Die vrome skyn in die kerk sal verdwyn

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Judas 1
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JUDAS VS 11-16

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 81: 1
Ps. 81: 9, 11 voor die Wet
Wetslesing
Ps. 81: 15
L. Gen 4: 1-16
Gebed
Kollekte
Ps. 73: 2, 3, 8
Prediking
Ps. 119: 44, 46
Gebed
Ps. 9: 12, 13, 15
Seën

Is hierdie alarmerende briefie van Judas nie 'n bietjie oorbodige moeite nie, broeders en susters?

Judas het goddelose mense in die kerk opgemerk. Kyk vs 4. Mense wat die genade van God in ongebondenheid verander en die enigste Heerser, God, en ons Here Jesus Christus verloën.

Derglike mense mag daar in die kerk van Christus natuurlik nie wees nie.

Maar was dit regtig nodig dat Judas direk so 'n fel briefie soos hierdie moes skrywe? Moes Judas dadelik in die skerpste bewoordinge die oordeel oor daardie mense aankondig?

Goddelóse mense sal dit mos nie lank in die kerk uithou nie? Die klimaat in die kerk voel vir hulle veels te bekrompe en hulle sal vanself baie gou padgee uit die kerk uit.

Was dit nodig om vir die ander lidmate op hierdie wyse die noodklok lui? Het almal nie lankal die goddeloosheid van daardie broeders en susters raakgesien en hul afkeuring daaroor uitgespreek nie?

Nee, gemeente, dit is nou juis die ding hier in die gemeentes waaraan Judas skrywe: daar is twee soorte goddeloosheid.

Daar is 'n openlike goddeloosheid van mense wat reguit sê en laat blyk dat hulle hul rug op God en sy gebod gedraai het. Derglike mense sal inderdaad nie lank meer in die kerk bly nie maar uit hul eie weggaan.

Daar is egter ook 'n goddeloosheid van mense wat hulleself nog 'n hele ruk vermom in 'n vrome skyn! Daar bestaan ook 'n goddeloosheid wat skuilgaan agter skynheiligheid.

En derglike mense loop nie sommer weg uit die kerk uit nie.

Judas het gesien hoe derglike mense selfs in die kerk ingesluip het en belangrike plekke in die gemeente ingeneem het.

Skynheilige mense kan 'n hele ruk hul broeders en susters in die kerk mislei, ander mense aansteek met hul losbandige lewe, saamsleep na die goddeloosheid toe.

Oënskynlik lyk daardie mense glad nie sleg nie, hulle kan selfs nogal indruk maak op almal. In der waarheid is hulle egter, soos Judas dit uitdruk in vs 19: "sinnelike mense wat die Gees nie het nie".

Verstaan u, broeders en susters, dat dit in daardie geval wel deeglik nodig is om die noodklok te lui en die skyn kragtig stukkend te skeur?

In so 'n geval moet die goddeloosheid ontmasker word en moet almal weet wat God aan die einde dag met goddelose mense maak.

Nou ja, dit is wat Judas in sy briefie en met name ook in ons teksverse doen.

Ek het sy boodskap in hierdie gedeelte so saamgevat:

DIE VROME SKYN IN DIE KERK SAL VERDWYN

ONS LET DAAROP

  1. HOE JUDAS DIE SKYNHEILIGES TIPEER (vs 12, 13, 16)
  2. WAT HULLE VAN KAIN, BILEAM EN KORAG KAN LEER (vs 11)
  3. WAT HENOG REEDS OOR HULLE MOES PROFETEER (vs 14, 15)

1. Judas gebruik wel 'n skokkende beeldspraak om die skynheiliges wat hy in die kerk opgemerk het, te tipeer! Dit is nie bepaald vleiende vergelykings wat hy maak nie: waterlose wolke deur die wind voortgedrywe, bome sonder vrug, woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre.....

Maar dit kan, soos ek al gesê het, soms nodig wees om 'n skynheilige vermomming van godelose mense af te skeur en hul ware aard te wys.

En dan sal u ook moet toegee, broeders en susters, dat Judas sy vergelykings treffend gekies het. Dit is mos almal beelde van iets wat aanvanklik wel veelbelowend en indrukwekkend lyk, maar in der waarheid teleurstel, weersin wek en waarmee jy bedroë uitkom.

