Ons belydenis oor God se eniggebore Seun en ons Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-02-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 13
Verwysing: 
HK 13-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente en kinders van een Vader,

Ons is steeds besig met die behandeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis, en in besonder met die belydenis oor die tweede Persoon van die Drie-eenheid. Hy word genoem Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here (kyk maar na antwoord 23). Vier name, dus: Jesus, Christus, Seun van God, ons Here. Die vorige twee sondagsafdelings het die eerste twee name behandel: Jesus en Christus. En baie duidelik was, dat ons nie een van hierdie name kan ondersoek sonder om daarmee ook onder ons eie vel in te kruip nie, sonder om daarmee ook iets oor onsself te sê nie. Ons kan die verskillende name van die tweede Persoon van die Drie-eenheid nooit as ‘n afstandelike en teoretiese saak behandel nie.

Want wie Jesus sê, sê Verlosser. Verlosser van wie? Verlosser van wat? En onmiddelik bring dit my by myself uit, my verlore toestand, die verlore toestand van my vrou en my kinders, die verlore toestand van die omgewing waarin ek lewe. Ek word gekonfronteer met die feit dat ek verlossing nodig het. En verder: wie Christus sê, sê Gesalfde – Profeet, Priester en Koning. En, o ja, ek is van Christus, ek is ‘n christen; dus, ek is ook profeet, priester en koning.

Sien u, broers en susters, elkeen van die name van die tweede Persoon in die Drie-eenheid het direk betrekking op my, op ons. Ons moet daarom oppas om ‘n valse skeiding te maak – eers die teoretiese behandeling van die name, en dan later kom die betekenis vir óns. Die Kategismus is nie ‘n logika-boek waar alles perfek gestruktureerd is nie; nee, die Kategismus is ‘n troosboek – wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?! Jesus, Christus, Seun van God, ons Here – Hy is my troos! By die behandeling van elkeen van die name behoort daar ‘n magdom van emosies in my los te kom, want elkeen van die name konfronteer my in die eerste plek met my God, maar daarna ook met myself.

En, gemeente, die Kategismus maak juis dit baie duidelik in Sondag 13, by die behandeling van die derde en die vierde naam: “Waaarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem, terwyl ons tog ook kinders van God is?” – sien u, dadelik die verbintenis tussen Christus se seunskap en ons kindskap. En ook die volgende vraag: “Waarom noem jy Hom ons Here?” – nie sommer ‘Here’ nie, nee, óns Here! Weereens die verbinding tussen God en ons.

Laat ons vandag kyk na die betekenis van hierdie twee name vir ons.

Tema: Ons belydenis oor God se eniggebore Seun en ons Here!
1. Wie hom met Christus beklee, word ‘n kind van God
2. Wie in die Seun glo, het dieselfde regte as Hy
3. Wie deur die Here vrygekoop word, word sy onderdaan

1. In Galasiërs 3 is Paulus besig om die Galasiërs op hardhandige wyse wakker te skud. Want, nadat hulle tot geloof gekom het deur die prediking en deur die werk van die Gees, is hulle nou besig om daardie geloof te verloën. Hulle laat toe dat die Jode hulle dwing om die Joodse wet tot die letter na te volg, om sodoende kinders van Abraham te kan wees. En dit maak Paulus geweldig emosioneel: “o, Onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie…”  (3:1) En dan wys Paulus dat hulle slegs op een manier kinders van Abraham kan wees, dat hulle slegs op een manier kan deel in die beloftes van Abraham, en dit is op dieselfde manier as wat Abraham dit verkry het: deur die geloof! Slegs deur die geloof in Jesus Christus word die heidene erfgename van die belofte en kinders van die Vader! Slegs in gemeenskap met Hóm, slegs in ‘n lewende verhouding met Hóm!

