Die majesteit van die Lewende God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 4
Preek Inhoud: 

Voorbereiding Nagmaal

Ps 95: 1, 2, 3
Ps 95: 4
Ps 90: 2, 4, 7, 9
Ps 124: 1, 2, 3, 4
Lees: Psalm 90 N.G.B art 15
Teks: Sondag 4

Brs en srs,

Dit is nie juis 'n lekker sondag, hierdie sondag 4 nie.

Die evangelie lyk verder weg as ooit. Daar is nie een woord van vertroosting in te vinde nie.

Ons hoor van 'n eis so streng dat ons nie daaraan kan voldoen nie. Ons lees van 'n toorn van God wat verskriklik is.

Mense wat nie na sy wet lewe nie, val onder Sy vloek.

Ons voel die neiging om te loop as ons so'n boodskap moet hoor.

Ook al weet ons daar is ontkoming aan God se vloek vir hulle wat glo, dan nog bly dit 'n hele ding om te sê: alle mense wat nie in Christus glo nie, bly onder God se vloek.

Soiets wil 'n mens mos nooit aan 'n medemens toewens nie.

Ek dink dat die gevoel in ons tyd redelik algemeen is. Ons kan nie goed uit die voete met 'n boodskap van toorn en vloek en hel. Dit voel klaar ongemaklik om daaroor te dink of te praat.

Maar laat ons nie vergeet, dieselfde Bybel wat ons vertel oor die genade en vrede van God vir hulle wat glo, vertel ook van God se toorn oor 'n wêreld wat van Hom nie wil weet nie.

Wie vandag nie meer van God se toorn oor 'n van Hom afgevalle wêreld wil weet nie, hol daarmee tegelykertyd ook die boodskap van die verlossing uit.

Met 'n bybelse uitdrukking: jy maak dan die evangelie van die kruis tot 'n holle klank. Dit galm nog steeds maar het geen enkele inhoud meer nie.

As in prediking uitsluitlik oor die liefde van God gepraat word, sonder die werklikheid van God se toorn daarby in rekening te bring word dit 'n leeg woord.

Dan het jy van 'n betrokke vader in die hemel 'n soort doodgoeie grootvader in die hemel gemaak. Daardie grootvader vind alles maar goed wat jy doen.

Wie so God wil dien vereer daarmee 'n beeld wat hy self gemaak het. 'n Leweloos beeld.

Sondag 4 wil ons leer van die lewende God.

Hy is lewend in sy toorn. Maar ook lewend in sy liefde.

Gemeente, ons moet vandag deur sondag 4 gaan om te besef watter heerlike boodskap sondag 1 vir ons gebring het namelik dat Jesus Christus ons vrygekoop het van die toorn van die lewende God en ons daarmee gebring het in die hande van 'n genadige vader.

Ons tema is:

Die majesteit van die lewende God

  1. Ons moet klein wees onder sy regverdige toorn
  2. Ons moet God grootmaak in sy barmhartige genade

Ons eerste punt is, ons moet klein wees onder God se toorn.

Maar is dit dan nie vanselfsprekend nie?

As jou pa vir jou kwaad is en jou gaan straf kan jy jou maar beter 'n bietjie klein maak en 'n skuldige gesig trek. Want as jy net doen of niks verkeerd is nie, dan maak jy sy kwaadheid net groter. Dit is duidelik.

Maak ons teenoor die Here net so?

As ons weet ons het gesondig, buig ons dan onder sy toorn?

Ek vermoed nie so gou nie. Ek sal ook sê hoekom nie.

Dit is hierom: gewoonlik merk ons van sy toorn nie so baie nie.

As jou Pa kwaad vir jou is kom jy onmiddellik agter.

Maar God se toorn, wat sien 'n mens daarvan? Goed, jy kan soms skuldig voel oor iets wat jy verkeerd gedoen het. Maar dit is ook nie so moeilik om jou gewete te sus en daarna daarvan te vergeet.

Wanneer merk jy dat jou sondes gestraf word?

Selde. Eerder die teendeel. Mense kan sondig wat hulle wil. Maar daar gebeur niks nie. Hulle leef net so verder.

En wat van spotters met God? Sy Naam word gevloek en belaster, maar niemand bly ter plekke dood nie. Hoe sit dit eintlik met daardie toorn van God?

