God laat jou onder die tong van Sy Woord deurgaan

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Jakobus 3
Preek Inhoud: 

19-01-92

JAKOBUS 3 : 1-12

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 146 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 146 : 3, 4
Skriflesing: Jakobus 1 : 12-27
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 129 : 1, 3, 4, 6
Tekslesing: Jakobus 3 : 1-12
Prediking
Sing: Ps. 12 : 4, 5, 6
Bevestiging van diaken
Sing: Ps. 146 : 5, 6
Dankgebed
Sing: Ps. 146 : 7, 8
Seën

Broers en susters, geliefd deur ons Here Jesus Christus,

daar word in die VGK-Pretoria baie gepraat. En min met die betrokkenes. Daar word ook min om onderwys gevra, wanneer daar by u vrae is. En daar is mos groot vrae? Die lidmate praat onderling en vra hulle vrae. Hoe intens praat u onder mekaar dan vanuit die Skrif?

  • Jy kan hoor: daar kom dalk 'n kerkskeuring van die beleid ten aansien van Die Kandelaargemeente. "Kyk hoe 'n klein vuurtjie 'n groot hoop hout aan die brand steek".
  • Vandag se prediking is nie regtig gereformeerd meer nie! "Die tong is 'n onberekende kwaad, 'n dodelike gif".
  • Die predikante hou die hand bo mekaar se hoof! Uit dieselfde (gereformeerde) mond kom seën en vervloeking voort".
  • Die kerkraad regeer oor die hoofde van die lidmate heen! "Moenie baie leermeesters wees nie, my broers en susters, omdat julle weet dat ons 'n groter oordeel sal ondergaan".

Ek preek vanoggend uit die Woord van God:

GOD LAAT JOU ONDER DIE TONG VAN SY WOORD DEURGAAN

Dit

  1. vanweë die hoogheid van die leer,
  2. om die magteloosheid van die mens
  3. teen die liefdeloosheid in die kerk.

1. VANWEE DIE HOOGHEID VAN DIE LEER

In die tweede hoofstuk het Jakobus met lewendige, skrynende voorbeelde duidelik gemaak hoekom hy die gemeentes moes vermaan. Daar was die ryk, goedgeklede man en die arm man in vuil klere wat altwéé welkom moes gevoel het. Daar is broers en susters wat tekort kom en wat gehelp moet word, pleks van mooie woorde te uiter. In sy derde hoofstuk sê Jakobus nie uitvoerig hoekom hy so skerp praat nie. Hy begin so: "My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word". Daar was blykbaar mense wat gedink het hulle is op hoogte, en wat daarom baie rondgepraat het, sonder dat sulke mense 'n amp in die kerk waargeneem het. Hulle het blykbaar oor alles 'n sê en dink hulle het gesag.

Die "leraars" was in die jong kerke van die Nuwe Testament oudstes: ouderlinge wat 'n ekstra taak in die onderwys van die gemeente ontvang het. In Ef. 4:11 som Paulus 'n aantal ampte op: "Christus het sommiges gegee as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars". Die "herders en leraars" is dié groep mans, die ouderlinge wat die kudde van Jesus Christus deur middel van die leer, die onderwys gelei het. In die lys van kenmerke van die ouderling lees jy: dat hy "bekwaam moet wees om te onderrig" (1 Tim. 3:2). En hy sal een wees "wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, en in staat is om met die gesonde leer te vermaan" (Tit. 1:9; vgl. Hand. 13:1 en 1 Kor. 12:28-29). Uit die kring van oudstes was daar blykbaar wat meer as die ander onderwys het.

Dit is 'n eervolle naam: leraar in die Skrif. So is die ou Joodse Skrifgeleerdes genoem (Luk. 2:46). Dit is ook hoe ons Here Jesus aangespreek is: "Rabbi, ons weet dat U 'n leraar is wat van God gekom het", sê Nikodemus (Joh. 3:2). En Jesus reageer: "Jy is 'n leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?" (3:10). Dit is 'n hoë, eervolle posisie om leraar in die Heilige Skrif genoem te word. Dit is egter ook 'n verpligtende posisie: die hoogheid van God se Woord vra die bekwaamheid om te onderrig. Die kennis moet baie mooi gebruik word. Nee, die "leraars" is in die begin van die NT nog nie 'n vaste amp nie. Die grense van die verskillende take is nog vloeiend. Dié wat onderwys gee, word "leraar" deur die praktyk van die werk en deur die gawes wat hulle ontvang het. Dus was dit 'n belangrike vraag in die gemeentes: wie sal die opdrag om te leer, om uit die Heilige Skrifte te onderwys ontvang?! In die Hebreërbrief hoor jy: "hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsele van die woorde van God moet leer" (5: 12). Die rykdom van die Woord maak dat almal die "amp van al die gelowiges" het. Uit die midde van die gelowiges kom die leraars wat 'n spesiale roeping ontvang.

