God se liefde leer ons ons ellende

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 2
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 2 H.K.

LITURGIE:
SB. 33: 1
Geloofsbelydenis
SB. 33: 2
Gebed
Kort Nagmaalsformulier
Ps. 103: 3 as die tafel klaargemaak word
danksegging
Ps. 103: 1 aan die einde van die viering
Kollekte
Ps. 103: 2, 5
L. Lukas 15: 1, 2 en 11-32
Preek oor Sondag 2 H.K.
Ps. 103: 7
Dankgebed
Ps. 25: 3, 4

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het vandag weer God se liefde vir ons gesien en geproe in die viering van die Nagmaal.

En nou sluit ons hierdie feestlike eredienste af met 'n preek oor ons ellende.

Dit lyk dalk glad nie toepaslik nie. Moes daar nie vanaand 'n preek oor ons verlossing gekom het nie? Of liewers nog 'n preek oor ons dankbaarheid vir so'n verlossing?

Kon ons Sondag 2 H.K. nie 'n week opgeskuif het nie?

Maar daar lê so'n onlosmaaklike verband tussen God se liefde en ons ellende, gemeente, dat dit juis baie toepaslik is om net vanaand na die les van Sondag 2 te luister.

Want ons sal nooit ons eie ellende mooi leer verstaan nie, solank ons nie God se liefde gesien en geproe het nie. God se liefde ontdek my aan my ellende.

Ja, die Kategismus sê wel in Sondag 2 dat ons ons ellende uit die Wet van God ken. Maar om ons dan vervolgens te wys hoe groot ons sonde en ellende is, hou die Kategismus nie die Wet van Moses aan ons voor nie, maar ons Here Jesus Christus.

Hy wat self diè bewys van God se liefde is- Hy ontdek ons aan ons diepste ellende. Hy plaas ons naamlik met die wet in die klimaat van God se liefde -God vra feitlik nie anders as liefde nie- en so vlek God se Seun oop waar ons ellende lê: in die gemis aan wederliefde.

Waar God een en al liefde is, moet ons sê: "Ek is van nature geneig om God en my naaste te haat".

En hoe meer ons dus God se liefde leer raaksien, des te meer sal ons ons eie ellende leer raaksien. Dan gaan ons eers reg insien hoe groot ons sonde en ellende is. Teenoor God se grootheid word ons al hoe kleiner. Sonder kennis van God se liefde is 'n mens nie klein te kry nie. Maar wie daardie liefde geproe het, kry 'n afkeer van homself, so grondig dat hy ten laaste nog maar net die lof op God se liefde oorhou.

En moenie vergeet nie, broeders en susters: dit is ook die uiteindelike doel! Dat ons enkel nog die loflied op. God se liefde oorhou. Die laaste woord sal nie wees: wat is ons ellende tog groot nie; maar: wat is God se liefde ontsaglik groot.

Want dit is tog ook so: hoe meer ons ons ellende leer raaksien, des te meer sal ons van God se liefde sing.

So Sondag 2 H.K. is baie toepaslik na ons Nagmaalsviering. Die Nagmaal as 'n teken en waarborg van God se liefde kan ons help om ons ellende te leer ken. En hoe meer ons ons ellende leer ken, des te dankbaarder oor God se liefde sal ons vanaand huis toe gaan.

So ek verkondig u:

GOD SE LIEFDE LEER ONS ONS ELLENDE

Want ons mis van nature die wederliefde

  1. tot God ons Vader
  2. tot ons naaste.

1. Ons het nou net die gelykenis van die verlore seun gelees. Altans, so noem ons dit meestal; en so noem ook die opskrif in ons Bybels dit. Maar ons moes feitlik praat oor "die gelykenis van die verlore seuns", meervoud.

Want die vraag is maar, wie van die twee seuns in hierdie verhaal die verlore seun is!

Ons gee amper sommer vanself die meeste aandag aan die jongste seun, wat na baie omswerfings sy ellende agterkom en in die liefdevolle arms van Pa terugkeer. Hy was die verlore seun wat weer gevind is.

Maar dan ontgaan dit ons, dat Christus die spits van hierdie verhaal aan die èinde gelê het.

Die Pa is genoodsaak om vir die tweede maal na buite toe te kom om ook sy oudste seun in sy arms te sluit en hom te nooi om vrolik en bly te wees. Toe die jongste seun weer by die huis was, moes die Pa agterkom dat sy oudste seun skielik ver van huis was.

