Jou geloof leef in werke voor God

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Jakobus 2
Preek Inhoud: 

12-01-92

JAKOBUS 2 : 14-26

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 28 : 1, 2, 3, 4
Wetslesing
Sing: Ps. 28 : 5, 6, 7, 8
Skriflesing: Mattheus 25 : 31-46, Openbaring 3 : 1-6, DL V, 10 (p. 595v)
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 42 : 1, 2, 3
Tekslesing: Jakobus 2 : 14-26
Prediking
Sing: Ps. 26 : 1, 2
Dankgebed
Sing: Ps. 26 : 4, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

onthou u nog die dae waarop jong mense voorin die kerk gestaan en hulle geloof bely het? So 'n gebeurtenis is 'n hoogtepunt. "Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde ...". Opnuut iemand wat dit bely! Ook wanneer jy dit van harte sing, is daar dikwels die ontroering. So mooi en eenvoudig kan die geloof uitgespreek, uitgesing word.

Die mooiste, kortste geloofsbelydenis vir die Jode was die bekende: "Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige God" (Deut. 6:4). En nou kom ons by Jakobus uit. Want Jakobus stel midde in die kerk vas: "Jy glo dat God één is" (vs. 19). Kom ons sê: ons Jakobus stel die eenheid in die leer van die geloof vas. Hy voeg egter 'n skokkende uitspraak toe: "Jy glo dat God één is. Jy doen goed, maar die duiwels glo dit ook, en hulle sidder van angs". As dit bloot oor die geloofsinhoud gaan, glo jy dieselfde as wat die bose geeste glo. Dit lyk asof Jakobus elke ontroering verpletter. Daarom is dit die vraag: hoe onderskei jou geloof homself van die gedwonge geloof van die duiwels?

Dit is die skerpte waarmee Jakobus deur die Heilige Gees oor die verband tussen jou geloof en jou dade wil praat. Hy kom met 'n klomp persoonlike vrae. Elke nou en dan vra hy: het jy my verstaan? Vs. 22: "Sien jy ...?, vs. 24: "sien julle dan nou ...?". Die Gees help ons op pad om die skok van Jakobus te oorkom. Ek preek in opdrag van Christus oor:

JOU GELOOF LEEF IN WERKE VOOR GOD

Dit is

  1. oorlewing van die dood,
  2. belewing van genade en
  3. springlewendig in dade.

1. JOU GELOOF LEEF IN WERKE VOOR GOD: OORLEWING VAN DIE DOOD

Vs. 14 begin met 'n vraag: "Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar hy het nie werke nie?". Sy dade bevestig dit nie. "So 'n geloof kan hom tog nie red nie?". Op die ou end sal jy agterkom: daar moet 'n samehang tussen die inhoud van die geloof en die dade van die geloof wees. Dit is 'n baie ernstige saak: dit gaan oor die oordeel van God oor jou! Onthou u nog die gedeelte wat voorafgaan (vs. 13): "want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; maar die barmhartigheid triomfeer oor die oordeel". Hoe wys jy jou geloof? Sal jy op daardie ou end triomfeer?

Jakobus kies opnuut 'n voorbeeld. "Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: "Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg", maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan" (vs. 15-16). U onthou die skerp voorbeeld van die ryke en die arme man wat in die kerk kom instap. Hierdie voorbeeld is ook baie skrynend. Daar is mense naby jou wat te min klere en te min kos het, elke liewe dag te min. Daar is baie sulke mense wat vir u minstens 'n naaste is. U is gelowige, ja, belydende lidmate van die kerk. Kan u geloof u red, wanneer God u vandag oordeel?

Jakobus maak hier eintlik maar net 'n praktiese toepassing uit wat hy van sy Here Jesus gehoor het. 'n Broer of suster wat honger het of bykans naak is, wat in die tronk sit of siek word, wat 'n vreemdeling vir jou is ..., het jy in hom Jesus Christus op jou pad sien kom? Of het jy so 'n mens glad nie gesien nie? Dit is vrae wat op die jongste dag vir jou gevra sal word. (Here, het ek U al 'n keer in 'n mens in nood ontmoet??). Vs. 17 trek die konklusie: "As jy niemand help nie, dan gaan dit met jou geloof ook so: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood".

