Die Here se oordeel oor die drumpelspringers

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-03
Teks: 
Sefánja 1
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van prof. Dr. K Schilder - Sondag 3 Oktober 1999

Lees: Sefanja 1.

Teks: Sefanja 1: 9(a)

Sing: Ps 68 : 1, 2, 12; Ps 68 : 13, 14, 15; Ps 60 : 1-4; Ps 87 : 1-5; Ps 73 : 1,12.

Tema: Die Here se oordeel oor die drumpelspringers.

  1. die rede vir daardie oordeel;
  2. die tyd van daardie oordeel;
  3. die algemeenheid van daardie oordeel.

 

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Wanneer die kerk in die wêreld binnedring, dan is dit 'n weldaad. Maar as ewenwel die wêreld in die kerk binnekom, is dit 'n vloek. Solank die kerk met die Evangelie tot die wêreld kom, het sy die belofte van die bekende Pinksterpsalm, waarin belowe word, dat die Filistyn, die Tiriër en ook die Moor, kinders van Sion sal word. Maar as die kerk haar evangeliese getuienis nalaat, dan word sy deur die wêreld oorrompel.

Die Bybel vertel aan ons, dat daar eendag 'n stad sal wees sonder tempel. Maar in die eerste geval het die tempel die stad vervul, en dit beheers. Maar in die tweede geval het die stad die tempel oorwoeker. Die 'stad sonder tempel' is in die een geval die stad van God; maar in die ander geval is die 'stad sonder tempel', 'n gedrog van Satan; dit is sy stad, die stad van sonde, die stad van die Antichris, wat in die tempel van God sal sit en voorgee dat die mens God is.

Hieraan word ons herinner wanneer die profeet Sefanja spreek oor Jerusalem, wat deur die Here, sy God 'besoek' sal word met 'n oordeel oor almal wat oor die 'drumpel spring'. Ons wil enkele oomblikke tot u spreek oor:

Die Here se oordeel oor die drumpel springers

en van daardie oordeel drie punte bespreek:

  1. die rede vir daardie oordeel;
  2. die tyd van daardie oordeel;
  3. die algemeenheid van daardie oordeel.

In die eerste plek wil ons vra, wat is tog die rede vir die oordeel, waarmee die Here Jerusalem hier bedreig? Die stad sal besoek word deur 'n oordeel. Ek sal 'besoeking' doen sê die Here. En Sefanja noem dadelik die rede vir die besoeking, van die oordeel: daar is mense in die stad wat oor die drumpel spring. En dit is juis hierdie mense, wat die hemelse Koning van Jerusalem sal neerslaan. Dit klink 'n bietjie vreemd: is dit nou 'n sonde, dat iemand oor die drumpel spring? Wat is dan nou so verkeerd daarmee?

Sommige mense het gemeen, dat dit sou dui op inbrekers. Die inbrekers sou diewe wees, diewe wat van 'n ander kant af inklim en die frase 'van 'n ander kant af inklim' sou dan ongeveer dieselfde wees as 'oor die drumpel spring'. Maar hierdie verklaring is onjuis, want wanneer 'n dief toegang tot 'n woning soek, sal hy liewers nie deur die voordeur gaan nie. Hy sal ook nie oor die drumpel spring nie, maar eerder saggies daaroor stap sonder om geruis of lawaai te maak. Tenminste as hy nie deur 'n venster inklim nie. Nee, ook die teksverband gee aan hierdie opvatting geen steun nie. Daar staan wel, dat hulle wat hier bedoel word, die huise van hulle here met geweld en bedrog vul, maar dit staaf nog nie die gedagte dat hierdie mense diewe is nie.

'n Dief sal juis alles in sy vermoë doen om geweld te vermy, sodat hy stil en onopgemerk weg kan gaan soos wat hy gekom het. En 'n dief gaan nie spesiaal by sy base steel nie. Hy steel orals wat vir hom van waarde is. En in die geval as hy soms sy baas wil besteel, dan is dit ook nie nodig om oor die drumpel te spring nie, want in die huis van sy heer het hy vrye toegang, dit is immers sy vaste blyplek.

Maar genoeg hieroor. Ons moet 'n ander verklaring vir hierdie teks soek. En kyk, die teksverband gee aan ons die oplossing. Volgens vers 8 praat die profeet oor mense wat in die hoogste kringe verkeer. Hy noem 'vorste' dit wil sê ministers, raadslede van die kroon, en ander belangrike mense van die stad; en ook oor koningskinders, prinse uit die koningshuis. Met ons gedagtes vertoef ons hier in die paleise van die rykes, die leiers uit die toonaangewende kringe.