Jakobus waarsku egter: "julle moenie almal leermeesters wil wees nie". Wie die taak van onderwys op homself neem, het 'n groter verantwoordelikheid. Soos Hebr. 13:17 sê: "Wees gehoorsaam aan julle voorgangers, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee". Ook vir die geestelike onderwys in die gemeente moet ons rekenskap gee. Die Skrifte is Gòd se woord. Oor sulke groot sake moet jy nie te maklik praat nie. Ja, u mag almal vanuit die Skrif praat en vanuit u kennis saampraat: dit is die amp van al die gelowiges. Matig u net nie 'n hoë posisie aan, as u nie voldoende kennis het of u nie baie moeite wil gee nie. Dit is nie voldoende om woorde uit die belydenis te gebruik nie: soos skeurmaker, valse kerk, kerkvergadering is swaar woorde. Is jy in staat om dit so te gebruik dat jy jou woorde vir God kan verantwoord? Christosentries, verbondsmatig, heilshistories is pragtig teologiese woorde. Weet jy wat jy sê, wanneer jy met die woorde jou vonnis vel? Ja, wanneer jy vanuit die kennis van die Skrifte praat, kan jy die belydenis hanteer. Wanneer jy die hoogheid van die Woord besef, sal jy jou tong tem. Veral ampsdraers moet besef dat hulle nie klaar geleer het en dus altyd met gesag praat nie. Ons is geroep om te onderwys. God laat jou onder die tong van sy Woord deurgaan, ook:

2. OM DIE MAGTELOOSHEID VAN DIE MENS

Jakobus maak sy punt met baie vergelykings duidelik. Dié punt is: dit vra 'n volmaakte mens om jou tong in toom te hou. Hy sien die tong as die sentrale, kritiese deel van jou liggaam, jou hele menswees. Wie sy tong in toom hou, beheers sy hele liggaam, sy totale persoon. Maar "die tong kan geen mens bedwing nie", is sy skerp konklusie. Nou gaan hy aan met baie voorbeelde wat die relasie tussen die klein onderdeel (die tong) en die totale liggaam belig. Vs. 3: "Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer". Deur middel van 'n klein yster stang wat druk op die perd se bek uitoefen, dwing jy hom om te luister. Vs. 4: "Dink ook maar aan die skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil". Die klein mannetjie oefen 'n bietjie druk op die roerpin uit en die hele skip beweeg, selfs teen die wind in. Wie dit voor sy oë sien gebeur, besef: man, hoe baie in die natuur en in die kultuur word deur die mens bedwing en gehanteer!

Ja, maar wat Jakobus sê is eintlik baie beskamend, wanneer jy dieper kyk. Ja, die Bybel laat jou kyk vir die uitvoering van die opdrag om die aarde te behou en die natuur te beheers. Dit is wat ons die "kultuuropdrag" noem. Perde is een voorbeeld van die hele dierewêreld wat deur die mens bruikbaar gemaak is. Skepe is een voorbeeld van alle meganiese werktuie wat die mens geskep het om te werk en die produkte te vervoer. Jakobus gaan nog baie verder. In vs. 11 noem hy ook die bronne wat deur reënwater gevul én deur die mens vir bevloeiing bruikbaar gemaak is. Daaruit kom die kultuur van Israel voort: met sy vyeboom, sy druiwestok en sy olyfboom. Die bome van vs. 12 word opgesom om die spesifieke Joodse, heerlike vrugbome te wys. Kyk, hoe baie is daar om van te geniet! Ja, ons word hier herinner aan God se opdrag uit Genesis 1: "laat die mens wat na my beeld geskep is, heers oor die visse in die see, die voëls van die lug, die vee en die wilde dieren, ja oor die hele aarde" (vs. 26). Na die sondeval, na die sondvloed herhaal God sy bevel effens anders: "Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde; hulle is in julle hand oorgegee" (9:2). Kyk die mag van die mens, die eerste-wêreld-skepper!

Die Skrif som die grootheid van die mens op ... om sy onmag te wys. Vs. 7: "Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar ..... (vs. 8) geen mens kan die tong tem nie"! Daar is die groot liggaam, jou groot liggaam wat jy nie kan tem nie, omdat jy die kleinste onderdeel, jou tong, nie in bedwang het nie. Die skynbare mag van die mens illustreer die werklike magteloosheid: jy het nie eers mag oor jouself nie! Kyk hoe klein is jy, wanneer die Heilige Gees nie oor jou tong heers nie.

Die mees onthullende is vers 6: "Die tong is ook 'n vuur, die wêreld van die ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet". Wat jy sê, kan 'n vuur word en baie aan die brand steek. Jy beheers die wêreld? Man, jy herberg self 'n wêreld vol ongeregtigheid. Die laaste gedeelte van vs. 6 sê: "dit steek die hele lewensloop aan die brand".

