Die vurige gebed kry van die Here groot krag!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-05-07
Teks: 
Jakobus 5
Preek Inhoud: 

06-09-92

JAKOBUS 5 : 16-20

Bidstond vir gewas en arbeid

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 25 : 1, 2
Wetslesing
Sing: SB. 18 : 5, 6
Skriflesing: Jakobus 4:13-17; 5 : 7-20, 1 Timotheus 6 : 6-19
Doopsbediening
Sing: Ps. 25 : 6, 7
Gebed
Tekslesing : Jakobus 5 : 16-20
Prediking
Sing: Ps. 25 : 3, 4
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 18 : 7, 8
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

daar is van julle wat my lesing oor die gawe van die Heilige Geest, nl. die "spreek in 'n vreemde taal", gehoor het. Nee, ek sal nie nou oor die ander gawe, dié van "gebedsgenesing" preek nie. Jak. 5:14-16 is die belangrikste teks waarop mense uit die Pinksterbeweging hulleself beroep om te bewys dat dié gawe ook in die kerk vandag nog moét voorkom. Ek sê nou alreeds: ek sal wel 'n bietjie (my tekskeuse begin by vers 16), maar beslis nie alles oor dié verse kan sê nie. Wanneer ek weer die Skrifoordenkings vir die Mededelingsblad moet skryf, hoop ek om dit breër uit te werk.

Volgens afspraak het ons vandag se erediens as 'n bidstond vir gewas en arbeid bestem. Daar is egter ook die droewige berig dat 'n broer homself aan die gemeenskap aan die kerk onttrek het: nadat die kerkraad hom al vir 'n lang tyd met ernstige vermaan en gebed tot bekering opgeroep het. Dié feit mag ons nie sommer aanhoor en gou-gou vergeet nie. In die laaste verse van Jakobus het ons 'n kans om altwee saam te bring: die gebed vir seën op die werk en die veld vir die komende seisoen én vir die bekering van 'n broeder in die tyd wat voorlê. Altwee moet mos aanhoudende en vurige gebede wees. Ek wou graag nog een preek uit die brief van Jakobus hou. As die Here die geleentheid gee, sal ons later weer na dié Bybelboek terugkeer. Die teks vir vanmôre se preek is: die slotgedeelte van die hele brief. Dit gee ons egter die kans om op die eerste hoofstuk terug te gryp. Dié gedeelte oor beproewing en/of versoekings het mos vir elkeen gesê: jy moet volhou op die pad van die geloof en die toets deurstaan! Wanneer jy wysheid kortkom, bid vir wysheid! God sal dit gee: aan almal, eenvoudig en sonder om jou die swakheid te verwyt! Die laaste gedeelte van Jakobus gaan ook oor dié twee dinge: oor gebed en oor 'n dwaalpad waarop iemand gekom het (en dus in 'n versoeking geval het).

Jakobus besluit sy brief met 'n paar opdragte: opdragte ten opsigte van die ander, jou broer of suster in die gemeente. In al die opdragte staan die gebed sentraal. Wat Jakobus sê raak die onderlinge verhoudings in die gemeente. Die Heilige Gees sê deur Jakobus se brief: bid vir mekaar se moeites, bely vir mekaar jou sondes en soek die bekering van 'n sondaar. Ek preek vir u oor:

DIE VURIGE GEBED KRY VAN DIE HERE GROOT KRAG!

Daarom:

  1. soek herstel deur mekaar se gebed (vs. 16a),
  2. glo in die krag van jou gebed (vs. 16b-18) en
  3. soek vir 'n ander se bekering (vs. 19-20).

1. SOEK HERSTEL DEUR MEKAAR SE GEBED! (vs. 13-16a)

Daar word in hierdie verse van Jakobus 5 baie oor die verband tussen die gebed en genesing van siekte gesê. Ek wil later in die Mededelingsblad daaroor skrywe. Daar is nog 'n ander moeilike punt: dit is of daar by "sieke" hier op liggaamlike siektes gedoel word of dat dié siektes bedoel is wat deur 'n sielkundige faktor veroorsaak is. Ook daaroor sal ek later probeer skrywe. In elke geval word daar deur Jakobus hier met sonde rekening gehou, wanneer daar 'n situasie van siekte is. Daar word in 'n mate verband tussen siekte en sonde gelê.

