Wie meen dat hy staan, moet oppas dat sy broeder nie val nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
I Korinthiërs 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR 1 KORINTHIERS 8

LITURGIE:
Ps. 16: 1, 2
Gebed
L. 1 Korinth. 8
1 Korinth. 10: 23-33
SB. 21: 4, 5
Prediking
Ps. 25: 2
Geloofsbelydenis
Ps. 25: 6
Gebed
Kollekte
Ps. 133: 1, 2

Broeders en susters,

Sê nou daar is in ons gemeente 'n aantal lidmate wat oortuig is daarvan dat alle mans weer in swart pakke en alle vrouens met hoede kerk toe moet kom so dikwels ons die heilige nagmaal vier. Hulle glo dít is die regte stylvolle en tog ook feestelike kleredrag vir so'n geleentheid.

Vra ons tekshoofstuk vir vanaand, 1 Kor. 8, dan van ons dat ons almal aan die verlange van daardie paar lidmate gevolg gee? "As my klere my broeder laat struikel, sal ik tot in ewigheid swart klere of 'n hoed dra, om my broeder of suster nie te laat struikel nie? "

'n Ander voorbeeld: sê nou daar is lidmate wat aanstoot neem aan die nuwe orde van diens wat deur die Sinode van Kaapstad verlede jaar vrygegee is, die volgorde wat ek ook vanaand aanhou. Hulle is ook nie van plan om die Geloofsbelydenis te gaan sing nie. Hulle meen dit is die vrug van 'n heeltemal verkeerde vernuwingsdrang in ons kerke en hulle dreig om hulle aan die kerk te onttrek as die kerkraad die nuwe orde van diens bly gebruik.

Is 1 Kor. 8 op so'n situasie van toepassing? Moet die kerkraad die struikelblok vir daardie paar lidmate wegneem en die predikante opdra om voortaan slegs die vroeëre orde van diens te gebruik?

Ek noem 'n derde voorbeeld: daar was broeders en susters wat 'n groot moeite gehad het met die gekombineerde erediens wat ons op Sondag 27 Januarie saam met die sendinggemeente van Mamelodi en Soshanguve gehou het. Party van hulle het selfs uit die diens weggebly. Ek kan dit maar reguit noem want hulle praat ook self openlik daaroor. Die kerkraad het van te vore van hul besware geweet.

Moes die kerkraad daarom ter wille van daardie gemeentelede die gesamentlike erediens afgestel het, om geen struikelblok in die gemeente neer te lê nie? Was 1 Kor. 8 op hierdie situasie van toepassing?

Maar wat dan as daar lidmate is wat so enthoesiasties is oor daardie gesamentlike erediens op Sondag 27 Januarie dat hulle oortuig is dat ons voortaan tenminste kwartaalliks so'n diens met ons swart broeders en susters moet hou, by voorkeur 'n gesamentlike nagmaalviering. Hulle glo dat dat die kerk die voorbeeld moet gee in ons land om tot 'n nuwe, meer regverdige Suid-Afrika te kom en dat gekombineerde eredienste die noodsaaklike begin daarvan is.

Hulle beskou dit soseer as 'n gewetenssaak dat hulle hulself afvra of hulle nog wel lid van die gemeente kan bly as die kerkraad nie met hulle saamstem nie.

Moet die kerkraad, om geen struikelblok vir dáárdie broeders en susters neer te lê nie, aan hulle wens gehoor gee? Vra die onderwys van die apostel van Christus in 1 Kor. 8 dit?

U sien, gemeente, as ons in enige situasie waarin ons binne die een gemeente nie saamstem nie, ons deur 1 Kor. 8 moet laat lei, kom ons danig in die moeilikheid. 'n Toepassing van hierdie Skrifgedeelte op enige situasie waarin broeders of susters beswaard voel, veróórsaak eerder probleme as wat dit probleme oplos. Ons kan selfs aan die tirannie van allerhande minderhede in die gemeente uitgelewer raak.

Maar wanneer is 1 Korinth. 8 dan wél van toepassing?

Kom ek bedien u God se Woord in hierdie hoofstuk onder die volgende tema:

WIE MEEN DAT HY STAAN, MOET OPPAS DAT SY BROEDER NIE VAL NIE.

