Die reddende krag van die evangelie definitief bevestig in die gelykenis van die bouery

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Matthéüs 7
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 86: 1, 2, 3
Ps 91: 1, 2
Ps 91: 5, 6
Ps 71: 1, 2, 3
Ps 71: 13, 14
Lees: Psalm 71
Teks: Matt 7: 24-29

Brs en srs,

In die Bergrede het die Here Jesus baie indringend gepraat. Hy het die evangelie van redding deur genade alleen, so by die mense gebring dat hulle moet kies. Hulle kan nie die woorde van hierdie rede langs hul neerlê en verder leef asof niks gebeur het nie.

Die Here Jesus het ook vir die gelowiges 'n aantal skerp waarskuwings gegee. Ons het daaraan die laaste twee weke aandag gegee. Hy waarsku vir die verskynsel van valse profesie. Laat jou nie mislei deur valse profete nie. Want die einde van die dwaalweg wat hulle wys is die dood.

Maar moet ook nie jouself mislei nie. Dink nie te gou jy is reeds in die Koninkryk nie. Want nie net Here Here roep is genoeg nie, dit gaan daarom dat jy jou deur jou geloof ook in beweging laat bring om die wil van die Vader in die hemel te doen.

Om vir oulaas die dodelike erns van sy woorde te onderstreep vertel die Here Jesus as die slot van die bergrede 'n gelykenis.

Hierdie gelykenis is 'n laaste dringende oproep om jou deur Jesus Christus te laat red.

Die reddende krag van die evangelie definitief bevestig in die gelykenis van die bouery

  1. Wie is die fondament?
  2. Wie is die bouers?

Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister...

Hierdie woorde van My...

So vra die Here Jesus nadruklik aandag vir Homself.

In die bergrede het Hy steeds die mense verwys na die Vader in die hemel. Hy het min of meer steeds met sy vinger gestaan en omhoog wys. Doen jou werke nie vir die mense nie. Besef daar is 'n Vader in die hemel wat sien. Hy sien jou hart.

Maar nou, in die slot van die bergrede, trek die Here Jesus heel duidelik die aandag van die hoorders na Homself toe.

Elkeen wat na hierdie woorde van My luister...

Hier praat Jesus duidelik as een wat gesag het. Hy onderwerp die mense aan sy eie gesag.

Luister na hierdie woorde van My.

So presenteer die Here Jesus Homself as die Middelaar tot die Vader.

Ek is die weg die waarheid en die lewe.

Niemand kan tot die Vader kom behalwe deur My nie.

Dit moet vir die hoorders van die bergrede baie duidelik gemaak word.

Jesus wys hier die pad na die lewe, die pad na die Vader in die hemel, maar ( en dit is belangrik), daardie pad kannie betree word sonder die Seun nie.

Buite Christus om, kom jy nooit uit by God nie. Ook al probeer jy hoe hard. Dit is die sterk boodskap van die N.T.

Daar is maar een Naam waardeur jy gered kan word. Daardie Naam is die naam van Jesus Christus.

En daarom is dit 'n saak van lewe of dood, wat Christus vir jou beteken.

Wie is Hy?

En wat is jou posisie teenoor Hom?

Die bergprediking is nie sommer 'n woord van 'n profeet nie, dit is nie sommer 'n begaafde prediker wat aan die woord is nie.

Heel die prediking dring, of eintlik dwing tot 'n keuse.

Tot 'n antwoord op die vraag: Wat dink jy van die Christus?

Gemeente, daardie vraag wag op 'n antwoord van elkeen van ons vanoggend. Jy kan die antwoord op die vraag nie uitstel nie.

Wat dink jy van Jesus Christus?

Op daardie vraag is maar een antwoord moontlik wat jou lewe kan red.

Dit is hierdie antwoord: Hy is die Christus, die Seun van die lewende God, wat een is met sy Vader.

Niemand kan tot die Vader kom, behalwe deur Hom nie.

Wat sê Hy?

Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en doen.

Aha, sê nou baie mense, luister en doen!

Dit is waaroor dit gaan.

Geen woorde nie, maar dade.

Slegs die daad beteken werklik iets!

As die kerk relevant wil wees in hierdie wêreld moet sy liewers ophou preek en dade begin stel.

Dit klink nogal aanneemlik.

Geen woorde, maar dade!

