Christus se helledood en begrafnis

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-02-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

Lees: Markus 15:33-47
Sing: Ps 31:1,3,5; Ps 31:17-19; Ps 22:1,3; Ps 16:4,5; SB 24:6,7

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie ervaar die dood nie as verskriklik nie?  Die liggaam word begrawe en gaan oor tot ontbinding.  Ons sien die pynlik werklikheid van die vloek: Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.  As jy Christus nie ken nie, dan het jy geen enkele hoop meer nie: die fisiese dood beteken dan ’n deurgang tot die ewige dood.  Die liggaamlik dood word so ’n poort na die hel, die definitiewe, onherroeplike skeiding van God.

As jy egter Christus ken, dan lê die dinge anders.  Jy word dan nie sonder hoop begrawe nie.  Die dood en die graf jaag geen angs meer aan nie.  Christus het in my plek die pad gevolg sodat die dood vir my nie ’n poort na die hel sou wees nie, maar ’n poort na die hemel. 

Dis opvallend, broers en susters, dat die pad wat die Here Jesus gevolg het, ’n ander volgorde laat sien vir wat betref die 1ste en die 2de dood.  By mense is dit immers so dat daar eers die liggaamlike dood is en eers daarna die dood van die hel, die ewige dood.  Met die Here Jesus is dit anders.  Die volgorde word omgekeer.  Die Here aanvaar eers die helledood om eers daarna die fisiese dood te sterwe.  Die 2de dood, die hel, word deur hom oorwin voordat hy die eerste dood sterwe.

Gemeente, as ons op daardie volgorde let dat kan die volgorde van die apostoliese geloofsbelydenis ons bevreemd.  Daar bely ons immers Jesus Christus wat gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel.  Die volgorde van die artikels stem nie ooreen met wat ons net nou gesien het.  Christus het mos die hel ervaar voordat hy gesterf het en begrawe is.  Hoe moet ons die verskil verklaar?

Waarskynlik sal ons dit moet verklaar vanuit die oorspronklike betekenis van die woord wat ons met die hel vertaal.  Daardie woord is vroeër vir beide die doderyk en vir die hel gebruik.  Julle kan dit terugvind in die vertaling van die bekende teks uit Mt 16:18.  In die ou Statenvertaling lees julle daar dat die poorte van die hel die gemeente nie sal oorweldig nie.  In ons Afrikaanse vertaling praat ons van die poorte van die doderyk.  Dieselfde woord kan dus die hel of die doderyk aandui.  So sal die vroeër kerk met opset die art neergedaal na die hel of doderyk na die art oor Christus se lyding en dood geplaas het.  Hulle het daarby aan die doderyk gedink.

In die kat het ons egter ’n ander betekenis aan die woorde gegee.  Die neerdaling na die hel word nou as ’n helse lyding verklaar.  En dan kom die volgorde van die artikels ietwat vreemd oor.  Christus het immers die helse lyding voor sy dood en begrafnis ondergaan.

Die kategismus gee egter ’n pragtige en skriftuurlike inhoud aan die art.  Ons kyk terug na heel die lyding en vernedering van Christus.  Hoe sou jy dit tipeer?  Dit alles kan saamgevat word as neerdaling na die hel. 

Laat ons nou let op twee momente in die lyding van Jesus Christus: Christus se helledood en begrafnis.
1. Hy word oorgelewer in die mag van die duisternis
2. Hy word toevertrou aan die skoot van die aarde

Ons begin met die uitdrukking neergedaal na die hel.  Die Skrif is duidelik oor die helse lyding wat Christus ondergaan het.  Die angs vir daardie lyding het in Getsemane bloedsweet by Hom ontpers.  En aan die kruis was die helse lyding volle werklikheid, veral gedurende die drie ure duisternis.

Markus vermeld dat daar vanaf die 6de uur (12 uur smiddags) tot die 9de uur (3 uur smiddags) duisternis oor die hele land gekom het.  Wanneer die son op die hoogste punt staan – smiddags 12 uur – word haar lig weggeneem.  Dit is nie toevallig nie.  Dis geen gewone natuurverskynsel nie.  Die Joodse Pasga is immers by volle maan gevier en dan kon ’n sonsverduistering in astronomiese sin nie plaasvind nie.  Dis ook geen werk van mense nie.  Geen mens kan beskik oor die lig van die son en sterre nie.  Net God beskik daaroor.  Dis dus God self wat hier besig is.  Hy trek sy lig terug.  Hy bring duisternis oor Golgota. 