Wag 'n bietjie, dink jou gereformeerde verstand dalk. Dit is mos nie reg nie. Ons het tog altyd geleer dat werke jou nooit kan salig maak nie! God neem my tog uit volkome genade aan, sonder om op my kwaliteite ag te gee? Paulus leer mos dat uit "die werke van die wet geen mens regverdig word nie". Ja, dis reg. Jakobus wil dit ook glad nie ontken nie. Hy praat egter vir mense wat die genade, die vrye vergewing van hulle sondes alreeds ontvang en aanvaar het. Hy vra: wat nou? Wat maak jy, christen en belydende lidmaat, nou met die geskenk van die geloof? Is dit lewendig of is dit feitelik, sonder meer dood? Ja, u mag dit skerp vir uself vra. Dink aan die baie skerp vergelyking wat Jakobus maak: "die bose geeste glo ook, en hulle sidder van angs" (vs. 19). Die woord "sidder" sê letterlik: die hare staan reg orent. Liggaamlike angs: jy sal moet beleef die Skrif krap jou hare goed deurmekaar! Onthou u die skrikwekkende woorde van Christus wat u gesing het: "Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, maar jy is feitelik dood" (Openb. 3:1)?!

Ons mag mooi onthou: dit gaan in die lewe van die gelowiges om oorlewing van die dood. Dit is egter nie net die dag van God se groot oordeel nie. Dit gaan ook oor vandag: word die dood nou alreeds uit die lewe weggedruk? Dit is mos wat God Drieënig wil bereik: dat daar werklike lewe op aarde ontstaan. Dit is lewe in die besef van God se goedheid en genade oor my: wat my 'n ander mens maak. Ook 'n ander mens vir my broer en my naaste. Het ek al iets van God se barmhartigheid geleer, sodat ek ook barmhartigheid sal bewys? Sal my geloof die dood, die oordeel oorleef?

2. JOU GELOOF LEEF IN WERKE VOOR GOD: BELEWING VAN DIE GENADE

Nou moet nog duidelik word op watter wyse die geloof en die dade samehang. Jakobus neem die voorbeeld van Abraham, "ons vader", soos elke Jood sê, soos elke Jood wat christen geword het, sê. Vs. 21: "Hy het sy seun Isak op die altaar gelê; is dit nie op grond van wat hy gedoén het dat God hom vrygespreek het nie?". Uit die werke, sê ons vertaling, is Abraham geregverdig.

Nou lyk dit asof jy dit nie so in die OT vind nie. In Gen. 15 laat God vir Abraham die sterre aan die hemel sien en sê: "So baie sal jou nageslag wees". Daarna lees ek: "En hy het die HERE geglo; en God het hom dit tot geregtigheid gereken" (vs. 6). Ek lees daar niks van dade nie, maar bloot oor die geloof in God se beloftes. Het Jakobus sy Bybel verkeerd gelees? Hy maak 'n sprong van hoofstuk 15 na 22, waar jy van die byna-offer van Isak lees. Dit was blote geloof in God se beloftes dat Abraham sy land verlaat en gaan trek het. Die trek was al 'n daad van geloof. Die HERE het egter sy geloof op die proef gestel. In die joodse oorlewering is dit die swaartse beproewing wat Abraham ondergaan het. Sy geloof moes op 'n spesiale manier sigbaar word. Die uiterste daad van die opoffering van sy liewe seun moes sy geloof, sy bereidheid bewys.

