Die onveranderlike God handhaaf Sy majesteit teenoor afvallige verbondskinders

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 4
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 4 H.K.

LITURGIE:
L. Rom. 1: 16-32
Ps. 97: 1, 3
Ps. 97: 4
Ps. 90: 4, 5, 6
Ps. 5: 4, 5, 6
SB. 7: 3, 4

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek moet u dus vanaand God se Woord bedien oor die onontkombare eis van God se wet, oor God se verskriklike toorn oor ons sondes en oor die straf wat God op ons sonde teen sy allerhoogste majesteit bepaal het: die swaarste straf, die ewige straf aan liggaam en siel.

'n Sware boodskap!

Daar 's baie mense wat nie hou van hierdie preekstof nie. Hulle dink die preekstoel is daarvoor nie gebou nie. Van die kansel moet mos die blye evangelie van vergeving en versoening klink, die wonder van God se liefde en genade vir sondaars. Nie die harde boodskap van God se eis, God se toorn en God se vloek nie.

Maar dan moet ek dadelik maar sê, broeders en susters, dat die evangelie van God se genade en vergeving 'n onbegryplike verhaal vir ons sou bly, as ons heeltemal sou moet swyg oor God se toorn. Ons kan hierdie twee mos nie van mekaar losmaak nie!

Ja, 'n mens leer God se liefde eers verstaan teen die donker agtergrond van sy toorn.

Ons God is geen Liewenheer nie.

Wie God die HERE nie ken as diè God wat Hom verskriklik vertoorn oor alle sonde wat teen sy allerhoogste majesteit gedoen word nie, sal Hom ook nooit kan ken as die Vader van ons Here Jesus Christus wat, om ons te kan red, sy eie Seun op Golgotha met die ewige dood gestraf het nie.

Die Vader van ons Here Jesus Christus is die God van Golgotha.

En as ons iets daarvan wil verstaan hoekom daar 'n kruis op Golgotha gestaan het, en wat ons Heiland daar moes ly, en waaròm die hoë prys vir ons verlossing noodsaaklik was, dan sal ons ons God moet ken in sy allerhoogste majesteit, soos Sondag 4 Hom aan ons voorhou.

Die blye evangelie is nogtans die evangelie van die kruis, die evangelie van Christus wat gely het. En daarom kan ons aan die swaar boodskap van Sondag 4 nie verbykom nie.

Hierdie Sondag leer ons boonop met watter God die mens te make kry wat nou nòg God se liefde in Christus durf te bly verwerp.

Laat ons daarom eerbiedig na hierdie swaar boodskap gaan luister. Ek het dit so saamgevat:

DIE ONVERANDERLIKE GOD HANDHAAF SY MAJESTEIT TEENOOR AFVALLIGE VERBONDSKINDERS

  1. IN DIE EIS VAN DIE VERBOND
  2. IN DIE VLOEK VAN DIE VERBOND
  3. IN DIE HERSTEL VAN DIE VERBOND.

1. Mag mens van 'n verlamde verlang dat hy saamspeel in 'n rugbywedstryd, gemeente? Kan jy van 'n analfabeet eis dat hy 'n boek voorlees?

Ek dink u vind dit maar snaakse vrae.

Maar hierdie toonhoogte het ook min of meer die eerste vraag in Sondag 4: "Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie? "

Die triestige slotsom van Sondag 3 was mos: ons is so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie, ja, ons is tot alle kwaad geneig. Ons het eintlik al dadelik in Sondag 2 tot hierdie gevolgtrekking gekom, toe ons moes vasstel dat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat, terwyl God in sy wet juis die teenoorgestelde van ons eis, naamlik dat ons Hom sal liefhê bo alles, en dat ons ons naaste sal liefhê soos onsself.

Nogtans hou God nog altyd aan ons die eis van sy heilige verbondswet voor. Elke Sondagmôre klink nog altyd hierdie wet. En dis meer as maar net 'n herinnering aan 'n ou klompie bepalings uit vroëer tyd. Elke Sondagmôre is die heilige God hier in die kerk en hou Hy self sy ou wet as 'n blywende eis aan ons voor. So dikwels as ons die Bybel oop maak, staan die HERE voor ons en konfronteer Hy ons met sy wet wat nog altyd dieselfde is.

Maar 'n wet, waaraan ons glad nie meer kan voldoen nie. 'n Wet wat ons pynlik aan ons magteloosheid herinner.

