'n Vreemdeling het genoeg aan die Naam van sy God

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Hebreërs 11
Preek Inhoud: 

02-06-91

HEBREERS 11 : 13-16

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 63 : 1, 2 [verlange na die HERE]
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 63 : 3, 4, 6
Skriflesing: Genesis 12 : 1-10, Hebreërs 11: 1-12
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 105 : 6, 7, 8, 23 [die vreemdelinge]
Prediking
Sing: SB. 20 : 6, 7
Dankgebed
Sing: SB. 43 : 5, 6
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

opnuut loop ons die woorde raak: die vaders het bely "dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was". Ons soek die betekenis van daardie nuwe-testamentiese woorde. Wat sê die woorde, die name "vreemdelinge en bywoners" oor ons as christene? Wat sê dit oor die posisie en die taak van die kerk in die samelewing?

Hierdie brief is geadresseer aan "die Hebreërs". Ons weet min oor daardie mense. Waar het hulle gewoon? Was dit 'n gemeente of is dit weer (soos Petrus s'n) 'n brief wat vir 'n hele groep kerke bestem is? Ons NGB noem hierdie brief onder die briewe van Paulus, maar ons weet glad nie wie die werklike skrywer was. Hy noem sy naam nie. Hy noem net die Hebreërs. Dié woord sê minstens die mense was Hebreeus sprekendes. Hebreeus was hulle moedertaal. Dis dus mense uit die ou volk van God: die volk wat woorde soos "vreemdelinge en bywoners" baie mooi vanuit die Ou Testament kon verstaan. "Die Hebreërs", dit kan ook 'n herinnering wees aan die omskrywing van Abraham se identiteit. Abraham, die Hebreër (Gen. 14:13): so is hy bekend. En hy is die vader van die volk wat getrek het. So is later die volk bekend: Hebreërs. Die een volk temidde van die wêreld rondom hulle.

In die preek oor 1 Petr. 1:17 was die boodskap: 'n vreemdeling het waarde vir die wêreld. Vanmiddag mag ek u God se Woord so saamgee:

'N VREEMDELING HET GENOEG AAN DIE NAAM VAN SY GOD

sodat ons

  1. op pad bly,
  2. in geloof volhard
  3. huis toe verlang.

1. GENOEG AAN DIE NAAM VAN MY GOD: OM OP PAD TE BLY

"In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry". So begin die verse van ons teks wat 'n terugblik op die eerste helfte van hierdie hoofstuk gee. Alle vaders het op 'n stadium gesterf, vòòrdat die vervulling van God se belofte gekom het. Ons kyk nou veral na Abraham. In vs. 8-10 het ons gelees hoe hy sy lewe lank getrek het. Ons het dit teen die agtergrond van Genesis 12 gelees. Hy is deur die HERE weggeroep uit sy eie land. Hy is weggeroep soos nou niemand meer weggeroep word. Abraham, "gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis na die land wat Ek jou sal wys". Trek weg uit alles wat bekend en vertroud is, op reis met 'n onbekende bestemming.

Dan lees ons van 'n groot trek: duisende kilometers. Totdat hulle na jare en jare in Kanaän kom. Maar, staan daar nadruklik, "die Kanaäniete was toe in die land". Dié land het al eienaars gehad! Abram kom in 'n vreemde land wat nie 'n lege land is nie. En Abraham moet die land deurtrek, van Noord tot Suid, totdat hy onderaan weer uit is ... op pad Egipte toe. Na die beloofde land gaan hy .. Egipte toe "om daar as vreemdeling te vertoef", sê die Skrif weer nadruklik. Die man aan wie 'n eie land beloof is, was met sy gesin aanhoudend op pad. Nou is die groot vraag: het vader Abraham hom nie verneuk gevoel nie?? Aan hom is 'n nuwe land en toekoms in die land beloof. Maar, sê ons teks, ook die vader van Israel "het gesterf sonder om die beloftes te verkry".

Nee, Abraham het hom nie verneuk gevoel nie. Vers 8 sê: "hy het weggetrek (uit sy eie ou land) sonder om te weet waar hy sou kom". Vervolgens beskryf vers 9 hoe Abraham hy in die beloofde land was: "Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van die belofte soos in 'n vreemde land en het in tente gewoon met Isaäk en Jakob, die medeerfgename van dieselfde belofte". Oupa Abraham het nog vyftien jare lank sy kleinseuns Jakob en Esau by hom gehad. Die hele familie het in tente bymekaar gewoon. Ja, dit sê: tot in die derde geslag het God sy belofte nie nagekom nie. Hulle het almal gesterf, geslag na geslag, "sonder om die beloftes te verkry".

