Sê eerlik en eerbiedig: die Here is 'n regverdig Regter

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1992-02-23
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 4
Preek Inhoud: 

23-02-92

SONDAG 4 HK

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 65 : 1, 2, 6
Gebed
Skriflesing: Jeremia 3 : 1-5, Romeine 1:18-21 + 1:28-2:11
Sing: Ps. 50 : 1, 2, 3
Sondag 4
Prediking
Sing: die Geloofsbelydenis
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 50 : 7, 11
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

ons het nog maar noueliks begin en dit is al die laaste HK-Sondag wat bloot oor ons ellende gaan. Wie is al moeg van die swaar woorde? Kom ons luister eerlik en eerbiedig. Die ontleding van die ellende kom hier tot sy afsluiting, dws. die regsaak wat God teen die mensheid het, is volledig opgebou. Sondag 3 het die oorsaak en die diepte van die kwaad ontleed. Sondag 4 sê wat die strafgevolge is: hoe reageer die Skepper van hemel en aarde op die sonde wat die aarde na die val begin oorheers het?

Hierdie Sondag praat van God se toorn. Antw. 10: 'Sy toorn is verskriklik'. En ons onthou die woorde in die NT: "onse God is 'n verterende vuur" (Hebr. 12:29). En: "want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God" (1 Petr. 4:17). Ons het in Rom. gelees: "Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense" (1:28). God se toorn raak die sonde in die wêreld. Dit tref ook die sonde in sy volk, sy kerk.

Ja, die opbouing van die onderwys in ons Kategismus berei ons voor op die redding: die enigste uitweg wat daar is. Want u moet altyd onthou dat daar net een uitweg is: ons Here wat die toorn van God gedra het. In hierdie sondag hoor u wat werklik op Golgotha gebeur het! Om Christus ontwil moét u luister: en beef voor God se aangesig. Want wanneer ons Christus verwerp, sê die Bybel, "as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teënstanders sal verteer" (Hebr. 10:26v). Op Golgotha het ons Heiland die vuur van die oordeel en die hel op aarde verdra, sodat u God se toorn mag vryspring en sy genade mag geniet. Ek preek vir u oor:

SÊ EERLIK EN EERBIEDIG: DIE HERE IS 'N REGVERDIG REGTER

Die Regter het die reg

  1. om die wet te hou (v/a 9),
  2. die straf te eis (v/a 10) en
  3. om die vonnis te vel (v/a 11).

1. DIE REGTER HET DIE REG OM DIE WET TE HOU (v/a 9)

Sondag 4 is opgebou uit drie vrae wat eintlik drie pleitgronde in die proses is. Die omskrywing van God as "Regter" is hier baie paslik. Wat maak ons nou eintlik in hierdie afdeling van die belydenis, van die leerboekie van die geloof? Is dit 'n klomp droë teorieë wat maar weggelaat kan word? Nee, dit is alles bedoel (met 'n Bybelwoord") om God te regverdig. Ons sê hier baie eerlik en eerbiedig: HERE God, U is reg in die wyse waarom u ons hanteer. U is regverdig as U as regter optree en ons nie in ons sondes vergeet nie. Ons sê sulke dinge eerlik en eerbiedig: ja, altwee kante moet ons dophou. Eerlik is: erken dat God oor joú praat. Eerbiedig: erken dat Gód die reg het om so te praat as Hy in sy toorn maak. Ja, Gód, jou HERE praat oor joú. Nie alleen oor 'n onwetende mens wat goddeloos lewe nie, maar ook oor jou wat baie weet en tog in sonde val.

Ek het gesê: hierdie drie vrae van Sondag 4 is eintlik drie pleitgronde om aan God se toorn te ontkom. Die eerste pleitgrond probeer om die eis van die wet aan kritiek bloot te stel. 'Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van die mens eis wat hy tog nie kan doen nie?'. HERE, U vra teveel, U verwag mos teveel van die mens. Nie net van my nie, maar ook van die arme mense wat u nie ken nie. Ja, ons staan saam met ons medemense voor God se troon. Here, dis jammer, maar ons is nie meer so as U dit wens nie; ons is nie die ideale mense wat U uself voorgestel het nie; ons is sondaars. Vergeet maar daarvan dat ons ooit nog aan u die vlak wat U stel, sal kan beantwoord! Here, is daardie bietjie liefde wat ons U en mekaar gee, nie voldoende nie?

Die 1ste teenwerping is: daar is onmag in ons om aan God se wil te voldoen. Dan sê die HERE egter: wag 'n bietjie, jy mag nie te vinnig met dié verskoning kom nie. Want Ek het jou so geskep dat jy my wil kon doen! Is dit waar, broers en susters: het God jou sondeloos geskep?? Ons is tog juis in sonde ontvang en gebore?! Ja, dis waar, maar die Kategismus stel nou die hele mensheid teenoor God. Die Kategismus wil doodseker maak jy verstaan dat jy buite Christus nooit reg kom nie, nooit met jou sondes wegkom by God nie. Ja, u mag uself aan Jesus Christus vashou! Luister mooi, sodat u dit nooit vergeet nie. Sodat u nooit vergeet dat u Heiland op Golgotha regtig in u plek gely het en hoé swaar Hy om jou ontwil moes ly: ja, om jou ontwil, soos wat jy vandag is.

