Die versoenende God eis die volle liefde van sy volk

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 10
Preek Inhoud: 

Ps 125: 1 - 5
Ps 125: 6, 7
Ps 105: 4, 5 (Doop)
Ps 106: 1, 2, 3, 8, 9, 20
S.B. 8: 1, 2
S.B. 8: 4, 5
Lees: Deut. 10
Teks: Deut. 10: 14 - 16

Broeders en susters,

Verlede week het ons op die katkisasie Sondag 51 bespreek. Daar gaan dit oor die bede: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. In die verband het ons daaroor gepraat dat dit 'n goeie saak is dat jy in jou aandgebed as jy bid om vergewing van wat daardie dag verkeerd was, dat jy dan ook sê watter sondes jy die dag gedoen het. Anders word die gebed om vergewing sommer 'n niksseende algemeenheid. Maar tegelykertyd het ons besef dat dit vir 'n gelowige christen nie altyd maklik is om elke dag 'n konkrete sonde op te noem waaroor jy baie berou het en vergewing vra nie.

In die situasie het ek die stelling gewaag dat dit soms vir jou geestelike lewe goed kan wees dat jy 'n keer ernstig gesondig het en dat jy daarna tot inkeer kom en met 'n groot skuldbesef jou voor die Here buig om van Hom vergewing te vra. Dit kan vir jou 'n geweldige verdieping van jou geloof oplewer.

Wat miskien wel verwag kon word het toe al die katkisante direk planne gaan maak om 'n groot sonde te doen om sodoende tot verdieping van hul geloofslewe te kom.

Of soos een van die katkisante onmiddellik onderneem het om 'n plak tjoklat uit sy ma se yskas te steel met die argument: dan het ek vanaand in elk geval 'n konkrete sonde om vir vergewing te kan vra. Dis goed vir my geloofslewe! Dominee het self so gesê.

U sal verstaan dat dit nie die bedoeling kan wees nie. Dis trouens presies dieselfde kwessie wat Paulus aanroer in Rom 6: Sal ons dan die sonde doen sodat die genade meer kan word? Wel, sy antwoord op daardie vraag is nogal duidelik: Nee, stellig nie!

Wel, aan daardie selfde situasie laat Deut. 10 ons dink. Ons het verlede week gesien dat een van die gevolge van die sonde met die goue kalf was, dat die Here 'n blywende versoeningsdiens instel tussen Homself en sy volk. Dit het geblyk dat die afstand tussen die Heilige God en die sondige volk so groot is, dat die Verbond nie kan standhou sonder dat voortdurend die sonde versoen word nie. Dit gaan vir die volk Israel 'n te swaar opgawe wees om die tien gebooie te volbring.

Wel, daarom word priesters geroep om 'n versoeningsdiens te onderhou en die seen van die Here na die volk toe te dra. Dit is al manier waarop God met sy volk verder kan.

Maar nou daar so 'n versoeningsdiens tot stand gekom het, beteken dit vir die volk nie dat daar nou vir hulle 'n bietjie meer ruimte is om te sondig nie.

Die gedagte kan n. l. sommer maklik by die volk opkom: Daar is nou mos 'n versoeningsreeling, nou sal die eis van die verbond vir ons dan wel nie so streng meer wees nie. Ek weet, dis 'n katkisante redenering, maar so is ons as mense nou maar.

Waar dit in vandag se teks om aan is dat die Here ondanks die versoening wat daar is, tog die eis van die verbond volledig bly handhaaf.

Ons tema vir vanoggend se preek is:

DIE VERSOENENDE GOD EIS DIE VOLLE LIEFDE VAN SY VOLK.

  1. Sy versoening is die grond onder die verkiesing
  2. Sy versoening is die krag agter die vermaning

Kyk, met hierdie woord begin ons teks. Met die woord word die ekstra oplettendheid van die lesers of hoorders gevra.

Want in die verse van ons teks volg eintlik die argumentasie van die opwekking in die voorgaande verse. Nadat Moses aangetoon het dat na die voorbede en die versoening die pad na die beloofde land weer ooplê, sê hy in vs 12: En nou Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here te vrees, in al sy wee te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel.

Ons kan sê teenoor die groot geskenk van die inleiding in Kanaan vra die Here maar een ding: Dit is om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel.

Sien u dat dit dieselfde is as wat die Here Jesus later sal vra as samevatting van die eis van die wet? Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel. Dit is die eerste en die groot gebod.

Dus God vra die volkome toewyding en liefde van sy volk.

Wel, dit is 'n nie-geringe eis, gemeente. Om daardie een God as Enigste al die liefde van jou hart te gee. Dis 'n hele ding.

