Na so ’n verlossing moet daar gesing word

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-01-31
Teks: 
Jesaja 12
Preek Inhoud: 

Lees: Jes 12; Openb 7:9-17
Sing: Ps 118:12,14; Ps 36:2; Ps 30:3,4,8; Apost Gel; SB 24:3; Ps 118:7
HN: Joh 4:10-14; Ps 42:1; Joh 7:37-39; Ps 42:5

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die profeet Jesaja sluit sy eerste profesieë af met ’n loflied.  Hierdie loflied is gepas na die voorgaande profesieë.  Daar word immers uitsig gegee op ’n nuwe eksodus.  Die verstrooide Israel – Juda en Efraim saam – sal uit die ballingskap terugkeer en tot nuwe heerlikheid kom.  Die bevryding uit die ballingskap is ’n voorbode van die messiaanse heil.  So praat Jes tewens van die verlossing wat Christus tot stand sal bring, die verlossing uit die duisternis van die sonde (vergelyk Jes 9) en die volkome herstel van God se skepping (vgl Jes 11).

Na so ’n verlossing moet daar gesing word.  Jes lê die verloste volk ’n lied in die mond.  “En in die dag sal jy sê: Ek dank U Here.”  Dit word soos na die magtige bevryding uit Egipte.  Die volk sal soos een man God loof vir sy wonderbaarlike verlossing.  Ja, soos een man.  Let op die eerste persoon enkelvoud: Ek dank u, Here.  Hulle wat verlos is, is verenig in hul lof op God.  So bid Paulus later die gemeente toe (Rom 15:5,6): “En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ... sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.”  Ware aanbidding van God moet ’n mens wel verenig sodat ons uit een mond God verheerlik.  Is dit nie wat ons aan die Heilige Nagmaal doen nie?  Jy besef weer hoe groot en goed God is.  Dis wat ons verenig.

So besing die verloste volk God, sy genade en verlossing.  God het sy toorn afgewend.  Hy is nie meer kwaad vir hulle nie, maar Hy troos hulle.  Pleks van die slaande hand van die Here is daar nou God se hand wat troos, wat die wonde verbind, wat van lyding bevry.  Hoekom hierdie verandering?  Hoe kan God se regverdige toorn teen die sonde afgewend word?  Het die volk dalk ten volle daarvoor geboet?  Of beteken dit dat God sommer van een dag op die ander verander van toorn na liefde?  Die Psalmiste het reeds gesing van die afwending van God se toorn.  In Ps 30 lees ons bv: “Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam; want ’n oomblik duur sy toorn, maar sy goedgunstigheid lewenslank; saans vernag die geween, maar smorens is daar gejuig.”  Elke keer as ons die nagmaal vier hoor ons die bekende woorde uit Ps 103: “Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.”  Hoekom wend Hy sy toorn af?  Vanweë iets wat ons skuldige mense geboet of gedoen het?  Die Psalmis vervolg: “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.”  Indien God my na my sondes sou vergeld, sou ek nie net allerlei tydelike teenspoed moet ondergaan nie, maar ook die ewige straf, die ewige dood.  So het Israel se ontrou die ballingskap verdien en nog baie meer, naamlik die totale verbanning van God in die hel.  Indien God ons na ons sondes sou vergeld, sou niemand ooit gered word nie. 

As God sy toorn afwend en redding skenk, dan is dit net vanweë sy genade in Christus.  Die antwoord lê in God se voorsiening van een wat ons sondaars se plek inneem, Jesus Christus wat die straf wat ons sondes verdien op Hom neem.  God se voorsiening van ’n takkie uit die stomp van Isai (Jes 11) kulmineer in die beeld van die plaasvervangende offer van die kneg van die Here in Jes 53.  Julle herken dalk die woorde: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”  As jy hierdie wonderlike voorsiening ontvang, aanvaar, dan mag jy weet dat selfs jou sondes wat soos skarlaken was, wit soos sneeu sal word (Jes 1:18).  Hoe groot jou sondes ook al mag wees, God is baie groter en genadiger. 

Israel se terugkeer uit ballingskap sou nie moontlik gewees het sonder Jesus Christus nie.  Deurdat God sy toorn oor sy Seun uitgiet, kan Hy vir Israel, vir jou ’n God van vertroosting wees.  So sien ons die groot skare mense voor God se troon, bekleed met wit klere.  Hulle staan daar nie omdat hulleself so goed is of soveel gedoen het nie.  Nee, hulle het hul klere gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam.  Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel.  Dis net uit genade, vanweë die verdienste van Christus, die Lam van God, dat ek en jy in die verlossing mag deel, nou reeds in beginsel, straks in volkomenheid.  In Christus het God sy toorn afgewend en het Hy ’n God van vertroosting geword.  Wat ’n ryke troos vir die Israeliete wat in ballingskap moes gaan en vir ons wat die gevolge van die sonde soms so pynlik voel.  God se hand kan soms swaar op ons druk.  Selfs so dat ons die gevoel kan hê dat God besig is om ons in toorn te straf.  Maar ons mag weet dat God ’n vergewende God is vir almal wat Hom vrees.  Ons sondes roep inderdaad God se toorn op.  God straf ons egter nie na ons sondes nie.  Hy tugtig ons egter wel.  Soos ’n liefdevolle ouer sy kinders tugtig.  Maar die tugtiging is nooit eindeloos, uitsigloos nie.  As jy kyk hoe ernstig ons die Here God beledig het en nog beledig, dan is sy tugtiging maar baie matig en tydelik.  God se toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid is lewenslank (Ps 30:6).  Sover as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons (Ps 103:12).  Vader skenk in Christus genade en vrede.  Selfs in die nood straal sy vriendelike aangesig.  Dit gee vrolikheid en lig, deur duisternis en smarte, vir alle opregte harte. 