Daarom moet elkeen in die gemeente op die volgende drie dinge let:

  1. HOE DAT ONS STAAN
  2. WATTER WEG ONS GAAN
  3. WAT DOEN ONS CHRISTUS AAN.

1. Waaroor gaan dit in ons tekshoofstuk, gemeente?

Die apostel Paulus sny hier in sy brief 'n heel spesiale kwessie in Korinthe se gemeente aan. Te wete die vraag of jy as christen vleis mag eet wat eers op 'n altaar in 'n afgodstempel gelê het. En allerlei ander kos wat aan die afgode geoffer is. Want die woord in vs. 1 wat in ons vertaling met "offervleis" vertaal is, beteken letterlik: "dit wat aan die afgode geoffer is". En die heidene in Griekenland in daardie dae het nie net bepaalde diere aan hul gode geoffer nie, maar ook koring, neute, olywe, druiwe en so meer. En brood, melk, kaas, wyn en olie.

Maar sulke spyse wat aan die afgode voorgesit is, is nie alles genuttig nie. Slegs 'n gedeelte is op die altaar verbrand. Die res is verdeel tussen die offeraars en die priesters. Die offeraars het in een van die bysale van die tempel 'n gewyde maaltyd gehou. Die priesters het van hul deel ook geëet, maar hulle het daarvan ook verkoop in die winkelsentrum by die tempel. Gevolglik kon jy as christen dus op allerlei manier met offerspys in aanraking kom. Jy kon genooi word vir 'n partytjie, deur familie, deur kollegas, deur jou werkgewer, wat by 'n afgodstempel gehou is en waar tien teen een vleis en ander kos op die tafel gesit sou word wat tevore op die altaar gelê het.

Maar selfs as jy gewoon jou inkopies by die winkelsentrum gedoen het, was daar 'n goeie kans dat 'n gedeelte daarvan eers in die afgodstempel gebruik is.

Waarskynlik het die gemeente van Korinthe hulle probleme hiermee in 'n brief aan Paulus voorgelê. Hul probleme was heeltemal verstaanbaar. Die apostels en oudstes van Jerusalem het mos 'n besluit geneem juis met betrekking tot die eet van offerspyse. Ons lees dit in Handelinge 15. Na 'n hele diskussie of die christene uit die heidene nog steeds aan die seremoniële wette uit Moses se dae gebind moet word, is die volgende besluitteks in 'n brief aan die kerke geformuleer: "Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerey. As julle jul hiervan weerhou, sal julle goed doen".

Maar hoe moes hierdie uitspraak in die praktyk van die daaglikse lewe in Korinthe toegepas word? Moes jy dan by alle kos wat jy wou koop en by alle partytjies waarvoor jy genooi is, eers vra of daardie kos dalk op die afgodsaltaar gelê het? !

Daar was broeders en susters wat daarvan hoegenaamd geen probleem gemaak het nie. Hulle het baie eenvoudig en logies geredeneer: daar bestaan feitlik geen afgode nie. Kyk vs. 4 e. v.: 'n afgod is mos niks nie. 'n Blote fantasie. Daar is geen ander God nie, behalwe Een: die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Natuurlik, die heidene ken baie gode en baie here, in die hemel en op die aarde, maar ons glo mos nie in daardie sogenaamde gode nie. Nou maar goed, as daar geen afgode bestaan nie, bestaan daar ook geen afgodsvleis ens. nie. Vleis is vleis, kos is kos, en dit maak nie saak nie of dit in 'n afgodstempel was of nie.

Maar daar was ook ander lidmate in Korinthe se gemeente. Broeders en susters wat baie meer huiwerig teenoor alles wat met die afgodsaltaar in aanraking was, gestaan het. Vir hulle was dit nie sommer vleis nie, maar iets waarmee hulle onlangs radikaal gebreek het en waarmee hulle voortaan niks meer te make wil hê nie.

Twee opvattings in die een gemeente. Teenoorgestelde menings. Menings wat tweespalt kon veroorsaak.

In ons tekshoofstuk lees ons dus die apostel se reaksie op hierdie probleem.

En nou is dit die eerste ding waarop ons moet let, broeders en susters, hoe breed pastoraal Paulus hierdie meningsverskil begin bespreek. Hy gee nie dadelik 'n antwoord op die vraag wie in die gemeente reg is, en wie verkeerd nie. Maar hy haal eerste die houding van die een teenoor die ander in die kollig.

