Die beseëling van die verlossing deur die water van die Skelfsee

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Exodus 14
Preek Inhoud: 

Ps. 31: 1, 2
Ps. 31: 5, 6
Ps. 77: 7, 8, 9, 10
Ps. 106: 3, 4, 5
Ps. 106: 20
Lees: Eks. 13: 17 - 14: 31 & 1Kor. 10: 1 - 13
Teks: Eks. 14: 29 - 31

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend wil ons ons verdiep in die verhaal van die deurtog deur die Skelfsee van die volk Israel. Ofwel, die geskiedenis wat die afsluiting van die uitleiding uit Egipte vorm.

Die volk is nog wel nie op sy uiteindelike bestemming, in die beloofde land Kanaän nie, maar tog kan ons hier praat van die afsluiting van 'n sekere periode. Die verblyf in Egipte is van nou af verlede tyd.

Die Here het die oorwinning oor die Farao behaal. Groot was sy verset, maar groter nog was die krag van die Here. Met 'n sterke hand het Hy hulle uitgelei.

In hoofstuk 14 kry ons die laaste stadium van die stryd van die Here met Farao. Ons sien Farao heeltemal ondergaan. Hy loop homself stukkend op die reg van God op Sy volk Israel, wat aan Farao so dikwels voorgehou is. Hierdie ondergang van Farao met sy hele leër, word soms die 11de plaag genoem. Soos ons later sal sien is daardie aanduiding 'plaag' nie heeltemal reg nie, ons moet hier naamlik eerder praat van straf.

Maar tog is dit interessant om die verdrinking van Farao in die Rooisee te vergelyk met die eerdere plae.

By al die plae was Farao en die Egiptenaars, die slagoffers, en die volk Israel was net toeskouers. Die Here het hulle (en hul land Gosen) steeds verby gegaan.

Maar in hierdie laaste wonder, die deurtog deur die see, is sowel die Egiptenaars, asook die Israeliete betrokke. Maar daar is een groot verskil.

Vir Israel was dit 'n ingrype van God ten lewe, maar vir Egipte ten dode.

Die water wat vir Israel die redding beteken, beteken vir Egipte die ondergang.

Dieselfde water waarin die Egiptenaars hul dood vind, sal vir Israel altyd bly spreek van die nuwe begin.

Immers, hierdie water beëindig definitief hul ou lewe van slawediens en deur hierdie water kom daar 'n opening na 'n nuwe diens, die diens aan die Here.

Ek verkondig U hierdie oggend die Woord van God soos volg:

DIE BESEËLING VAN DIE VERLOSSING DEUR DIE WATER VAN DIE SKELFSEE.

So is die volk:

  1. Blywend van slawediens bevry.
  2. Blywend aan die diens van God verbonde.

1. Eindelik is die dag dan daar. Die volk is deur die Farao vrygelaat. Hulle kan nou maar gaan, om hul God te dien. God was vir die Egiptenaars te sterk gewees. Op die ou end het Farao al die eise van God ingewillig. Die volk kan gaan, die mans, die vrouens en kinders, ja selfs die vee mag saam.

Waarnatoe gaan die reis?

Natuurlik, na Kanaän! sal u sê. Daar het dit alles om gegaan.

Maar wag 'n bietjie, is dit wel waar?

Of, laat ons so sê: Is dit dit wat die Here van Farao gevra het, dat hy die volk permanent na Kanaän laat gaan? Ek dink nie so nie.

Natuurlik, uiteindelik sal die Here Sy volk daarnatoe lei, maar laat ons goed sien dat in die stryd van God met Farao, die beloofde land Kanaän glad nie in geding was nie.

Die inset van heel die stryd aan die hof van Farao, insluitende al die plae is iets anders. Iets baie... geringers.