Paulus werk dit vervolgens uit met ‘n opvallende beeld, die beeld van klere wat aangetrek word: “… want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee” (vers 27). Die doop verwys hier na die eenheid wat die Gees tussen Christus en die gelowiges in Galasië bewerk het. Die Gees het hulle een met Christus gemaak, die Gees het hulle “in Christus” geplaas! En só, in hierdie eenheid, het Christus die Galasiërs se nuwe klere geword; hulle het Christus begin dra, hulle het in hulle nuwe klere begin lewe. En u ken die uitdrukking: die klere maak die man! Jou klere bepaal jou identiteit. Veral in daardie tyd!

Die mense in die Romeinse Ryk het naamlik klere gedra wat hulle stand of posisie in die samelewing weerspieël het. Aan iemand se klere kon jy sien of hy ‘n slaaf, ‘n vryman, ‘n senator of ‘n soldaar was. ‘n Slaaf byvoorbeeld, het ‘n growwe mantel gedra, ‘n soldaat ‘n kort mantel, terwyl vrymanne ‘n wit toga gedra het; konsuls en senatore het ook hierdie wit togas gedra, maar dan met ‘n pers randjie daaraan, sodat almal hulle as regeringsamptenare kon herken; sommige keisers het togas gedra wat volledig van purper was. 

U kan dus sien dat, in ‘n tyd waar klere soveel van jou status weerspieël het, Paulus hier ‘n besonder toepaslike beeld gebruik. Dit wat jy aantrek, wys jou posisie. Wanneer jy Christus aantrek, dan wys dit jou posisie voor God. Die wat in Jesus Christus glo, word dan inderdaad kinders van God – soos vers 26 sê – omdat hulle hulself beklee het met die eniggebore Seun van God! Die Seun van God is dan as’t ware die mantel of die toga wat ons om ons heen vou; of in moderne terme: die Seun van God is die pak klere wat ek dra, die rok wat ek aantrek, waardeur ek vir almal herkenbaar word as seun of dogter van God! En dan sien mense dit nie aan my nie, broers en susters, niks aan myself gee enige aanduiding dat ek ‘n seun of dogter van God is nie; nee, dan sien mense dit aan my klere, dan sien hulle dit aan die ewige Seun van God wat ek deur die geloof mag aantrek en dra! Soos die kerkvader Chrusostomos dit so pragtig stel: “As Christus die Seun van God is, en jy het Hom aangetrek, en jy het Hom in jouself en jy word soos Hy gemaak, dan is jy in dieselfde familie … as Hy.”

Broers en susters, ons word seuns en dogters van God wanneer ons die eniggebore Seun van God in geloof aantrek, wanneer ons toelaat dat Hy die klere is wat die man maak, en die vrou maak, en elke kind maak. Hy máák ons wat ons is. Let wel, Christus is self van natúre die Seun van God – daarom word Hy ook die eniggeborene genoem – Hy is die enigste wat van ewigheid af in die goddelike natuur deel; Hy het nie nodig om met hierdie status bekléé te word nie. Maar ons wat van nature kinders van die satan is, ons het nodig om met die Seun van God oorklee te word, sodat ons deur God tot sy kinders aangeneem kan word; ons het nodig om Christus aan te trek, sodat Hy ons tot kinders van God kan máák. Soos Johannes skryf in sy evangelie (1:12): “… almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.”

Broers en susters, glo daarom in die eniggebore Seun van God. Dra Hom met trots, soos wat julle, jongmense, julle merkklere met trots dra! Dan is jy herkenbaar as kind van God!

• Dan herken die wêreld jou as kind van God – hulle kan dit dan sien aan die manier waarop jy jou nuwe klere dra, hulle kan dit sien aan die feit dat jy Christus dra en dit ook uitleef in alles wat jy sê en doen.

• Dan herken ons verder ook mekáár as kinders van God. Ja, wanneer ons onsself met Christus beklee, dan herken ons mekaar aan ons kleredrag, dan ontmoet ons mekaar as mense van dieselfde status – kinders van God! En dan gebeur die wonder dat ons grense oorstyg wat voorheen vir ons ‘n probleem sou gewees het; dan oorstyg ons teenoorgestelde nasionaliteite, dan oorstyg ons sosiale teenstellings, dan oorstyg ons teenoorgestelde geslagte. Soos Galasiërs 3:28 sê: Dan is daar nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus.

