Christus maak ons ryp vir die einde

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 22
Preek Inhoud: 

PREEK OOR OPENBARING 22: 10-12

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 1
Art 37 NGB
SB 46: 2, 3
Doopsbediening
Ps 22: 4
Gebed
L. Openb 22: 6-21
T. Openb 22: 10-12
SB 39
Prediking
Ps 19: 6, 7
Gebed
Kollekte
Ps 73: 11, 12
Seën

Broeders en susters

Ons het alweer 'n jaar volgemaak. Ons het almal weer 'n jaar ouer geword.

Ons mensegeskiedenis het weer 'n jaar langer geword.

En so skuif ons al hoe meer na die einde toe.

Want u weet mos: ons lewe, ons geskiedenis is nie 'n sinlose kringloop nie, maar 'n regte lyn wat ons na die einde van die tyd toe bring; na die dag toe waarop ons Here Jesus Christus weerkom uit die hemel, die dag waarop God die hemel en die aarde nuut sal maak en ons voortaan in 'n sondelose lewe ewig met ons God mag wees.

Dié dag het weer 'n jaar naderby gekom.

Kan u dit nou ook agterkom in u lewe, broeders en susters?

Kan ánder mense dit in u lewe agterkom dat u elke jaar nader aan die einde van hierdie wêreldgeskiedenis kom?

Dalk vind u dit maar 'n snaakse vraag.

Maar dit is tog 'n vraag wat ek mág vra? Ons het hierdie jaar 'n jaar lank in ons verskillende kerklike aktiwiteite daarop besin dat ons 'n groeiende gemeente moet wees. Daar mag in u en my lewe geen stilstand wees nie, g'n handhawing van die status quo, maar daar moet 'n aanhoudende groei te sien wees.

Want Christus wil met ons na die oes toe. Ons moet ryp word vir die einde.

Dus mag 'n mens aan die einde van weer 'n voltooide jaar, en sekerlik aan die einde van hierdie jaar, vir u vra: het u gegroei? Het u ryper geword vir die einde?

So 'n rypingsproses moet óns as God se kerkvolk nie alleen deurmaak nie, ook die goddeloses in hierdie wêreld word rypgemaak vir die einde.

Alle mense is besig om te groei en ryp te word- as dit nie vir die nuwe aarde is nie, dan vir die hel.

Daarvan praat die teks wat ek vir vanaand gekies het.

Kom ons luister saam na wat die Here hier vir ons sê en laat ons ook in hierdie laaste ure van die jaar 1993 daardeur stimuleer om in die regte rigting te groei.

Laat ek die boodskap van ons teksverse so vir u saamvat:

CHRISTUS MAAK ONS RYP VIR DIE EINDE

MET DIE OOG DAAROP

  1. GEE HY ONS DIE OOP SKRIFTE
  2. DWING HY ONS TOT 'N STEEDS OPENLIKER KEUSE
  3. LOK HY ONS MET DIE BOEKE WAT GEOPEN SAL WORD

1. Nog 'n paar verse- dan het die Here klaar gepraat. Dan is Hy gereed met sy Openbaring aan Johannes.

Hy het alles gesê en alles gewys wat ons moet weet. Met minder kon Hy nie volstaan nie, meer was ook nie nodig nie. Hieraan het die kerk genoeg totaan die dag van sy terugkoms. Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig. Dit kan elkeen sommer agterkom.

Dus sal die Here net-nou sê: "As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God or hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die profesie van hierdie boek wegneem, an sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. "

Nie net die Openbaring nie, maar die hele Bybel is net-nou klaar geskrywe. Johannes mog die laaste hand daaraan lê. Hy het nou ook byna klaar geskrywe en dan mag hy sy pen neerlê. Met hierdie komplete Woord van Christus kan die kerk na die einde toe. Die wil van God is daarin volkome weergegee en alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, word daarin voldoende geleer.

Johannes mog in hierdie laaste Bybelboek 'n baie mooie en bemoedigende boodskap vaslê: "Kyk, Ek kom gou. " Dít is samevattend die laaste boodskap wat Christus vir sy kerk saamgee. Christus het by sy hemelvaart sy kerk nie in die steek gelaat nie. Hy is al weer besig om terug te kom!

Dié belofte het al geklink op die eerste bladsy, en hier op die laaste bladsy herhaal ons Here dit tot drie keer toe: vs 7, vs 12 en vs 20.

Hiérvan het Hy Johannes die nodige laat sien op opskryf: sy uiteindelike definitiewe koms na hierdie wêreld toe. Hiervan was al die visioene vol.

Hierdie mooi boodskap het egter terselfdertyd ook 'n baie moeilike boodskap bevat. Want Christus het ook vir Johannes gewys hoé Hy kom, langs watter weg Hy besig is om vir die tweede maal na die aarde te kom: 'n weg van bloed, vuur en rookdamp.