Vandaar die vervolg van die lied: “Ja, God is my heil.”  Hy is vir my alles.  My lewe, my redding, my toekoms.  Hy het my verlossing bedink, Hy bewerk en voltooi dit.  Wat het ek meer nodig as hierdie God?  In Hom het ek werklik alles vir tyd en ewigheid.  Daarom vervolg die lied: “Ek sal vertrou en nie vrees nie.”  Sonder hierdie Verlosser is daar alle rede om geen vertroue te hê nie en te vrees.  Dink in eerste instansie maar aan die situasie van die ballinge ook nadat hulle na Kanaan teruggekeer het, in die tyd van Esra en Nehemia.  Hul situasie is allermins rooskleurig.  Watter toekoms het daardie groep Jode in die groot vyandige wêreld?  En watter teenspoed en teenstand moet hulle nie verdra nie.  Kan jy in so ’n situasie, ja kan jy vandag sing: “Ek sal vertrou en nie vrees nie?”  Hoe kan jy dit sing?  Jesaja verklaar dit: “want die Here HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.”  Ek sal vertrou en nie vrees nie, want die Here HERE staan aan my kant.  As die Here met my, vir my is, wat sal ek nog vrees.  Hy is immers nie sommer ’n helper nie.  Hy is die almagtige en getroue Verbondsgod.  The Rock of ages, die ewige Rots, op wie ek altyd kan staatmaak.  Die enigste blywende houvas in ’n verganklike wêreld.  Baie mense vertrou op hul wilskrag, hul slimheid, hul gesondheid, hul rykdom, hul godsdiens ens.  En jy?  Kan jy met God se volk van die Ou Verbond sing: “Die Here HERE is my krag en my psalm en Hy het my tot heil geword”?  Dan kan ek sing selfs in die nag, want ek bly die Heer verwag, my gebed sal opwaarts strewe, na die bronwel van my lewe (Ps 42:5 ber).

Ten slotte wys Jes daarop dat die verloste volk met vreugde water sal skep uit die fonteine van heil.  Tydens die reis deur die woestyn van Egipte na Kanaän het God water uit klippe laat voortkom.  Hy het in die warm en droë woestyn fonteine laat ontspring.  God het sy volk verkwik.  In die Bybel word herhaaldelik by hierdie gebeure aangesluit wanneer water as beeld van lewe en redding genoem word.  Met Ps 36 sing ons van God: “U laat hulle (die mensekinders) drink van die stoom van u genietinge.  Want by U is die fontein van die lewe.”  Die profete sluit hulle daarby aan wanneer hulle God se volk die messiaanse heil voorhou.   Ons lees daar van waters wat onder die drumpel van die tempel uitstroom en lewe gee aan alle lewende wesens.  Juis op die Huttefees het mense die simboliek van die water aangegryp.  Elke dag van die Fees het die feesgangers water by die bron van Siloam met gejuig gaan haal en dit na die tempel gebring.  By die geleentheid het hulle die woorde van ons teks aangehaal: “En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.”  Mense het daarby teruggedink aan die water uit die rots in die woestyn maar hulle het ook vooruitgesien na die strome van lewend water wat God uit sy tempel sal laat uitgaan.

Tydens sy bediening op aarde het Jesus Christus hierdie gebeure aangegryp om te wys op die vervulling daarvan in Homself.  Juis op die laaste dag van die Huttefees roep Hy uit: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink.”  Christus stel homself voor as die water van die lewe.  Die volk van die toekoms, ek en jy mag met vreugde water skep uit die fonteine van heil.  Strome van lewende water vloei na jou toe en vloei via jou na ander toe.  Christus is die fontein van alle tydelike en ewige seëninge.  Dit word aan die Nagmaal uitgebeeld.  Jy gaan immers na Christus toe, die fontein van alle lewe om deur Hom tot die ewige lewe verkwik te word.

In Openb 7 lees ons van die vervulling daarvan by die skare mense voor die troon van God.  Wat vandag nog onvolkome is, is dan volmaakte werklikheid.  Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle wei en hulle na lewende waterfonteine lei en God sal alle trane van hulle oë afvee.  Dan sal die vreugde oor die heil uitbundig en onbelemmerd wees.   So kyk ’n mens aan die Nagmaal terug na Christus se plaasvervangende offer, waar Hy die bron van ons heil geword het.  So beleef jy aan die tafel die heil wat jy reeds in Christus het (die vergewing van sondes en die vernuwing van jou lewe).  So sien jy ook uit na die volmaakte vreugde van die bruilofsmaal van die Lam.

Liturgie: 

(kyk in preek)