Die wêreld onder die oordeelbasuine

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Openbaring 8
Preek Inhoud: 

BIDDAG VIR GEWAS EN ARBEID.

1990.

Ps. 126: 1, 2
Ps. 126: 3
Ps. 85: 1 - 4
Ps. 127: 1 - 4
Lees: Openb. 8 en 9
Teks: Openb. 8: 1 - 6 & 9: 20 - 21

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vandag hou ons 'n biduur vir die gewas. In ons gebede vanoggend, wil ons spesiale aandag gee aan ons daaglikse lewensonderhoud. Ons sal vra of die Here dit op tyd wil laat reën. Ons sal ook bid om sonskyn, want as daar geen sonnewarmte is nie, dan kan daar niks op aarde groei nie. Ons bid of die Here ons voedselbronne wil handhaaf, sodat mens en dier kan leef. Ons sal vra om werkgeleentheid, sodat ons almal 'n salaris kan verdien. Ons sal bid om vrede en rus, want dit is voorwaardes om in 'n lewensonderhoud te kan voorsien.

Kortom, daar is vandag baie om te bid.

Maar nou kom ons af op 'n baie merkwaardige ding. Dit wil voorkom asof dit in die Bybelgedeelte wat ons gelees het, oor presies die omgekeerde gaan. As die eerste basuin geblaas word, verskroei die bome en die gras van die aarde. By die tweede word een derde deel van die see besoedel. By die derde basuin word die water ondrinkbaar. En by die vierde gee die son sy lig nie meer nie. En by die vyfde en sesde basuin word van alle kante op aarde dood en verderf gesaai.

Dit beteken, dan word alle lewe op aarde onmoontlik gemaak. Alles waarvoor ons bid op biddag, word hier weggehaal. As dit alles dan tog kom, kan ons dan nog wel sommer 'n biddag vir die gewas hou?

En om die vrae nog groter te maak, die mees merkwaardige is nog wel, dat al die basuine geblaas word, as gevolg van, en as antwoord op... die gebede van die heiliges.

Dit beteken dat ons vandag heelwat het om oor na te dink, voordat ons die regte biddag gebed kan bid. Ons verkondig vir u vanoggend die Woord van die Here soos volg:

DIE WÊRELD ONDER DIE OORDEELBASUINE.

Ons sien:

  1. Hoe die heiliges volhard in hul gebede.
  2. Hoe die mense verhard in hul sondes.

1. U sien dat ons vanoggend 'n nogal afwykende tekskeuse gedoen het. 'n Gedeelte uit die begin van hoofstuk 8, en 'n gedeelte uit die slot van hoofstuk 9. Die bedoeling daarvan is, dat ons teks so die raamwerk vorm van die 6 oordeelbasuine. Daar is ook nog 'n sewende basuin, maar dit is eerder 'n oorwinningsbasuin. Net soos by die opening van die sewe seels, die eerse ses seëls oordeelsvisioene onthul. By die opening van die sewende seël kom daar 'n stilte in die hemel, omtrent 'n halfuur lank. Die lofprysings van die lewende wesens rondom die troon, die lofliedere van die 24 oudstes, die engelekore swyg stil. Die hemel hou sy asem in. Vol spanning kyk Johannes toe, en dan sien hy hoe sewe engele hul basuine aan die mond sit, klaar om te blaas....

Die stilte hou nog effens aan, en dan sien Johannes op 'n ander plek beweging. By die altaar. 'n Engel met wierook nader die reukofferaltaar. Hy gaan 'n reukoffer bring.... Die gebede van die heiliges.

In hierdie beeld sien ons 'n heel bekende Bybelse motief. Die gebede van die gelowiges wat opstyg tot die Here. Dink byvoorbeeld aan Psalm 141: Laat soos die geur van wierookbrande; My bee wees voor u aangesig.

Die rook van die reukwerk het 'n vlugtige karakter, dit styg sommer op, en waai weg, maar tegelykertyd is die geur daarvan baie indringend. Jy kan dit nie misloop nie.

Wel, so styg die gebede van die heiliges op na die troon van God.

Hy kan die gebede nie ignoreer nie.

Met die heiliges en hul gebede word hier bedoel, die gebed van die volk van God op aarde. Hulle is vir Hom 'n heilige volk. Selfs 'n volk van priesters. 'n Biddende volk dus. Hierdie aanduiding: die heiliges en hul gebede, roep die begin van die geskiedenis van die volk Israel in herinnering. Toe hulle in slawerny in Egipte was, het hulle gekerm onder harde verdrukking. Dit het lank geduur, maar tenslotte het die Here ag geslaan op hul geroep, en het te hulp gekom.

