Die wonderlike lewensuitsig na ons dodelike val

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

Middagdiens 25-10-92

Ps 70: 1, 2
Ps 16: 1, 2, 3, 4, 5
Geloofsbelydenis
Skb 30: 1-6
Lees: Genesis 3: 14-24 & Openb 21: 9-22: 5
Teks: Sondag 3 H.K.

Brs en srs, kinders,

In ons preek van vanaand speel 'n aantal bome 'n groot rol. Soos u onthou was daar in die Paradys soos die eerste hoofstukke van die Bybel dit vir ons beskryf, twee spesiale bome.

Die eerste een, was die boom van kennis van goed en kwaad.

Die ander een, die boom van die lewe.

Vanaand gaan dit oor die twee bome.

Die bedoeling van daardie bome was nogal heel verskillend.

Ons kyk na die verskil.

Die eerste ding wat opval is dat die boom van kennis van goed en kwaad uitsluitlik in die paradysverhaal voorkom. By die sondeval van Adam en Eva speel hy 'n rol en daarna hoor ons nooit meer van hom nie.

Maar die ander boom, die boom van die lewe, wat in die paradysverhaal meer op die agtergrond staan, kom weer terug in die Bybel.

Heeltemal agterin.

In die visioen van Johannes oor die nuwe Jerusalem. Johannes sien 'n stad. In die stad woon God by sy volk. En langs die rivier wat midde deur die stad loop ontmoet ons opnuut die geboomte van die lewe. Hulle dra elke maand vrugte.

Daardie boom simboliseer die nuwe lewe wat God gee.

God vernuwe elke keer weer die lewe van die mense.

Wie van daardie boom van die lewe mag eet, in sy lewe is daar geen plek vir die dood meer nie.

Ons tema vir vanaand se woordbediening is:

Die wonderlike lewensuitsig na ons dodelike val

  1. Ons is geskep om te eet van die boom van die lewe
  2. Ons is verdorwe deur te eet van die boom van kennis
  3. Ons word herskep om te eet van die boom van die lewe

Gemeente as ons nadink oor die toekoms van die hierdie wêreld sal u met my saamstem dat daar rede tot groot besorgdheid is.

Daar is so baie kwessies waarvoor eintlik nie 'n oplossing is nie, dat ons bang raak as ons daaroor begin nadink.

'n Klein deel van die wêreld leef in 'n welvaart soos nooit te vore. Maar die groot meerderheid is skaars in staat om te oorleef. En wat ook al gedoen word dit lyk of die kloof maar net groter word.

En wat van die aarde self? Is 'n deel van die wêreld nie besig om al die natuurlike hulpbronne in so 'n tempo uit te suig, dat vir die volgende generasie maar net 'n omgekrapte en besoedelde aarde oorbly?

Hoe gaan die siekte Aids hom ontwikkel?

En wat van die sosiale verhoudings?

Gesinne val uit mekaar deur toenemende egskeidings.

Generasies verstaan mekaar nie meer nie.

Die lewe is besig om vas te loop.

Mens sien dit voor sy oë gebeur.

Dit is werklik nie moeilik om rondom ons almal skuldiges aan te wys nie. Die ryk lande, die multinationals met hul onkontroleerbare mag, die konsumpsiementaliteit en noem maar op.

Waarskynlik wys ons daarby verkieslik na die groep waarby onsself nie behoort nie. Want om jouself te verontskuldig is iets wat ons van nature eie is.

In die vorige preek uit die Kategismus, oor Sondag twee het ons geleer dat ons moet begin om die skuld by onsself te soek. Die diepste oorsaak van alles wat verkeerd gaan in die lewe lê in ons verhouding tot God. Daar het dit verkeerd gegaan.

En so moes ons bely in Sondag 2: Ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat.

Daarmee erken ons ons eie verkeerdheid.

Maar tog is daarmee nie alles gesê nie.

Immers in die uitdrukking " ons is van nature geneig... " is 'n kans om tog nog onsself te verskoon.

Immers as elk van nature so is, dan kom onmiddellik die vraag op: kan ek daaraan dan iets doen?

Iets wat van nature so is, kan tog nie skuld wees nie?

Het God my eintlik dan nie so gemaak nie?

Is die Skepper self nie die skuldige? Hy het my mos gemaak soos ek is?

Maar die Kategismus wys hierdie verontskuldiging radikaal af.

