Jesus is as God en mens die middelaar van die beter verbond

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 6 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 5: 4, 6
Wetslesing
Ps. 5: 5, 9, 10, 11
Gebed
L. Heb 9: 1-12 & 7: 25-28
SB. 7: 8
Prediking oor Sondag 6 HK
SB.33: 3
Gebed
Kollekte
SB.23: 3, 4
Seën

Ons gedenk a. s. Donderdag weer die hemelvaart van ons Heiland, broeders en susters. Nadat Hy sy versoeningswerk op aarde klaar gedoen het, het Hy na die hemel teruggekeer. En daar sit Hy nou weer op die troon langs sy Vader.

Baie mense dink dat die Here Jesus êrens onderweg na die hemel sy menslike liggaam verloor het en nou weer soos vroeër as God terug is in die hemel.

Dit is egter nie so nie. Die kerk het regdeur die eeue juis fel gestry teen daardie gedagte. Ook na sy hemelsvaart het Jesus God en mens altwee gebly. En so, met die einste menslike liggaam wat sy dissipels na sy opstanding gesien het en wat die ongelowige Tomas selfs mog aanraak, met die hande waarin die merke van die kruisspykers nog sigbaar is en met die selfde oë waarmee Hy vol ontferming na siek mense en vol sagte verwyt na Maria van Magdala en na Petrus gekyk het, is Hy vandag by sy Vader in die hemel op die troon.

Hy moét nog steeds sy menslike liggaam hê en mens wees soos ons almal!

Want Hy doen daar in die hemel nog steeds versoeningswerk vir ons, sy broeders en susters op aarde. Hy is nog steeds ons Middelaar wat vir ons intree by die Vader en ons skuld voor sy aangesig bedek. Vir daardie middelaarswerk moes Hy mens wórd. Vir daardie middelaarswerk moet Hy steeds mens wéés.

Mag ons dit met soveel beslistheid sê, gemeente?

Kan ons sommer sê dat Christus so moét wees?

Ja, kyk maar, Sondag 6 van die Kategismus doen dit ook: "Waarom moet (nie net: "moes" - verlede tyd nie, maar "moet" - teenwoordige tyd) waarom moet ons Middelaar 'n ware en regverdige mens wees? Waarom moet Hy terselfdertyd ware God wees? "

Maar die Kategismus maak meteen ook duidelik dat 'n mens dit nie kan aflei uit teoretiese bespieëlinge nie. Dit is nie die resultaat van 'n logiese beredenering nie. "Waaruit weet jy dit? Uit die Heilige Evangelie!"

Daarin het God baie duidelik gemaak dat ons Borg 'n gewone mens soos ons almal, maar sonder sonde moet wees; en dat Hy terselfdertyd ware God moet wees om in een keer aan ons almal die vergewing en die lewe wat Hy vir ons terugverdien het, te kan teruggéé.

Dit het God nie net in die Nuwe Testament nie, maar ook in die Ou Testament al baie duidelik gemaak. En daarom bly ook die Ou Testament met sy offers en seremonies vir ons van betekenis, alhoewel dit in Christus vervul is.

Ek wil Christus se volmaakte middelaarskap wat Hy vandag steeds as God en mens terselfdertyd in die hemel verrig, en soos Sondag 6 daarvan belydenis doen, vanogggend met u oordink teen die agtergrond van so 'n seremonie van die wet van die Ou Verbond. Ons gaan kyk hoedat die HERE Christus se volmaakte middelaarskap reeds afgebeeld het in die persoon van die hoëpriester.

Kom ek vat my boodskap so saam:

JESUS IS AS GOD EN MENS DIE MIDDELAAR VAN DIE BETER VERBOND

En dan kyk ons na wat die Bybel leer oor

  1. DIE NOODSAAKLIKHEID VAN 'N MIDDELAAR IN DIE OU VERBOND
  2. DIE MAGTELOOSHEID VAN DIE MIDDELAAR IN DIE OU VERBOND
  3. DIE VOLKOMENHEID VAN JESUS AS MIDDELAAR IN DIE NUWE VERBOND

1. 'n Mens sou die tyd van die ou verbond, met sy erediens vol seremonies en simboliek, die kleuterskooltyd van God se volk kon noem, broeders en susters.