Val dit nie 'n bietjie mee?

Ja dit lyk mee te val, tenminste as ons afgaan op wat ons in hierdie wêreld sien.

Maar as ons werklik oop oë wil hê sal ons deur die bril van die Skrifte na hierdie wêreld en wat daar gebeur moet kyk. Want dit is net die woord van die Here wat ons wys kan maak.

Ons het nou psalm 90 gelees

Hierdie psalm is 'n gebed van Moses, die man van God.

Miskien moet 'n mens so 'n psalm 'n paar keer lees om gevoel te kry vir die klank van die psalm. Dit is 'n noodkreet.

Hoor maar, vers 13: "Keer terug Here! Tot hoe lank? Ontferm u oor u knegte!"

Blykbaar het die Here met 'n oordeel oor sy volk gekom.

Sy aangesig is in toorn na sy volk gekeer. Daar lê 'n straf oor die volk.

Watter straf kan dit wees?

En wanneer? Dit lê 'n bietjie voor die hand om vanuit die opskrif " 'n Gebed van Moses, die man van God" aan die woestyntyd te dink. Dit is mos Moses wat vanaf die uitleiding uit Egipte tot aan die grens van die beloofde land, as man van God opgetree het.

Nadat hulle 'n jaar op pad was het die volk vir die eerste keer by die beloofde land aangekom. Julle onthou almal dat hulle toe vanweë hul ongeloof nie die land kon ingaan nie.

En dan kom die straf van die Here. As hulle nie op Hom wil vertrou nie, dan word hulle veroordeel om 40 jaar as 'n woestynvolk te lewe. As 'n nomadestam moet hulle rondtrek van die een plek na die ander waar maar voedsel en blyplek is.

In daardie tyd sal al die volwasse Israeliete sterwe.

Dit was die straf vir hul ongeloof!

Letwel op die grens van Kanaan het hulle nog steeds gepraat van die vleispotte van Egipte! Het hulle nog steeds gesê: wat soek ons hier eintlik?

En dit terwyl die Here al die tyd soveel genade an hulle bewys het!

Hy het selfs wondertekens gedoen om vir hulle te laat glo. Maar dit alles het vir hulle blykbaar nie vertroue in die Here gegee nie. Hulle het net bly mor en kla.

En dan is dit klaar net die Here se geduld.

Terug julle! Julle sal nie in die land ingaan nie. As julle my belofte dan nie wil glo nie, dan gaan die belofte aan julle verby!

Wel daaroor gaan Moses se gebed.

"Here, ons vergaan onder u toorn! Ons mense gaan almal dood! 70. hoogstens 80 jaar oud word hulle. En dan is hulle dood!"

Vir die vergelyking: onthou dat Moses al 80 jaar oud was toe die hele uittog nog moes begin. Moses het self 120 jaar oud geword. Dus hierdie leeftye is nie om te sê: Kyk so oud word 'n mens so ongeveer. Nee, hier staan dit as 'n aanduiding van God se toorn. Die hele volk is besig om uit te sterf in die woestyn. Van die ouer generasie haal niemand die beloofde land nie. Ons vergaan onder u toorn!

Ons dae gaan verby onder u grimmigheid.

Maar nou kom die ergste. Nou kom Moses se eintlike probleem.

Die volk self ervaar dit nie so nie.

Hulle het daaraan gewoond geraak. Dit pla hulle nie meer dat al die mense een vir een sterf sonder om die beloofde land te sien. Hulle herken in hul sterwe nie meer die straffende hand van God waaronder hulle hul sou moet verootmoedig nie. Nee, hulle is heeltemal tevrede met hul lewe in die woestyn.

En daaroor kla Moses in vers 11: Wie ken die sterkte van u toorn? en u grimmigheid?

Wie besef nog dat ons hier besig is met 'n straf van God dat ons in die woestyn swerf?

Wie vrees u nog soos 'n mens verskuldig is?

Wie herken in hierdie sterwe die oordeel van die lewende God?

Dit is Moses se groot moeite in hierdie Psalm.

Dat die volk dit nie meer raaksien nie.

Hulle voel niks meer van 'n oordeel nie. Hulle het die dood aanvaar as 'n vanselfsprekendheid. Dit behoort maar by die lewe.

Gemeente, dit is ook die benouende van ons tyd.