Gemeente, dít is wat die kerk is – mense wat hulleself met die Seun van God beklee het, mense wat daardeur almal saam kinders van God is. Laat ons dus kyk na wat ‘n persoon ten diepste is: hy is nie in die eerste plek Afrikaner of Nederlander nie, hy is nie in die eerste plek swart of wit, of jonk of oud, of ryk of arm nie. Dié wat hulself met Christus beklee het, is heel eerste kinders van God; hy en sy leef saam met my van die genade van die aanneming tot kinders. En dan sal u saam met my stem: dan raak dit baie moeilik om te wil beweer dat dit nie nodig is om belang te stel in my mede-gelowige se doen en late nie; dan kan ek moeilik sê dat hy of sy nie my tipe is nie. Kyk dan die klere wat hy dra! Kyk na die klere wat sy dra! Hy en sy het hulself met die Seun van God beklee! En so herken ons mekaar.

• Maar belangriker as die feit dat die wêreld ons herken as kinders van God, of dat ons mekaar as kinders van God herken, is die feit dat, slegs deur die Seun van God, God self vir jou kan sê: “Jy is my kind!” Wat is mooier, broers en susters? Wat meer wil ons hê? Kind van God – skielik gaan die sluise van die hemel vir jou oop! Alles – letterlik alles – wat aan die eniggebore Seun van God behoort, alles wat Hy verdien het, behoort nou ook aan jou. Jy is nou deel van die familie, ‘n kind in die huis, en – soos vers 29 sê – erfgenaam volgens die belofte.

Daarop let ons vervolgens: wie in die Seun glo, het dieselfde regte as Hy.

2. Paulus sluit in Galasiërs 4:1 aan by die einde van hoofstuk 3: Behoort julle aan Christus? Dan is julle die nageslag van Abraham en daarmee saam ook erfgename. Maar – so lees ons dan in 4:1 – die erfgenaam, wanneer hy nog ‘n kind is, verskil in feite niks van die slaaf nie. Ja, in beginsel is hy erfgenaam, en dus heer en besitter van alles, maar vir nou bly dit nog net teorie. Gedurende die periode van sy onmondigheid staan die erfgenaam onder voogde en bestuurders. Tót op die tyd wat tevore deur die vader bepaal is – daar is dus sprake van ‘n termyn voordat die erfgenaam ook fisies / in die praktyk heer en besitter van alles word. Dit is tog hoe dit vandag ook werk? Wanneer ‘n minderjarige erf, dan word daardie erfporsie vir die tyd totdat hy volwassenheid bereik namens hom beheer. Eers wanneer hy volwassenheid bereik het, kry hy volle beheer oor daardie erfporsie.

In vers 3 pas Paulus dit toe op die Christene. Die Christene – Jode sowel as heidene – het in die tyd voorafgaande aan Christus se koms onder voogde en bestuurders geleef. Hulle was dus nog onmondig. In Paulus se eie woorde: hulle was in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. Daarmee wil Paulus sê dat dié wat nou Christene is, vóór Christus se koms onderworpe was aan allerhande gewoontes, tradisies en wette wat hulle omgang met die basiese dinge van hierdie wêreld – soos kos, tye en verhoudings – bepaal het. Die erfgenaam was toe nog nie vry om as heer oor alles met die geskapene te kan omgaan nie; nee, die erfgenaam was vir ‘n tyd lank eers gebonde aan sekere huisreëls.

Maar toe die volheid van die tyd gekom het – dit is die tyd soos die Vader in die hemel dit bepaal het – het die periode van onmondigheid tot ‘n einde gekom. Die Vader het sy Seun gestuur om ‘n einde te maak aan hierdie periode. Let goed op, gemeente, dit is nie so dat die onmondige erfgename sélf die leeftyd van mondigheid bereik het nie, hulle het nie sélf tot volwassenheid gegroei nie – dit is die normale patroon in hierdie wêreld. Maar by God werk dit anders: die Seun van God, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, Hy kom maak ‘n einde aan die periode van onmondigheid, Hy kom koop mense los wat onder die eerste beginsels van hierdie wêreld gelewe het, sodat hulle die aanneming tot kinders kan ontvang! Dit is die wonder, dat die Seun van God mense, wat nog in die posisie van slawe verkeer het, opkoop met sy bloed, sodat hulle in aanmerking kom vir aanneming (adopsie) tot kinders! Slawe word kinders!