Dit is die weg van die sewe seëls wat die een na die ander oopgebreek sal word met al die ellende van oolog, honger, vervolging en dood.

Dit is die weg van die sewe basuine wat met goddelike geweld die koms van die Koning aankondig: vuur en hael, bos- en veldbrande, waterbesoedeling en geestelike omgewingsbesoedeling...

Christus kom in die weg van die sewe skale van God se toorn wat oor die aarde uitgegiet sal word en hoe veel word daar dan verwoes!

In hierdie laaste dae waarin dit na die einde toe gaan, kom God se kerk ook midde-in die stryd te staan. Die uur van vervolging en versoeking breek aan.

Johannes het twee diere sien opkom, eers een uit die see, en vervolgens een uit die aarde en hulle twee het dadelik 'n bondgenootskap gesluit: 'n wêreldmag waarin die duiwel baas is en waarin daar vir God en Christus en sy kerk geen plek is nie. 'n Maatskappy van die mens wat geen God bo hom meer soek nie omdat daardie maatskappy oënskynlik sélf alles aan sy burgers kan voorsien wat 'n mens se selfsugtige en hebsugtige hart begeer.

En 'n afvallige kerk dryf nota bene die mense aan tot religieuse verering van hierdie wêreld sonder God.

Dan het die tyd aangebreek om vir die kleine maar getroue kerk die lewe onmoontlik te maak: boykot, kerkvervolging, kerkuitroeiing.

Dit word in die laaste dae al hoe moeiliker om aan God se volk te behoort. Namate die einde naderby kom, word dit vir ons menslike besef al hoe meer 'n onmoontlikheid.

Want dit kos 'n mens jou lewe. Jy moet mos bereid wees om jou lewe te verloor as jy dit wil behou.

Dit alles het ons Here Christus ook duidelik gemaak voordat Johannes die pen mog neerlê. Hy het alle eerlik gesê en gewys wat ons moet weet om hierdie dae deur te kom.

Dis dié dat Johannes in ons eerste teksvers te hore kry: "Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie. "

Iets wat verseël word mag nie sommer deur enigiemand gelees word nie. Daardie boodskap moet voorlopig geheim gehou word. Die boodskap van die Bybel moet egter juis deur almal gelees word.

Hierdie boek behoort nie sorgvuldig onderin 'n argiefkas gebêre te word nie, dit behoort vooraan in elkeen se boekkas te staan.

Johannes kry presies die teenoorgestelde opdrag as Daniël eendag toe ook hy 'n reeks visioene gesien en opgeskrywe het. Toe het 'n engel gesê (Daniël 12): "Hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe. "

Dit wat Daniël toe te sien gekry het oor ontwikkelinge in die ver toekoms, daarmee het hy God se volk in die moeilike tyd van die ballingskap nog nie hoef te vermoei nie. Hulle het eers wel iets anders gehad om te verwerk. Hulle mog eers woorde van troos en bemoediging ontvang.

Maar nóu kan kennisname van toekomsprofesieë nie langer uitstel ly nie.

Moenie dit verseël nie, Johannes, "want die tyd is naby!"

Hierdie openbaring betref nie langer die ver toekoms nie. Die begin daarvan is klaar daar! Vanaf Christus se hemelvaart het die laaste dae klaar ingegaan en

Christus is reeds besig om sy terugkoms voor te berei.

Die begin van die einde- daarmee het die kerk al volop te make wanneer Johannes sy laaste sinne op papier skrywe. Is hy nie self 'n gevangene op die eiland Patmos, as 'n deelgenoot in die verdrukking vanweë die Woord van God en die getuienis van Jesus nie?

Stefanus is al gestenig, Jakobus vermoor, Paulus vervolg en in die tronk gesit.

En die sewe gemeentes in Klein-Asië wat as eerstes die Openbaring sal lees, kan ook al daaroor meepraat: Smirna word benoud deur die sinagoge van die Satan, in Pergamum staan die troon van die Satan, Antipas is daar oor sy geloof vermoor omdat hy nie sy mond kon hou nie..

Die tyd is naby. En dus moet ook die laaste woord van Christus in die hande van die kerk gegee word om dit voor te lees, om daaruit te preek, om dit te hoor, te bestudeer en te bewaar.

Hiersonder sal sy haar mos geen raad weet met die ontwikkelinge in die laaste tyd voor die einde?

Mét hierdie woord sal sy egter die tye kan verstaan en nie verbaas en verskrik staan oor die geweld wat bo haar kop sal losbars nie.

Dit is mos so, gemeente?