Letterlik staan daar 'n uitdrukking wat baie moeilik verstaanbaar is: "die rad van die geboorte" (word aan die brand gesteek), 'n rad wat draai en deur die draai die vuur versprei. Sowel ons vertaling as die NAV betrek dit op die hele menslike lewe. NAV: "Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand". Ek dink dit sien nie op die lewensloop van die mens nie, maar op alles wat van jou kwaai woorde uitwaaier. Jy kan dit nie in die hand hou nie: jou woorde het 'n verstrekkende uitwerking. Hoe dit ook is, die wortel is die ergste: wat jy sommer so sê, "word uit die hel aangesteek". Kom ons besef ons magteloosheid en laat ons onderrig: uit die Woord van God. Hy laat jou onder die tong van sy Woord deurgaan, ook:

3. TEEN DIE LIEFDELOOSHEID IN DIE KERK

Vers 9 bring ons tot 'n skrikwekkende werklikheid: "Met die tong loof ons ons God en Vader en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is". Die woordpaar "seën en vervloek" word in die Bybel dikwels saam gebruik: die twee uiterstes. Alles wat daar tussenin lê, val of die een of die ander kant uit. Jy kan nie te gou sê: maar ek het hom mos nie regtig vervloek nie! Die kwaad wat jy spreek, die story wat jy rond laat loop, die interpretasie wat jy gee, kan almal basies 'n vervloeking wees. Of 'n klein vuurtjie wat 'n groot bos aan die brand steek. Wanneer jy nie seën nie, is jy besig om te vervloek. Daar is nie neutrale praat wanneer dit oor mense gaan nie. Dit kom uit een mond: ons loof God, ons vloek oor die mense.

Jakobus het op die uitvoering van die kultuuropdrag gewys. Hy het dit gedoen om die onmag van die mens te wys. Nou gaan hy nog 'n stap verder. Wat van die medemens op aarde, die mens wat jy onder jou tong laat deurloop? Hy is, volgens die Heilige Skrif en volgens die onderwys wat jy ontvang het, "as die beeld van God geskep". Nee, dalk leef daardie mens nie volgens God se gebooie nie. Dalk beantwoord hy nie aan die hoë roeping nie. God het hom egter so geskep, net soos jou, om die roeping in Christus te kan volg: om opnuut volgens die beeld van Christus vernuwe te word. Wie is jy wat van God se skepsel kwaad praat? Daar is in die kerk en dus tussen broers en susters, al so baie liefdeloosheid. Ons onvermoë tot spontane liefde word daar duidelik waar dit oor 'n ander mens gaan. Broederliefde is makliker as naasteliefde. Ja, die teks is baie wyd: die mense! Kom ons sê rustig: ons medemense, ons naaste. Jy kan mooi van kultuuropdrag praat. Besef jy ook dat jy eerste vir jou houding teenoor jou naaste moet kyk?

Wanneer daar in die kerk nie vanuit die Woord van God gepraat word nie, kom die wêreld van die ongeregtigheid deur jou tong die kerk binne: in liefdeloosheid. Hoe baie mense het hulle rug nie op die kerk gekeer, omdat die mense so hard gepraat, so onbarmhartig geoordeel het nie? Hoeveel kerklike ellende in Pretoria is nie vererger deur harde woorde nie? Jakobus stel opnuut die dubbelgebod van die liefde voor jou. Jy is daartoe geroep om God lief te hê én om jou naaste lief te hê. Jy kan nie God loof en jou naaste vervloek nie. Die naaste is mos van jou God: Hy het hom geskep.

Hierdie brief is geskryf aan christene wat in hul ou land, by hulle eie volk gewoon het: Jode in Israel. As vreemdelinge het hulle die roeping om anders, opvallend christelik te wees. Maar Jakobus praat eintlik glad nie oor die effek op die samelewing nie. Hy sê nie: jy mag jou tong nie misbruik, omdat jy anders nie opreg van Christus kan getuig nie. Hy sê niks oor die roeping om met jou tong vir jou naaste te getuig nie. Hy sê nou maar net hoe die kerk in die verstrooiing sal wees: daar mag jy agterkom hoe gevaarlik jou tong is. Daar mag jy leer om God te loof. Daar sal jy weet hoe om oor enige naaste te praat: vanuit die Skrif wat onderwys word.

Die Skrif leer: dit gaan nie in die eerste plek oor 'n taak om te praat nie. Dit gaan by Christus om 'n taak om te doen. Glo is in die eerste plek: leef, doen, werk en bid. In sy eerste hfd. het Jakobus al gewys: "As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is waardeloos" (1:26). Wees nie net 'n hoorder nie, maar ook 'n dader van die Woord. Watter fontein is jy: een met suiwer of in met bitter water?

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)