Die ten hemel gevare Heer verskyn aan Sy gemeente

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

Ps. 66: l, 2
Ps. 66: 8, 9
Ps. l07: l0 [Doop]
Ps. 62: l - 5
Ps. l24: l, 2
Ps. l24: 3, 4
Lees: Ps. 50
Teks: Openb. l: 9 - l6

Broeders en susters, gemeente van Jesus,

In ons vorige preek uit hierdie Bybelhoofstuk het ons opgemerk, dat die periode tussen Hemelvaart en Wederkoms van Jesus Christus, as die periode van nie-sien gekenmerk kan word. In daardie tyd van nie-sien kommunikeer Christus met Sy gemeente, deur middel van die Woord. Hy spreek Sy gemeente indirek aan via die boeke en briewe van die Bybelskrywers. Daarvan is Johannes ook een. In vs. 4 val dan ook op dat hy met 'n soortgelyke groet as al die Nieu-Testamentiese briefskrywers, sy boek begin met: Genade vir julle en vrede. En tog as ons verder lees in die boek Openbaring, blyk dat die boek tog wel totaal anders is as enige ander Nieu-Testamentiese geskrif.

Die verskil is dat Johannes nie net skryf wat hy meen hy moet sê nie, soos bv. 'n apostel Paulus hom heel direk met sy uiteensettings en adviese tot die gemeente rig nie. Johannes noteer ook nie alleen letterlik wat hy van die Here hoor nie, soos met die Ou-Testamentiese profete diwels die geval was, en soos in die sewe briewe aan die sewe gemeentes die geval is. Maar Johannes moet in die eerste plek allerlei dinge sien. En daarby kry hy as mens 'n swaar verantwoordelikheid. Want hy moet sy indrukke weergee. Hy moet opskryf wat hy sien. En dit is gesien die oorweldigende en soms beangstigende, mekaar vinnig afwisselende visioene, geen eenvoudige taak nie. In ons teks van vandag kry Johannes sy eerste visioen. Dit is die inleidingsvisioen op die boek Openbaring. Hierdie visioen is met name die basis vir die briewe aan die sewe gemeentes. U moet maar eens kyk hoe elk van die sewe briewe begin met die afsender te omskryf, met 'n deel van hierdie openingsvisioen. Hoewel, nog in die sewe briewe, nog in die visioen, met soveel woorde gesê word, dat dit gaan om Jesus Christus, tog is duidelik dat dit niemand anders kan wees nie.

Ons tema by die vorige preek (4-8) was: Die ten hemel gevare Heer spreek sy gemeente aan. Vandag is ons tema:

DIE TEN HEMEL GEVARE HEER VERSKYN AAN SY GEMEENTE.

Hy verskyn:

  1. via Johannes
  2. deur die Gees
  3. in 'n gestalte van heerlikheid.

Ek is die Alfa en die Omega, so het dit sopas geklink.

Ek is Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking. Hierdie opvallende herhaling van die woordjie Ek in Ek, Johannes, na die nadruklike selfpresentasie van Christus in, Ek is die Alfa en die Omega, plaas Johannes op 'n baie eervolle vlak. Want dit is tog maar deur hom dat die Here Hom wil openbaar. Hy is nog altyd die dissipel Johannes met wie die Here Jesus 'n sterk affektiewe betrekking gehad het. (Die dissipel wat Jesus lief gehad het). Toe die Here Jesus op aarde was, en dit is op die oomblik van hierdie verskyning al omtrent 6O jaar gelede, toe was Johannes 'n jong man, laat ons sê begin 2O, dit gee hom tans 'n leeftyd van plus minus 8O(plus). Waarskynlik is hy die enigste van die apostels wat nog in lewe is, en dit maak hom in die eerste christelike gemeentes, tot 'n man van besondere gesag. Onder die mense geniet hy dus 'n besondere aansien. Maar as 'n geroepe profeet, by die Here ook. Ek Johannes.... Tegelykertyd sien ons dat Johannes homself nadruklik presenteer as 'n broeder en deelgenoot. Hoe opvallend dit is sien ons as ons dit vergelyk met 'n Oud-Testamentiese profeet. Die profete was meestal maar baie aparte mense. Hulle het anders geleef as 'n ander. Hulle het anders geëet. Hulle het ander klere gedra ens. Hulle was besonderse godsmanne. Johannes die Doper was in heel sy optrede nog kenmerkend so 'n Oud-Testamentiese profeet. Tussen hom en die volk was 'n groot afstand. Die mense leef hul aardse lewe, en nou en dan kom 'n opvallende verskyning (amper soos uit 'n ander wêreld) met 'n woord van God. En laat ons eerlik wees, so is in gereformeerde kerke vroeër ook wel met predikante omgegaan. Hulle is op 'n verhewe voetstuk geplaas, en het met meer of minder genoeë daardie rol maar gespeel. Maar so nie Johannes nie. Johannes staan glad nie in 'n isolement bo die gemeente nie, maar is in alle opsigte deelgenoot. Hy is geensins dominerend (N.B. dominerend = optree soos 'n dominee!) maar bring die Nieu-Testamentiese gedagte in praktyk, dat die hele gemeente as profete en priesters geroep is.

