Jou Heer is die eniggebore Seun van God

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-01-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Preek Inhoud: 

Lees: Romeine 14:1-12.
Sing: Ps 100:1.4; Ps 111:1,2; Ps 2:4,6; SB 33; Ps 28:6-8.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die Kategismus sê ons pragtige dinge oor die name van ons Verlosser. Eers is daar die naam Jesus wat praat oor die werk van ons Middelaar: Hy verlos van die sondes. Daarna is daar die naam Christus, wat praat van sy salwing, sy goddelike roeping. Nou het ons die name: die eniggebore Seun van God, ons Here. Name wat sy verhouding tot God die Vader aangee- Hy is die Seun van God die Vader- en sy verhouding tot ons – Hy is ons Here.

Wanneer die Kat die name bespreek dan vergeet hy nie om ’n troosboek te wees nie. Ons kry geen onpersoonlike verhandeling, geen wetenskaplike betoog nie. Ons kry ’n aktuele verkondiging van die werklikheid van Jesus Christus as ons Verlosser. Die Kat is gerig op die praktyk van jou daaglikse lewe. Jy lees daar wat Jesus Christus vir jou beteken. Wat Hy vir jou beteken in jou lewe en stryd van elke dag. Dit Kat laat sien hoe ryk u is juis deurdat Jesus Christus die eniggebore Seun van God en ons Here is. Die Kat wil immers niks anders doen as om te verwoord wat die evangelie tot jou troos oor Christus sê.

So verkondig ek vir julle: Jou Heer is die eniggebore Seun van God.
1. Jy is sy kosbare besit
2. Hy is Vader se enigste geliefde Seun

As ons praat oor ons Verlosser dan gebruik ons dikwels die aanduiding Here. Die Bybel gaan ons daarin voor. Hoe dikwels word die woord-kombinasie: ons Here Jesus Christus nie gebruik nie. Dink maar aan die seën: die genade van die Here Jesus Christus. Ons bid ook dikwels in die naam van ons Here Jesus Christus. Om ons te onderskei van vrysinniges wat ons Verlosser slegs as mens beskou en steeds net oor Jesus praat, praat ons liewer van die Here Jesus.

Waarom die toevoeging Here? Daarmee maak ons duidelik dat Jesus Christus nie sommer enigiemand is nie. Hy is Heer. Hy voer heerskappy. Hy het alle mag ontvang in hemel en op aarde. Die naam Heer sien op die mag, die heerlikheid van Jesus Christus as koninklike vors, as Gebieder van alles.

So is Hy ook ons Heer en Meester. As gelowige bely ek dat Jesus Christus my Gebieder, ja my Eienaar is. Paulus skryf: "of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers." (Rom 14:8b,9). Ons behoort dus aan die Here, sê Paulus. Hoekom? Omdat Christus gesterwe en opgestaan het. Deur sy dood het Hy ons tot sy eiendom gemaak.

Die Bybel gebruik dikwels die woord slaaf of kneg om ons verhouding tot die Here aan te dui. Jy word slaaf, kneg van Jesus Christus genoem. Wat beteken dit om slaaf van Jesus Christus te wees? Wat was die posisie van slawe? Hulle was volkome die eiendom van hul heer. Hulle was heeltemal tot die beskikking van hul heer. Hy het die seggenskap oor hulle gehad.

So kan nou gesê word: die Here Jesus is jou eienaar. Jy is sy wettige besit. Het Hy jou nie regmatig gekoop nie? Soos here hulle slawe gekoop het? Maar nou nie met geld nie. Dit sou nie toereikend gewees het nie. Wat moet God met geld maak as die prys wat betaal moet word die lewe is, die lewe van die mens wat gesondig het? So het Jesus sy lewe vir sy slawe gegee. Bloed was die prys wat betaal moes word. En dit is die prys wat Hy betaal het. Onvoorstelbaar! Hy het die hoogste prys wat iemand kan betaal, betaal, sy eie lewe om jou en my in sy besit te kry.

Wat beteken dit vir jou? Tog dit: Jy behoort heeltemal aan Hom. Hy beskik oor jou. Jy het nie self die seggenskap oor jou lewe nie. Hy het die seggenskap. Jy kan nie sommer doen of nalaat wat jy wil nie. Dit bepaal Hy.