Vanaf die begin was dit nie so nie. Die begin was so: God het die mens goed en na Sy ewebeeld geskep.

Dit was dus nie Sy fout dat ons is soos ons is nie. Ons het so geword, maar ons was nie.

God het ons goed gemaak. Hy het ons so gemaak dat ons aan ons lewensdoel kon beantwoord.

Wat die lewensdoel is, omskryf die Kategismus so: "sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys"

God ken en liefhê, God loof en prys.

Daarvoor het God die mens op hierdie aarde gesit. Dit is wat Hy van sy skepsel die mens verwag het.

Antwoord 6 kyk vanuit die Skepping al baie ver vorentoe. As die mens so sy plek sal ken, dan wil God met hom in ewigheid verder.

'n Ewige lewe het God vir die mens bestem. 'n Ewige lewe van vreugdediens van die mens aan sy Skepper.

Wel, dit is nou wat ons in ons punteverdeling aangedui het met: ons is geskep om te eet van die boom van die lewe.

Soos ons gesê het, was die boom van die lewe een van die spesiale bome in die paradys.

As boom 'n heel gewone boom, maar deur die Here spesiaal vir Adam en Eva uitgewys as die boom van die lewe.

Ons moet dus nie dink dat daardie boom 'n besondere sooort van vrugte gehad het nie, waardeur die mens b. v. vanself die ewige lewe kon ontvang. Ook die sap van die vrugte het nie die lewenselixir verskaf wat 'n mens ewig jonk hou nie.

Nee, dit was as boom 'n heeltemal normale boom. Maar tog 'n boom met 'n besondere betekenis.

Laat ons dit so sê: Daardie boom het daar gestaan as 'n teken van blywende gemeenskap van die mens met God.

Dit kan die beste vergelyk word met 'n sakrament.

Om van die boom te eet is dan 'n vorm van tasbare gemeenskaps-oefening met die Here. Elke keer as jy daarvan eet word jy herinner aan jou posisie teenoor God.

Jy ontvang die lewe, die ewige lewe direk uit sy hande.

Dus die eet van die boom was vir Adam en Eva soos 'n vreugdevolle maaltyd van gemeenskap met God.

Jy eet en drink spesiaal voor die aangesig van die Here.

In die ete van die boom ontvang jy 'n tasbare waarborg, dat jy blywend voor die aangesig van God kan lewe.

Hoor u hoe hierdie boom eintlik al die kenmerke vertoon van wat ons 'n sakrament noem?

Iets wat jy as sodanig nie kan sien nie, namelik die ewige lewe wat belowe is, dit word sigbaar gemaak in 'n sakrament.

God se belofte van ewig lewe by blywende gehoorsaamheid word beteken en verseël in die sakrament van die boom van die lewe.

Tenminste solank as wat jy as mens beantwoord aan die doel waarvoor God jou geskep het, namelik om jou Skepper vir altyd te dien en te eer.

2. Ons het geval deur te eet van die boom van kennis van goed en kwaad

Soos u weet het die oorspronklike situasie nie so gebly nie. Die mens het die plek verlaat wat sy Skepper vir hom gewys het.

Adam en Eva het gesondig. En die gevolge is verskriklik. Ons gaan nou verby aan die verhaal van die sondeval self en ons let op die slot van Genesis 3. Daar maak God die balans op van wat gebeur het: Kyk nou, sê die Here daar in vers 22: "Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. "

Dit is 'n woord wat by ons 'n hele paar vrae oproep.

Wat is eintlik die kennis van goed en kwaad?

En hoe kan 'n mens daardeur word soos God?

Was die slang dan reg gewees toe hy gesê het: As julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken!?

Laat ons begin by die kennis van goed en kwaad. Dit het duidelik iets te make met die ander boom wat daar in die hof was.

Blykbaar het die mens deur daarvan te eet kennis van goed en kwaad verkry.

Hoe het dit gebeur?

Ons moet ook hier weer aanneem dat hierdie boom met sy vrugte as sodanig heeltemal gewoon is. Die vrugte is goed om van te eet.

Die enigste besondere aan die boom is dit: God het verbied om van die vrug daarvan te eet. Hy het gesê: Julle mag daarvan nie eet nie!

Wel, daardie woord van die Here moes vir Adam en Eva voldoende gewees het.

Hulle moes God geglo het op sy woord. Dan was dit goed. En as hulle gehoorsaam gebly het, dan was vir hulle die ewige lewe oop.