Maar dit is wel 'n misverstand oor wat die Here Jesus hier sê.

Kyk maar, die Here Jesus vra hier in die eerste plek aandag vir sy woorde.

Seker dit is ook woorde wat tot dade oproep, maar die woorde kom eerste.

Mens moet eers na die Here Jesus luister.

Voordat jy allerhande dinge begin doen.

Eerste luister. Want as jy te vinnig begin met dinge doen, doen jy die verkeerde goed. Dan loop jy eerder die Here in die pad, as dat jy besig om die vir jou aangewese weg te gaan.

Daarom begin die bergrede ook heel nadruklik met die saligsprekings.

Dit is 'n genadige woord van vryspraak vir sondaars wat skuldbewus is.

Hulle wat treur sal vertroos word.

Die sagmoediges sal die aarde beërwe.

Hierdie toeseggings word as genadegeskenke uitgedeel. Die arme van gees, die hongerende en die dorstige, die sondaar wat alles van God verwag... hy word vrygespreek.

God kom eers met die versekering dat Hy alleen jou kan verlos. Ja selfs met die belofte dat Hy jou reeds verlos het. (Salig is jy!)en dan eers kom Hy met Sy gebooie.

Dus die Bergrede is in die eerste plek vir gelowige ontvangers.

Dit is vir hoorders van die evangelie. Die evangelie van genade.

Salig is julle ! Mense wat hierdie bevrydende woord met altwee hande aanvaar het, kry vervolgens die hande vry om besig te gaan met die gebooie.

Dus jy mag nooit die gebooie van Christus in die bergrede losmaak uit die geheel nie. Die eenheid moet jy handhaaf.

Sonder die saligsprekings vooraf vir hulle wat op God hoop, kan jy met die streng eise wat vervolgens gestel word glad nie uit die voete nie.

En as ons nou kom by die gelykenis wat die Here Jesus hieraan vaskoppel, verstaan ons ook oor watter rots die Here Jesus praat. Die rots is sy woord.

Maar omdat ons die woord nie kan losmaak van Christus nie, kan ons ewegoed sê: Die rots is die Here Jesus self.

Vir die eerste hoorders van hierdie gelykenis, die Jode, het hierdie beeld nie heeltemal onbekend voorgekom nie.

Hulle ken die beeld uit die O.T.

Daar word die Here dikwels aangedui as die Rots. Ons steenrots is die Here!

As die Here Jesus nou die bekende beeld van die rots toepas op Homself en sy eie woorde, dan onderstreep Hy daarmee weereens die eenheid van die Vader en die Seun.

Ek is die rots. Ek is die steenrots waarop die nuwe volk van God moet bou.

Ons kan dit nog anders sê: Die woorde en die dade van Jesus Christus is die rots van ons lewe.

Dit is die fondament waarop ons ons lewenshuis moet bou.

Sy verlossingswerk en sy bevrydende woord, dit is die rots, die vaste grond.

Op hierdie fondament kan veilig gebou word.

Met hierdie vasstelling dat die woord en die werk van Jesus Christus die enigste fondament is, is ook die fondament vir ons preek nou gelê. Ons wil op die fondament verder bou in punt 2.

2. Wie is die bouers?

In die gelykenis wat die Here Jesus vertel is daar twee mense besig om te bou.

Van hulle meld die Here Jesus dat die een 'n verstandige bouer is en die ander een 'n dwase bouer.

Nou moet u goed oplet dat in die verhaal wat die Here Jesus hier vertel, twee keer amper presies dieselfde woorde gebruik word. Daar word gebou en later gebeur 'n ramp.

Die woorde is presies gelyk: En die reën het geval, en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm...

Die ding wat die Here Jesus hiermee nadruklik by ons wil tuisbring is dat vir die oog die twee huise presies dieselfde is.

Hulle is ewe groot, ewe sterk. Hulle ondergaan dieselfde kragte van die natuur.

En tog is daar 'n verskil.

Die fondament.

Maar ja, dit kan jy natuurlik nie sien nie.

Tenminste voorlopig nie.

En tog... later sal blyk dat dit juis die verskil gaan maak.

Laat ons nou eers uitvind, wie bedoel die Here Jesus hier eintlik?

Wie is die verstandige en wie is die dwase bouer?

Is dit die gelowige teenoor die ongelowige?

Staan hier die kerk teenoor die wêreld?