Die apostel Paulus werk dit uit in die gelese Skrifgedeelte. Hy skryf: "Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie." Waarom nie? "Want of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here." Die feit dat die Here Christus ons eienaar is, het dus tot gevolg dat ons nie meer lewe vir onsself nie, maar vir Christus. Ons is in lewe en sterwe van en vir Hom.

Dit is nogal ingrypend. Alles moet dan op die Here Jesus gerig wees. Ek leef nie vir myself, vir my eie plesier en vermaak nie. Ek leef vir Hom en ek wil Hom plesier gee. Al my doen en late word bepaal deur my verhouding tot Hom, my Eienaar. Hy staan in die middelpunt. Ek leef Christo-sentries. Dit is verstrekkend. Dit geld vir alles wat ek doen. My vriendskappe, my omgang met mense, my werk, my besighede, my verhoudings, my huwelik en gesin ens ens. Ek is van die Here. Dit is die allesoorheersende werklikheid . Van daaruit soek ek my kontakte. Dit bepaal met wie ek ’n verhouding aangaan en hoe ek met die ander omgaag. Omdat ek aan Hom behoort soek ek gepaste werk om Hom met my gawes te dien. As eiendom van Christus neem ek my plek in in my verhoudings, in huwelik en gesin. Ek erken en aanvaar sy seggenskap. Daarom is God se Woord en ons gebed, dus ook die huisgodsdiens, die hart van die Christelike lewe. Dit bestempel ons lewe van elke dag. Is dit so by jou? Neem jy tyd daarvoor, vir Skriflesing en gebed om te wys dat jy jou aan die gesag van die Here Jesus wil onderwerp?
Christus se heerskappy is allesomvattend. Hy heers ook oor die dooies. Ook as ek sterf, sterf ek tot eer van die Here. Ook daar het Hy die seggenskap. Daar bly dus geen enkele privaat gebied oor waar ek my reg op seggenskap kan laat geld nie. Selfs in die kleine en gewone dinge van die lewe het ek met Hom die Beskikker te make.

Dink maar aan die sake wat onrus veroorsaak in die gemeente te Rome. Dit gaan daar oor eet en drink gewoontes en oor die onderhouding van bepaalde feesdae. Daar is lidmate wat uit reaksie teen die uitbundige lewe van die heidene heeltemal geen vleis of alkohol wil gebruik nie. Ander lidmate het geen enkele probleem daarmee nie, as die dinge maar matig gebruik word. So was daar ook die verskil oor die onderhouding van feesdae.

Ons sou sê: waarom maak hulle so ’n ophef oor sulke sake. Laat elkeen maar doen wat hy self goed vind. Dit lyk vir ons ’n onbelangrike, onverskillige saak of ’n mens geheelonthouer wil wees of nie.

Tog is dit beslis nie die geval nie. Wat sê Paulus hieroor? Dit gaan ook in die dinge oor die Here. Wat jy ook doen, watter lewenstyl jy ook al kies, dit moet tot eer van die Here wees. Jy is heeltemal sy eiendom. Luister maar: "Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God." (Rom 14:6). Daarna noem Paulus as die motief: "Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here." (14:7,8).

Christus se heerskappy omvat dus ons hele doen en late. Daar is geen neutrale, privaat gebied nie. Ook ons eet en drinkgewoontes en ons feesvier behoort daarby. En ons sterwe.

Is dit, broeders en susters, nie verskriklik benouend nie? Word jy hiermee nie belemmer in jou lewe en ontwikkeling nie? Jy kan immers nooit meer doen en nalaat wat jy self wil nie. Christus se allesomvattende heerskappy staan haaks op die moderne lewensgevoel. Geld vandag nie die motto: jy moet opkom vir jouself nie. Jy moet jouself verwerklik. Jy moet daarvoor sorg dat jy jou deel kry. En word mbt die sterwe ook nie gepleit vir die reg op selfbeskikking nie. Waarom sou jy nie self die uur van jou dood mag bepaal nie? Waarom sou jy nie self mag ingryp by ondraaglike of sogenoemde sinlose lyding nie?

Kan ons dan wel iets maak met Paulus se woorde: niemand leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie, want as ons lewe, lewe ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here? Is dit nie ’n knellende band wat jou ontplooiing in die pad staan nie en wat jy dan maar so vinnig as moontlik moet afwerp nie?

