Die wonderbaarlike visvangs as 'n les vol beloftes

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Lukas 5
Preek Inhoud: 

PREEK OOR LUKAS 5: 1-11

Weet u hoedat een van die eerste preekstoele in die christelike kerk gelyk het, broeders en susters?

Ons het dit nou net gelees: 'n visserskuit.

Ons Here Jesus Christus het mos die visserskuit van Simon Petrus gebruik om daarvanaf die skare mense die Evangelie van God se Koninkryk te verkondig. Die mense het teen die berghelling gestaan of gesit, en die Here Jeses het in die skuit gesit sodat die geluid almal mooi kon bereik.

Maar toe het ons Here na daardie kerkdiens dié visserskuit ook gebruik om 3 nuwe predikante, sê maar: sendelinge, in hul amp te bevestig. Hy het 3 van die apostels wat Hy gekies het, Simon Petrus, Johannes en Jakobus, met behulp van daardie visserskuit voorberei op hul aanstaande taak.

Want die Here Jesus het hulle op 'n wonderbaarlike wyse 'n net vol met visse laat vang. En toe vir hulle gesê: "So sal julle van nou af vir My 'n kerk vol met mense vang".

Daardie wonderbaarlike visvangs was 'n les met die oog op hul komende werk as sendelinge. 'n Les vol beloftes. Maar ook 'n les wat daardie apostels klein wou maak en afhanklik van hul magtige Here. Want die vergadering van die kerk is en bly uiteindelik sy werk.

Ek wil vanoggend bietjie met u na daardie les kyk. Want ook ons vandag moet nog altyd daarvan leer.

Die eerste ding wat moet opval, is dat die Here vir Petrus, Jakobus en Johannes sê, na hulle stom verbaas is oor die groot klomp vis wat hulle gevang het: "Van nou af sal julle mense vang".

Het Jesus sy vangs nie alreeds binnegehaal nie? ! So pas het die mense mos op die strand gestaan en dring om na Jesus se woorde te kan hoor. Hulle het selfs so vorentoe gebeur dat hulle Hom bykans in die water gestoot het! En waar Hy ook al gaan, oral stroom die mense toe.

Maar blykbaar moet daardie mense nog gevang word. Hulle swem wel in Jesus se omgewing, maar bly nog buite Jesus se nette. Hulle voel wel aangetrokke deur Jesus se preke en wonders. Maar hulle is nog nie oorwonne nie.

En die Seun van God soek nie net belangstelling nie. Hy soek bekering. Hy soek onderwerping aan sy Woord, oorgawe aan Hom as die Heer van die lewe.

Daarvoor skakel Hy dus sy apostels in. En vandag sy sendelinge, predikante en ouderlinge. Hulle moet die mense wat met belangstelling "aangeswem" kom, vang in die nette van die kerk en tot oorgawe aan die Seun van God bring.

Soos die Here Jesus later, voor sy hemelvaart, gesê het: "Gaan heen, maak dissipels van al die nasies..... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het".

Dis nie genoeg dat mense kerk toe kom omdat daardie leraar so wonderlik preek, of omdat die mense jou so wonderlik bystaan as jy in die moeilikheid is nie. Hulle moet kom omdat hulle hul gewonne gee aan die Seun van God wat nuwe lewe aan hulle wil skenk.

Maar hoe -en nou kyk ons na 'n tweede ding wat die aandag trek in ons teks- hoe moet God se knegte dit regkry?

Wel, hulle hoef feitlik maar net die bevel van hul Here uit te voer. Hoe snaaks daardie bevel dalk ook mag lyk.

Om dit vir hulle te leer, het die Here Jesus vir Petrus opgedra om die nette uit te gooi op klaarligte dag. Terwyl hy en sy maats die die hele nag deur geswoeg het sonder om iets te vang.

Dit voel vir Simon Petrus maar snaaks en taamlik sinloos om nóu opnuut te gaan visvang. As die son warm op die water skyn, sal hulle mos geen visse vang nie. Maar nou ja, as Jesus dit so wil hê, sal hy so maak.

Maar ook later, as Petrus en die ander apostels ménse moet vang, sal dit dikwels onbegonne werk lyk. Sinloos. Hoe dikwels kom knegte van Christus voor situasies te staan waarin hulle by voorbaat geneig is om tou op te gooi. Of om nie eens te begín nie.

As jy, na die mens gesproke, kan verwag dat die mense tog nie na jou sal wil luister nie-

As jy uit ervaring weet dat hulle hoogstens uit nuuskierigheid in jou omgewing sal bly rondhang, maar hulle beslis nie sal laat vang nie - waarom sou mens dan nog aanhou probeer?

Maar Christus se vissers van mense moet leer om te luister na die bevel van hul Heer. En as Hy stuur, moet hulle gehoorsaam. Nie sélf die kanse bereken nie. Maar die uitslag van Hom verwag.

Maar dán sal hulle ook verbaas staan oor die resultaat. Dít word vervolgens baie duidelik uit hierdie les.

Kyk wat het gebeur met Petrus en sy maats: toe hulle gehoorsaam op Christus se snaakse bevel die nette opnuut uitgegooi het, het hulle darem so'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur.

Maar daardie vol nette vorm 'n belofte van vol kerke. Van nou af moet hulle mense vang. Moeilike werk dikwels. Skynbaar sinlose werk partymaal. Maar as hulle gehoorsaam die bevel van hul Heer uitvoer, maak Hy die nette vol. Dan word die kerke vol.

