Driemaal waarom en die enigste troos

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 16 H. K.

Driemaal waarom en die enigste troos.

Lees: Johannes 19: 28 - 42
Teks: Sondag 16 H. K.
Sing: Ps. 16: 1, 4, 5
na die wet Ps 19: 7
na geloofbelydenis Sb. 8: 2
Ps. 103: 1, 8, 9
Sb. 10: 1 en 2
Ps. 23: 2

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Een van die langste sondae in die kategismus is sondag 16. Nie minder nie as 5 vrae en antwoorde. Egter dit nie alleen nie, in hierdie sondag kom so baie na ons toe! Al die 5 vrae en antwoorde handel oor die dood. Maar nie alleen oor ons eie dood ons eie sterwe nie, hulle spreek tegelyk oor die sterwe en die dood van Christus. Dit gaan oor die vierde geloofsartikel, waarin ons bely dat Christus nie alleen gekruisig is nie, maar ook gesterf het, begrawe is en neergedaal het na die hel.

Hierdie sondag oor die dood sal daarom midde-in ons lewe staan. Wie van ons word partymaal nie van naby met die dood gekonfronteer nie? Met die dood van hulle vir wie ons lief is en vir geen geld van die wereld sou wil mis nie. Tog het die Here hulle van ons weggeroep! Wie van ons het nog nie oor sy eie dood nagedink nie? Hoe beantwoord ons die vrae van ons kinders as hulle oor dood en lewe begin nadink? Ons weet: die moderne mens probeer die dood ver van hom af te hou. Min mense sal teenswoordig nog tuis sterwe dis amper altyd 'n hospitaal gebeure. Dan ook nog die gesprekke oor die sogenaamde sagte dood, eutanasie genoem. Hoe word die ware aard van die dood meestentyds daardeur weggesteek.

Gemeente, met sondag 16 oor die dood, ons dood, ons sterwe, gaan ons nadruklik ons geloof bely! In sondag 16 woord op sondag 1 terug gegryp. Dit word op 'n besondere manier gedoen. Drie maal word nadruklik die vraag na die waarom gestel. Waarom moes Christus Hom tot in die dood toe verneder? Waarom is Hy begrawe? Waarom volg daar neergedaal na die hel? In die antwoorde op die drievoudige waarom word die enige troos in lewe en in sterwe bely. Die betaling van ons Here en Heiland wat vir ons deur die dieptes van die tydelike en ewige dood heen gegaan het, word verkondig. Alleen vanuit die dood van Christus, kan ons getroos oor ons eie dood en oor die dood van ons geliefdes spreek. Ons spreek vanmiddag/more tot u oor: DRIEMAAL WAAROM EN DIE ENIGSTE TROOS.

  1. Waarom moes Christus sterwe?
  2. Waarom is Hy begrawe?
  3. Waarom is Hy in die hel neergedaal?

I Daar is en word deur mense veel oor die dood nagedink. wat is die dood eintlik en waar bring dit ons? Die mees trooslose antwoord sal ons by die moderne eksistensialiste kry. Hulle se die dood is die uitbrand van die mens tot niks. Soos 'n meteoor wat in die dampkring van ons aarde beland, opbrand, so is dit die lot van 'n mens om op te brand. Jy is in hierdie lewe gewerp. Jy is daar en waar jy vandaan kom kan niemand vir jou se nie. Soos 'n blad van 'n boom sommer ondertoe dwarrel, so het die mens hierdie lewe ingekom. Daardie lewe moet maar in vryheid aanvaar word. Dan sommerso gaan jy dood, is jy uitgebrand. 'n Mens moet aanvaar dat die lewe waar jy sommerso inkom ook sommer eindig. Dis 'n harde leer, sonder ook maar enige troos.

Die christelik geloof staan heeltemal anders teenoor dood en sterwe. In die moderne denkrigtings is daar geen waaragtige verlossing van die dood nie. Verlossing van die dood is daar alleen deur Jesus Christus, deurdat Hy vir ons gesterf het. So het Hy vir ons in lewe en sterwe die enigste waaragtige troos gebring.