Want by sulke meningsverskille bestaan daar altyd die gevaar dat ons met ons eenvoudige en logiese redenerings so oortuig raak van ons eie gelyk, dat ons nie eintlik meer 'n oog vir die standpunt van die ander het nie. Ja, ons kan maklik bietjie geringskattend begin neersien op almal wat nie met ons saamstem nie.

Die apostel sê: jou kennis van sake, jou insig in die probleem kan jou sommer "opgeblase" maak. Jy het goeie dalk argumente, jy staan miskien sterk in jou standpunt, maar as daar by jou nie meer as 'n logiese teoretiese redenering is nie, sal jy die gemeente van God daarmee regtig nie opbou nie. Jy sal net jouself stig. Jy raak maar net selfversekerd, eiewys, verwaand.

Nee, jou kennis van sake sal met liefde gepaard moet gaan. Liefde tot God en jou naaste. Blote kennis van God se bestaan beteken mos ook niks nie. Eers as jy hom liefhet, wil God jou ook ken. So moet jy ook in liefde in hierdie meningsverskil die opbou van jou broeders en susters soek. En nie jouself nie.

Dié les moet ons in elk geval almal op onsself toepas, broeders en susters. Ook as ons 'n antwoord soek op die vrae wat ek in die inleiding op my preek gestel het. Want kom ons kyk nog 'n slag na daardie voorbeelde:

Is gemeentelede wat op prinsipiële gronde wil hê dat ons weer in swart pakke en met hoede die heilige nagmaal vier, of wat van die kerkraad eis dat die alternatiewe orde van diens weer afgeskaf word, in die lyn van 1 Kor. 8 "swak" broeders en susters vir wie ons geen struikelblok mag neerlê nie?

Dit is bes moontlik dat hulle veeleer tot die "opgeblase" kerklede behoort waarop in 1 Kor. 8 gewys word. As hulle naamlik hul siening as onaantasbaar beskou en enige argument wat aangevoer word om aan te wys dat hulle standpunt nie billik is nie, by voorbaat verwerp. Of as hulle meer hul eie standpunt wil hooghou, as om die gemeente op te bou.

Is die broeders en susters wat besware teen 'n gesamentlike erediens met die sendinggemeente het, of lidmate wat die kerkraad wil dwing om voortaan kwartaalliks juis sulke dienste te belê, "swak" broeders en susters wat maklik deur ons skuld kan struikel?

Hulle kán opgeblase kerklede wees, wat maar net vir hul eie standpunt 'n oog het en na die argumente van ander nie eens wil luister nie. Mense vir wie die handhawing van eie standpunt belangriker is as die opbouing van Christus se gemeente en die uitbreiding van sy Koninkryk.

Maar ewe goed kan u, kan ek, kan die kerkraad 'n opgeblase houding inneem teenoor sulke broeders en susters. Ons kan ewe goed bietjie minagtend neerkyk op lidmate wat vandag nog meen dat jy 'n swart pak of 'n hoed moet dra as jy die nagmaal vier; of op lidmate wat nie raaksien dat die nuwe orde van diens geen vrug van 'n vernuwingsdrang is nie, maar juis terugkeer na die liturgie uit die Reformasietyd; of op die broeders en susters wat moeite gehad het met die gekombineerde erediens waarin ons sendelinge bevestig is.

Die eerste vraag wat ons onsself moet afvra is: as ons meen dat ons in ons standpunt sterker staan as die ander- hoé staan ons dan teenoor die ander? Hoe staan ons teenoor God en sy gemeente?

2. Dit lyk vervolgens in 1 Kor. 8 asof die apostel Paulus dié broeders en susters wat eenvoudig redeneer dat daar geen afgode bestaan, en dat daar dus ook geen afgodsspyse bestaan nie, wel gelyk gee. Hulle ís reg, hulle moet net nie opgeblase raak nie.

Maar dit is slegs skyn, gemeente. Moet ook maar kyk: nêrens in hierdie hoofstuk noem Paulus daardie kerklede "sterk" nie. Hy praat wel van medebroeders wat "swak" is, maar hy vermy dit om die ander daarteenoor "sterk" te noem. Dit doen hy wel in sy brief aan die Romeine, hoofstuk 14 en 15, maar daar gaan dit ook oor 'n ander saak, 'n middelmatige saak waarin sterkes en swakkes mekaar moet aanvaar en verder help.

