Jesus Christus se lydensweg vir ons

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-02-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Verwysing: 
HK 15-0 (2)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Verlosser, Jesus Christus,

So tien jaar gelede het daar ‘n boekie verskyn met die titel: “Jesus het gely wat ons nou ly”… Wat sou u sê as u so ‘n titel hoor? Die rede waarom hierdie persoon dié boekie geskryf het, was omdat hy meegemaak het dat baie christene dit as vanselfsprekend aanvaar dat Jesus se lyding buite alle menslike proporsies was, dat Jesus se lyding oneindig swaarder was as enige lyding wat ons onsself kan voorstel. En dit – só het hy agter gekom – het ‘n besonder negatiewe invloed op christene by die verwerking van hulle eie moeite en verdriet. Mense durf nie meer om oor hulle eie moeite en lyding te praat nie, want ja, wat is dit nou in vergelyking met Jesus se lyding… En wanneer hulle wel daaroor praat, dan moet hulle dikwels van ander hoor: Ag, dit kon nog baie erger gewees het.

Duidelik word die outeur van hierdie boekie gedryf deur ‘n pastorale motief – hy wil mense help om op ‘n goeie manier met hulle moeite en lyding te kan omgaan. En volgens hom word mense nie verder gehelp as Christus se lyding ‘n onbereikbare diepte was nie, as sy lyding oneindig swaarder was as wat ons onsself ooit kan voorstel. Inteendeel, dit maak dit vir mense net nog moeiliker om met Jesus te assosieer. Nee, sê die outeur, Jesus wou aan ons gelyk word in ons lyding; Hy het nie erger gely as wat ons ly nie; Hy het gely wat ons ly. Hy het ons kollega geword in die lyding. As iemand dus oor sy ellende en lyding wil spreek, mag niemand anders hom stilmaak met die opmerking dat dit nog baie erger kon gewees het nie, mag niemand sy lyding verkleineer deur op die diepte van Jesus se lyding te wys nie.
Broers en susters, ons kan die pastorale motief van die skrywer waardeer, maar doen hy daarmee reg aan die gewig van Jesus se lyding? Is Jesus en ons kollegas in ons lyding? Het Hy maar net gely wat ons ly – siekte, rampe, hartseer, finansiële moeite ens. ens. Laat ons dit vandag vanuit die Skrifte ondersoek.

Tema: Jesus Christus se lydensweg vir ons
1. Die toorn van God
2. Die liefde van God

1. Psalm 90 is die enigste van die 150 psalms wat aan Moses toegeskryf is. Om die konteks van hierdie psalm op die spoor te kom, moet ons daarom ook êrens in die tyd van Moses gaan soek. En dit bring ons hoogswaarskynlik by dié tyd toe die volk Israel vir veertig jaar deur die woestyn gereis het nadat hulle teen die Here in opstand gekom het. Hierdie veertig jaar se omswerwinge en moeite is waarskynlik die agtergrond waarteen Moses hierdie psalm gedig het – ons het daarvan gesing in Psalm 135.