Terwyl ons vandag, in die nuwe verbond, inmiddels in die hoërskooltyd lewe. Ons moet vandag baie meer lees en luister en bespreek.

Nee, dit gee ons glad nie 'n rede om hoogmoedig op ons broeders en susters onder die ou verbond neer te sien nie. God het maar net verder gekom met ons.

Maar daarom mag Hy aan ons ook hoëre eise stel.

God het Israel in die begintyd, toe alles nog nuut was, baie laat werk met "prentjies", dinge wat hulle moes maak en bekyk en mee werk.

Hulle moes 'n tent vir Hom opslaan temidde van hul eie tente. God wil temidde van sy volk woon, het daardie tent duidelik gemaak. In daardie tent moes God se troon geplaas word, die goue verbondsark. God se troon was 'n draagstoel. As die HERE bevel gegee het om die laer op te breek en verder te trek, moes die priesters God se troon uit sy tent haal en op hul skouers voor die volk uit dra. God gaan saam, het daardie ark gewys, ja, God gaan voorop.

Daar was ook allerhande ander sigbare simboliese dinge in en om God se tent. Die skrywer van die Hebreërbrief het 'n opsomming daarvan gegee in die gedeelte wat ons sopas saam gelees het.

Daar het 'n groot goue kandelaar in God se tent gestaan wat dag en nag moes bly brand. Vanuit God se huis straal daar weer lig in hierdie wêreld wat deur die sonde duister geword het, wou daardie brandende kandelaar sê. Die sewe Geeste wat voor God se troon is, die volheid van God se Heilige Gees kan alleen nog 'n donkere wêreld weer verlig.

Daar het 'n tafel in God se tent gestaan waarop elke week 12 broodkoeke, die sogenaamde troonbrode voor God se aangesig neergelê moes word. Daardie brode was 'n sigbare simbool dat God onophoudelik sou sorg dat sy volk kon eet en leef. Maar dus ook dat hulle kos en klere en so meer van God alleen moes verwag.

Verder het daar in God se huis 'n reukaltaar gestaan waarop die priester soggens en saans 'n spesiale reukwerk aan die brand moes steek wat aanhoudend rondom God se troon bly hang het. Daardie geurige wolk was bedoel om as 't ware die gebede van God se volk, wat tydens die aansteek van die reukoffer op die buiteplein gebid is, voor God se aangesig te bring en daar dag en nag te laat hang. En dit moes vir die volk leer: bid maar! God sal daarna luister en die gebede verhoor.

So het God se woning temidde van die Israeliete se huise gestaan, vol simboliek dat Hy by sy volk wou woon, met hulle wou saamgaan, hul lewe wou verlig en versorg op hul gebede. Tent van samekoms, tent van ontmoeting, het God self sy huis genoem.

Maar terselfdertyd het die HERE in en om sy huis aan sy volk duidelik gemaak dat Hy eintlik glad nie by hulle kón woon en met hulle kón saamgaan nie. 'n Egte ontmoeting was nie moontlik nie! Want God het homself meestentyd maar in sy huis in sy binnekamer teruggetrek agter geslote deure.

Hy het ook niemand toegelaat om daar binne te gaan nie. Buitekant, op die gordyn wat die binnevertrek afgesluit het, was engele, gerubs, geborduur. Soos 'n gerub na die sondeval die toegang tot die Paradys afgesluit het vir Adam en Eva, het hierdie gerubs simbolies enige ongewenste besoeker gekeer om voor God te troon te nader.