Maar as nou in Sondag 4 gevra word: "Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom bly eis wat hy mos nie meer kan doen nie? ", dan is dit om vervolgens meteen radikaal by ons die gedagte af te sny asof ons feitlik maar tragiese stakkers sou wees wat aan die onredelik hoë eise van 'n meedoënlose God uitgelewer is.

Ons is sommer geneig om die verhoudings skeef te trek en in ons voordeel te verdraai. En dan sou ons God nog gaan verwyt dat Hy 'n onmogelike ding vra. Jy kan van 'n verlamde tog nie vra dat hy 'n rugbywedstrud speel nie? ! Jy mag tog van iemand wat geen letter kan lees nie, nie eis dat hy 'n boek voorlees nie?

Doen Gòd die mens dan nie onreg aan nie........?

Maar dan moet ons in Sondag 4 leer dat die verhouding so nie lê nie!

Ons is nie sielige stumpers nie, maar afvallige kinders wat self die skuld daarvan is dat ons nie meer aan die eis van God se wet kan voldoen nie. Ons het geen ongeluk gehad nie. En ons is nie slagoffers van te min opvoeding nie.

Maar ons het ontrou geword aan die verbond wat God in die paradys met ons gesluit het, en dan het ons nie die reg om nou aan God te verwyt dat Hy wèl trou bly aan daardie goeie verbond van die begin nie.

Ons het afvallig geword- God het gewoon dieselfde gebly.

Ons mag nooit ons goeie begin vergeet nie, broeders en susters. Ons kan ons nie van ons afkoms ontdoen nie.

Die wêreld het met 'n paradys begin, waarin God goèie mense gemaak het om te lewe met Hom. Heeltemal in staat om goed te doen en glad nie geneig tot enige kwaad. Van nature geneig om God en die naaste lief te hê. En aan hierdie mens het God net een eis gestel, die een eis van sy verbondswet, 'n volkome vanselfsprekende leefreël in sy huis: Ek wil in liefde met julle saamlewe. Ek sal julle met 'n volkome liefde liefhê. Maar julle moet ook my en mekaar met julle hele hart liefhê.

Onthou u nog van daardie preek oor Sondag 2, broeders en susters? Soos die Pa in die gelykenis van die twee verlore seuns vir sy oudste kind gesê het: "Kind, jy is altyd by my en al wat myne is, is joune", so het God vir ons almal gesê in die Paradys. Kinders van die lewende God mog ons wees. Ja, die HERE het ons amper as 'n goddelike wese gemaak, sê Psalm 8. (Ds. De Boer het in sy preek oor Sondag 3 daarop gewys). Onderkonings in God se wonderlike wêreld.

Dat dit vandag heeltemal anders geword het- dit is nie God se skuld nie. Dit moet ons onsself verwyt.

Ons het afvallig geword.

Ons het nou net in die brief van die apostel Paulus aan die Romeine, hoofstuk 1, gelees dat die mens in sy eiewysheid so dwaas geword het om die heerlikheid van die onverganklike God te verruil vir die beeld van 'n verganklike mens.

Daarmee het die ontrou begin: eiewysheid.

Die mens wou net soos God wees. Hy wou sy majesteit naas die allerhoogste majesteit stel. En dit het natuurlik beteken dat hy, in navolging van die duiwel, sy majesteit teenoor God se majesteit geplaas het.

Die mens het God na die kroon gesteek.

Die onderkoning het met die plek van onder-koning nie langer genoë geneem nie. Die kind wou nie langer kind wees nie.

Alhoewel die mens God in sy majesteit geken het, wou hy Hom nie langer as God verheerlik of dank nie.

En dis hoekom ons onverstandige hart is verduister en God se goeie wet van die begin vir ons vir altyd te swaar geword het.

Maar nou mag ons nie die HERE van onreg beskuldig as Hy ons nogtans die reël van die paradys bly stel nie.

Ons wat verander het het, kan God tog nie verwyt dat Hy dieselfde gebly het nie?

Want ons mag dan ontrou geword het- hy bly getrou, Hy kan Homself nie verloën nie. Ons het van die hoë vlak van die paradys afgeval. Maar nou moet ons nie verwag dat die HERE ook maar daardie vlak sal loslaat nie. Hy kan dit nie. Hy sou Homself loslaat! God kan daardie goeie begin nooit meer vergeet nie. Hy sou Homself vergeet! Hy bly ons sien as verbondskinders wat aan hul afkoms ontrou geword het. En daarom bly Hy ons ook gedurigdeur aan ons afkoms herinner. Hy bly die eerste eis stel: Jy moet die HERE, jou God, liefhê; en jy moet jou naaste liefhê. En geen mens kom onder die klem van hierdie eis uit nie.