Vraag en antwoord 40 se vir ons dat Christus Hom vir ons tot in die dood toe verneder het. In sy lewe is Christus al met die verskrikking en die erns van die dood gekonfronteer.

Dink maar aan die dogtertjie van Jairus. Aangrypend het Jesus toe gesien hoe die dood al in 'n heel jong menselewe kan toeslaan. Dink ook aan die opwekking van die jongman te Nain. En heel uitvoerig spreek die evangelie oor die konfrontasie met die dood toe Jesus Lasarus opgewek het. By die graf het Jesus gehuil en tegelyk geweldig bewoe geword. Indien daar iemand is wat regtig die verskrikking van die dood gepeil het, dan is dit Hy, ons Heiland. Die sterwe het Hom steeds weer van sy eie sterwe wat sou kom, gespreek.

Dan het ons nog nie eers oor Getsemane gepraat nie. Hoe het in die hof op die Olyfberg die verskrikking van die dood in al sy realiteit op Christus af gekom. Die Vader het daar die drinkbeker van lyding vir Hom gegee. Christus het geweet die beker moet tot die laaste druppel uitgedrink word. Dit is tot in die dood, die ewige dood! Markus vertel ons in sy evangelie hoofstuk 14: 33 en 34: Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gese: "Ek voel doodsbenoud. " Hy het geweet die dood gaan nou kom en daarmee in angs en nood geworstel. Niemand van ons het nodig om skaam te wees as hy angs vir die dood het nie. Ons Heiland was waaragtig mens ook Hy het die sterwensangs geken. Ja die drinkbeker van die dood probeer af bid: Abba, Vader alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Maar Vader het sy hand met die beker nie terug getrek nie en Hy het dit gedrink tot in die dood toe.

Van Getsemane het dit Golgota geword. Sien gemeente hoe Hy die kruis dra. Elke stap het Hom nader aan die dood gebring. Vir ons het Hy aan die kruis met die dood geworstel. Dink aan die drie uur duisternis. Van die sesde tot die negende uur het Hy tot in die ryk van die dood deurgedring. Daar op Golgota is die woord van Dawid aan Hom vervul: U le My neer in die stof van die dood. (Ps. 22: 16)

Nee, nie die tydelike dood om uit hierdie lewe weggeneem te word, het as eerste op ons Heiland afgekom nie. God het in die drie uur duisternis die ewige dood, die ewig van God verlate wees, oor Hom gebring. Wat dit inhou kan geen mens in menslike woorde beskryf nie. Reeds in die Paradys het God oor die ewige dood gespreek, die dag as jy van die boom van die kennis van goed en kwaad eet, sal jy sekerlik sterwe. Hierdie vertaling het die skerpheid van die woord weggeneem, daar behoort te staan: sal jy die dood sterwe. Daarmee het God die dood in sy volle verskriklike omvang, bedoel. Die teendeel van ewig lewe is, om ewig aan die vloek van God oorgegee te wees.

O gemeente ons spreek hier oor 'n onverstaanbare gebeurtenis. Ons kan hulle in menslike woorde amper nie beskryf nie. Op Golgota het ons Heiland dit ondergaan. God het met sy hand die son toegemaak en die lewensgemeenkap aan sy Seun onttrek. Dit het ons Heiland laat uitskree: My God, my God, waarom het U My verlaat? Iemand het dit 'n maal so verwoord: God is deur God verlaat. God het sy Seun in die dieptes van die ewige dood gestoot. En tog ons Heiland het Homself daardeur heen geworstel. Met my God, my God het Hy aan Vader bly vashou, en na die drie ure kon Hy triomfantlik uitroep: Dit is volbring! Die lydingsbeker was tot op die laaste druppel uitgedrink. Sy plaasvervangend werk volbring.