Kom ons kyk 'n bietjie noukeuriger na elkeen van Judas se vergelykings:

In vs 12 praat Judas -volgens ons Bybelvertaling- allereers van "skandvlekke in julle liefdemaaltye wat sonder vrees saam fees hou. "

Die woord skandvlekke is egter nie reg vertaal nie. In omtrent alle Bybelvertalings het die vertalers die Griekse woord wat Judas gebruik, aangepas aan 'n woord wat Petrus in sy tweede brief, hoofstuk 2: 13 gebruik. Petrus praat daar, ook volgens die oorspronklike Griekse teks, inderdaad van skandvlekke.

Omdat Judas in sy brief nogal veelvuldig gebruik gemaak het van daardie tweede brief van Petrus en af en toe woordelik daaruit oorgeskryf het, het die vertalers aanvaar dat Judas hier in vs 12 seker maar dieselfde woord as Petrus bedoel het: skandvlekke by die liefdemaaltye.

In der waarheid gebruik Judas volgens die Griekse teks egter 'n ander woord! Want Judas het Petrus se brief nie klakkeloos oorgeskryf nie. Hy het maar net op 'n selfstandige manier daarvan gebruik gemaak en sy eie woorde bly kies.

Judas gebruik 'n woord wat wel baie lyk na die woord wat Petrus geskryf het, maar nogtans 'n ander woord wat ook heeltemal anders verbuig word. Die woord wat Judas gebruik, beteken: klip of rif.

Dit is wel verstaanbaar dat die vertalers gedink het dat Judas waarskynlyk daardie ander woord, wat in die Grieks wel enigsins daarop lyk, bedoel het. Immers: wat moet ons ons voorstel by "riwwe" by julle liefdesmaaltye? !

En tog, as u mooi kyk sal u moet saamstem dat daardie woord wel deeglik baie mooi pas om die skynheiligheid van sekere mense in die kerk in Judas se dae te tipeer: hulle neem gereeld deel aan die liefdesmaaltye, die byeenkomste van die gemeente waar die gemeenskap met Christus en die gemeenskap met mekaar by brood en beker gevier is. Hierdie mense het dalk die vernaamste plekke aan die tafel ingeneem en die hoogste woord gevoer. Almal het na hulle geluister en na hulle opgekyk.

Maar wie kyk deur die skyn heen?

Want in der waarheid is hulle soos 'n verraderlike rif net onder die wateroppervlak waarop die geloof van meer as een kerklidmaat skipbreuk kan ly, ja, waardeur die egte gemeenskap met Christus aan die tafel op die rotse loop!

As hierdie skynheilige mense die heiligheid van Christus se tafel nie meer hooghou, die smaak van God se genade nie meer proe nie, maar van die liefdesmaaltye al hoe meer 'n fees maak waar 'n mens 'n keer lekker uit die band kan spring, loop die liefdesmaaltye op die ou end te pletter.

Die tweede vergelyking wat Judas in vs 12 maak, is in ons vertaling ongelukkig ook nie duidelik weergegee nie. Judas noem die skynheilige goddeloses wat hy in die kerk opgemerk het: "mense wat hulleself voer". 'n Beter vertaling is: mense wat hulleself weiding verskaf. Judas gebruik naamlik 'n uitdrukking wat die HERE self in die Ou Testament eendag gebruik het vir die ampsdraers in die tyd voor die ballingskap. U kry dit in Eseg 34.

Ampsdraers is deur God as herder aangestel om sy skape op te pas. Maar hoor wat het God se herders in daardie dae gedoen: "Wee die herders wat aan hulleself weiding verskaf" sê die HERE. "Moet die herders nie die skape laat wei nie? "

Hulle het van die kudde geprofiteer, hul eie voordeel uit die kudde gesoek: die vet skape opgeëet, hulleself met die wol beklee, maar glad nie vir die skape omgegee nie.

Nou maar goed, dié houding sien Judas ook by die skynheiliges in sy dae wat hy as goddeloses moet ontmasker. Hierdie mense gee voor dat hulle die beste vir die kudde van God soek. Hulle het hulleself as leiers opgewerp, as mense wie se voorbeeld jy maar kon navolg. Dalk was daar wel ouderlinge onder hulle!

Maar kyk mooi: die werklikheid is dat hierdie mense maar net op hul eie voordeel en genot uit is. Hulle gee glad nie om as hul broeders en susters die spoor sou byster raak nie.