Aan Farao is naamlik net toestemming gevra dat hy die volk drie dagreise die woestyn laat intrek. Laat ons daarby bedink, daardie drie dagreise is nie 'n tydsaanduiding nie. Moses vra van Farao nie 'n lang naweek vir Israel nie, maar daardie drie dae is 'n afstandsaanduiding. Hulle moet uit die land Egipte uit, en dan 'n tog maak van drie dae die woestyn in, om daar 'n fees vir die Here te vier. 'n Fees van 'n week of dalk 'n maand.

In elk geval daardie fees vir die Here is die inset van die geveg met Farao. Van die begin af tot die einde toe.

In al die gesprekke van Moses met Farao hoor ons nooit van Kanaän, of van 'n blywende vrylating van die volk nie.

Lees maar 'n slag saam.

In hoofstuk 5: 3 kom Moses vir die eerste keer by Farao.

Die versoek is: Laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die Here onse God offer.

As Farao daardie versoek weier, begin die plae.

Ons kyk vervolgens na hoofstuk 8: 27. Daar is dit reeds die vierde plaag. Maar die versoek is nog dieselfde: Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die Here onse God kan offer.

Ons lees by die agste plaag. Dan is ons al by hoofstuk 10: 9: Ons wil 'n fees vir die Here hou! Dan begin die Farao onderhandel.

Die manne kan gaan. Maar vroue en kinders moet bly.

Na die negende plaag, gee Farao toestemming vir die kinders. maar die vee mag nie saam nie.

En na die tiende plaag, hoofstuk 12: 31, kan ook die vee saam: Gaan dien die Here soos julle gespreek het.

Soos julle gespreek het. Eindelik gaan Farao akkoord met die eis aan hom gestel.

Drie dagreise die woestyn in om die Here te dien, met feeste en met offers.

Eindelik gee hy sy toestemming vir daardie fees.

Dit moet ons baie mooi vashou, anders gaan ons hoofstuk 14 verkeerd begryp.

In heel die uittog gaan dit naamlik maar om een ding. Dit gaan om die vraag: Wie het eksklusiewe regte op die diens van die volk. Is dit Farao, of moet Farao uiteindelik wyk vir God se regte?

Dus dit gaan nie om die regte van 'n slawevolk of die bevryding van 'n onderdrukte groep nie. Dit gaan nie daarom dat die volk 'n eie land Kanaän verdien nie.

Nee, in die uittog is die alles beheersende: God se reg op die diens van Sy volk.

Aan daardie reg moet Farao na tien plae eindelik toegee: Gaan en dien julle God. Dus dit is nie 'n toestemming om blywend na Kanaän te gaan nie, maar vir Farao is dit 'n tydelike verlof om die Here vir 'n onbepaalde periode te dien.

Dus ons moenie sê dat die Here Farao bedrieg het nie: Hy laat 'n paar dae af vra en laat hulle dan vinnig oor die grens verdwyn. Nee, dit gaan hier om openbare sake. Die stryd is met oop visier gevoer. Drie dagreise die woestyn in. Daarvoor is nou toestemming verkry, en daar gaan hulle dus op pad na die feesplek.

Maar dan laat die Here hulle nie regstreeks na die mees nabye woestyn gaan nie, maar Hy stuur hulle in suidelike rigting, na Pi-Hagirot. En dit beteken die volk het die land Egipte nog nie verlaat nie.

En deur daardie merkwaardige beweging word die waarnemers van Farao op 'n dwaalspoor gebring, en hulle gee berig aan Farao: Israel is nie in die woestyn nie, maar hulle vlug in suidelike rigting.

En dit was nuut vir Farao. Tot nou toe het hy gereken, Israel sal na die fees terugkom, maar nou vertrou hy dit nie meer nie: Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie?

En daarom neem Farao sy leër saam om hulle te agtervolg.

Hoe dit afloop, dis nie nodig om dit vir u te vertel nie. Ons het daarvan gelees. Farao verdrink met heel sy leër in die Skelfsee.

Maar hoekom?

Omdat hy van sy kant die afspraak verbreek het!

Hy het sy woord nie gehou nie. Hy het opnuut die reg van God op die diens van Sy volk en die reg van God om te bepaal waar hulle Hom moet dien, ontken.