By so 'n eis kom wel die vraag op: Waarvandaan haal God eintlik die reg om so 'n eis te stel?

Die antwoord op die vraag gee ons teks. En as ons goed daarna luister dan hoor ons verbasingwekkende diepe klanke.

Kyk, sê Moses, die saak is dit: Aan die Here behoort die hemel en die aarde. Die ganse skepping is syne. Hy is die Maker en dus die Eienaar van al wat is.

Die hemel, ja die hoogste hemel, is sy goddelike woonplek. Maar ook die aarde, met al wat daarin is. Dit is van die Here. En Hy verheug Hom in dit alles. Daarby het Hy werklik niks en niemand nodig nie. Want heel die Skepping behoort aan Hom.

En tog. God die Skepper het Israel as sy eie volk verkies.

Die ganse wêreld is syne, ... maar slegs aan die vaders het die Here 'n welgevalle gehad om hul lief te hê.

Gemeente, dit is pragtige woorde ter omskrywing van 'n kostelike saak. U ken die woord 'welgevallé wel. Dis dieselfde as die meer bekende woord 'welbehaé. Met hierdie woord raak Moses n. l. aan die geheim van God se verkiesing.

Hoekom het God hierdie volk verkies? Hoekom het Hy juis hulle vaders liefgehad? Daarvoor is maar een woord: welbehae. Hy het 'n welgevalle gehad om juis hulle lief te hê. Dit kom alles by Hom vandaan. Let op hoe pragtig hierdie verbinding is: Hy het 'n welgevalle gehad om hulle lief te hê.

As mense praat oor die verkiesing van God is hulle altyd weer geneig om die woord van ons kant af in te vul met noodlotsgedagtes (wat ook maar 'n katkisante redenering is). Jy is verkies of jy is nie verkies nie. En dan maak dit verder nie saak hoe jy lewe of wat jy doen of wat jy nie doen nie. Maar so 'n meganiese verkiesingsidee is ver van die Bybel.

Die Here is nie 'n yskoue magswellusteling, wat volkome willekeurig hier en daar mense verkies of verwerp nie.

Nee, sy verkiesing staan in verband met sy warme uitgaande liefde. Sy hart gaan uit na mense en Hy soek 'n liefdesantwoord van mense. En Hy kry dit ook.

Hy het nie slegs die vaders verkies nie, maar ook die kinders deel daarin. In Sy welbehae het die Here die volk Israel uit al die volke uitverkies. Let op: uit die volk uit verkies.

Dit benadruk weer. Al die volke is van God, maar in sy ondeurgrondelike liefde het Hy alleen Israel tot so 'n besondere verhouding met Hom geroep.

In sy gang met hulle as volk vanaf Egypte tot vandag toe moet Israel die verkiesing van die Here erken en Hom daarin prys.

Inmiddels beteken die verkiesing nie dat hulle daardie verkiesing nooit meer kan verspeel nie.

Daar staan n. l. by: 'soos dit vandag is'.

Dus die verkiesing waaroor dit hier gaan is 'n genade wat die Here van vroeer af reeds bewys het en wat tot die oomblik standgehou het. Selfs deur die gevaarlike krisis van Horeb heen.

Dit beteken: Hierdie verkiesing is nie sonder meer 'n ewigdurende besit nie. So gou jy aan die verkiesing van God 'n vleselike gerustheid wil ontleen dat jy 'binne' is, dan het jy die leer van die verkiesing misbruik.

B.v. om die mees voor die hand lêende voorbeeld te gebruik: As jy met 'n beroep op die verkiesing van Israel wil sê: die Here kan natuurlik na die sonde met die goue kalf nie werklik die verbond met Israel verbreek nie, hy kan mos nie op sy verkiesing terugkom nie...

In die geval het jy nog van die verkiesing nog van die erns van die toorn van God by Horeb die ware betekenis verstaan.

Die dreiging met die vernietiging van die volk was bittere realiteit. En daarom het die woorde 'soos dit vandag is' vir die geloof 'n vertroostende klank maar vir die vlees nog steeds 'n dreigende klank.

Hulle is by Horeb slegs ternouernood gespaar en daar hoef niks te gebeur of die dreigende verwerping by Horeb word asnog 'n feit. Nog een ding moet ons daarvan sê en dit is dalk nog die belangrikste: Kyk, in die verband van die hoofstuk kan ons hierdie verwysing na die verkiesende liefde van die Here nie lossien van die versoeningsdiens wat hier in gang gesit is nie.

