Deur Christus' opstanding kom Sy erfenis beskikbaar

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

Paasfees 11-04-1993

Ps 65: 1, 2,
Nicea
Ps 65: 3, 4
Skb 24: 5, 6, 7
Ps 126: 1, 2, 3
Lees: Filip. 3
Teks: Sondag17

Brs en srs!

U weet wat 'n erfenis is. 'n Erfenis is iets wat 'n mens kan ontvang na iemand se dood. Die persoon wat afgesterf het, kan sy besit nie meer gebruik nie. Daarom word dit vir 'n ander gegee.

Gewoonlik gaan dit na sy kinders of na sy familie of anders na die persone wat deur die afgestorwene eerder aangewys is in sy testament.

In die Bybel word die gang van sake rond 'n erfenis as 'n beeld gebruik.

Onder andere om die verhouding tussen Jesus Christus en die gelowiges te teken.

Christus is dan die erflater en die gelowiges die erfgename.

Maar hierdie beeld word op 'n besondere manier toegepas.

Immers gewoonlik moet die erflater eers afsterwe en dan begin die regte van die erfgename.

Maar in hierdie geval gaan dit effens anders.

Die regte van die erfgename begin nie op die oomblik dat Jesus sterf nie, maar dit begin op die dag dat Hy die graf verlaat.

Nie sy dood stel die erfenis vry nie, maar sy opstanding!

Boonop deel Hy nie uit van wat hyself vanweë sy dood tog nie meer kan gebruik nie, maar Hy deel uit van sy lewe.

As erflater wil Hy sy erfenis saam met sy erfgename geniet.

Dit maak hierdie erfenis heeltemal uniek.

So uniek soos die erflater self.

Ons tema vir die preek is:

Deur Christus' opstanding kom sy erfenis beskikbaar

Ons mag deel in

  1. in sy geregtigheid
  2. in sy heiligheid
  3. in sy heerlikheid

Vanmiddag mag ek vir u die paasevangelie verkondig.

Die heerlike boodskap van die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Dit is met hierdie boodskap dat die apostels die wêreld in getrek het.

Jesus Christus is gekruisig, Hy het gesterf en is begrawe.

Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood.

U kan maar eens 'n slag nalees in die Pinksterpreek wat Petrus hou. Daarin gaan dit steeds oor die evangelie van die opstanding van Christus.

Dit is altyd die kern van die christelike prediking.

Christus het opgestaan.

Tog moet ons sê dat die volle betekenis van hierdie feit eintlik veels te groot is om dit kan bevat. Ons besef wel die evangelie van Pase is groot nuus, maar dit is so moeilik om die implikasies van hierdie boodskap werklik te ervaar. Te ervaar op so'n manier dat dit regtig ons hart raak.

Ek vermoed dat ons bevattingsvermoë as sterflike mense eenvoudig te klein is om 'n boodskap van so 'n aard te kan hanteer.

As gevolg daarvan is ons geneig om die betekenis van die opstanding te verklein tot 'n vir ons bevatbare maat.

Ek wil vir u dit 'n bietjie nader uitwerk met 'n voorbeeld.

U weet dat ons almal sterflike mense is. Daar kan met 'n mens enig ding in sy lewe gebeur dat hy voor sy tyd (soos ons dit noem) moet sterwe. Dink aan 'n ongeval, 'n dodelike siekte of wat ook maar. Ons weet dit almal. Maar ons hoop ook almal iewers diep in ons hart dat ons almal, sê maar so oud soos ou sr Douma sal word. So 'n jaar of 85.

Stel nou dat ek vanmiddag vir julle almal kon profeteer. Julle sal almal die 85 haal. Niemand sal voor die tyd aan siekte of 'n ongeval doodgaan nie. Julle almal sal die leeftyd van die seer sterkes haal.

Dit sou darem goeie nuus wees, nê?

Ons sou geneig voel om 'n groot fees te hou met mekaar.

Ons bel al ons vriende en bekendes: Nee, maar nou het ek vanmiddag goeie nuus gehoor! Ek sal nie voor my 85e sterwe nie. Vanaand gaan ek dit vier. Kom jy ook?

Waar of nie waar nie? So voel ons. Ek self sou so voel dink ek.

En dit is nou presies, gemeente, die bewys hoe oppervlakkig ons dink. Immers die paasboodskap waaroor ons ons nie so kan opwind nie, is oneindig baie groter.

Ons kan al feesvier as ons hoor dat ons 85 mag word.