Op grond hiervan vra Jakobus vir jou wat luister: "Sien jy, erken jy, wanneer jy met Abraham gekonfronteer word, dat die geloof saamgewerk het met sy werke?" (vs. 22). Asof die werke en die geloof twee aparte dinge is wat in 'n span saamwerk. Die geloof (die vertroue op God se beloftes) het 'n span met die dade (die sigbare bewys) gevorm. Die geloof ondersteun die dade. Dan is daar ook 'n samewerking van die dade met die geloof. Deur dié samewerking "het die geloof volkome geword uit die werke". Die geloof het ryk geword, nee, die geloof het regtig gelóóf geword in die daadwerklike bewys van die geloof. "En die Skrif is vervul wat sê: en Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem" (vs. 23). "Hy het God gegló": dit word gesê nadat oor Abraham se geloofsdáád gepraat is! Die woord van God uit Gen. 15 is nog altyd waar in Gen. 22, wanneer God sy kneg Abraham se geloof en liefde sien.

Kom ons kyk nog 'n bietjie na die woorde: "die geloof het volkome geword uit die werke" (vs. 22). Kan ons sê dat daar dus 'n geloof is wat besig is om volkome te word? Groei die geloof in so 'n mate dat dit 'n hoogtepunt in dade soos Abraham s'n kry? Ja, die Here gee in sy genade vir jou tyd om te groei. Jou geloof mag sterker, inhoudryker word. Jy mag leer sien watter werke daar vir jou is om tot sy eer en vir jou naaste te doen. Daar mag egter nooit 'n tyd van tevredeheid wees nie. Tevrede mense is baie dikwels nie barmhartige mense nie, omdat hulle met hulself tevrede is. Teenoor tevrede christene sê die Skrif: daar is geloof en daar is dood geloof. Tussen hierdie twee moontlikhede is 'n leeg niemandsland. Jy kan nooit die Here net 'n bietjie van jouself gee nie. Jy kan nie jou broer of jou naaste verby loop nie. "Die geloof word volkome uit die werke": dan eers kom die volheid uit, of die doodsheid. Onthou: dit gaan nie oor dinge wat u moet doen om die saligheid te kry nie. Dit is wat u moet doen om God se genade nie te verlóór nie, nadat u so baie ontvang het. Om God se genade nie te verloor deur u liefdedienste te weier nie.

As Abraham se geloof 'n onbereikbare hoogte lyk, gee Jakobus 'n ander een. Daar was mos ook Ragab, die vrou wat as 'n hoer bekend geword het. Die hoer het van sonde haar beroep gemaak. Totdat die HERE in haar lewe ingekom het. Jesus Christus het vir haar saam met die twee spioene gekom: om te ondersoek hoe om haar stad, haar land te verower. Sy het gehoor oor dié volk en oor die HERE, die God van Israel. Die twee spioene is bykans gevang, maar sy het hulle eers weggesteek en daarna laat ontkom. "Is Ragab, die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het nie?". God het haar pad so gelei dat sy in die volk Israel opgeneem is, 'n vreemdelinge. Sy is "geregverdig": kom ons sê eenvoudig sy is gered van die verwoesting van haar stad en die dood oor die inwoners. Sy het die oordeel voor God se troon ontvlug, deurdat sy barmhartigheid bewys het.

Die belewing van God se genade: dit is wat die geloofsdade so belangrik maak. Jy wys daarmee vir Hom dat jy sy genade werklik waardeer, dit is: in sy waarde om Christus ontwil ken. Dit is ook vir jouself mooi. Die Dortse Leereëls sê dan ook dat jy "uit die heilige en ernstige strewe na 'n goeie gewete en goeie werke" sekerheid put. My geloof leef werklik! Ek sien die vrugte, soos die beeld van die Here Jesus sê. So mag jy God se genade ook beleef: wanneer jy agterkom dat dit iets in jou leef, deur jou persoon uitwerk. Jou geloof mag in werke voor God leef. So mag jy die genade beleef.

3. JOU GELOOF LEEF IN WERKE VOOR GOD: SPRINGLEWENDIG IN DADE

Watter dade van die geloof is daar? Die voorbeeld van vader Abraham wys net 'n uitsonderlike daad van gehoorsaamheid wat God net vir hom gevra het. Ook Ragab se situasie kan nie herhaal word nie: 'n heidense vrou wat deur haar geloofsdaad in die volk van God opgeneem word. Watter dade van die geloof is daar vir jou en my en vir ons saam?