Hy het nie 'n oog gehad vir die liefde van sy Pa nie. En hy het nie verstaan wat dit beteken om in die huis van vader te mag lewe en werk nie. Hy het nooit weggeloop nie, die goedkoop en tegelyk duur fuifpartytjies van die wêreld het hy nooit gesoek nie. Hy was altyd braaf en oppassend. Maar hy het nie besef dat hy in vader se huis ook tuis mog wees nie.

Dis hoekom daar aan die einde van die verhaal nie die jongste nie, maar die oudste seun as 'n ellendige mannetjie oorbly, wat skril afsteek teen die liefde van sy Pa. Die oudste is verder van huis as wat die jongste ooit was!

Al wèèt hy dit ook self nie. Hoor wat hy vir sy Pa sê: "Kyk, ek die u so baie jare en èk het nooit u gebod oortree nie".

Hierdie seun dink sy Pa het oor hom niks te klae nie. Hy het 'n goeie diensstaat. Pa kan oor hom tevrede wees. Maar Pa mog dit dan ook wel eens laat blyk! Want daardie leegloper, sy broer, wat al in so baie partytjies die familiegeld deurgebring het, kry nou al weer 'n partytjie. Maar hy het so'n onthaal nog nooit gehad nie.

Ons hoor in die woorde van die oudste seun in die gelykenis direk die taal van die Fariseërs, broeders en susters.

Die Here het hierdie gelykenis ook met die oog op hulle vertel. Lukas gee dit duidelik aan in vs. 1 en 2. As tollenaars en sondaars by Christus 'n goeie onthaal kry, dàn kom die Fariseërs en skrifgeleerdes in opstand. Hoekom so'n omgang met hierdie tipe mense? Mense wat God se gebooie onder die voete vertrap! Hoekom soek Jesus nie 'n bietjie meer die omgang met hùlle nie? Hulle leef darem soos die Here God dit van ons mag verwag. Hulle kon met 'n geruste gewete sê soos die oudste seun in die gelykenis: Here, kyk ek dien U so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie.

Kyk. gemeente, Christus het hièrdie mentaliteit van die Fariseërs wil oopvlek in die gelykenis van die twèè verlore seuns, waarin ten laaste blyk dat die oudste die ellendigste is.

Want die Fariseërs en skrifgeleerdes het wel gedink hulle is heelwat beter as die skare wat die wet nie ken nie. Maar onderwyl het hulle self die wet van God nie geken nie.

Hulle het nie verstaan dat die wet die leefreël in die huis van Vader wil wees nie. Die wet was vir hulle 'n handboek vol gebooie, en die omgang met God soiets soos 'n diensneming.

Maar ons Vader wil nie dat sy kinders maak asof hulle dagloners is nie! Toe die jongste seun in die gelykenis by sy terugkeer vir sy Pa gesê het: "maak my maar soos een van u huurlinge", wou sy Pa niks daarvan hoor nie. Maar dis hoekom hy ewemin van sy oudste seun, wat die beeld van die Fariseërs vertoon het, kon verdra dat hy homself soos 'n dagloner aangestel het, terwyl hy seùn mog wees. Hierdie oudste seun het hom feitlik nog meer seer gemaak as die jongste een.

Ons herken in die Pa in die gelykenis ons Vader in die hemel, gemeente. Ons mag met Hom verkeer soos kinders met hulle Pa. Hy het sy huis vir ons oop gesit. Nie om as slawe te swoeg en te sweet nie. Ons God is nie soos 'n veeleisende baas nie. En die leefreëls in sy huis is ook nie sodanig dat dit die lewe maar vervelig en lastig maak nie. Soos party mense dink: in die kerk word daar so baie van jou geëis, 'n mens moet daar baie en mag daar maar min; sodat hulle buite die kerk hul vriende en hul vermaak soek.

Nee, sy huis is ons tuiste. Ons mag by Hom woon en daagliks die voorreg geniet om in sy nabyheid te wees. En sy vriendlike aangesig straal vrolikheid en lig.

Daardie tere woord van die Pa uit die gelykenis op ons van toepassing: "Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joune".

En dan word dit in ons geval gesê vir mense van wie nie een van almal nog die minste reg daarop het nie. Ons was eendag almal soos die jongste seun in die gelykenis. Ons moes almal sê: Vader, ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar nogtans beskou God ons nog steeds as sy kinders. In sy liefde het Hy alles vir ons oor gehad om ons as sy kinders terug te kry. Sy liefste Seun het Hy opgeoffer. En danksy hierdie offer mog ons ook vandag weer aan sy tafel sit en eet.