Ek sê nadruklik: in 'n mate. Want in die verse 13-15a word daar niks oor sonde as die agtergrond van siekte gesê nie. Eers in vs. 15b word as 'n moontlikheid genoem: "Selfs as die sieke sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word". Ja, dit kan wees dat die sieke sekere sondes moet bely. Dit sê nie dat dit dús sondes was wat sy siekte veroorsaak het nie. Nee, maar op jou siekbed is die Here wel met jou besig. Ook om, as dit nodig is, jou van 'n bepaalde ernstige sonde te oortuig. Siekwees beteken: die Here lê jou lewe vir 'n tyd lang stil. Jy kry baie tyd om oor die pad wat Hy nou met jou loop, te dink. Die geleentheid van die besoek van ouderlinge, soos wat Jakobus dit aanbeveel, is ook 'n kans om jou sondes te bely. Dit is 'n kans om saam met hulle (niet net genesing, maar ook:) vergewing van die Here af te smeek. Ook deur mekaar se gebed mag jy vir jouself daarin herstel soek.

Vs. 16 vervolg dan met: "Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar". Nou staan nie meer die siekte sentraal, terwyl 'n ernstige sonde 'n moontlike bykomende ding is nie. Nou staan die sonde in die middelpunt. Die moontlikheid van sonde, wat jy tydens jou siekbed mag bely, wys die pad vir baie dieper dink oor sonde en skuldbelydenis. Ja, soos jy by siekte mekaar se gebed benodig, so benodig julle ook mekaar om vergewing by die Here te soek en te ontvang! Julle benodig mekaar se wysheid en christelike ondervinding: in die soek van vergewing en in die stry teen die oorsake van jou sonde. Beproewings of versoekings ken julle mos almal! Daardie skuld wat bely moet word, kan natuurlik 'n skuld teenoor mense wees. Jou sonde was moontlik teen hulle gerig en het hulle geraak. Iemand wat deur jou sonde seergemaak is: hy moet vir jou eerste vergewing gee. Die soek van die vergewing van die Here is egter ook iets om mekaar in by te staan. Hoe moeilik kan dit wees om met jou eie sonde te stry en te dink net jy is so sleg. Jy mag van jou broer of suster in die Here hoor hoe hy of sy met sy sonde vergewing soek. Jy mag saam oordink hoe 'n mens is wat christen wil wees. Saam mag julle bid vir krag, nederigheid en selfverloëning. Ja, julle benodig bo alles mekaar se gebed. Om herstel vir jou te soek.

Die gelowiges kan mekaar help om vergewing te soek en aan te neem. Van die mens teen wie jy gesondig het en van die Here wat jy op die hart getrap het. Jakobus druk homself egter anders uit: "bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word"! Dié werkwoord "gesond word" kan beteken: die herstel van 'n liggaamlike siekte. Dan staan ook hierdie vers met die voorafgaande in verband. Dit kan egter ook wees: "nuwe gééstelike krag ontvang". Ja, dit kan jou sonde wees wat jou neerdruk en swak maak. Dink aan Psalm 32: oor wat met jou gebeur, wanneer jy jou sondes wegbêre en nie bely nie. Wanneer jou sonde jou swak gemaak het, kan die belydenis van jou sonde en die vergewing van die Here jou weer rêrig laat oplewe. Die vergewing van sondes gee nuwe geestelike en psigiese krag. Die Here laat sy aangesig weer oor jou skyn! Gesond word: soek herstel deur mekaar se gebed. Dit mag 'n vurige gebed vir mekaarwees.

Want dit is hierdie woorde wat nou tot die pragtige konklusie lei: "Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag"! Daaroor dink ons nou 2de:

2. GLO IN DIE KRAG VAN JOU GEBED! (vs. 16b-18)

In vs. 16b kom ons by die punt wat Jakobus wil maak: "die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag". Eintlik gebruik Jakobus twee keer 'n woord wat "sterk wees" beteken. Letterlik: die gebed van 'n regverdige is baie sterk, wanneer daar krag aan verleen word. Die laaste kom in die NAB beter uit: dit het 'n kragtige uitwerking. Wie moet die uitwerking, die energie, die effek aan jou gebed gee? Die Here mos! Jy moet vurig, kragtig bid en die Here moet deurwerking aan dit wat jy bid, verleen. Dis 'n bietjie ander as net gebedsverhoring. Met verhoring bedoel ons: God doen wat jy vra; dalk anders, maar in elke geval beter as wat jy dit gevra het. Dan ontbreek egter dié element: dat jy besig is om vurig te bid en dat die Here dàn verhoor. Hy volg jou gebed, dit wat jy bid op! Jakobus sê: jou gebed wat vurig gedoen word, kry deurwerking: deur die krag wat die Here daaraan gee. Die regverdige, die mens wat reg teenoor die Here staan, mag krag uitoefen met sy gebed.