Wie sien nog iets van die werkende hand van God rondom hom?

Wie ontdek iets van sy seënende hand?

Of van sy slaande hand?

Weet ons nog ons welvaart as seën te ervaar?

Of vra ons ons ooit af wat die nood van die wêreld in die algemeen met 'n oordeel van God te doen het?

Letwel, ek sê nie dat 'n mens in die wêreld moet rondkyk en goedkeurings en afkeurings van God moet raaksien in sukses of teëslag van mense nie. So werk God nie.

Maar die feit dat daar rampe gebeur, die feit dat mense mekaar die vreeslikste dinge aandoen, die feit dat elke mens se lewe dag vir dag 'n onsekere saak is, het iets te doen met die toorn van God oor sy skepsel, die mens. Dit het te doen met sy vloek oor die aarde.

Dit is nie verniet dat in Genesis 3 staan dat God die aarde omwille van die mens vervloek het nie.

Ek dink dat ons almal op 'n manier afstomp vir die erns van daardie woord.

Ek weet werklik nie alle antwoorde op vrae wat u vir my sou kon vra nie, maar daar gaan 'n oordeel van God oor hierdie wêreld.

Onthou: dit is nooit, maar dan ook nooit aan ons om te sê: Ag hulle het dit verdien, hulle moes maar anders geleef het, hulle moes ook maar die Here gedien het.

Laat ons voorlopig net dit sê: In die feit dat daar op hierdie wêreld so vreeslik baie ellende is, moet ons raaksien dat God die wêreld nie aan sy lot oorlaat nie.

Inteendeel God besoek die wêreld in sy toorn. Juis in die rampe en ongelukke en oorloë maak God vir die mensheid duidelik dat ons nie sonder Hom gaan regkom nie.

God gee eenvoudig die mens nie die kans om self 'n wêreld van vrede en geregtigheid te kreëeer buite Hom om nie.

'n Jaar of twee gelede het ons dalk vir 'n oomblik gedink:

Nou is die Koue Oorlog tussen Oos en Wes verby. Nou gaan mense hande vat en situasies op die aarde verbeter.

Wel, as ons nou weer kyk besef ons dat die wêreld tans 'n kokende pot waar enige oomblik weer uitbarstings kan kom wat weer 'n stroom van bloed te weeg sal bring.

Ons kan sê: God is besig in sy toorn om die mensheid te laat vasloop in 'n doodloopstraat.

Nou keer ons terug na sondag 4.

In die vrae herken ons die vrae van 'n mens wat wil vry wees van God en van sy toorn. Hy soek vlugpaaie om hom aan die toorn van God te onttrek. Hy wil sonder God, sonder versoening, vrede in sy lewe bewerk.

Hoor maar:

vr 9 Is dit wel billik dat God so baie van ons vra?
vr10 Kan God die sonde dan nie ongestraf laat nie?
vr11 Maar sal God se barmhartigheid hom nie van straf weerhou nie?

Maar al daardie vrae waarmee 'n mens sou wou probeer op eie krag met die toorn van God klaar te kom word negatief beantwoord.

So maklik kom 'n mens van God nie af nie.

In die vrae herken ons die vrae van iemand wat nie klein wil wees nie. Ons eie vrae. Ons wil nie buig onder God se toorn nie. Ons protesteer eerder daarteen. Kyk maar in sondag 4:

Eers vra ons of sy toorn wel tereg is.

Vervolgens of straf wel nodig is.

En tenslotte beroep ons ons maar op barmhartigheid om onder die straf uit te kom.

Maar met al die vrae probeer ons God op 'n afstand hou.

Eintlik vra jy daarmee of God jou liewers nie wil uitlos nie.

Laat God Hom maar nie verder met ons bemoei nie.

Laat ons maar op ons eie probeer, sonder God en sonder wet.

Weet u, selfs hierdie vraevraery waarin onsself herken, is 'n bewys dat ons heeltemal met die sonde van Adam vereenselwig. Hy wou hom van God losmaak. Hy wou homself red sonder God.

Hy wou die plek verlaat wat God vir hom gewys het.

En ons met hom.

Maar God wou ons nie loslaat nie. Hy roep ons terug.

Hy bring ons lewe in die druk.

En so leer Hy ons om weer te buig onder die toorn van die lewende God. Dit sal ons eerste moet doen.