Ons in die kerk nie.

Ook die heidene wat al totaal van God vervreemd is nie.

Wat dit aanbelang meet God in die kerk en in die wêreld met een en dieselfde maat.

Daar is geen mens wat teenoor Hom 'n verontskuldiging het nie.

Ek het al dikwels gehoor dat 'n broeder of suster, partykeer 'n katkisant, gedink het jy kan 'n heiden wat nog nooit met die evangelie in aanraking gekom het nie feitlik nie skuldig teenoor die HERE noem nie. So'n mens weet mos nie beter nie! Ja, as hy een keer die evangelie gehoor het, met bevel van geloof en bekering, en hy bly 'n heiden- dan word hy skuldig. Maar tog nie eerder nie?

Maar ons het in Romeine 1 gelees, gemeente, dat niemand 'n verontskuldiging het nie. Ook heidene nie. Want ook sonder 'n Bybel kan elke mens van God weet. Paulus skryf in vs. 19 en 20 dat elkeen God se ewige krag en goddelikheid, sy allerhoogste majesteit, van die skepping van die wêreld af in sy werke kan verstaan en duidelik sien. Ook buite die Bybel om openbaar die HERE homself in hierdie wêreld aan alle mense. Hy laat aan almal sy bestaan as God voèl in sy werke. En aan almal gee Hy die gevoel van sy krag in wat Hy doen. Die hele skepping en die hele geskiedenis spreek kragtige taal oor God.

Daar is nie 'n mens wat kan sê: ek het nooit geweet dat daar 'n God was nie. Want die mens kan geen stap versit sonder om teen God se werk op te loop nie. In die bome en struike wat weer begin uitloop, in die blommeprag, in die wonderlike diere-wêreld, in die verbysterende ontwikkeling van die tegniek, ja, oral in moet 'n mens wel die majesteit van God agterkom.

Die hoë hemelrond vertel met bly mond Gods heerlikheid en eer; en, wonderbaar deur glans, vermeld die wye trans die werke van die HEER. Die dag roep orals luid en duisendstemmig uit diè loffelike sprake. Die nag se stille stap meld kunde en wetenskap deur al sy donker wake.

Hoe goddelik en skoon en wonderbaar diè toon wat deur die skepping gaan! Geen volk so onbegaaf, geen oor so onbeskaaf, wat nie diè taal verstaan -altans: nie kan verstaan nie.

Die prag van hemellyn wat deur die wydtes skyn, spreek daar so luid en kragtig, dat nêrens hart of oor diè skeppingstaal nie hoor -altans: nie kan hoor nie- tot roem van God almagtig.

Paulus skryf selfs (in vs. 32) dat ook heidene die verordening (ons kan ook vertaal: "die regverdige eis") van God goed ken, dat die wat sy rug op God draai die dood verdien. Maar hulle het hierdie kennis weggedring, weggesteek. Soos Paulus dit al in vs. 18 genoem het: hulle het in ongeregtigheid die waarheid, die realiteit dat hierdie wêreld God se wêreld is, onderdruk. Hulle wil nie daarvan weet nie. En op die ou end maak hulle hulself wys dat hulle inderdaad ook nêrens van weet nie. Soos Dawid dit in Psalm 14 gesê het: "Die dwaas sê in sy hart: daar is geen God nie".

Maar dit kan geen mens voor God 'n verontskuldiging nie.

God roep ons almal ter verantwoording, vandag, en wie sy ore toestop: eendag voor sy regterstoel; en sy ou wet klink vir elkeen nog altyd met dieselfde krag: Jy moet die HERE, jou God, liefhê bo alles en jy moet jou naaste liefhê soos jouself!

Die mens het Hom losgelaat. Maar Hy sal die mens nooit meer loslaat nie. Ons sal nooit en nêrens aan Hom kan ontkom nie. Ons raak hierdie eisende God nooit meer uit ons lewe kwyt nie.

Want ons het verander, maar Hy bly die Onveranderlike.

Ja, so sal ons ons God moet ken, gemeente: as die Onveranderlike. So bely ons die HERE tog in art. 1 van die Nederlandse Geloofsbelydenis?

Maar beteken dit nou dat die HERE kliphard is, onmeedoëloos, onvermurfbaar soos 'n blok graniet?