Maar as ons Paulus se brief aan die kerk te Korinthe verder lees, kom ons al gou agter dat dit hier regtig nie oor 'n middelmatige saak gaan nie.

Aanvanklik sê die apostel maar net, in 'n wyse pastorale aanpak: al is julle ook reg met jul standpunt, hoe staan julle daarmee teenoor jul medebroeders?

Maar in die vervolg maak hy indringend duidelik dat die lidmate wat hoegenaamd geen probleme met die eet van offerspys het nie, hulleself op 'n gevaarlike pad begeef. Nee, nie net gevaarlik vir hul swakker broeders en susters nie, maar ook gevaarlik vir hulself! Want as hul sonder beswaar allerhande funksies in die afgodstempels bywoon, begeef hul hulself weer heeltemal in die invloedsfeer van die heidendom en hulle onderskat die realiteit van die bose geeste. Daar bestaan inderdaad geen afgode nie. Maar die duiwel bestaan wel. (Kyk 10: 19 en 20) En die duiwel beskik oor 'n menigte duiwelse geeste wat voortdurend daarop uit is om God se kinders na die heidendom terug te trek.

Kyk wat skryf die apostel in 10: 12: "Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie". En vs. 14: "Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens". En hy sluit in vs. 20 en 21 af met: "Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die HERE opwek? Is ons, wat meen dat ons met ons logiese standpunt sterk staan, is ons miskien sterker as Hy? ".

En daarom, omdat die pád wat party lidmate van die kerk te Korinthe meen te kan loop, 'n pad vol gevaarlike verleiding is, dáárom moet die apostel van Christus waarku dat swakker broeders en susters sommer op daardie pad kan struikel en val. Maar "val" beteken hier dus: terugval in die heidendom!

Maar dan kan ons hierdie Skrifgedeelte dus nie sommer op enige situasie toepas nie, gemeente. Ons lê nie in enige saak waarin ons nie met ons broeder saamstem en waarin ons nie aan sy wense toegee nie, 'n struikelblok vir hom neer nie. Eers as ons hom saamneem op 'n geváárlike pad vol gevaarlike duiwelse verleidinge, kan in die lyn van 1 Kor. 8 gesê word dat dit ons skuld is as ons broeder struikel en ten val kom.

Kom ons kyk nogmaals na die voorbeelde wat ek in die inleiding op hierdie preek genoem het: as die kerkraad nie elkeen in die gemeente oproep om met swart klere en hoedens na die nagmaal te kom, gaan hy die gemeente dan voor op 'n pad wat maklik tot terugval in 'n goddelose lewe kan lei? Eers as jy dit uit die Skrif kan bewys, kan jy vir die kerkraad verkwalik dat hy 'n struikelblok vir sy broeders en susters neerlê.

As die kerkraad die gemeente oproep tot 'n gesamentlike erediens met ons swart broeders en susters ter geleentheid van die bevestiging van die drie sendelinge, om saam die HERE te dank vir sy voortgaande kerkvergadering, roep die kerkraad die gemeente dan saam op 'n gevaarlike pad waarop swakker lidmate maklik kan struikel en tot ongeloof verval? As die kerkraad om die swakker broeders en susters van Mamelodi en Soshanguve tegemoet te kom, in dié diens laat tolk en ook uit hul kerkboek laat sing, neem hy sy eie gemeente daarmee saam op 'n weg vol verleiding? Eers as jy dit kan bewys, mag jy sê dat daardie erediens van Sondag 27 Januarie 'n struikelblok in die gemeente was.

As die kerkraad uit nugtere oorwegings die voorstel afwys om voortaan kwartaalliks gekombineerde nagmaalsdienste met die sendinggemeente te hou, omdat dit 'n onnatuurlike en geforseerde demonstrasie van eenheid sou wees, gaan die kerkraad die gemeente dan voor op 'n pad wat tot afval van die Here kan lei?

Eers as jy dit kan bewys mag jy praat van struikelblokke in die gemeente.

Nee, gemeente, as ons situasies soek waarop 1 Kor. 8 van toepassing is, kom ons by heeltemal ander voorbeelde.

