God gee nog die ruimte vir gewas en arbeid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 8
Preek Inhoud: 

PREEK OOR GENESIS 8: 20-22

LITURGIE:
Votum en Seëngroet
Ps. 104: 1, 17, 18
Wetslesing
Ps. 104: 20, 21
Gebed
L. Genesis 6: 5-17 & Genesis 8: 13-22
Ps. 107: 15
Prediking
Ps. 65: 5, 6
Gebed
Kollekte
Ps. 65: 4

Broeders en susters,

Is 'n bidstond soos ons vanoggend hou, nie 'n oorbodige besigheid nie?

Ons sal die HERE vra of Hy ook hierdie jaar weer die lande en tuine, ons vrugteboorde en wingerde vrugbaar wil maak sodat ons kan eet en leef. Ons sal vra vir die noodsaaklike reën en of die HERE verwoestende haelstorms wil weghou. En ons vra 'n seën oor die werk wat vervolgens gedoen moet word om die opbrings van die land by ons tuis te besorg.

Maar is so'n gebed wel nodig? Nie oorbodig nie?

Sou daar hierdie jaar niks groei nie en sou ons almal werkloos raak, as ons ons gebed agterweë sou laat?

Daar is tog dele van hierdie aarde waar daar nie of skaars gebid word? En ook daar gaan die lewe gewoon aan. Ook in ons eie land is daar talle mense wat die gebed nalaat en nogtans, net soos ons, die opbrings van gewas en arbeid in hul huise haal.

Ek weet, die tye is nie altyd en orals dieselfde nie. Daar is voor- en teëspoed. Die een keer is die opbrings van die land meer as die ander keer. Daar is periodes met meer en periodes met minder werkloosheid.

Maar hierdie aarde draai eeue lank al om sy as, en al daardie eeue was daar dag en nag, somer en winter, koue en hitte en ook saaityd en oestyd. Daarop het die HERE Homself mos ook vasgelê al baie vroeg in ons geskiedenis. Ons lees dit in ons teksverse. Vandat God dié woorde gespreek het, moet die aarde wel aanhou draai, moet daar ook elke jaar weer, solank as wat die aarde bly bestaan, gewas en arbeid wees. God het dit by voorbaat toegesê.

Maar waarom hou ons dan nog 'n spesiale diens om vir gewas en arbeid te bid?

Bid, broeders en susters- dit is om teenoor die HERE te erken dat dit nie soos vanself spreek dat hierdie aarde nog om sy as draai, dat ons nog lewe, dat ons mag eet en drink nie. God géé dit wel vir ons, jaar in jaar uit, maar eintlik is dit 'n wonder. Alles gaan nie gewoon aan nie. Eintlik is dit heel ongewoon.

En die wat bid, verwonder hom oor die wonder.

As ons die woorde uit ons teks, oor saaityd en oestyd wat nie sal ophou nie, in die verband lees waarin die HERE dit gesê het, moet ons inderdaad insien dat dit 'n wonder is dat God nog ruimte gee vir gewas en arbeid.

Daarom wil ek dié verband vir u aanwys vanoggend, sodat ons gewas en arbeid nie as iets wat vanself spreek, aanvaar nie, maar daarvoor eerbiedig en dankbaar bly bid.

Ek vat die boodskap van ons teks soos volg saam:

GOD GEE NOG DIE RUIMTE VIR GEWAS EN ARBEID

  1. ONDANKS DIE SONDVLOED
  2. DANKSY DIE SOENBLOED

1. Dit is meer as 'n bloot saaklike mededeling wat ons vir kennisgewing kan aanneem, wanneer die HERE in ons teks sê dat voortaan saaityd en oestyd, koue en hitte, dag en nag nie sal ophou nie. Ons lees hier nie dat God 'n natuurwet in werking stel wat van toe af ook inderdaad tot op vandaag in werking gebly het nie.

Die HERE doen hier 'n onverwagse en onverdiende belofte. God beloof aan Homself, en lê Homself daarmee vas op die lewensruimte vir die mens op aarde, terwyl Hy die reg het om die dóód vir ons finaal te maak.

