Sinds Christus se hemelvaart is elke dag 'n groot versoendag

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 18 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
SB.24: 1, 3
Gebed
L. Hebr. 8: 1-7 & 9: 1-12 en 24-28
Ps. 110: 1, 2, 5
Prediking
Ps. 5: 4, 6, 11
Gebed
Kollekte
Ps. 132: 6, 10
Seën

Broeders en susters,

Ons sal vanoggend aansluitend by hierdie erediens saam met ons kinders nog 'n bietjie ekstra die fees van Christus se hemelvaart vier.

Dit is 'n taamlike nuwe ding in ons gemeente.

Vroeër het ons maar net elke jaar die "kinder-kersfees" gevier.

"Kinder-paasfees" of "-pinksterfees" was nie gebruiklik nie. Laat staan 'n "kinder-hemelsvaartsdagfees"!

Die verklaring daarvoor lê ongetwyfeld hierin dat ons ons in die viering van die heilsfeite te veel deur ons gevoel laat lei het.

Is Kerstfees vir ons gevoel nie die mooiste van ons kerklike feeste nie? God se eniggebore Seun het mens geword! God as 'n baba in 'n voerbak. Herders en magiërs wat Hom kom aanbid.....

God het so naby ons gekom -Immanuel!- dat Hy onder die mense grootgeword het, met die mense saamgegaan het; hulle kon Hom aanraak, na Hom luister, hulle deur Hom laat genees....

Daar is dus alle rede om die koms van God se Seun na die aarde toe as 'n mooie fees te vier.

Maar sy vertrek weer van die aarde af terug hemel toe- dit gaan 'n mens tog nie vier nie? !

Jy vier iemand se vertrek as jy bly is dat jy eindelik van hom ontslae raak. As die verhoudings nie te goed is nie. As jy daardie persoon liewer kwyt as ryk is.

Maar ons kan tog nie bly wees dat ons liefste Here weggegaan het nie?

Sy hemelvaart was 'n ingrypende afskeid waarna g'n mens Hom nog ooit hier teruggesien het nie.

Kan ons ook dié feit vier? !

Ja, gemeente, seuns en dogters, dit kan.

Dit moét selfs.

Want Christus se vertrek was nie 'n verlies nie, al voel dit dalk vir u wel so. "Dit is beter vir julle dat Ek hemel toe gaan", het Christus vir sy dissipels gesê. My vertrek word g'n verlies nie, maar wins.

En dié wins wil ook die Kategismus vir ons duidelik maak in Sondag 18. Moet maar kyk: eers word in vraag en antwoord 46 gesê dat Christus "ons ten goede" in die hemel is. En in vraag en antwoord 49 word uiteengesit wat die nut van sy hemelvaart dan vir ons is.

Kom ons laat ons vandag nie deur ons gevoel lei nie, maar deur die Woord van God. Met behulp van die Katgismus mag ek u die wins van Christus se hemelvaart vir ons verkondig, sodat ons daarna saam met ons kinders des te beter die hemelvaartsfees kan vier.

Ek het my boodskap so saamgevat:

SINDS CHRISTUS SE HEMELVAART IS ELKE DAG 'N GROOT VERSOENDAG

WANT:

  1. IN DIE HEMEL VERSOEN CHRISTUS DAAGLIKS ONS SKULD BY GOD
  2. VANUIT DIE HEMEL VERLEEN CHRISTUS ONS DAAGLIKS DIE SEEN VAN GOD

1. Om die betekenis van Christus se hemelvaart goed te verstaan, kan ons die beste eers na die erediens van die Ou Testament teruggaan. So doen die skrywer van die brief aan die Hebreërs dit ook.

Ons het in die eerste vers van hoofstuk 8 gelees dat die hoofsaak van sy verhaal in hierdie pastorale brief is "dat ons 'n Hoëpriester het wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele". Dus, met ander woorde: dit gaan in hier die hele brief oor ons Heiland wat nou weer in die hemel is.

Maar om die betekenis daarvan vir ons duidelik te maak, gryp ook die skrywer van hierdie brief telkens op die Ou Testament terug. Want Christus se hemelvaart was 'n vervulling van die Ou-testamentiese erediens. In dié erediens het God van te vore reeds sigbaar gemaak en uitgebeeld wat sy Seun eendag sou gaan doen. Die verrigtinge by en in die heiligdom was "'n afbeelding en 'n skaduwee van die hemelse dinge". So noem die skrywer dit in hoofstuk 8: 5 en in 9: 24 noem hy die heiligdom op aarde "'n teëbeeld van die ware heiligdom wat in die hemel is". Ons sou vandag miskien sê: 'n maket.

