Die kerk mag in die krisis rus vind in die loflied op God se grootheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-20
Teks: 
Judas 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JUDAS VS 24, 25

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 90: 1
Wetslesing en erkenning van skuld
Ps. 90: 4
Verkondiging van vergewing en vernuwing
Ps. 90: 9
L. Judas vs 17-25
Psalm 145
Gebed
Kollekte
Ps. 145: 1, 2, 4, 8, 11, 12
Prediking
Ps. 42: 7
Gebed
Ps. 136: 1, 2, 3, 20
Seën

Wanneer sing 'n mens gewoonlik lofpsalms, broeders en susters?

Wanneer prys ons in uitbundige liedere ons God en besing ons sy grootheid?

Is dit nie op feesdae nie; op dae wanneer daar ook alle rede is om die HERE te dank en te jubel oor sy groot dade?

Ons prys die HERE op 'n verjaarsdag, of 'n troudag. Ons besing sy goedheid op herdenkingsdae, ons loof Hom as ons as kerk terugdink aan sy verlossingsdade in die verlede: Hervormingsdag bv. "Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!"

Maar wie van u sing van God se grootheid, wie bejubel God se goedheid in moeilike dae: in dae van siekte, van spanning en verdriet, van stryd en eensaamheid?

Kan ons as kerk ook die HERE loof in tye van krisis? As daar 'n bitter stryd vir die waarheid ontbrand het, as daar dwaling in die kerk ingesluip het?

Kan ons lofpsalms sing as daar mense besig is om weg te gly na die wêreld toe; as 'n losbandige lewe kerklidmate van God aftrek; as daar tug geoefen moet word?

In sulke tye sing 'n mens mos geen jubelliedere nie? ! In sulke dae is eerder boete- en smeekpsalms gepas.

Maar kyk wat maak Judas aan die einde van sy brief.

U onthou uit die vorige preke oor hierdie briefie: Judas moes in felle en hartstogtelike bewoordings waarsku teen 'n lewensgevaarlike lewensstyl wat onder vrome verskonings in die kerk ingesluip het.

Daar was mense wat van God se genade vir sondaars 'n vrybrief gemaak om 'n losbandige, wêreldse lewe te kan lei. En hulle het hul broeders en susters met mooie teorieë probeer saamsleep.

Daar het dus 'n ernstige krisis in die kerk gekom.

Judas moes tot die stryd oproep. Hy moes die oordeel aankondig en vir God se toorn waarsku.

En dan staan daar aan die einde van sy brief skielik 'n uitbundige lofprysing aan die adres van ons alleenwyse God en Verlosser, die God van heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid. Geen bewoë smeekgebed tot God of Hy sy kerk genadig wil wees nie. Geen boetepsalm. Maar 'n blye loflied as laaste woord.

Is dit nie nogal eienaardig nie?

Of is dit maar net die gebruiklike afsluiting van 'n brief? 'n Stigtelike slot wat min of meer losstaan van die voorgaande?

Nee, gemeente, hierdie lofprysing tot slot is bewus en doelgerig gekies.

Want juis ook in krisistye moet God se volk die loflied op sy Verlosser nie verleer nie. Juis in sulke tye vol spanning mag ons onsself tot rus bring met die loflied op God se grootheid.

Dit is die boodskap wat uit ons teksverse van vanoggend na ons toe kom:

Kom ek vat dit so saam:

DIE KERK MAG IN DIE KRISIS RUS VIND IN DIE LOFLIED OP GOD SE GROOTHEID

WANT:

  1. GOD KAN SELFS AAN VER WEGGEDWAALDE SONDAARS GENADE BEWYS
  2. HY IS MOS 'N GOD OM TOT IN EWIGHEID TE PRYS

1. As ons die boodskap van ons teks in sy volle betekenis wil verstaan, gemeente, moet ons eers 'n oomblik aan 'n taalkundige puntjie aandag gee.

