Ook Juda is afhanklik van God se welbehae

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1988-09-18
Teks: 
Génesis 38
Preek Inhoud: 

PREEK OOR GENESIS 38

LITURGIE:
L. Matt. 1: 1-6
Ps. 130: 1, 2 (eerste ber. )
Ps. 130: 4
Ps. 40: 5, 6, 8
Ps. 89: 7
Ps. 89: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het vanmôre 'n baie donker hoofstuk uit die Bybel opgeslaan. 'n Geskiedenis wat amper weersinwekkend is weens die reguit wyse waarop die verwording van die lewe, met name die seksuele lewe, vertel word.

Ek wonder of daar nie ouers met opgroeiende kinders is nie wat geneig is om hierdie hoofstuk by die Skriflesing aan tafel maar uit te los.

En dalk is daar onder die jeug wel seuns of dogters wat hierdie hoofstuk stiekem op 'n stil plekkie met 'n rooi kop gelees het asof dit prikkellektuur was.

Nogtans het God dit nodig gevind om ook hierdie hoofstuk in sy heilige Woord op te neem.

Sodat ons ook uit hierdie afstootlike geskiedenis Hom, die HERE, nog beter sou leer ken.

Want hierdie hoofstuk vertel maar nie net van weersinwekkende sonde en hartstogte van mense nie; maar dit vertel ook op watter wonderlike wyse Hy die lewe verlos.

Genesis 38 is 'n stukkie kerkgeskiedenis, verbondsgeskiedenis.

Jakob se seun Juda word mos in die kollig gehaal. Juda, waarvan ons vandag weet dat God hòm gekies het om die stamvader van Dawid se koningshuis te word. Juda, wat so ook die stamvader van die groot Seun van Dawid, die Redder van die hele wêreld, mog word. Ons het èn Juda se naam è Tamar se naam in die geslagsregister van ons Here Jesus Christus in Matteüs 1 gelees.

Genesis 38 leer ons, dat God Juda nie vir hierdie hoë bestemming gekies het omdat Juda so heilig en goed was nie.

Inteendeel, ons leer hier die wonder van God se welbehae aanbid. Dwarsdeur 'n see van sonde, ook by Juda, bly God aan die verlossing van sy kerk en so aan die redding van die wêreld werk, langs 'n pad wat alle mensetrots en hoogmoed beskaam.

Ons moet hierdie hoofstuk beskaamd en met 'n rooi kop lees- maar dan nie net omdat Juda en Onan en Tamar sulke aanstootlike dinge gedoen het nie, maar omdat die HERE hierdie tipe van mense (en ons herken onsself in hulle!) verkies om saam te werk aan die redding van die kerk en die verheerliking van sy Naam.

So mag ek u die Woord van die HERE bring vanmôre. Saamgevat is dit die boodskap wat uit Genesis 38 na ons toe kom:

OOK JUDA IS AFHANKLIK VAN GOD SE WELBEHAE.

  1. Juda het dit aanvanklik geignoreer.
  2. God het dit deur Tamar aan Juda geleer.
  3. God het dit in die geboorte van Peres gesimboliseer.

1. Hierdie geskiedenis met Juda lyk maar 'n eienaardige deurbreking van die verhaal oor Josef, broeders en susters.

Genesis 37 het die skynwerper op Josef gerig en vertel hoedat Josef se broers so'n afkeer van hulle broer gehad het, weens sy drome, dat hulle hom amper vermoor het. Danksy Ruben is Josef egter nie gedood nie, maar as 'n slaaf aan handelaars verkoop en Egypte toe saamgeneem.

En nou kom daar onverwag sommer 'n hele hoofstuk oor Juda, en eers in hoofstuk 39 lees ons dan verder oor die lotgevalle van Josef in Egypte.

Maar ek het die vorige Sondag in die preek oor hoofstuk 37 alreeds vir u gesê die Bybel gee geen lewensroman oor mense nie. Die Bybel vertel ons kerkgeskiedenis. Die geskiedenis van God met sy volk. En daarom kan die skynwerper nou sommer van Josef na Juda verskuif.

Die Bybel lê self trouens 'n direkte verbinding tussen Genesis 37 en Genesis 38. Vers 1 van ons tekshoofstuk begin mos met die woorde: "In diè tyd" het Juda van sy broers af weggetrek....

Ons word gedwing om hierdie hele sondegeskiedenis van Juda in verband met, ja, teen die agtergrond van die afkeer van Josef en sy drome lees.

Juda kies nie eers die verkeerde pad in hoofstuk 38 nie. Juda is al in Genesis 37 die spoor byster. Ook hy het Josef gehaat en daaraan saamgewerk dat Josef na Egypte toe verkoop is.

