God, die genadige Kerkbouer

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-01-24
Teks: 
2 Samuel 7:5b & 11b
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Alle ouers onder ons moes dit sekerlik al ervaar het – jou drie- of vier-jarige seun wat baie trots en opgewonde daar by jou aankom met die huis van blokkies wat hy sopas gebou het: “Kyk mamma, kyk wat ek gebou het!” En natuurlik ‘oe’ en ‘ah’ jy baie opgewonde saam met hom, want dit is mos sy handewerk! Intussen weet jy baie goed dat pappa, wat net ná hom daar by jou aankom, die eintlike bouwerk gedoen het. Boetie het hoogstens ‘n paar blokkies bygedra – skeef en krom – terwyl pappa die werklike bouer is. 

Gemeente, in die proses van kerkbou (gemeentebou) is dit baie belangrik om, soos die ouer in hierdie scenario, te kan raaksien wie die werklike bouer is. O ja, jy en ek is deur die geloof verseker stene in die muur van Christus se kerk, en ons dra deur God se genade selfs ‘n paar stene by tot daardie muur, hoewel dalk skeef en krom vanweë die sonde – en ons sal in die komende weke nog baie hieroor hoor. Maar ten spyte daarvan is óns nie die bouers van die geestelike gebou van die kerk nie; ons het niks waarop ons onsself kan beroem nie. Nee, God is die Bouer! En dit is belangrik om, sommer direk aan die begin van hierdie reeks preke oor die opbou van die gemeente, hierdie fondamentsteen te lê, om diep deurdronge te wees van die besef: die kerk is God se werk!

Ons het verlede week alreeds aan hierdie punt geraak, maar ons wil vandag verder daarop voortbou.

Tema: God, die genadige Kerkbouer
1. Hy bou sonder om betaling te vra
2. Hy bou ‘n veilige tuiste vir sy volk
3. Hy bou onder alle omstandighede

1. Broers en susters, ek sien dit al voor my: Dawid wat in alle rus op die dak van sy paleis verkeer. Geen vyande wat hom meer lastig val nie, geen oorloë of gerugte van oorloë meer nie. Die Here het hom rus gegee van al sy vyande. Heerlik geniet hy van sy pragpaleis en die omringende vestingstad Jerusalem. En tog pla iets vir Dawid… want inderdaad, hy het ‘n pragtige paleis, maar wat van die Here? Is daar nie iets fout nie wanneer die kneg van die Here te midde van sederhout woon, terwyl die ark – die teken van die Here se teenwoordigheid – omring is deur ‘n paar tentdoeke. Dawid wil iets terugdoen vir die genade van die Here in sy lewe. En wanneer hy sy bekommernis sowel as sy planne vervolgens met Natan deel, reageer die profeet onmiddellik spontaan: doen dit!

Maar die Here dink anders hieroor as sy profeet! Inderdaad was die Here sy volk én Dawid persoonlik, genadig. Enersyds was die Here sy volk genadig toe Hy saam met hulle uit Egipte opgetrek het en net soos hulle in ‘n tent gewoon het, en andersyds was Hy Dawid genadig toe Hy hom agter die skape weggehaal het om ‘n vors oor Israel te wees en al sy vyande verdryf het – lees maar verse 6-10. Maar, gemeente, die Here, wat uit genade sy volk bou, soek nie enige bouwerk daarvoor terug nie. Die Here sê nie: “Omdat Ek dít vir jou gedoen het, soek ek dát van jou” nie. Nee, by die Here werk dit anders: getrou aan sy eie natuur – soos wat ons daarvan lees in Johannes 1:16 – stapel die Here genade bo-op genade; Hy plaas die een genadesteen bo-op die ander genadesteen; sy bouwerk is een en al genade! Kyk maar hoe Hy sy vraag in vers 5 – “Sou jy vir My ‘n huis bou…?” – hoe Hy daardie vraag in vers 11 beantwoord wanneer Hy sê: “die Hére sal vir jóú ‘n huis stig.” Die Here wil nie hê dat Dawid die aktiewe inisieerder moet wees nie, die Here wil nie hê dat Dawid ‘n verdienste-steen bo op God se genade-stene moet bou nie. Nee, Dawid moet ‘n passiewe ontvanger wees. Uiteraard, die Here skiet nie sondermeer Dawid se inisiatief af nie, maar Hy dring wel vol genade daarop aan: “Laat Ék die Bouer wees, Dawid, en dan is die huis joune, maar nie andersom nie.”