Psalm 90 begin met ‘n belydenis: “Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.” Moses sê eintlik: hoewel ons swerwers deur die woestyn is, vind ons tog ‘n tuiste in U. U is vir ons meer as ‘n huis: U beskerm, U vertroos, U bewaar, U koester almal wat aan U behoort. En – belangrik – die Here doen dit nie net op daardie oomblik vir die volk in die woestyn nie; nee, deur die geslagte heen was Hy die God wat vir sy volk ‘n tuiste gebied het. Hy was dit vir Abraham toe hy uit Ur van die Chaldeërs getrek het “sonder om te weet waar hy sou kom”, Hy was dit vir Isak en Jakob toe hulle in tente tussen die Kanaaniete moes woon (lees maar Hebr. 11:8-9), Hy was dit vir sy volk deur alle geslagte heen.
En, gemeente, dit lê in die aard van God dat Hy deur die geslagte heen vir sy volk ‘n tuiste kan bied – want van ewigheid tot ewigheid is U God! In vergelyking met God is die berge nog jonk, dis asof hulle nog maar gister gebore is. Die aarde en die fondamente van die aarde – dis niks in vergelyking met die ouderdom van God nie. Duisend jaar, dis vir die Here soos die dag van gister wat verbyskiet, soos ‘n nagwaak. Duisend jaar – dink net, broers en susters, wat alles in duisend jaar kan gebeur: ryke wat opkom en val, konings en regeerders wat kom en gaan, tallose gebeurtenisse, duisende kindertjies wat gebore word, duisende grafte, alles wat belangrik is vir gesinne en individue. ‘n Duisend jaar – vir ons geweldig lank, maar vir God is dit soos niks nie, want gemeente, ons God is ‘n ewige God. En nie ‘n ewige God wat ewig sit en niks doen nie; nee, ‘n ewige God wat regeer, wat die lewensduur van mense bepaal, wat laat lewe en wat laat sterwe, wat vir sy kinders ‘n toevlug is, ‘n plek waar hulle veilig en geborge is. Broers en susters, dit is God, dit is ons God!

En dan die mens… Stof! Die menslike lewe is breekbaar, is kwesbaar. Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. En dan gee Moses in verse 5 en 6 twee beelde om hierdie kwesbaarheid te illustreer. Die eerste beeld is dié van swaar reëns – soos die hewige reëns in die berge van Kanaan met groot spoed alles voor hom wegspoel, so vergaan ons lewens in ‘n oogwink. Ons word meegevoer deur die stroom van die tyd; en sonder om werklik te verstaan waaroor dit in die lewe gaan, word ons al slapende meegevoer om kort voor lank die ewige slaap te slaap. Die tweede beeld is dié van die gras wat op die dakke van die huise in Kanaan gegroei het – soos hierdie gras soggens vinnig opgeskiet het en baie belofte getoon het, so vinnig vergaan dit ook weer deur die hitte van die oosterse son. Dit leef nie langer as ‘n enkele dag nie.
Gemeente, só is ons lewens – ‘n gedagte, ‘n oogwink, en dit is verby. Sewentig jaar… as ons baie sterk is, tagtig. Moses skryf hier in vers 10 half onsamehangend, asof hy wil sê: “Die dae van ons jare… Wat daarvan? Is dit die moeite werd om te noem?” Ons lewensduur is totaal onbeduidend – sewentig, tagtig… En die meeste van daardie jare word nog gekenmerk deur moeite en verdriet ook. Gou gaan dit verby, dit vlieg verby…

Sien u die kontras, broers en susters? ‘n Ewige God, ‘n God van geslag tot geslag. En aan die ander kant, die verganklike, sterflike mens; ‘n klap van die vingers en sy lewe is verby. Wat is die oorsaak hiervan, broers en susters? Wel, om te begin moet ons natuurlik eenvoudig die onderskeid tussen God en mens erken, die verskil tussen Skepper en skepsel. Daardie onderskeid bly altyd bestaan. Maar dít is ook nie die probleem nie, gemeente; hierdie onderskeid tussen God en mens, tussen Skepper en skepsel, is nog nie die oorsaak van ons sterflikheid nie. Inteendeel, hierdie onderskeid is ‘n heilsame onderskeid, ons ten goede. Dit is tot ons voordeel dat God God is, en dat ons mense is – só wou God dit van die begin af gehad het, só wou God met ons omgaan.