Ek weet, danksy Ruben en Juda is Josef nie vermoor nie. Hulle het sy lewe gered.

Maar hulle het hulself en hul broers nie van die sònde gered nie. Hulle het nie ingesien dat hul afkeer van Josef feitlik 'n afkeer van die welbehae van die HERE was nie. Ook Juda en Ruben het geweier om te aanvaar dat hul klein boetie eendag hul meerdere sou wees nie. Hulle het ewegoed daaraan saamgewerk om nie net 'n eiewyse boetie nie maar hul God en sy werkwyse uit hul gesigsveld te verwyder.

En nou vertel hoofstuk 38 ons hoe ook Juda nogtans heeltemal van God se welbehae afhanklik blyk te wees, al wil hy dit aanvanklik ook glad nie aanvaar nie.

Want ons sien dat Juda, nadat hy saam met sy broers Josef verkoop het, vervolgens heeltemal die sig op sy God en die verbond verloor. Hy trek weg van sy broers en sy pa af en vestig hom tussen die Kanaäniete.

Het wroeging hom gepla? Kon hy die verdriet van sy pa nie langer aansien nie? Was hy bang dat hy eendag sy mond sou verbypraat?

Dit mag misskien so wees, maar dit maak nie saak nie. Want nou maak hy dit alleen nog maar erger. Juda verlaat die smal paadjie waarop die HERE die geslag van Abraham geroep het en waarlangs Hy sy heil in die wêreld sal indra, en Juda kies vir die pad van sy oom Esau.

Hy onttrek hom aan gemeenskap van die kerk en soek vriende en 'n vrou in die wêreld, by mense waarvan God al vir Abraham gesê het dat hulle besig is om die ongeregtigheid vol te maak.

Hierdie pad is wel baie breër as diè van die verbond. En aanvanklik dit gaan Juda skynbaar ook voor die wind. Die Kanaäniete ontvang hom welwillend, hy kry 'n spesiale vriend, Hira, hy trou met 'n Kanaänitiese meisie en ontvang by haar 3 seuns.

Sy seuns groei voorspoedig op, die oudste een, Er, trouw ook met 'n Kanaänitiese meisie en Juda hoop om spoedig oupa te kan word. Maar dan begin die rampe.....

Skielik sterf Er. Die Bybel sê nie presies waaròm nie, maar dit word vir ons wel duidelik dat Juda se seuns van hulle pa die onverskilligheid teenoor die HERE en sy verbond oorgeneem het. Ons kan maar aanneem dat hulle soos regtige Kanaäniete grootgeword het.

Maar dan moet Juda weet dat die HERE 'n jaloerse God is wat die misdaad van die vader in die kerk besoek aan die kinders. God slaan Er dood. En Juda sal uit hierdie seun geen kleinseun ontvang nie.

Maar ook uit sy tweede seun, Onan, moet Juda nie nageslag verwag nie. Onan trou wel, volgens die gewoonte, met die vrou van sy broer, maar daarmee soek hy alleen homself. Hy wil die liggaamlike genoeëns met Tamar, wat 'n aantreklike vrou moet gewees het, graag geniet, die erfdeel van sy oudste broer wil hy graag oorneem; maar 'n erfgenaam vir sy broer wil hy beslis nie verwek nie.

Dus voorkom hy bewustelik dat Tamar deur hom swanger word.

Die huweliksgemeenskap word 'n saak van selfbevrediging. Want Onan vrees nie meer die HERE, die God van die verbond, wat die huweliksgemeenskap juis ingeskakel het om diensbaar te wees aan die koms van sy koninkryk.

Daarom slaan die HERE ook hierdie Onan in sy heilige toorn dood.

En die breë pad wat Juda gekies het blyk al hoe smaller te word. Nog maar een seun het daar vir Juda oorgebly, Sela.

Juda skrik wel van die skielike dood van sy twee seuns. Hy voel ook in 'n mate dat dit 'n straf kan wees. Maar hy soek die skuld nie by homself nie. Hy beskou Tamar as die skuldige. En daarom durf hy nie ook Sela nog 'n keer met hierdie vrou te laat trou nie. Hy skuif 'n huwelik tussen Tamar en Sela op die lange baan. Sela moet maar liewer ongetroud bly en Tamar weduwee.

En so het Juda se huis in 'n doodloopstraat gekom. Veral as ook Juda se vrou na verloop van tyd sterf.

Nou is Juda self sonder vrou, twee takke van sy stam het, voordat hulle vrug kon dra, afgebreek. En Juda durf die derde en laaste een nie meer laat probeer om vrug te dra nie. Sy stam sal dus stadigaan afsterf.