God doen daardie belofte in so'n verband in ons teks dat Hy ewegoed, of selfs nog eerder die laaste reste wat daar van die mensheid oorgebly het, van die aarde af kon weggevaag het. Om vervolgens hierdie aarde weer te laat verdwyn in die woesheid en leegheid wat daar voor die eerste skeppingsdag was.

Want God laat die aarde nie sommer aanhou en draai vir die mense nie. Hierdie wêreld is nie 'n geprogrammeerde rekenaar wat nou sy program wel moet afwerk nie.

Dit het die HERE so pas nog op 'n verskriklike manier duidelik gemaak. Hy het slegs vreugde in die voortbestaan van hierdie aarde, solank as wat daarop mense woon wat Hom vrees en dien. En as Hy sulke mense nie meer vind nie, kan Hy besluit om die onderhoudswerk te beeïndig. Dan kan Hy die wêreld in 'n wye watervlakte verander, alles wat leef wegspoel en die lyke deur die golwe teen die rotse te pletter laat slaan.

So hét God dit gedoen en die aarde is daarvan nog maar skaars droog wanneer Hy die woorde van ons teks spreek.

Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en dié boosheid diepgewortel was in die hart van die mens, het Hy besluit om die hele aarde skoon te spoel.

Nooit word die sonde vir God 'n aanvaarbare saak op sy aarde nie. Hy kan dit nie onverskillig aansien nie. "Daar was smart in sy hart", vertel die Bybel en wie is by magte om volledig aan te voel wat dit gewees het? Die sonde sny deur God se siel. Mense wat net nog vir hulleself lewe, vir hul eie plesier en hulle gedra asof daar geen God bestaan nie en daarom maar hulle eie gang gaan, kan Hy nie uitstaan nie.

Toe dan ook die sonde sy volle maat bereik het, het die sondvloed gekom: moordende water om die sondaars weg te spoel. Geen damwal kon hierdie vloed keer nie, geen berg was hoog genoeg, geen mens ook kon dit regkry om deur te swem sy kop bo die water te hou nie. So hoog het die water gestyg dat selfs die voëls hulleself doodgevlieg het of deur gebrek aan voedsel gesterf het.

En toe het dit beangstigend stil geword op daardie immense watervlakte waarop heel eensaam net 'n lomp houtskuit rondgedobber het.

Maar nou, in ons teks, wanneer die aarde wat nog maar skaars weer drooggeval het en nog damp van die sondvloed- nou hoor ons God dus sê dat Hy die aarde nie weer sal vervloek tervwille van die mens nie, en dat Hy al wat leef nie meer sal tref soos Hy dit in die sondvloed gedoen het nie. Voortaan sal God die onderhoudswerk bly verrig en dit nooit meer heeltemal stopsit solank die aarde bestaan nie.

Dit is 'n baie verrassende belofte, broeders en susters, en u mag nie daaraan verby lees nie.

Want moenie dink dat die HERE hier na die sondvloed die gevoel het dat dit voortaan wel beter sal gaan met die mense, dat hulle hul les nou wel geleer het nie.

God is juis daarvan oortuig dat die mens nog niks verander het nie. Die sondvloed het wel die meeste sondaars weggespoel, maar was nie in staat om ook die sonde weg te spoel nie. Die HERE stel in vs. 21 van ons teks vas dat die versinsel van die mens se hart nog steeds sleg is van sy jeug af.

Moet dié woorde nog 'n keer vergelyk met dit wat die HERE in Genesis 6: 5 moes vasstel, voor die sondvloed. God sien na die sondvloed nog dieselfde as daarvoor: alle versinsels wat die mens se hart voortbring, is altyddeur net sleg. Daar het niks verander nie. Steeds is die mens gedurigdeur geneig om God en sy naaste te haat.