Vervolgens praat Judas van "waterlose wolke deur winde rondgedrywe". Hierdie beeld verstaan ons hier in Suid-Afrika baie goed! Wie van ons ken nie die groot teleurstelling as daar veelbelowende wolke aan die hemel verskyn en ons, na 'n tyd van verskroeiende droogte, verwag dat daar eindelik weer 'n verfrissende reën sal val - en dan verwaai daardie bui binne 'n half uur se tyd.

So tipeer Judas skynheilige mense in die kerk. Hulle belowe jou met hul vrome praatjies en losbandige lewensstyl 'n wonderlike lewe. Maar aan die einde van die dag laat hulle jou droog en dor agter.

"Bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld", noem Judas daardie mense ook. Ook hierdie beeld is nie moeilik om te begryp nie. Aan 'n boom in die nasomer verwag 'n mens heerlike ryp vrugte. Dié wat honger of dors is en so 'n boom gewaar, stap vol verwagting daarnatoe om 'n paar vrugte te pluk. Hoe groot is dan die teleurstelling as daar niks blyk te wees nie!

So teleurstellend is skynheilige mense in die kerk. Hulle wek hoë verwagtings, maar jy kom bedroë uit.

Jy sal ook nooit vrug aan hulle hoef te verwag nie, sê Judas. Want hulle is "twee maal gestorwe": daar is geen vrug nie, en daar kan ook nooit meer vrug aan hulle groei nie, want hulle klaar afgesny van die wortel van die geloof.

Hoe sterk is ook die volgende beeld, gemeente: "woeste golwe van die see wat hulle eie skande opskuim. "

U het seker al meer as een keer aan die see gestaan. Hoe indrukwekkend kan die branders na die strand toe aanrol. Vol bruisende lewe. 'n Mens kan jou klein voel teenoor hul krag. Maar kyk 'n bietjie watter vuiligheid hulle na die oppervlakte bring! Soms bly daar 'n hele streep op die strand agter. Dieselfde gebeur deur skynheilige mense in die kerk. Hulle bruis van lewe en beïndruk 'n mens deur hulle optrede. Maar hulle veroorsaak die ene omgewingsbesoedeling in Christus se gemeente.

In 'n laatste vergelyking noem Judas hulle "dwaalsterre" - ook 'n beeld wat vir homself spreek. Jy dink jy kan jou aan hulle oriënteer; hulle kan jou help om die regte pad te loop. Maar jy sal juis heeltemal verdwaal as jy deur derglike mense jou koers laat bepaal.

So waarsku Judas sy broeders en susters met duidelike beeldspraak vir die bedrieglike skyn waarmee goddeloses mense die lewe in die kerk kan bedreig.

Hy wys in ons teks ook nog 'n keer aan uit watter wortel so 'n skynheilige houding opkom.

'n Mens wonder mos hoe iemand wat nog die naam van "Christen" dra tot so 'n bedrieglike, leë, ja goddelose lewe kan verval.

Alles begin met 'n ontevredenheid oor die lewe wat God in sy genade aan ons skenk.

Kyk wat sê Judas in vs 16: "Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae. "

Die lewe in die verbond met die HERE word na hulle gevoel veels te veel aan bande gelê. Hulle wandel liewer volgens hulle sondige begeerlikhede as in die spoor van God se goeie wet. Die hart trek na die sogenaamde vryheid-blyheid van hierdie wêreld.

Daar lê die begin. En dan kan die vrome skyn miskien nog 'n hele ruk opgehou word, dan kan mense met skynheilige smoesies hulleself as waardevolle kerklidmate voordoen, "trotse woorde spreek" soos Judas dit uitdruk in vs 16, maar hulle is klaar op pad na 'n totale goddeloosheid.

Want wie nie van God se GENADE alleen wil lewe nie, wil op die ou end ook nie meer met God lewe nie.

Let op daardie wortel, broeders en susters, ook julle seuns en dogters: daardie wortel van ontevredenheid oor die lewe wat God deur Christus uit genade weer vir ons oopgemaak het, kan ook sommer in ons hart opskiet! Ook ons kan, pleks van dat ons die ene dankbaarheid en verwondering is dat ons, sondaars, nog God se kinders mág wees, onsself en mekaar begin wysmaak dat die lewe in die kerk eintlik veels te bekrompe is; dat die ampsdraers die lewe veels te veel aan bande lê; dat die "christelike vryheid" nie in gedrang moet kom deur 'n gemeenskaplike gereformeerde lewensstyl met almal reëltjies en bepalinkies nie.