Volgens ons Bybels bemoedig Judas hier aan die einde van sy bewoë briefie sy broeders en susters dat God magtig is om hulle vir struikeling te bewaar.

Hy het hulle mos sopas gewaarsku:

Judas het in die vorige verse opgeroep om nie te gou daardie mense wat hulleself aan 'n wêreldse lewensstyl oorgegee het, af te skryf nie. "Bewys hulle barmhartigheid", het hy geskrywe. Probeer om vol ontferming hulle oë oop te maak vir die gevaar waarin hulle hulleself begeef het. Wys hulle op die dreigende vuur van God se oordeel wat klaar besig is om hulle in te sluit. "Ruk hulle uit die vuur", as hulle na woorde en waarskuwings alleen nie meer wil luister nie.

Maar by daardie oproep moes Judas terselfdertyd die waarskuwing laat hoor om wél afstand tot die sonde te bewaar. Hy moes wys op die besmettingsgevaar. Veral omdat daardie mense wat 'n losbandige lewensstyl aangeneem het, hul gedrag met vroomklinkende redenasies probeer verdedig het. Ja, hulle het hulleself as voorbeelde vir almal beskou: soos hulle nou lewe, vry en bly, sonder die knellende band van allerlei reëltjies en bepalinkies, so moes eintlik almal in die gemeente lewe.

"Haat selfs die kleed wat deur die sonde bevlek is", sê Judas daarom. Kom nie te naby nie. Besef dat daar baie meer aan die hand is as net 'n verskil van opvatting oor bepaalde onderdele van die christelike lewenswandel. Julle moet doodsbang vir hul praktyke en teorieë wees. Want dit het nou eenmaal maar aantrekkingskrag op 'n mens.

En kyk, in daardie verband staan daar dan in ons teks, vs 24, dat God egter by magte is om ons vir struikeling te bewaar. Al moet Judas ook waarsku vir die besmettingsgevaar, mag hy terselfdertyd sy broeders en susters bemoedig dat hulle tog ook vol vertroue mag wees dat God hulle kan vashou en in die versoeking standvastig kan maak. Met dié wete kan Judas se broeders en susters gerus hul afdwalende broeders en susters opsoek en probeer terugkry in 'n dankbare lewe volgens God se goeie gebooie.

Party Griekse handskrifte skryf in vs 24 "ons" in plaas van "julle". Dit sou beteken dat Judas homself insluit. En dan maak dit sy woorde nog ekstra sterk: Ons, ook ek, is almal vatbaar vir die kwaad waarteen ek in hierdie brief moes waarsku. Laat ons die gevaar nie onderskat nie. Laat ons in elk geval nie oormoedig dié wat klaar deur die kwaad aangetas is, gaan opsoek en aanspreek nie. Maar laat ons klein en ootmoedig besef dat dit God alleen is wat ons vir struikeling kan bewaar.

Maar nou moet ek vir u sê, gemeente, dat die meerderheid van die Griekse handskrifte wat van Judas se brief teruggevind is, nog 'n ander woordjie lees. Hulle lees nie "julle" of "ons" nie, maar: "hulle: aan Hom nou wat magtig is om hulle vir struikeling te bewaar..... "

En volgens die studie van die teks van die Nuwe Testament wat die laaste tyd in Gereformeerde kringe gedoen is, moet ons hierdie meerderheid as die betroubaarste handskrifte beskou.

Maar dan word Judas se afsluitende woorde in ons teks wel baie indrukwekkend!

Immers: wie is dan daardie "hulle" wat God vir struikeling kan bewaar? Dit is nie sy broeders en susters wat hy opgeroep het om saam met hom teen 'n losbandige lewensstyl te stry nie. Dit is nie die positiewe kerklidmate wat nog ontvanklik is vir waarskuwing nie.