Verder word daar gekla dat hulle in die paleise van Jerusalem vreemde klere aantrek, uitlandse klere dra. Ook die dra van vreemde klere word deur die profeet as sonde gereken. Want dit is nie waar wat 'n bekende spreekwoord sê: die klere maak die man. Maar iets anders is wel waar: die man maak die klere, dit wil sê hy bepaal sy klerestyl. Soos die binnekant is so word die buitekant: in die manier waarop iemand homself beklee, kan jy sy hart, sy siel, sy neiging ken.

En blykbaar was daar in Jerusalem mense, wat hulle in God se eie stad nie geklee het volgens die eie styl van Israel nie, maar volgens die buitelandse mode. Hulle het dit gesien as 'n 'breedheid van gees', 'n noodsaaklike assimilasie en akkomodasie aan die kultuurvorme en kultuurstyl van die omliggende volkere. Maar hierdie stylverlies word as sonde gereken. Want die kerk van Israel was wel in nasionale bande ingesluit tot op die dag van die Nuwe Testament. Maar in die kern van die saak was Israel eers 'kerk' en dan eers 'volk' omdat dit geroep was om 'kerk' te wees.

Wanneer Israel sy eie verlede verloën, dan verloën dit God die Here. Wanneer Israel hom aanpas by die kultuurvorme en die kultuurstyle van 'ander nasies', dan verbind sy sigself aan en smee bande met die heidene. En daarmee saam, meesal terwille van handelsbelange, neig sy om die afgode van die heidene te gaan dien. Daarom is die profeet toornig op die 'vreemde klere', die uitlandse kleredrag. Onder die vreemde kleed hoor hy 'n wêreldse hartslag.

En kyk, daarna kom die profetiese dreigement oor hulle wat oor die drumpel spring en oor diegene wat desnoods met geweld, al hulle ondergeskiktes in die huis van hulle here wil oorheers. Die Nuwe Testament praat van knegte wat hulle mede-diensknegte slaan. Hulle het ryk here en hierdie ryk here het aan hulle 'n posisie van vertroue gegee. Hulle mag oor ander, wat ook knegte of slawe van die heer is, die bevel voer.

So het Josef byvoorbeeld mag en gesag oor ander slawe verkry en so kon hy die huis van die Egiptiese heer met vrede 'vervul' met die vrede van die evangelie.

Ewenwel in ons teks kry ons te doen met mense wat as 't ware die teendeel van Josef is. Hulle beklee belangrike posisies in die huise van Jerusalem se groot here. Hulle heers oor die ondergeskikte personeel. En nou probeer hulle, om hul eie wense, hul eie wil, hul eie insig af te dwing op die wat onder hulle staan. Hulle het uit die heidenwêreld na Jerusalem gekom; hulle is daar so iets as 'n 'vyfde kolonne'. Hulle wil in die stad, hul kanse gryp om vir heidense gebruike en sedes en vir heidense religie 'n plek maak, en aansluit by ander wat reeds met die heidense kultuur meedoen, en daarin van die Here afhoereer. Die profeet Sefanja het sulke mense van naby gesien.

Want hy het opgetree in die dae van die bekende koning Josia. Hierdie koning het die afval van Gods volk gesien en dit betreur en pogings tot reformasie aangewend. En Sefanja het hom daarby gehelp en hy is nie bang om die groot here te bekritiseer nie. En wanneer Sefanja nou teen die vreemde gewoontes toorn, dan doen hy niks anders as wat bv Esra en Nehemia gedoen het nie. Ook hulle het teen die buitelanders, die Kanaänitiese of Siriese smouse wat die sabbat van Israel geskend het, die stryd aangebind.

Of hulle tree op teen die Jode, wat buitelandse, d.w.s. heidense vroue getrou het en as gevolg daarvan, kan hulle kinders nie meer hulle moedertaal, d.w.s. die taal van die tempel, van die ou religie praat nie, maar slegs 'n tipe mengtaal, 'n allegaartjie van alle soorte vreemde tale. Hulle veg teen die heidense invloede wat van binne uit kom (die ou Kanaäniete) of wat van die Noorde binnedring (die Siriërs), of ook wel van die Suide (die Filistyne).

En so tree Sefanja ook op. Want die 'spring oor die drumpel' kan verklaar word as 'n soort heidense sede. Enersyds van Kanaänitiese en andersyds van Filistynse afkoms.