Maar Pase sê dat ons glad nie sal sterwe nie. Die dood is oorwin!

En dan kan ons reageer: O pragtig, soveel te beter ! Nog langer lewe lê voor!

Maar weereens, so 'n reaksie onderstreep nog 'n slag ons eindelose oppervlakkigheid.

Immers wat sou so'n boodskap ons feitlik help as daar nie tegelyk ook anders gegee word nie, namelik verlossing van die sonde?

Want gemeente die Bybel leer vir ons dat dit ons eintlike probleem is. Dit is nie ons sterflikheid nie, wat ons steeds maar weer dink, maar ons sondigheid!

As ons daarvan nie bevry word, dan help selfs 'n belofte van ewig lewe niks nie.

En daarom is ons vandag so dankbaar dat die Kategismus ons wil help om die betekenis van die Paasfees vir ons uit te spel.

Jy kry mense wat nie hou van belydenisgeskrifte nie. Hulle sê graag: Die Bybel alleen is genoeg. Lees net die paasverhaal soos die Bybel dit vertel en vul dit nie aan met wat 'n mensgemaakte belydenis daarvan sê nie.

So 'n opvatting is weer 'n onderstreping van ons neiging tot oppervlakkigheid.

Lees net die paasverhaal self. Dit is genoeg, word gesê.

En wat lees jy daar dan in? Dan lees jy nie meer as wat jy met jou beperkte dinke daarin kan of wil lees nie.

Maar jy is nie die eerste bybelleser nie. Die kerk lees die Bybel al 20 eeue. In die kerk is al 20 eeue nagedink oor: wat beteken dit alles? Waarom is hierdie boodskap so belangrik?

Daar is geworstel met allerhande vrae.

Hoe diep gaan die werk van Christus?

Wat is die dood wat Hy oorwin het?

Wat is die lewe wat Hy verwerf het en nou uitdeel?

Om antwoorde te kry op hierdie vrae is gesoek in heel die Bybel.

In die HK vind ons die neerslag van 'n eeuwelank dinkproses oor die betekenis van die heilsfeite uit die Bybel.

En daarom ontvang die vraag van Sondag 17: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? 'n veel diepgaander antwoord as wat ons sommer self kon bedink.

Die eerste deel van die antwoord is vir ons bekend. Dit is mos die paasboodskap. Hy het deur sy opstanding die dood oorwin.

Maar daarby moet ons nie bly staan nie. Ons moet nou veral verder lees... Hy het die dood oorwin, sodat Hy ons aan die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het deel kon gee.

Hy maak ons deelgenoot van sy geregtigheid.

Geregtigheid - dit beteken dit is weer goed tussen God en ons.

Ons verhouding met God was totaal verbreek. Ongeregtigheid, sonde het ingekom.

Om daardie breuk met God te herstel moes baie gebeur.

Daarvoor moes betaal word.

Met nie minder as met die dood van die Seun van God nie.

Ons wil nie nou breed daarop ingaan nie, maar ons moet dit noem dat dit ons eintlike nood was.

Die diepste nood in ons lewe is nie dat dit 'n sterflike lewe is, waaraan noodwendig eendag 'n einde moet kom nie.

Nee, ons eintlike nood is baie dieper. Dit is die nood van die sonde. Die sonde wat 'n breuk tussen God en ons geslaan het.

Die dood wat die aardse lewe afsny, die liggaamlike dood is eintlik slegs 'n onderdeel van 'n veel ernstiger saak n. l die ewige dood waaraan ons as mense onderworpe is.

En omdat die Here Jesus juis daardie dood oorwin het, is die wins van sy opstanding baie groter as wat ons in ons oppervlakkigheid besef.

God se Seun moes self die ewige dood ingaan om ons redding van daardie dood te bewerk.

Wel, teen daardie agtergrond moet ons die opstanding probeer verstaan.

Onthou: Jesus moes 'n ewige dood gesterf het.

'n Ewige dood wat aan die kruis oor Hom gekom het.

Wel, wat wil by die stand van sake dan die opstanding sê?

Dit kan slegs dit beteken: Christus het met daardie dood klaargekom!

Hy het die skuld klaarbetaal!

Hy het na ons wêreld gekom om Middelaar te wees.

Om as 'n Middelaar te sterwe vir ons sondes. Dit was die taak wat Hy op Hom geneem het. Dit was sy opdrag.

Wat beteken dus die opstanding?

Sy opdrag is voltooi!

Ons Borg het nie gefaal nie. Hy het het ons skulde op Hom geneem en betaal. Klaarbetaal!