En as iemand soos hy dan 'n keer 'n besonderse openbaring ontvang, dan verhef hy hom daarmee nie bo die gemeente nie, maar gebruik dit inspirerend in die midde van die gemeente. En so presenteer Johannes homself as broeder en deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus. Ek meen dat van hierdie drie woorde (verdrukking, koninkryk en lydsaamheid) die woord "koninkryk" die sentrale tema is. Hy is broeder en deelgenoot in die Koninkryk van Jesus Christus.

Wat is hierdie Koninkryk?

Wel op die oomblik is dit die Ryk soos dit bestaan in die prediking van Jesus Christus. Die belangrike datums in Sy Ryk is: Sy koms na hierdie wêreld (Kersfees), Sy dood op Goeie Vrydag, Sy opstanding op die Paasdag, en Sy Hemelvaart. Ofwel, al die heilsfeite soos hulle in die christelike kerk verkondig word. Ons sou kon sê: Die Koninkryk van Jesus Christus bestaan tans in die verkondiging van die heilsfeite. En dan moet veral ook daarop gewys word dat agter die heilsfeite die liefde van Jesus Christus werk. Die mag wat Jesus Christus oor Sy gemeente oefen, is die mag van Sy geopenbaarde liefde. Dit is Sy feitlike koningsmag. En aan daardie mag vra Hy onderwerping. Die gehoorsaamheid in Sy Ryk bestaan vandag dan ook nie in 'n afgedwonge gehoorsaamheid vanweë sigbare magsvertoon nie, maar in die antwoord op Sy liefde wat in die groot datums van Sy Ryk sigbaar geword het. Daardie liefde laat mense hul lewe verander. Daardie liefde van Christus bring mense tot gehoorsaamheid in Christus' Ryk.

Maar gehoorsaamheid in Sy Koninkryk kan mens in botsing bring met gehoorsaamheid in aardse ryke. En dan word verdrukking jou deel. Soos in Johannes se situasie. Hy was op Patmos ter wille van die Woord van God, en om die getuienis van Jesus. Daar word algemeen aanvaar, dat Johannes nie self die verblyf op Patmos gesoek het nie, maar dat hy onder dwang van sekere owerhede daarnatoe gebring is, vermoedelik in 'n poging verdere uitbreiding van die christendom te keer.

Dat Johannes homself aandui as: deelgenoot in die verdrukking, beteken, dat ook die sewe gemeentes hul deel van vervolging ondervind het. Met alle ellende daarvan natuurlik. Veral as mense uit die gemeente dit nie langer kan verdra nie, en dan afval of moontlik verraad volg. Dan word die lewe swaar. Maar tegelykertyd het vervolging dikwels ook versterking van broederbande tot gevolg. Om saam te staan in 'n situasie van swaarkry, bevorder die broederband op 'n enorme manier. En daarop wys Johannes, ek is julle broeder en deelgenoot in die verdrukking. En dus ook deelgenoot in lydsaamheid. Dit wil sê, Ook vir Johannes is die Koms van Christus Ryk, 'n saak van geduld. Nog steeds is die Koninkryk van Christus nie in sy volkomenheid daar nie. Nog steeds het alle knieë hulle nog nie gebuig vir Jesus Christus nie. En daarna sien die gemeente uit. In lydsaamheid. In geduld, maar nie in gelatenheid nie. Ongeduldig wag hulle op die koms van Jesus Christus. Immers, juis in die toekomsgerigtheid, in die spanningvolle verwagting op Sy koms, wys die gemeente of sy waarlik bruid van Christus is, ja of nee. Of sy werklik uitsien na Sy koms, ja dan nee. Die opstanding van Christus, en die uitstorting van Sy Gees op die Pinksterdag, het in die opsig groot verwagtings gewek. want toe het geblyk dat Jesus Christus inderdaad in staat is Sy beloftes te vervul. Johannes' verwysing daarna het seker ook te doen met die feit, dat juis in die opsig die sewe gemeentes agterop geraak het. Die verwagting van Sy koms het begin kwyn. En juis daarom gaan Johannes hier by hulle staan. Ek is jul broeder en deelgenoot in die verdrukking, die koninkryk en die volharding.