Ons seuns en dogters kan dromerig voor die vensters van die kerk gaan staan en staar na die lewe in die wêreld, waar dit tog baie aantrekliker en ouliker is en waar 'n mens gewoon jouself kan wees.

En dan groei daar soos vanself 'n skynheilige lewe waarin hulle saterdagsaans gaan fliek en die disko besoek, hulle aan drankmisbruik te buite gaan, maar nogtans sondags getrou op hul plekkie sit êrens agter in die kerk. Hulle neem ook nog wel deel aan die Verenigings, voer soms die hoogste woord as dit gaan oor wat 'n kind van die Here wel en nie mag doen nie, maar nog die selfde aand vergaap hulle hul aan die slegste videos.

Dan kan dit selfs gebeur dat sulke kerklede hulle losbandige lewe met 'n skynberoep op die Bybel verdedig. Ons moet ons nie verbaas as hulle hele teorieë aanvoer waarmee hulle ook ander mense probeer oortuig dat daar niks verkeerd is met hul lewenswyse nie. Hulle het pragtige redenerings om popmusiek, fliek, 'n vryere seks en so meer te verdedig. Sulke mense kry dit dikwels selfs reg om 'n hele ruk leidende posisies onder party kerklidmate in te neem.

Maar hulle is gevaarlike riwwe waarop u geloof kan skipbreuk lei, wolke sonder water, bome sonder vrug, indrukwekkende branders wat egter net vuiligheid opspat, dwaalsterre.

Wie hom deur hulle laat saamsleep, is op pad na die donkerheid van die ewige duisternis. Want alle vrome skyn sal eendag verdwyn.

2. Om dit ekstra duidelik te maak herinner Judas ons nog 'n keer aan die verlede. Hy haal, nadat hy eers al die opstandige engele, die losbandige Sodom en die ontevrede Israeliete in die woestyn voor ons geestesoog geroep het, nou drie manne in die kalklig: Kaïn, Bileam en Korag.

Daar is mos niks nuuts onder die son nie! Die ou kwaad verskyn maar net in 'n nuwe gewaad.

Goddeloosheid wat homself vermom in skynheiligheid is al amper so oud soos die wêreld oud is. Dit dateer al uit die dae van Kaïn.

Ons ken Kaïn veral as die een wat sy eie broer vermoor het, broeders en susters. Maar Judas vra ons aandag daarvoor dat Kaïn 'n weg gegaan het. Dit het met Kaïn van kwaad na erger gegaan. En waar het die begin gelê? Ons het dit saam gelees vanoggend. Die eerste ding wat ons in die Bybel m. b. t. Kaïn vertel word is sy skynheiligheid. Hy het 'n offer aan die HERE gebring. Maar die HERE wou daardie offer nie aanvaar nie. Die HERE het naamlik deur die vrome skyn heengekyk. Want Kaïn se werke was boos. Kaïn het sy lewe oopgemaak vir die sonde wat voor die deur gelê en loer het. Kaïn het meer met die sonde geleef as met die HERE.

Terwyl Kaïn en sy familie beter as wie ook kon weet hoe groot God se genade is dat sondige mense nog met Hom mág leef -dit was nog maar kort na die sondeval- was Kaïn nie bly en verwonderd daaroor nie, maar het 'n losbandige vir hom aanlokliker gelyk.

Maar dan help dit nie meer op skynheilig offers te bring nie. Jou voete staan klaar op 'n verkeerde weg. Jy word 'n gevaar vir jou broeder wat wel die ene verwondering oor God se genade is en skuil agter versoenende offerbloed. En tenslotte verdwyn jy in 'n goddelose lewe.

Dieselfde ding het later met die profeet Bileam gebeur. Hy het homself voorgedoen as 'n baie vrome kneg van die HERE wat niks buite sy God om wou besluit nie. Maar sy begeerte na geld was tog sterker as sy begeerte om gehoorsaam te wees. Hy het meer liefde vir genot as vir God gehad. Die loon van koning Balak van die Moabiete was vir hom meer werd as die genadeloon wat God aan sy kinders gee. Vir daardie loon was hy selfs bereid om koning Balak 'n middel aan die hand te doen waarmee hy die volk van God tot sonde kon verlei en te gronde rig. Dit het by Bileam met vrome skyn begin, maar die einde was 'n totale goddeloosheid.

So was ook Bileam 'n duidelike voorbeeld hoe skynheiligheid die begin van die einde is.