Ons skulde is voldoen. Daarvoor ontvang Jesus sy bewys van betaling, namelik sy opstanding!

Sy opstanding is self die bewys dat betaal is. Dat geen verdere betaling nodig is nie; dat aan al God se eise vir redding van die mens voldoen is.

Meer wou God nie vra nie. Sy eis was die dood van die Seun van die mens.

Wel Hy het sy lewe gegee. En daarmee is dit klaar.

Die lewende Christus is die lewende bewys dat dit weer goed is met God.

Besef u nou wat die reikwydte van die paasevangelie is?

Christus is, nadat Hy die skuld op Hom geneem en betaal het, deur God in ere herstel. Ofwel Hy is geregverdig.

En dit is hierdie geregtigheid wat Hy vir ons uitdeel.

Ons mag weer lewe in die nabyheid van God.

God is vir ons nie meer net 'n verterende vuur nie, maar Hy word ons Vader. Hy neem ons in sy liefdevolle arms.

Dit is nou regtig die mees bevrydende boodskap wat ooit op aarde verkondig is.

Daar is 'n erfenis beskikbaar.

Die erfenis kan deur gelowiges afgehaal word.

Maar onthou, nie met 'n reg asof jy daarvoor self gewerk het nie. Nee, jy kan die erfenis net gratis afhaal.

Hoor hoe Paulus met groot geesdrif daaroor kan praat.

Fil 3: 6: Ek was wat geregtigheid in die wet betref onberispelik.

Paulus wil sê, vroeër het ek my geregtigheid in die wet gesoek. Ek het geprobeer om daarmee my redding self te bewerk.

vers 7: maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus' wil skade geag.

vers 9: Ek wil in Hom gevind word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof.

Christus is ons geregtigheid.

Dit is waaroor dit gaan.

En hierdie geregtigheid is slegs per erfenis beskikbaar. Jy het daarop regte, maar geen regte op grond van verdienste nie, dit is genaderegte.

Want Christus self het jou tot sy erfgenaam gemaak!

2. Ons mag deel in sy heiligheid.

Ons het al gesien dat ons die Paasevangelie nie mag degradeer tot 'n soort gerusstelling by 'n naderende dood nie.

Of as 'n tema wat in begrafnistoesprake tuishoort.

Kom ons laat ons hier weer lei deur die apostel Paulus in sy brief aan die Filippense.

In vers 9 het hy gepraat van die geregtigheid wat ons ontvang deur die geloof in Christus.

En wat is die effek daarvan?

vers 10: sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding.

en vers 11: of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.

Sien u hoe hier die krag van Christus opstanding onmiddellik verbonde word met ons opstanding uit die dode?

Paulus bedoel hier dat die opstanding van Christus 'n groot krag het. 'n Krag wat in ons lewe werksaam is. Of in elk geval behoort tewees.

Immers sinds Pase kry ons lewe 'n nuwe rigting.

Ons was op pad na die dood, maar nou gaan ons op weg na die lewe.

Die krag van die opstanding bring ons lewe in beweging!

Elkeen wat werklik die boodskap van Pase glo, hy sal sy lewe heilig. Hy sal die stryd teen sy sondes opneem.

Elkeen wat werklik besef watter vreeslike dinge aan die kruis oor die Here Jesus gekom het, wil nie dat dit ooit om sy ontwil nog weer sal gebeur nie. Hy stry teen sy sondes met al die krag wat in hom is.

Waarvandaan kry hy die krag?

Wel gemeente, dit is nou die krag van die opstanding waarvan Paulus praat. Paasgeloof is geloof wat jou lewe verander.

En as jy by jouself merk dat jy glad geen behoefte daaraan het om jou lewe te verander nie; as jy glad nie probleme met jou sondes en swakhede het nie; as jy tevrede is met hoe jy dit doen in jou lewe en geen verandering wil oorweeg nie, dan moet jy jou afvra of jy eintlik wel in die opstanding van Christus glo.

Paulus moet onder trane vasstel dat van die broeders wat vroeër die evangelie met blydskap aangeneem het, tans wandel as vyande van die kruis van Christus.

Brs en srs, ons moet ons laat waarsku hier. Ons almal. Want dit gebeur.

Mense doen met oortuiging belydenis van hul geloof. En binne 'n paar jaar word die aantrekking van die wêreld so groot dat hulle nie kans sien om hul beloftes te hou nie.

Hulle weet heel goed wat hulle sondes is maar hulle het net nie die krag om hulle daarteen te verset nie.