Ja, waarom moes Hy toe nog sterwe? Die ewige dood was mos end-uit deurworstel en oorwwin. Dit was mos volbring. Waarom het hy toe vir iets om te drink geroep, om Homself vir die sterwe te versterk? Die eerste Christene het met hierdie vraag al moeite ondervind. Daar was 'n stroming wat van die sterwe van ons Heiland nie wou weet nie. Hulle het gese Christus het direk van die kruis hemel toegegaan. Na die kruis was sterwe nie meer noodsaaklik nie.

Die ou christelike kerk het daarom opsetlik die woorde dat Hy gestorwe en begrawe is aan die belydenis toegevoeg. Die evangelie het vir hulle en vir ons te duidelik ook oor die sterwe gespreek. Te duidelik, want sy laaste woorde was tog: Vader in U hande gee Ek my Gees oor? Markus het in 15: 37 vertel: Daar na het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

Wat 'n ontsaglik gebeure: Ons Heiland, die Seun van God, die man met twee nature, God en mens tegelyk het gesterf. Ja Hy moes sterwe. Na die ewige dood moes Hy ook deur die tydelike dood heen. Dit kon nie anders vanwee die geregtigheid en vanwee die waarheid van God nie. Daarin is die onvermurfbare erns van God, so het Hy mos in die paradys gespreek? Adam moes sterwe vanwee die rebellie teen God! Dit het tog alles ingehou die tydelike en ewige dood? Hy Jesus Christus het in die plek van Adam en ons gaan staan. Die ou rekening van Adam het vir God nog oop gele.

Seker al die oudvaders het hoe leeftye bereik: Adam, Metusalag, hulle het honderde jare oud geword. Maar geeneen van hulle het die dood oorwin of in sy volle omvang deurworstel nie. Steeds het die noodsaak gebly dat daar een was wat tot die laaste toe deur die dood sou gaan. Gemeente ons Heiland het dit gedoen. Hy het sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. Vir ons het Hy betaal, in Hom het ons die volkome plaasvervanger gevind. Aan die geregtigheid van God het Hy voldoen, die straf van God oor ons het Hy gedra, so het Jesus Christus aan die waarheid van God voldoen. Dis die antwoord op die eerste waarom, dit kon en mog nie anders nie. So word ons die enigste troos in lewe en in sterwe verkondig: Ons Heiland het gesterf, om ons almal van die dood te verlos!

Nou het die kategismus aan die waarom van die sterwe van Christus in vraag 42 'n dringende vraag oor ons eie sterwe verbind. As Christus dan vir ons gesterf het, hoe kom dit dat ons ook moet sterwe? Hoor hoe die ongeduld van die geloof in hierdie vraag deurklink. Waarom kan dit met ons nie net soos met Henog of Elia gaan nie? As Christus werklik vir ons gesterf en ons rekening betaal het, waarom moet ons dan nog deur die donker tunnel van die dood? Het Hy nie met een slag die dood ook vir ons kan vernietig nie?

Die antwoord is ongelooflik mooi. Geen verstandelike redenering nie. Daardeur word ons nie getroos nie. In enkele woorde word met 'n siening vol geloof geantwoord. Luister mooi: Ons dood is geen betaling vir ons sondes nie, maar alleen 'n afsterwing van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe. Ons kategismus spreek hier oor "ons" dood en "ons" sondes. Hier word nie oor die sterwe van die ongelowiges gespreek nie. Nee die kategismus sien al die kinders van God wat deur die eeue die pad van die dood geloop het. Vir hulle is die dood geen betaling vir die sondes nie. Daar is vir hulle betaal, op Golgota het daar 'n man gesterwe wat tegelyk die Seun van God was. Die rekening wat vanaf die eerste mens oop gestaan het is betaal. In ons sterwe is geen vonk van die toorn van God te vind nie.