En dit nie soseer omdat hulle gebed nou so suiwer en indringend was, of hul lewe so heilig was nie, maar eerder omdat die Here planne met die volk gehad het. Hy het 'n belofte aan Abraham gedoen, en daarom het Hy ag gegee op die hulpgeroep van Israel. Hul geroep wat nie veel meer as 'n noodkreet was nie, is deur die Heilige Gees geheilig, en voor die troon van God se genade gebring.

En toe het God iets gedoen.

Dieselfde sien ons ook in ons teks. Daar is gebede van heiliges, daar is 'n hulpgeroep vanaf die aarde, maar vanuit die hemel gesien, is daar eerste die engel met die reukwerk. Hy bring sy reukwerk saam met die gebede van die heiliges op die altaar.

Dit sê iets oor die gebed en die krag van die gebed.

'n Gebed is nie magtig in homself nie. 'n Gebed is nie 'n dwingmiddel waarmee jy die hemel kan oopbreek nie.

So het heidene tot hul gode gebid. Dink maar aan die gebedstegnieke van die Baälpriesters by Elia, op die berg Karmel. Hulle het vir ure na die hemel geskree. Hulle het 'n hele dag gedans met opgehewe arms. Hulle het met messe hul liggame gekerf. Maar dit het niks gehelp nie.

Elia met sy eenvoudige gebed, vol vertroue in die Here, het die vuur uit die hemel laat val.

Sy gebed het die Here behaag, want dit was 'n gebed deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees heilig gebrekkige mensegebede en bring dit so voor die aangesig van God.

Hy versterk die gebed van die Kerk, sodat dit bly opklink tot die Here.

Want dat die gebed bly klink, is op sigself reeds 'n wonder. Na die opening van die sewe seëls, het soveel oordele oor die aarde gekom, dat 'n mens huiwerig raak om te bly bid om die voortgang van God se werk in die wêreld. As die sewende seël oopgemaak word, verstil selfs die stemme in die hemel.

Maar, en dit is wonderlik, die gebede op aarde bly klink! En die engel dra die gebede tot voor die troon van God.

Here, gaan verder! Klink dit. Heilig U Naam Vader! Laat U Koninkryk kom! Laat U wil geskied!

Is dit nie Christus Self wat vir hulle hierdie gebed geleer het nie?

Maar die gebed maak dan ook groot dinge los.

As God Sy Naam begin heilig op aarde, dan klink die basuine, een vir een.

By die eerste basuin verskroei 'n derde gedeelte van die aarde. By die tweede basuin sterf 'n derde van die seediere af. By die derde basuin word 'n derde van die drinkwater vergiftig. By die vierde basuin raak son en maan uit die balans waarin hulle vir duisende jare gehou is. Die vyfde basuin bring gedurende vyf maande die vreeslikste plae op die aarde. Die sesde basuin saai dood en verderf oor die hele wêreld.

Die pragtige Skepping wat God gemaak het, en waarvan ons almal leef, word afgebreek. Die wêreld word 'n woestyn. Die see is vergiftig. Die vriendelike sonnewarmte verander in 'n dodelike straling. Die lewe word 'n angsaanjaende hel. Dit is wat gebeur as die Kerk bly bid: Laat U Naam geheilig word. Laat U Koninkryk kom. Laat U wil geskied.

Sal ons maar liewers die gebed nie stop nie?

Maar nee, ons bly bid. Saam met die Heilige Gees: Kom, Here Jesus, kom!

As dit so moet, dan moet dit maar so. Ons soek nie die verwoesting van die Skepping nie, ons soek nie die vernietiging van ons woonplek nie, ons soek nie die dood van die goddeloses nie, maar Here, ons buig voor U Majesteit. Ons realiserr die sterkte van U toorn, en dan swyg ons.

Of liewers, nee, ons bly bid: U Naam moet geheilig word, U Koninkryk moet kom, U wil moet geskied. En Here, as dit dan nou nog tyd van u geduld met die wêreld is, dan wil ons ook bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Want solank die wêreld daar is, solank U ons as gelowiges stel in 'n wêreld waarin ons U Naam moet verkondig, het ons lewensonderhoud nodig.

