in sy woning opgeneem totdat hemel en aarde saam verenig word. Daarop vestig antwoord 46 ook ons aandag. Christus is in die hemel opgeneem, totdat Hy terugkom om die lewendes en die dode te oordeel. Die hemelvaart is nie die end nie. Met die hemelvaart van Christus is God na die weerkoms van Christus, na die saamvoeging van hemel en aarde, op pad. Al twee, die hemel en die aarde is deur God geskep, hulle pas by mekaar. Die slot van die Bybel het weer op die begin terug gegryp. Vir Johannes is die stad Jerusalem gewys wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is. Sien Openbaring 21. Waar is die hemel? Dit weet ons nie, maar in die groot skepping van God het die hemel sekerlik sy plek.

Die hemelvaart vol eer van ons Heiland moet vir Hom 'n magtig oomblik gewees het. Die Ou-Testament het daar al van gespreek. Die evangelie van hemelvaart is nie net in die evangelieverhale en Handelinge gegrond nie, dit is diep in die Ou-Testament gewortel. Daar word al van die koningskap van God in Christus gespreek, as koning Dawid die ark van die verbond na Jerusalem laat opbring. In die Skrif is die ark die simbool van die troon van God.

As die ark die tempelberg opgedra word, het die psalmdigters daarin die profesie van hemelvaart van die Messias gesien. Psalm 47 sing: God vaar op met gejuig, die Here met basuingeklank. Psalmsing tot eer van God, Psalmsing! Want God is koning van die hele aarde; Ook psalm 68: Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende;.. U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense. So word daar in die Psalms reeds van koninklike heerlikheid van ons Heiland in sy opvaart boon toe gespreek. Nou het Hy opgevaar na sy koninklik paleis in die hemel, nou Hy alles vir ons volbring het.

Drieendertig jaar het Christus, nie in 'n paradys nie, maar op hierdie deur sonde en verderf besoedelde aarde gelewe. Onder mense wat Hom haat, Hom aan die kruis sal hang en doodmaak, het Christus gewerk. Nou het Vader Hom in die suiwere en heilige sfeer van die hemel opgeneem. Geen sonde, dood, gekla, en rou is daar nie, maar dis God wat daar in sy stralend ontoeganklik lig woon. Daar omring engele die troon van God en word sy heerlikheid besing. Daar is ook die heiliges wat God al tot Hom in sy heerlikheid geroep het.

In daardie heerlikheid het ons Heiland in gekom. Wat sal die engele gejuig het, toe die Seun van God wat tegelyk mens is daar binne gekom het. Ek dink hulle het hul siters gevat en tot eer van die Lam 'n vreugdelied gespeel. Die heerlikheid van Hom besing wat geslag is en tog weer lewend geword het en nou sy ere plek aan die regterhand van die Vader ingeneem het. Ja die heilige engele het by die hemelvaart, nie alleen in die hemel maar ook op aarde in beweging gekom.

Wanneer die dissipels nog stip na die hemel kyk, terwyl hulle meester deur 'n wolk weggeneem word, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Die se toe vir hulle: Galileers, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het. Ja, terstond by sy hemelvaart is daar reeds die belofte van sy wederkoms. So het ons Heiland nadat Hy sy werk hier op aarde volbring het na die hemel teruggekeer. Alleen Hy het anders teruggekom as dat Hy die hemel voor drieendertig jaar verlaat het. As die Seun van God het Hy aarde toe gegaan, as God en mens tegelyk kom Hy terug.

Die terugkeer as die Woord wat vlees geword het, as God en mens tegelyk moet ons raaksien. Op hierdie punt het vanaf die eeu van die reformasie die gereformeerdes en lutherane nie tot eenheid kan kom nie. In vraag en antwoord 47 en 48 het die kategismus hom sterk teenoor die lutherse siening van hemelvaart opgestel. Omdat ons nie aldag met Lutherane in aanraking kom, mag hierdie vrae vir ons miskien minder relevant lyk. Tog kan hulle ons help om die betekenis van die heilsfeit van hemelvaart raak te sien.

