Miga profeteer oor die koms van die Messias

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Miga 4
Preek Inhoud: 

Voorsang: Ps 100
Ps 61: 1-4
Ps 61: 5, 6
Ps 82
Ps146: 1, 2, 7, 8
Lees: Miga4: 1-13
Teks: Miga4: 14-5: 3

Geliefde gemeente,

Sekere situasies kan mens soms in 'n krisis laat beland. As daar dinge gebeur wat 'n mens self nie meer kan hanteer nie dan het jy 'n situasie van krisis.

So kan 'n mens ook praat van 'n geloofskrisis of 'n geestelike krisis. Dit is daar wanneer dinge in 'n mens se lewe gebeur wat jy as mens of as gelowige nie kan hanteer nie. Die feite wat plaasvind kan jy op geen manier in verband bring met dit wat jy tot dan toe altyd geglo het.

So raak jy in 'n geloofskrisis.

Nou hoef so'n krisis op sig nie alleen maar negatief beoordeel te word nie. Immers 'n mens kan uit 'n krisis veel ryker tevoorskyn kom as wat hy voor die tyd was.

Dit kan ook wees dat jy na die krisis jou geloof verloor het.

Dan het jy 'n negatiewe gevolg van die krisis, hoewel misskien moet jy eerder se: in die krisis het uitgekom wat in jou was of wat nie in jou was nie.

Dus miskien kan ons dit so saamvat: in 'n krisis kom jou lewe en jou lewensoortuigings in 'n weegskaal. Jou geloof word geweeg en voldoende, of moontlik te lig bevind.

Die tyd waarin Miga geleef het was ook so'n krisissituasie. Nie die minste vir die profeet self nie.

Immers Miga glo vas in die betroubaarheid van die beloftes van die Here. En daar was 'n belofte aangaande Israels behoud en 'n belofte aangaande die koningshuis van Dawid.

Maar daardie geloof kom in 'n ernstige krisis. Want Miga wil sy oe nie sluit vir die vir die sondes van die heersende klasse in Israel, insluitende die koninklike familie, in Jerusalem nie.

Miga besef, oor hulle kan alleen maar 'n oordeel van God die Here kom. Hulle het die beloftes van God volkome verspeel.

En tog, daar sou 'n seun uit die huis van Dawid vir ewig op die troon sit, so het die profeet Natan namens die Here aan Dawid geprofeteer, wat van die belofte?

Het die belofte dan ongeldig geword?

Is die belofte dan sommer weg asof hy nooit uitgespreek is nie?

Wel dit is die geestelike krisis waarin die profeet Miga hom bevind.

Maar soos gese, 'n geestelike krisis hoef nie net verlies op te lewer nie. So 'n krisis kan ook in wins omgesit word. Dit gebeur met die profeet Miga. Vanuit sy verbystering oor hoe dit met die huidige koningshuis in Jerusalem gaan, kom hy tot profetiese vergesigte waarin sowel oordeel as belofte hul regte plek kry.

Ek verkondig U vandag die woord van die Here soos volg:

Miga profeteer oor die koms van die Messias

  1. Die oordeel oor Dawid se huis staan vas
  2. Die belofte aan Dawid se huis staan vas

Ek dink die meeste van u onthou nog wel van verlede week se preek uit Miga 4 dat ek in die hoofstuk onderskeid gemaak het tussen Miga se eie woorde en die woorde van sy teestanders.

Hulle haal profesiee van her en der uit die Bybel aan om aan die krag van Miga se oordeelsprediking te ontkom.

En so het ons in die eerste 9 verse van Miga 4 te doen met die woorde van Miga se teestanders. Hulle spreek gerusstellende woorde. Daar is geen gevaar. Vir Jerusalem sal dit ewig vrede wees.

Ons het daarop die reaksie gehoor van Miga in vers 10. Hy se die oordeel gaan definitief kom. Seker daar is heil, maar die heil kom eers beskikbaar deur 'n oordeel heen. Eers sal 'n ballingskap kom en eers daar sal die Here red nl. die oorblyfsel wat hom daar in geloof weer sal aanroep.

Op Miga se oordeelswoord van vers 10, reageer sy opponente weer met gerusstellende profesiee, daar mag wel baie nasies verenig wees teen Jerusalem maar die Here sal hulle fyn trap, geen gevaar vir ons hier in die stad nie.

In ons teks van vandag hoor ons hoe Miga self weer die woord neem.

Nou sal jy in hope by mekaar moet kom, o dogter van krygsbendes!

Ons hoor hoe Miga in sy woorde heel nou aansluit by die woorde wat sy teestanders self gebruik het.