En daarom wil ons vandag bid: Gee vir ons ons daaglikse brood. Ons soek nie rykdom nie, ons begeer nie armoede nie, maar gee vir ons wat ons nodig het. Here, as dit nog tyd is van uitstel van die eindoordeel: Gee vir ons al wat nodig is vir ons daaglikse lewe. Gee vir ons finansiële middele om Kerk te wees in 'n wêreld wat van U af wegbeweeg. Gee vir ons geloof en roepingsbewustheid om die Evangelie uit te dra na ander mense, sodat hulle nie in die komende oordeel sal omkom nie.

En so kry ons biddaggebed sy regte plek. Nee, ons sal nie bid dat God die aarde maar moet uitlos omdat ons hier sonder God ons welvaart en geluk wil soek nie. Ons sal nie bid dat God die oordeelbasuine moet terughou, sodat die natuur nie beskadig of besoedel raak nie.

Nee, ons bly bid in gelowige vertroue: Kom, Here Jesus, kom. Maar solank Hy nog nie daar is nie, lê ons ook die vierde bede van die Onse Vader rustig in Sy hand: Vader gee ons vandag ons daaglikse brood.

2. Hoe die mense volhard in hul sondes.

Ons het gesien dat dit eintlik 'n wonder is dat die gelowiges na die opening van die sewe seëls nog steeds bly bid: Kom, Here Jesus. Dit was die werk van die Heilige Gees, wat hulle laat volhard het.

Maar in die tweede gedeelte van ons teks, die slotverse van hoofstuk 9, sien ons ook nog 'n ander reaksie: "En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer nie".

Sowel die sewe seëls as die sewe basuine, is oordele van God wat oor die aarde kom. En nie alleen eindgerigte nie, maar ook voorlopige oordele. Die toorn van God openbaar Hom op die aarde, vanweë die sonde en ongeregtigheid van die mens, skryf Paulus in Romeine 2. Toorn van God word sigbaar op aarde.

Hoe dan? Wel, sien dit maar raak in die geweld van oorloë, in verskrikking van volkeremoorde, in die eindelose bloedstroom van revolusiegeweld.

Maar, die ongelowige mens sal daaroor met sy vuis na die hemel swaai, en sê: As daar 'n God van liefde is, hoe kan Hy soiets toelaat. Hoe kan Hy toelaat dat mense mekaar op die vreeslikste wyse vermoor? Hoe kan Hy toelaat dat blinde magswellustelinge die moord op miljoene mense kan inisieer? Wie durf nog praat van 'n Almagtige God, nadat die verskrikkinge van 'n Tweede wêreldoorlog aan die lig gekom het?

Is daardie bloed en oorlogsgeweld alleen maar uitspattighede van 'n paar uitsinnige moordenaars? Vergissings wat in 'n deurgaans vredeliewende mensheid maar vinnig herstel moet word?

Vergeet daarvan, gemeente.

In daardie sake wys God vir ons iets. As Hy maar vir 'n kort tydjie die mens sy eie gang laat gaan, maak die mens die aarde tot 'n bloedbad. Daar is mense genoeg wat terwille van eie magsposisie in staat is om 'n oorlog met kernwapens te begin, waarby 'n derde van die wêreld se inwoners dood is, en 'n derde deel van die aarde vir altyd ongeskik word vir menslike bewoning. Dit is nog tyd van God se geduld. Dit is nog nie 'n hel op aarde nie, maar as God die mens 'n kans gee, dan vernietig die mens sy eie leefwêreld.

Hy laat die mens met sy ideale van 'n wêreld sonder God, sonder gebooie, in 'n heerlike vryheid en vrede met mekaar, nou en dan hard sy kop stamp. In 'n oorlog, in 'n besoedelingsramp, in 'n epidemiese siekte. Toorn vanuit die hemel!

En laat ons as gelowiges maar nie ons wyse koppe skud en sê: o, o, wat doen mense mekaar aan. Wat is dit verskriklik, soos mense die aarde opmors. Hoe kan hulle so maak?

Laat ons nie ons wyse koppe daaroor skud nie, laat ons liewers ons eiewyse koppe buig en erken: Ons, as mense is so. Ons is sondaars vanaf die begin van die wêreld. Ons is skuldig. Mee verantwoordelik, mee aanspreeklik vir die puinhoop in die wêreld.

Laat ons ons vinnig bekeer tot die Here, en roep om ontferming. Want die meeste mense sal dit nie doen nie. Selfs nie hulle wat die plae gesien het, en ontkom het nie, hulle sal nie God vir hulle redding dank nie, maar hulle sal voortgaan met hul lewe en lewensstyl asof niks gebeur het nie.