Maar Moses wys hier in Psalm 90 op die eintlike rede waarom ons verganklik is, waarom ons sterflik is – ons sónde en die tóórn van God daaroor. Ons sterflikheid is nie maar toevallig nie, dit was nie ingebou in die mens se oorspronklike natuur nie. Nee, ons sónde het die tóórn van die Here laat ontvlam, en dáárom sterf ons! Kyk maar hoe praat Moses daaroor in verse 7-9: “Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik. U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig. Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte…”. En hoe het die volk daar in die wildernis dit nie gevoel nie – daar waar hulle vir veertig jaar deur die warm, droë woestyn moes swerf, daar waar dors hulle oorval het en hulle gewens het dat hulle kon sterwe, daar waar giftige slange baie laat sterf het, daar waar vier-en-twintigduisend deur die plaag gesterf het, gemeente, daar het die volk deur en deur die toorn van die Here op hulle voel brand. Hoe het hulle nie God se hand op hulle voel druk nie, sy verterende toorn…

Maar, broers en susters, wat het die volk hiermee gemaak? Hoe het die volk op die toorn van die Here gereageer? En dit is dan ook die rede vir Moses se klag in vers 11: “Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid…?” Moses kla hier dat die volk so min deurdronge is van God se toorn, dat dit hulle so min raak! Dit werk by hulle nie die vrees, die eerbied, wat aan die Here verskuldig is nie – kyk die einde van vers 11.
Gemeente, die toorn van God is geen gewilde boodskap in ons tyd nie; mense vandag wil nie meer hoor van God se toorn nie, dit stry immers teen die boodskap van die liefde van God. En daarom word die toorn van God op baie plekke doodgeswyg. Maar, broers en susters, niemand kan God se toorn doodswyg nie. Of anders gestel: ons kan God se toorn doodswyg, maar ons kan dit nooit doodmáák nie! God laat Hom nie uitskakel nie. Gaan kyk maar net om u heen: niemand kan ontken dat ons elke dag met die realiteit van die dood gekonfronteer word nie, niemand kan ontken dat ons met lyding te make kry nie, met rampe, met siekte, met ellende. En dit dwíng ons, Gód dwing ons, om terug te vra na die oorsaak daarvan – hoekom? Hoekom gebeur hierdie dinge? Hoekom word die wêreld en elkeen van ons deur lyding getref? Die sonde, gemeente, die sonde… en God se vernietigende toorn daaroor! Ons sonde, my sonde, en die verterende vuur van God se toorn daaroor – dit is die oorsaak. Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!

Ons moet daardie pad loop, gemeente, ons moet  ‘n besef daarvan kry. En daarom bid Moses ook in vers 12 dat die Here aan sy volk dié kennis sal gee wat volgens vers 11 ontbreek, dat Hy aan hulle ‘n besef van sy toorn sal gee. En Moses bid dit op ‘n baie opvallende manier: Hy vra dat ons sal leer om ons dae te tel – Moses lê dus ‘n nou verband tussen, aan die een kant, ons dae, ons lewe, die verganklikheid en die kortheid daarvan, en aan die ander kant, die Goddelike toorn. Dié twee is onlosmaaklik verbonde aan mekaar! Kyk dus na die lewe, broers en susters, kyk hoe kort dit is, kyk hoeveel moeite daaraan verbonde is, en besef dan dat die toorn van God oor die lewe lê, dat die vloek van God oor die lewe lê. Weereens, ons moet ‘n besef hiervan kry, want dán bekom ons ‘n wyse hart (vers 12), dán verstaan ons die ellendige situasie waarin ons verkeer, dán vlug ons nie meer weg van die toornige God nie, maar dan keer ons terug tot ons toevlug, ons tuiste van geslag tot geslag.

Daarna wil ons vervolgens kyk wanneer ons let op die liefde van God.

2. Psalm 90 val uiteen in twee dele. Die een deel het ons nou behandel – verse 1-12. Vanaf vers 13 volg die tweede deel. En die kontras is opvallend. Behalwe vir die mooi belydenis in verse 1 en 2, is die eerste hoofdeel een groot klag oor die verganklikheid van die mens, oor die sonde en die toorn van God daaroor. Maar die tweede deel slaan ‘n totaal ander toon aan – een wat blyk gee van hoop en uitkoms. Maar hoe is dit moontlik? Waarvandaan kom nou hierdie skielike omkeer?

