Die vrouesaad in teenstelling tot die slangesaad

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 4
Preek Inhoud: 

Ps. 146: 1, 3
Ps. 146: 8
Ps. 124: 1 - 4
Ps. 68: 1, 2
Ps. 68: 9
Lees: Gen. 4
Teks: Gen. 4: 26

Broeders en Susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Ons hulp is in die Naam van die Here, wat Hemel en aarde gemaak het. So het ons hierdie oggend die diens begin. So het ons ook daarvan kon sing in die laaste vers van Ps. 124.

    "Die eew'ge God, van alle dinge Heer,
    Hy is ons hulp, Hy het ons vrygemaak. "

Ons hulp is in die Naam van die Here, wat Hemel en aarde gemaak het. Dit is 'n belydenis. 'n Belydenis van die Kerk.

Met so 'n belydenis dat ons hulp van die Here is, onderskei ons ons van die wêreld. In die wêreld het mense hul verwagtings van krag, van verstand, van skoonheid of van geweld. Daarmee hoop mense ver te kan kom. Daarmee kan jy jouself help.

In vergelyking daarmee is die Kerk maar hulpbehoewend.

Ons het hulp nodig. Ons hulp is in die Naam van die Here. Maar in hierdie swakheid, soos die wêreld dit sien, lê nou juis ons krag. Ons soek mos hulp by Hom wat die Sterke is. By die Here wat Hemel en aarde gemaak het.

Ek mag U God se Woord vandag soos volg verkondig:

DIE VROUESAAD IN TEËSTELLING TOT DIE SLANGESAAD.

Ons let op drie dinge:

  1. Die vrouesaad ontvang sy voortgang van die Here.
  2. Die vrouesaad bely sy swakheid vir die Here.
  3. Die vrouesaad soek sy krag by die Here.

1. "En ook vir Set is 'n seun gebore". So begin ons teks.

Daar lê 'n sterk nadruk op die woordjie 'ook' Ook hy het 'n seun ontvang. As ons wil proe wat die skrywer van hierdie hoofstuk met daardie beklemtoning van hierdie 'ook hy' wil sê, dan moet ons probeer om die situasie waarin dit gebeur in te dink.

Hierdie Set wat in ons teks vader word, is die plaasvervanger van Abel. Daarom het hy van sy moeder Eva, ook hierdie naam Set ontvang.

Dit kan ons lees in vers 25: Eva sê: God het my 'n ander kind geskenk, in die plek van Abel. Wat bedoel Eva daar?

Ons kan dink: Hierdie Set is die eerste kind wat Adam en Eva ontvang nadat Kaïn vir Abel vermoor het. Dit sal waar wees. Maar bedink dit: dis nie dieselfde as wat ons sou sê: Set is die derde kind van Adam en Eva.

Ons kan mos aanvaar dat in die tyd as Kaïn vir Abel vermoor, dat hulle dan altwee volwasse is, sê omtrent 25 jaar oud. Dus is dit baie waarskynlik dat in die tyd tussen die geboorte van Abel en sy dood nog baie ander kinders gebore is. Seuns, sowel as dogters.

Maar nou dat Set gebore word se Eva: Hierdie is die vervanger van Abel. En dit nie slegs as 'n kind of as 'n seun nie, maar Eva bedoel baie meer.

As ons vers 25 presies letterlik sou vertaal, kom duidelik uit wat Eva bedoel: Sy het 'n seun gebaar, sy noem hom Set, want sê sy: God het vir my 'n ander saad gestel vir Abel.

Dit gaan om die woordjie saad. Eva het verskeie kinders gehad, maar hierdie vervang Abel. Hierdie gaan die saad voortsit waaraan Abel behoort het.

Daar is 'n profesie van Eva in hierdie naamgewing: Hier, deur middel van hierdie seun word die lyn van die vrouesaad voortgesit. Die lyn wat loop van Adam en Eva via Abel - Set.

Hul seun Set word die draer van die belofte van Genesis 3: 15. Hy is die seun van Eva wat in die Kerk bly, terwyl die ander kinders van hierdie moeder van die Lewendes lankal gekies het vir die wêreld. Miskien, gemeente, sal u nou sê, is dit nie 'n bietjie voorbarig om nou reeds in Genesis 4 te praat van 'n skeiding van Kerk en wêreld nie? Tog is dit nie te voorbarig nie.

Kom ons dink na oor die moord van Kaïn vir Abel.

Daarvan kan ons sê: dit was ook die eerste Kerkvervolging. Want waarom het dit gegaan toe Kaïn vir sy broer vermoor het? Dit was om die offer!

Ons lees in vers 3: Kaïn het van die vrugte van die land aan die Here 'n offer gebring.

Maar Abel het, vers 4, van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. Dit beteken: Abel het die beste gegee van wat hy gehad het. Want hy het in die Here geglo!