Hulle bly die werke van hul hande aanbid. Vir hulle is daar maar een God. Die afgod van die materialisme.

Die mens soek sy heil in die besittings wat hy op die aarde kan versamel. Die ou heidene het hul heil gesoek by afgodjies van goud en silwer.

Die moderne heidendom soek hul heil in spoghuise, pronkmotors, en banksaldo's. Die werk van hul hande, daarvan verwag hulle al hul heil. Dit moet hulle gelukkig maak. Kyk hoe hou hulle dit vas. Die afgod welvaart word alom aanbid. En dat medemense skade ly, dat die natuur besoedel word, dat hul siel leeg raak, dit pla hulle nie. Hul dien hul afgode. En as hulle siek en oorversadig raak van die afgod welvaart, dan staan hulle kinders op en begin regstreeks duiwels te aanbid. En so vul die Satanisme die gat wat val as mense hulle van God afkeer, en hul heil by die afgod welvaart gesoek het. Die aanbidding van die afgode in plaas van God, het nog 'n ander gevolg daarby. Hulle bekeer hul nie van hul moorde, towery, hoerery en diefstalle nie.

Ons het nie tyd om dit breed uit te werk nie, maar een skrynende voorbeeld daarvan wil ek noem. Soos u weet het die land Roemenië, vir tientalle jare gesug onder die geweld van 'n misdadige diktator. Sinds Kersfees 1989 het hulle 'n stuk vryheid terug ontvang. Die wêreld het gejuig, nou breek die wêreldvrede eindelik deur, maar nou is ons amper 10 maande verder. Dieselfde land staan aan die rand van 'n burgeroorlog. En verder lees ek: Sinds in Roemenië vryheid is, is daar 500, 000 aborsies uitgevoer. 500. 000. Alom is God gedank vir die bevryding van Roemenië. Die Here het groot genade betoon aan verdrukte mense in Oos-Europa. En hoe reageer hulle? 500. 000 aborsies.

Dit is wat die beskaafde Wes-Europa kon eksporteer na Roemenië. 'n Treinvol medies hooggekwalifiseerde aborteurs.

Toorn van God het oor Europa gekom, in die Tweede Wêreldoorlog. Die lande agter die Yster Gordyn het tot nou toe die gevolge daarvan moet ondervind. En nou word die Yster Gordyn weggeskuif. Openb. 9: 21: Maar hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.

Nie die mense uit die Ooste nie, nie die mense uit die Weste nie, nie die mense uit die Noordelike halfrond nie, nie die mense van die Suidelike halfrond nie. Almal gaan maar voort asof niks gebeur het nie. 'n Derde deel van die mensheid sterf 'n volstrek onnatuurlike doodsoorsaak in oorlog, siekte, ongeval of geweldpleging. Maar die twee derde deel wat tot nou toe oorleef het, gaan aan.

Hulle bekeer hulle nie. Ook nie van hul diefstalle nie.

In verband met vandag se bidstond, nog 'n paar opmerkings oor die laaste woorde: die diefstalle.

Diefstal is om jou te vergryp aan die goed van 'n ander. Gewoonlik dink ons dan aan oneerlike afvat van die goed van 'n medemens.

Jy besteel hom, jy benadeel hom, jy soek alleen jouself.

Maar weet u wat ook diefstal is. Om te eet van die opbrings van die Skepping, en daarvoor God nie te bid en Hom daarvoor nie te dank nie.

Die mens eet en drink, hy gebruik die hulpbronne van die aarde, hy geniet die sonskyn, hy beleef die natuur, maar... hy dank nie die Skepper van dit alles nie.

Hy sien God nie raak in Sy wonder van die Skepping nie.

Hy merk God nie op in Sy oordele oor die wêreld nie.

Hy hoor God nie spreek in Sy Woord nie.

Hy wil nie sien, nie luister en nie hoor nie.

Al toeter 6 basuine tegelyk.

Totdat die sewende basuin die eindoorwinning van Christus aankondig, en dan is dit te laat om jou te bekeer.

En daarom, laat ons God se oordele raaksien. Laat ons buig onder Sy toorn, en laat ons ons hande vou in 'n gebed.

In 'n gebed om voortgang van Sy werk.

In 'n gebed om volharding in die geloof.

In 'n gebed om versorging in al ons node.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)