Wanneer die familie Noag -net 8 mense- aarselend uit die ark spring en met 'n gevoel van beklemming heen en weer loop op die grond wat nog suig van die water, kyk die HERE diep in hul harte en Hy weet hoedat dit selfs met die gelowige Noag en sy gesin gesteld is. Onbekwaam tot enigiets goeds. Tot alle kwaad geneig. Uit hierdie harte kan nie spontaan meer iets goeds opkom nie. Die sondige aard is saamgeneem in die ark en sit dadelik weer voet aan wal. So diep het die sonde wortelgeskiet in die mens se lewe. Dit is van kleinsaf dadelik verkeerd. By die eerste die beste baba wat na die sondvloed gebore mag word, sal die gevolge van die sondeval weer kop uitsteek. Ja, die ou Noag self gly alreeds in die volgende hoofstuk uit en sy seun Gam laat blyk dat ook hy 'n slegte hart het.

God sien dadelik na die sondvloed daardie nuwe sondehistorie al kom, wat eeue sal duur.

Nogtans sê God: "Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie... ".

Dit beteken nie dat Hy die sonde voortaan maar laat voortwoeker nie. Hy sal nog wel deeglik telkens met sy straf daaroor kom, nou hier en dan weer daar. En daardie straf kan vreeslik wees. Derduisende mense kan daardeur neergeslaan word.

Maar dit word nie meer 'n totale wêreldafbraak nie. Nie deur 'n nuwe watervloed en nie deur 'n wêreldomvattende oorlog met kernwapens nie. God hou die ruimte vir gewas en arbeid voortaan oop.

Ek het die belofte van ons teks 'n wónder genoem, gemeente. Want as daar een ding duidelik moet wees uit ons teks, dan is dit dat dit nie oor óns is dat hierdie aarde nog bestaan en elke jaar opnuut vir ons kos en klere en so meer oplewer nie. Ons het op niks enige reg meer nie. Ons het die lewe verspeel. Ook ons lewe sou weggespoel kon word. En dan sou niemand van ons dit vir God kon verkwalik nie.

Moet maar altyd bewus bly daarvan. U het geen reg op werk nie, en wie dus vandag werkloos is, het geen reg om te kla nie. U het geen reg op 'n goeie verdienste nie, en dus moet u u skaam as u met die oorvloed wat ons vandag, in vergelyking met soveel ander mense, nog altyd mag geniet, loop en kla dat ons almal moet inlewer teenswoordig.

U het geen reg op gesondheid en geen reg op vryheid nie.

U het nie eers reg op 'n droë sny brood of selfs op suurstof in u longe nie.

Ons is dit wellig as onvervreembare regte gaan beskou, maar al ons vermeende menseregte smelt weg voor die reg van die HERE ons God.

Die aarde draai nog steeds, gemeente. En die lente het weer begin. Die bome begin weer te bot, die gras word weer groen, ons wag vir die eerste reën. Maar ons mag nooit daaraan gewoond raak asof dit so behoort te wees nie.

Die wat sy eie hart ken, moet homself daagliks daaroor verwonder.

2. Waarom het die HERE besluit om al wat lewe nie weer te laat omkom, soos Hy in die sondvloed gedoen het nie? Het God Hom maar by die treurige situasie van na die sondeval neergelê? Het Hy by Homself oorweeg dat dit maar die beste is om in die bestaan van die sonde te berus aangesien 'n nuwe sondvloed tog sinloos sou wees?

U sou dié indruk kan kry uit vs. 21 van ons teks waar ons in ons vertaling lees dat die HERE besluit om die aarde nie weer te vervloek nie, "want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af". Dit beteken mos soiets soos: Ek sou natuurlik weer so kon maak, maar dit gaan My darem niks help nie. Daar sal tog niks verander nie.

Laat God dáárom vanaf die sondvloed die son opgaan oor slegtes en goeies en laat Hy dit reën oor regverdiges en onregverdiges? Laat God Hom dáárom sindsdien nie onbetuig, deur goed te doen en van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul? Het God maar verander, omdat ons ook deur die sondvloed nie verander het nie? Nee, gemeente, daar staan nie in ons teks dat God Hom maar besrustend by die situasie aanpas nie.