2. HY VERSKYN DEUR DIE GEES.

Ek was in die Gees op die dag van die Here. Op 'n Sondag kry Johannes sy eerste visioen. Nadruklik word vermeld dat hy in die Gees raak. Die Heilige Gees neem Johannes in beslag om hom in staat te stel om 'n openbaring te ontvang.

Immers vlees en bloed kan die ryk van God nie sien nie.

As dit gaan om die sin en die doel van die wêreldgeskiedenis, wat kan 'n mens daarvan sê? Hoe kan jy uit wat jy sien en ervaar die bedoeling van God verstaan? En juis daaroor gaan dit in die boek Openbaring. Johannes het die opdrag om te sien wat gou moet gebeur. Die Here wil vir Sy diensknegte toon wat Hy in die geskiedenis gaan werk.

Vir die doel ervaar Johannes dat hy opgetel word om bo sy natuurlike waarnemingsvermoë uit te kom. Die Gees tel hom op om bo sy menslike vermoëns gesigte en insigte te ontvang. Want dis mos die Gees van God wat die verborgenhede deursoek. En dit is ook die Gees wat aan die gemeente belowe is as Plaasvervanger van Jesus Christus by Sy Hemelvaart.

As Johannes dus sy openbaring uitsluitlik kan ontvang deur 'n besonderse werking van die Heilige Gees, dan moet niemand meen dat hy sonder die Heilige Gees hierdie Openbaring wel kan verstaan en interpreteer nie. Die boek Openbaring is nie 'n pusselboek vir geskiedenis liefhebbers nie, maar 'n Openbaring van God, vir die gelowige gemeente. Dit beteken: slegs onder gebed en in verwagting van die Heilige Gees, kan die boek vrugbaar gelees word.

Die eerste wat Johannes ervaar is 'n kragtige stem van iemand wat iets sê. In ons vertaling word die eerste woorde weergegee met: 'Ek is die Alfa en die Omega'. Daar is nogal rede om te betwyfel of hierdie woorde hier inderdaad so gesê is. Baie handskrifte begin nie met hierdie aankondiging: Ek is die Alfa en die Omega nie, maar onmiddellik met: Skryf wat jy sien in 'n boek. Ek meen dit is tereg dat die Nuwe Vertaling dit ook doen. Dit is nogal belangrik vir die verstaan van die gebeurtenis. Immers die eienaar van die stem maak Homself nie onmiddellik bekend nie, maar Johannes moet Hom eers sien. Op die oomblik weet hy nog nie wie hom daar aanspreek nie.

Hy hoor maar net die bevel om op te skryf. Om neer te skryf wat hy sien en dit vir die sewe gemeentes in Asië aan te stuur. Met hierdie skryfbevel kom die hele boek Openbaring vanuit die staanspoor op die vlak van skriftelike vasgelegde Godsopenbaring. Ons kry nie die indruk dat iemand, soos die apostel Paulus byvoorbeeld, hom bewus was dat sy briewe vir die verskillende persone en gemeente, later opgeneem sou word in 'n boek wat vir die hele christenheid goddelike openbaring sou wees nie, maar by Johannes is dit wel so. Hy weet, hy ontvang 'n opdrag om al wat hy hoor en sien op skrif vas te lê, en dit sal van betekenis wees vir al die gemeentes van Jesus Christus. Sy boek is heel duidelik 'n boek wat onmiddellik geïnsprireer is deur die Heilige Gees. En daarom sal dit betroubare godsopenbaring wees.

3. HY VERSKYN IN 'N GEDAANTE VAN HEERLIKHEID.

Ek het sopas gesê, dat die aankondiging: Ek is die Alfa en die Omega, hoogs waarskynlik nie in vers ll tuishoort nie. Johannes weet nog nie wie met hom praat nie. Hy moet alleen sy indrukke weergee van wat hy tans sien. Daarom is dit vir die verklaring ook onjuis om reeds by vers l2 die nadere betekenis aanduiding, soos in vers l7 - 2O gegee word, nou al te betrek. Johannes kyk alleen nog maar, en wat hy sien laat hom al soos 'n dooie neerval.