Wat sou ons in hierdie wêreld maak as ons nie vir Christus se woord sou geken het nie, as ons nie daagliks in die oop Skrifte kon lees nie? Ons blye christelike verwagting sou gou stukkendbreek op die feite wat nie daarmee lyk te rym nie. Ons sou baie dinge nie meer begryp nie en dit soos 'n noodlot oor ons laat kom.

Sonder Bybel sou ons sonder troos wees in dae van beproewing en verdriet.

Sonder Bybel sou ons geen raad weet met dood en graf nie.

Sonder Bybel sou ons met verbystering die steeds toenemende goddeloosheid en normloosheid op aarde aansien. En met nog meer verbystering sou die afval ook in die kerk ons vervul.

Natuurrampe, beesagtige terreur, die gekonkel in die politiek, die hoogmoed van die mens sonder God, die steeds agressiewer haat teen die HERE en sy kerk - dit alles sou ons grootliks in verwarring bring as die lig van die Skrifte nie daaroor sou skyn nie.

Baie mense soek 'n weg vorentoe sonder God. Hulle neem nie die Here se

betroubare woord as norm en vertrekpunt nie, maar hul eie onsekere gevoel. Daardie mense raak al hoe banger. Watter toekoms is ons te wagte? !

Maar voor ons lê die Woord van Christus oop en dit het ons by voorbaat voorberei op wat ons te wagte was. Het die HERE ons iets anders voorsê as wat ons daagliks meemaak? Art 5 van die NGB sê dat "selfs die blindes kan tas dat die dinge wat in die heilige Skrifte voorspel is, plaasvind. "

Daarom moet ons met die Here se Woord aan die werk bly. Persoonlik en gesamentlik. Nie net af en toe sommer 'n stukkie daaruit lees om daardeur gestig te word nie, maar dit diepgaande bestudeer, die groot lyne daarin agterkom en raaksien dát en hoé ons Here vandag konkreet besig is om na die aarde terug te kom.

So moes ek u die Here se Woord hier vanaf die preekstoel bedien hierdie jaar.

Daarom het die ouderlinge ook hierdie jaar tydens huisbesoeke aangedring op meer intensiewe Skrifstudie, op u deelneming aan die studieverenigings en wykaande. Daarom is kerklike blaaie soos KOMPAS so belangrik.

Ons kan alleen ons tyd en ons eie lewensstryd leer verstaan by die lig van die oop Skrif. En ook slegs dan kan ons hoopvol vorentoe gaan, omdat ons weet: in dit alles berei ons Heiland sy wederkoms voor en maak Hy ons ryp vir die einde.

2. Christus se geopende Woord dwing ons egter ook tot 'n steeds openliker keuse, broeders en susters. Hierop wys ons teks vervolgens, as daar gesê word:

"Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word. Maar ook: laat die regverdige nog regverdiger word; en laat die heilige nog heiliger word. "

Noudat die Here sy Woord voor ons neergelê het en ons daaruit alles kan weet wat ons moet weet op ons reis na die einde toe, dwing Hy ook elkeen om te reageer. Dis onmoontlik om die Bybel vryblywend te lees.

Of ons aanvaar en glo sy Woord en laat ons toenemend daardeur lei.

Of ons verag en verwerp sy Woord en soek ons eie pad vorentoe.

Daar is nie 'n derde moontlikheid nie.

Of ons kies die pad saam met Christus na die hemel toe.

Of ons gaan saam met die Satan na die hel toe.

En namate die tyd voortgaan sal elkeen se keuse onvermydelik steeds duideliker word.

Want daardie twee paaie sal al hoe meer van mekaar weg beweeg. Die goddeloosheid word al hoe openliker en al hoe brutaler, maar daarom sal ook die liefde vir God en sy gebooie al hoe sterker moet word.

U het dit natuurlik ook in die afgelope jaar weer gesien, broeders en susters, hoedat die geweld, die onsedelikheid, die verval in die kerk, die skynheiligheid en openlike goddeloosheid hand oor hand toeneem. Ons ou broeders en susters, wat al baie jare aan hulle sien verby gly het, sommer 70 jaar of meer, het dit nog veel duideliker gesien hoe die lewe sonder God al hoe brutaler vorme aanneem.

As u egter u Bybel ken, hoef u glad nie verbaas en geskok te wees oor hierdie ontwikkeling nie. Christus het ons betyds daarop voorberei.

Maar die ontwikkeling van kwaad na erger dwing ook ons om al hoe duideliker te wys waar ons staan.

Dit word al hoe meer onmoontlik om lid van Christus se kerk te wees soos 'n mens lid van 'n sokkerklub of van 'n sangvereniging kan wees. Vir halfheid en oppervlakkigheid is daar al hoe minder plek. Die tyd is verby om maar net openbare geloofsbelydenis af te lê omdat almal dit op daardie leeftyd doen.