Hoegenaamd nie, broeders en susters. Dit beteken maar net dat die HERE die verbond handhaaf! En dit beteken dat Hy Homself as ons Vader handhaaf! Al het ons ook afvallige verbondskinders geword, God bly ons nogtans as sy kinders beskou! Hy sê nie: as julle jul rug op My draai, sal Ek ook My rug op julle draai nie. Hy sê ook nie: noudat julle eiewys en dwaas geword het, sal ek my eise maar 'n bietjie laër stel. Julle hoef My nie meer lief te hê met julle hele hart en met julle hele siel en met julle hele verstand nie. Julle hoef ook julle naaste nie meer lief te hê soos julself nie....

Dit sou mos beteken dat God die paradys sou prysgee!! Dit sou beteken dat God feitlik sy wêreld aan die sonde sou prysgee!

Maar omdat God nog altyd die God van die ou paradys is en die God van die nuwe paradys wil word, dààrom bly Hy ons met sy verbondswet terugroep na die goeie begin wat ons verloor het.

Ja, sy eis klink hard en dit herinner ons telkens opnuut pynlik daaraan dat ons die paradys deur eie skuld vergooi het.

Maar tegelyk sê die eis vir ons dat God die paradys nie weggegooi het.

Ons kan aan hierdie eis nie meer voldoen nie- dit is ons ellende. Maar dat God nogtans die eis laat hoor- dit is ons troos. Ons as kinders het wel afvallig geword. Maar ons Vader het Vader gebly.

'n Vader wat ons ten spyte van al ons sondes bly huis toe roep.

2. Hierdie roepstem sal ons vervolgens ook in God se toorn oor ons sondes moet hoor, broeders en susters.

Ook daarin blyk dat Hy ons nie sommer loslaat nie.

Wie nie met God in liefde wil saamlewe nie, sal Hom in sy toorn raakloop.

So het Hy dit van die begin af gesê: wie met My nie in liefde lewe wil, slaan self die fondament onder die lewe weg. Buite My is daar geen lewe nie. Daar heers die dood. Daar kom die hel met sy totale ontbinding.

So het dit na die sondeval geword. Die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk. Die hemel het dreigend swart bo ons geword. Laat niemand dink dat God 'n onverskillige toeskouer bly by alle goddeloosheid wat daar hier op aarde gevind word nie. Die Kategismus waarsku dat sy toorn verskrìklik is!

Ons kla baie oor die ellende en verskrikkinge waarvan hierdie aarde so vol is. En waar ook òns lewe nie vir bewaard bly nie.

Ramp na ramp tref die wêreld en die mense: oorloë, aardbevings, hongersnood, vloedrampe, groot brande, skepe en vliegtuie wat vergaan, padongelukke, terreuraanslaë en so meer. En dan noem ek nog maar net die groot verskrikkinge waarvan ons in die koerante lees en oor die radio en televisie hoor. Maar hoeveel kleiner, hoeveel stil verdriet en ellende sal daar in baie lewens wees? Daar is mense wat nie eers meer kan huil nie- soveel narigheid het hulle al in hul lewe moet verwerk.

Ons wil dan altyd maar vra: hoekom maak die HERE so? Is Hy nie 'n God van liefde nie?

Ons vind dit verskriklik.

Maar ons moet ook daarvan skrik, gemeente! God wil dat ons daarvan skrik.

Want al diè ellende is nie sy skuld nie. Dis ons eie skuld.

God is baie beslis 'n God van liefde. Maar daarom is Hy vandag 'n God wat in sy liefde gekrenk is! En dààrom maak die HERE so!

Hy laat ons in 'n regverdig oordeel nou daagliks ondervind dat ons ons rug op die God van die lewe gedraai het. Ons moet nou maar voel dat die lewe sonder Hom geen lewe is nie. Ons wou mos in eiewysheid soos Hom wees? Ons het mos gedink -en baie mense denk nog altyd so!- ons kan self die wêreld tot 'n paradys maak? Ons sal agterkom dat ons maar net 'n hel daarvan kan maak!

God laat ons met al ons hoogmoed en met ons verbasingwekkende tegniese vermoëns gans en al vasloop. Hy slaan voortdurend die grond onder ons voete weg.

Want Hy laat Hom nie eenkant toe skuif nie. Hy het Homself nie teleurgesteld of beledig uit hierdie wêreld teruggetrek nie. Nee, Hy bly gevaarlik aanwesig, al het ook baie mense Hom doodverklaar. En Hy handhaaf sy majesteit deur 'n ontlading van sy goddelike toorn.