Dit word deur die skrywer uit krag van die Heilige Gees geskryf. Dit word voorgehou aan Hebreërs, aan Jode van die ou volk wat christene geword het! Dit lees jy vandag in jou Bybel: mense wat intussen christene in Suid-Afrika is. Is Abraham se probleem nie verby nie? Dit lyk tog so? God het later sy belofte mos ingelos: Israël het die beloofde land gekry. En dis nog mooier, want die Here Jesus het gekom: die christelike geloof is nou vir die hele aarde! Die wêreld is nou die blyplek van God se volk. Daar is nie meer 'n probleem met 'n beloofde land nie. Ja, dit lyk na 'n oplossing vir Abraham se probleem. Maar dit maak jou probleem net groter. Want die Skrif sê nog altyd: as 'n christen het ook jy vir die vreemdelingskap gekies! Onthou u nog: 1 Petrus 1:17? "As julle Hom as Vader aanroep, wandel in vrese die tyd van jou vreemdelingskap". Jy is nie 'n vreemdeling in 'n land wat jy dalk eendag sal erwe nie. Dis baie sterker: jy is vreemdeling op die aarde! Op hierdie aarde is nie een plek waar die kind van God 'n tuiste sal vind nie.

Dit was ten diepste al Abraham se probleem. Want, sê vs. 13,

die vaders al "het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners was op áárde". Die beloofde land was altyd maar net 'n simbool vir die hele aarde. Dit het die vaders deur hul hele lewe leer verstaan. Voordat hulle die een beloofde land sou kry, moes God se kinders leer: het julle genoeg aan die naam van God? Dis hoekom hulle hul hele lewe lank op pad moes bly. Het jy genoeg aan God wat beloftes gee? Vertrou jy Hom genoeg, omdat dit Hy is wat jou beloftes maak? Of voel jy jou as kind van God verneuk, as jy die wêreld nog nie heeltemal mag geniet nie?

So was die vaders op pad: met die belofte altyd in hul hart. Hulle moes leer dat God die God van die beloftes is en dat dit genoeg is. Toe die HERE Homself die eerste keer aan Abraham geopenbaar het, het Hy belowe: "Ek sal jou 'n land gee". Onderweg het die HERE die een, die latere belofte vervul: die van nageslag vir die kinderlose ou egpaar. Abraham en Sarah mog mos vyftien jare lank van hul kleinkinders geniet. Die vervulling van die een belofte het krag gegee om die ander groot toekoms te verwag. Kyk jy maar hoeveel beloftes God sedertdien al vervul het. Is die Here Jesus Christus, die Verlosser van jou lewe, die Redder van jou sondes vir jou genoeg vervulling om ook dit te kan dra: dat die aarde nog nie jou tuiste is nie?

2. GENOEG AAN DIE NAAM VAN MY GOD: OM IN GELOOF TE VOLHARD

"In die geloof het hulle almal gesterwe". Moes die geloof so swaar op die proef gestel word? 'n Hele lewe lank wag, en dan kom die dood. Vers 14-15 noem 'n oorweging wat in die harte van die vaders kon opgekom het. Dit was duidelik, sê vers 14, dat hulle 'n vaderland gesoek het. God het mos 'n nuwe een belowe. Om 'n vaderland te soek: is om vastigheid te wil hê, 'n tuiste. Dis 'n plek waar jy jou seker en veilig voel. God het Abraham geroep om sonder om van 'n eindbestemming te weet, lewenslank emigrant te word. Die man en die gesin wat vreemdeling geword het. Hulle het die menslike behoefte aan 'n vaderland ook lewenslang saamgedra. Want God het die nuwe vaderland wat Hy beloof het, aan hulle nie gegee nie. Hoekom het God hulle die houvas onthou en die natuurlike behoefte oopgehou? Ja, die HERE het dit gedoen. Maar hulle het ook self die behoefte oopgehou! Hulle het nie self 'n oplossing vir die probleem gesoek. Hulle het bly verlang na die nuwe vaderland wat God beloof het.