Ons kan dan ook beter in vs. 21 pleks van die woordjie "want", "alhoewel" lees.

Dit is 'n beter vertaling wat alreeds in die Kanttekeninge by die Statenvertaling genoem word.

Die Nuwe Afrikaanse Vertaling gee die bedoeling ook goed weer: die HERE sê by Homself "Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom nie... ".

God sien af van 'n nuwe sondvloed, nie omdat die mens sleg gebly het nie, maar alhoewel die versinsel van die mens se hart nog gedurigdeur sleg is.

Al het die mens ook nie verander nie, wil God dit voortaan wel anders doen.

Waarom?

Ons teks gee op die vraag die antwoord.

God word tot sy besluit geprikkel deur die rook in sy neus van die offer wat Noag op die aarde wat deur die water kaal geslaan is, aan die brand gesteek het.

Noag het op 'n eienaardige manier aan die wederopbouing van die wêreld begin. Hy is skaars buite die ark of hy loop stene bymekaar en soek uit die slib.

Maar hy doen dit nie vir homself nie, nie vir die bou van 'n eerste nuwe woning nie. Hy bou daarvan 'n altaar, 'n oond van klippe om iets daarop te kan verbrand. Vervolgens trek hy droë hout van die ark af, begin diere uit die skuit uithaal, maar nie om hulle hul vryheid terug te gee nie... Nee, hy slaan hulle dood en kap hulle stukkend en steek hulle aan die brand op daardie altaar.

Wat maak daardie man? ! Waarmee is hy besig?

Waarom hierdie ding as 'n eerste daad na die sondvloed?

Noag voel dat hy allereers sy houding teenoor die HERE moet bepaal, noudat hy die reddende ark verlaat het. Die lewe gaan nie gewoon weer aan nie. Sinds die sondvloed is daar niks meer gewoon nie. Die aarde wat tot aan die horison leeggespoel is en na die see ruik, weerspieël die toorn van God oor sondige mense.

Dis dié dat Noag halsoorkop begin offer. Hy bal geen vuis na die hemel en gaan nie weseloos om hom heen staan in die leë ruimte en staar nie. Maar hy buig sy knieë voor God.

Kan dit nog? Kan 'n mens nog kniel voor die God wat die hand gehad het in 'n massamoord? U weet dat baie christene en vooral teoloë hulleself die vraag begin afvra het sinds die verskrikkinge van die konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog. Wie kan nog glo in die God van Auswitch en Dachau?

Maar Noag het in die ark geen ateïs geword nie. Hy het nie met die godsdiens gebreek nie. Inteendeel, Hy het die HERE tydens daardie dae en maande van die sondvloed op die eensame water nog meer gaan vrees. Hy het verstaan dat daardie vloed nie God se skuld nie, maar ons skuld was. Hy het ingesien dat God sy reg die vrye loop gelaat het, toe Hy die waters die vrye loop gegee het.

Hy besef, wanneer hy die ark verlaat, blykbaar ook dat daar nou maar iets hoef te gebeur en God se toorn sou opnuut kan uitbars.

Noag ken sy eie slegte hart. En daarom gryp hy dadelik na diere en slaan hulle stukkend om hulle vervolgens in rook te laat opgaan op die altaar.

Dit lyk 'n snaakse gebaar. Daar het al so min diere oorgebly en nou gaan Noag ook nog 'n hele aantal van daardie seldsame eksemplare doodmaak. Het daar nou nóg nie genoeg dooies geval nie?

Maar daardie eienaardige gebaar is die hulpelose gebaar van 'n man wat met baie selfkennis besef dat ook hy en sy kleine gesin die dood verdien. Hulle is deur die ark wel gespaar. Maar ook hulle is die lewe nie werd nie.

Noag soek sêmaar dekking teen die toorn van God agter die offers. Die aarde kleur rooi van die bloed, plaasvervangende bloed waarmee Noag sy eie lewe en dit van sy vrou en kinders probeer red, omdat hy baie mooi weet dat hyself eintlik ook sou moet doodbloei.

