Ook midde-in versoekings is God besig om die lewe te gee

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Jakobus 1
Preek Inhoud: 

30-08-92

JAKOBUS 1 : 12-18

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 8 : 1, 3, 4
Wetslesing
Sing: SB. 26 : 10, 11 (teen begeerte)
Skriflesing: Jakobus 1 : 1-18
Doopsbediening
Sing: Ps. 8 : 2
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 22 : 5, 6, 7, 8
Tekslesing: Jakobus 1 : 12-18 (in die NAB)
Prediking
Sing: SB. 28 : 4
Dankgebed
Sing: Ps. 26 : 1, 2
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

by versoekings dink ons aan Hom, ons Heiland. Aan Hom wat drie keer swaar deur die satan versoek is. Satan het, na Adam en Eva, nou die sondeval van Jesus beoog. Dit is dié 3 pogings om Jesus te laat struikel waardeur ons die satan as die bron van al versoekings kan indentifiseer. Jakobus sê dit nie, maar na wat jy oor die versoekings wat Jesus ondergaan het, weet is dit voortaan duidelik. Die evangelie sê duidelik: "Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in (ja, God laat die beproewing oor Hom kom) om versoek te word deur die duiwel ...; en die versoeker het na Hom gekom en gesê ..." (Matt. 4:1, 3). Dit is die duiwel wat die gebeure tot 'n versoeking maak.

In die preek oor Jak. 1:2-8 het ons oor beproewings gepraat. Toe het ek aangekondig: as die Here wil sal ons by 1:12v ook oor versoekings praat. Ek het ook vir u gesê: ons praat met 2 woorde van beproewing en versoeking. Dis in Grieks een woord. Dit wat Jakobus presies sê, leer ons om te onderskei. Ek sou in vs. 12 eintlik nog dubbel wil vertaal: om te wys hoe die betekenis hier besig is om te verskuif. "Salig is die man wat beproewing-en/of-versoeking verdra". Of dit wat jy ondergaan, 'n beproewing of 'n versoeking is, ... dit gaan in altwee gevalle daaroor of jy "die proef deurstaan" (sê vs. 12 vervolgens).

Eers het Jakobus gesê: wees bly oor die feit dat God jou beproef! Nou sê die Bybel: "Salig is die man wat versoeking en-of beproewing deurstaan!". Dit is 'n saligspreking, soos die Here Jesus Homself dikwels geuiter het. Dis 'n gelukwens. Gelukkig is jy! Dit is: deur God geseën. Kyk, hierdie saligspreking help jou om te sien dat versoekings nie die hoofonderwerp is nie. Dit gaan in 'n spesifieke verband oor versoekings.

Die hoofsaak is: dit is God wat (midde-in watter moeites jy mag wees: beproewings of versoekings, armoede of rykdom) vir jou die lewe wil gee! Want, sê vers 12, "as jy die toets deurstaan het, sal jy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet". Daaroor bring ek vir julle vanmôre die Woord van die HERE:

OOK MIDDE-IN VERSOEKINGS IS GOD BESIG OM DIE LEWE TE GEE

dit gaan

  1. oor die kwaad uit jouself (vs. 13-14),
  2. teen die geboorte van die dood (vs. 15-16)
  3. om die gawe vir die skepping (vs. 17-18).

1. OOR DIE KWAAD UIT JOUSELF (vs. 13-14)

"Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: 'ek word deur God versoek' nie". Daar was blykbaar mense wat so gepraat het. Jy soek mos om die dinge van die lewe te verstaan. Watter rol speel die kwaad? Kyk, daar is mos die groot vraag wat in hierdie lewe altyd sonder 'n antwoord sal bly: waar kom die kwaad weg, terwyl God die skepping goed gemaak het? Ja, ons kan oor die sondeval praat en oor ons skuld. Ons kan verder terug dink en sê: daar het eers 'n sondeval in die wêreld van die engele plaasgevind. Toe het sekere engele duiwels geword. Ja, daarna het die satan in die gedaante van 'n slang gekom en Eva verlei. Dit was mos die eerste versoeking, die eerste val. Ons kan egter nie nog verder terugkyk nie. Want hoe het die kwaad in die wêreld van die heilige engele, in die heilige wêreld van God ingekom? Daar is geen christen wat die antwoord ken nie. Kan dit wees - ek vra dit met eerbied - dat God op die een of andere wyse die kwaad gebruik? "Hy bring die heil én onheil voort ...", sing ons tog? Ja, daar is oop vrae. Dit behoort tot die wese van die gelóóf om die vraag oop te laat.