Want, sê vers 15, want "as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer". Hulle kon teruggekeer het! Dis mos die moontlikheid wat enige emigrant mag oophou. Almal: baie van u en ek. Behalwe die een wat deur God geroep is om sy vaderland agter te laat. Abram mog nie terugkeer nie, want deur die daad sou hy sy geloof eenkant toe geskuif het. Die vraag van sy hele lewe was: sal ek dit in geloof volhou? Het ek genoeg aan die naam van my God? Geloof: dis die tema van hierdie hele hoofstuk. Die hoofstuk noem baie mense uit die begin van God se geskiedenis. Die doel van die opsomming is om vir ons te vra: en jy, kan jy volhard met net die geloof?

Een groot houvas was die naam wat God gekies het. God noem Homself "die God van Abraham, Isak en Jakob". Dit was 'n houvas vir hulle tydens hul lewe. Dit is ook 'n sterk houvas vir ons wat vandag geroep is om 'n volk van vreemdelinge te wees. Kyk watter naam die HERE vir Homself gekies het! Hy kies die name van 'n klomp plakkers! Met die name noem Hy Homself: Ek is "die God van Abraham, Isak en Jakob". Kan jy jou indink God kies jou naam om Homself bekend te stel? Kan jy jou indink God sê vir al ander mense: Ek is die God van ... (vul jou naam maar in)?! Dit is wat die HERE vir hulle gedoen het. Daarom sê die skrywer van hierdie brief: "Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie" (vs. 16). Dis wonderbaarlik mooi: God skaam Homself nie vir ons nie! Dis dieselfde wat in die tweede hoofstuk staan: "die Here Jesus skaam Homself nie om mense sy broers te noem nie" (vs. 11). God het om Jesus ontwil sy naam aan 'n klomp plakkers verbind. Hoe jy ook oor jouself voel, God skaam Homself nie om jou naam te kies nie. Dink dan terug aan die woorde van Petrus: "as julle Hom as Vader aanroep ...". Jy mag Hom "Vader" noem, omdat Hy jou naam aan syne verbind het. Nou roep Hy jou om dit te waag om vreemdeling te wees: om anders as ander mense te wees. Kan jy God se roeping om as 'n christen te lewe en om daarvoor jou offers te bring, volhou? Die Bybel wil jou aanspoor.

Kom slaan u Bybel oop. Ons lees hoofstuk 10:36: "Want julle het volharding (beter as: lydsaamheid) nodig om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry". Op daardie aanmoediging volg die mense van hoofstuk 11, die wat in die geloof volgehou het. En na die hoofstuk lees ek in 12:1: " Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê (naamlik die sonde wat ons so maklik omring) en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê". Die ou vaders het lankal geloop, soos Abraham wat sy hele lewe met net die een belofte getrek het. Nou is dit jou beurt! Sal jy die pad van 'n christen in geloof volhou?

3. GENOEG AAN DIE NAAM VAN MY GOD: OM HUIS TOE TE VERLANG

Die ander, die nuwe vaderland wat God beloof het, het Abraham nooit gekry nie. Ook Isak na hom en Jakob na hom nie. "Hulle het gesterf sonder om die beloftes werklikheid te sien word". En dan sê vers 16: "Maar so het hulle leer verlang na 'n beter een, dit is 'n hemelse vaderland". Nee, die woorde sê nie dat hulle net nog na die hemel verlang het nie. Asof hulle moeg geword het en as ou mense wat hulle geword het, nie meer aardse verlangens gehad het nie. Asof hulle net nog na die hemel verlang het. Nee, "hemels" sê: dit wat uit die hemel, dit wat van God af moet kom. Soos die koninkryk van die hemele wat eerste hier op aarde moet begin kom. Dit is wat hulle verwag het! Hulle het nie wanhopig geword en maar vir die wêreld begin soek nie. Nee, hul verwagting het sterk gebly: die HERE moet sy belofte vervul. As hier op aarde iets waarde kan hê, moet God dit hier gee.