Koning Salomo het later, toe hy die tent deur 'n groot en indrukwekkende huis in Jerusalem vervang het, die tempel, nog twee ekstra groot goue engelebeelde binnekant die gordyn geplaas wat met gespreide vlerke 'n indringer moes keer.

Waarom was God so afstandelik en afwerend? Wat het Hom gepla?

Wel, God se woning het "temidde van Israel se onreinhede" gestaan, lees ons in Lev 16. Die sondes van die volk het afstand geskep. God kon nie onbekommerd uit sy huis uitgaan nie, want Hy sou onmiddellik in die onreinhede tereg kom. Die mense mog ook nie in sy huis binnekom nie, want hulle sou hul onreinhede saambring en God se huis bevuil.

God wóu wel by sy volk woon, maar Hy kón dus eintlik nie by sy volk woon nie.

Dít was ook daagliks sigbaar en voelbaar by die tent van samekoms.

Daarom moes daar daagliks 'n stroom van bloed buite by die voordeur van God se tent vloei van offers wat vir die volk duidelik gemaak het: eintlik moes die hele volk sy ongehoorsaamheid aan en liefdeloosheid teenoor God met die dood bekoop. Eintlik moes nie hierdie dier nie, maar onsself hier op die altaar lê en doodbloei en onder God se toorn verteer word.

Dit is die ene wonder dat God nog by ons wil woon en op ons gebede ons lewe wil verlig en versorg.

Slegs 'n paar manne, wat spesiaal daarvoor uitgekies en afgesonder was, mog God dien in sy huis. Die priesters uit die stam Levi. Maar selfs hulle mog nie in die binnekamer, die eintlike troonsaal ingaan nie. Ook vir hulle was dit: "verbode toegang". Net een man, die hoëpriester, was dit toegestaan om vlak voor God se troon te verskyn, maar dan ook maar net een keer in die jaar.

En dit was enkel en alleen aan daardie hoëpriester se werk te danke, dat God sy woning onder Israel nie verlaat en laat afbreek het nie. Dit was uitsluitend aan die hoëpriester se bemiddeling te danke dat God sy sondige volk nie lank al in toorn vernietig het nie.

Ja, daardie hoëpriester was 'n bemiddelaar, gemeente. Ook dit het God sigbaar gemaak vir sy volk om gedurigdeur na te kyk. Want daardie man het 'n indrukwekkende ampsgewaad aangehad, waarby hy die hele volk as 't ware sigbaar op sy skouers en op sy hart gedra het. Ses edelstene op sy een skouer en ses edelstene op sy ander skouer, met die name van al Israel se stamme daarop gegraveer. En boonop twaalf edelstene met Israel se name op 'n borskleed vasgewerk. Almal kon dit sien: hierdie man wat nader aan God mag kom as enigiemand anders, verteenwoordig ons almal. As Hy voor God se troon verskyn, behartig hy nie net sy eie belange nie. Hy dra ons belange op sy hart en op sy skouers. Hy bemiddel tussen God en ons sodat die HERE ons almal nie oor ons sondes verdelg nie, maar ons in genade bly aansien.

Want hierdie hoëpriester het elke jaar, as hy mog deurdring tot in God se binnekamer, die offerbloed van die groot altaar buite die tent saamgebring en voor God se aangesig op die ark gesprinkel. Op die versoendeksel, soos die HERE dit self genoem het. En met daardie bloed het die hoëpriester vir die HERE namens die hele volk gesê: ons besef dat ons die dood verdien. Ons weet ook dat u ons dood mag eis. Maar sal u ons genadig wees asseblief? Sal u hierdie plaasvervangende dierebloed asseblief aanvaar as 'n voorlopige versoening van ons mensesondes?

So het God in die amp van die hoëpriester vir sy volk in die ou verbond vol simboliek sigbaar gemaak, dat daar met bloed vir die sondeskuld van sy volk betaal moet word. Maar ook dat nie almal sommer daardie bloed kan bring nie, maar dat daarvoor 'n middelaar noodsaaklik is. Een man uit die midde van sy broeders. Een verteenwoordiger van almal.