Julle weet wat 'n maket is, seuns en meisies? As 'n argitek 'n plan maak vir 'n nuwe skoolgebou, of vir 'n nuwe kerk, maak hy eers 'n tekening waarop hy wys hoedat daardie nuwe gebou sal gaan lyk. Maar partymaal maak hy ook 'n model van daardie nuwe skool of kerk: klein, maar wel so dat 'n mens al presies kan sien hoe dit gaan word. Onthou julle nog dat julle verlede jaar almal 'n klein model gekry het van die nuwe kerk vir Mamelodi, wat julle as 'n spaarpot kon gebruik? Dit was nou 'n maket.

Die tabernakel in Israel se laer, en later die tempel, was ook 'n maket. 'n Voorbeeld van hoe dit eendag sou word; van hoe dit vandag is.

Ja, want vandag het ons mos nie meer so'n tent of tempel nie. Die egte heiligdom wat God beplan het, staan inmiddels klaar gebou in die hemel. En daar verrig die Here Jesus vandag die erediens.

Maar omdat ons nie sommer in die hemel kan kyk nie, moet ons maar mooi na daardie tent vroeër in die woestyn kyk. Daaruit kan 'n mens leer wat Christus vandag vir ons doen in die hemelse heiligdom.

Die tabernakel was God se woning by die mense. Hy het sy eie tent in Israel gehad as die bewys dat Hy by hulle wou woon en met hulle wou saamgaan.

Die naam van sy tent was ook: tent van samekoms. Daar wou God saamkom met sy volk, hulle ontmoet.

Dit was 'n mooie naam. Maar inderwaarheid was alles nie so mooi nie. Want die tent van samekoms was toe vir die meeste mense. Niemand kon daarin sommer binnegaan nie. Jy sou die dood sterwe! Net 'n klompie priesters was toegelaat om 'n aantal noodsaaklike handelinge in God se tent te verrig.

En hulle mog ook maar net in die voorste gedeelte kom. Tot God se binnekamer, agterin die tabernakel mog ook hulle nie deurdring nie.

God het Hom in die agterkamer teruggetrek agter 'n digte gordyn waarop almal engele, gerubs geborduur was. Gerubs wat herinner aan die gerubs wat die toegang tot die paradys moes bewaak na Adam en Eva daaruit verdrywe was. Polisiemanne van God dus, wat elkeen 'n halt toeroep wat dit sou waag om tot voor God se troon te probeer deurdring.

God het dus wel by die mense gewoon. Maar daar was glad nie 'n oop kommunikasie nie. Dit kon helaas nie. Die sondes van die volk het dit onmoontlik gemaak.

Ons lees in Lev. 16: 16, die hoofstuk waarin de hele plegtigheid van die Groot Versoendag vertel word, dat God se tent van samekoms gewoon het "temidde van Israel se onreinighede". As dus iemand sommer by God sou inloop, sou hy die vuiligheid van die sonde saamneem en God se woning verontreinig. En as God sommer uit sy heiligdom na buite toe sou kom, sou Hy dadelik Homself bevuil aan die onreinhede van die volk.

Dus moés die HERE Homself wel op 'n afstand hou agter 'n veilige gordyn.

Net een man mog van tyd tot tyd daardie afstand volledig oorbrug en tot agter die gordyn deurdring. Die hoëpriester, net een keer 'n jaar.

Daardie een man was dan die verteenwoordiger van die hele volk. Hy het nie net vir homself gekom nie, maar al sy broeders en susters as 't ware saamgeneem. Sy klere het dit duidelik gesimboliseer. Sowel op sy bors as op sy skouers het die hoëpriester twaalf edelstene met daarop die name van die twaalf stamme van Israel saamgedra. Hy het dus die hele volk op sy skouers en op sy hart saamgedra!

En hy het elke jaar op die Groot Versoendag tot voor God se aangesig in die binnevertrek verskyn om daar vir die hele volk die skuld as gevolg van die sondes te versoen.

Maar daarvoor moes die hoëpriester eers buite die tent op die groot altaar 'n skuldoffer bring en 'n dier laat doodbloei. Daardie bloed was 'n herinnering aan die erns van die sonde: eintlik het die hele volk dit verdien om vir straf dood te bloei. Daardie bloed moes dan deur die hoëpriester saamgeneem word na God toe om daarmee vergewing van die sondes te bepleit.