Luther het geleer dat die menslike natuur van Christus by sy hemelvaart die eienskappe van die goddelike natuur deelagtig geword het. Daarmee sou dan sy waaragtig mens wees tot 'n einde gekom het. So kon hulle ook leer dat Christus liggaamlik in die brood en wyn van die nagmaal aanwesig is. Want die liggaam het dan ook die goddelike eienskap van die alomteenwoordigheid ontvang. Daar het die gereformeerdes in navolging van Calvyn hulle steeds kragtig teen verset. As mens het Christus na die hemel opgevaar! Natuurlik wel in sy verheerlikte menslike natuur, wat egter 'n waaragtig menslike natuur gebly het.

Die posisie keuse kom ook duidelik in vraag en antwoord 47 uit: Is Christus dan nie by ons tot aan die einde van die wereld soos Hy ons beloof het nie? Luther het gese: in Matt 28: 20 staan: "Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wereld" Hy het belowe dat Hy ook na sy hemelvaart altyd by ons is. Dit kan tog alleen as Hy orals teen- woordig is? Pragtig is die antwoord: Christus is waaragtig mens en waaragtig God. Na sy menslike natuur is Hy nie meer op aarde nie; maar na sy godheid, majesteit, genade en Gees wyk Hy nooit meer van ons nie.

Die kategismus leer ons hier skerp te onderskei: Daar is geen sprake van dat Christus nie as mens in die hemel sou wees nie. Hy is daar! Tegelyk bemoedig en vertroos Hy ons hier op aarde deur met sy godheid, genade en Gees onder ons te werk en Homself aan ons te openbaar. Daarmee deel ons Christus nie in twee dele, in sy menslike en sy goddelike natuur op nie. Die waaragtig God wees word hier glad nie teen die waaragtig mens wees van Christus uitgespeel nie. Antwoord 48 se: Stellig nie; want aangesien die godheid deur niks ingesluit kan word nie en oral teenwoordig is, moet daaruit volg dat dit wel buite sy aangenome mensheid is en ewenwel tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

Is dit nou geen verouderde kwessie nie? Moet dit so skerp omskrywe word? Sekerlik, want juis omdat Christus as mens, in sy verheerlikte menslike natuur in die hemel is, kan Hy ons ten goede daar wees. Enkele woorde het in die kategismus partymaal 'n diep inhoud. In die woorde: "ons in die hemel ten goede" is heel die skat van die hemelvaart- evangelie saamgevat. In antwoord 49 word dit verder uitgediep. Dat Hy in die hemel voor die aangesig van sy Vader ons Voorspreker is. Ons mag ook se: Juis, omdat Christus as mens in die hemel is, is daardeur die evangelie van die vergewing van die sondes vir ons sigbaar en tasbaar gemaak.

Nou Christus in die hemel is as ons voorspreker, nou is die duiwel, die satan daar vir goed uit. Dit is so, ondanks dat dit vreemd mag klink. Volgens die Skrif het die duiwel onder die ou-verbond om so te se: nog vry toegang tot die hemel gehad. Dink maar aan die geskiedenis van Job.

Die duiwel het voluit geleentheid gekry om Job aan te kla: Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie........ Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie. Dan gee God alles wat Job het in die mag van satan oor. ( Job 1: 9, 11, 12)

Gemeente, dink ook aan die profesie van Sagaria: Die satan het volle geleentheid gekry, om die hoepriester Josua oor sy klere wat liederlik bevuil was aan te kla. Wat 'n simbool vir die sondigheid van die volk van God was. (Sagaria 3: 1)

Gemeente na die hemelvaart van ons Heiland is dit verby. Tydens die omwandeling op aarde het Christus dit al voorsien en gese: Ek het die satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. (Lukas 10: 18) Hy het geweet watter groot betekenis sy hemelvaart sou he. Want nou Hy op Golgota ons skuld tot die laaste sent betaal het en ons sondes deur sy bloedstorting versoen het, nou is dit eens en vir goed verby dat die duiwel die kinders van God in die hemel aankla. Soos Johannes in Openbaring 12: 10 en 11 die stem uit die hemel weergegee het: Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel gegooi, hy wat hulle dag en nag vir ons God aangekla het. Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het.