En tegelyk besef Noag dat hy met hierdie plaasvervangende dierebloed tog God se toorn nie regtig kan vryspring nie. Daardie dierebloed is onvoldoende om God se toorn oor die sondes te stil.

Ons lees dat Noag offers bring van alle reine diere, waarvan daar sewe paar van elke diersoort in die ark saamgeneem was. Dit lyk asof dit geen end kry nie. Noag offer nie net 'n paar diere nie. Dit lyk asof hy nie meer durf ophou nie. Moet hy net-nou aan sy gesin begin? Moet sy seun op die ou end op die altaar....?

Nee, toe die HERE die lieflike geur wat van die altaar opgestyg het, geruik het, toé het die HERE in sy hart gesê: Ek sal die aarde nie weer vervloek vanweë die mense nie, alhoewel die versinsels van die mens se hart sleg is van sy jeug af.

Vir God was daardie stinkende walm van verbrande diere 'n lieflike geur. Daar staan eintlik: 'n kalmerende geur. Dit was offers wat God se toorn tot bedaring gebring het.

God se toorn is daardeur nie finaal gestil nie. Noag se altaar moes wel bly staan. En die stroom van diereoffers sou nog eeuelank moet aanhou.

Maar hierdie lieflike geur van Noag se altaar was vir God tog 'n voorsmaak van die lieflike geur van die welgevallige offer wat eendag op Golgota gebring sou word. Dit was nie nodig dat Noag sy seun moes offer nie. God sou sy Seun offer, Jesus Christus, die reine mens uit die hemel. Tot 'n volkome versoening van al ons sondes.

Noag se offer het God laat besluit om geen nuwe sondvloed nie, maar nuwe en beter soenbloed te gee.

En dis hoekom die aarde sinds die sondvloed mog aanhou draai. Daarom het God van toe af tot op vandag toe steeds ruimte vir gewas en arbeid gegee. Daarom begin die bome hierdie dae weer te bot en begin die gras weer groen word. Daarom kan ons elke dag eet en drink, skool toe gaan, ons werk doen, selfs sinvol werkloos wees en vir die HERE besigwees. Dit is alles danksy die soenbloed wat ons Here Jesus Christus inmiddels vir ons sondes gegee het op Golgota. Daarom laat God die son opgaan oor slegtes en goeies en val daar op 'n reëlmatige basis reën.

Net danksy daardie offer.

Maar nou eis God ook van elke sondige mens dat hy sy houding teenoor daardie offer bepaal. Hoe ontvang ons elke nuwe dag? As 'n ding wat soos vanself spreek? Of as 'n geskenk van God se genade?

Ook goddelose mense kry van God nog die ruimte om te kan werk en eet. Maar elke hap kos en elke dag lewe verswaar hul skuld by God as hulle nie wil weet van die soenbloed van God se Seun nie. En hulle gaar vir hulleself straf op vir dié dag waarop God se toorn nog een keer in alle hewigheid sal losbars. Want die aarde bly nie ewig so draai nie.

As daar in ons vertaling in vers 22 staan: "Van nou af.. al die dae van die aarde", is dit beter om te vertaal: "So lank as die aarde bly bestaan... ". Moet by die huis maar 'n slag met ander vertalings vergelyk. God stel dus wel 'n grens.

Eendag kom daar in plaas van die sondvloed die laaste vuurgloed van God se toorn waardeur God definitief alle sonde van die aarde af sal verwyder.

En dan sal dit blyk dat ons God 'n verterende vuur is vir almal wat die Seun van God durf vertrap en die bloed van die verbond onrein durf te ag.

Nou maar goed, gemeente, daarom is 'n bidstond vir gewas en arbeid elke jaar nie oorbodig nie.

Die verterende vuur van ons God kan nou slegs gedoof word deur die lieflike, kalmerende reukwerk van ons aanhoudende gebede, waarin mense hul volledige afhanklikheid bely van die versoenende bloed van God se Seun.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)