Met betrekking tot die Kanaäniete: vandag kan hulle aan u afbeeldings, foto's laat sien van ou kanaänitiese huise en kelders, waarin hulle geraamtes van menseliggame onder die drumpel gevind het. Ook wel van diere. Hoekom het hulle dit gedoen? Wel, dit was 'n onderdeel of restant van hul heidense godsdiens. Die heiden ken geen God soos ons Hom ken nie: 'n God wat uit Homself ons versoen en wat ons koop met 'n prys wat Hyself uitgedink het, dit is met die prys, die bloed van Sy eie Seun.

Daarteenoor is die heiden van mening dat hy die guns van die gode moet koop. Hy moet aan die gode betaal want die gode betaal nie aan hom nie. Hy maak die gode ryk, geen god maak hom ryk nie. Hy 'koop' hulle guns met offers van mense, soms selfs van sy eie kinders, of met ander offers. Maar hy erken nie die kragtige en mooi woord uit ons belydenis, dat ons met liggaam en siel deur die Seun van God gekoop is (Sondag 1).

Daarom moes die Kanaäniete as hulle 'n huis gebou het, die guns van die gode koop en hulself teen die stormwinde en teen swaar reën en aardbewings beskerm deur 'n offer aan die gode te bring. So 'n offer is tydens die bou van die huis gebring. Die dooie liggaam is dan begrawe onder die drumpel van die ingang van die huis. En omdat die plek van daardie offer voortaan 'heilig' was, het hulle die drumpel met hulle voete nie aan geraak nie, hulle het daaroor gespring. Die plek waar hulle die huis binne gekom het was sogenaamd 'heilige grond'.

En wat die Filistyne betref: ook hulle het die sede geken om oor die drumpel te spring. Want op 'n keer het die ark in die tempel van die filistynse afgod Dagon vertoef. Die Filistyne het toe gedink dat hulle met die ark van die Here ook die Here van die ark gevange geneem het. Maar Hy het aan hulle spoedig die teendeel bewys. Hy het in 'n stil donker nag Sy almagtige krag laat uitgaan, en sonder dat iemand die beeld van Dagon met 'n vinger aangeraak het, het hulle in die oggend Dagon in stukke sien lê, uitgestrek voor die ark van die Here. Daardie nag het die Filistyne altyd onthou. Die priesters van Dagon het gesien hoe die skerwe en stukke van Dagon op die drumpel lê en sedertdien het hulle nie meer die drumpel aangeraak nie maar daaroor heen gespring.

Dit was natuurlik 'n soort van 'n 'geloofsbelydenis'. Hulle het gesien: Israel se God is ons god Dagon te magtig. Maar al het hulle dit gesien, wou hulle dit nie glo nie, nie aanvaar nie, nie erken nie. Al hulle koppigheid en selfhandhawing, en al hulle haat teen Israel se God tree nou na vore en word ontlaai in die gewoonte om: oor die drumpel te spring.

Dit was om so te sê, hul volgehoue konfessie, hul kredo: lewe Dagon, selfs al word hy vir 'n tyd lank deur Israel se God verneder. Dit was hulle strydkreet: Nie Jehova of Jahwe nie, maar Dagon. Nou word ons teks maklik verstaanbaar. Die Kanaäniete en die Filistyne, dit is twee kultuurmagte van heidense oorsprong wat meer en meer Israel se lewe vergiftig het. Die Kanaänietiese geestelike-skelm-smouse, hoe het hulle nie, God se volk ten kwade beïnvloed nie. Sagaria se profesie eindig met die veelbetekende woorde dat daar in die groot dag van Here geen Kanaäniet meer in die huis van die Here sal wees nie.

En wat die Filistyne betref ook hulle het Israel se lewe van binne uit ondermyn. Dit was so spesiaal in die geval van Jerusalem. Koning Dawid het op 'n keer die Filistyne verslaan; dink maar aan Goliat, hulle reus wat Dawid dood gemaak het. Maar toe Dawid koning geword het, het hy 'n lyfwag uit die Filistyne geneem. Dit was 'n simbool van Dawid se triomf oor die Filistyne. Vroëer moes die klein Dawid die reus van die Filistyne doodslaan, maar later is die 'Goliat's, die sterk manskappe van die Filistyne aan hom onderwerp, en moes hulle Dawid se lewe beskerm.