Slegs deur hierdie jaarlikse seremonie het God sy tent in Israel nie afgeslaan en Homself teruggetrek in die hemel nie. Daardie bloedige geskenk wat die hoëpriester elke jaar namens almal kom aanbied het, het sy verontwaardiging oor die sonde laat bedaar en Hom laat besluit om nog by sy volk te bly.

Nou maar goed, sê die skrywer van die Hebreërbrief: daardie jaarlikse plegtigheid by die Ou-Testamentiese tabernakel het Christus kom vervul. Die hele erediens wat eeuelank dag vir dag en jaar na jaar rond die tabernakel, en later die tempel, uitgevoer is, het na Hom vooruitgewys. Ja, dit het vir Hom gewag. Die bloed van stiere en bokke op die altaar en op die versoendeksel agter die voorhangsel kon mos die sondes nie regtig wegneem nie, aangesien dit geen mensebloed was nie. En die hoëpriester kon ook nie regtig vir die hele volk by God instaan nie aangesien hy ook self 'n sondige mens was. Daar moes 'n beter Hoëpriester kom, 'n mens sonder sonde, wat sy eie bloed, sy eie lewe aan God kon offer en aanbied.

Dié beter Hoëpriester is God se eie Seun. Hy het eers die groot offer vir die sondes van God se hele volk op die altaar gebring- dit was die Goeie Vrydag, sy kruisdood op Golgota. Daarna, na sy opstanding uit die dood, het Hy die bloed van die altaar, sy eie bloed!, saamgeneem na God toe, na sy heiligdom in die hemel.

Want God se eintlike woning is natuurlik nie 'n aardse tent nie. Dit is sy hemelse paleis. Om in daardie heiligdom deur te dring, is vir 'n mens heeltemal onmoontlik. God het Hom daarin teruggetrek agter 'n muur van onsigbaarheid. En Hy benodig nie gerubs om sondige mense op 'n afstand te hou nie: die swaartekrag van die aarde verhinder die mens om selfs maar in die buurt van die hemel te kom.

Daardie ondeurdringbare verskansing was vir ons Hoëpriester hoegenaamd geen belemmering meer nie. Hom het die swaartekrag nie gekeer nie en die onsigbaarheid van die hemel was vir Hom nie 'n probleem nie. Maar Hy het sommer deurgedring tot binne die voorhangsel, tot vlak voor God se troon om daar sy eie bloed aan te bied as die skulddelging vir ons sondes.

God het Hom nie gekeer nie maar Hóm laat kom. Ja, God het Hom selfs verwelkom! Want hierdie bloed kon eindelik die lankal begeerde versoening tussen Hom en sy volk bewerk.

Dit is die betekenis van Christus se hemelvaart, gemeente: ons Hoëpriester het die HERE opgesoek met die resultaat van sy offer om vir ons vir eens en vir altyd vergewing te bewerk.

En Hy het daar by die HERE gebly! Al die vorige hoëpriesters moes dadelik terug, nadat hulle die bloed voor God se aangesig gesprinkel het. Weg uit die heiligdom en die gordyn was weer 'n jaar lank toe. Want hulle offers was nie regtig in staat om die skuld van God se volk te versoen nie.

Maar Christus se een offer was meer as voldoende om die skuld van die hele wêreld weg te neem. Daarom mog Hy gaan sit by God op die troon om voortaan ononderbroke ons skuld met sy offer by God te bedek. Hy bly daar nou as ons Hoëpriester wat ons almal op sy skouers en op die hart dra. Hy behartig voortaan regstreeks ons belange by die Vader. Kan ons ons 'n beter Voorspraak wens?

Wanneer die Kategismus in antwoord 49 van Sondag 18 hierdie betekenis van Christus se hemelvaart aanwys, voeg hy meteens as ekstra voordeel toe: "dat ons ons menslike natuur nou in die hemel het as 'n betroubare waarborg dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem".

Die Kategismus bedoel eenvoudig dit: die feit dat Christus na sy hemelvaart by God in die hemel mog bly, waarborg ons dat die weg na God toe ook vir ons nou ooplê. Christus het mos tot in die hemelse heiligdom deurgedring as 'n mens van vlees en bloed net soos ons is. Maar dan is die toegang na God en en omgang met God dus nie langer geblokkeer vir mense van vlees en bloed nie. Dan is ook vir ons die gordyn eenkant geskuif en wag daar ook vir ons 'n plek êrens in God se groot troonsaal. En ons Hoëpriester sal ook nie rus nie voordat ook ons is waar Hy mag wees.