Ons praat nou van wat die belydenis van die christelike kerk die "erfskuld" noem. Erfskúld staan teenoor ónmag. 'Die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof'. Ek kan nooit sê: maar ek was nie daar nie toe Adam en Eva gesondig het nie. Want die Skrif sê: jy kan jouself nie van die mensheid losmaak nie. God het Adam en Eva as die ouers van die hele mensheid gestel. Hulle het dit geweet. Jy moet dit om Christus ontwil aanvaar. Om Christus ontwil: Hy wat die tweede Adam genoem word. Jy kan nie die erfsonde afwys en tog die genade wil aanvaar nie. Christus het Adam se plek ingeneem om die kans van die wedergeboorte te skep.

Die Regter het die reg om die wet te hou. Dit is die wet van die liefde. God bly liefde eis. Hy bly dit eis, ook wanneer ons eintlik nie meer daartoe in staat is nie. God laat die hoë vlak van sy planne nie los nie! Die hoë, pragtige, wonderlike wêreld van liefde tussen God en mense onderling: dit vra God nog altyd. En wanneer die mensheid Hom afskeep met 'n bietjie godsdienstigheid, sal Hy toornig reageer. Hy sal nooit daardie bietjie as genoeg aanvaar nie. Pligmatige godsdiens verafsku Hy. God eis van die mense: liefde met jou hele hart en siel, verstand en kragte. Liefde met jou hele wese teenoor God en mense. Hoeveel te meer van u wat in Christus so baie liefde ontvang het. Hoe moeilik die pad ook is om die mensheid deur konfrontasie en bekering op God se liefde te wys, God wil dié pad loop.

2. DIE REGTER HET DIE REG OM DIE STRAF TE EIS (v/a 10)

Ek het gesê: hierdie Sondag voer drie pleitgronde teen God se strengheid aan. Die 2de is: kan God dan nie van die sondeval vergeet nie? Sê nou Hy gee vir die mensheid 'n nuwe kans? Dan is die antwoord: nee, dit kan nie 'n uitweg uit ons ellende wees nie. Nou kom ons by die werklikheid van die toorn van God. Ons skram daarvan weg om lang oor God se toorn te dink. Waarom? Ek dink Westerse mense van ons eeu is nie dikwels meer bang vir God se toorn nie. Moderne mense is eerder ongeduldig: so 'n God wat nie bloot liefde en goedheid is, kan ons nie verdra nie.

'n Mooi voorbeeld is Jeremia 3. Die volk besef eindelik hoe swaar dit is wanneer die toorn van God op jou rus. Dan roep hulle Hom eindelik aan: "my Vader, die vertroude vriend van my jeug is U! Sal Hy vir ewig die toorn behou?". Jy kan sê: die volk beroep homself op iets soos Psalm 103, die Nagmaalsdanksegging: "Hy sal nie vir altyd twis nie en nie vir ewig die toorn behou nie". Dan vra die HERE terug: "kyk, dit het jy gesê, maar jy het ondertusse slegte dinge gedoen tot die uiterste toe". Moenie te vinnig vir God se toorn weghardloop en met verskonings kom nie. Israel het God sy "vriend" genoem, maar Hom daarmee maar net vriendelik wou stem. Ons kan God se toorn nie verdra nie. Gelowiges kan dit nie, omdat hulle sy liefde ken. Swak gelowiges kan dit nie verdra, omdat hulle nie graag klein oor hulleself dink nie.

Die antwoord by vraag 10 is eerlik een eerbiedig: 'Nee, God wil nie van jou sonde vergeet nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik, sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen'. By die erfsonde, jou aangebore sondige natuur kom nog jou eie, persoonlike en daadwerklike sondes van elke dag. Dit is wat ons die "erfsmet" noem: jy is nie net in sonde gebore nie, maar jy wys en bewys dit ook deurdat elke kind sy sonde aktief laat word. Hier blyk duidelik dat kerkmense nie van hierdie Sondag in die Kategismus uitgesluit is nie. God se toorn rig homself teen die sondes waarvan jy dink dis kleingoed. Ag, wat is kleingoed in sondes as dit teen die agtergrond van groot genade gedoen word?! God se toorn is verskriklik, wanneer Hy sy heilige Gees van jou wegneem en wanneer jy ook maar één dag van Christus vergeet. Hou Hom vas, jou Heiland, asseblief, hou Hom vas in jou hart!

Want God sal die sonde wat sonder Christus oorbly, sê ons belydenis, 'tydelik en ewig met 'n regverdige oordeel straf'. Dit is allesomvattend van wat kan gebeur: tydelik en ewig, strawwe in jou lewe of ook na jou lewe op aarde. Die boek van die wet praat van liefde, ja, maar ook van vloek: "vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie" (Gal. 3:10). Die regter is reg om dié strawwe te eis. Kyk, vir wie in Christus se liefde bly, word die strawwe nie uitgevoer nie. Durf dan ook kyk hoe die strawwe jou bedreig, as jy vir 'n tyd lank of op een terrein dink jy kan jou eie ding doen. Nee, erken eerlik en eerbiedig God is regverdig. Eerlik: ék het ondanks al die genade nog altyd so 'n swak liefde. Eerbiedig: ek sou U, o my God, so graag met heel my hart en siel en kragte en verstand liefhê en dien.