Hoe dikwels word daar nie van die lyfwag gespreek nie: hulle lede staan bekend as die Kreti en die Pleti. En die naam Kreti wys op Kreta, die plek waar die Filistyne oorspronklik vandaan gekom het. Terwyl die naam Pleti na Filistea verwys, die land waar hulle toe gewoon het. Dit was dus 'n tipiese Filistynse keurkorps. Hulle het toegang verkry tot in die hoogste kringe, hulle het by die ministers in en uit beweeg. Hulle het 'n hoë posisie beklee en kon so alle kringe infiltreer, maar hulle het heidene gebly.

Die juigkreet van Psalm 60: Juig, Filistea, tot my eer, was die triomfkreet van koning Dawid, wat deur God se genade maghebber oor die Filistyne geword het. Solank as wat psalm 60 en psalm 87 met mekaar saamgaan en terselfdertyd gesing word. Solank Israel maar steeds die evangeliese Woord van die Here aan die Filistyne bring, solank sal die Kreti en die Pleti Israel se God hiervoor prys bokant Dagon en Dagon verloën.

Maar as Israel se groot manne die Here, hul eie God verlaat en aanhang soek by vreemde volke en vreemde kulture, dan gaan die Filistyne in Jerusalem Dagon bokant die Here verheerlik en Hom verdring. En dan word die plek wat die Here as woonplek verkies het, 'n skoutoneel van filistynse koppigheid en selfverheerliking en afgodediens: dan wil die Filistyne juis daar oor die drumpel spring. Dan is dit die "V-teken" die teken van viktorie van die heidene. Die afgode van die Kanaäniete en van die Filistyne sal Israel se God wel onderploeg. Die wêreld van die heidene sal tog die kerk van die Here baas raak. Dagon neem wraak!

Daarom is die profeet toornig op die drumpelspringers. Want hulle neem 'n spons in die hand en kom na die swartbord, waarop die Here in die skool van vrye genade sy evangeliewoord skryf: die woord van soewereine genade; die genade sonder verdienste; die woord van die enigste soenoffer van Jesus Christus, en dan vee hulle daardie skrif van die bord af.

Die Messiaanse bloed was en is die enigste prys waarmee God se volk gekoop word. By Israel se God koop die mens nie God se genade nie, maar koop die Here sy volk met die losprys van sy eniggebore Seun. Die Messiaanse bloed was in die offerandes afgebeeld. In die nag van Israel se uittog uit Egipte het dit ook hierdie teken ontvang: in die nag was die bloed van die paaslam (beeld van Christus se bloed) aan die deurposte en aan die bo-drumpel gestryk.

Kyk, hier het u nou die worsteling tussen tweërlei bloed, tweërlei offer, tweërlei koopprys.

Die Here sê: smeer die bloed aan die deurposte en aan die bo-drumpel. Bokant aan die bo-drumpel van Israel se wonings laat God die sinnebeeld van Christus se bloed aanbring, wat die sonde van die wêreld wegdra, verniet, gratis.

Bokant aan die bo-drumpel laat Hy die bloedteken aanbring, wat ook heenwys na die woord van ons Kategismus, dat ons namelik nie aan onsself behoort nie maar die eiendom is van Christus omdat Hy ons gekoop het met sy eie bloed. En ons het nie Hom of sy saligheidsgeskenk met ons bloed gekoop nie.

Maar die heidene kom nou daardie lamsbloed, en die bloedspraak aan die bo-drumpel uitvee en weerspreek; deur oor die drumpel heen te spring. Daarmee predik hulle die eiegeregtigheid van die Kanaäniet, wat uit homself, uit eie krag die guns van die hemel wil koop met die bloed van hul eie offer wat onderkant, die onder-drumpel begrawe lê.

Dit is huiweringwekkend, ook vir ons. Want hier kan ons sien hoe groot die toorn van die Here is oor 'n kerk wat homself die evangelie van die vrye genade en van die enigste soenoffer en van die soewereine guns, en van die borgtogtelike geregtigheid laat ontroof, om daarna in selfverheffing te verval en te roem in eie kragte van die mens wat homself wel sal verlos.

Hier kan u sien hoe bitter die Here wraak oefen oor hulle, wat die duidelike skrif, die handskrif van die kostelose-evangelie-van-vrye-genade uitvee of ook maar laat verbleik en hoe ernstig en van groot belang dit vir die kerk is om haar regsinnige geloof in Christus se borgtogtelike lyde onvervals en onvermengd te handhaaf.

En hoe gevaarlik dit is as die Christen sy eie styl verloor en met elkeen saamspan of saamwerk, en so die geluid van eie belydenis meer en meer verswak of disputabel stel. Dit gebeur dat soms kerke hul samewerking daaraan verleen. Gewoonlik begin hul leiers daarmee. Hulle vee die handskrif van die belydenis van die soewereine, vrymagtige genade uit en laat die ink daarvan verbleik. Hulle sal die oordeel dra. God laat Hom nie bespot nie.