Wie die pad van die verbond verlaat, kies 'n heillose weg, broeders en susters. Wie God se welbehae verag en eiewys sy eie koers wil volg, beland in 'n doodloopstraat.

Ja, die weg waarop God ons roep ìs maar smal; en God hou ons daarop klein en swak. Want sy krag word nou maar eenmaal in swakheid volbring. Maar hierdie pad loop nooit dood nie. Terwyl 'n mens wat sy eie koers kies, aanvanklik wel dink hy het nou die ruimte gevind om te kan lewe, hy is vry en onafhanklik, hy kan darem nou sy eie toekoms bou....

Maar God self breek die toekoms al hoe meer af en laat sy pad in die dood vasloop.

Juda het dit agtergekom.

Hy moes leer dat ook hy sonder die God van die welbehae nie kan lewe nie.

2. God sàl hom dit leer.

As die skrik oor die skielike dood van sy twee oudste seuns nie voldoende is om Juda na die pad van God se welbehae terug te dwing nie, dan sal die HERE Juda op 'n nog beskamender wyse leer om tog voor sy welbehae te buig.

Deur middel van Juda se skoondogter Tamar.

Hierdie Tamar, wat heeltemal sonder die HERE grootgeword het, bly soek wat Juda moes gesoek het. Sy begeer om tog moeder in die huis van Juda te mag word en saam te bou aan sy geslag.

Ek durf nie te sê, gemeente, dat hierdie Kanaänitiese vrou in Genesis 38 as 'n voorbeeld van geloof en oorgawe aan die HERE en aan die saak van sy verbond aan ons voorgehou word nie. Dit lyk nie waarskynlik dat Tamar deur Juda en sy seuns, wat self mos die rug op die HERE en sy verbond gedraai het, met die diens van die HERE vertroud geraak het nie.

Ons lees dan ook nie oor Tamar se gelòòf in Genesis 38 nie.

Wel oor die aanstootlike weg wat sy kies om 'n kind uit die geslag van Juda te kan voortbring: vermom soos 'n tempelprostituut wat haar vrugbaarheid aan die godin Astarte wil offer, haar gesig met 'n sluier toegemaak, verlei sy haar eie skoonvader, om dan maar uit hom self swanger te word. En sy sorg dat hy twee bewysstukke by haar agterlaat, waardeur sy hom later as die vader van haar kind sal kan aanwys.

Die verhaal word uitvoerig vir ons vertel. Maar nie om Tamar swart te smeer nie. Om te teken hoe diep Juda in die poel van goddeloosheid weggesak het. En om te wys op watter wonderlike en beskamende wyse die HERE nogtans Juda se geslag tot 'n vrugbare boom in Israël gemaak het.

As Juda na drie maande agterkom sy skoondogter is swanger weens hoerery, weet hy opeens baie goed wat sonde is: so'n vrou behoort in sy familie nie tuis nie! Sy moet verbrand word.

Maar dan konfronteer Tamar hom op die laaste oomblik met die feite: sy gee vir Juda die pand wat sy van hom gehad het (Juda se seëlring met die ketting en sy kierie) as die bewysstukke dat hyself die vader is van die kind wat sy verwag.

En op daardie oomblik breek die begin van bekering by Juda deur.

Ek weet nie wat alles in Juda omgegaan het nie, broeders en susters. Maar God het hom deur Tamar klein gekry. Hy moes toegee: sy is regverdiger as ek! Ons vertaling: "Sy het reg teenoor my" is te swak. Dit moet wees: "Sy is regverdiger as ek".

Tamar het nie, soos hy, haarself en die bevrediging van haar hartstogte gesoek toe sy die gemeenskap met haar eie skoonvader gesoek het nie. Sy het maar net die toekoms vir Juda se huis gesoek, al het sy dit ook op haar eie, Kanaänitiese wyse gedoen. Hy het in Tamar die skuld vir die skielike dood van sy twee oudste seuns gesoek. Hy het gedink hierdie vrou is 'n gevaar vir my geslag. Wie met haar slaap, sterf. Deur haar skuld sal my stam uitsterwe. Maar hoekom het hy dan nie gesterf nie? Hy het nou mos ook by haar geslaap...

Dit is dus nie Tamar se skuld dat my geslag in 'n doodloopstraat beland het nie. Dit is my eie skuld. Ek het dit feitlik aan hierdie Tamar te danke as my stam nou tog nog weer mag uitloop.

So het die HERE deur Tamar Juda beskaam, gemeente. En gedwing om tot inkeer te kom.