En daarom ontvang hy nou sy straf. Hierdie verdrinking van Farao in die Skelfsee, is 'n oordeel van God.

God speel hier nie 'n speletjie met Farao wat nie weet wat God eintlik besig is om te doen nie, maar dit gaan hier om 'n publieke stryd.

Farao word gestraf vanweë sy woordbreuk. Hy het die gemaakte afspraak verbreek. Vanweë sy eie sonde, sy ontkenning van die mag van die Here, word hy gestraf.

Natuurlik, daaragter lê ook die verharding van sy hart, wat die Here bewerk het, maar dit ontneem aan Farao nie sy verantwoordelikheid nie.

Hy wil opnuut die volk Israel die fees vir die Here ontneem... Of liewers: Hy wil die Here die diens van Sy volk ontsê.

Maar dit sal nie gebeur nie. Want nou kom die Here Sy volk te hulp.

Die volk is nou van alle kante ingesluit.

Ontsnapping lyk amper onmoontlik.

En die volk skree reeds: Wat maak ons ook hier in die woestyn? ! Ons kon maar beter in Egipte gebly het. Liewers die Egiptenare dien, as nou gedood word. (Dus daar is nog nie baie geloof by die volk nie. )

Maar ondanks dit, die Here red.

Opnuut werp Hy 'n wonder in die stryd. Moses moet sy hand uitstrek oor die see. Dan sal daar 'n pad kom, 'n ongedagte reddingsweg.

Die Here baan 'n pad middeldeur die see.

Hy laat die hele nag 'n sterk ooste wind waai, sodat die water wegvloei. Die see val droog, en Israel kan veilig daardeur gaan. Die water word gekeer van links en regs, asof daar 'n muur is wat dit keer.

So maak die Here gebruik van 'n wonder, om Sy volk Israel te red.

Maar dan kom agter hulle die Egiptenaars. Hulle sien ook, die see het drooggeval. Hulle aanvaar dit is seker maar 'n natuurverskynsel, en onbevrees gaan hulle ook die pad deur die see.

Maar spoedig loop hulle vas.

Die wonder wat aan Israel redding gebring het, word vir hulle tot 'n val. Waar Israel deur die water gered is, daar kom die Egiptenaars deur dieselfde water om. So word Farao gestraf vir die verbreking van sy woord!

En nou eers, nie eerder nie, word Israel blywend uit sy diens ontslaan. Die tydelike verlof word nou verander in 'n definitiewe ontslag.

Die mag wat die Here tydelik aan die Egiptiese Farao's oor Israel gegee het, word nou blywend van hom af weggeneem.

So het die Here Israel dan die dag uit die hand van die Egiptenaars verlos. Die dag!

Van nou af sal Israel uitsluitlik die Here dien.

Die pad na Kanaän lê nou regtens oop.

Farao het vanaf nou, hoegenaamd niks meer oor Israel te sê nie.

Deur die water is Israel nou definitief van Egipte en die slawediens geskei.

Nou het God die alleenreg op die diens van Sy volk. Let daar weer op, gemeente, dit gaan hier om baie meer as die bevryding van 'n verdrukte volk. U moet hier veral die geestelike betekenis van heel die gebeure probeer verstaan.

Die deurtog deur die Skelfsee is 'n teken. 'n Teken van God se reddende ingrype in die lewe van die volk waarmee Hy 'n verbond het. Dit laat ons ook die betekenis verstaan van die merkwaardige woorde in die gebed in ons Doopsformulier: "U het die verharde Farao met al sy manne in die Rooisee laat verdrink, en U volk Israel op droë grond daardeur gelei - waardeur die Doop afgebeeld is".

Waardeur die Doop afgebeeld is. Blykbaar het die geskiedenis van die deurtog deur die Skelfsee iets te sê in verband met die doop. Israel is deur die water gered. God bevestig nog 'n keer Sy verbond met die water van die Skelfsee. Uit die, vir hulle reddende water,

klink dit triomfantelik: Ek is die Here, julle God.