Die swakheid van ons liefde sê ook: God het die reg om u te beproef. Ons dink dikwels: wanneer ons maar genoeg vergewing vra, sal God ons nie swaar laat kry nie. Vra eerlik vir uself: is u liefde en diensbaarheid so groot dat God nie 'n rede het om u te tugtig nie? Of is daar altyd wel rede om jou te laat voél en laat besef dat jou liefde tekort skiet? Tugtiging: die Bybel gebruik dié woord om te wys hoe God terselfdertyd regstel én bestraf. Die Bybel sê: wees maar bly, wanneer God jou tugtig. Want as Hy jou nie nou tugtig nie, dan kan dit wees Hy bewaar dit vir die dag van die groot oordeel. Onthou: u wat die HERE ken, weet dat die tugtiging altyd van liefde praat, van God se liefde om Christus ontwil.

3. DIE REGTER HET DIE REG OM DIE VONNIS TE VEL (v/a 11)

Die 3de pleitgrond teen God se wyse van regspreek is: ons gaan in hoër beroep. Wanneer alle argumente platval, is daar nog een oor: in die hoogste nood beroep ons onsself op die eienskap van God wat so mooi is, sy barmhartigheid. Voor sy geregtigheid skram ons weg, sy barmhartigheid trek ons aan. Dit lyk 'n baie sterk pleitgrond! Die HERE beroem Homself daarop dat Hy barmhartig is. En tog het die kerk altyd al geweet dat jy nooit die een eienskap van God teen die ander kan uitspeel nie. Die hoër beroep word afgewys.

Kyk, God is groot. Dit sê ook Hy is één. God se eienskappe is nooit in teenspraak met mekaar nie. In ons persoonlikheid is dit so: jy kan, byvoorbeeld, hulpvaardig wees en terselfdertyd ook selfsugtig (jy is hulpvaardig, wanneer jy nie minder daarvan word nie). Of jy kan 'n baie liefdevolle mens wees, maar ook opvlieënd en driftig. Dit is hoekom ons dikwels met onsself moet stry. Die Here God is egter altyd Homself, daar is nie stryd tussen sy eienskappe nie. Ja, God is so barmhartig dat Hy 'n uitweg uit ons ellende gesoek het: in die sending en opoffering van sy enigste Seun. Hy is in sy hele wese barmhartigheid. Hy is egter ook volkome regverdig: Hy kán oortredinge van sy wet nie vergeet nie. Hy het gesê: "op die dag dat jy van die boom eet, sal jy sekerlik sterwe". Hy kan sy eie woorde nie ontkrag deur daarvan te vergeet nie.

Dus sal die Regter die vonnis vel. Dit gebeur op die jongste dag. Sonde gebeur teen die Allerhoogste majesteit. Dit moet dan ook met die swaarste straf aan die hele mens bestraf word: aan liggaam en siel, in die tyd van jou lewe op aarde en ewig. Jy was die beeld van God? Nou word jy heeltemal daarvan beroof. Dit gebeur egter vandag ook al. Ons het uit die indrukwekkende eerste hoofstukke van die Romeinebrief gelees. Mense dra nou alreeds die toorn van God aan hulle liggame en aan hulle siele. "Want toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk" (1:18). Hoe kom die toorn dan konkreet uit? Paulus beskryf dit só: "God het die mense oorgegee aan 'n slegte gesindheid om te doen wat nie betaam nie" (1:28). Dit is die oordeel in die tyd dat God mense oorgee aan hulle sonde. Sondes in denke en in doen: dit is 'n vreeslike straf, wanneer jy jouself daarvan nie meer kan losmaak nie. Dit is verskriklik, wanneer mense nie by God se Woord en wet kan uitkom nie, omdat hulle vasgevang is in die mag van die bose.

En ons sê eerlik en eerbiedig: HERE, U het die reg om dit te doen. Soos ons oor onsself die woorde van Dawid leer gebruik in skuldbelydenis: "Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, [dit erken ek] sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou" (Ps. 51:6). Na dié erkenning van God se regverdigheid, die erkenning van jou eie sonde volg die bekende belydenis: "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang". Ons praat onsself nie skoon nie. Nee, ons regverdig God.

Kyk, sonder Christus sou ons dit nooit regkry om so eerlik en so eerbiedig oor die reg van God se wet, die straf en die vonnis te praat nie. In die kerk hoor jy egter die Evangelie, die blye boodskap op aarde. By alles wat jy oor God se toorn hoor kan jy aan Jesus Christus dink wat aan jou gedink het, toe Hy op Golgotha die storme van God se toorn en die hel op aarde ondergaan het. Om jou ontwil. En omdat God die wêreld liefhet.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)