As derde voorbeeld noem Judas die Israeliet Korag wat in die woestyntyd teen Moses en Aäron in opstand gekom het.

Judas het in die voorgaande verse al aan die opstandige volk in die woestyn in die algemeen herinner. Maar nou haal hy een persoon spesiaal in die kalklig.

Want Korag was nie net, soos die meeste Israeliete, ontevrede en teen die leiers opstandig nie. Korag was boonop skynheilig! Korag het sy ontevredenheid oor die pad waarop God sy volk in genade saamgeneem het: uit die slawehuis na die beloofde land toe, baie mooi gekamoefleer met skynheilige praatjies. Hoor wat sê hy vir Moses en Aäron: "Wat verbeel julle jul eintlik, dat julle aan ons die wet wil voorskrywe? die hele vergadering, hulle almal, is heilig, en die HERE is in hulle midde. "

Met derglike vroomklinkende woorde het Korag die ruimte opgeëis om sy eie gang te kan gaan.

Nou ja, u weet waarop dit uitgeloop het: hierdie skynheiligheid het sy ondergang geword. Die aarde het sy mond oopgemaak en Korag se goddelose mond vir altyd toegemaak.

God self het die vrome skyn in die grond laat verdwyn.

En so sal dit gaan met alle skynheiliges in die kerk, regdeur die eeue. Ja, sê Judas in vs 11: die skynheiliges wat hy in sy dae in die kerk opgemerk het, is klaar op pad om net soos Korag om te kom. Die goddeloosheid het hulle al so in die greep dat die einde nog slegs 'n kwessie van tyd is.

3. En daarvoor beroep hy hom dan in die verse 14 en 15 van ons teks op 'n ou profesie van Henog. Henog, die sewende van Adam af, dus nog heeltemal aan die begin van die geskiedenis, het God al sien kom met sy derduisende engele om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hul goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.

Terloops: Judas het van hierdie profesie geweet uit die apokriewe boek Henog, broeders en susters. Moenie daarvan skrik en uself bekommerd afvra of daardie apokriewe boek dan tog ook op 'n manier deur die Heilige Gees geïnspireer is nie.

Judas beroep hom mos maar net op 'n bepaalde historiese feit wat in daardie boek Henog bewaar is. In die apokriewe boek Makkabeërs staan ook talle historiese feite m. b. t. tot die Joodse oorloë beskrywe. Soos daar ook in Romeinse geskiedenisboeke heelwat belangrike feite oor die tyd waarin Jesus in Israel geleef het, vermeld staan. Dit impliseer egter nog glad nie dat derglike boeke dus tot die heilige Woord van God gereken moet word nie.

Judas herinner ons maar net daaraan dat God al baie vroeg in die geskiedenis laat weet het, deur sy kind Henog, dat skynheilige goddeloosheid nie ongestraf bly nie. Henog, die man wat met God gewandel het, het reeds geweet, en laat weet, wat gebeur as mense nie met God wil wandel nie. Henog het in sy eie tyd, nog maar 'n paar geslagte na Adam, die goddeloosheid al hand oor hand sien toeneem. 'n Goddeloosheid wat in die sondvloed sou eindig.

Maar hy het volgens Judas ook verder gekyk as sy eie tyd. Hy het die skynheiliges uit alle tye gewaarsku dat God die goddeloosheid nie ongestraf laat bly nie. Hy het reeds gesien hoe God se heilige engele die strate afset en die skynheiliges byeendryf en saamneem na die hel toe. Daardie engele kyk dwars deur alle skynheiligheid heen. Hulle sien direk die goddeloosheid raak.

Luister na Henog, sê Judas. Laat u deur hom waarsku as daar dalk ook in u hart 'n wortel van ontevredenheid begin groei. Waarsku mekaar daarmee as u sien hoe broeders en susters al hoe meer 'n skynheilige lewe begin lei.

Gebruik as dit moet wees maar harde woorde, skokkende taal, om betyds die skyn stukkend te skeur. As jy iemand uit die vuur van die hel moet ruk (kyk vs 23) kan jy nie altyd sagsinnig te werk gaan nie.

Maar ook as jy hardhandig moet optree, is dit God se genade oor 'n menselewe.

Dit is mos beter dat God betyds die skyn by 'n mens laat verdwyn as wat Hy die mens self eendag ver altyd in die goddeloosheid laat verdwyn!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)