Gemeente is die nie heerlik nie? Miskien mag daar twyfel wees of ons wel 'n kind van God is. Hoe kan ons met ons sondes en ongeregtigheid vir God bestaan? Daar kan vanwee ons kortkomings en die skuld van ons lewe teen die sterwe opgesien word. Gemeente wil nou die vriendelike evangelie van die hemelvaart van ons Heiland aanhoor.

Die duiwel is eens en vir goed uit die hemel uitgewerp. Hy kry geen kans om ons aan te kla nie. Voor God staan ons Heiland as waaragtige mens wat as ons plaasvervanger ons skuld aan die kruis betaal het. Hy is vir ons, ons Voorspreker, ons ten goede is Hy in die hemel. Hy se: Vader, Ek wil graag he dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees. So mag ons onder 'n oop hemel lewe! Ons Heiland het die pad na die hart van God oopgemaak. Juis dat Hy daar is, is die onderpand dat ons ook daar waar Hy is, sal kom.

II Ja, sondag 18 spreek nie alleen oor die troos wat in die hemelvaart van ons Heiland le nie. Ook die belofte wat daarin opgesluit is word ons voorgehou. Let op daardie ten tweede in antwoord 49: dat ons ons vlees in die hemel as 'n gewisse pand het, dat Hy as die Hoof ons sy lede ook tot Hom sal neem. Dis 'n sprekend beeld: dat Hy, as ons vlees in die hemel, vir ons 'n gewisse pand is. Soos 'n trouring in die huwelik 'n pand is dat man en vrou mekaar trou sal bly. Daardie pand is sigbaar en tasbaar en sluit alle twyfel uit.

So het ons in ons Heiland in die hemel 'n gewisse pand dat ons daar sal kom waar Hy reeds is. Nou kan ons ook verstaan waarom Calvyn en die gereformeerdes soveel waarde daaraan heg dat Christus as waaragtig mens na die hemel opgevaar het. Soos Hy as mens daarbo by Vader is so sal ons almal wat in Hom glo ook daar kom waar Hy is. Die veertiende hoofstuk van die Johannes evangelie spreek daar ook van. Juis nadat ons

Heiland die ontstellende mededeling van die verraad van Judas en die verloening van Petrus vir sy dissipels voorse het, vertroos hy hulle en in heerlik tedere woorde word van die woning by Vader gespreek: "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van My Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gese het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. " Dit het Christus gese dus staan dit rotsvas: Daarbo is 'n huis, die huis van Vader met baie wonings in daardie een huis. Dink aan 'n woonstelgebou, dis baie wonings in een gebou, met plek vir baie mense. Die evangelie van Jesus Christus is nie bekrompe nie dis ruim en rojaal Hy is daar om vir ons plek gereed te maak. Ons plek is reeds bespreek!

Wat 'n heerlike belofte le daarin opgesluit want as ons plek bespreek is word die plek vir ons oop gehou. Die plek is deur die kosbare bloed van ons Heiland vir ons betaal. En as Hy vir ons plek gereed gemaak het, sal Hy terug kom en ons na Hom toe neem, sodat ons ook daar sal wees waar Hy is. Die teenwoordigheid van ons Heiland in die hemel is vir ons die gewisse pand dat geen mag ter wereld, dood nog duiwel, ons van die plek kan beroof nie. Dis klaar vir ons bespreek!