En nou verlang Hy maar net dat ons van hierdie liefde van Hom voortaan ook wil lewe. Dat ons sy liefde met 'n hartlike wederliefde beantwoord. Dat ons Hom liefhet met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand, met al ons kragte. Dis al wat Hy vra. Dat ons met vreugde en verwondering sy kinders is. Dat ons in sy huis lewe, aan sy saak ons kragte toewy. Dit moet ons lewe tot 'n fees maak.

Ons Here Jesus Christus het so God se Wet aan ons voorgehou. Hierdie wet is nie 'n wetboek van strafreg, of 'n werknemerskontrak in 'n besigheid nie. God se wet leer ons maar net om in liefde te lewe in Vader se huis. Ons hemelse Vader wil dit aan ons kan sien dat ons leef van sy liefde, sodat ons dit met 'n spontane wederliefde beantwoord.

Maar juis omdat God so vir ons wil wees -nie 'n veeleisende baas nie, maar 'n liefdevolle Vader- en juis omdat ons nou ook so vir Hom moet wees -geen ontevrede werknemers nie, maar kinders wat lief vir hulle Vader is-, juis nou kom ons almal agter hoe groot ons sonde en ellende is.

Daar is baie mense wat dit, soos die jongste seun in die gelykenis, nog altyd maar lastig en vervelig vind by Vader en hulle plesier iewers anders soek. Met alles wat van Vader is, wat hulle van Hom ontvang het en ook alleen vir Hom mag gebruik, speel hulle mooi weer; en hulle maak hulleself wys dat hulle nou eers rêrig lèwe, heeltemal anders as in die bekrompe klimaat by Vader.

As die HERE in sy genade hul lewe dan so laat vasloop dat hierdie verlore seuns tog nie weg huis toe terug vind, en daar ervaar dat Vader se liefde so groot is dat Hy hulle nog in sy Vaderarms sluit en alles wil vergewe en vergeet, ja, dat Hy aan sy tafel die fees van versoening aanrig - eers dan gaan hulle rêrig besef hoe groot hul sonde en ellende is. Soos die seun in die gelykenis nie maar net by die varke agtergekom het hoe groot sy ellende was nie, maar eers werklik toe sy Pa hom al opgewag het, gehardloop, hom omhels en hartlik gesoen het. Ten spyte van al sy egoïstiese selfliefde is daar in Vader se hart nog steeds plek vir hom. Hy is rêrig nie meer werd om Vader se seun genoem te word nie. Want teenoor Vader se liefde steek sy ellende veels te skril af. So'n Vader- en dan so'n kind! Wat moet Vader 'n verdriet van so'n kind gehad het.

Maar daar is in die kerk ook baie ander kinders, gemeente, wat, soos die oudste seun in die gelykenis met sy Fariseese trekke, hulself ver bo daardie weglopers en leeglopers verhewe voel en van hulself dink hulle is tog maar heelwat beter seuns van Vader.

Het hulle nie hul lewe lank trou ooreenkomstig God se gebooie geleef nie? Natuurlik, ook hulle het partykeer gestruikel. Daar is geen mens volmaak nie. Hulle sal nie sommer met die oudste seun in die gelykenis sê: "Ek het nog nooit u gebod oortree nie", maar nogtans: baie mense kan tog maar aan hul kerklike meelewe 'n voorbeeld neem. Hulle besoek trou alle vergaderings, is baie aktief....... Nee wat!

Wie so'n houding aanneem, is vir God, ons Vader, nie minder, verlore seun! Daardie mens het ewemin iets van die liefdesklimaat waarin God met sy kinders wil lewe, gevoel nie. Hy sien Vader veels te veel soos 'n baas, homself soos 'n flinke krag. En hy is toenemend meer met en vir homsèlf besig as met en vir sy Vader. Sy lewe is nie vol verwonderde wederliefde vir God nie, maar hy soek pluimpies vir sy troue diens.

Waaruit leer so'n kind van God sy ellende ken?

Uit die wet van God?

Baie beslis, maar nie solank hy die wet soos 'n welomskrewe werksinstruksie bly beskou nie. Maar eers as hy die loflied op die leifde van ons hemelse Vadre leer sing.

As hy begin insien wat dit wil sê om uit God se mond te mag hoor: "Kind, jy is altyd by My, omdat Ek altyd by jou wil wees. En al wat myne is, is joune". So as hy begin voel hoe groot die liefde van hierdie Vader is. Eers dan sal hy begin insien hoe groot sy eie ellende is. Omgaan met hierdie liefdevolle God, wat een en al liefde is - wie is daartoe in staat?