En daarna eers sal ons oog kan hê vir die reg van sy barmhartigheid.

Daaroor in ons tweede punt:

Ons moet God grootmaak in sy barmhartige genade

God wil die mens waarmee Hy sinds die Skepping 'n verbond gemaak het, nie loslaat nie.

Die bybel gebruik vir die verbond en ons ongehoorsaamheid daarin 'n pragtige beeld. Die beeld van 'n huwelik en ontrou in die huwelik.

Die volk pleeg egbreuk deur die Here te verlaat, maar die Here wil van 'n skeiding nie weet nie.

God handhaaf sy regte op die liefde van die mens. Hy is toornig solank ons nie in sy gemeenskap terugkeer nie. En so lank ons ronddwaal ver van Hom af weg bring Hy ons lewe in die druk. Dit is nie hard van God nie, dit is nie genadelose strengheid nie, maar dit is juis dat die Here ons wil vashou.

En daarmee red Hy vir ons die lewe.

Hy wil ons nie verloor nie. En daarom hou Hy hom besig met ons, selfs in sy toorn.

Dink maar weer aan die situasie van Psalm 90. God het sy volk maar nie by die grense van Kanaan gelos nie. Nou red julle julself maar ! Ek trek my hande van julle af!

Nee, Hy het sy hande op hulle gehou. Seker, in toorn. Maar dan tog maar Sy hande!

Hy verlaat nie wat sy hand begin het nie!

En daarom moet ons sien dat Hy juis in sy toorn die pad van die genade oophou.

Daarom bid Moses: Laat u werk vir u kinders sigbaar word!

Laat hulle tog ontdek dat U in u oordeel met hulle besig is. Laat hulle hierdie jare in die woestyn bly ervaar as 'n oordeel.

En bring hulle almal tot die vrees van U Naam!

Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom.

Om 'n wyse hart te bekom moet 'n mens begin met die Here te vrees.

Want daardie vrees is die begin van die wysheid.

As jy nie van daardie vrees wil weet nie, is jy 'n dwaas.

'n Dwaas sê in sy hart, daar is nie 'n God nie.

Maar Sondag 4 wil ons terugbring tot die vrees van God se Naam.

Ons moet leer dat ons nie met God se majesteit kan spot nie.

Ons kom nie klaar met sy toorn deur 'n goedkope beroep op sy barmhartigheid nie.

By God is nie goedkope genade nie.

Ons kan self met geen enkele redenering met God se toorn klaarkom nie.

Dit is wat Sondag 4 vir ons wil wys.

Maar die ryke daarvan is dat juis daardeur Sondag 1 nog te beter uitkom.

Want daar is Een wat wel reggekom het met die toorn van God.

Dit is ons Here Jesus Christus!

God se eie Seun wat as die Lam van God gegee is.

Met God se majesteit en met God se regverdigheid kom onsself op geen enkele manier klaar nie.

Maar ons weet seker. Jesus Christus het wel daarmee klaargekom.

En met 'n beroep op sy werk kan ons nou om barmhartigheid by God smeek.

Ons sien dit, daar gaan 'n oordeel oor die wêreld. En ons is net so skuldig aan die oordeel as enig iemand anders. Ons het netso veel straf verdien as wie ook maar.

Maar ons weet nou ook daar is 'n weg van ontkoming aan die oordeel. Die weg van die Middelaar Jesus Christus.

Die weg wat die Kategismus in navolging van die Woord so oortuigend vir ons wys.

Ons kan nou gaan roem in sy genade.

Ons kan nou met Moses meebid.

En dan moet ons maar ons eie sondes en ons eie nood in gedagte hou terwyl ons die Here aanroep.

Volgende week mag ons saam die Heilige Nagmaal vier. Laat ons onsself daarop voorberei deur met Psalm 90 te bid: Keer terug Here, ontferm u oor u knegte.

Here doe ons nie na ons sondes nie, maar wees ons genadig.

Versadig ons in die Nagmaal met u goedertierenheid.

Sodat ons kan bly wees in al ons dae.

Laat u werk oor ons almal sigbaar word.

En vertoon veral u heerlikheid aan ons kinders.

Sodat hulle kan sien dat u inderdaad 'n God van genade is.

'n God wat barmhartig is oor elkeen wat Hom met hartlike berou oor sy sondes tot u wend.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)