Hulle se: Die Here sal die vyande versamel soos gerwe op die dorsvloer en hulle fyntrap.

Dan se Miga heel ironies: Jy sal in hope by mekaar moet kom.

Seker sal Jerusalem die dorsvloer van die Here wees, maar dit is die keer julle wat gedors gaan word.

Jerusalem word deur die teestanders van Miga aangedui met die pragtige profetiese naam: dogter van Sion!Dogter van die vredesberg.

Sal ek se wat julle is se Miga: dogter van krygsbendes! Julle is nie meer as 'n moordenaarskliek, 'n rowersbende wat uit is op die besit van onskuldige verbygangers.

En so verklaar Miga teenoor die selfversekerde leiers van Jerusalem: die vyand het reeds die stad omsingel. Hulle het 'n wal opgegooi. En hulle sal suksesvol wees. Met 'n stok sal hulle die regeerder van Israel op die kakebeen slaan.

Dit beteken die koning van Jerusalem sal deur 'n vreemde vyand verneder word. Om 'n oorwonne koning met 'n stok op die kakebeen te slaan sonder dat hy iets kan terugdoen was maar een van die simbolies afstraffings wat hulle in die ou tyd aan oorwonne konings toegedien het. Die opsetlike en openbare vernedering van oorwonne vyande het die oorwinnaar blykbaar veel vreugde gegee.

Met hierdie profesie onderstreep Miga nogmaals, die oordeel gaan definitief kom.

Al die redenerings wat die leiers van Jerusalem hou sal hulle nie help nie.

Want beloftes van God moet jy jou in geloof eie maak, beloftes van God is nooit te gebruik in 'n redenering nie.

Dus die beloftes vir Jerusalem is wel daar, en ook die heilsbeloftes wat die teestanders van Miga aangehaal het is op sig heeltemal waar, maar hulle mog dit in hierdie situasie nie op hulself toegepas het nie.

Hulle het die reg om hulle op heilsbeloftes te beroep verspeel deur hul eie optrede. Immers dis hulle wat moord pleeg, erfdele roof, weduwees uit hul huise sit, kinders as slawe in diens neem ens.

Daar oor sal die oordeel van God kom.

En tog is die aankondiging van die vernedering en die ondergang van Dawid se huis nie die laaste woord van Miga nie.

Want God is getrou. Hy het sy hulp toegese aan mense wat hulself nie kan red nie en van sy genade afhanklik is.

En daarom mag Miga na die oordeelsaankondiging tog verder praat. Of eintlik moet ons se die definitiewe oordeels-aankondiging van vers 14 vorm die noodsaaklike basis vir die heilsverkondiging van die eerste verse van hoofstuk 5. In die oordeel en deur die oordeel maak God ruimte vir redding

Hy sal Israel weer leer om sy naam aan te roep in nood.

En dan kan Hy weer as die redder en verlosser van sy volk optree.

Vir 'n volk wat meen dat hulle Hom feitlik nie meer nodig het nie het Hy geen woord van troos, want hulle soek mos nie troos nie.

Dit is vandag nog net so. Iemand wat homself nie as 'n sondaar beskou nie, doen ook niks met 'n boodskap van vergewing nie. Dit se vir hom niks want hy het geen probleem waarvoor hy 'n oplossing soek nie. Hy het reeds homself uit sy skuld uitgeredeneer, en dan het hy vir Jesus Christus nie meer nodig nie.

Dit is een van die redene waarom ons as gemeente elke keer weer deur die Heidelbergse Kategismus gaan, wat ons ons sondes wil laat ontdek deur ons met ons neuse op ons ellende te druk. Om dieselfde rede word vir ons ook elke sondag weer die wet van die 10 gebooie voorgelees, sodat ons onsself sou verootmoedig en leer uitsien na die verkondiging van die vergewing deur Jesus Christus.

En so mag Miga in ons teks vanuit die oordeelsaankondiging kom tot die pragtige profesie oor Betlehem Efrata.

Die skoolkinders moet hierdie teks dikwels leer vir die Kersfees:

En jy, Betlehem Efrata, jy is wel klein om onder die geslagte van Juda gereken te word...

Na die voorafgaande kan ons nou wel verstaan hoekom Miga hier so nadruklik praat oor die kleinheid van Betlehem Efrata. Want juis deur sy kleinheid is Betlehem bruikbaar vir God. God het eendag Dawid uit die klein agterafplekkie Betlehem geroep, maar Dawids huis het groot geword in eie oe daar in Jerusalem. Maar God kan nie werk met groot geslagte en met beroemde name nie. God verkies eerder wat onaansienlik en verag is. Daarmee kan HY verder.