Ons word inteendeel gedwing om met al hoe meer oorgawe met hart en siel 'n Christen te wees. Ons kan nie anders as om met 'n toenemende dankbaarheid Christus as ons Redder te omhels en om met 'n groeiende gehoorsaamheid kind van sy en ons hemelse Vader te wil wees.

Ons moet dit in die kerk wel al hoe mooier begin vind. Die lewe volgens God se goeie gebooie moet vir ons al hoe ryker word teenoor die leë en sinlose plesier van die wêreld.

En as daar by ons nie so 'n groei na God toe is nie, is ons een of ander tyd sommer wég; wég uit die kerk, vervreemd van ons vroeëre broeders en susters, en die wêreld sonder God sluit ons in in sy dodelike omhelsing.

Ons is bekommerd oor die waarneembare agteruitgang in hierdie wêreld, gemeente.

En daar is genoeg rede tot kommer.

Maar dan moet ons des te meer bekommerd wees as daar by ons geen vooruitgang waarneembaar is nie. As ons as 'n gemeente nie saam groei in geloof en liefde en lewensheiliging nie, as in ons gesinne, by uself of by een van u kinders die lewe met die Here nie veel meer as sleur, tradisie is nie. Hoe gevaarlik word dit as die leë en losbandige lewe van vandag se wêreld ons jongmense nie al hoe meer afstoot nie, maar juis 'n toenemende aantrekkingskrag op hulle het.

Dis hoekom daar die afgelope jaar meermale indringend gepreek moes word en daar op sommige huisbesoeke skerp woorde geval het. U het u tog nie daaraan vererg nie?

Ons kan dit hier in die kerk nie gemoedelik en gesellig hou nie. U is nie gehelp met neutrale preke en pligmatige huisbesoeke nie.

Ons is mos op pad na die einde toe. Almal moet ryp word vir die oes. Dit moet al hoe duideliker word of iemand tot die goeie graan behoort of maar net onkruid is. Eendag, op die oesdag, mag daaroor geen twyfel meer bestaan nie.

En wie vandag nie wil rypword vir die fees nie, word onvermydelik ryp vir die vuur!

3. Daardie oesdag kan digterby wees as wat ons dink.

"Kyk, Ek kom gou", se Christus mos tot drie keer toe in hierdie hoofstuk.

Ook in die laaste woorde van ons teks van vanaand: "Ky, Ek kom gou en my loon is by My om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. "

Almal kry tenslotte loon na werk: die een mag deel in die oesfees saam met God en die engele; die ander word as kaf verbrand.

God het van elkeen se werk noukeurig boek gehou. Aan die einde van die tyd word die boeke oopgemaak -ons het dit gehoor in art 37 NGB, want so het Christus dit al eerder in sy Openbaring aan Johannes gesê, in hoofstuk 20- en volgens daardie boeke word aan elkeen uitbetaal.

Miskien onthou u nog dat in Art 37 NGB gesê is dat hierdie "boeke" die "gewetens van die mense" is. Dit is egter 'n aanvegbare eksegese van Openb 20. Daarom het ons susterkerke in Nederland in hul vertaling van die NGB daardie woorde weggelaat.

Ons moet by die boeke waarvan Openb 20 praat, liewer dink aan die legger met die bewysstukke, die dossiers.

Daarvolgens kry elkeen eendag loon na werke.

Sommiges mag ingaan deur die poorte in die stad van God en eet van die boom van die lewe. Hulle was óók vuil, maar hulle het hul klere gewas en witgemaak in die bloed van die Lam.

Ander moet egter buite staan, in die buitenste duisternis, ver van God en sy feessaal. Hulle was al vuil, maar het in die loop van die tyd nog al hoe vuiler geword.

Waarom sê die Here hierdie dinge nog vir ons aan die einde van die Bybel, broeders en susters?

Het die woorde van vs 11 'n onverskillige klank: "Wie onreg doen, laat hom nog maar meer onreg doen... "?

Wil Christus sê: Ek het my bes geprobeer, Ek gee nou nie meer om nie. Elkeen moet nou maar besluit wat Hy wil maak?

Klink die woorde van vs 12 e. v. dreigend: Julle moet goed besef wat julle te wagte staan?

Nee, gemeente. Ons Here doen hier 'n laaste appèl op ons.

Hy lok ons met die vooruitsig van die boeke wat geopen sal word, om ons lewe lank besig te bly met die Boek wat klaar geopen is en wat ons daagliks in ons hand kan hou. Die Boek waaruit ek weer 'n jaar gepreek en gekatkiseer het, wat u saam bespreek het in u huise, in die verenigings en Bybelkringe.

As ons leef by dié geopende boek, hoef die gedagte aan aan die dag waarop die ander boeke geopen sal word vir ons hoegenaamd nie ontsettend en skrikwekkend te wees nie. Dit mag juis begeerlik en troosryk wees.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)