Maar gemeente, wat is God se bedoeling met die duisternis?  Die taal van die duisternis kan uit die Skrifte verstaan word.  Trouens, Jesus self verklaar dit vir ons.  Omstreeks 3 uur in die middag deurbreek Hy die stilte met die uitroep: “my God, my God waarom het u my verlaat”.  Die duisternis praat dus van God-verlatenheid.  Dit blyk ook duidelik uit die Ou Testamentiese profesieë.  Dink net aan die profesieë oor die dag van die Here.  Bv Jes 13:9,10: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed.....die son is duister by sy opgang en die maan laat sy lig nie skyn nie.” Amos sê daarvan: “En in die dag, spreek die Here HERE, laat Ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is.”

Die duisternis is, gemeente, dus ’n teken van God se toorn.  Hier gaan die laaste oordeel oor Christus heen.  Dis die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag.  Hierdie taal van die duisternis was vir Christus volkome duidelik.  Hy het geweet dat Hy nou die dieptepunt van sy lyding ingegaan het.  By sy arrestasie in Getsemane het Hy reeds gepraat van die mag van die duisternis wat nou oor hom sou kom.  Wanneer Christus aan die kruis hang, ontneem God self sy Seun die daglig.  Nou ons Verlosser die grootste offer kom bring, mag Hy geen kommunikasie middel meer hê nie.  Hy moet juis die groot ekskommunikasie beleef, die totale verbanning.  Hy moet van alle gemeenskap verstoot word.  God verberg die lig van sy aangesig vir Hom.  Hy lewer Hom uit aan die totale eensaamheid en verlatenheid van die hel.

So bely ons dat Christus 3 uur deur die ryk van die ewige duisternis gegaan het.  Christus het nie na sy dood na die hel gegaan, soos baie mense beweer nie, maar hy het voor sy dood die helse kwelling ervaar.  Sy 4de kruiswoord maak dit voldoende duidelik: “My God, my God waarom het u my verlaat.”  En die ander kruiswoorde bevestig dit.  Tot die eks moordenaar sê Jesus immers: “Vandag sal jy met my in die paradys wees”.  En Christus se laaste kruiswoord lui: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor”.  Jesus het na sy dood nie na die hel neergedaal nie.  Sy dood het Hom juis in die paradys van God gebring, in die heerlike teenwoordigheid van sy Vader.

Gemeente, Christus ondergaan wat nog nooit iemand in die wêreld ondergaan het nie.  Die verdoemdes verkeer immers tot die jongste dag in die ryk van die duisternis as naakte siele, sonder liggaam.  Jesus daal egter in die hel in lewende lywe, as ’n komplete mens, na liggaam en siel.    Waarom hierdie besondere weg?  Dit was nodig vir ons heil.  Hy moes as komplete mens die tweede dood sterwe.  Hy moes in sy hele mensheid die helse lyding dra.

Dit verklaar, brs en srs, waarom Christus eers die tweede dood moes sterwe, voordat Hy die eerste dood kon aanvaar.  Hoe sou dit gegaan het as Hy eers die liggaamlike dood sou gesterf het?  Dan sou sy liggaam en siel van mekaar geskei gewees het en sou Hy nie na liggaam en siel in die mag van die duisternis gedaal het nie en dit kan oorwin het.

Eers moes Christus die hel oorwin en daarmee Satan die vors van die duisternis.  Hy moes Hom, wat die mag oor die dood het, die duiwel, eers onttroon.  Eers daarna kon Hy homself aan die liggaamlik dood oorgee.  Dan hoef die dood hom geen angs meer aan te jaag nie.  Want Hy het dan self die mag oor die dood.  Deur sy oorwinning oor die hel is Hy in staat en het Hy die bevoegdheid om die liggaamlike dood te trotseer en uit die dood op te staan.  So hoor ons die woorde: “dit is volbring”, as ’n oorwinningslied.  Die ewige dood lê agter hom.  Voor hom lê die liggaamlike dood.  Maar dit jaag hom geen angs meer aan nie, want alles is voldaan.  Hy kan nou rustig sy gees oorgee en sterwe. 

Dis vir ons ’n ryke troos.  In antwoord op die vraag: “waarom volg daar: neergedaal na die hel?” bely ons ”Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die helse angs en pyn verlos”.  Christus het deur die ryk van die duisternis gegaan.  Hy het dit na liggaam en siel deurstaan en oorwin.  Dit is volbring.  Die ewige dood is oorwin.  En ook diegene wat die mag oor die dood het, die duiwel.  Glo jy in Christus?  Dan hoef jy geen angs te ken nie.  Satan kan die liggaam doodmaak, maar hy kry geen kans om siel en liggaam in die hel te laat verderf nie.  Jesus Christus het van die mag van die hel verlos.