Van hoeveel betekenis daardie een verteenwoordiger vir die hele volk kon wees - dit het God ook eendag in Israel gewys. Kom ons kyk saam in Numeri 16. Toe daar as gevolg van die sonde van Korag, Datan en Abiram 'n plaag onder die volk gekom en derduidende Israeliete begin doodmaak het, het Aäron met 'n vuurpan met wierook van die reukwerkaltaar tussen die mense in gehardloop om versoening vir hulle te vra en die plaag te keer. En dan lees ons in vs 48: "Hy het gaan staan tussen dié wat al dood was en dié wat nog geleef het, en die plaag het opgehou!". Daar waar die middelaar gestaan het, kon die straf nie verder kom nie. Die middelaar was by magte om die dood te keer en God se toorn tot bedaring te bring!

2. So het die HERE die noodsaak van 'n menslike middelaar tussen Hom en sy volk al in die ou verbond aan sy volk geleer, gemeente.

Maar Hy het nie minder die magteloosheid van daardie menslike middelaar op verskeie manier vir sy volk duidelik gemaak. Daarop let ons nou vervolgens.

Daardie magteloosheid het die duidelikste geblyk op die jaarlikse Groot Versoendag. Op dié dag was die rol van die hoëpriester die grootste. Maar juis dan het God ook aan die lig gebring hoe klein sy rol ondanks alles moes bly, vanweë sy eie sonde! Juis op daardie dag, waarop hy tot binnekant die gordyn voor God se troon mog verskyn, moes die hoëpriester sy indrukwekkende ampskleed waarop hy simbolies die hele volk op sy hart en op sy skouers gedra het, aflê en slegs 'n eenvoudige wit linnekleed dra. Daaruit moes hyself en die volk 'n belangrike les leer: hierdie man, wat netnou meer naby God sal kom as enigiemand anders, kán nie werklik almal se middelaar by God wees nie. Hy kan nie regtig die hele volk op sy skouers en op sy hart saamdra nie. Daardie las is vir hom te swaar.

In die tweede plek moes die hoëpriester eers vir homself 'n offer slag om sy eie sondes by God te versoen. Hierdie middelaar moes eers met die bloed van daardie offer vergewing van sy eie sondes by God se troon kom vra. Eers daarna mog hy die volk se belange by die HERE behartig. Maar hoe kan 'n man wat self 'n sondaar is, die sondes van 'n hele volk by God versoen? !

Die onmoontlikheid daarvan het dan ook die duidelikste geblyk wanneer die hoëpriester sy werk ten behoewe van die volk in die binnevertrek van die heiligdom klaar gedoen het en weer na buite gekom het. Mog hy dan die toegangsgordyn met die hemelse polisiemanne oopskuif? Mog hy in later jare, in die tempel wat Salomo gebou het, die twee goue engelebeelde omverstoot? Mog hy die hele volk roep om nou maar almal voor die HERE se aangesig te verskyn omdat al die sondes nou vir eens en vir altyd versoen is? Het God die afsondering van sy binnekamer verlaat en Hom onbekommerd onder die mense begewe?

Glad nie. Die hoëpriester moes ook op die Groot Versoendag die voorhangsel weer toemaak, God se hemelse polisiemanne op hulle pos laat en self die heiligdom weer vir 'n jaar lank verlaat.

Sy werk het maar net bewerk dat God sy tent in Israel nie afgeslaan het nie. Sy werk het maar net bewerk dat die volk nie deur God se heilige vuur verteer is nie. Maar egte versoening kon daardie middelaar met sy dierebloed nie totstandbring nie. Want daardie bloed was vir God nie aanvaarbaar as betaling vir mensesondes nie. Daarvoor was 'n beter middelaar nodig wat met sy eie bloed versoening by God sy bewerk. 'n Middelaar wat bereid en in staat was om al die sondes van die hele volk met sy eie dood te bekoop.