Wanneer die Here deur die evangelie roep, dan roep Hy in verhewe goddelike erns, Hy laat sy eer aan geen ander gee nie. Die evangelie van die milde genade is tegelyk die strengste boodskap. Dit wil nie vertrap word nie.

II.

Is hierdie oordeel ook 'n bedreiging vir ons? Ja, seker. Die tyd van hierdie oordeel is eintlik juis ons tyd. Die profeet sê: op dié dag. Dit beteken in die eerste plek: die dag van die komende oorlog teen Jerusalem. Netnou kom die Chaldeërs en dan sal deur hulle aanval die stad Jerusalem ingeneem word. Die profeet sien dus allereers die tyd van die aanstaande beleëring van Jerusalem en die gevolge: die inneming van die stad en die wegvoering van die burgers in ballingskap. Maar tegelyk sien hy vervolgens ook 'n ander dag.

Die profetiese perspektief sien al God se oordele op één lyn lê. Eers kom die Chaldeërs, later kom die magtige heidense koninkryke die byvoorbeeld wat Daniël aanskou; dan kom die Romeine en die antichris.

In vers 7 en 8 spreek die profeet van 'n groot universele slagting; die Here sal vir Hom 'n slagoffer berei. Die voëls sal die vlees van die 'grotes' die aansienlikes eet. Later knoop Johannes op Patmos sy profesie daaraan vas, as hy spreek oor die laaste oordeel, Openb. 19 : 17, 18.

En nou leef ons vandag onder die Nuwe Testament; ons lewe in die laaste dae. Dit wil sê: juis ons tyd is die beslissende, die eskatalogiese. Ons het alles daarmee te make, ons wat nou lewe onder die Nuwe Verbond. In die Nuwe Testament is die snare nog strakker gespan as tydens die ou bedeling. Die einde van die eeue het op ons gekom, wat die profeet Sefanja dus hier sê raak ons regstreeks, en is ook op ons van toepassing.

III

Juis daarom kan ons tenslotte, juis ons verstaan, hoe algemeen hier die dreigende oordeel is. By die oordeel wat die Chaldeërs gebring het, die vyande uit Babel, die magte van 'die Noorde', Pan-asiate, het nog baie mense in die lewe gebly. Nogtans sal eenmaal seker vervul word wat die profeet hier sê, namelik dat die Here almal sal vind. Almal wat oor die drumpel spring. Met 'n lantern sal die Here Jerusalem deursoek om alle 'onderduikers' en wegkruipers uit hul skuilplek weg te haal, sê vers 12. Dan sal dit gebeur wanneer hulle in die jongste dag roep: berge val op ons en heuwels bedek ons, Openb. 6 : 16 en 17.

Gee aan ons 'n skuilplek roep hulle dan, hulle wat die bloed van die kruis onrein geag het. Maar die lantern van die Here sal op die dag hulle almal ontdek en vind. In die jongste dag, as die groot nagmaal van die dag van die Here se toorn aangerig word, sal die Here almal laat ondergaan, wat hulle afgewend het van die enigste bloed, wie se vrug nie deur ons gekoop word nie, maar wat Hy alleen koop uit eie reg en eie krag en uit God se soewereine genade.

Daarom sê ons tot u: vra om die krag van daardie bloed. Moenie daardie rooi skrif uitvee nie. Kyk nie na onder die drumpel, na die bloed van menslike selfverlossing nie, maar kyk op na die bo-drumpel, kyk op na die bloed van die aan die kruis verhoogde Lam, wat alleen reinig van sondes. Die evangelie van die vrye genade laat hom nie verbind met 'n ander evangelie nie.

Dit wil hom alleen laat geld en onbeperk; en die genade van die gratis regverdigmaking is nie met 'n ander verlossing te verbind nie. Laat ons daarom ons toevlug neem tot daardie bloed wat alleen in die weg van geloof ons tot 'n krag van saligheid word. Want daar is maar een subjek van versoening en die borgtogtelike daad van koop: ons is nie daardie subjek nie maar God. Nie ons het die Here met die wêreld versoen nie, dit is juis andersom God het in Christus die wêreld met Homself versoen.

Want Hy wat geen sonde geken het nie, die het God vir ons tot sonde gemaak. Sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Daar is nie 'n ander evangelie nie. En ook geen ander Naam dan die van Jesus Christus om ons te verlos.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)