Ja, daar bly wel die stryd.  Ons lewensweg ken soms baie verskrikkings, ook ons sterwenspad.  Daar staan dan baie op die spel.  Satan laat sy laaste kans hom nie ontglip nie.  Dit kan soms lyk asof ons deur God en mense verlaat is.  Maar gemeente, kyk altyd en in alle omstandighede na Jesus Christus jou Borg en Middelaar.  Vertrou op Hom.  Dan kan Satan te kere gaan soveel as hy wil.  Maar hy kry jou nooit in sy greep nie.  Want Christus is deur God verlaat gewees sodat ons nooit meer deur Hom verlaat sou word nie.  Hy het vir almal wat in Hom glo, die hel oorwin en die mag van die duisternis gebreek.  Kan jy dan nog wel sê dat jy deur God verlaat is?  Het Christus dan nie in jou plek die helse verlatenheid deurstaan nie?  As jy voel dat jy deur God verlaat is, sou dit dan nie eerder so kan wees dat jy besig is om God te verlaat nie?  Wie God en sy Christus verlaat kan smarte verwag.  Maar wie op die Here vertrou verkeer in die lig, hoe jou uiterlike omstandighede ook al mag wees.  Gods vriendelike aangesig straal vrolikheid en lig vir alle opregte harte.

Brs en srs, die 2de moment in Christus se lyding waarop ons wil let, is die feit dat Hy toevertrou is aan die skoot van die aarde.

Die Skrif gee behoorlik wat aandag aan Christus se begrafnis.  Die amptelike owerheid kom daarby te pas.  Josef van Arimathea vra Pilatus se toestemming  om Jesus se liggaam van die kruis af te haal en te begrawe.  Pilatus die hoogste gesag in die  land gee die toestemming.  Die liggaam word vrygegee.  Die verslag van die hoofman word deur Pilatus aanvaar.  Nou staan dit amptelik en onomstootlik vas dat Jesus inderdaad gesterf het.

Dat Jesus reeds dood was, is eerder aangetoon toe die soldate ’n spies in sy sy gesteek het en bloed en water uitgekom het.  ’n Onmiskenbare bewys dat Jesus gesterf het.  Maar dit was nog nie voldoende nie.  Die dood van Jesus moes vir almal oortuigend blyk en amptelik bevestig wees.  Daarom is Jesus begrawe.

Die feite van die begrafnis word kort en bondig vir ons weergegee.  Josef haal Jesus se liggaam af van die kruis, draai dit toe in die linne en lê Hom neer in ’n nuwe graf.  Daarna word die steen teen die opening van die graf gerol.  Josef en sy helpers is gereed.

Dan maak die evangelis nog melding van die getuies wat daarby was.  Hulle word uitdruklik genoem: Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses.  Die vroue is getuies daarvan dat alles inderdaad so gebeur het.  Hulle tree op as getuies namens die kerk van alle tye.  Nou die dissipels afwesig is, is ons afhanklik van hul getuienis.  Nie verniet vermeld Markus die getuienis van hierdie vroue.  Ons het met feite te make, nie met fabeltjies nie. 

Bowendien, het die Joodse en Romeinse outoriteite dit self opnuut bevestig. Die Joodse raad sit met die probleem van die Jona teken waaroor Christus gepraat het.  Hulle vra toe versekering van die graf, wat die Romeinse owerheid toestaan.  Die steen voor die graf word verseël en soldate pas die graf van Jesus op.  Twyfel oor Christus se dood en begrafnis is nie meer moontlik nie.  Die feite lê onomstootlik vas.  Vriend en vyand het dit publiek bevestig.

Maar waarom is dit so belangrik dat Christus se dood vasstaan?  Ons kan drie dinge noem.

Dis in die eerste plek belangrik tov die dood self.  Christus moet volgens Goddelike reg die dood sterwe.  Ook die fisiese dood behoort by die straf op die sonde waarvoor God in die paradys gewaarsku het: “Die dag as jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe.” Paulus sê later: “die loon van die sonde is die dood”.   Christus moes die straffende reg van God ten volle dra.  Net so kon Hy ons verlos.  Eers as alles betaal is, hoef ons nie meer self te betaal nie.  En kan ons dood ’n afsterwe van die sonde en ’n deurgang tot die ewige lewe wees.  So hoef die liggaamlike dood vir gelowiges nie werklik meer angs aan te jaag nie.  Christus het betaal.