Dié opgawe was egter vir Aäron en al sy seuns te swaar. Dit het die HERE nog 'n keer ekstra beklemtoon toe Aäron moes sterwe. Toe het God duidelik gemaak dat Aäron selfs deur sy dood nie by magte was om die skuld van God se volk uit te delg nie.

Ons lees dit in Numeri 20.

God het van die hoëpriester se dood 'n publieke demonstrasie gemaak. Bo-op die bergplato van die berg Hor. Aäron mog nie in stilte sterf nie. Almal moes hiervan getuie wees: die hoëpriester sterf!

Maar daar, op die verhoog, moes die hoëpriester eers sy ampsklere uittrek en dit sy seun laat aantrek voordat hy voor die oë van die hele gemeente gesterf het.

Israël moes dit sien: dit is die einde van sy ampsdiens. Sy dood is geen betaling vir ons sondes nie, hy sterf nie in ons plek die doodstraf wat ons almal verdien het nie. Hy dra maar net sy eie straf en word by sy volksgenote versamel. Hy wat nog onlangs vir ons almal die dood kon keer, word nou self deur die dood gevat en val sêmaar in die massagraf waarin al so baie volksgenote hom voorgegaan het. En hy kan voortaan niks meer vir ons doen nie!

So moes Israël deurdronge raak van die magteloosheid van Aäron se middelaarskap; hulle moes hul blik van hom losmaak en leer om vorentoe te kyk. Hulle moes besef dat daar 'n beter Middelaar nodig was, een wat vir almal die dood kon sterwe en so die sonde vir altyd kon oorwin.

Eleasar het wel die ampsklere van sy pa aangetrek om sy ampsdiens onder Israel voort te sit. Maar ook hy sou God se volk nie regtig verder kan bring nie. Ook hy sou 'n magtelose middelaar bly wat by sy Pa se dood moes begin en by sy eie dood sou eindig.

3. Hoe 'n middelaar en verlosser moes God se volk dan soek?

Hy moés 'n egte mens wees soos Aäron en al sy seuns. Want hy moes mensesondes by God versoen. Menseliefde wat aan God onthou is, asnog vir almal betaal.

Maar hy moes dus ook 'n sondelose mens wees, 'n regverdige mens sê die Kategismus, want hoe kan 'n mens wat self sondaar is en self sy skuld by God daagliks groter maak, die skuld van ander mense by God vereffen?

So 'n mens was na die sondeval onvindbaar op aarde! Na Adam word mos elke mens in sonde ontvang en gebore en rus God se toorn op hom.

Maar selfs al sou daar so 'n mens gebore kon word, sou hy nog nie in staat wees om die geskikte Middelaar vir ons almal te wees nie. Immers: watter straf moes hy dra: die las van die ewige toorn van God oor die sondes van die hele wêreld. Hy moes in staat wees om die sondes van almal nie net met die dood nie, maar met die ewige dood te bekoop. En: hy moes uit daardie ewige dood weerkeer om ons die kwytskelding van skuld en die lewe wat hy so verwerf het, te kan deelagtig maak.

Maar watter mens is, selfs al sou hy sonder enige sonde wees, daartoe in staat? !

So 'n mens moes dan ook deur 'n wonder van God verwek word, broeders en susters. Hy het egter daardie beter Middelaar, na wie Hy sy volk onder die ou verbond leer uitsien het, lankal agter die hand gehad.

En op sy tyd het Hy vir ons die Verlosser gegee wat hier op aarde nie te vinde was nie. Hy het Hom uit die hemel laat kom: Sy eie Seun: ontvang van die Heilige Gees -God uit God, sterker as alle skepsels- maar gebore uit die maagd Maria -en so: mens onder die mense, hul eie vlees en bloed.

Ons staan hier aan die grens van ons denke, gemeente. God en mens in een Persoon. God het die onmoontlike moontlik gemaak.