Gemeente, ons kan Psalm 90 slegs na behore verstaan, wanneer ons dit lees in die lig van die werk van ons Here Jesus Christus. Die swart prentjie wat die eerste deel van Psalm 90 geskets het, was die gevolg van die sonde van die volk en die swaar toorn van God daaroor. Maar – so lees ons in vraag en antwoord 37 van die Kategismus – Jesus Christus het na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, daardie toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra – só het Hý mý liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos.

En, let wel, Hy het dit as onskuldige gedra, Hy het dit nie verdien nie. Selfs Pontius Pilatus moes toegee dat hy geen skuld in hierdie man vind nie. En tog het hierdie wêreldlike regter Hóm veroordeel, juis sodat óns daardeur van die streng oordeel van God, wat oor ons moes kom, bevry sou word. Hy het die vervloeking wat op mý gerus het, op Hóm geneem deur die dood aan die vervloekte kruis te sterf.

Sien u, gemeente, by al drie die antwoorde in Sondag 15 gaan dit oor die vrolike ruil, waarvan Maarten Luther so pragtig gepraat het: Hy het gedra wat ons s’n was – die toorn van God teen ons, is uiteindelik op Hom uitgehaal; die oordeel van God wat oor ons moes kom, het oor Hom gekom; die vervloeking wat op my gerus het, het sy vervloeking geword. Alles wat die menslike lewe sterflik en verganklik maak, alles wat maak dat ek ook werklik die ewige dood moes sterwe – die toorn, die oordeel, die vervloeking – het Hy oorgeneem, op Hom geneem, dit in my plek gedra.

En gemeente, dít is die rede vir die kontras in Psalm 90, dít is die rede waarom Moses in die tweede deel van hierdie psalm ook weer van uitkoms en hoop kan spreek – natuurlik, Moses het nog nie die fyn besonderhede van Jesus Christus se Persoon en koms geken nie, maar hierdie man van God het wel deeglik besef dat die uitkoms uit die ellendige situasie van die volk slegs by die God van die verbond te soek is, by die groot Paaslam waarna die paaslammers van Moses se dae vooruit gewys het. Ons weet vandag dat ons daardie uitkoms aan die voet van die kruis ontvang. Dáár het Jesus Christus die volle krag van God se toorn oor die sonde van die hele menslike geslag oor Hom heen laat kom. Die hele menslike geslag – dit is dus die toorn van God oor die sonde van die volk in die woestyn, waarvan Moses in Psalm 90 praat, maar dit is ook die toorn van God oor u sondes en my sondes. Dit alles het Hy gedra.

En as ons dit besef, broers en susters, wie durf dan nog sê dat Jesus Christus gely het wat ons nou ly? Ja, ons ly aan siekte en ellende, ons het hartseer en ons sterf, maar die toorn van God oor die sonde van die hele menslike geslag – het u dit gedra, het ek dit gedra? Dít is immers ons groot ellende, en dít het Christus in ons plek gedra. Hy het gedra wat ons in der ewigheid nie sou kón dra nie – daarom bely ons ook in Sondag 6 van die Kategismus dat Christus ook ware God moet wees, “om deur die krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid te kan dra en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee.” Broers en susters, dit het ons Verlosser, God en mens in een Persoon, vir ons gedra. Dit is volbring!

Laat daarom die gebed van Moses in die tweede deel van Psalm 90 ook ons gebed word. Laat ons nie net stilstaan by die eerste deel, oor ons sonde en sterflikheid nie, maar laat ons saam met Moses bid van hoop en uitkoms: “Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte” (vers 13). Dit wat skeiding gemaak het tussen God en ons, naamlik die sonde, dit is weg, Christus het dit gedra. En daarom roep ons dat die Here sal terugkeer, dat Hy weer met ons sal omgaan soos mense wat weer in die regte verhouding tot Hom staan, dat Hy Hom oor ons sal ontferm. En ons het rede om dit te bid, ons pleit immers op Christus se werk.