Die dissipels het dit al gou agtergekom, broeders en susters. Petrus, Johannes, Jakobus en al die ander. Orals waar hulle die Evangelie van God se Koninkryk soos 'n visnet oor die mense uitgegooi het, is daar mense gevang. Orals het geloof en bekering gekom.

Daarvan is die hele kerkgeskiedenis vol. Dit is 'n geskiedenis van moeite, teleurstelling, skynbaar sinlose werk partymaal. Nogtans is dit 'n geskiedenis vol wonders. Die hele wêreld het daardeur verander. En ontelbaar veel mense uit allerlei lande en volke en velkleure is alreeds gevang vir Christus.

Want Christus se bevel is nooit 'n sinlose bevel nie. Hy sal sélf daarvoor sorg dat al dié mense wat deur sy Vader tot die ewige lewe uitverkies is, "gevang" word. As sy knegte gehoorsaam doen wat Hy aan hulle opgedra het, sal hulle aanhoudend verbaas staan oor die resultaat daarvan.

En nou kyk ons nog 'n slag na Simon Petrus. Hy is so onderstebo van al daardie visse skielik in sy nette, dat hy baie mooi besef dat hierdie Jesus nie sommer 'n leraar in Israel is nie.

Hy begryp: hierdie Jesus is die Here self. Want wie kan beskik oor wind en water, vissen en voëls as God alleen?

Maar teenoor hierdie groot Seun van God voel Petrus hom skielik ook so klein dat hy voor Jesus se knieë neerval en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige man".

Dit is die regte houding vir 'n kneg van die Here, broeders en susters. Petrus voel nie vereer en trots dat die Here hom as sy kneg uitgekies het nie. Hy reageer nie: "Ek is presies die man wat u soek, Here".

Maar Simon Petrus sê: U kan my nie gebruik nie, Here. Ek is te sondig om u kneg te kan wees. Los my maar uit.

Juis as Simon só reageer, is hy vir die Here nogtans bruikbaar. Dan sê die Here: "Moenie vrees nie, Ek benodig jou as visser van mense"

Petrus het later so'n houding van kleinheid en onbruikbaarheid wel opnuut moet leer. Want hy het naderhand tog homself toenemend 'n baie goeie kneg van Christus begin voel.

Toe Jesus se kruisdood naderby gekom het, het hy gemeen: "Al sal almal ook aanstoot aan U neem en U in die steek laat, dan tog nie ek nie. Ek is bereid om saam met U te sterwe"

Hy het in 'n heeltemal verkeerde ywer sy Here met die swaard wil verdedig en 'n soldaat wat Christus wou gevangeneem, die oor afgeslaan. Hy het sy Here vervolgens tot die heel laaste wil volg en bystaan, maar die gevolg was maar net dat hy Hom verloën het.

Daarom het Christus na sy dood en opstanding 'n nuwe, tweede wonderbaarlike visvangs op dieselfde plek gereël en Petrus toe opnuut so klein gemaak dat hy gesê het: "Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens".

Want slegs sulke mense kan Christus gebruik. Mense wat hul eie kleinheid en sondigheid besef. Geen mense vol eiedunk nie, maar knegte wat hul krag enkel van hul Heer verwag. Mense wat voel dat hulle feitlik heeltemal onbruikbaar is en wat verwonderd is dat Jesus hul nogtans roep.

Slegs sulke klein knegte sal deur die Here bruikbaar gemáák word om aan sy groot werk van mense van saam te doen.

Tenslotte: ons lees aan die einde van hierdie geskiedenis dat die drie apostels, na hulle hul skuite aan land gebring het, alles verlaat en die Here Jesus volg.

Dis 'n opmerklike ding. Vis vang en verkoop- dit was hul besigheid. Hulle het hul nagrus opgeoffer om weer eens 'n hoeveelheid vis te kan verkoop. Maar wanneer hulle dan midde op die dag baie meer ontvang as wat hulle snags gehoop het om te vang, los hulle sommer die hele handel.

Hulle kon met al hierdie visse 'n klomp geld verdien.

Maar hulle offer hul eie belange op aan die belang van hul Here. Hy roep hulle tot 'n ander taak. 'n Belangriker taak. En daardie werk lewer ook 'n groter wins op: die redding van die ewige dood van 'n menigte mense.

Dit was vir Petrus hulle 'n groot offer.

Maar toe het hulle nog nie geweet dat die Here Jesus self 'n nog veel groter offer sou bring ten voordele van ons almal. Hy sou Homself offer in die ewige dood.

Ons weet vandag wel van daardie offer van Christus self. Daarom is daar vir sy knegte vandag nog veel meer rede as vir Petrus hulle allerhande persoonlike belange ondergeskik te maak aan die saak van Christus.

Hulle word daarvan regtig nie armer nie. Inteendeel, as hulle vandag wil saamwerk aan die wins vir God se Koninkryk, mag hulle self eendag as eerstes daarin deel.

U mag aan 'n winsgewende saak saamwerk, ds De Boer, ds De Visser, ds De Vries. U mag tot eer van u Heer aan die verlossing van sondaars werk.

En as u klein bly daaronder, en gehoorsaam, sal u eendag grootliks verbaas wees oor dit wat, ondanks u swakhede en gebreke, Christus reggekry het.

U broeders en susters, is die visse wat vir Christus gevang moet word. As óns 'n vis vang, beteken dit sy dood.

Maar as Christus ons vang, beteken dit vir ons die ewige lewe.

Laat u dan vang, in geloof en bekering.

Dan sal ons as visse saam met ons vissers van die een verbasing in die ander val oor die grootheid en goedheid van ons God en Here.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)