Jakobus het die voorbeeld van 'n behoeftige broer of suster gebruik. Daarmee het hy ons aan die woorde van ons Here Christus herinner: alle omstandighede van nood waarin iemand buite sy direkte skuld verkeer. Armoede, honger, gebrek aan klere bedags en warmte in die nag, die vreemdeling wat weggedruk en die mens wat in die tronk gegooi word. Ja, daar is mense buite hulle skuld in die tronk gegooi: in Suid-Afrika. En dit is nou maar so dat in hierdie land die grens tussen sodanige armoede en werklike rykdom bykans dieselfde is as die grens tussen die swart en blank mense. Daar is nou maar 'n derde en 'n eerste wêreldekonomie in een land. Dit is egter nie net die lot van Suid-Afrika waaroor 'n mens net somber praat nie. Nee, dit is die werklikheid van hierdie wêreld van sonde en dood, die werklikheid waarin die genade in Christus verskyn het! 'n Christen is 'n mens wat deur God ryk in die geloof gemaak is. Dié geloof vra nou ook om uitwerking in dade. Jy mag springlewend wees in hierdie harde werklikheid!

Ek dink daar is baie geloofswerke in hierdie gemeente. Dit is uit geloof dat 'n skool onderhou word. Dit is uit liefde tot God dat ons geld vir die kerk en die sending. Daar is ook dade van geloof wat min bekend word: die hulp en gasvryheid wat jy aan klein en groot broers en susters bewys. Jy hoef ook nie net vir tastbare dade te soek nie, jy mag ook aan die dinge dink wat jy vir die Here doen: u gebede, u meelewe, u kerkgang. Daar is baie geloofswerke, God sy dank! Vergeet egter nooit dat dit maklik gebeur dat die werke nog altyd aanwesig is, maar dat die gelóóf daaruit weg is. Wanneer dit uit selfsug is dat u 'n ander help, wanneer u gemaksugtig die skool gebruik, wanneer u liefde vir die Here weg is, dan is die werke net so dood as wat die geloof is. 'n Steriele geloof is 'n vreselik ding. Ook 'n kerkgemeenskap wat saam nie barmhartigheid bewys nie, kan 'n dooie kerk word. Kom ons soek ook hoe om gesamentlik in werke van die geloof besig te wees. Ook wanneer dit vra om gesamentlik na te dink oor hoe om ons swart broers en susters meer liefde te bewys. Die tyd het nou regtig gekom om as christlike kerk die samelewing te wys hoe 'n mens, hoe 'n land met God se heilig Woord reg kom.

Ek het 'n paar keer die woord "broer of suster" uit ons teks aangevul met: jou naaste. Is dit nie genoeg om binne die gemeenskap van die kerk jou geloof in dade te wys? Praat Jakobus ook van die ander sosiaal arm mense in my omgewing? Nee, Jakobus se brief is gerig aan gemeentes binne die land Israel. In dié volk was almal mekaar se broers en susters. Die kerk was voortdurend in beweging: daagliks het mense aangesluit, ook mense van wat ons 'n "swak" agtergrond noem. Die kerk van vandag leef in 'n wyer samelewing. Kom ons onthou die woorde van Paulus: "Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof" (Gal. 6:10). Daar is meer mense, meer naastes as lidmate van u gemeente.

Jakobus het dringend gepraat. Hy het skerp woorde gebruik om die gemeentes wakker te maak. Hy eindig ook so: "want soos die liggaam wat nie asemhaal nie, dood is, so is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood" (vs. 26). U mag deur die heilige Gees springlewendig wees. U mag die dood weghou uit u eie geloofslewe, en wegdring uit u omgewing. Dan sal u, in geloof op God se beloftes en met die dade van u geloof, behou word.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)