En gemeente, wanneer die Here terugkeer in ons lewens, dan word die lewe weer nuut, dan vergaan ons nie meer onder die verpletterende toorn van die Here nie. O ja, dan bly elkeen van ons se lewens nog maar kort as ons dit stel in die perspektief van die ewigheid – sewentig jaar, as ons baie sterk is, tagtig jaar – maar dan mag ons bid dat God sal gee dat ons, na die nag van sonde en ellende, ‘n nuwe môre in ons lewe mag binnegaan (vers 14); dat ons in ons lewe, al is dit hoe kort (en, gemeente, ons weet nie hoeveel tyd die Here ons hier op aarde gee nie), maar dat ons in ons lewe versadig sal word met die goedertierenhede van die Here; dat ons in al die dae wat die Here gee, kan jubel en bly wees. Jubel en bly wees omdat God, nadat Hy ons dae en jare van verdrukking en onheil laat sien het as gevolg van ons eie sonde, ons nou bly maak deur die verlossing!

En gemeente, dan is dit geen blydskap omdat skielik alle moeite en lyding tot ‘n einde gekom het nie. Wie sal dan bly wees? U, jy, ek? Ons almal ken tog lyding, ons almal voel tog nog die gevolge van die sonde? Daardie siekte, daardie hartseer, daardie gebroke verhouding, die verwerping… Maar gemeente, wees bly met ‘n onuitspreeklike blydskap, want die gevolge van die sonde is nog daar, maar die sonde self is weg. Christus verlos ons daarvan! Hy het in ons plek gely!

En elke keer as u daarvan vergeet, elke keer as die lyding in jou lewe dreig om jou te oorweldig, bid dan saam met Moses in vers 16: “Laat u werk vir u knegte sigbaar word…” Bid dus, broers en susters, dat u steeds die oog gerig sal hou op God se dade van verlossing, steeds sal bly kyk na die kruis, onder die indruk sal bly van die lyding van Christus – vir ons! Sy lyding is nie vergelykbaar met ons lyding nie, sy lyding was oneindig dieper en swaarder as ons lyding. Moet dit ons moedeloos maak? Moet ons nou maar stilbly oor ons eie lyding, omdat dit tog soveel erger kon gewees het? Dis tog dwaasheid! Juis die feit dat sy lyding soveel dieper was as wat myne ooit kan wees, gee my die vrymoedigheid om na Hom te gaan vir hulp, vir krag om verder te gaan. Juis die feit dat sy lyding nie vergelykbaar is met my lyding nie, maak my bly, want Hy het gedra wat ek nooit sal kan dra nie – die toorn, die oordeel, die vervloeking.

En gemeente, wanneer die Here aan u ‘n nuwe lewe gee, nuwe blydskap, ‘n môre na die donker nag, gaan doen dan ook sy werke! Dit is die enigste manier hoe ons kan bid wat Moses in vers 17 bid: “… bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!” Ons kan dit slegs bid, wanneer ons die werke van die Here doen, wanneer ons werke doen wat pas by die ewige God, werke wat sal bly staan lank nadat ons self in die graf neergelê is. Dit is wat Moses bid vir die volk wat in die woestyn moet rondswerwe – hy bid dat hulle werke sal doen wat sal bly staan, ook in die Beloofde Land.

Ja, gemeente, dit is waarheen ons oppad is, die Beloofde Land, die nuwe hemel en aarde. Doen werke wat daarin sal standhou, doen werke wat ewigheidswaarde het. En gaan so oppad na daardie Koninkryk. Ons woestynreis is tans nog besig; hoe lank, dit weet ons nie. Maar laat ons in Christus geanker wees, Hy wat ons verlos het van die sonde en die toorn, Hy wat ons voorgegaan het na die hemel – laat ons Hom volg tydens ons woestynreis. En dan mag ons uitsien na Kanaan, die land wat oorloop van melk en heuning. Drink nou al daarvan, en verheug u in die goedheid van die Here!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Skr. 1:1, 3 en 6
Gebed
Lees: Psalm 90
Sing Ps. 135:7 en 8
Teks: HK, Sondag 15
Preek
Amenlied Ps. 90:2, 7 en 9
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 27:1, 3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)