Jakobus gee hierby 'n voorbeeld. Hy kies dié een voorbeeld, omdat die aanhou in gebed en die effek van sy gebed baie duidelik is: Elia se gebed vir droogte en na drie jare vir reën. Een mens wat vir droogte of reën oor 'n hele land en volk bid, én dit het gebeur! Die HERE het krag, effek aan sy gebed gegee. Ja, Elia het dus invloed op die lewe van Israel uitgeoefen. Wanneer jy die hele geskiedenis oor Agab se tyd in die boek Konings lees, sal jy agterkom: daar word nie rêrig gesê dat Elia vir die begin van die droogte gebid het nie. Jakobus noem twee voorbeelde van 'n uiters kragtige gebed: eers die gebed vir droogte en later dié vir reën. Wanneer koning Agab eindelik vir Elia ontmoet, kry die land al baie swaar. Agab sê dan: "is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?" (1 Kon. 18: 17). Daaruit kan ons moontlik aflei dat die koning dink dat Elia vir droogte gebid en dat die HERE vir Elia geluister het. In elke geval was daar blykbaar 'n tradisie in Israel wat Jakobus geken het en wat hom dit laat sê. Dit maak vir ons toepassing ook nie saak nie. Ons wil mos nie vir droogte bid nie! Ons wil vandag opnuut vurig vir reën en vir seën op die werk en die veld bid!

Elia se gebed is 'n verstommende voorbeeld. Ja, so het Elia in die Jodendom tot 'n "hemelse" figuur uitgegroei. Jakobus haal hom egter omlaag. Hy was "'n mens net soos ons", sê hy nadruklik. Letterlik: 'n mens wat aan dieselfde dinge gely het. Hy was as 'n gelowige nie meer as wat jy in die oë van die Here is nie. Ja, Hy het dalk deur middel van Elia meer dinge gedoen. Die gebed van Elia was egter die gebed van 'n gewone swak mens. Soos wat jy is. Bid jy maar soos dit in vs. 16 gesê is: as 'n regverdige, 'n mens wat reg teenoor die Here staan in die vergewing van jou sondes!! Kom ook maar tot God met jou smeekgebede. Bid maar vurig vir die effek wat God aan jou gebed kan gee. Ook Elia se gebed was vir die effek van God afhanklik, net soos joune.

Vanuit die voorbeeld van Elia wat Jakobus gekies het, kry jy ruimte vir die algemene gebed, die voorbidding in 'n bidstond vir gewas en arbeid. Dit is 'n opvallende voorbeeld, noudat Suidelik-Afrika nog altyd sug onder die verskriklike droogte. Sal daar nog reën kom, voordat die droë somer aanbreek? Die gedagte aan reën en droogte was al in 5:7 aanwesig. "Kyk, die landbouer wag op die kostlike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat die land die vroeë en die laat reën ontvang het". Die voorbeeld wil maar net verduidelik: so sal ons geduldig en verlangend wag vir die koms van ons Here Jesus Christus. Jakobus herinner ons aan daardie een spesiale gebed van Elia. Ons wonder: sal daar reën kom? Ek vra: hoe vurig bid ons? Vra ons die Here om deurwerking aan ons gebede te verleen, sodat die reën op die regte tyd sal neerstroom? Nee, Suid-Afrika is Israel nie. Ons bid dus anders. Ja, ons pleit by die Vader in die hemel. Jesus het tog gesê: "dis Hy wat dit laat reën op regverdiges én onregverdiges"! Pleit vurig en aanhoudend by die Here. Hy sal sy volk tog hoor, as ons soos regverdiges is? Ook wanneer ons soos wat Abraham vir Sodom en Gomorra gebid het, vir Suid-Afrika voorbidding doen.

Glo in die krag van jou gebed, wanneer jy as 'n gelowige reg teenoor die Here staan. Dit is mos sy wil om ons gebede heeltyd in te skakel by die uitvoering van sy planne. Daarom nou ook 3de:

3. SOEK VIR 'N ANDER SE BEKERING (vs. 19-20)

Nog een keer noem Jakobus 'n situasie wat jy in die onderlinge verhoudings binne die gemeente sommer kan ontmoet. Opnuut praat hy van "iemand onder julle". Die sonde kom nou ook skerper vorentoe as in die voorafgaande. Daar is meer as die sondes wat ons almal moet bely. Jakobus wys jou ook op "iemand onder julle wat van die waarheid afgedwaal het". Die waarheid is: die pad van die waarheid, die christelike lewe in die praktyk. By vandag se onttrekking na sonde teen die 7de gebod van die wet van die HERE hoef ek nie verder voorbeelde te noem nie. U moet egter onthou: Jakobus gee nie 'n konkrete voorbeeld nie. Hy praat in die algemeen. Daar is baie maniere om op 'n dwaalweg te raak. Ons moet nie net van seksuele sondes skrik nie. Daar is meer paaie wat by volharding op die dood uitloop.

