Kyk altyd in die lig van jou verlossing na die skepping en die onderhouding!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-01-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 9
Verwysing: 
HK 9-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ons het gekom by die eerste artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis. U sal miskien onthou dat die Here einde verlede jaar tot ons gespreek het oor Homself as die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees. En dit is juis hierdie misterie van die Drie-eenheid, die drie Persone in die een God, wat aanleiding gegee het tot die struktuur van die Apostoliese Geloofsblydenis. Dit blyk duidelik uit v/a 23 en 24 van die Kategismus – hier sien ons dat die Apostoliese Geloofsbelydenis ingedeel is in drie dele, ooreenkomstig die drie Persone van God. Die eerste deel gaan oor God die Vader en ons skepping, die tweede deel gaan oor God die Seun en ons verlossing, en die derde deel gaan oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Maar nou, broers en susters, is hier ‘n slaggat waarvan ons deeglik bewus moet wees. Terloops, die Kategismus self val nie in hierdie slaggat nie. Die slaggat – of gevaar – waarvan ons bewus moet wees, is om hierdie driedeling as ‘n skeiding te begin gebruik, in plaas van ‘n nuttige onderskeid. Die gevolg is dan dat ons eers heeltemal apart na God die Vader kyk, los van die Seun en die Gees; daarna fokus ons spesifiek op die Seun, los van die Vader en die Gees; en ten slotte volg die Gees, los van die Vader en die Seun. Dít, gemeente, is nie hoe ons God werk nie. Ons kan die drie Persone nie op so ‘n koue en kliniese manier van mekaar skei nie, want dan dreig die wesenlike gevaar dat ons van die één God drie aparte gode gaan maak, elkeen met sy eie werkterrein en met sy eie spesialiteit.

En dít is nou presies waarvoor ons ook moet oppas as ons Sondag 9 gaan behandel. Want waaroor gaan Sondag 9? Heeltemal reg: oor die eerste deel van die Apostoliese Geloofsbelydenis, naamlik oor God die Vader en ons skepping. En voor ons enigsins verder nadink, volg daar ‘n boeiende preek oor allerlei wetenswaardighede betreffende die skepping van hemel en aarde. Kwessies soos die skepping in ses dae word uitgediep, die evolusie-teorie word weerlê, en ons het selfs nog tyd om te besin oor die vraag of dinosourusse bestaan het. Maar gemeente, dit is nie waaroor Sondag 9 gaan nie. Want wat staan in Sondag 9? Kom ons kyk na antwoord 26: wat is die hoofsin in hierdie antwoord? Is die hoofsin: “Ek glo dat God die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer”? Indien wel, dan kan ons ‘n preek oor die skepping verwag. Maar dit is nie die hoofsin nie. Inteendeel, dit wat ek nou aangehaal het uit antwoord 26 is twee bysinne. Die hoofsin van antwoord 26 is dit: “Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is!” Dit is iets heeltemal anders!

En gemeente, dit beteken nie dat die skepping en verskillende aspekte daarvan onbelangrik is nie; inteendeel, dit is van groot gewig. Maar die kern van Sondag 9 is dat Hy, wat die ewige Vader van Christus is, deur hierdie einste Christus nou ook my Vader is. Slegs in daardie lig kan en mag ons na die skepping kyk. Slegs in daardie lig kan ons God as ons Skepper eer!

Tema: Kyk altyd in die lig van jou verlossing na die skepping en die onderhouding!
1. God verlos sy volk deur sy skeppende krag
2. God verlos sy volk deur die regering van die wêreld
3. God se verlossing neem alle twyfel weg

1. Soos uit Jesaja 1:1 blyk, het Jesaja in die tyd van die konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia opgetree. Vir ongeveer 50 jaar lank was hy die stem van die Here in die twee-stammeryk. Uit die boek Jesaja self kan ons aflei dat Jesaja in Jerusalem gewoon het, getroud was, en dat uit hierdie huwelik ten minste twee seuns gebore is. Uit die manier waarop die konings Agas en Hiskia hom behandel het, kan ons ook aflei dat Jesaja van hoë afkoms was. Hy sterf ongeveer 100 jaar vóór die babiloniese ballingskap.