Vir God se vyand, die Farao, het die water 'n graf geword. Hy het in die dood ondergegaan.

Maar God se volk gaan veilig daardeur. Hulle daal af in die water van die dood, maar klim aan die ander kant uit. Hulle staan op tot 'n nuwe lewe.

Die God vyandige magte, kan met gevaarlike middele God se volk bedreig, maar teenoor God se mag moet menslike magsmiddele faal.

Daarvan sal Moses in hoofstuk 15 sing: "Ek wil sing tot eer van die Here, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp". Dit is vir ons 'n geweldige troos. As daar weer 'n kindjie gedoop word, dan kom daar weer vrae op soos: hoe sal hierdie kind bewaar bly, as kind van die Here, temidde van 'n wêreld vol gevare en bedreiging. Wel, in daardie stryd het die Here 'n baie eenvoudige, maar tegelyk 'n baie doeltreffende wapen: water, reddende water, Doopwater tot behoud van die volk van Sy Verbond.

2. Die volk word blywend aan die diens van God verbind.

As die Egiptenaars hulle agterop kom, en die volk Israel ontdek dat hulle nie kan vlug nie, ontstaan daar 'n groot paniek. In doodsangs skree hulle tot die Here, en tot Moses: Was daar dan nie grafte in Egipte nie? Kon ons nie beter daar gesterf het as hier in die woestyn nie?

Slawerny is in elk geval beter as 'n onmiddellike dood in die woestyn!

En dan sê Moses tot die volk: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here, wat Hy vandag vir julle sal bewerk.

Let op hierdie woord: 'aanskou'. Julle sal jul verlossing aanskou.

God sou op 'n heel ander wyse Israel kon gered het. Hy kon byvoorbeeld al die Egiptenaars laat omkom het agter die wolkkolom, sodat Israel dit nie kon sien nie.

Maar die volk moet sy verlossing aanskou.

In die afrekening met die Egiptenaars, moet Israel die magtige hand van God sien. Sodat hulle sal erken, dit is uitsluitlik die sterke hand van God wat ons verlos het. En dit is slegs Sy hand wat ons ook in die toekoms moet bewaar.

Want hulle het nog 'n lank pad om te gaan.

Hulle sal moet leer om te vertrou op die hand van God.

En daarom kom nou juis 'n sigbare verlossing.

Dit word in ons teks ook ekstra benadruk.

Israel het die Egiptenaars dood gesien, aan die kant van die see.

Met eie oë kon hulle dit vasstel. In vers 31 word die woord 'sien' herhaal: Hulle sien die magtige daad van die Here. Hulle begryp nou dit is Sy werk!

En vanuit daardie verstaan, kom hulle nog weer 'n bietjie verder: Toe het die volk die Here gevrees en geglo!

So bring die Here Sy volk tot geloof. Hy wys vir hulle Sy krag en Sy liefde, en vra daarop die antwoord van die volk.

Hy verlos eers Sy volk. Hy bevry hulle van slaafse bande en vra daarvan erkenning by Sy volk.

So werk die Here nou, broeders en susters. So werk Hy nog steeds. Want ook hier kan ons 'n parallel met die Doop sien.

Ons het vandag ook 'n gedeelte uit die Nuwe Testament gelees: 1 Korinte 10. Daar herinner Paulus aan die gebeure by die Skelfsee.

Daar sê hy: "Julle moet weet dat ons vaders almal onder die wolk was, en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see".

Hulle is gedoop in die see: daarmee bedoel Paulus, die water van die Skelfsee het hulle gered. Daardie water (soos doopwater) was hul lewensbehoud. Daardie water het nog 'n tweede effek. Die water beteken tegelyk die skeiding. Die definitiewe losmaking van 'n lewe vol slawerny.

So praat die doopwater van redding - van die reddende ingrype van God in 'n mense lewe, wat anders onherroepelik verlore sou gaan.

Die nuwe lewe begin anderkant die water (die Doopwater).

Nou praat Paulus in 1 Kor. 10 ook daarvan, dat hulle in Moses gedoop is.