Die Kategismus bestee in Sondag 18 twee vrae en antwoorde daaraan, gemeente, om so goed moontlik uit te lê hoe sinds die hemelvaart nou die verhouding tussen die mens-wees en die God-wees van Christus is. Die verhouding tussen sy menslike natuur en sy goddelike natuur. In daardie vrae en antwoorde, wat nie so maklik is nie, word walgegooi teen die dwaalleer dat na die opstanding, en sekerlik na die hemelvaart Christus nie meer voluit mens soos ons sou gebly het nie.

Met name die Lutherse kerke het so geleer in die tyd dat hierdie Kategismus geskryf is. Hulle het geglo dat Christus se menslike natuur, sêmaar: sy liggaam, nou vergoddelik is en daarom ook goddelike eieskappe gekry het. So sou sy liggaam nou oral teenwoordig kan wees en sou dus tog, nes in die Roomse misleer, by die heilige Nagmaal die egte liggaam en bloed van Christus in die kerk op die altaar aanwesig wees.

Die Gereformeerde Belydenisskrifte hou dit egter uitdruklik vol: ook na die hemelvaart het Christus naas sy God-wees 'n egte mens gebly. Hy het by sy hemelvaart sy liggaam, sy menselike natuur, nie iewers halfpad verloor nie. Dit het ook nie so verander dat dit half-goddelik geword het nie. Hy is nog altyd heeltemal mens soos ons.

Is dit belangrik om te weet? Maak dit saak of Hy wel of nie 'n liggaam van vlees en bloed soos ons behou het?

Ja, dit is van deurslaggewende belang. Want alleen so kan Hy steeds ons Hoëpriester by God wees. Die brief aan die Hebreërs is daaroor baie duidelik: omdat ons mensekinders van vless en bloed is, moes Hy dit op dieselfde manier word om as Hoëpriester namens ons by God te kan optree.

Hemelvaart voel soms as 'n verlies. Ons Here het ons gelos. Maar inderwaarheid het Christus ons glad nie gelos nie. Hy het ons as mens van vlees en bloed maar net voorgegaan na die Vader toe om vir ons almal die pad te baan en die gordyn oop te hou en om in lewende lywe Vader daaraan te herinner dat daar 'n hele mensegeslag is wat weer by God wil woon.

2. In die Ou-Testamentiese erediens het die Hoëpriester nadat Hy die skuld van die volk met bloed by God bedek het, weer na buite toe gekom om die seën van die HERE op die volk te lê. God se seën vanuit die binneste heiligdom was die sigbare blyk dat God die versoenbloed aanvaar het en by sy volk sou bly woon, ten spyte van alle sondes wat oorgebly het.

En Israel het daardie seën konkreet ervaar in die werklikheid van die daaglikse lewe: in die reëlmatige afwisseling van reën en sonskynweer en in die opbrings van die land, in die aanteel van die vee en in kinderseën, in 'n vredige oudag en in die oorwinning op hul vyande.

Ons Hoëpriester Jesus Christus het ook na God toe gegaan om God se seën aan ons te kan verleen. Hy het dit baie duidelik laat weet by sy hemelvaart. Die laatste wat sy dissipels mos van Hom gesien het, was hoedat Hy sy hande in 'n gebaar van seëning oor hulle uitgebrei gehou het terwyl Hy na die hemel opgestyg het. Daardie gebaar was vol belofte: Ek het vir julle deur My offer Vader se seën verdien en gaan haal nou daardie seën by die Vader. En voortaan mag julle van die seën lewe.

Maar Hy het dan nooit uit die hemel teruggekeer nie? !

Die hoëpriester in die Ou Testament was maar 'n kort rukkie in die binneste heiligdom en het dan in lewende lywe na sy mense teruggekeer om God se seën te verleen. Die volk kon daarop wag.

Maar waar het óns Hoëpriester gebly? Het Hy ons tog nie op 'n manier gelos nie?

Niemand het Hom mos nog ooit weer teruggesien nie.

Nee, broeders en susters, Hy het nie. As mens het Hy inderdaad nie na die aarde toe teruggekeer nie maar verteenwoordig Hy ons belange in die hemelse heiligdom. Maar ons Hoëpriester is mens én God terselfdertyd. En met sy goddelike majesteit, met sy Heilige Gees het Hy wel na ons teruggekom om God se genade en seën aan ons uit te deel.

Hoe moet ons ons dit voorstel? Is ons Hoëpriester dan gesplete? Het Hy 'n menslike kant wat nou in die hemel is, en 'n goddelike kant waarmee Hy na ons op die aarde weergekeer het?

Die Kategismus bespreek die vraag spesiaal in Sondag 18, omdat daar in die vroeë kerk mense was wat inderdaad so'n gespletenheid in ons Heiland geleer het. Sy Goddelikheid en sy menslikheid sou soos olie en water wees: jy kan dit bymekaar gooi, maar dit wil nie mooi meng nie. Dit bly mekaar afstoot as twee teenpole.