Juda sal nageslag ontvang. Maar op watter wyse! Dit sal vir altyd 'n beskamende feit in sy familiekroniek bly. Juda verloor alle grond om oor homself te kan roem. En as Juda dan weer aan die God van sy vader Jakob dink, sal hy eindlik begin verstaan dat hierdie God, sy God!, die God van die welbehae is, wat vir sy reddingswerk in hierdie wêreld nie mense gebruik wat van hulleself so bruikbaar lyk nie, maar juis die wat in menseoë onaansienlik en veragtelik is.

Hierdie God kan een van die jongste seuns van 'n groot gesin tot 'n koning oor almal maak- as Hy dit wil.

Hierdie God kan ook 'n deur en deur sondige Juda tot die stamvader van die koningshuis in Israël maak.

En hy maak so, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Maar sodat elkeen sal moet roem in Hom, die HERE.

3. Om dit te benadruk is in Genesis 38 ook nog vertel van die wonderlike geboorte van Juda se stamhouer uit Tamar se skoot.

Sy blyk 'n tweeling te verwag. En as dan die bevalling begin het en die eerste seuntjie al besig is om uit te kom, verdring skielik die ander kind sy boetie van sy plek en word eerste gebore. Sodat die vroedvrou verbaas uitroep: "Hoe kragtig het jy deurgebreek!" Hierdie seuntjie, wat nou tog die oudste geword het, ontvang dan ook 'n naam wat aan sy wonderlike geboorte herinner: Peres, wat "Deurbraak" beteken.

So het die HERE vir Juda en Tamar en vir al die komende geslagte hierdie kind met sy snaakse naam tot 'n teken van sy wonderlike werkwyse in die voortgang van sy verbond wil maak.

Peres: die HERE self forseer die deurbraak, maar dan so dat ooreenkomstig sy welbehae baie eerstes die laastes sal wees en wat laaste is, eerste.

Want ons blokkeer voortdurend deur ons sondes die pad na die toekoms, na die redding van ons lewe. Maar Hy breek die pad weer oop. Dwars teen alle menslike teëtand en berekening in, dwars deur alle sonde heen triomfeer sy welbehae.

Kyk, en dis hoekom ons ook die naam van Peres, saam met die van Juda en Tamar, terugvind, eers aan die einde van die boek Ruth, as die HERE ook die Moabitiese Rut inskakel om aan die koningshuis in Israël en so aan die koms van sy Seun saam te bou, en vervolgens in die geslagslys waarmee Matteüs sy evangelie begin.

Ons sal dit moet weet: op so'n wyse, uit sodanige mense het God sy groot Koning in die wêreld gebring, om die hele wêreld te verlos. Christus se naam pryk nie aan die einde van 'n lys met illustere name nie. Dit is, inteendeel, 'n lys vol met sondaars.

En jy sal daarom eers beskaamd jouself as 'n sondaar moet leer ken het om hierdie Koning en sy verlossing te kan aanvaar. Want God het geen Koning gegee om mee te kan spog nie, maar een wat sy volk van hulle sondes kom verlos.

God moes op die ou end van bo die deurbraak bewerk en sy eie Seun stuur as 'n versoening vir ons sondes. As die grootste wonder van sy welbehae.

Ek het in die inleiding op hierdie preek gesê, broeders en susters: Ons moet hierdie donker hoofstuk uit Genesis maar beskaamd en met 'n rooi kop lees. En ek sê dit weereens.

Maar dan mag ons tegelyk vol verwondering ons hoofde ophef. Want hierdie God van Juda en Tamar, die God van Peres/deurbraak, wil ook u God wees.

Daar is geen sonde so groot, of by hierdie God kan ons ontferming vind, as ons weer die lewe buite onsself in hom soek. En in sy welbehae mag ook ons, hoe swak in die stryd teen die duiwel, die wêreld en die begeerten van ons eie vlees ook al, bruikbaar wees vir die koms van God se koninkryk.

Maar wie daarom ook nou nog altyd sy eie koers wil volg en nog altyd hom nie aan hierdie verkiesende God en aan sy beskaamd makende werkwyse wil onderwerp nie, die kies vir sy eie ondergang. Die sal eendag moet aansien hoedat hoere en tollenaars ingaan in God se koninkryk, terwyl hy sal moet buite bly. Want God sal hom deur so'n mens niet laat ophou nie. Hy kry sy koninkryk wel vol. Hy is mos die God van Peres! Hy kan, as dit moet wees, self wel uit klippe nuwe kinders van Abraham maak.

Maar in sy koninkryk is daar alleen plek vir mense wat verwonderd sing: "Uit vry guns alleen, uit eewge mededoë, hef ons die hoof omhoog, slegs sterk deur U vermoë".

AMEN

(Pretoria 18 Sept. 1988)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)