Man en vrou is saam erfgenaam

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
I Petrus 3
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 PETR.3: 7 (M)

LITURGIE:
Votum en Seëngroet
Ps. 16: 1, 3
Gebed
L. 1 Petr. 1: 1-7 & 3: 1-7
T. 1 Petr. 3: 7 ".... omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is.... "
Preek
Ps. 19: 6
Geloofsbelydenis
Ps. 19: 5
Huweliksformulier
Ps. 61: 3
Gebed
Ps. 61: 4
Kollekte
Ps. 37: 6, 17

Broeders en susters deur ons Here Jesus Christus,

By die totstandkoming van 'n huwelik speel aantrekkingskrag en verliefdheid 'n groot rol. Dis by ons gelukkig geen saaklike aangeleentheid meer wat deur albei die vaders gereël word, ongeag hoe dat die kinders self daaroor voel nie. Nee, die gevoelens van die seun en die dogter is beslissend.

Raak hulle verlief op mekaar dan ontstaan daar 'n verhouding wat tot 'n verlowing uitgroei en op die ou end, as hul gevoelens ten spyte van allerlei botsinkies en rusies maar net sterker word, kom daar op die ou end 'n huweliksdag.

Maar by God se kinders mag die wedersydse gevoelens nooit die enigste fondament onder hul huwelik wees nie. Gevoelens van aantrekkingskrag en verliefdheid alleen vorm 'n veels te wankele basis vir 'n christelike huwelik.

Gevoel is mos 'n baie onsekere saak. Dit kan jou vandag onweerstaanbaar beheers. Maar môre kan dit sommer weg wees.

Hoeveel owerspel, egbreuk en ongeoorloofde verhoudings is daar al nie goedgepraat met 'n beroep op die gevoel? : "Maar ek voel nou maar eenmaal niks meer vir hom, vir haar nie". Of: "'n Mens kan sy gevoel mos nie die swye oplê nie? ".

Daarom vorm aantrekkingskrag en verliefdheid definitief 'n onvoldoende basis vir 'n huwelik.

Die apostel van Christus, Petrus, wys vir ons in die tekswoorde wat ek vir diè diens gekies het, dan ook 'n sterker fondament wat daar onder 'n christelik huwelik kan en moet lê om die duursaamheid daarvan te waarborg. In 'n christelike huwelik is man en vrou allereers saam erfgenaam. Erfgenaam van die lewensgenade wat God vir sy kinders beloof het.

Wat maak 'n huwelik sterk? Wat bewerk 'n gesonde sameleweing in 'n huwelik?

As man en vrou saam leef uit die besef dat hulle saam van God se genade mag lewe en dat hulle saam op pad is na die herstelde, onverganklike lewe op God se vernieude aarde.

Ek bedien u daarom vanaand God se Woord onder hierdie tema:

MAN EN VROU IS SAAM ERFGENAAM

  1. IN DIE VERHOUDING MOET HULLE SAAMLEWE
  2. MET DIE VERTROOSTING MAG HULLE SAAMLEWE

1. Ons tekswoorde staan in een van diè gedeeltes van God se Woord, broeders en susters, waarin mans en vroue baie konkreet op hul onderlinge verhouding in die huwelik aangespreek word.

Christus se apostels het allerhande praktiese vermanings vir getroude mans en vrou moet gee oor hulle omgang met mekaar. Van aanwysings oor die omgang in die gemeenskaplike slaapkamer tot en met opmerkings oor die vrou se grimering.

Baie mense beskou vandag hierdie Skrifgedeeltes as tydgebonde en is van mening dat diè vermanings volstrek verouderd en uit 'n verbye tyd is.

Maar ons kan ons darem nie sommer ons daarvan afmaak nie! Want hierdie apostoliese huweliksonderrig hang nie maar iewers los in die lug, as 'n aantal welgemeende adviese waarmee elkeen maar moet maak wat hy wil nie.

Nee, hierdie vermaan lê veranker in dit wat ons in ons tekswoorde lees, waar man en vrou "saam erfgenaam" van die genade van die lewe genoem word. Diè realiteit dryf die apostel van Christus tot sy konkrete invulling van die huweliksomgang.

Man en vrou is saam erfgenaam.

In ons teks word met name die man aangespreek, maar dit wat gesê word betref natuurlik man en vrou altwee. Hulle word mos mede- erfgename genoem. Saam erfgenaam van die lewe wat Christus vir ons terugverdien het, danksy God se genade.

Hulle huwelikslewe lê onder 'n oneindige perspektief!

Daar word op die troudag nie verswyg dat die huwelik maar 'n tydelike aangeleentheid is nie. Die dood maak eendag weer 'n einde daaraan. Man en vrou beloof vir mekaar trou totdat die dood hulle sal skei. Daarom lyk 'n huwelik dalk by voorbaat 'n doodloopstraat.