So lees ons dit ook in Hebr. 11. Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kaïn.

En vanweë hierdie geloof word Abel doodgemaak. Sien u dat dit hier om baie meer gaan, as om 'n broedermoord. Dit was vervolging van die Kerk! Abel het om sy geloof met die dood betaal!

Hieruit sien ons ook dat Genesis 4 'n duidelike vervolg is op Genesis 3. Die skeiding vrouesaad - slangesaad, gaan hom voltrek. In die stryd wat daar tussen gestel is, het nou die eerste slagoffer geval. Aan die kant van die Kerk! Die eerste slag is in die voordeel van die slang en sy saad!

Want nou blyk dat Kaïn to die slangesaad behoort.

Hy word in vers 11 na sy misdaad deur die Here vervloek: Jy sal vervloek wees Kaïn! Vervloek... hierdie oordeel het die Here nie uitgespreek oor Adam en Eva na die sondeval nie. Vervloek... dit het die Here net gesê vir die slang!

Met hierdie vloek oor Kaïn blyk dat Kaïn definitief tot die saad van die slang sal behoort.

Ons hoofstuk teken ons nou verder die huiweringwekkende ontwikkeling van die slangesaad.

Kaïn - die toonbeeld van 'n mens wat lewe sonder God.

Kaïn was bang gewees vir die gevolge van sy misdaad, "elkeen wat my kry, sal my doodslaan", maar 'n opregte berou oor wat hy gedoen het? Nee, dit was daar by hom nie.

Hy gaan weg van die aangesig van die Here, hy keer hom van God af en gaan 'n eie besigheid begin. Hy bou vir hom 'n stad, en vernoem die stad na sy seun Henog.

Die stad van die mens! 'n Stad sonder God. Kaïn het God nie nodig nie. Hy kan homself wel red, sonder God. Hy gaan van die Here af weg. Hy keer sy rug vir die Here in sy menslike hoogmoedigheid. En die merkwaardige is: Kaïn kan homself baie goed red.

Hy vaar baie goed in die wêreld. Dit blyk wel uit Genesis 4. Hy ontvang kinders en kleinkinders. Sy geslag ontwikkel voorspoedig. Sy hoogmoed kom tot ontplooiing.

So het hy beroemde kleinkinders. Jabal, Jubal en Tubal-Kaïn. Jabal was die vader van die tentbewoners. Daarby moet ons nie dink aan kampeerders wat in hul klein tentjies op 'n 'camping' bymekaar kruip nie, maar aan nomades, families wat baie groot stukke land as hul eiendom beskou. Die wêreld behoort ons toe! Die wapad is ons woning!

En Jubal, hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel. Hy dra sorg vir die vrolikheid in die wêreld. Moenie dink dat jy in die wêreld sonder God nie vrolik kan lewe nie. 'n Mens kan maar plesier maak. En Tubal-Kaïn, 'n smid wat allerhande koper en yster instrumente gemaak het. Ook die kultuur is in die hande van die wêreld. Daar is mooi kunsvoorwerpe gemaak, maar ook wapens. En 'n mens wat wapens besit het mag!

Die wêreld ontwikkel baie voorspoedig.

Maar, dis 'n wêreld sonder God. 'n Wêreld sonder liefde.

Dit blyk te duidelik uit die spoggerige taal wat Lameg laat hoor. Dit is 'n lied van brallende hoogmoedigheid.

Wie Lameg ook maar enigsins beseer, hy sal verpletter word!

Kaïn het nog 'n teken nodig gehad om van sy angs verlos te kan word. Maar nie Lameg nie! Lameg kan homself verdedig! Lameg het van niemand hulp nodig nie.

Dit is kenmerkend die lyn van die slangesaad: Hulle spog op eie krag. Hulle het vir God nie nodig nie!

Dis opvallend dat die skrywer van Genesis 4 so 'n breë aandag aan hierdie dinge gee. Uitvoerig skilder hy die vinnige en ook baie suksesvolle ontwikkeling buite God om.

En teenoor daardie geweldige ontwikkeling van die lyn van die slangesaad, staan nou hier ons teks. Dit steek dan maar armoedig af.

Ook vir Set is 'n seun gebore. Dis al.

Voorlopig is daar nie groot dinge om te vermeld nie.

Maar ons hoor hier 'n volkome ander taal.

'God het vir my 'n saad gegee in die plek van Abel'.

Lameg neem sy vroue en hy skreeu oor sy wraaklus.

Maar Eva bely: God gee vir my 'n kind in die lyn van die vrouesaad. Dit mag wees dat die slangesaad hom met 'n geweldige snelheid ontplooi, maar die Here vergeet nie van Sy belofte nie

Ook vir Set is 'n seun gebore. Dis niks om jou op te beroem nie, maar hier is 'n belydenis. Die Here gaan verder.