Ek wil hier nog op iets anders wys. Teenwoordig word die christelike vryheid en die persoonlike verantwoordelikheid sterk benadruk. As mense met mekaar verskil in wat hulle dink en doen, dan word al vinnig ’n beroep gedoen op die christelike vryheid en die persoonlike verantwoordelikheid. Hoekom? Sou die benadrukking van die christelike vryheid soms ook nie ’n versluiering kan wees van die selfbeskikkingsgedagtes nie? Sou dit nie soms ’n verkapte vorm van selfhandhawing kan wees nie, so van: ek sal self bepaal hoe ek my lewe wil inrig? Daarvoor het ek niemand nodig nie.

Gemeente, sulke gedagtes pas beter by die moderne lewensgevoel as by die christelike vryheid. Hulle het niks met die christelike vryheid te make nie. Hulle is allermins christelik. Want wat is christelik? Dit: niemand leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie, want of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Dit gaan by alles wat jy kies en doen oor die Here. Hy het die seggenskap. Hy bepaal vir my hoe ek my lewe sal inrig. As christen leef ek Christo-sentries, met Christus in die middelpunt, en nie ego-sentries, met my eie ek in die middelpunt nie.

As Paulus skryf oor verskille in lewenstyl dan sê hy nie: julle moet almal self bedink wat julle wil doen nie. Nee, wat sê hy: julle moet alles op Christus rig, in alles Hom soek. Julle moet alles in geloof doen. Wat nie uit geloof gedoen word nie is sonde. Laat elkeen daarom in eie gemoed ten volle oortuig wees dat wat jy doen tot eer van die Here Jesus Christus is. Dit moet ’n geloofskeuse wees, ’n geloofoortuiging.
Eers as dit die geval is mag verskille binne die gemeente aanvaar word. Die broeder te Rome wat vleis eet en die broeder wat uit beginsel geen vleis eet nie, doen dit beide tot eer van die Here (vers 6). Ook in wat hulle eet of drink of in hul feesgewoontes is hul lewe op die Here Christus gerig. Dit moet ons dan ook van mekaar aanvaar. Dit is wat ons aan mekaar verbind. Julle behoort saam aan die Here en julle wil saam tot eer van die Here lewe. Dit is tog so? Of soms nie?

Maar nou terug na die vraag: is die allesomvattende heerskappy van Christus geen knellende juk nie? Word jou lewe op hierdie wyse nie verskriklik benoud nie? Vorm dit geen belemmering vir jou persoonlike ontplooiing nie?

Dit hang daarvan af, broeders en susters, wie nou die Heer is. Jy kan ’n goeie maar ook ’n slegte heer hê. Dit het die slawe uit die verlede wel gemerk en dit merk knegte vandag nog wel. Daar is ’n groot verskil tussen die een heer en die ander. Wie is dan ons Heer?

Dit sien ons in die 2e punt: Jou Heer is God die Vader se enigste geliefde Seun.

Gemeente, julle mag jul Heer, met wie julle so ’n nuwe relasie het, as God se eniggebore Seun ken. Dit is iets geweldigs! Wat hou dit dan in? Julle sal verstaan dat ons hier nie aards en menslik oor die geboorte moet dink nie. God gebruik menslike woorde om iets van sy verhouding met sy Seun duidelik te maak. Die woorde is nie toereikend nie, maar gee slegs aan wat ons tot ons saligheid moet weet. Hier staan ons voor die grens van ons voorstellingsvermoë. Wat hou dit dan in dat ons Here Jesus Christus God se eniggebore Seun is?

Ander uitdrukkings uit die Bybel kan vir ons die betekenis van die naam ietwat verduidelik. Christus word in die Evangelies die geliefde Seun van God genoem. Dink maar aan Christus se doop waarby Vader sy stem uit die hemel laat hoor het: dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. (Mt 3:17). Die apostel Paulus spreek van God se eie Seun. Dink maar aan die bekende woorde wat ons by elke nagmaalsviering hoor: Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? (Rom 8:32).

Julle Heer word God se eniggebore Seun genoem. Hy is God se eie, sy natuurlike Seun. God uit God. Een in wese met die Vader. Ware God. Julle Heer is dus ook self God.