Dat Christus werklik gesterwe en begrawe is, is ook belangrik mbt die graf self.  Tot die straf op die sonde behoort ook die graf: “stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.”  In die graf keer die mens tot die aarde terug waaruit hy geneem is.   Jesus Christus het ook dit vir jou en my gedoen.  Hy het neergedaal in die graf, wat ons menslike ellende so duidelik wys.  Wat ’n ongelooflike solidariteit van Christus in ons menslike bestaan.  Hy het ware mens gewoon.  Hy het sy liggaam ’n lyk laat word.   Ook hy keer tot die aarde, tot die stof terug.  Daar was ’n begin en ’n einde van Jesus se aardse lewe.  Sy geboorte, maar ook sy dood is deel van die evangelie.  Sy krip en sy graf was albei noodsaaklik.  Sy koms in die wêreld en sy heengaan moet albei eg menslik wees.  Hy is in die moederskoot van Maria gevorm.  En aan die einde van sy lewe op aarde daal hy in die skoot van die aarde.  Hy deel ons lot.  Hy doen alles in ons plek om die vloek uit ons lewe en dood weg te neem.

Daarom kan jy wat glo nou heel anders teen die graf aankyk.  ’n Mens kan daar verskriklik teen op sien.  Dis nie maklik om te sterwe en om begrawe te word nie.  Ons is stof en tot stof keer ons terug.  Maar lig skyn oor die graftes van hulle wat in Christus sterwe.  Deur Christus se begrafnis is die verskrikking van die graf weggeneem.  Christus het die vonnis “tot stof sal jy terugkeer” gedra.  As ons met Christus in sy dood gedoop is, sal ons ook met Hom lewe.  Daarom mag ons dooies lewe ook al het hulle fisies gesterwe en mag hulle uitsien na die opstanding van die vlees. 

Gemeente, dat Christus werklik gesterf en begrawe is, is ten slotte ook belangrik ivm die opstanding.  Op die Paasoggend is juis alle aandag op Jesus se graf gerig.  Die graf is leeg.  So moet Jesus se graf duidelik maak dat Hy inderdaad die dood oorwin het, dat Hy werklik opgestaan het.  Christus se opstanding en in die verlengde daarvan jou opstanding is aan daardie graf verbind.  Sonder die onweerlegbare sekerheid van Christus se dood sou die opstanding in die lug hang.  God het egter daarvoor gesorg dat die feit van Christus se dood onomstootlik vasstaan sodat ook die opstanding onomstootlik vas sal staan.

Christus is toevertrou aan die skoot van die aarde.  Soos dit vir ons mense na die sondeval beskik is.  Tog is Jesus in sy graf onmiddellik baie anders as ons mense.  Hy sterf en word begrawe as oorwinnaar.  Hy het hom wat die mag oor die dood het, reeds oorwin.  En nou kan Hy onmiddellik na sy dood aan die lewe werk.  Wat ’n verskil met ons graftes.  In elke mense graf werk die dood deur.  Maar in Christus se graf het die dood geen seggenskap meer nie.  In daardie graf werk die Lewensvors aan sy uitgang op die Paasmore.  Petrus het daarvan gepraat op die Pinksterdag toe hy gesê het dat Christus se vlees geen ontbinding gesien het nie.  Christus het geen ontbinding van sy liggaam toegelaat nie.  Hy het die krag van die dood reeds gebreek.  Hy het vir homself ’n verheerlikte Paasliggaam toeberei.  Die skoot van die aarde word soos die skoot van Maria.  In Maria se skoot is sy verderflike liggaam toeberei.  In die skoot van die aarde sy onverderflike liggaam.

Gemeente, wat is julle ryk met so ’n Middelaar.  Hy het volkome in jul lot gedeel.  Hy het die ewige dood, die hel deurgegaan om daarna die liggaamlike dood te aanvaar en die graf in te gaan.  En dit alles in jou plek, as jou Middelaar.  Om so die vloek uit jou lewe en uit jou dood weg te neem en die onverderflike lewe in die lig te stel.  Die dood, ja selfs die hel, hoef jou geen angs meer aan te jaag nie.  In Jesus Christus is alles reeds voldaan.  Geen dood of graf sal jou meer kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)