Tot sover oor die boom.

En nou die kennis van goed en kwaad. Watter kennis is dit?

Is dit dat hulle skielik bewus raak van kwaad in die wêreld, of dat hulle self die verskil kan agterkom?

Nee, in die eerste plek gaan dit hieroor: Dit gaan om die vraag, wie besluit wat goed of wat kwaad is.

Wie bepaal of iets toegestaan of verbied is?

Doen die Here dit, of kan die mens dit self wel doen?

Dit is die sentrale vraag in heel die verhouding van die mens tot God.

En dit is op daardie punt dat die mens getoets is in die proefgebod. Met die bekende afloop.

En nou trek die Here die konsekwensie in vers 22:

Die mens het geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.

Dit beteken: die mens het hom soos God gaan gedra. Hy het self wil besluit oor wat goed en wat kwaad is.

Hy wil self sy eie norme vasstel oor wat hy sal doen of nie sal doen nie.

Hy wil nie langer luister na die Here wat bepaal wat goed of kwaad is maar hy wil dit self uitvind.

En hiermee het ons die revolusie in die Paradys. Die opstand teen die alleen heerskappy van God. Die mens wil self regeer.

Hy verhef hom bo die plek wat God vir hom gewys het.

Adam het daarmee begin. En ons doen daarin saam. Ons wil nie aan God gehoorsaam wees nie. Nou kan ons nie eens meer anders nie.

So het Adam 'n beslissende keuse tussen daardie twee bome in die hof gemaak.

En daarom trek God tans onverbiddelik die konsekwensie:

Julle het nou van daardie een boom geëet, maar daarmee het julle julself die toegang tot die ander boom afgesny.

Julle het vir die boom van kennis gekies, wel, dan verklaar Ek vir julle die boom van die lewe tot verbode gebied.

God wil namelik nie hê dat die mens van altwee bome tegelyk sal eet nie.

Dit is of die een of die ander.

Of hierdie boom. Of daardie.

Of jy bly gehoorsaam, dan kan jy maar eet van die boom van die lewe. Gebruik dan rustig die sakrament van die ewige lewe.

Of jy wil jou eie wetgewer wees. Maar dan kan jy nie meer van die boom van die lewe eet nie. Dan is daar vir jou nie meer ewig lewe nie.

Dink maar aan die Heilige Nagmaal. Daar gaan dit netso. Jy kan nie teen God se wet in lewe nie en tegelyk die sakrament van gemeenskap met Jesus Christus eet nie.

Dit is onmoontlik. Een van twee.

Of jy wil jou eie lewe lei. Maar dan nie aan die Nagmaal nie.

Of jy wil 'n kind van God wees. Dan kan jy maar kom, met al jou gebreke selfs.

En so sluit God die Paradys af. Die pad na die boom van die lewe kannie meer gegaan word nie.

God eks-kommunikeer Adam en Eva. Hulle word nie meer tot die sakrament van die gemeenskap met God toegelaat nie.

Hulle kan nie meer by Hom sit en eet om die vrug van die geboomte van die lewe te geniet nie.

God dryf hulle die hof uit.

Hy sit 'n paar diensknegte neer om die hof teen sy kinders te bewaak.

Die pad na die boom van die lewe, hierdie pad na die ewige lewe het vir die mens vir altyd onbegaanbaar geword.

Nooit kan hulle op eie krag meer in die Paradys terugkeer nie.

Geen gehoorsaamheid... dan ook geen boom van die lewe nie.

En dus ook geen lewe nie.

3. Ons word herskep om te eet van die nuwe boom van die lewe

Die Paradys is dus toe. Ons kan daar op eie kragte nie meer inkom nie.

Die laaste vraag van Sondag 3 vra: Maar is ons dan sover by die Here af weg dat ons glad nie meer die goeie kan doen nie?

Die antwoord daarop is ook nie mis te verstane nie.

Ons kan glad nie, tensy ons deur die Gees van God weer gebore word.

Nou klink dit laaste nie heeltemal hopeloos nie. Daar is 'n bietjie hoop dat dit kan regkom.

Maar laat ons nie te vinnig sê: Ha, die weg is weer oop.

Immers hierdie antwoord is in die eerste plek 'n onderstreping van ons eie onmag. Ons kan niks goed doen nie.