Hy is die eniggeborene van die Vader. Hy is die enigste Seun van God. In die verhouding staan Hy heeltemal alleen. Daar is maar een so ’n Seun. So is Hy die geliefde Seun. Wat beteken ’n eersgebore seun nie vir ’n vader nie! Hoeveel te meer die enigste seun! Hy beteken alles vir God die Vader. Vader se volle liefde gaan na Hom uit. Hy is die Seun van God se liefde.

Hier kom nog iets by. Watter plek het die eniggeborene in Israel ingeneem? Hy was die erfgenaam. Vader se besit was vir Hom bestem. So ook hierdie enigste Seun van God. Hy is die erfgenaam, erfgenaam van hierdie wêreld. So het Hy die eindes van die aarde tot sy besit gekry.
Gemeente, hoe skitter hier God se liefde vir sy skepping, vir jou en vir my. Hy het sy mees kosbare besit, sy eniggebore Seun oorgegee, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Besef jy wel hoe ryk jy is met so ’n Heer? Jou Meester is nie sommer enigiemand nie. Hy is die eie Seun van God. Hy is Vader se enigste geliefde Seun. Hy is erfgenaam van die wêreld. Sou julle dan werklik sleg af wees met so ’n eienaar? Sou sy beskikkingsreg oor julle knellend en belemmerend wees?

Vergelyk hierdie heer maar met die owerste van hierdie afvallige wêreld, met satan, die aartsleuenaar, die mensemoordenaar. Buite die Heer Christus is daar slegs die slawerny van satan. En dan verkeer julle onder ’n verskriklike bewind. Chaos, leuen, bedrog, ontbinding en dood kenmerk sy bewind. ’n Mens kan dan dink dat hy vry is, maar hy sal uiteindelik ontdek dat dit beslis nie die geval is nie. Hy kom bedroë uit.
Hoe heerlik is dit dan met die Heer Jesus Christus, God se eniggebore Seun. Geen mens of mag kan doen wat Hy doen nie. Geen mens of mag kan gee wat Hy gee nie. Wat ander nie kan nie, dit doen Hy: jou bevry uit die geslote sirkel van die selfsugtige lewe van volstrekte eensaamheid. Hy alleen kan jou tot God bring. Hy alleen gee jou weer die egte lewe in gemeenskap met God.

Dit lyk miskien wel heerlik om te lewe sonder die Here Jesus Christus. Jy kan dan oor jou eie lewe en sterwe beskik. Jy kan doen net wat jy wil. Maar dit is selfbedrog. Jy staan dan alleen in jou skuld. Jy het geen Redder nie. Jy bly eensaam agter. Jy het miskien wel baie mense rondom jou, baie vriende wat jou vandag ondersteun, maar hulle kan jou geen blywende houvas gee nie. Hulle waarborg vir jou geen geluk nie, geen beskerming, geen toekoms nie.

By jou sterwe kan daar verskillende mense rondom jou sterfbed staan, maar jy gaan alleen die dood in. Jy sterwe eensaam. En jy is nie is staat om jouself deur die dood heen te slaan na die ewige lewe nie. Jy leef en sterf vir jou eie rekening, maar jy kan die rekening nie betaal nie.

Gemeente, hoe heerlik is dit dan om in lewe en sterwe aan die Here Jesus Christus te behoort. Jy kom dan nooit meer vir jou eie rekening te staan nie. Jou Heer is jou Redder. En Hy sorg daarvoor dat jy die lewe kry, die lewe voor die aangesig van die Here God. Hy, God se eniggebore Seun, bring jou tuis by Vader. Dan is jy ryk!

Hier kom nog iets by. Jou Heer Jesus Christus is erfgenaam. Hy laat jou deel in die erfenis. Jy word mede-erfgenaam saam met Christus. Jy ontvang alle dinge. Immers: Hoe sal Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar vir ons almal oorgegee het, nie saam met Hom alles genadiglik skenk nie?

Wat het ons broeders en susters tog ’n pragtige belydenis. Die name van ons Heiland beteken alles vir ons. Daarin besit julle die saligheid nou en tot in ewigheid. Jesus Christus is jou Heer: jy is sy kosbare besit. En Hyself is die eniggebore Seun van die Vader, sy enigste geliefde Seun. So is jy ook kosbaar in Vader se oë, skatryk as mede-erfgename van Christus.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)