En omdat julle kinders is – vers 6 – het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur…!” Reeds in die begin van hoofstuk 3 het Paulus die lesers daaraan herinner dat hulle die Gees ontvang het toe hulle tot geloof gekom het (3:2, 5; sien ook Rom. 8:15). Die Gees is as’t ware die bewys aan die lesers van hulle kindskap. Maar hoe dan? Hoe word dit sigbaar? Kyk maar na die res van vers 6: Deurdat Hy hulle leer om te roep: Abba, Vader. Slegs kinders kan immers hul vader “Vader” noem, en dít is wat die Gees aan God se kinders gee.

Paulus gebruik hier die Aramese Abba en die Griekse Pater langs mekaar. In Galasië het die Christene uit die heidendom verseker nie Aramees gepraat nie, maar hulle het die evangelieverhale geken waarin hulle kon lees dat Jesus wél hierdie Aramese aanroeping van die Vader gebruik het – die mees indrukwekkende was sekerlik die keer in Getsemane: “Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Mk. 14:35). Die Gees het Jesus in staat gestel om op daardie oomblik tot sy Vader te roep. En dieselfde Gees wat in die Seun gewoon het, waardeur Hy in sy diepste nood sy Vader kon aanroep, woon nou ook in die Christene in Galasië wat hulself met die Seun beklee het. Dieselfde Gees wat Hóm “Abba” laat roep het, laat nou die lesers van Paulus se brief “Pater” roep. Die Gees van die Seun word nou ook die Gees van al God se kinders – Abba, Pater…

Sien u, gemeente, wanneer ons onsself met die Seun van God beklee, wanneer ons Hom aantrek – soos ons in die eerste punt gesien het – dan bly dit nie slegs uiterlik nie; nee, dan deurtrek dit ons hele wese. Ja, dan kry ons ook sy Gees in ons! En soos daardie Gees Hom, as eniggebore Seun, in staat gestel het om “Abba” te roep, so stel Hy ook ons, as aangenome kinders, vandag in staat om “Vader” roep. Dit wat die egte Seun mag doen, dit mag ons in gelyke mate doen: roep tot ons gemeenskaplike Vader! En nie net liggies roep nie; nee, die woord wat Paulus hier gebruik, beteken “skreeu”. Ons mag skreeu tot die Vader, in ons swaarste nood, in ons hewigste aanvegting, in ons diepste hartseer; ook wanneer jy onnoemlike blydskap ervaar. Skreeu dit uit tot jou Vader! Dit is jou Godgegewe reg, jy is immers kind van God deur die Seun. Maak gebruik van daardie reg, lewer die bewys dat jy die Gees van die Seun in jou het, die Gees van jou kindskap.

Gemeente, sonder om onsself dinge aan te matig wat ons nie toekom nie, sonder om onsself te verhoog, is dit tog belangrik dat ons sal raaksien dat Christus vir ons die kindskap verdien het. Dit is waar, ons is aangenome kinders, maar nogtans kinders in volle regte. Gaan daarom ook met Vader om soos ‘n kind in volle regte – gaan na Hom toe, praat met Hom, skuil by Hom, vertel Hom wat jou pla en wat jy nodig het. Soos Jesus self sê in Lukas 11:11-13: “… vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee?” Dit is tog absurd, watter pa sal dit doen? “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” En soos wat ons sing in Psalm 103:7: “Geen vader wat, deur smartgevoel bewoë, sy kind aanskou met teerder mededoë as Israels HEER dié wat Hom eer en vrees.” Gemeente, gaan na Vader, want jy is sy kind!

Ons let ten slotte nog kortliks daarop dat wie deur die Here vrygekoop word, sy onderdaan word.