Dit beteken: Vanaf hierdie oomblik is hulle onafskeidelik aan Moses verbonde. Aan Moses as die kneg van God. Dit is wat vers 31 van ons teks bedoel: Hulle het geglo in die Here, en aan Moses Sy kneg.

Vanaf die deurtog deur die see, sal hulle hulself heeltemal toevertrou aan die deur God aangewese leier. Aan die Middelaar wat God vir hulle gegee het.

In Moses se woorde moet hulle woorde van God hoor.

Deur Moses word aan hulle die liefde en sorg van die Here toegesê. Dit is nou gedoop wees in Moses.

Ons as Nieu-Testamentiese gemeente is nie in Moses gedoop nie. Ewemin is ons gedoop in die Rooisee.

Maar ons is wel met water gedoop. En daardeur in Christus gedoop.

Christus is ons Middelaar. Hy is ons Leidsman na die Ewige Lewe.

Want die doop verbind onafskeidelik aan Christus. Dit geld vir die kinders wat gedoop word, maar ook vir ons almal.

Ons is nou definitief aan Christus verbind. Met Hom moet ons verder.

Dit is 'n magtige geskenk, wat die Here vir ons en ons kinders wil gee.

Dat jy in Sy Naam gedoop is, beteken dat jy Sy Naam mag dra.

Uit genade het Christus Hom aan u lewe verbind, broeders en susters.

Uit genade het Christus Hom ook aan julle lewe verbind, seuns en dogters.

Dit mag ons almal weet.

Maar dit gee vir ons ook verpligtinge. Wie verbonde is aan die diens van God, sal dit ook in sy lewe moet wys.

Dit is wat Paulus vir die Korintiërs so duidelik as moontlik stel.

In 1 Kor. 10 haal hy naamlik die geskiedenis van die volk Israel, as 'n waarskuwende voorbeeld aan.

In Korinte het naamlik die gedagte gelewe: Ons is nou mos gedoop, ons behoort nou aan die volk van God, maar dan is ons nou darem mos heeltemal klaar!

So het hulle gelewe: Ons is klaar gedoop, ons is al gered, dus ons leefwyse maak nou nie meer saak nie.

En dan sê Paulus: Pasop, dink aan Israel.

Hulle was almal gedoop. Hulle het almal gedeel in God se genade.

Hulle was almal gedoop. Maar in die meeste van hulle het God geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.

Dit beteken: Die doop is inderdaad 'n groot ding, maar dit is nog maar 'n begin.

Het die Israeliete dan hul Doop in die Skelfsee vergeet? Nee, hulle het dit goed onthou. Maar hulle het een ding vergeet, naamlik die doel van God met hul bevryding.

God het hulle met 'n sterke hand van slawerny verlos.

Maar daarna het Hy hulle gedoop tot Sy diens. Hy het heel die volk blywend aan Sy diens verbind. Aan Sy erediens.

Dit mag ons nooit vergeet nie.

Wie gedoop is, hy het 'n heerlike geskenk ontvang. Jy ontvang mos beloftes van die Here Self.

Die Doop betuig vir jou, dat jy sekerlik van die Here is, maar dit wil nie sê, dat jy die eindpunt reeds bereik het nie.

En so is die doop van die volk Israel in die deurtog deur die Skelfsee, 'n teken vir die Nieu-Testamentiese gemeente. 'n Teken van redding wat daar is by die Here.

Maar dit is tegelyk 'n waarskuwing.

'n Mens kan behoort aan die volk van God se Verbond, hy kan al die bewyse van God se genade ontvang het, en tog deur latere ongeloof verlore gaan.

Die reddende doopwater kan deur God in 'n oordeel verander word.

Dink aan die Egiptenaars.

Daar is maar een pad om te gaan: En dit is: die genade van God wat Hy in die Doop bewys het insien, en so tot die antwoord kom van Israel aan die een kant van die Skelfsee: Hulle het die Here gevrees en in Hom geglo.

So moet ons almal elke dag weer ja-sê op ons Doop.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)