Maar wat dan van die woorde aan die einde van vers 16: "want God het vir hulle 'n stad berei"? So het ons dit ook in vers 10 gelees: Abraham "het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is". Die Bybel praat mos van die nuwe Jerusalem, die stad wat uit die hemel sal kom? Ja, dit is 'n goeie vergelyking. Want die eerste bedoeling van daardie woorde is ook nie om oor 'n werklike stad te praat nie. Dit gaan oor die vastigheid en veiligheid wat God moet gee en wat Hy sal gee. Die stad is die beeld vir die ideaal. Die stad is die ideaal vir die wat altyd in tente bly: 'n vaste en veilige plek. Die woon in 'n stad staan teenoor 'n altyd tydelike plek, wanneer jy 'n tent opbou wat jy môre weer moet afbreek om verder te trek. Dis 'n plakkerskamp teenoor 'n kliphuis. God het vir Abraham-hulle in die toekoms veiligheid en vastigheid belowe.

God is die God van die belofte! Dis sy naam, so mag u vandag Hom ook ken. Nee, u hoef nie te sterf sonder om baie vervulling van God se beloftes te sien nie. U het die gawe van ons Here Jesus Christus ontvang, die vrykoop van u sondes. U mag die vervulling met die Heilige Gees ontvang, as u werklik glo. Jy mag baie geestelike rykdom ontvang. U mag beweeg in 'n gereformeerde kerk wat die geloof wil voed. Nou vra ek vir u: waar soek u u veiligheid en vastigheid? Is dit in die geloof? Is dit wat kragtig en lewendig is en wat u moed gee om deur die wêreld te stap: op elke plek waar God u roep? Want vir emigrante bestaan die gevaar dat hulle die ou vaderland in hul nuwe vaderland terugsoek. Dis die gevaar dat ons 'n vastigheid en veiligheid rondom ons soek op te bou wat nie werklik die krag van die geloof is nie. Nederlander in Suid-Afrika bly is nie dieselfde as vreemdeling in die geloof wees nie. Dit is 'n gevaar vir ouer mense wat vrees dat die jong generasie die identiteit van die nuwe land gaan oorneem. As Nederlander weet jy wat jy is. Hoe jou kinders as Afrikaners sal word, is onbekend. Dit vrees jy. Laat die geloof die krag wees. Laat dit altyd gevoed word.

Daar is die gevaar vir jong mense dat julle jul in die wêreld tuis wil voel. Dat jy nie weet hoe om werklik medemens te wees en tog die anders-wees as christen te toon nie. Kom ons soek saam die krag van die geloof by ons Here! Jy mag die rykdom van al God se beloftes ervaar! Dié wete maak dat God se verbond die werklikheid is: die veiligheid teen jou eie sondes, die vastigheid teen die twyfel. Kom ons verwag die volle genieting van die wêreld veral van God se nuwe aarde! Die toekomsplanne van die Here gee jou die regte sig op vandag. Jy mag hier in God se Woord leer om huis toe te verlang: dis die groter genieting wat God in sy planne vir later bewaar. Dit mag jy - met die woorde van ons teks - "uit die verte sien en glo en begroet".

Die vaders het bely dat hulle vreemdelinge en tydelike bewoners op aarde was. Hulle het nie 'n keuse gehad nie. Die mense met die groot belofte kon niks anders as die belofte wys nie. En verder was hulle net plakkers in die beloofde land. Kom ons bely die werklikheid dat christene genoeg het aan die naam van hulle God. Moenie bevrees vir ontmoetings wees nie. U sal in die ontmoeting nie verander nie. U was - as dit reg is - al anders, voordat u die ander ontmoet. Bely vrymoedig die geloof. Dis die God wat in Jesus sy naam aan ons s'n verbind het en wat mensename in die boek van die lewe geskryf het. Kom ons leer hoe om in hierdie land God se vastigheid en veiligheid te soek. Durf maar bely dat ook jy soek. Om op pad te bly, om in die geloof vol te hou, om huis toe te verlang.

Om dit te bely moet ons soek hoe om verder te kom as om van die kerk ons stad te maak. Die VGK mag nie, kan nie 'n stad wees om u te beskerm nie. Dit moet 'n kerk wees om u geloof te versterk. Te versterk om in die wêreld en onder die mense te kom. En dan mag u wys: die kerk is mos bedoel as die werklikheid van die geloof in die stad van die wêreld. Die kerk is mos die mense wat die naam van Christus saam met hulle mag dra: onderweg in hierdie wêreld.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)