Tog interessant dat, wanneer ons na die volke rondom Israel kyk, ‘n mens wél hierdie ‘andersom’ teëkom. Die ‘andersom’ naamlik dat ‘n koning ‘n tempel vir die god sou bou omdat dié hom goedgesind was tydens sy oorloë teen die vyande, en dat hy dan op grond van hierdie daad van tempelbou heerlike beloftes van heerskappy en oorwinning van die god sou ontvang. Ons sien dit byvoorbeeld by die koning van Mari, in die 19de eeu voor Christus – sy god het aan hom groot oorwinings oor sy vyande geskenk, waarna die koning vir sy god ‘n pragtige tempel gebou het. En in ruil dáárvoor het die koning van sy god die vermoë gevra om sy vyande te verslaan, om ‘n lang en gelukkige heerskappy te voer en om altyd oorvloed en geluk te mag ken. Hierdie voorbeeld sou met talle ander vermenigvuldig kon word. Só werk dit in die heidense godsdiens – die een hand was die ander hand; jy doen iets vir jou god, en hy/sy help dan weer vir jou.
Maar die Here wys dat Hy totaal anders is as die heidense afgode! Sy omgang met sy volk is nooit op ‘n gee-en-neem basis nie; by die Here en Israel is dit nooit ‘n kwessie van: jy doen dit vir my, en dan sal ek dat vir jou doen nie. Nee, sy omgang met sy volk is altyd en vir 100% genade. Die Here se koning kan nooit aanspraak maak op die Here se genade omdat hy vir Hom ‘n uitspattige tempel gebou het nie. Inteendeel, die vrygewige God, wat sopas in 2 Samuel 7 sy genadige dade uit die verlede opgenoem het, strooi net nog meer genade uit…

Hy is nie slegs die genadige God van die verlede nie, maar ook van die hede en die toekoms. In sy genade wil die Here vir Dawid ‘n ewige huis bou, ‘n ewige koningshuis. Let wel, ewig – dit wil sê elke koning wat ná Dawid vanuit sy huis op die troon sou regeer – en elkeen van die konings in die tweestamme-ryk was ‘n nakomeling van Dawid – was ‘n genade-geskenk uit die hand van die Verbondsgod. Nooit sou daar op die troon van Dawid iemand sit wat uit homself daardie posisie bereik het nie, want die Hére het belowe om Dawid se (konings)huis te bou! En, gemeente, histories is dit merkwaardig om te sien hoe die Here hierdie belofte in stand gehou het – vanaf Dawid se troonbestyging tot by die val van Jerusalem, dus vir langer as 400 jaar, het die Here daarvoor gesorg dat daar altyd ‘n nakomeling van Dawid op die troon gesit het. En as ‘n mens in gedagte hou dat die gemiddelde koningshuis van die Egiptiese en Mesopotamiese ryke van daardie tyd tydens hulle piektye maar net ongeveer 100 jaar geduur het, dan besef jy dat ‘n hoërhand in Israel gewerk het. En selfs ná die val van Jerusalem het God sy hand nie van Dawid se huis afgehaal nie; gaan lees maar die geslagslyn in Mattheus 1 – ook tydens en ná die Babiloniese ballingskap gaan die Dawidslyn voort. O natuurlik, dit was ‘n vernederde koningslyn; dit was inderdaad, soos wat Jesaja sê, slegs die stomp van Isai wat oorgebly het. Maar daar was steeds lewe in daardie stomp, sodanig dat uiteindelik uit Josef, wat ‘n direkte nakomeling van Dawid was, die Christus gebore is. Só bou God die huis – deur genade! Die kerk is 100% genadewerk; daar is nie een steen in die huis van hierdie gemeente waarop my of jou naam staan as bewys dat ons daarvoor verantwoordelik is nie. Ek kan nie sê nie: “Kyk die jeugvereniging, ek het dit aan die gang gesit.” Of: “Het jy gesien hoe goed die susterhulp funksioneer? Dit was my inisiatief…” Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen. En daarom: aan God alleen die eer!