Maar dit is die ander, wat wat as gevolg van die verkeerde voorbeeld en die verkeerde praatjies van die raddraaiers al in 'n ernstige mate deur die kwaad aangetas is en klaar tot 'n losbandige, wêreldse lewensstyl verval het. Dit is hulle wat al deur die vuur van God se oordeel ingesluit is en aan wie die vlamme al lek-lek.

God kan selfs hulle nog red!

Dalk wonder u of hierdie opvatting van ons teks wel pas by die woordjie "struikeling" waarvan Judas tog ook praat: die HERE is magtig "om hulle vir struikeling te bewaar. " Die woord struikeling klink mos nog nie te ernstig nie. Daardie woord pas meer by goedwillende Christene wat wil saamgaan met die HERE en wil lewe volgens sy gebooie, maar op daardie pad kan struikel as gevolg van verleiding. Ons struikel almal dikwels. Maar dan staan ons ook weer op en gaan verder met die HERE.

Die Griekse woord wat Judas oorspronklik gebruik het, is egter sterker as ons woord "struikeling", broeders en susters. Daardie woord beteken "ten val kom, verlore gaan".

Judas sien dat verskeie lidmate besig is om die pad van God se verbond te verlaat. Hulle is aangetrek deur die breë pad van die wêreld sonder God. Maar daardie pad bring 'n mens eendag ten val. Op die ou end stort jy in die ewige verderf.

Judas weet egter ook dat God sélfs sulke mense kan vashou en weerbring.

God kan maak dat hierdie mense nie vir ewig ten val kom nie, maar eendag mag staan voor sy aangesig. Hy kan ook sulke mense wat klaar op pad was om deur die vuur van sy toorn verteer te word, tog eendag laat lewe in die lig van sy heerlikheid.

Om daar eendag te mag staan, oog in oog met God, in die verblindende lig wat Hom omstraal, sonder om verteer te word, is vir enige mens 'n onverdiende wonder, broeders en susters. Ook vir u en my.

U weet: toe die HERE eendag in sy heerlikheid na die volk Israel toe gekom het, op die Horebberg in die Sinaiwoestyn, was dit vir die Israeliete ondraaglik om onder die hoogspanning van God se heerlike aanwesigheid te verkeer. Die ligglans moes deur 'n wolk omhul word en selfs toe was dit nie moontlik vir enige mens om naby te kom nie. Selfs vir Moses, wat soos 'n vriend met die HERE mog verkeer en meer naby mog kom as enigiemand anders, was die direkte straling van God se heerlike lig te sterk. Hy het wel gevra om dit 'n oomblik te mag aanskou, maar hy moes tevrede wees met slegs die naglans nadat God aan hom verbygegaan het.

Ons sondes maak dit onmoontlik om oog in oog met God te staan.

As ons nogtans eendag daar kan staan, kan dit alleen wees deur God se liewe Seun, ons Here Jesus Christus.

Deur Hom alleen kan sondige mense "sonder gebrek" voor God se troon verskyn en hulle weer koester in sy heerlike lig.

Hy het mos, soos ons volgende week Sondag weer aan die Nagmaalstafel hoop te vier, ons gebrek, ons skuld op Hom gelaai. U moet daar weer 'n slag oor nadink, hierdie week en u daaroor verwonder: Hy is ewig ver uit God se nabyheid weggeja, sodat ons deur God aangeneem sou word en weer vir ewig in sy nabyheid sou mog lewe.

Sonder verskrikking, soos by ons doop al gebid is; maar juis die ene vreugde en verwondering oor soveel genade.

Maar as dit vir óns al die ene genade is, broeders en susters, hoe groot is dan God se genade as selfs mense wat, soos in Judas se dae, sy genade tot 'n vrybrief vir 'n losbandige, wêreldse lewe gemaak het, wat Jesus Christus se verlossingswerk misbruik het om hul eie begeertes te kan volg- as selfs sulke mense eendag sonder verskrikking voor Hom mag staan!