Hoekom kon die krag van die verkiesende liefde so groot wees, dat dit selfs die groot sonde by Horeb oorwin? Omdat daardie liefde sy basis vind in die versoeningsdiens wat hier begin het.

Verlede week het ons op die agtergrond van die versoeningsdiens rondom ark en tabernakel die Here Jesus Christus sien staan.

Hy is die eintlike Middelaar deur wie die versoening tot stand kom. As Hy nie daar was nie dan kon die liefde van God nie eers tot mense op die aarde uitgaan nie. In elk geval sou so 'n uitgaande liefde van God op aarde van mense geen antwoord ontvang nie.

Dan was die wêreld vir altyd verlore in skuld.

Maar nou dat die Seun van God die versoening van God en mense gewaarborg het, nou kan daardie verkiesende liefde van God ook uitgaan.

Dus dit beteken, die verkiesing, ook hierdie verkiesing van Israel rus in die versoening. Of beter nog, kan ons sê: Die verkiesing steun op die Versoener. Op die Middelaar, deur God geskenk, Jesus Christus.

Of as ons dit nog nuwtestamentieser wil sê, met Paulus: Die gemeente is uitverkies in Jesus Christus. Dit beteken dus die verkiesing vind sy grond in die versoening! Israel het dit alles nog nie so kon verstaan nie, maar as ons Deut. 10 lees dan kan jy amper Jesus Christus met die hande tas. In Hom het jy alles. Verkiesing, regverdigmaking, ewige lewe!

2. SY VERSOENING IS DIE KRAG AGTER DIE VERMANING.

Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.

Vanuit die gedagte van God se genadige verkiesing kom dit nou tot 'n skerp vermaning. Die woorde 'verhard julle nek nie verder nie' roep weer die herinnering op van die voorgaande hoofstuk.

Dit is n. l. die hardnekkigheid van die volk wat steeds die deurwerking van die verkiesing in gevaar bring. Cf 9: 6 julle is 'n hardnekkige volk!

Dit is juis die hardnekkigheid van die volk wat steeds weer die Here tot die uiterste dryf. Die hardnekkigheid bestaan veral hierin dat die volk meen dat hulle uit hulself reg het op die geskenke van God. Daarmee is verkiesing geen verkiesing meer nie! Hulle soek dit in hulself. Asof God hulle vanwee hul geregtigheid uitverkies het

Wel, dat dit nie die geval is nie, dit het genoegsaam uit hoofstuk 9 geblyk. Die les daarvan is dan: Doen dit nooit weer nie en praat so nooit weer nie! Verhard julle nek nie verder nie.

Maar nou staan daar in ons teks nog 'n ander, merkwaardige uitdrukking by: Besny dan die voorhuid van julle hart!

Die vraag kom op, wat beteken dit? Wat kan jy besny aan 'n hart? En ook: wat het daardie besnydenis te doen met die besnydenis as teken van die Verbond?

Om daardie uitdrukking goed te verstaan moet ons iets meer sê oor die besnydenis as simbool.

Die besnydenis as sodanig is nie spesifiek Israelities nie. Baie Semitiese volkere ken die besnydenis-rite. Ook onder die swart volkere van Afrika kom die besnydenis seremonie baie voor.

Die besnydenis waarby 'n stukkie vel van die manlike geslagsdeel (die s. g. voorhuid) weggesny word, is by die meeste volke bedoel as 'n volwassenheidsritueel. Dit is n. l. bedoel om die geslagsdeel beter te kan skoon hou met die oog op die omgang in die huwelik.

Maar in Israel was dit 'n bietjie anders, daar het die besnydenis al plaasgevind op die agste dag na die geboorte. Daarmee is heel duidelik dat die onmiddellike verband met die huweliksomgang losgemaak is.

Dus in Israel het die besnydenis van die voorhuid 'n heel ander doel as die ander besnydenisse. Maar die vraag is nou: waarom tog juis hierdie besnydenis as teken van die Verbond?

Die antwoord daarop kry ons as ons let op die oorspronklike betekenis van die woord wat in ons vertaling weergegee is met 'voorhuid'. Die woord beteken letterlik: belemmering aan die uiteinde. Verstopping aan die uitgang of aan die ingang, sou ons ook kon sê.

Wel, wat doen dan die besnydenis?

Die besnydenis hef daardie belemmering op. Die ingang of die uitgang is weer oop. Die verstopping word verwyder. En as ons dit verstaan het dan begryp ons ook waarom Moses van homself sê: Ag, Here, ek is maar 'n onbesnedene van lippe. Sy lippe is verstop. Daar kom nie uit wat hy wil sê nie.