Ons kan dink aan keuses wat ons broeders en susters in sendinggemeentes moet maak met betrekking tot allerhande tradisies waarin heidense religieuse elemente 'n groot rol speel. Wat van bepaalde begrafnispraktyke in Mamelodi wat regstreeks met die voorouerverering verband hou. Dié broeders en susters wat sou sê: ons glo mos nie meer aan die betekenis van voorouergeeste nie; daardie begrafnisgebruike is vir ons maar net 'n ou tradisie van ons stam, sou hulself op 'n gevaarlike pad begeef en hul swakker broeders en susters sou deur hul voorbeeld maklik in die heidendom kon terugval.

Met betrekking tot onsself sou ek die voorbeeld van fliek kon noem. Of 'n kritieklose gebruik van die televisie. Daar is broeders en susters wat meen hulle is sterk genoeg om die verleiding wat ongetwyfeld van fliek en allerhande rolprente op die televisie uitgaan, te weerstaan. Maar dan waarsku die apostel van Christus: al soú jy so sterk wees -maar is jy regtig? !- op watter weg gaan jy jou swakker broeders en susters voor? Besef jy dat dit jou skuld kan word dat een van hulle uit die kerk uit in die wêreld teruggesuig word?

En wat van die gebruik van drank? Jy ag jouself miskien sterk genoeg om sonder probleme vier glasies agtermekaar te drink. Is jy regtig so sterk? Maar besef jy die gevaar vir jou broeder in Christus, wat deur jou skuld dronk kan raak of selfs 'n alkoholis kan word?

Nadat Paulus in 1 Kor. 8 ons die vraag voorgelê het hoe ons met ons kennis staan teenoor die Here en sy gemeente, opgeblase of vol liefde, is die volgende vraag: watter pad gaan ons met ons kennis?

3. En so het ons alreeds by die derde en laaste punt uitgekom: besef jy wat jy doen as jy jou broeder voorgaan op 'n pad waarop die duiwel heelwat vatkans het?

Jy voel jouself dalk sterk in jou geloof. Jy reken jy kan daardie pad sonder gevaar loop. Maar wat van jou swakker broeders en susters? Mag jy dit riskeer dat deur jou voorbeeld jou swakker broeder of suster verlore gaan?

Maar kyk dan hoe skerp die apostel aan die einde van die hoofstuk sy woorde kies, broeders en susters: vs. 12: "deur so teen die broeders te sondig, sondig julle teen Christus"!

En dink dan nog 'n slag aan die voorbeelde wat ek nou net genoem het, gemeente. Dít kan dus gebeur as ons alte seer vertrou op ons geloofsinsig of ons geloofskrag en onsself in allerhande situasies vol verleiding begewe; as ons hoegenaamd geen probleme met fliek het nie, as ons trots is op die hoeveelheid drank wat ons sonder beswaar kan wegdrink: dalk kom ons nie self ten val nie. Maar as 'n broeder of suster deur my voorbeeld na te volg, wel struikel en in die wêreld teruggesuig word, het ek nie net teen daardie broeder of suster gesondig nie. Ek het teen Christus gesondig! Teen Christus wat vir daardie broeder of suster gesterf het! Christus was bereid om ter wille van ons redding Homself tot in die dood op te offer. Maar ek het net aan myself gedink, myself sterk genoeg gewaan om 'n pad vol verleiding te loop, sonder om my om my swakker broeders en susters te bekommer.

Wat doen ek Christus aan as ek myself sterk genoeg waan om 'n gevaarlike pad te gaan, 'n pad waarop my swakker broeder kan verlore gaan?

Dít is die uiteindelike vraag waarmee Christus se apostel ons huis toe stuur, gemeente.

1 Kor. 8 dwing ons nie om in enige saak waarmee 'n broeder moeite het, maar toe te gee al wil hy ons ook saamneem op 'n pad waarvan nie bewys kan word dat Christus ons daarop saamroep nie.

Maar 1 Kor. 8 waarku ons om self nie ons broeders en susters saam te neem op 'n pad waarop hulle Christus kan kwytraak nie.

Ons moet liewer daardie heeltemal onnodige, en ook vir onsself gevaarlike, pad los, as om ons broeders en susters te los.

Want hoe moet ek eendag voor Christus verskyn sonder daardie broeders en susters?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)