Dalk het ons dit reeds vir onsself vasgestel. Ons is natuurlik die verstandige bouers, ons kom kerktoe. En hulle daarbuite hulle is die dwase bouers.

Maar dit is tog nie die geval nie.

Immers dan sou die teestelling wees, mense wat luister teenoor mense wat nie luister nie.

Maar die Here Jesus maak 'n ander teestelling. Daar is mense wat net luister. En mense wat luister, en vervolgens doen!

Waar dit nou om gaan is dit: Altwee luister!

Ons kan ook sê: Altwee is hoorders van die bergrede.

Of nog 'n bietjie nader: Altwee sit en luister in die kerk en hoor die prediking van die evangelie.

Om kort te gaan gemeente, dit gaan hier oor ons vanoggend.

Oor kerkmense.

Onder ons is daar dwase en is daar verstandige bouers.

Altwee is besig om te bou.

Op mense toegepas: Elkeen van ons bou aan sy lewenshuis.

En by ons mense is ons uiterlike lewenstyl ongeveer dieselfde.

Ons gaan almal kerktoe, ons hoor dieselfde prediking, ons lees uit dieselfde bybel.

En tog... luister en luister is twee.

Daar is 'n luister wat gevolg word deur doen.

En daar is 'n luister, en verder bly dit daarby.

Dit het altyd in die kerk gebeur en dit gebeur nog altyd.

En daarom benadruk die Here Jesus so sterk, luister moet gevolg word deur doen, anders help die luister jou niks nie.

Dan is die luister sonder enige betekenis.

Ons moet ook nog oplet dat hier met die doen nie soseer die praktiese, sigbare dade bedoel word nie.

Laat ons sê dit wat ons goeie werke noem nie.

Nee die punt is dieper.

Kyk, wat die Here Jesus wil sê is: die verskil is onsigbaar.

Die fondament is immers onder die grond.

Goeie werke kan gesien word. Moet ook gesien word.

Maar hier gaan dit oor die deurdring van die woorde van die Here Jesus in jou binneste. Dit gaan daarom of jy die woord ook werklik aanvaar as die fondament onder jou lewe en jou lewensstyl.

Dit is namelik moontlik om as hoorder van die evangelie 'n lewenstyl op te bou wat heeltemal daarby pas. Geen mens kom agter nie. Jy bou 'n huis soos jou broers en susters. Jy doen ongeveer dieselfde soos hulle.

Jy praat ongeveer dieselfde soos hulle.

En dit gaan goed. Niemand kom agter nie.

Goed, die fondament van jou lewe is op sand gebou. Maar sand is darem 'n redelik aanvaarbare bougrond.

En tog, as daar 'n groot ramp kom, soos 'n vloedramp, dan verspoel die sand en daarmee verspoel jou fondament. Jou huis stort in.

Maar onthou, 'n vloedramp kom nie dikwels voor nie.

Dus voordat die verskil tussen die twee huise uit die gelykenis aan die lig kom, dit kan 'n lang tyd duur.

Dit kan vir jare goed gaan. Die een huis lyk so goed soos die ander.

Maar wanneer sien jy die verskil?

Dit sien jy in die uur van die krisis!

Want die uur van die krisis is die uur van die waarheid.

Dan blyk of daar 'n vaste fondament onder jou huis is of nie.

Daarom praat die Here Jesus hier van 'n verstandige bouer en 'n dwase bouer.

Wat is die verskil tussen verstandig en dwaas?

Dit is dat 'n verstandig iemand verder kyk as wat sy neus lank is.

'n Verstandig iemand kyk deur skyn heen.

Iets kan vir die oog pragtig lyk en baie aantreklik.

Die dwaas gee hom onmiddellik oor.

Maar die verstandige een kyk verder. En vra, wat is die werklikhed agter hierdie skittervertoning?

Agteraf kan ook 'n dwaas wel sien dat hy 'n fout gemnaak het. Dit is maklik genoeg.

Maar die verstandige een kyk vorentoe en neem betyds sy maatreels. Hy hou al van tevore rekening met 'n noodsituasie wat kan kom en daarop stem hy sy dade nou af.

Dink ook aan 'n ander gelykenis van die Here Jesus oor die dwase en die verstandige meisies.