Maar God se kinders mag weet dat die dood nie langer die groot spelbreker is nie. Hulle mag op pad wees na die ewige lewe wat selfs deur die dood nie meer tot niet gemaak kan word nie. Danksy God se genade wat Hy ons in Jesus Christus bewys het.

Sonder diè genade sou die hele lewe inderdaad uitsigsloos wees. Gedoem om in die dood vas te loop. Met as einde die ewige dood van die hel.

Dan sou ook die sin van 'n huwelik maar betreklik wees. Sonder perspektief. En baie mense vandag, wat van God se genade nie wil lewe nie, sien ook maar min heil meer in 'n huwelik. Selfgesentreerd probeer hulle elkeen net vir homself hul kort lewentjie, wat aanhoudend deur die dood bedreig word, so aangenaam moontlik te hou, desnoods ten koste van die ander. Want môre kan alles verby wees.

"Maar lof sy die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jeus Christus uit die dood!" sing Petrus aan die begin van hierdie brief. Ons het deur die opstanding van ons Here Jesus Christus 'n nuwe vooruitsig in ons lewe gekry. Hy het ons skuld, waardeur ons die dood verdien het, van ons af weggeneem en ons op die pad van die lewe teruggesit, 'n pad wat op die onverganklike, onbesmette, onverwelklike lewe eendag in 'n herskape wêreld uitloop. Ons lewe het weer sin gekry. En uitsig. Selfs ten spyte van die sterfdag wat daar ook vir ons eendag nog sal kom. Want ons lewe buig nie langer neer na die dood nie. Maar ons lewe in na God teruggebuig.

As daarom 'n christen-man en 'n christen-vrou 'n huwelik begin, lê hulle huwelik elke dag onder hierdie perspektief. So het hulle mekaar gevind: saam erfgenaam van die nuwe lewe. So wil hulle voortaan verder deur die lewe: as mede-erfgename van die ewige lewe.

Maar dan moet daardie gemeenskaplike erfenis nou ook die onderlinge verhouding in hulle huwelik beheers. Hulle is saam op pad na dieselfde doel. Nou moet hulle huwelik ook in alles aan daardie doel diensbaar wees. Nou moet hulle hul ook altwee deur daardie lokkende lewe laat lei en so as man en vrou saamgaan. Nie net elkeen vir homself nie, maar ook elkeen vir die ander daardie lewe begeer, daardie erfenis wil kry.

In 'n christelike huwelik mag man en vrou die ander nie beskou as 'n wettige middel om jou eie verlangens en drifte te bevredig nie. Hulle mag mekaar nie uitbuit om sèlf so veel as moontlik van die lewe wat mos maar kort is, te profiteer nie.

Nee, God verbind hulle aan mekaar as mede-erfgename van die lewe. En sò sal hulle mekaar nou ontvang. So sal hulle hul jeens die ander gedra. Saam soek hulle nou die egte lewe. En hulle doen dit elkeen ook vir die ander! Mekaar tot steun en aanvulling.

Die toekomende lewe beheers alreeds hul huidige huwelikslewe.

In die Skrifgedeeltes waarvan 1 Petr. 3 een is, word vir ons konkreet ingevul en uitgewerk hoedat dit in die praktyk gestalte moet kry. Aan man en vrou afsonderlik word voorgehou hoedat nou die een hom teenoor die ander moet gedra as mede-erfgenaam van die genade van die lewe.

Aan elkeen afsonderlik: want al is man en vrou ook saam erfgenaam en deel hulle gelyklik in God se genade- gelyke genade hef die ongelykheid tussen man en vrou nie op nie. Genade is geen gelykmaker nie. 'n Vrou bly 'n vrou, deur God anders as die man geskape. En 'n man bly man, met sy manlike gawes. Die gelyke genade vir man en vrou maak hulle nie gelyk nie.

Petrus maak dit in 1 Petr. 3 wel duidelik. Hy misken die verskil wat God self geskape het, nie, al noem hy ook man en vrou "mede- erfgename" van die genade van die lewe. Hy skryf mos: "Vroue, julle moet aan julle eie mans onderdanig wees". En: "Manne, julle moet verstandig met jul vroue saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys.. "

Petrus bring die onloënbare feit in rekening dat God die vrou teerder en gevoeliger as die man geskape het. Sowel wat haar liggaam as wat haar gevoelslewe betref.

Wie erfgenaam van God se genade is, moet daarvoor 'n oog hê. Die genade van God is soos die son oor die lewe: dit verdoesel nie die veelvormigheid van die skepping nie, maar laat dit juis in sy oorspronklike kleure opglans.

Man en vrou word daardeur elkeen op hulle eie plek teruggeplaas met die die roeping wat God vanaf die begin gegee het. Ooreenkomstig die gawes wat elkeen ontvang het.