Maar ons sê tegelyk: So 'n Middelaar het ons nodig gehad: 'n mens soos ons, om uit die middel van by broers en susters vorentoe te kan tree en tot God te nader. Maar sonder sonde soos ons om vrymoedig ons almal op sy skouers en op sy hart te kan saamneem na God toe.

En terselfdertyd: sterker as alle skepsele om nou eindelik die hele las van ons skuld van ons af te neem om dit self vir altyd uit te delg.

So 'n hoëpriester was vir ons gepas, sê die skrywer van die brief aan die Hebreërs in die gedeelte wat ons gelees het: "een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is en wat daarom tot in die hoogste hemele mog opklim; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters uit die geslag van Aäron, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Maar een wat vir eens en vir altyd die versoenende offer vir sy volk gebring het toe Hy Homself geoffer het".

God se Seun het in die wêreld gekom en Hy het een van ons geword. Hy het Hom nie in 'n opvallende ampsgewaad vertoon nie, maar het sy glorie verberg deur die klere van 'n dienskneg aan te neem.

Tog was Hy die Middelaar wat al die skuld van sy volk na hom toe getrek het.

Toe moes ook Hy op die ou end 'n verhoog beklim om te sterwe- die heuwel Golgota. En God het ook hierdie sterwe tot 'n publieke aangeleentheid gemaak.

En hulle het ook Hom die klere uitgetrek.

Maar sy middelaarskap het daar nie geëindig, soos dit by Aäron die geval was nie. Aäron se priesterdiens het daar op die berg Hor magteloos afgebreek, maar Christus het op Golgota volkome in funksie gebly, ja, juis toe het Hy tot die hoogste priesterdiens gekom. Hy het geen bulle of bokke vir die versoening van die volk geoffer nie, want daarmee kon die skuld mos nie werklik weggedoen word nie. Hy het Homself geoffer en sy bloed gegee tot 'n volkome versoening van al ons sondes, om vervolgens by sy hemelvaart daardie bloed tot binnekant die voorhangsel van die heiligdom in die hemel te bring.

Toe Christus op die verhoog gesterf het, het Hy nie teruggeval in die graf van die voorouers, waarin al so baie hoëpriesters Hom voorgegaan het nie. Maar Hy het die dood en die graf van binneuit gaan oopbreek om die lewe vir altyd aan God se volk terug te gee.

Dis dié dat God by sy sterwe die verbodetoeganggordyn in sy heiligdom van bo tot onder middeldeur geskeur het. Deur hierdie dood is die sondes eindelik versoen. Nou lê die pad na God vir God se kinders eindelik oop. Nou mag almal kom en nader voor sy troon. Ja, nou kom God na hulle toe. In die Heilige Gees. Nou mag hulle daardie tempel van bakstene maar afbreek, want Christus sal in drie dae 'n nuwe tempel opbou: 'n tempel van lewende stene waarin God self woon by sy volk, sonder enige belemmering. 'n Tempel waarvan Hy self die hoeksteen is.

Want voortaan staan hierdie Hoëpriester, God en mens in een Persoon, daarvoor Borg dat God onbelemmerd by sy volk kan woon. Hy waarborg voortaan vanuit die hemel dat die reukwerk van ons gebede verhoor word, dat die lig van God se Gees ons lewe verlig en dat ook dinge soos kos en klere en so meer daagliks uit God se hand na ons toe kom.

Hy waarborg dat ons eendag volkome verlos van die sonde en sy gevolge vir ewig by God mag woon op 'n vernieude aarde.

So mag u ons Middelaar vandag in die hemel by God weet, gemeente. U kan Hom vandag nie sien nie. Maar lees maar baie in u bybel, nie net in die Nuwe Testament nie, maar ook in die Ou Testament. Daaruit kan u weet dat Hy vandag in die hemel u Middelaar is en hoé Hy daar u Middelaar is: God en mens tegelyk. Daaruit weet u nou dus ook des te beter waaróm Hy so moet wees.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)