Nee gemeente dis iets totaal anders wat in ons sterwe aangaan. Vanwee die sterwe en dood van Christus, is dit God wat om sy ontwil in ons sterwe werk. Deur Hom word ons daarin van die liggaam van die sonde afgesny. Daarin verlos Hy ons van dit wat ons aan sonde en skuld in ons rondgedra het. Jesus het vir die moordenaar langs Hom aan die kruis geantwoord: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Die vergewing van ons skuld is om Christus ontwil radikaal! En Paulus skryf in sy eerste brief aan die Korintiers 15: 50: Vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.

In die sterwe verlos God sy kinders met een slag van alles wat aan sonde nog in hulle is. Ons dood, so bely ons met die kategismus is alleen afsterwing van die sonde. Daardie woordjie "alleen" wil se: Jy moet elke gedagte dat daar in die sterwe nog 'n element van vloek of straf sou wees uit jou gedagtes uitban. Dit wil se: Vader het jou van alles verlos wat sinds jou ontvangenis en geboorte aan ongeregtigheid in jou was.

Antwoord 42 vervolg dan: en 'n deurgang tot die ewige lewe. Die sin is hier goud werd. Want dit is die keersy van die afsterwing van die sondes. Al die sterfbeddens van die kinders van God word nou deur 'n heerlik lig oorstraal. O Ja, ek en jy, ons moet sterwe. Dit het vraag 42 al vir ons gestel en die dood dat sterwe is 'n klipharde realiteit. Daar word deur ons kategismus niks van af gedoen nie. Maar tegelyk is dit deurgang na die ewige lewe! Engele het vir Lasarus gewag en hom in die skoot van Abraham gedra.

Aan die end van die donker tonnel van die sterwe is daar die lig van die heerlikheid van die ewige lewe wat straal. Waarom moes Christus Hom tot in die dood toe verneder? Hier is die antwoord: Om die sterwe van ons 'n deurgang tot die ewige lewe te maak. Daar in die huis van Vader, waar die heilige engele is, daar is ook almal wat ons vooruitgegaan het. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gese het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. (Joh. 14: 2)

Hierdie woorde van ons belydenis word dikwels by die sterfbeddens van die kinders van God bevestig. Ek weet, nie alle sterfbeddens is gelyk nie. Daar is ook veel kinders van God wat in een oomblik in heerlikheid oorgesit word. Daar is ook wat dae lank vir die poort van die huis van Vader in 'n koma moet le en wag. Maar daar is ook sterfbeddens waaroor die lig van die belofte van heerlikheid sigbaar straal.

Daarvan spreek die Skrif ook: Soos Jakob wat omring deur sy kinders gesterf het. Dink aan Simeon as hy in die tempel die kind Jesus gesien het: Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oe u verlossing gesien het. (Lukas 2: 29, 30) En Johannes mag in openb. 14: 13 skrywe: "Geseend is die wat van nou af in die Here sterwe. "

Afsterwing van die sonde en deur gang tot die ewige lewe wat word ons hier deur ons belydenis getroos!

II Ons het nou by die tweede waarom gekom wat na aanleiding van die vernedering van Christus tot in die dood gevra is: Waarom is Hy begrawe? Het ons raakgesien dat hier in die passiewe vorm gevra word? By die vorige vraag het ons Heiland self nog gehandel. Hy het Hom tot in die dood verneder. nou word daar met Hom gehandel. Hy is begrawe! Die kategismus het hier tot die laaste trap in die staat van vernedering gekom. Hy is begrawe, na die graf weggedra. Daarin is die mens maar net passief.

Hierdie antwoord het as kritiek opgeroep dat dit te sober sou wees. Die antwoord is ook sober. Net, om daarmee te betuig dat Christus werklik gesterf het. Sommige verklaarders se: Deur die spiessteek het ons geweet dat Hy gesterf het. Ons weet dit ook omdat sy bene nie gebreek is nie. En inderdaad word deur Johannes in sy evangelie hierdie feite as bewys aangevoer dat Jesus regtig gesterf het. Die sterwe van ons Heiland was regtig 'n sterwe, daarvan het reeds die bloed en water uit die spieswond getuig. Maar dit is in die begrafnis van Christus totaal besleg. Onontkombaar is die sterwe daarmee alom publiek gemaak.