En daarom keer die Here van die selfgenoegsame stad Jerusalem terug na die veragte plekkie Betlehem.

Uit jou sal vir My uitgaan een wat 'n heerser in Israel sal wees.

Let op die woorde 'vir My'. God soek 'n koning wat vir Hom regeer. Nie 'n koning wat sy eie eer of die eer van sy geslag soek nie, maar 'n koning wat maar een passie het, nl die Naam van die Here grootmaak. So het God eendag Dawid verkies as die man van sy hart.

Dawid het nie die koningskap vir homself geambieer nie. Hy wou hom liewers teruggetrek het van die dinge wat vir hom te groot was. Maar die Here het Dawid vir Hom as 'n koning geroep.

Die woorde wat Miga hier in sy profesie gebruik dui duidelik op 'n geboorte wat sal plaasvind.

Die Messias sal nie sommer uit die hemel kom val nie maar hy sal gebore word in Betlehem. So het die Jode dit ook altyd verstaan, immers as koning Herodes vra: waar sal die Messias gebore word dan is daar geen enkele aarseling nie; in Betlehem natuurlik!

Maar uit die verder aanduidings wat gegee word soos: sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van ewigheid, kan ons opmaak dat die Messias 'n hele besondere afkoms sal he. Of Miga self daarby iets verstaan het van die ewigheid van die Seun van God, wat hom as mens op aarde gebore sal laat word weet ons nie, maar seker is dat die Heilige Gees al wel dit bedoel het in hierdie profesie.

God se verlossingsplan vir sy volk le al vas vanaf die ewigheid. En God voer dit uit dwarsdeur oordele en gerigte heen.

Dat die oordeel definitief sal kom onderstreep Miga weereens in vers 2. God sal Israel met sy koningshuis prysgee in 'n oordeel. Daar sal 'n einde kom aan die selfstandige posisie van Israel as nasie.

Maar selfs so 'n definitiewe oordeel kan nie 'n einde maak aan beloftes wat God een dag gegee het nie.

Daaroor in punt 2:

Die belofte aan Dawid se huis staan vas.

Die oordeel van prysgewing van die volk is duidelik begrens tot 'n sekere periode.

God sal hulle prysgee tot op die tyd dat 'n barende gebaar het.

Dit gaan hier in hierdie woorde onmiskenbaar oor die geboorte van die Messias. Die beeld lyk vir my dieselfde as die beeld wat Johannes gebruik in die boek Openbaring. Daar gaan dit in Hoofstuk 12 oor 'n vrou wat 'n kind moet baar. U onthou die draak sit en wag af om die kind te verslind as die vrou gebaar het.

In daardie visioen van Johannes gaan dit oor die Messiasverwagting van die O.T.

Vanaf die begin van die wereldgeskiedenis is uitgesien na die koms van die Messias, totdat in die volheid van die tyd die beloofde kind gebore word.

Aan die geboorte van die Messias mag Miga as profeet beloftes van God verbind.

Die Messias sal as herder van sy volk optree. Hy sal hulle laat wei in die sterkte van die Here. Dit is 'n pragtige beeld. Immers so is 'n koning veronderstel om op te tree. As 'n herder vir sy volk wat vir die aan hom toevertroude skape net die beste soek. Hy laat hulle wei in die sterkte van die Here. Dit beteken, hy leer vir hulle om werklik te vertrou op die krag van die Here. Dit is die Here se sterkte dat sy volk wandel in sy gebooie en hul lewe volkome aan Hom toevertrou.

Wel, dit is die taak wat die komende Messias op hom sal neem.

Hy sal in sy herderlike sorg die goedheid en die liefde van die Here representeer.

Waar mense hulle stel onder sy heerskappy daar sal hulle rustig kan leef sonder hulle deur vyande te laat opskrik.

Op die Messias wat Miga hier profeteer is al die heilsbeloftes wat die O.T. openbaar sonder meer van toepassing. Die psalms wat sing van die heerskappy van die Here oor al die volke van die aarde sal deur hierdie Messias werklikheid word.

En so mag Miga hier al profeteer van die koms en die heerskappy van ons Here Jesus Christus.

Alleen, daardie profesie sal nie sommer in vervulling kan gaan nie. Vervulling van hierdie profesie kom eers deur 'n oordeel heen. Soos Miga dit hier se, slegs 'n oorblyfsel van Israel sal verwerkliking van hierdie profesie kan geniet.

Slegs 'n res van Israel sal terugkeer uit die ballingskap in Babel. Maar daardie res sal die draer wees van die ou belofte wat God aan Israel en binne Israel aan die huis van Dawid gedoen het dat een uit die geslag van Dawid vir ewig op die glorietroon sal sit.