Broers en susters, laat ons daarom nie hier in die gemeente aan die werk spring, vol ywer om vir die Here ‘n huis te bou nie. Dit is die groot gevaar van gemeentebou – dit word ‘n menslike inisiatief wat met menslike maatstawwe gemeet word. Maar laat ons stil word en aanskou hoe die Hére vir óns ‘n huis bou. Ek weet, dit gaan teen ons grein in om te moet stil sit; dit gaan ook teen die tydsgees in wat glo dat enige iets maakbaar is: kerkbou is ‘n maakbare en menslike projek! Kry net ‘n paar projekleiers, formuleer ‘n duidelike missie en visie, en motiveer die gemeente. Maar dan sê die Here vir ons: “Die kerk is nie maakbaar nie! Dit wat julle hier sien, het Ek uit genade geskep; Ek laat die kerk gebore word uit my Woord, uit Jesus Christus.” Laat ons daarteen waak om te dink dat ons vir die Here ‘n huis moet bou as teenprestasie vir sy werk in ons lewens: “Kom, ons moet die gemeente opbou! Kom, ons moet die jeug aktiveer! Kom, ons moet die onderlinge sorg verbeter!” Kyk om jou heen hier in die gemeente: dit is God se handewerk! Uiteraard is alles wat hier kortkom, óns sondigheid. Maar alle goeie dinge wat wel hier is, alles wat funksioneer, alles wat goedgaan, alles wat reg loop… die Here het dit gedoen! Die Here het hierdie gemeente tot hier gebring, en laat ons dan ook vir die toekoms saam met Moses sê in Exodus 33: “As U nie self saamgaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.” Want bouers kan bou al wat hul kan – vergeefs is alles wat hulle bou, as God sy hand daaraan onthou (Ps. 127:1).

Vervolgens: die genadige Bouer bou ‘n veilige tuiste vir sy volk.

2. God is dus die genadige Bouer, maar presies wat bou Hy, broers en susters? Om ‘n antwoord hierop te vind, sal dit goed wees as ons oog kry vir die struktuur van verse 9-11. Let daarop dat ons sowel in vers 9 as in vers 11 enkele kort beloftes aan Dawid vind: “Ek sal vir jou ‘n groot naam maak…” (vers 9) en “Ek sal vir jou rus gee van al jou vyande … en vir jou ‘n huis stig” (vers 11). En reg in die middel tussen hierdie beloftes aan Dawid, vind ons dan die belofte aan Israel: “Ek sal vir my volk Israel ‘n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie.” Dit is belangrik dat ons hierdie struktuur raaksien, want dit wys vir ons dat dit nie in die eerste plek oor Dawid en sy koningskap gaan nie (die beloftes aan hom staan immers aan die kante), maar dat dit vir die Here gaan oor die rus vir Israel! Dít staan in die sentrum! Die Here sal vir Dawid rus gee en ‘n huis bou – verse 9 en 11 – omdat Hy – vers 10 – aan Israel rus wil gee. Dawid se koningshuis sal dus nie gebou word ter wille van homself nie, maar tot voordeel van Israel; God bou die koningskap omdat Hy die welstand en die vrede van sy volk op die oog het.

En daarom sien ons ook in die geskiedenis, gemeente, dat wanneer dit met die koningskap sleg gegaan het – soos so dikwels in Israel – dan het dit met die volk ook sleg gegaan. Vir die oorgrote meerderheid het die Davidiese konings daarin gefaal om vir God se volk die vrede en tuiste te skep waartoe God hulle geroep het. So baie van die Davidiese konings het die koningskap gesien as iets wat tot hulle eie eer en voordeel gestrek het, en hulle het vergeet dat die Here hulle as konings gegee het ter wille van sy volk, ter wille van die opbou van sy kerk! Dít moes hulle fokus wees. En die volk het onder die konings se afvalligheid gely – uiteraard ook deur hulle eie skuld, maar veral omdat die konings nie hulle taak nagekom het nie. En uiteindelik is die volk in ballingskap weggevoer; die volk kon nie langer in rustigheid op sy eie plek bly woon nie. 

Maar dank die Here, sy bouwerk gaan voort. Sy bouwerk bereik sy klimaks in Jesus Christus, ons groot Koning. Hy is die groot genadesteen, die hoeksteen, in God se gebou van sy kerk. En let nou op vanuit Efesiërs 1 hoekom Hy die groot genadesteen is, hoekom Hy die Koning is wat werklik aan sy doel beantwoord het. Ons het immers so pragtig van Hom in Efesiërs 1 gelees dat God Hom aan sy regterhand laat sit het in die hemele, en dat Hy aan Hom alle mag gegee het in die hemel en op die aarde, en dat Hy alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee het! Sien u dit? Presies soos wat die koningskap van Dawid in 2 Samuel 7 gegee is om sodoende vir die volk ‘n plek van rus te bewerk – hoewel dit so dikwels misluk het – so is die groot Koning uit die huis van Dawid, Jesus Christus, gegee ter wille van die gemeente. Christus regeer dus vir ons! In sy heerskappy gaan dit vir Hom nie in die eerste plek oor die wêreldheersers van vandag nie, dit gaan nie vir Hom oor ons staatspresident of oor die koningin van Engeland; dit gaan vir Hom ook nie in die eerste plek oor die wêreldgebeure nie – oor die aardbewing in Haiti of oor die oorloë in die Midde-Ooste nie. Nee, vir Christus gaan dit heel eerste oor die opbou van sy kerk; natuurlik dra sy hele wêreldregering daartoe by, maar die kerk is sy primêre fokus. Want hier wil Hy woon deur sy Woord en Gees. 