3. Die laaste van die vier Name wat in die Apostoliese Geloofsbelydenis bespreek word, is “ons Here”. Ook hierdie Naam vind ons terug in Galasiërs 4. Ons het reeds verwys na vers 5, waar Paulus sê dat die Seun ons losgekoop het. Duidelik was ons dus slawe, of soos vers 7 dit noem: ons was diensknegte. Die Seun het ons van hierdie slawediens verlos en vrygekoop, nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed – tot sy eiendom! Dit is belangrik om dit raak te sien, broers en susters. Die vryheid waarin die Seun ons plaas, die vryheid om kind van God te mag wees, is geen ongebrydelde vryheid nie, dis geen vryheid sonder grense nie. Nee, ons word vrygekoop om nou aan Christus te behoort – Hy word nou ons Here!

Maar gaan ons op dié manier nie maar net oor van die een slawediens na die volgende nie? Hoe ons ook al daarna kyk, ons staan nog steeds onder ‘n meester. Of nie? Nee gemeente, want waarvan het Christus ons verlos en vrygekoop? Van die sonde en die heerskappy van die duiwel (antw. 34). Dit was ‘n dodelike slawediens waarin ons verkeer het, ‘n slawediens waarvan die uiteinde die ewige hel is. Dáárvan word ons verlos! En die nuwe heerskappy waaronder ons nou staan, is dié van die Seun van God – ‘n lewegewende heerskappy! Ons het hierbo al gesien watter geweldige rykdom dit is om aan Christus te behoort – kind van God, kind in volle regte, kind van die Vader!

En daarom dat Paulus nie kan verstaan dat die Galasiërs hulself willens en wetens weer onder die heerskappy van die sonde wil plaas nie. Hy sê in vers 9: “… maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?” En dan verwys dit na die Galasiërs wat hulself weer onder die wet wil plaas – hierdie keer nie die heidense wette en tradisies nie, maar wel die joodse wette en tradisies wat hulle dwing om hulself te laat besny en om allerhande reëls oor kos en feesdae na te kom. Paulus sê in vers 10: “Julle neem dae en maande en tye en jare waar.” Hoe kan julle, Galasiërs? Julle is vry! En nou lê julle julself doelbewus ‘n nuwe juk op. “Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbeid het” – sê Paulus dan in vers 11.

Gemeente, ons is deur die Seun van God vrygekoop om kinders van God te wees. Maar besef baie goed dat ons kindskap slegs veilig is in diensbaarheid aan ons Here. Slegs binne die grense wat Hy stel, is daar ware vryheid. Want onthou: ons is aangenome kinders! Natuurlike kinders kan wat ook al doen, hulle is en bly kinders van hulle pa en ma. Maar aangenome kinders kan daardie status verloor. Aangenome kinders van die Here is dit nie vanselfsprekend nie – ons bly slegs kinders wanneer ons in Hóm bly wat ons daardie status in die eerste plek gegee het. Ons word tot kinders aangeneem deur die werk van die Seun van God, en ons bly dit slegs deur gehoorsaamheid aan daardie selfde Seun. Hy is ons Here – nie om ons weer slawe te maak nie, maar om ons te hou binne die vryheid wat ons as kinders het.
Kinders van een Vader, julle kan dus nie net lewe en praat en dink soos wat julle wil nie. Waak daarvoor om terug te val in die eerste beginsels van hierdie wêreld; selfs al beteken dit net dat ons ons veiligheid soek in wette en tradisies wat ons self gemaak het. Buig enkel en alleen voor die Seun van God neer; Hy is my Heer, Hy verdien om my Heer te wees. Ek is vry deur sy genade, ek is weer kind. Wat ‘n rus…

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 42:1 en 5
Gebed
Kort nagmaalsformulier
• Terwyl tafel in gereedheid sing Ps. 135:1
• Voltooi formulier aan tafel
• Aan tafel sing Ps. 135:8
Lees: Galasiërs 3:26-4:11
Sing Skr. 33:1
Teks: HK, Sondag 13
Preek
Amenlied Skr. 20:5-7
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 103:6, 7 en 9
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)