Wie kan Hom liefhê met 'n volkome liefde, sonder enige reserwe?

2. Wie God se liefde leer ken, begin ook eers reg sy ellendigheid teenoor sy broeders en susters raak te sien.

Want wat is meer vanselfsprekend as dat diè wat saam in vader se liefde mag deel, nou ook lief is vir mekaar? Die een ding volg uit die ander. In Vader se huis is hierdie twee nie van mekaar los te maak nie. As God ons so liefgehad het, behoort ook ons mekaar lief te hê, het ons vanmôre uit Johannes se eerste brief gelees. "As iemand sê: Ek het God lief- en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar. Want hierdie gebod het ons van God, dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê" (1 Joh. 4: 20, 21).

So behoort dit tog in Vader se huis te wees? Daar waar die woord LIEFDE in hoofletters op alle mure geskrywe staan.

Maar ook in hierdie opsig gedra God se kinders hulle so min na God se liefdesgebod.

Daardie oudste seun het dit vir sy Pa oor: "hierdie seun van u", as hy sy broer bedoel. Wat spreek daaruit 'n minagting. Asof hy oor 'n vreemde praat. Wat klink daarin 'n selfverheffing deur: sy Pa mag maar bly wees dat hy ook nog 'n ander seun het!

Ek hoef dit nie vir u te verduidelik dat ook hierdie houding vandag nog dikwels in die kerk voorkom, broeders en susters. Hoe dikwels is daar 'n afstand tussen mekaar, omdat die een homself belangriker vind as die ander een, omdat die een op die ander neerkyk, omdat die een van die ander dink hy is "nie so goed gereformeerd" nie. Ons sit langs mekaar aan die een nagmaalstafel, maar verder ontloop ons mekaar maar 'n bietjie.

Die Pa in die gelykenis wys sy seun sagsinnig tereg, as diè praat oor "hierdie seun van u". "Kind" sê hy, en in daardie tere woord straal die liefde van sy hele hart deur. "Kind, hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword".

Vader se kinders is tog nie vreemdes vir mekaar nie? By Vader is jy broer en suster met mekaar, wat saam rond die een tafel mag sit en saam in Vader se vreugde mag deel. As Vader so baie geduld met ons het, moet ons dan nie geduld met mekaar hê nie?

As vader ons stuk vir stuk in liefde soek, mag ons dan mekaar ontloop?

En so ontdek hierdie Pa sy oudste seun ook in hierdie opsig aan sy ellende, gemeente. Waar is die hartlike liefde vir sy broer, wat met hom van vader se liefde mag lewe?

Waaruit leer hy sy ellende?

Uit die wet van God?

Baie beslis, maar eers as daardie wet vir hom het gaan lewe as die groot liefdesreël wat die lewe in Vader se huis gaaf wil hou.

Die Pa in die verhaal moes twee maal uit gaan. Eerste om sy jongste seun van sy vaderliefde te oortuig. En toe eers het dit tot daardie kind van hom deurgedring: Ek, ellendige mens! Ek is règtig nie meer werd om sy seun te wees nie. Toe het net 'n stameling oorgebly. "Vader, en nogtans is u my vader! Ek kan sonder u nie lewe nie". En hy het vir sy pa geen groter vreugde as hierdie erkenning kan berei nie.

Maar daarna moes die vader opnuut uit gaan om nou ook vir sy oudste seun te leer wat liefde beteken. Sodat dit ook tot daardie seun sou deurdring: wat is ook ek 'n ellendige mens teenoor hierdie vader met sy oneindige liefde. Sodat ook hierdie seun nog maar net die loflied op vader se goedheid sou oorhou en beskaamd saam aan die feestafel sou aanskuif.

Broeders en susters, ons mog vandag proe hoe groot die liefde van ons Vader in die hemel is. Hy het ons weer kom soek, of u nou na die jongste of na die oudste seun uit die gelykenis lyk. Hy het verlore kinders kom soek met 'n volkome versoening van al ons sondes.

Het u sy liefde gesien, geproe?

Dan kan dit nie anders of u het ook u eie sonde en ellendigheid weer des te meer agtergekom: van nature geneig om God en die naaste te haat. Ons het niks om mee te spog nie.

Maar as u dit agtergekom het, sal u nog meer verwonderd wees oor die wonder van God se liefde. En dan het ook hierdie preek oor ons ellende tog gehelp om dankbaar huis toe te kan gaan.

AMEN.

(Pretoria, 14 Augustus 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)