Tog gee Jakobus 'n stukkie van 'n antwoord. Jy mag nooit sê "ek word deur God versoek" nie. Daar is twee redes hoekom jy dit nooit oor God mag sê nie. Die eerste rede is: "want God kan nie deur die kwaad versoek word nie". Ons God en Vader in die hemel is heeltemal vry teenoor die mag van die sonde!! Dit trek Hom nie aan en tas Hom nooit aan nie. Daaruit kom die tweede rede voort: nl. "want self versoek Hy niemand nie". Daar is in God nooit 'n behoefte om mense tot sonde te verlei nie. Watter vrae jy ook al oor die sonde in die wêreld mag hê, dit moet die uitgangspunt in jou gedagtes wees: God is vry van sonde en sal jou nooit verlei nie. Johannes sê dit so: "God is lig en in Hom is geen duisternis nie".

Die volgende stap is: kyk vir jouself. Want Jakobus vervolg in vs. 14: "Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep". Die woorde "aanlok en saamsleep" is woorde uit die taal van die jag en die visvangs. Jy gebruik 'n lokaas om die prooi naderby te lok, sodat jy hom maklik kan vang. Kyk, dit kom nie eerste van buite af nie, maar uit jouself! Dis die begeerte in jou hart wat 'n mag is om jou te verlei. Die NGB praat dan ook so oor die erfsonde: "die sonde borrel aanhoudend uit hierdie verdorwenheid op soos water uit 'n giftige fontein" (Art. 15). Die begeerte is 'n mag in jou. Daar lê die begin van versoekings. Jakobus het in vs. 9-11 iets oor armes en rykes gesê. 'n Mens wat arm is, moet nie vir die versoeking val om maar net ryk te wil wees nie. Nee, jy mag begin met die vreugde dat jy voor God baie waarde het. 'n Ryke moet nie voor die verleiding van hoogmoed val nie, maar sy nederigheid teenoor die Here besef. Dié wyse les word begelei met die waarheid: ons is maar swak mense wat maklik verdor, soos 'n blom in die veld (vgl. Jes. 40 en SB. 22). Ja, dis nog erger omdat die kwaad uit myself voortkom. Kom ons vergeet nie van die beginvers nie: "gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As jy die toets deurstaan het, sal jy as oorwinningsprys die lewe ontvang". Om die toets te kan deurstaan moet jy jouself mooi deursien. Jy moet begin met te erken dat God oorgenoeg rede het om jou met sy wyse Woord aan te spreek. Nou gaan Jakobus nog dieper tas. Hy praat ook oor:

2. TEEN DIE GEBOORTE VAN DIE DOOD (vs. 15-16)

Wat in vs. 14 oor die lokmiddel van jou begeertes gesê is, word nou toegelig. Jakobus kies vir 'n skokkende beeldspraak om sy punt te verduidelik. Hy gebruik die woorde wat ons voor die ontstaan van 'n kind, van nuwe lewe het. Die konsepsie wat in die moederskoot plaasvind, en die geboorte na nege maande. Vervolgens die opgroei, totdat dié kind volwasse is en nou self nuwe lewe kan voortbring. Pragtig, nê, oupa's en ouma's, Hoe God die lewe bou: deur kinders wat eendag self weer kinders sal kry, deur jou kinders wat vandag self ook kinders het! Sekerlik na 'n doopsbediening, waar ons nog naby die wonder van die geboorte staan, is dit pragtige taal.

Verskriklik, nê, soos Jakobus praat? Dit begin met begeerte in jou binneste. "Daarna, as die begeerte ontvang het (= swanger is), baar dit sonde; en as die sonde ryp geword het, bring dit op sy beurt die dood voort". Pleks van 'n kindjie word die sonde gebaar, pleks van lewe word die dood voortgebring. Dit is skokkende beeldspraak. Ag, elkeen wat sy Ou Testament ken, weet van dié tipe taalgebruik. Job 15:35: "Dit is hulle wat swanger is van die kwaad, wat onreg voortbring en aan bedrog die lewe skenk". Of Ps. 7:15: "Die skuldige is soos iemand wat swanger geraak het van onreg, swanger is van kwaad en onreg voortbring". Daar is meer van sulke tekste. Sulke beeldspraak wil jou wakker hou.

"Moenie julleself mislei nie, my liewe broers", vervolg Jakobus in vs. 16. Jouself mislei: deur te dink dat die kwaad tog iewers by God wegkom. Nee, die kwaad is joune. Glo maar wat vs. 13 sê, nl. dat God self nie deur die kwade verlei kan word en dat Hy niemand verlei nie. "Moenie julleself mislei nie": dis 'n baie skerp waarskuwing. Elke keer wanneer Jakobus so skerp praat, voeg hy 'n baie hartlike aanspreekvorm toe: "my geliefde broeders". Hy gaan langs hulle staan, noudat hy sy mense moet vermaan. Dit is wat ampsdraers tot dienaars van die Here Jesus maak: wanneer hulle nie hoog bo jou nie, maar langs jou staan. Saam in swakheid, saam in die genade. Dwaal asseblief nie, wanneer jy oor God dink nie! Onthou u wat ons in vs. 5 gelees het? "'n Mens moet gelowig bid, en nie twyfel" aan wie die HERE is nie.