Of 'n ander uitdrukking: Julle is onbesnede van ore.

Daardie ingang is verstop. Met onbesnede ore kan jy nie hoor nie. Dit word dan deur die Here gebruik as 'n verwyt oor die ongehoorsaamheid in Israel.

En daarmee is ons by ons teks.

Besny die voorhuid van julle hart!

'n Hart wat verstop is is ontoeganklik, onbereikbaar. Die Here wil juis tot die hart van sy volk spreek. Hy soek mos die liefde van hulle hart.

Wel, dan moet daar 'n besnydenis plaasvind. Die hart van Israel, die hart van die mens staan nie sommer oop vir die liefde en die genade van God nie. Daar sit 'n voorhuid rondom ons hart! Ons het eelt op ons siel! Ondeurdringbaar.

Wat die Here ook doen, liefdebetoon, of toorn of wat ook al, solank as die voorhuid daar is, kan Hy ons nie werklik bereik nie. En daarom moet die voorhuid van die hart besny word. Of met die woorde van Esegiel: die hart van klip moet 'n hart van vlees word.

Israel moet die verstopping uit die weg ruim sodat God weer toegang tot hul hart het. As die Here hul hart nie kan bereik nie dan is dit nie Sy fout of Sy swakheid nie, maar dan is dit die verset van die volk. Die probleem lê by hulle. Die voorhuid!

Dit kan nie helderder onder woorde gebring word as met die woorde van Stefanus: (Hand. 7: 51)

Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore (hoor u Deut. 10? ) Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees: net soos julle vaders, so ook julle!

Laat ons ons daardie vermaning ook maar aantrek, broeders en susters, seuns en dogters. Ons bely mos dat die Heilige Gees werk d. m. v. die prediking. Hoe dikwels is vir ons die Woord al verkondig? Oor hoeveel sondes is ons al tot bekering opgeroep? Maar hoeveel verset is daar nog steeds in ons hart teen die Heilige Gees?

Besny tog die voorhuid van julle harte!

Laat die Heilige Gees in jou werk. En breek met sondes wat jy agter die voorhuid van jou hart koester!

Dit is 'n baie kragtige vermaning hierdie in Deut. 10. Ek sal vir u sê hoekom daardie vermaning soveel krag het. Dit is omdat hierdie vermaning voortkom uit die versoening. Uit die magtige evangelie dat God self sorg vir versoening kom hierdie vermaning voort. Sterker kan 'n mens 'n vermaning nie maak nie.

Julle sondes is vir julle vergewe, en daarom besny tog die voorhuid van julle harte.

Die uitdrukking dat die voorhuid van die hart besny moet word, maak ook duidelik dat dit nie om 'n uiterlike gehoorsaamheid gaan nie. Die Here soek nie die voldoen aan 'n aantal verpligtings nie, die afhandeling van sekere uitwendige seremonies nie, maar dit gaan die Here om die opening van julle hart. Julle hart moet hom rig op die Here. Juis omdat die hart van die Here ook na julle uitgaan. Want dan alleen het bekering werklik waarde.

Hy het mos 'n welgevalle in sy volk gehad om hulle lief te hê! Daarom kan Hy ook alleen met liefde genoee neem. Dit is die antwoord wat Hy soek. Dus hier hang alles saam.

Immers daardie liefde van God se kant is alleen bestaanbaar by die versoening. Die versoening deur Christus.

En alleen vanuit daardie versoening kan die eis van die wet sover gaan. Jy moet die Here liefhê met jou hele hart en met jou hele siel.

Kyk, as dit gaan oor gehoorsaamheid aan die wet van God, dan beteken dit buiten Christus om, glad niks nie. Want buite Sy versoeningswerk om, word gehoorsaamheid gesoek in uiterlike, oppervlakkige dinge, soos: As jy nie meer rook nie, dan is jy werklik bekeer, of as jy nie meer alkohol drink nie, daar is die bekering. Of as jy elke dag 'n kwartier lank bid, dan is jy 'n bekeerde.

En voor jy weet is jy met so 'n geloof heeltemaal in die greep van 'n wetsreligie. Maar bedink goed: voldoen aan 'n wetsreligie beteken nie dat jou voorhuid van jou hart dus ook besny is nie.

Bekering gaan baie dieper, dan moet die mes elke dag weer in jou vlees.

Dit sny altyd diep en dikwels pynlik.

Maar ons kan dit deurstaan juis omdat ons daarmee niks hoef te verdien nie.

Want as dit gaan oor verdienste en versoening dan is daar maar een Naam. Jesus Christus.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)