Maar dit kán!, sê Judas. God is magtig om selfs dit te doen. So groot is sy genade!

Verstaan u, gemeente, dat Judas met hierdie woorde aan die einde van sy brief nog 'n magtige poging doen om sy broeders en susters by die Evangelie van God se genade te bewaar? Om hulle nog 'n keer te deurdring van die wonder van daardie genade?

Daar is mense wat daardie Evangelie nie meer verstaan nie, wat nie meer weet wat daardie woordjie GENADE beteken nie, wat kla oor 'n bekrompe en gebonde lewe in die kerk en daarom die ruimte soek vir uitspattighede. Hulle praat wel vroom oor ons Here Jesus Christus, maar wil hulle nie onderwerp aan sy gebooie nie. Hulle wil "vry" wees.

Daardie mense verdien God se toorn, soos al aangekondig deur Henog. Hulle verdien dieselfde lot as Sodom en Gomorra, as Kaïn, Bileam en Korag.

Maar God kan selfs sulke mense nog vir daardie oordeel bewaar en genade bewys.

Hy kan selfs hierdie ontevrede mense wat kla oor die benoude lewe in die kerk, eendag "in vreugde" voor Hom plaas.

Wég is dan in een keer al hul ontevredenheid en opstandigheid, hul verset teen God se goeie wet. Dan sal hulle besef hoe ryk en bly en vry in werklikheid die lewe by die HERE is, ook as dit deur Hom gebind is aan die norme van sy wet. Dan sal hulle nooit meer iets anders begeer as om altyd naby en vir hierdie genadige God te lewe.

God is magtig om dit te doen. Hy hoéf dit nie te doen nie. Hy is dit aan g'n mens verplig nie. Hy doen dit ook nie met alle afgedwaalde sondaars nie. Daar is talle wat Hy op hul selfgekose doodloopstraat laat aangaan tot in die ewige dood.

Dit is GENADE as God jou, miskien op die laaste oomblik, uit daardie doodloopstraat uithaal en 'n plek gee in sy heerlike nabyheid.

So wil Judas ons aan die einde van sy brief nog 'n keer deurdring van wat God se genade werklik beteken, gemeente. En hoe groot en onverdiend sy genade is.

As ons God só ken, as die God wat selfs aan ver weggedwaalde sondaars nog genade kan bewys, moét ons Hom mos wel liefhê! En as ons hierdie genadige God liefhet, het ons tog glad nie meer behoefte om die lewe buite sy verbond en buite sy kerk te soek nie??

Dan sal ons ook tot op die allerlaaste bly probeer om die wat weggedwaal en tot 'n wêreldse lewe verval het, terug te kry.

Ons kan soms so magteloos voel. As een van ons kinders die rug op die HERE gedraai en homself aan 'n losbandige lewe oorgegee het; of 'n familielid. Of daardie broeder, of suster.

Sal dit nog help as ons probeer om hulle terug te kry? Sal dit nog help om te bid? Is hulle nie klaar verlore nie?

Ons kan so magteloos voel as hulle doof bly vir ons waarskuwings, ons oproepe tot bekering, die een keer geduldig en vriendelik, die ander keer heftig en indringend.

Wat help dit nog as die kerkraad die gemeente opwek dat almal 'n weggedwaalde broeder of suster sal aanspreek, of opbel of skryf? Sal daardie persoon nog luister? ! Het hy nie klaar gebreek met God en sy verbond nie?

Maar ons ken tog die HERE as 'n God van genade, broeders en susters? En durf ons twyfel aan sy moontlikhede? Wat óns op ons eie nooit kan regkry nie, is Hy by magte om te doen. Hy kan die mees hardkoppige sondaar by Hom weerbring. Solank daar lewe is, is daar daarom hoop.

2. Ja, so ken ons mos ons God!

Judas se woorde oor God se vermoë om selfs ver weggedwaaldes vir die ewige ondergang te bewaar, staan ingeklem in 'n loflied op God se grootheid.