Daarmee is betuig se antwoord 41. In die begrafnis van ons Heiland is daar verkondiging. Daar mee het Jesus op die uiterste grens van die vernedering en by die begin van die verhoging gekom. Daardeur kan ons nogmaals sien hoe ryk en afdoende die plaasvervanging van ons Heiland is. Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus in die graf van Josef wat daar naby was begrawe. Soos ook ons, ons dooies begrawe, daarin is vernedering. 'n Dooie kan nie in die samelewing gehou word nie hy moet weg die graf in! Stof is jy en jy sal weer stof word, het God in die Paradys gespreek. Dit was ook vir die Seun van God van krag, Hy is in die graf gele. Tog is hier al 'n glimp van die verhoging waar te neem. Die twee manne wat Hom begrawe het, het 'n mengsel van omtrent 50 liter mirre en aalwyn gebring, en die liggaam van Jesus volgens die gewoonte van die Jode daarmee behandel. Dit was sowaar geen geringe eerbetoon nie.

Daarmee is die woord van Jesus in Matt. 12: 40 vervul: Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Ursinus in die uitleg van die kategismus het daar 'n heerlike vertroosting aan verbind. Ons Heiland het drie dae en drie nagte roerloos in die graf gele: begrawe soos ons begrawe word. Maar daardeur het Hy ons graf geheilig. Ons grafte het daardeur die plek geword waar ons tot op die dag van die opstanding rus.

Is dit nie heerlik gemeente? Hoe vaak moet ons nie by die oop graf van een van ons geliefdes staan nie? Van die oop graf gaan daar 'n aangrypende prediking uit: Die mens sal weer stof word!

Tegelyk mag ons bo die oop graf die heerlikheid van Christus sien. Hy was in die graf. Hy het die verskrikking daaraan ontneem. Hy het uit die graf opgestaan! Calvyn het gese: Uit die graf bereik ons die lewensgeur van Christus. Dit kan alleen in geloof gese word. Daarom is dit dat ons ook ons dooies begrawe. Ons gee hulle nie aan die vernietiging deur vuur prys nie. In Christus le ons hulle ter ruste, in Hom wat in lewe en in sterwe hul enigste troos gewees het.

Nog gemeente het sondag sestien nie oor die sterwe van Christus en ons vertroosting klaar gepraat nie. Lees vraag en antwoord 43. Heel dringend word daar gevra: Watter nut verkry ons nog meer uit die offerande en die dood van Christus aan die kruis? Asof ons kategismus wil se: Sien wat 'n onuitputlike bron van troos die evangelie van die sterwe en begrafnis van ons Heiland vir ons wil wees. Deur sy krag word ons ou mens met Hom gekruisig, gedood en begrawe, sodat die bose luste van die vlees in ons nie meer regeer nie, maar dat ons onsself aan Hom as 'n offerande van dankbaarheid kan toewy.

Daar is noue aansluiting van die kategismus by wat Paulus vir ons in Romeine 6 leer: "Weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei....... Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is. " Soos ons in die doopwater ondergaan en van ons sondes rein gewas daar weer uit opstaan, so het Christus met ons sondes die graf ingegaan. Daar het Hy vir goed ons sondes agtergelaat. Soos Christus aan die kruis gespyker is, so is ons oue mens eens en vir goed aan die kruis gespyker en alle krag gebreek.

Ons belydenis se: Van die gelowige oorweging van die kruisiging, dood en begrafnis van ons Heiland gaan krag uit. In ons lewe werk dit deur. Daardeur word teen die slegte begeertes van ons vlees 'n stryd los gemaak wat nooit ophou nie. As my Heiland vir my gekruisig, gedood en begrawe is, kan ek dan in die sonde bly le? Verloor dan nie die ou mens met al die fel begeertes sy mag oor my nie? Word Hy nie in sy krag gebreek nie?