Immers ons is deur geboorte aan Adam verbind. Dit geld vir elke mens wat op hierdie wêreld gebore word. Die geboorteband met Adam is 'n band van die dood.

Deur die sonde van Adam het die dood in die wêreld gekom en daardie dood het tot alle mense deurgegaan. Die weg van die geboorte het die weg van die oorplanting van die sonde geword.

Ons staan hier heeltemal magteloos en hulpeloos.

En tog nie hopeloos nie. Daar is een uitweg. Deur God geskenk. Deur Sy Gees gerealiseer.

Mense wat vir die dood opgeskryf is kan deur die Gees opnuut gebore word. Hulle word bevry van die dodelike band met die eerste Adam.

Hulle word ingelyf in die lewensband met die tweede Adam, Jesus Christus.

Daar is 'n lewendmakende Gees. Hy is dit wat die onmoontlike moontlik maak.

Hy maak nuwe mense op hierdie wêreld.

Die Dordtse Leerreëls sê so pragtig wat hierdie wedergeboorte inhou.

Dit is 'n baie kragtige verbasingwekkende werking, nie minder as sy werk by die skepping of die opwekking van dooies nie.

Dit is dus nodig broeders en susters, 'n volledige herskepping.

Dit word hier gesê om ons beskaamd te maak.

Maar tegelyk om ons te vertroos.

Want daardie lewendmakende Gees is vandag nog volop aan die werk.

Sinds die Pinksterdag is daardie Gees aktief oor heel die aarde. Om mense te herskep tot nuwe mense. Tot kinders van die Koninkryk.

Die Paradys lê definitief agter ons. Daar is geen weg meer terug nie.

Ondanks alle optimiste wat op aarde 'n heilstaat tot stand wil bring. Ondanks filosofe wat droom oor 'n herwonne Paradys.

Eendag moes Adam en Eva die hof met die boom van die lewe verlaat het. En ons met hulle.

Maar, en dit moet nou daarby gesê word. Dit was vanaf die begin nie heeltemal hopeloos nie. Immers Adam en Eva is nie sonder 'n belofte die wêreld ingestuur nie.

Hulle het die moederbelofte saamgekry.

En daarin is belowe dat aan die heerskappy van die Satan eendag 'n einde sal kom.

En dit kannie anders beteken as dit: Daar lê ook 'n paradys vorentoe!

Dit sal 'n lang pad wees. 'n Wêreldgeskiedenis lank, 'n geskiedenis vol rampe en ongelukke waarmee ons elke dag te make kry.

God maak 'n lang ompad na die nuwe paradys.

'n Ompad wat loop oor Golgota.

Immers nadat eeuelank oor die paradys geswyg is, hoor ons op Golgota vir die eerste keer weer die woord Paradys gebruik.

Dit is die Here Jesus self wat die woord in die mond neem.

Hy sê: Vandag sal jy met My in die Paradys wee!

'n Ongelooflik ryk woord!

'n Magtige belofte!

En wie ontvang so'n belofte?

'n Sondaar wat weet dat hy alleen nog maar die dood te verwagte het.

En na die keer hoor ons weer van die Paradys in die boek Openbaring. Dan hoor ons ook weer van die boom van die lewe.

Daar is die toegang tot die boom van die lewe weer oop. Die boom het selfs 'n geboomte, 'n kompleet bos geword, wat voortdurend vrugte dra. Bereikbaar vir elkeen wat wil proe.

Dit is die nuwe lewensuitsig wat God vir ons geopen het, na ons dodelike val in die Paradys.

Die pad na die nuwe Paradys loop via Jesus Christus.

Is dit nie 'n wonder van genade dat God so'n pad oopgemaak het nie?

Is dit vir sondaars soos ons nie 'n groot wonder dat God vir ons die nuwe Paradys belowe nie?

Laat ons daarom die Gees wat God vir ons geskenk het, ook alle ruimte gee in ons lewe.

Laat Hom in jou werk, sodat jy al hoe meer vorder met 'n lewe wat die Here behaag.

Laat daar in ons 'n nuwe gehoorsaamheid kom sodat ons al hoe meer aan ons lewensdoel kan beantwoord.

Onthou u nog wat die doel was?

Dat ons God steeds beter sal leer ken, Hom al hoe meer sal liefhê en daarmee 'n begin maak met 'n ewige lewe wat heeltemal vervul sal wees met die lofprysing op God. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)