Die heilige lyn waaruit eendag die Here die Messias gebore sal word, neem hier 'n begin. In die geslagsregister van die Here Jesus kry ons die naam van hierdie seun wat gebore is, Enos, seun van Set, seun van Adam.

2. Die vrouesaad bely sy swakheid vir die Here.

Die seun wat gebore word ontvang die naam Enos. In die tyd van die Bybel het mense hul kinders amper altyd 'n naam met 'n spesifieke betekenis gegee. 'n Naamgewer wil iets sê met 'n bepaalde naam.

U onthou nog van Adam wat sy vrou Eva, dit is: Lewe - genoem het, toe die Here oor die dood gespreek het.

Die naam waarvoor ons vandag u aandag vra is Enos. Dit beteken: mens.

Die woord Enos word gebruik om die mens te teken in sy broosheid, in sy sterflikheid. So Ps. 8: Wat is die mens dat U aan hom dink? Die mens is net 'n sterweling. Teenoor God is hy heeltemal niks nie.

Wel, so noem Set sy seun: Sterweling.

Dit is 'n belydenis! 'n Belydenis van eie kleinheid en afhanklikheid van God.

Dit is 'n volkome ander atmosfeer as wat ons by die nakomelinge in die ander lyn, die nageslag van Kain, vind. Daar was dit almal hoogmoed. Hoogmoed in dade, hoogmoed in naamgewing ook. Hulle het name wat klink soos 'n klok.

Ada - Sieraad.

Silla - Oase.

Naema - Lieflikheid.

In hierdie name hoor ons die lewe bruis, maar die draers van daardie name gaan op die spoor van die dood.

Maar Enos - mens.

Hy is in sekere sin na sy oupa vernoem. Adam beteken mos ook mens. Maar in die naam Adam het die woord 'mens' 'n koninklike klank.

Adam is die mens wat geskape is as die kroon van die skepping. Die Mens!

Maar nou, Enos, opnuut mens, maar dan mens as 'n verganklike wese. Stof wat tot stof sal terugkeer.

Maar in hierdie belydenis van eie kleinheid, van eie sterflikheid is meer krag as in die spierbondels en die vroulike skoon waarmee die slangesaad spog.

Want die moeder van almal wat lewe, sien hier in Enos die wettige lyn deurgetrek na die Lewende, wat lewe het in Homself. Jesus Christus, wat die dood ingegaan het, om die lewe te kan verwerf.

In die oog van die wêreld, 'n dwase handeling van hierdie Jesus, wat Hom aan die kruis laat spyker het. Dit lyk almal dwaasheid, en swakheid. Maar vir die Here was dit krag.

'n Krag van God, tot behoud vir almal wat glo.

3. Die vrouesaad soek sy krag by die Here.

Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep.

Toe - dis in daardie tyd en in daardie situasie. Toe die wêreld vertrou het op eie kragte en begin het om homself te ontplooi, het die volk van God die Naam van die Here begin aanroep.

Hulle het eredienste gaan hou.

Teenoor die kultuur van die wêreld, het hulle met die kultus begin, die erediens vir God.

Die naam van die Here is aangeroep, dit wil sê: Die hulp van die Here is ingeroep. Hulle het God daarby geroep.

Die Naam van JAHWE is aangeroep.

En Sy naam is: EK IS WAT EK IS: dit wil sê: Ek sal My vir julle as die Getroue bewys. As 'n God wat Sy beloftes uitvoer. Dit is Sy Naam.

En nou kom daar 'n volk wat Hom op daardie Naam gaan aanspreek. Wat Hom gaan vra om die vervulling van Sy beloftes.

Die volk van Kaïn soek alles in eie kragte. Dit het ons wel gesien. Maar hierdie volk gaan hom versterk in die Here.

Daar kom 'n publieke erediens.

In die naamgewings van Eva, Set en Enos, het die volk van God 'n openbare belydenis van eie swakheid gedoen, maar nou gaan hulle hul sterk in hierdie openbare erediens.

So berei hierdie volk die weg van die Here. Dit word 'n Adventsgemeente. 'n Gemeente wat biddend en vol verwagting uitsien na die vervulling van die belofte.

Die wêreld mag dit hoor, dat deur hierdie gemeente bely word, dat die vervulling van die moederbelofte deur die Here gegee moet word. Aan die anderkant klink grootpraat en hoor ons wapengekletter, maar hier hoor ons psalmgesang en gebed.

Daarin soek die gemeente van die Here sy krag, en so sien sy uit na die krag van God, wat sigbaar sal word as die Here die Seun van die belofte gee.

So sal dit ook deur Maria - die moeder van die Here Jesus, baie eeue later bely word: "Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart, het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk, en nederiges verhoog".