Ja, so ernstig praat Jakobus hier. Sonder dat iemand moeite doen om hom te bekeer, gaan sy siel in die dood te gronde. Dus: dit gaan oor elke pad wat aan die einde van die dag op die oordeel van God uitloop. Jakobus sê nou nie vir ons "gee dus mooi ag op mekaar" nie. Nee, dis vir hom, dis vir die kerk van ons Here Jesus Christus vanselfsprekend om op mekaar toe te sien. Jakobus wys die pragtige ding, wanneer iemand 'n ander vermaan het. Vs. 19: Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal hét [in die verlede tyd: dis verby!] en iemand hom bekeer [teenwoordige tyd: jy is besig vir hom!], laat hy dan weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit die dood sal red". As jy iemand vermaan tot bekering én hy luister vir jou en bely sy sondes voor die aangesig van die Here, het jy regtig sy siel gered!

Dit lyk snaaks: hoe kan ek 'n ander bekeer? Dit staan twee keer in die verse 19-20: "as iemand hom bekeer". Dié een wat die ander vermaan, word genoem: "die een wat 'n sondaar van 'n dwaalweg bekeer". Ons weet natuurlik baie mooi dat dit die Gees is wat 'n mens bekeer. Jy kan egter 'n instrument van die Heilige Gees wees! So mag mense 'n broer of suster bekeer, tot bekering bring. Ek moet dan dink aan 'n pragtige belofte wat aan die einde van die boek Daniël staan. Dan. 12:3 sê: "dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre". 'n Belofte vir die toekoms in Daniël is by Jakobus 'n direkte aanspraak vir nou: "wéét dit!". Want dit kan enige tyd jou opdrag en jou glorie wees. Dan sal deur die bekering 'n siel van die dood gered wees "én 'n menigte sondes sal bedek" word. Die sondes van die man op die dwaalweg sal, na belydenis, deur die God van alle genade weggeneem word. Danksy jou wat die mens tot bekering mog lei.

Hoe maak jy dit: 'n ander tot bekering bring? Jakobus sê dit nie afsonderlik nie. Hy het egter in sy hele brief die voorbeeld gegee. Hy het in gesprek met die gemeente getree en baie sondes in die gemeente aangewys. Sondes van die tong, van hoogmoed, teen armes. In gesprek: sal ons ook na 'n onttrekking nie sommer van 'n broer vergeet nie? Hét ons al rêrig pogings gedoen om hom van sy dwaalweg terug te bring? Kyk, dit gaan hieroor: dat 'n siel van die dood gered en 'n menigte sondes bedek sal word.

Die gebed was die hoofgedagte van ons teks. Nee, in die 2 laaste verse praat Jakobus nie eintlik oor die gebed nie. Kan ons egter die gebed vergeet, nadat so kragtig en breedvoerig oor die gebed gepraat is? Hoe kan ons van die gebed vergeet, noudat dit oor die bekering van 'n broer gaan! Ons onthou tog hoe die Here Jesus eers oor die hantering van die sonde van 'n broer in julle midde praat. Ek bedoel nou die bekende gedeelte waaraan die kerke die verskillende stappe in die tug ontleen het. Na dié woorde oor alle poging om 'n sondaar te behou, het Jesus mos ook gesê: "As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak en daaroor bid, dit hulle ten deel val van my Vader wat in die hemel is" (Matt. 18:19). Hoe sou ons dan in hierdie laaste verse van Jakobus se brief van die gebed kon vergeet! So is daar baie om vurig oor te bid! Vir bekering. En soos ons by Paulus in 1 Tim. 6 gehoor het: vir onderdak en onderhoud, vir jouself en vir jou naaste. Dié "onderhoud" sluit volgens die woorde van ons Here Jesus voedsel én kleding in. Ons mag ook dink aan die onderhoud van jou gesondheid, soos deur medisyne en alle mediese dienste. Kom ons vergeet nie om ook die onderwys toe te voeg. Ek dink ons mag bid vir onderdak, onderhoud en onderwys. Ja, ook vir onderwys, noudat daar ook kostes vir die hoër skool betaal moet word en die tekort van ons laër skool verstommend styg. Mag ek die onderwys wel aan Paulus se woorde toevoeg? Ons soek dié onderwys vanuit die geloof tog om ons kinders so groot te maak dat hulle nie op dwaalweë beland nie, maar binne die gemeenskap van sondaars en regverdiges grootword: mense wat soek om mekaar op die pad van die Here te help.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)