Kyk nou mooi na die woordjie "sodat" hier word geen nuwe wet afgekondig nie, nee dis 'n belofte wat verkondig word. Sodat die bose luste van die vlees in ons nie meer regeer nie. Van die dood en begrafnis van ons Heiland is dit die vrug in ons lewe. Nogmaals sodat: ons onsself aan Hom as 'n offerande van dankbaarheid kan toewy. In die geloofsgemeenskap met ons Heiland wat vir ons gekruisig is en gesterf het, word kragte van liefde en dankbaarheid in ons los gemaak. In ons word die woorde van die bekende lied tot werlklikheid: Neem my lewe, laat dit Heer, toegewy wees aan U eer.

III Nou het ons tot die derde en laaste waarom van vraag 44 gekom: Waarom volg daar: Wat neergedaal het na die hel? Daar is verwondering in die vraag te proe. Was dit nodig dat ons Heiland na die hel neergedaal het? Met die dood en begrafnis is mos die staat van vernedering afgesluit? Waar om volg daar dan nog die woorde dat Hy nog na die plek van buitenste duisternis gegaan het?

Om die volgorde te verstaan moet ons na die geskiedenis van die ou kerk terug. Hulle het die neerdaling aan die end van die vierde artikel opgeneem, omdat hulle daarvan oortuig was dat Christus tussen sy begrafnis en opstanding in die hel neergedaal het. Daar sou Hy die duiwel oorwin het en die gelowiges uit die Ou-Testament in triomf na die hemel saamgevat het. Hulle het dit op 1 Petrus 3: 19 gegrond. Daar staan: In wie Hy ook heengegaan het en gepreek het vir die geeste in die gevangenis. En ook op Efese 4: 9 waar die apostel skrywe: dat ons Heiland neergedaal het in die onderste dele van die aarde.

In navolging van Calvyn het die gereformeerdes hierdie siening verwerp. Daar is geen sprake van dat Christus na sy dood en begrafnis liggaamlik in die hel neergedaal het nie. Hulle het toe egter vir die moeilike vraag te staan gekom: Moet ons hierdie deel uit art. 4 van die belydenis van die kerk skrap? Dit het hulle nie gedoen, hulle wou die twaalf artikels geheel handhaaf en daarin die verbondenheid met die ou kerk laat uitkom. Hulle het daar wel 'n ander betekenis aan gegee. Sommiges het gese dit bevestig dat Christus na die begrafnis in die staat van die dood gewees het. Calvyn het egter 'n dieper betekenis daaraan gegee wat die kategismus ook opgeneem het: Christus het aan die kruis deur die helse smarte heen gegaan. Midde-in die aanvegtinge van die duiwel het Hy daar stand gehou. Eintlik hoor hierdie deel dus direk na die woord: "gekruisig" gelees te word.

Deur antwoord 44 word die lyding nogmaals na aan ons hart gele gemeente. Ons word daar heel persoonlik aangespreek: Dat ek in my swaarste aanvegtinge seker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus deur sy onuitspreeklike benoudheid, smarte, verskrikking en helse kwelling waarin Hy in sy ganse lyde maar veral aan die kruis versink het, my van die helse benoudheid en pyn verlos het. Ons Heiland is inderdaad in die hel gewees. Maar nie na sy sterwe en begrafnis nie. Aan die kruis het Hy in die hel neergedaal.

As daar een mens duiwelse aanvegtinge ondergaan het dan is dit ons Heiland. Hy het Homself deur die aanvegtinge heen geglo. In die geloof aan Hom verbind, kom ons ook sekerlik deur alle aanvegtinge heen. So het ons ook die derde waarom met betrekking tot ons Heiland in hierdie oorvolle sondag 16 oorweeg. Waarom het Hy vir ons gesterf, waarom is Hy begrawe, waarom het Hy tot in die smarte van die hel neergedaal? Daar is maar een antwoord: Sodat ons almal deur hierdie plaasvervanging in lewe en in sterwe getroos sal wees. Geloofd sy Jesus Christus ons Here.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)