God sal definitief sy beloftes vervul. Dit is wat ook Miga met sy teestanders heelhartig kan saamstem. Heilsbeloftes wat eenmaal deur God gegee is word deur Hom nie summier teruggetrek nie.

Migas kritiek op die valse profete is dan ook nie dat hulle onjuiste woorde spreek nie, maar dat hulle op daardie oomblik nie geregtig is om die heilsprofesiee op hulself toe te pas nie.

Profesie is blykbaar nie ewige waarhede wat op elke plek en in enige situsasie sonder meer aangehaal kan word nie. Nee, ook profesiee het hul tyd en hul plek.

Vir gelowiges wat moedeloos begin raak het die bybel 'n ander boodskap as vir 'n gemeente wat in godsdienstige self- tevredenheid hulle eintlik van God se boodskap niks meer aantrek nie. Om aan 'n kerk waar die leer nog wel reg is maar waaruit die lewe verdwyn het, steeds die bybelse leer van die uitverkiesing tot saligheid te preek sou 'n vorm van valse profesie wees, want so 'n gemeente moet uit sy slaap wakker geskud word.

Dit doen niks af van die waarheid van die leer van die uitverkiesing op sig nie, maar die leer is bedoel vir mense wat troos nodig het in hul eie gevoel van onmag vanwee hul sondigheid.

Ware profesie op die verkeerde oomblik aangehaal is daarom valse profesie.

Daarom is Miga in sy prediking so verskriklik skerp. Dit gaan hom daarom om die volk van God te red.

Selfs na die oordeel is God nog steeds die God wie se Naam Jahwe is, die God wat sy beloftes altyd waarmaak.

En God wil juis daar werk waar menslike moontlikhede tot 'n absolute nulpunt gedaal het.

Immers Hy is die skeppende God. Hy het niks nodig om iets tot stand te kan bring nie. Hy kan spreek en dit is daar.

As van Dawid se huis niks oorgebly het nie, as al die glorie van sy huis verdwyn het dan vind God 'n meisie in Israel met die naam Maria.

In haar bring Hy die wonder tot stand dat Hy skep waar niks is nie. So werk God. Altyd.

Hy laat die Messias wat Hy gestuur het, die Messias wat al die beloftes van die O.T. in Hom verenig het, selfs die dood ingaan. Die mees dwase wat jy met so 'n unieke figuur as 'n Messias kon bedink, maar God doen dit.

Maar deur die dood heen verrig God 'n nuwe skepping.

Jesus Christus is gekruisig sodat ons weer die lewe sou kon ontvang.

Jesus Christus moes die dood sterwe sodat die beloftes van God in vervulling kon gaan.

'n Dwaasheid in die oe van mense. 'n Ergernis vir almal wat meen dat hulle deur hul eie godsdienstigheid hulself wel sal kan red.

Maar dit is die enigste weg tot behoud.

Laat dan ook niemand die fout maak om met behulp van hierdie o. t. profesiee te verkondig dat ons geroepe is en dat dit moontlik moet wees om self op aarde 'n heilstaat te vestig.

Wie dit meen is 'n vals profeet, ook al is hy nog so opreg in sy aanhalings uit die Skrifte.

Daar is vandag slegs een manier om uit die skrifte te lewe. En dit is om in vertroue op die reeds gekome Messias Jesus Christus uit te sien na die verdere vervullings van sy beloftes.

Daarby hoef ons werklik nie probeer om eie berekenings te maak oor die tyd wanneer dit sal wees nie. Wie dit tog probeer dink te groot van homself en sy eie moontlikhede. Hy is bowendien ongehoorsaam aan wat Christus self gese het: Van daardie tyd weet niemand nie, selfs die engele in die hemel nie, selfs die Seun nie omdat die Vader daaroor die beskikking aan homself gehou het.

Dus al wat ons te doen staan is rustig op die Here wag en vertrou en inmiddels ons daaglikse werk met vreugde te verrig want ons weet dat al ons arbeid nie vergeefs is in die Here nie.

Die geloof dat ons arbeid in die Here nooit tevergeefs is nie, sal ons deur enige krisis heen kan help.

Vrae sal daar altyd bly oor die weg wat die Here met jou gaan en hoe dit inpas in die beloftes wat Hy gegee het, maar as ons wandel in sy wee dan kan ons altyd vol vertroue vorentoe beweeg.

Dan oorwin ons al ons krisisse in die geloof dat God nie sal laat vaar wat sy hand begin het nie.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)