Moet maar kyk in ons teks: só is God! sê Judas tot slot. Moet nooit te gering van ons God dink nie. Hy is 'n God om tot in ewigheid te prys.

Ons ou Afrikaanse Bybelvertaling lees: "Aan Hom kom toe heerlikheid, majesteit ens. ", maar dit is beter om te lees, soos in die Nuwe Afrikaanse Vertaling: "Aan Hom behoort". Die woorde wat Judas naamlik gebruik, is nie iets wat deur ons aan God gegee moet word nie, maar iets waaroor God beskik, iets wat Hom eie is, iets waaraan sy kerk Hom in die loop van die eeue mos leer ken het!

Waarom is God magtig om selfs die ergste sondaars te red? Hy is mos "ons Verlosser". Die hele pad wat Hy met sy volk geloop het is mos vol indrukwekkende verlossingsdade. Hoe dikwels al was Hy sondaars genadig, het Hy

Hom oor opstandige en hardkoppige mense ontferm!

En hoe 'n Verlosser is Hy! Is Hy nie 'n heerlike God nie?

As die Bybel van God se "heerlikheid" praat, broeders en susters, word aan daardie imponerende skitterglans gedink wat Hom omring. So kom God na die mens toe. So is Hy: indrukwekkend. Die HERE se verskyning alleen al is so indrukwekkend, dat dit die hoogste verwagtings by 'n mens wek. Wie is 'n God soos hierdie?

Daardie heerlikheid hang saam met God se "majesteit". Hy is hoog verhewe. Voor sy troon voel selfs die mees aansienlike mens nietig en onnosel. Wie is ons in vergelyking met Hom? !

Hy het "krag". Hy is die almagtige God. Daar is niks vir Hom te moeilik nie. Daar is niks wat Hy nie kan regkry nie. "Sou daar vir God iets te wonderbaar wees? " het Hy self meer as een keer gevra in die geskiedenis wat Hy met sy volk gegaan het. Hy kan stokoue onvrugbare mensies nog die pa en ma maak van 'n seun: Isak. Hy kan sy eie Seun uit die hemel, God uit God, Lig uit Lig, 'n mens van vlees en bloed laat word uit 'n maagd. Hy kan 'n dooie in die lewe weerbring. Hy kan eendag 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gee.

Sou Hy dan nie sondaars 'n nuwe lewe kan gee nie?

Hy kan dit nie alleen nie, Hy mag dit ook. Judas sê in ons teks: Hy het nie net "krag" nie, maar ook "mag".

Mag beteken: die rég om dinge te doen, die outoriteit, die bevoegdheid.

Kyk, ek het miskien wel die krag om, saam met 'n paar sterk manne, iemand se motor van die pad af te dwing as hy lewensgevaarlik bestuur. Maar ek het nie die mag, die bevoegdheid om dit te doen nie. Die polisie het die bevoegdheid daartoe.

God het die reg tot álles in die hemel en op die aarde. Niemand kan en sal Hom ooit keer en vra: wat maak jy? nie.

So mag ons ons God ken, gemeente. En nie net nou nie. So was Hy van ewigheid, so is Hy en so sal Hy tot in ewigheid wees. Ons weet nie eens mooi wat ons ons by die woordjie "ewigheid" moet voorstel nie. Judas gebruik selfs die meervoud: "... tot in alle ewighede. " Eindeloos.

Dit laat 'n mens se kop duisel.

Maar só ís ons God. So mag, ja moet ons Hom ken. So moet ons Hom tot in alle ewighede prys.

Judas gee in ons teks in 'n eie lofprysing aan ons, sy lesers allereers die rede hoekom ons van God se genade nie te gering moet dink nie.

In hierdie lofprysing aan die einde kom hyself ook tot rus. Daar klink baie onrus uit sy briefie. En daarvoor was daar ook alle rede.