Uit begeerte word sonde en dood gebore. Dit is indrukwekkend dat sowel die wet van God as die gebed van Christus oor begeerte en versoeking praat: die laaste gebod én die laaste gebed! Die 10de gebod sê: "Moenie begeer nie!". Die 6de bede bid: "Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose". Begeertes is in ons, versoekings kom van buite. Ja, maar die verband tussen begeerte en versoeking word dus in jouself tot stand gebring. Dit is jy wat verlei word en jouself laat verlei. Dit is ek wat die sonde doen. Dis ek, ja, vreeslik, wat die dood voortbring. Dit is egter God wat die lewe wil gee! Ook midde-in versoekings is God besig om die lewe te gee. Jy moet die toets deurstaan: dis wat in God se wysheid 'n beproewing is (1:3). Daarom opnuut: omdat die gevolge van ons sondes so vreeslik is, gelukkig is jy wanneer jy stand in geloof stand hou.

Moenie oor die geloof dwaal nie! Jy mag 'n pragtige geloof oor God self hê. Dis wat ons 3de punt sê. Dit gaan ook:

3. OM DIE GAWE VIR DIE SKEPPING (vs. 17-18)

Teenoor die proses van die geboorte van die dood staan die proses van die groei van die geloof. Ons het vorige Sondag al gesien: die geloof kom deur beproewing tot volharding. Vs. 12 het nou begin sê: na die toets kry jy die kroon van die lewe wat God wil gee. God belowe die kroon, die prys vir die oorwinning: aan wie? Jy sou kon aanvul: God belowe die krans aan hom wat volhard. Ja, dit is ook waar. Jakobus formuleer egter anders. God belowe die lewe aan "die wat Hom liefhet". Dit is die hart van die geloof: dat jy lief is vir die Here.

Kyk hoekom. Vs. 17 sê: "Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie". Midde-in versoekings mag jy weet: God verlei nie tot die kwaad nie, maar Hy gee die goeie. Elke goeie ding kom by Hom weg. Hy is in dié goedheid onveranderlik. Hy het die hemelliggame geskep, die son en maan en sterre wat 'n vaste koers volg en tog elke dag van plek verander. Ons het dit in Ps. 8 self nog gesing. God verander sy koers nooit! Die gedagte aan die hemelliggame roep die grote skepping van God voor oë. Midde-in daardie ryk werklikheid mag jy lewe. Ook al is daar die stryd van die geloof en teen verleiding, God het vir jou as mens 'n bestemming.

Dit is wat die laaste vers, vs. 18 sê: "Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees". Eerstelinge: julle weet, dis die eerste gawes wat van die oes vir die HERE gegee is. Dié begin van die opbrengs verteenwoordig die volle oes wat eendag ingesamel sal wees. Kyk hoe pragtig, hoe eervol praat die Skrif met jou: julle is die begin van die volle oes van die aarde. Jy is so waardevol dat jy soos 'n offergawe opgedra is aan God. Kyk hoe mooi is die samehange. God gee elke goeie gawe op aarde en jy mag met jou lewe 'n gawe vir Hom wees. 'n Christen is dit nou alreeds: 'n geskenk op aarde!

Nee, ons vergeet die versoekings nie; en ook die kwaai mag wat in my hart woon nie. Ja, my sonde kan sommer die dood voortbring, maar God het my as 'n gelowige voortgebring! "Hy het ons voortgebring deur die woord van die waarheid", sê Jakobus. Dit is dieselfde taal wat hy eerder gebruik het. Die sonde wat volgroei is, bring die dood voort, baar die dood. God baar mij! "Deur die woord van die waarheid": dit is deur die verkondiging, die spreek van die waarheid. Dit is wat God graag wil. "Volgens sy wil" het dit gebeur, soos elke goeie gawe van Hom af kom: daar is mense wat nuwe lewe ontvang, wat midde-in die dood tot nuwe lewe gekom het. So is gelowiges eerstelinge: gawes vir God en ook geskenke wat God vir die wêreld gee.

Die lewe is vir jou: om God se goeie gawes te geniet en in sy diens te gebruik. Die lewe is 'n geskenk vir die wêreld waar jy mag groei in die geloof en die pad weg van die dood te wys. Die lewe is 'n gawe vir God: om ons harte aan Hom te wei. In die liefde wat God van jou persoonlik soek.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)