U het dalk partykeer die gevoel dat die HERE tog sy toorn maar eienaardig verdeel, broeders en susters. Dit lyk wel asof God die wat hulle tot Hom bekeer nog meer straf as al die mense wat al hoe brutaler in hul goddeloosheid bly aangaan.

Maar moenie 'n fout maak, gemeente. Moet u nie in die buitekant vergis nie.

Ook as God se hand aan die brutale sonde die vrye teuel gee, kom daarin God se toorn saam! Dan gee God mense aan die sonde oor, waarsku Paulus in daardie gedeelte wat ons uit sy brief aan die Romeine gelees het. Hy gebruik daardie woord driemaal: vs. 24, 26, 28.

God kan 'n mens ook vir straf aan die sonde uitlewer. Mense wat Hom nie meer verheerlik nie, maar alleen nog maar met hulleself besig is, word deur God aan hulself oorgegee. En dan gaan hulle aan hulself te gronde.

Die apostel noem daar in Rom. 1 'n hele klompie voorbeelde van. In seksuele relasies loop die man alleen nog maar homself raak. En die vrou sien tot in die intiemste oomblikke alleen nog maar haarself: homoseksualiteit.

So gee God die mens aan homself oor.

Die mense ontvang deur hierdie tipe van sonde die noodwendige vergelding van hulle dwaling in hulleself, skryf Paulus. Maar dit kan op baie meer maniere. Op allerhande maniere sluit die mens homself op in homself. Deur ongehoorsaamheid aan sy ouers en mense wat gesag oor hom het verloor hy kontakte en verbreek hy relasies.

Deur hebsug en gierigheid verloor hy vriende en familie en staar hy op die ou end eensaam op sy banksaldo. Deur afguns en haat vervreem hy baie mense van hom. Deur gelaster en gespog stoot hy die mense rondom hom af......

En so word op allerhande maniere die slegte gesindheid wat Hom nie op God rig nie, maar enkel op die mens, 'n verskriklike pad, vol haat en onreg, stryd en wellus en vereensaming.

Maar moenie u vergis nie. As mense al hoe meer maak asof jy God uit die lewe kan wegwerk, as hulle God dood verklaar, dan trèk God Hom nie terug nie. Daar gaan Hy juis tot die aanval oor!

Daar is niks ergers as wat God jou nie by die sonde en die eiewysheid wegslaan om jou na Hom terug te slaan nie, maar jou daaraan oorgee. Want dan dwing Hy jou om die pad wat jy self gekies het, die pad na die hel, nou ook maar tot die bittere einde toe af te loop

U mag dankbaar wees, broeders en susters, as u God se slaande hand in u lewe nog voel. Dit bewys dat God u nog altyd soek. Dat God u nog nie aan die sonde oorgegee het nie.

U moet daarom ook nie sommer net die ellende wat God se hand oor ons lewe uitstort, wegwens nie. Omdat u dit verkies om 'n bietjie 'n aangename lewe te kan lei.

Want dan volhard u feitlik nog in die sonde van die begin. Dan soek u mos maar net uself.

Ons lewe is nie goed as daar nie te veel narigheid en probleme en sorge is nie. Dan soek ons die geluk buite die verbondsgemeenskap met die HERE om. Dan wil ons gelukkig wees buite die liefde van ons hemelse Vader en buite die gehoorsaamheid van ons as kinders om. En dit is nog altyd geen lewe nie!

Nee, die ellende van vandag moet ons laat verlang na egte verlossing: na die volkome versoening met God, na die volkome herstel van die verbond. Want as dit nie terugkom nie, dan kan ons dalk vandag 'n lekker lewentjie lei, maar dan is dit nie die voorsmaak van die ewige vreugde nie, maar die voorsmaak van die hel. Want as ons nie heeltemal weer as kinders by ons Verbondsgod terugkom nie, word ons eendag vir goed deur Hom verlaat. As daar geen versoening kom nie, moet ons Vader die sonde wat teen sy allerhoogste majesteit gedoen is ook wel met die allerhoogste straf, die ewige straf aan liggaam en siel, straf.

3. Maar is God dan nie barmhartig nie?

Hierdie laaste vraag in Sondag 4 probeer nog eenmaal aan God se greep te ontkom. Kan God nie in sy barmhartigheid maar vergeet van die straf wat ons feitlik verdien het nie? Kan God ons sondes nie in sy oneindige liefde maar deur die vingers sien nie?