Daardie onrus klink al in die begroeting aan die begin: "Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!". Vermenigvuldig: hoe meer hoe beter! Want dit is baie nodig, gesien die krisis waarin die kerk geraak het.

Maar hier aan die einde kom die rus. Judas kyk saam met sy lesers op na sy God. Hy prys God se grootheid. God kan ook in die ergste krisis bewaar.

Judas wil met sy eie loflied tot slot egter ook by ons so 'n loflied losmaak. Hy wil ook ons leer om nie net op feesdae nie, maar juis ook in stryd, en onder bedreiging rus te vind in 'n loflied op God se grootheid. As ons kinders dreig om in die wêreld weg te gly, as tugmaatreëls vrugteloos lyk te wees, as dwaalleer of onderlinge liefdeloosheid of wat ook al die gemeente dreig te verskeur, moet ons nie net treur en kla nie. Ook nie net bid en smeek nie.

Juis dan moet ons ook sing van ons heerlike God en sodoende besef dat ons van sy hemelse majesteit nooit aards mag dink nie.

Judas staan hierin nie alleen nie, broeders en susters. Ons lees dit meermale in die Bybel. In ons Psalmboek tref ons bv. dergelike lofliedere op God se grootheid aan wat in krisistyd geskryf is. Tot troos en bemoediging.

Psalm 145 is so 'n lofpsalm. Dawid besing daarin God se grootheid. Maar ons lees nêrens dat hy so sing uit dankbaarheid vanweë wónderlike dinge wat God aan hom gedoen het. Hy praat inteendeel van mense wat val, wat neergeboë is, mense wat God om hulp aanroep. Mense in die moeite. Hy help húlle om rus te vind in die loflied op die grootheid en goedheid van God.

Het ons Here Jesus Christus ons ook nie geleer om so die "Onse Vader" te besluit nie: "Lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die Bose". Ons is permanent in gevaar. Ons doodsvyande hou nie op om ons aan te veg nie en kyk hou swak is ons in onsself. Maar ons glo: U alleen kan ons verlos, want: "Van U is die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid"

Dis amper dieselfde klanke as by Judas.

Die loflied op God se grootheid bring rus.

Kom dan altyd alles reg?

Bring God al sy afgedwaalde kinders in sy genade terug uit hul wêreldse lewe in sy ewige Koninkryk? Sorg Hy dat alle tugmaatreêls aan die einde van die dag met blydskap opgehef kan word? Voorkom Hy altyd dat dwaalleer die kerk verskeur?

Nee.

God kán aan die mees verharde sondaar genade bewys, God kan die kerk vir krisis bewaar, maar Hy doen dit nie altyd nie. Hy is dit ook nie verplig nie. Ons weet dit maar alte goed.

Dis egter moeilik om te aanvaar. Dit maak ons soms verdrietig of opstandig. Dit maak dit in elk geval wel baie moeilik om altyd spontaan die loflied op God se grootheid te sing.

Maar sal u nie vergeet om God ook te ken en te besing, soos Judas, as die "alleenwyse" God nie, broeders en susters?

Ook as Hy mense laat verlore gaan en nie genade bewys nie, ook hy Hy toelaat dat die kerk deur dwalinge uiteengeskeur word, weet Hy wat Hy doen. Hy maak dan nie 'n fout nie. Die HEER is reg in al sy weg en werk, sing Psalm 145.

Daarom: al gaan dit ons verstand te bowe en sny dit soms in ons vlees - ons moet sy kerk en sy kinders volkome in sy hande oorgee, en daarin volkome rus vind, gemeente. Dit help nie om bekommerd te wees nie of opstandig te raak nie.

Ons moet in ons loflied op God se grootheid alle twyfel en opstandigheid en onrus die swye oplê met 'n hartgrondige "Amen": so is God, so het ek Hom leer ken, so aanbid ek Hom. So is dit reg.

Ja: AMEN!

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)