Sewe goue kandelaars, is die eerste wat hy raaksien. Ongetwyfeld brandende kandelaars, wat hul lig laat skyn op 'n figuur wat daar midde-in staan. Ons stel die brandende kandelaars voor as staande in 'n halwe sirkel, en in die midde daarvan staan iemand. Weer maak ons vertaling asof Johannes onmiddellik weet wie dit is, die Seun van die mens (ofwel Jesus Christus), maar dit is tog nie die bedoeling nie. Dit is opsetlik wat vaag: Nie, daar staan die Seun van die Mens (hoofletters) nie, maar meer: Iemand soos 'n menseseun. Kom ons sê: iemand met 'n min of meer menslike gestalte. Hy het 'n kop, hare, oë en voete, maar tegelyk is dit soveel anders dat Johannes weet: dit is nie 'n mens wat hy sien nie.

Die figuur dra 'n soort priesterlike gewaad en die gordel is nie soos gewoonlik om die heup gebind, soos iemand wat werk om te doen het nie, maar hy het 'n goue gordel om die bors. Dit gee vir hom 'n gedaante van groot waardigheid.

Die wit hare en die oë soos 'n vuurvlam, dui op 'n skerp blik aan wie niks ontgaan nie. Hy sien alles met sy deurdringende oë, jy kan niks vir Hom verberg nie, en tegelyk is Sy oordeel oor wat Hy sien suiwer en wys.

Die voete wat die helder gloed het van koper in 'n oond, herinner aan die louterende effek van vuur op hoë hitte. Alle onsuiwerhede word uitgebrand.

En dan Sy stemgeluid. Dit laat Johannes dink aan baie waters, aan die donderende gedreun van woeste golwe op die rotse, of die allesoordonderende geraas van 'n groot waterval. Dit help vir mens niks om daarin teë in te probeer praat nie. Daar kan jy maar beter swyg.

In Sy regterhand sien Johannes sewe sterre. Vermoedelik is dit 'n aanwysing van die groot mag wat die persoon kan uitoefen.

En tenslotte sien Johannes die tong soos 'n tweesnydende skerp swaard. Ongetwyfeld word daarmee gedoel op die Woord wat uit Sy mond uitgaan. Die woord, kragtig en werksaam vir vriende, maar skerp en dodelik vir die vyand.

Tenslotte, nadat Johannes alle details genoem het, kyk hy nog een keer na die gesig om te kyk watter bedoeling hierdie figuur in die sin het. Maar dan kan Johannes alleen maar vergelyk met die son. Hy straal soos die helder middagson. Jy kan onmoontlik regstreeks daarna kyk, want die skynsel is verblindend. Dit beteken dat die glans van die gestalte self nog die lig van die kandelaars oortref.

Om nou die totaal indruk van die visioen onder woorde te bring, sou ek sê: Hier is die verskyning van 'n figuur as Regter. Die hoogste Regter. So kom Christus hier na Johannes en via Johannes na die sewe gemeentes, en via die sewe gemeentes na alle gemeentes. Hy weet alles, Hy sien alles en een woord van Hom is voldoende om iemand te laat lewe of die dood in te laat gaan. Hier verskyn Hy in die eerste plek as Regter oor die sewe gemeentes. Hy beoordeel wat daar aangaan. Daarom begin ook elke brief met 'n verwysing na hierdie figuur. Sy oordeel is suiwer. Hy weet alles en niemand kan ongestraf aan Hom verby kom nie.

Gemeente, hier is julle Regter. Hy is die Owerste van die konings van die aarde. Seker, dit sal nog wel blyk. (Later in Openbaring). Maar Hy is in die eerste plek Regter oor wat aangaan in die gemeente self. Regter, en tegelyk bly staan: Dit is Hy wat ons liefgehad het. Hy kom met Sy oordeel, maar tans is dit nog genadetyd. Tyd om julle te bekeer. Tyd om te luister. Tyd om terug te keer tot die liefde van die Seun van God wat Homself oorgegee het. Die eindgerig sal kom. Maar nou kry julle nog 'n waarskuwing. Bekeer julle, en onderwerp julle, aan Jesus Christus.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)