Die HERE roep die vrou as erfgenaam van die nuwe lewe om weer 'n hulp vir die man te wees. Om haarself onder sy leiding te skik. Sy moet nie telkens vir hom die woord voer en hom oorvleuel nie, maar op die agtergrond hom stimuleer om sy roeping in God se wêreld te vervul. Sy moet nie wil opval deur uiterlike grimering nie, maar imponeer en die harte verower deur haar innerlike sagmoedigheid en haar geduldig wil dien.

As sy haar so gedra is sy regtig nie die mindere van die man nie. Sy kan darem sy meerder wees, as sy haar man, as hy nie aan God se Woord gehoorsaam sou wees nie, deur haar wandel, haar goeie voorbeeld, sonder veel woorde, weer in die goeie spoor bring.

'n Vrou wat haarself mede-erfgenaam van die lewe weet, sal ook die moederskap nie minag nie, maar dit juis as 'n magtige middel van God beskou om die kring van mede-erfgename nog uit te brei. Sy sal nie haar eie gemak soek nie, maar wil saambou aan die gemeente van die lewendes.

God het die man langs haar geroep om leiding te gee. Maar dit is wel iets anders as: sy eie sin deurdrywe en hom op sy wenke te laat bedien. Die vrou is geen werkster of vryfpaal waaraan 'n man sy spannings en slegte humeur kan afreageer, maar waarna hy verder nie hoef om te kyk nie.

'n Man kan sy vrou verwaarloos deur net vol te wees van sy eie besighede, sonder om enige belangstelling vir dit wat haar besighou te toon. Of as hy nooit by die huis is nie en sy vrou die indruk gee dat sy nie die moeite werd is om oor haar by die huis te bly nie.

'n Man kan sy vrou seermaak deur geen begrip vir haar swakkere liggaam en haar gevoeliger siel op te bring nie. Hy kan haar tekort doen, deur haar enige ontplooiing te onthou en haar met omtrent alles alleen te laat klaarkom.

Alleen as man en vrou albei 'n oog vir mekaar bly hou as mede- erfgenaam van die ewige lewe, bloei hulle huwelikslewe op tot 'n ryke en gelukkige lewe. Dàn mag hul huwelik mee diensbaar wees daaraan dat hulle eendag die erfenis in ontvangs sal neem.

Maar as hulle mekaar as mede-erfgename uit die oog verloor, loop hulle huwelik onvermydelik vas! Dan raak hulle mekaar kwyt. Maar dan raak hulle God ook kwyt, waarsku Petrus. Hulle is dan besig om die lewe te verspeel. As die verhouding met mekaar nie meer reg is nie, bly ook die verhouding met God nie reg nie. Dan word hulle gebede verhinder.

As man en vrou nie meer saam na die groot geskenk van die ewige lewe toe lewe nie, maar aan mekaar verby lewe, dan bly hulle dalk nog wel elke dag hul hande vou en hul oë sluit om te bid: aan die etenstafel, voordat hulle bed toe gaan... Maar hulle vind by God geen oop oor meer nie. Die weg na die troon van die genade is geblokkeer.

Daar is geen huwelik volmaak, ek weet, broeders en susters. Ook julle huwelik, Henk en Ingrid, sal dit nie word nie. Ons hoef vandag rêrig nie te idealiseer nie. Ook in 'n huwelik wat in die kerk bevestig is, kan baie konflikte kom. Man en vrou wat vol liefde weggespring het en voor in die kerk op hul knieë begin het, kan na verloop van tyd teenoor mekaar kom te staan, verwyte na mekaar se hoof slinger, van mekaar vervreem en op die ou end elkeen hul eie pad gaan, alhoewel hulle oënskynlik 'n paar gebly het en nog altyd in een huis saamwoon. Alhoewel hulle mekaar daagliks sien, het hulle mekaar in werklikheid uit die oog verloor.

As dit so ver kom, is daar maar een remedie: dan moet hulle mekaar terugsoek deur eers die HERE terug te soek. Hulle moet by die lig van God se Woord weer leer wat dit wil sê dat ons van genade mag lewe. Wat dit beteken om erfgenaam van die genade van die lewe te mag wees. Hulle moet weer soveel selfkennis kry dat hulle insien hoeveel hulleself daagliks kortkom in liefde vir God en vir die ander. Hoe sleg en selfgesentreerd hulle feitlik is.

Maar ook: hoeveel vergewing, genade hulle elke dag ontvang.

Hulle moet eers weer op hul knieë kom voor hul genadige God.