En deur sy Woord en Gees, gemeente, is Koning Christus besig om vir ons ‘n huis van vrede te bou. Hy bou ‘n tuiste waar jy en ek, waar ons saam, veilig is en rus kan vind – veilig teen die verleidings van die wêreld, veilig teen die hardheid van mense, veilig teen mekaar, veilig teen onsself. Hier moet enige gelowige kan inkom en veilig voel onder die getroue Woordbediening en onder die liefdevolle omgang tussen broers en susters. Wat ook al daarbuite in die wêreld my seergemaak en gekwes het, ek moet hier in God se gemeente kan inkom en genesing ervaar, heling van my wonde, herstel van ‘n gebroke hart. Hier moet ek kan wortel skiet en vrugdra, tot eer van God en tot opbou van my mede-gelowiges. In hierdie gemeente behoort ons Christus self te kan raaksien in al sy genade en vrede. Let wel, dit is hoe dit behoort te wees…

Miskien is jy een van diegene wat dit nie ervaar nie, wat nie ervaar dat jy hier veilig is. Miskien voel jy onveilig en kwesbaar as gevolg van die dade of woorde van ander. Moontlik het die een plek waar jy veilig behoort te voel, vir jou ‘n plek van seerkry en hartseer geword. Dit is moontlik. En dan kan ‘n mens geneig wees om te sê: “Ek gaan soek dit êrens anders.” Maar, broers en susters, daar is geen êrens anders nie. Die kerk van Christus is die enigste plek waar veiligheid en rus moontlik is. Weghardloop is nie die antwoord nie. Terughardloop na Christus… ja, daar het ons die antwoord. Saam teruggaan na ons Koning wat ewig regeer ter wille van ons, sy kerk. En wat geen ander doel voor oë het nie as om vrede en rus vir sy kinders te bring nie. Kom ons wys mekaar daarom op Christus – gaan saam met daardie een wat jou seergemaak het na Christus, vra daardie een vir wie jy seergemaak het om saam met jou na Christus te gaan. Smeek dat Christus Homself sal bewys as die Koning wat Hy is: ons Vredevors! Soos wat ons gelees het in Efesiërs 2: “Hy is ons vrede … deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het … en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis… En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig…” So is Christus. Kom ons laat sy heerskappy hier in ons midde tot uiting kom; kom ons laat sy vrede hier heers. Dit is sy doel om vir elke lidmaat ‘n plek van veiligheid en rus te bied; laat ons dan nie die skuld daarvoor dra dat hierdie gemeente onveilig vir sommige word nie. Dan breek ons af wat Christus opbou.

Ten slotte let ons daarop dat God onder alle omstandighede bou.

3. Gemeente, in verse 12-14 vind ons ‘n gedetaileerde uitwerking van die Here se vroeëre belofte aan Dawid. En hier sien ons waarom dit so wonderlik is dat die Here – en nie ons nie! – die bouer van sy huis is. Menslike bouers moet soms ophou bou, menslike bouers word in hulle werk gekeer deur allerhande omstandighede – wanneer dit reën en hael, kan daar nie gebou word nie; wanneer daar ‘n staking deur werkers is, kan daar nie gebou word nie; wanneer daar ‘n gebrek aan materiaal is, kan daar nie gebou word. Maar dan sien ons in hierdie laaste deel van die Here se boodskap aan Dawid dat sy bouwerk eenvoudig voortgaan; ons sien op drie maniere dat sy werk deur niks gekeer word nie.

• Ons sien in die eerste plek dat die dood nie sy bouwerk keer nie: “As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.” Dawid sal eendag in die graf neergelê word, maar beteken dit dan die einde van die Here se belofte aan Dawid? Nee, die Here sal ‘n nuwe koning laat optree. Die dood kan die Here nie keer om sy belofte aan Dawid en sy nageslag waar te maak nie; vir die Here se werk van kerkbou geld regdeur die geskiedenis die woorde van 1 Korinthiërs 15: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”