In die weg van lewe in die vrees van die Here, sal God se Koninkryk kom. So is dit vanaf die begin van die wêreld deur die Kerk bely. So is die weg van die Here.

Dit lyk maar so heel gewoon, so nutteloos, byna.

Hierdie aanroeping van die naam van die Here.

Hierdie bid met gevoue hande.

Hoe sal daarvan krag uit kan gaan?

Maar tog, so wou die Here dit hê. As Sy hulp biddend afgesmeek word, dan gaan Hy groot dinge doen.

Maar as ons gaan dink, ons gaan dit self reg kry, dan trek die Here Hom terug.

Dikwels sonder dat ons dit dadelik opmerk. Want dis beslis nie so, dat jy dan onmiddellik in die lewe vasloop nie. Kyk na Kaïn-hulle.

Hulle red hulself. En hulle is baie suksesvol.

Kyk na die goddelose, wat ons voortdurend in die Psalms teëkom.

Die pad van die goddelose skyn geplavei met welwaart en voorspoed. Maar moenie fout maak nie. Alle welvaart is nie seën nie.

As dit jou in die lewe voor die wind gaan, beteken dit nie outomaties dat jy in die guns van die Here staan nie.

Maar as jy naby die Here lewe, dan kom daar ook seën. Dan mag dit vir die wêreld lyk asof jy bitter sleg vaar, maar dan kan jy in die geloof tog sê: Ek kom niks kort nie, want die Here is naby my. En so moet ons as 'n biddende kerk die Koms van God se Koninkryk verwag.

Dis waar, dit gaan ons dikwels te langsaam.

Ons wil graag 'n bietjie vinniger. As die Koninkryk van God moet kom, waarom nie nou nie?

Dan is ons geneig om self daardie Koninkryk naderby te dwing.

Dit sien 'n mens vandag orals gebeur. Ook in die kerke.

Dit noem ons die radikalisering van die Christendom.

Die Koninkryk van God moet nou gerealiseer word!

Dan hoor ons mense terme gebruik as 'reg en geregtigheid'. Dit is Bybelse woorde, en die strewe na reg en geregtigheid is 'n geregverdigde strewe.

Maar net die gebruik van Bybelse terme, beteken nog nie dat mense ook die weg wat die Bybel wys, wil gaan nie.

As 'n mens die woorde 'reg en geregtigheid' losmaak uit hulle Bybelse konteks, dan word dit net leë krete, wat nie meer as 'n humanistiese regverdigheids ideaal verkondig nie.

Dan sien jy ook gebeur dat mense in die naam van geregtigheid na middele gaan gryp, wat kenmerkend is vir Kaïn se geslag. Dan roep kerklike ampsdraers op tot die gebruik van geweld. Met geweld moet 'n einde aan rassisme gemaak word. Met geweld moet allerhande onreg in die wêreld beëindig word. Dis ongetwyfeld noodsaaklik, dat daar nog baie veranderinge in hierdie, deur die sonde bedorwe wêreld moet kom.

Maar die Here wys vir Sy Kerk 'n ander weg. Die aanroeping van Sy Naam.

Ons krag lê in voortdurend bid en smeek tot die Here, of Hy Sy Koninkryk wil laat kom.

Nie deur krag, ook nie deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here in een van die Kleine Profete.

Dit beteken dat ons as Kerk altyd klein sal bly in vergelyking met die wêreld. Hier vind ons nie groot getalle nie, nie groot kragprestasies nie. In getal en moontlikhede sal die Kerk altyd deur die wêreld verbygesteek word. Dit was so in Genesis 4. Dis nog altyd so.

Maar ons is groot as ons dit verwag van die krag van die Here. Met die kultuur van die wêreld kan ons nie wedywer nie. 'n Predikant sal nimmer so welbespraak wees as 'n aanbieder van 'n T.V. program nie. 'n Bybelkring of 'n gereformeerde studiegroep kan in resultate nie wedywer met die grootkoppe van die wetenskap nie.

Maar gelukkig hoef ons daarin nie ons krag te soek nie. As Kerk lewe ons van die aanroeping van die Naam van die Here. Dit is ons krag.

In die dae van Enos het hulle die Naam van die Here begin aanroep. Dit was nog maar 'n baie klein gemeentetjie daar in die begin van die wêreldgeskiedenis. Maar hulle het mekaar gesoek en gevind, in die diens vir die Here. En so gaan ons as Kerk saam na die eindgerig van God. Ons hou mekaar vas in die aanroeping van die Naam van die Here. Want net daarin is behoud. In die een Naam: Jesus Christus. Ons besluit met 'n aanhaling uit die profeet Joël in Hand. 2.

"Die son sal verander in duisternis, en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word".

Dus: Ons hulp is in die Naam van die Here, wat Hemel en aarde gemaak het

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)