Dan leer hulle dit van self af om die ander te idealiseer en vervolgens onbillik te bekritiseer. Hulle leer dit af om te hoë verwachtings te koester en selfmedelye en wrok te kweek as die ander teëval. Want dan besef hulle dat hulle altwee nie net aantreklike kante in hul huwelik saamgebring het nie, maar ook elkeen sy eie sondige aard waarteen hulle hul hele lewe lank moet stry.

Dan kom hulle saam op die knieë, om God om sy genade te smeek. En dan lê ook die pad weer oop om sààm verder te kan gaan, as mede- erfgename van die lewe. Onder God se genade.

2. So'n huwelik, waarin man en vrou mekaar vashou omdat hulle saam erfgenaam is, staan in hierdie wêreld wel aan baie spot en veragting bloot. Laat ons dit nie verswyg nie, vanaand.

Daar word al hoe meer meewarig na 'n regtig christelike huwelik gekyk.

Mens vind dit maar dwaas as 'n man en 'n vrou in hulle verhouding trou aan mekaar wil bly en die ander bly soek, ten spyte van groot moeites. "Ek verstaan nie hoe hy dit kan volhou met daai man!", sê hulle dan. Of: "Ek snap nie wat jy nog in daai vrou sien nie".

Hulle vind dit maar snaaks en beklaenswaardig wanneer 'n vrou vandag nie onder invloed van die emansipasiestrewe teen haar man opstaan nie; wanneer sy haar lekkere baan opgee om moeder te wees. Hulle ag dit definitief asosiaal wanneer 'n man en 'n vrou in hulle huwelik die verantwoordelikheid vir die opvoeding van meer as 2 of 3 kinders aanvaar.

'n Regtig christelike huwelikslewe word vandag maar agterlik en bekrompe gevind.

Maar dit is rêrig nie alleen iets van die laaste tyd nie, broeders en susters. Die mense vir wie Petrus in eerste instansie sy brief geskrywe het, het daarvan ook al geweet. Heel treffend tipeer die apostel hulle in hierdie brief een- en andermaal as "vreemdelinge en bywoners". Daarmee het hy nie bedoel dat daardie mense weens 'n gedwonge verhuising hulle in hul nuwe omgewing nie tuisgevoel het nie. Nee, die meeste van hulle het waarskynlik nog altyd in hulle geboortestreek gewoon. Maar van die dag dat hulle Christus as hul Verlosser begin bely het en na die styl van sy Koninkryk hulle as erfgename van die nuwe lewe begin gedra het, het hulle in hul eie omgewing waar elkeen hulle geken het, skielik vreemdelinge geword. Hulle het bywoners geword wat nie meer ten volle by die ander gepas het nie. Hulle was anders as anders.

Noudat God vir hulle was, het hulle skielik die hele wêreld teen hulle gekry. Hulle is bespot en belaglik gemaak, het goeie vriende verloor, kollegas het oor hulle begin skinder en het hulle begin my. Selfs in die familieband het skeure gekom en daar is heelwat minagtende opmerkings oor die christelike swaer of skoonsussie gemaak.

Aan sulke vreemdelinge en bywoners is hierdie brief van Petrus geskrywe. 'n Troosbrief vol bemoediging.

Ons het die begin gelees. Petrus tel ons bo die kortsigtige moedeloosheid wat so gou kan ontstaan as die mense jou mal verklaar, uit.

Petrus open weer die uitsig op die erfenis wat God voor ons in die hemel klaargelê het. Danksy die opstanding van Jesus Christus. Ewige, onverwelklike lewe.

Moenie julle in 'n hoekie laat drywe nie, wil Petrus sê. Laat julle nie wysmaak dat julle vreeslik ouderwets en konserwatief is nie. Julle weet mos van beter! Julle is mos saam erfgename van die genade van die lewe.

Julle is dus glad nie konserwatief nie. Julle is uiters progressief. Julle is die ander ver vooruit. Julle is op pad na die herstelde, onverganklike lewe. Julle lewe is, danksy Christus, geen doodlopende saak meer nie maar alreeds die begin van die ewige lewe.

Met diè vertroosting mag u lewe. Ook in 'n regtig christelike huwelik saamlewe. Laat diè vertroosting u stimuleer om te bly stry daarvoor dat u huwelikslewe gaaf bly.

Laat die mense maar lag. U is saam erfgenaam van 'n lewe wat nog geen oog gesien hen geen oor gehoor het nie en wat geen mens kon bedink nie. 'n Lewe vol ewige vreugde. Wie die laaste lag, lag die lekkerste!

As u as erfgename van die lewe onder God se genade wil bly saamgaan in u huwelik, is die einde nie dat die dood u op die ou end inhaal en weer van mekaar skei nie. Maar dan ontvang u mekaar eendag in die ewige lewe vir goed terug. Saam met alle erfgename.

AMEN.

(15 Sept. 1989, Pretoria, huweliksbevestiging bruidspaar H.Pouwels)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)