Die kortsigtigheid van die dwase bruidsmeisies het hulle duur te staan gekom. Maar die verstandige meisies het van tevore met besondere omstandighede rekening gehou. En toe dit gebeur was hulle voorberei. Geen probleem vir hulle nie.

Nou goed, die uur van die waarheid is die uur van die krisis.

Wanneer kom nou die noodlottige storm uit die gelykenis?

Is dit die laaste oordeel?

Ons kan daaraan dink. Dilaaste oordeel is inderdaad 'n krisis waar sal blyk of jou lewe op die regte fondament gebou is.

Maar gelukkig is die laaste oordeel gewoonlik nie die eerste storm wat oor ons lewe kom nie.

In sy genade gryp God in hierdie lewe dikwels op die laaste oordeel vooruit. Hy kan al voor die tyd storms laat kom.

Hy kan sommer ons lewe in 'n krisis dompel.

'n Ernstige siekte, skielike verlies van iemand vir wie jy baie lief is, 'n ploseling opkomende lewensprobleem.

Of moontlik 'n krisis in die lewe van die gemeente.

En juis dan blyk op watter fondament jou lewe gebou is.

Spoel die eerste stormwater jou van jou voete?

Bring die eerste lewenskrisis vir jou onmiddellik die gevoel van: dit help nie om in God te glo nie!?

Of bring 'n krisis jou op die knieë en leer jy daaruit om terug te gaan na die fondamente van jou lewe?

So kan enige krisis 'n geestelike ervaring word, gemeente.

Ek stem saam dit is glad nie aangenaam om van hierdie krisisse in jou lewe te ondervind nie.

En tog, dit kan genade wees dat die Here jou so beproef!

Dit kan 'n voorreg wees om in 'n storm die hegtheid van die fondament van jou lewe weer 'n slag goed te besef.

Want dit help jou regtig verder en gee vir jou ook weer moed vorentoe.

Dit hoef trouens nie altyd so 'n dramatiese gebeurtenis te wees nie.

Aan 'n preek is nie soveel dramaties nie.

En tog is die bedoeling van enige preek om jou lewe in 'n krisis te bring.

Want die woord van Christus bring jou in daardie krisis.

Jy moet jouself na elke preek weer afvra: Bou ek werklik op die rots?

Dit geld vir ons almal gemeente. 'n Mens hoef nie oud te wees om verstandig te bou nie.

Inteendeel. Juis die jeug kan ons hier aanspreek.

Immers wanneer jy jou lewe begin opbou, waar begin jy?

Kan jy sê, ek wil eers die lewe geniet en later as ek ouer is sal ek wel besluit of ek Jesus Christus as die rots van my lewe wil aanvaar?

Seuns en dogters, dit is 'n onmoontlikheid. Dit werk nie so nie.

Iemand wat begin bou, moet met die fondament begin.

As jy eenmaal tot dakhoogte gevorder het, kan jy moeilik dan nog die fondamente begin lê.

Tensy jy bereid is om van voor af aan te begin. Dit laaste gebeur natuurlik wel eens. Maar dit is 'n moeilike pad. En daarby, het jy van jou eerste boupoging al 'n groot gemors gemaak, wat jy moontlik glad nie meer kan herstel nie.

Dus onthou: As jy jonk is dan neem jy die vernaamste lewensbeslissings. Jy kies vir jou 'n beroep. Jy kies vir jou 'n lewensmaat. Jy begin 'n sekere lewenstyl.

Wel, as jy dit doen buite Christus om, word jou bouwerk 'n gemors. Want jy het nie 'n fondament wat hou nie.

Tenslotte. Die laaste woorde van die bergrede.

'En sy val was groot. '

Hierdie woorde bly nog dreigend naklink as die Here Jesus klaargepraat het.

Die mense was verslae oor sy leer, meld Matteus.

Met toenemende verbystering het die mense die prediking van die bergrede gehoor.

As dit dan so staan, as God se eis so streng is, hoe moet ons dan gered word?

Gemeente, laat ons ook maar by die mense gaan staan met dieselfde vraag: Hoe moet ons gered word?

Ag ja, brs en srs, die antwoord weet ons nou: Gaan na Jesus Christus!

Laat Hy die rots van jou lewe wees!

Ons het genoeg geluister om daardie antwoord te weet.

Maar nou nog die daad.

Want luister en doen was nog altyd twee dinge.

As jy gered wil word, luister, luister weer, en doen vervolgens ook.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)