Maar die antwoord sny ook hierdie ontsnappingspoging heeltemal af. Ons sal nie met 'n beroep op God se barmhartigheid aan God se reg kan ontkom nie. Want God is geen mens dat Hy moet kies tussen genade en reg nie.

By ons staan barmhartigheid en regverdigheid, genade en reg, teenoor mekaar. Hoe dikwels moet ons, byv. in die opvoeding van ons kinders, kies tussen hierdie twee: moet ons nou streng en regverdig wees en die beloofde straf gee, of sal ons nog maar 'n keer genadig wees en die straf, al het hy dit ook verdien, maar los?

Maar by God staan hierdie twee nie teenoor mekaar nie. Omdat Hy "'n eenvoudige, 'n enkelvoudige Wese" is. So bely ons die HERE ook in art. 1 van die ned. geloofsbel. Dit beteken nie dat God maar "onnosel" is nie, maar wel dat daar in Hom nooit tweespalt of tweestryd kan voorkom nie. God ken nooit diè spanningsveld dat Hy moet kies nie. Sy barmhartigheid kan nie met sy regverdigheid in stryd kom nie, genade kan by Hom nie die reg verdring nie. Maar hierdie twee gaan altyd saam op. Sonder spanning. Die HERE kan as enkelvoudige Wese altyd barmhartig en regverdig tegelyk wees. Regverdig, en nogtans barmhartig. Soos ons uit wat ons al gehoor het vanaand eintlik al verstaan het.

En dus kan God se barmhartigheid nie die nooduitgang word om aan sy regverdige toorn te kan ontsnap nie. Ons word na die reg van God teruggedrywe. Daaraan moet voldoen word.

Daarmee het die Kategismus dan alle nooduitgange vir ons toe gespyker, broeders en susters. En ons na die allerhoogste majesteit van God teruggedrywe.

Maar u weet tog waarom?

Nie om ons wanhopig te maak nie. Nie om ons pasiënte vir sielkundiges te maak wat heeltemal mal word van die wetenskap dat hulle skuldig en nogtans hulpeloos is nie, soos bose tonge wel van hierdie gedeelte van die Kategismus geskinder het.

Maar die Kategismus wil ons dwing om die een vlugweg wat oorbly te kies, die weg wat God self vir sy kinder bedink het om hulle saam met Hom in die paradys terug te kry. Die weg wat geen mens kon uitdink nie, maar wat God self gelê het deur sy Seun, ons Here Jesus Christus, die Enige wat wèl met God se wet en toorn klaargekom het. Hy het die toorn van God, waaronder ons ewig moes versink het, van die begin van sy menswording af totaan die einde van sy lewe op aarde vir ons gedra. Hy het in alle gehoorsaamheid aan die Goddelike wet die geregtigheid vir ons volbring. Hy het ons vervloeking op Hom gelaai om ons met sy seën te vervul. Hy het Homself aan die kruishout met liggaam en siel tot in die allerdiepste smaadheid en angs van die hel verneder, om ons vir altyd daarvan te verlos. Sodat ons weer deur God as kinders aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie.

Sondag 4 dryf ons na die gekruisigde Christus toe, gemeente. Na die blye evangelie van die enigste weg tot behoud vir verlore sondaars. Sonder die swaar boodskap van hierdie Sondag bly die wonder van Golgotha 'n vreemde saak vir ons.

Maar deur hierdie Sondag leer ek eers reg verstaan wat Golgotha gewees het: Daar het èn God se regverdigheid èn God se barmhartigheid hom baangebreek. Daar het God, soos art 20 van die ned. geloofsbel. so mooi onder woorde bring, sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het. En daar het God tegelyk sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het.

En so het God self die verbond van ons met Hom in Christus herstel. So kon Hy Homself bly, die God van die paradys, die God wat maar een wet onder die lewe ken, naamlik dat ons met Hom en met mekaar in louter liefde sal lewe. God kon Vader bly.

En so kon ons weer sy kinders wees, ten spyte van al die sonde wat daar nog in ons oorgebly het. Want daar is volkome versoening van al ons sondes, alleen danksy voldoening van Christus.

As u dit gesien het, broeders en susters, dan sal u danksy die swaar boodskap van Sondag 4 nog meer verwonderd wees oor die wonder van hierdie nuwe verbond met God.

AMEN.

(Pretoria, 28 Aug. 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)