Let nou ook op die verwysing by hierdie antwoord na Joh. 17: 24 daar se Christus: Vader, Ek wil graag he dat waar Ek is hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle My heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het Omdat U My al voor die skepping van die wereld liefgehad het. Vader Ek wil; se ons Heiland. In daardie woorde "Ek wil" kom 'n geweldige krag openbaar. Dis die wil van Hom wat in ons plek gaan staan het en nou ons Voorspreker is. Wie kan daardie genadige en heilige wil keer? Wie kan die deurwerking van die wil stop? Almal wat die Vader Hom gegee het sal Hy huis toe neem. Maak nie saak of hulle oud en van die lewe versadig sterwe, of in die krag van hul lewe omkom, of ook as kind weggeneem word, Hy het hulle tot Hom geneem! Want Christus, na sy menslike natuur ons gewisse pand, het na die hemel opgevaar. In die hemelvaart van Christus mag ons die troos van die beloftes bely wat ons daarin geskenk is.

III So het ons tot die laaste gekom. Daar is in die hemelvaart van Christus nie alleen troos geskenk nie, maar daar word ons ook 'n roeping opgele. Dit word ons in die ten derde van antwoord 49 saamgegee: Dat Hy ons sy Gees as 'n teepand stuur, deur wie se krag ons soek wat daarbo is, waar Christus is aan die regterhand van God, en nie wat op die aarde is nie. Weer word die beeld van 'n pand gebruik nou egter in omgekeerde sin. In die 'ten tweede' is van Christus in die hemel as 'n pand vir ons gespreek. Nou word van die Gees van Christus as 'n teepand gespreek wat vir ons gestuur is.

In Christus het ons, bo ons pand. Nou gee Hy van sy kant ons op aarde ook 'n pand in sy Gees, die trooster self wat Hy ons stuur. Troupande word uitgewissel. Die man gee dit aan sy vrou en die vrou sal dit op haar beurt vir die man gee. Pand en teepand behoor saam. In Johannes 16: 7 het Jesus daar self van gespreek: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek heengaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

Met Pinkster het die Trooster gekom. Hy het sy Gees op alle mense uitgestort. Nou rig die Gees ons harte op Hom wat bo is. Soos Paulus se: Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, en nie op die dinge wat op die aarde is nie. (Kol. 3: 1) Word ons hier deur die apostel tot wereld myding opgeroep? Die woorde word partymaal so uitgele. Dink nog maar eens aan Simon Stylites, die pilaarheilige van die begin van die preek. Moet ons as gemeente van onse Here Jesus Christus ons van die dinge van hierdie wereld afkeer?

Geen sprake van! Die soek van die dinge wat bo is, is om ons lewe op Christus te rig wat na die hemel opgevaar het. Die Gees wat Hy van bo vir ons gestuur het, gaan ons harte op Christus in die hemel rig, sodat ons hier op aarde ons roeping sal vervul. Net voordat Christus in die hemel opgeneem is, het Hy dit mos self vir dissipels gese: Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wereld. (Hand. 1: 8)

Die Handelinge van die apostels laat ons dan sien hoe die dissipels as getuies die roeping in die wereld tot in die wereldstad Rome, vervul het. Gemeente soek die dinge wat bo is, om die roeping hier op aarde te vervul. Leef en werk onder die oop hemel, soek daarin die sin van ons lewe op aarde. Om die dinge wat bo is te soek is nie om met ons rug na hierdie wereld gekeer te staan nie. Prof. Holwerda het eenmaal geskryf: Die kerk vertoon die beeld van 'n leer wat in aaneengeslote formasie agteruit marsjeer. Gemeente, laat dit nou nie van ons gese kan word nie.

Dink aan dit wat Petrus in sy Pinkster-toespraak gese het: Julle seuns en dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Dit is: in die krag van Christus aan die werk spring. So het ons u in sondag 18 die enigste troos in lewe en sterwe verkondig. In die feit: Christus is as ons Voorspraak ons ten goede in die hemel. In die belofte: Ek gaan om vir julle plek gereed te maak. En in die roeping soek wat daarbo is. Dis 'n innemend Evangelie, maar tegelyk ook 'n blye boodskap van die hemelvaart van Christus wat aktiveer. Gemeente, Sursum Corda. Die hart boon toe!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)