Die Kategismus maak egter duidelik dat daar glad nie sprake is van 'n gespletenheid in Christus nie. Kom ons vergelyk dit met 'n gloeilamp: sê-nou Christus se menslike liggaam van vlees en bloed is die hol glasbolletjie en die lig daarbinne-in is sy goddelikheid, sy Heilige Gees. Maar daardie lig bly nie opgesluit binne daardie glasbolletjie nie, maar straal ver daarbuite uit en verlig die hele omgewing. Maar daarmee het die lig die glasbolletjie nie verlaat nie; dit bly steeds daar binne-in en is daar ook op sy sterkste. So is dit ook met Christus se goddelike Gees: Hy het Christus se menslike liggaam by God in die hemel nie verlaat nie maar bly steeds daar. Hy is egter ook nie binne Christus se liggaam opgesluit nie maar bestraal ons almal hier op aarde met die goddelike seën.

Ons Hoëpriester hét dus uit die hemelse heiligdom na ons teruggekeer met die seën van God wat Hy deur sy offer vir ons verdien het. Maar Hy het só weergekeer dat Hy in een keer die hele volk van God, orals in die wêreld kan bereik. Dit kan nou. Voor sy kruisdood moes sy goddelike krag en majesteit meestentyds in Hom verborge bly. Dit kon nie al uitstraal na alle kante nie. Want Hy moes eers 'n pad van vernedering gaan.

Maar vandag laat Hy ons almal deel in die goddelike seën wat Hy vir ons verdien het.

Hierdie seën bestaan vandag nie meer in die eerste plek in materiële welvaart soos gesondheid, goeie oeste, vrede en 'n geseënde ouderdom nie. Dié soort sake bring naamlik nie die hemel op aarde nie. Dié soort sake kan 'n mens juis van God in die hemel laat vergeet. Daarom bestaan die seën van die Here vandag allereers hierin dat sy Gees ons leer om te soek wat daar bo is, waar Christus by God in die hemel is.

Dit beteken nie dat ons alle belangstelling in die lewe op hierdie aarde verloor en voortaan nog maar net Bybellees en bid en psalmsing nie. Maar dit beteken dat ons die lewe op aarde nie meer kan losdink van die hemel nie. Ons mense het ons lewe en ons toekoms nie in eie hande nie. Dit lê in die hande van ons Hoëpriester in die hemel.

Omdat ons Christus nie meer liggaamlik sien nie, sou ons sommer weer van Hom kon vergeet. Uit die oog, uit die hart. Ons sou kon vergeet wát Christus as ons Hoëpriester daagliks by God doen: ons sondes bedek. Maar die Gees hou ons oë en ons harte oop daarvoor.

Christus se Gees help ons om, soos Israel op die Groot Versoendag, elke dag opnuut die sondes wat daar in ons oorgebly het, soos 'n sondebok uit ons lewe weg te jaag, in die woestyn in. Want daardie sondes mag die weg na Vader toe, wat Christus vir ons oopgemaak het, nie meer blokkeer nie.

Noudat God weer ons Vader wil wees, wil ons weer in alles sy kinders wees. Vir Hom wil ons weer lewe, Hom wil ons dien, aan sy Koninkryk wil ons saambou. Ook as ons ons lande bebou, ons kantoorwerk verrig, motors regmaak, inkopies doen of 'n vakansie beplan.

So seën ons Hoëpriester in die hemel ons lewe op aarde vandag. Hy ontplooi deur sy Heilige Gees goddelike kragte in ons lewe om dit weer al hoe meer op God te rig.

Christus is dus twee keer 'n waarborg vir ons, sê die Kategismus. As mens van vlees en bloed in die hemel waarborg Hy vir ons dat die mens weer by God mag woon. Maar tegelyk waarborg sy Heilige Gees by ons hier op aarde dat God weer by die mense wil woon.

Dit wat God met die tabernakel eendag in die woestyn reeds beoog het, het dus in beginsel eindelik werklikheid geword: ons kan nou regtig praat van 'n samekoms van God en sy volk.

Was Christus se vertrek na die hemel dus 'n verlies ten opsigte van sy koms met Kersfees?

Dit was inteendeel 'n groot stap vorentoe op die weg na die totale herstel van die lewe met God eendag op die nuwe aarde.

En as u dit ingesien het, sal dit nie moeilik meer wees om die hemelvaartsdag as 'n fees te beleef nie.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)