Ook ons is sterflik, broers en susters, ook ons kan enige oomblik deur die Here weggeneem word, maar dink u dat daarmee die Here se werk gekeer word? Dink u dat die bouwerk moet stop wanneer kerkleiers of gesiene persone eendag in die graf neergelê word? Dink jy dat God se werk van kerkbou en reformasie opgehou het die dag toe Maarten Luther en Johannes Calvyn die laaste asem uitgeblas het? Ek weet, dit kan so voel. En daarom hoor ons soms die versugting van iemand wat sê: “Was hierdie of daardie nog maar hier, hy sou geweet het in watter rigting ons moet gaan.” “Ag, as daardie geliefde ouderling nog maar gelewe het, hy sou my kon help.” Maar let dan op ons groot Bouer wat die dood oorwin het! Hy gaan rustig voort met sy werk. En as geliefdes wegval, dan beteken dit nie een minder kerkbouer hier op aarde nie; nee, dan beteken dit eerder nog ‘n steen wie se plek verseker word in die gebou van die hemelse Jerusalem. Christus bou voort, in die hemel en op die aarde. Want Hy het waarlik opgestaan!

• Ons sien in die tweede plek dat selfs sonde God se bouwerk nie kan keer nie: “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders” (vers 14). Sien u hoe realisties die Here dink oor die koningskap van die nageslag van Dawid. Hy weet daar gaan sonde kom, en as Vader gaan Hy dan ook moet straf. Maar sy straf sal nooit so ver gaan dat dit ‘n totale verdwyning van sy goedertierenheid sal beteken nie (vers 15). Natuurlik gaan die Here optree teen sondige konings, maar dit beteken nog nie dat Hy die sonde gaan toelaat om heerskappy te voer nie. Die sonde sal nie sy verbondsliefde oorwin nie. Die lyn van Dawid se koningsheerskappy sal nooit dieselfde einde bereik as Saul se heerskappy nie. Moontlik sal die Here se oordeel kom oor individuele konings, maar daarmee word die beloofde voortgang van die Dawidshuis nie omver gewerp nie.

Ook hier in ons midde, broers en susters, is die sonde nie sterker as die troue liefde van die Here nie. Ek en jy maak mekaar seer; ek en jy is onwys in ons woorde en dade; ek en jy dink miskien dat ons pragtig saambou, terwyl ons intussen eerder afbreek. Maar plaas dit ons gemeente skielik op wankel fondamente? Word daarmee die toekoms van Maranata onseker? Nie vir een oomblik nie – die Here is groter as die sonde!

• En in die derde plek sien ons dat ook die verwerende werking van die tyd nooit God se bouwerk sal keer nie: “En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.” Solank as wat daar tyd bestaan, so lank sal die nageslag van Dawid op die troon sit. En tot op die dag van vandag handhaaf God hierdie belofte, want vandag nog sit Jesus Christus, ‘n spruit van Dawid, op die troon van God. Soos wat ons sing in Psalm 72:3: “Só lank die son se flonkervure ‘n lig by dag sal wees, die maan ‘n lamp by donker ure – só lank sal hul Hom vrees.” Die tye kom en gaan, konings kom en gaan, ryke kom en gaan, maar God se kerkbou-werk gaan rustig voort, elke dag. Christus is ‘n ewige Koning wat nooit sonder onderdane kan wees nie.

So sien ons dus, broers en susters, dat én dood én sonde én tyd kan doen wat hulle wil, maar hulle sal nooit God se bouwerk aan die koningshuis van Dawid kan keer nie. God bou onvermydelik voort. God gaan verder bou aan hierdie gemeente, en daar is niks wat ek en jy kan doen om dit te keer nie. God se koninkryk is onstuitbaar.

En wanneer ons in die komende weke gaan kyk na ons taak en inskakeling by God se bouwerk aan die kerk, laat ons hierdie basis nie uit die oog verloor nie. En as jy deur die Woord geroep word om jou gawes tot nut en saligheid van die gemeente aan te wend en dit, tot jou teleurstelling, weinig resultate oplewer, moet dan nie ophou om die taal van die geloof te praat nie: “Die Heer is goed en wondersterk, Hy sal sy werk deur niks laat keer nie.”

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 48:1 en 5
Wetslesing + genadeverkondiging
Sing Ps. 65:1-3
Gebed
Lees:  2 Samuel 7
 Efesiërs 1:15-23; ook nog Ef. 2:11-22
Sing Ps. 89:11-14
Teks: 2 Samuel 7:5b en 11b (ek lees spesifiek hierdie verse, maar ek kyk daarby na al die
woorde van die Here vanaf vers 5-16)
Preek
Amenlied Ps. 138:3 en 4
Gebed
Kollekte (lees 2 Kor. 9:5-8)
Slotsang Ps. 132:5, 7, 8 en 9
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)