Gebrek aan wilskrag? Ja, dit ook!

Maar dit is veel meer as dit. Asof die evangelie net deur wilskragtige mense vasgehou kan word! Nee. Dit is nie soseer gebrek aan wilskrag nie. Dit is gebrek aan geloof.

Gebrek aan geloof in wat Paulus hier noem: die krag van die opstanding.

As jy werklik glo in die krag van die opstanding dan kom daar ook krag om jou lewe te dissiplineer. Om teen jou sondes te veg. Dan hoef jy nie altyd weer 'n verloorder te wees nie, maar dan mag jy in die krag van Christus nou en dan oorwinnings behaal in jou stryd.

Onthou, hier hang dinge onverbreeklik saam.

Ons het in die tema van die erfenis gepraat.

Die erfenis word deur geloof jou deel.

As jy die geregtigheid erf (punt 1), dan erf jy ook die heiligheid. Altwee.

Of geen van twee nie.

Jy kan nie die geregtigheid erf en daarna sê: in heiliging van my lewe stel ek nie belang nie.

Dan gaan die hele erfenis jou verby.

Nogmaals, al waaroor dit gaan is geloof in die paasevangelie.

Wie werklik die evangelie glo sal hier op aarde nie lewe asof dit sy laaste kans is om nog iets van sy lewe te maak nie.

Hy is bereid tot offers terwille van die saak van Christus.

Hy weet van meer as net hierdie aardse lewe.

Daarmee is ons aan ons slotpunt.

3. Ons mag deel in sy heerlikheid.

Deur die krag van die Heilige Gees word die paasevangelie werklikheid in ons lewe. Dit is mos die Heilige Gees wat ons laat opstaan uit ons lewe van sonde en selftevredenheid.

Maar Paasfees beteken nog meer as dit.

Paasfees vier beteken ook 'n volkome verlossing verwag.

'n Verlossing waarby selfs ons liggaam betrokke is.

Paulus praat in vers 21 van Fil 3 van ons vernederde liggaam.

Die vernedering van ons liggaam is 'n werklikheid. Dit sien ons en dit voel ons as ons liggaam begin aftakel.

Dit merk ons as daar by ons allerhande gebreke van die ouderdom pla.

Ons ervaar die vernedering van ons liggaam as daar ernstige siekte in ons lewe kom.

Die een meer, die ander minder, maar ons kry almal te make met die vernedering van ons liggaam. Die vernedering van ons liggaam bereik sy dieptepunt in die dood wanneer ons liggaam afsterf. Van alles waarop ons eendag trots was is dan niks meer oor nie.

Maar ook hieroor mag ons die paasevangelie laat hoor.

Christus het opgestaan uit die graf met 'n verheerlikte liggaam.

In sy groot genade maak Hy ook hierdie verheerliking van die liggaam tot deel van die erfenis wat Hy deur sy opstanding beskikbaar stel. Ons kan weer na Paulus in Fil 3 verwys.

Vers 21: ons vernederde liggaam sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam.

As ons deel kry aan hierdie opstanding, dan kan die hospitale maar sluit. Die dokters kan maar 'n ander besigheid soek.

Dan is daar geen strompelende gryaards meer wat hulself van dag tot dag voortsleep nie.

Maar almal wat daar mag kom, ontvang 'n verheerlikte liggaam.

Vandag is dit nog nie sover nie.

Die laaste vrug van Christus werk is vir ons nog nie beskikbaar nie.

Maar dit is nadruklik wel deel van die beloofde erfenis.

Een ding weet ons, Christus het reeds opgestaan met 'n verheerlikte liggaam. Dit is vir ons 'n waarborg.

In die eerste plek 'n waarborg in die sin, dit is 'n oortuigende bewys dat 'n liggaamlike opstanding uit die dode binne God se moontlikhede lê. Dieselfde krag wat gebruik is om Christus op te wek is ook beskikbaar vir ander mense wat gesterf het.

En tweedens: Christus het die liggaamlike opstanding deelgemaak van die erfenis wat ons in die weg van die geloof ontvang. Die belofte staan.

En daarom kan ons op die Paasdag met groot vreugde verbly in die belydenis:

Christus leef en ons sal lewe.

Ons sal in lewe en in sterwe, Gods eiendom vir altyd wees.

Ons sal wat Hy beloof het erwe, verseël deur die Heil'ge Gees.

Kom ons sing: Skb 24: 5, 6, 7.

Liturgie: 

(kyk in preek)