En tog het Jesaja geweet van die ballingskap. Die Here het hom daaroor laat profeteer. En toe die Here die ballingskap van die volk laat verkondig het, was dit vir Jesaja nie nodig om ver te gaan soek vir die rede nie. Vir eeue lank al het die volk die Here geterg met hulle afgodediens, ongeloof en afval. Hier, in die stad waar hy gewoon het, was dit voor Jesaja se oë – skeinheilige offers aan die Here, verdrukking van die armes, hoerery, okkultiese praktyke, materialisme… Kry u ook ‘n gevoel van déjà vu? Ek stem saam, ons tyd lyk nie baie anders nie… 

En dan word Jesaja deur die Here opgedra om in skrikwekkende beelde die realiteit van die ballingskap vir sy tydgenote te skets. Die ballingskap – sekerlik die grootste ramp in die geskiedenis van God se volk. Die stad Jerusalem – die trots van die volk – was vernietig; die tempel – God se woonplek – het in duisend stukke gelê. Hoe moes die volk in hierdie omstandighede staande bly? Waarop moes hulle, daar in die vreemde Babel, hulle oog rig? Op die gode van Babel? Wel, gemeente, so is daar in daardie tyd geredeneer: volgens die denkwyse van daardie tyd het die ondergang van ‘n nasie outomaties ook die ondergang van sy god beteken. Wanneer een volk deur ‘n ander militêr verslaan is, het dit onmiddellik gelei tot ‘n diepe bevraagtekening van die heersende godsdienstige oortuigings van daardie onderwerpte nasie. Is hierdie god nog ons god? Bestaan hy nog? Kan hy ons enigsins red?

En, gemeente, in Israel se geval is hierdie twyfel en bevraagtekening nog vererger deur die feit dat die koning van Babel teen die einde van die Babiloniese ryk al die afgode vanuit die hele ryk in Babel bymekaar gebring het. Die gevolg was ‘n wye verskeidenheid van afgode, tempels en priesters, wat elkeen die boodskap van hulle god oorgedra het. U begryp die stryd wat die volk gehad het… Aan die een kant was daar die Here, wat deur die denkwyse van daardie tyd dood verklaar is vanweë die volk se militêre ondergang. Aan die ander kant was daar die magdom afgode van die oorwinnende nasie. Wie is nou God? Op wie moet die volk bou?

En dit is in hierdie omstandighede dat die Here sy volk aanspreek. Op min ander plekke in die Bybel vind ons dat God Homself só aanprys soos hier vir sy volk in ballingskap. Hulle het dit nodig, hulle het nodig om bevestig te word in die God wat aan hulle kant staan, wat vír hulle veg. En daarom plaas die Here Homself op die voorgrond deur in besonder en herhaaldelik te wys op sy skeppende mag. Ons sien dit alreeds in vers 24: “Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei – wie was met My?…” Kyk ook maar na hoofstuk 45:7, 8 en 12. Die Here wys dus vir sy volk dat wat met die ballingskap gaan gebeur, nie buite sy beheer plaasvind nie. Hy is immers die Een wat die teater – die verhoog! – van álle wêreldgebeure gemaak het. Hy is nie gebonde aan nasionale belange nie; Hy is nie ‘n kleinsielige nasionale godjie wat vooroor op sy gesig kan val nie; die ondergang van sy volk beteken nie sý ondergang nie – immers, Hy staan bo dit alles! Hy is in ‘n totaal ander liga as die gode van die volke – die gode van die volke is immers ook skepsels, God is geen skepsel nie maar Hy is self Skepper!

Hy laat Hom ook nie afskrik deur die veelheid van afgode en profete wat daar in Babel probeer het om sy volk van Hom afvallig te maak nie, want – 44:25 – Hy vernietig die tekens van die leuenprofete, Hy maak die waarsêers tot dwase, Hy laat die wyse agteruitwyk en maak hulle kennis domheid. Selfs wanneer al die gode van die wêreldryk van daardie tyd in die hoofstad versamel word, dan nog is hulle nie opgewasse teen die almagtige Skepper van hemel en aarde nie. En op dié manier, gemeente, as die Skepper van hemel en aarde, is Hy die Verlosser van Israel, só soek Hy die heil van sy volk. Hy soek daarna om Jerusalem weer te laat bewoon; Hy wil graag hê dat die stede van Juda weer opgebou word; Hy streef na die heropbou van die tempel (44:26, 28). En Hy kán dit doen!

Verstaan u dit, gemeente? Ons kan nooit na God as Skepper in isolasie kyk nie. Want die Here se skeppende mag is altyd ten bate van sy kinders; sy skeppende optrede staan altyd binne die kader van die verlossing van sy volk, sy kerk. Hy is as Skepper baie naby aan sy kinders, aan ons! As ons dit uit die oog verloor, dan verval ons in wat ons in ons land vind by die tradisionele Afrika-godsdienste. Die tradisionele Afrika-geloof ken ook ‘n god, hy is ook baie magtig, hy’s ook ‘n Skepper – maar met een groot verskil: hy is ver! Hy hou hom nie regtig besig met die dinge van die mense nie. Daarvoor is daar die tussenpersone, die geeste van die voorvaders. Maar gemeente, ons het nie ‘n ver-af Skepper-god nie; nee, Hy is naby, en wanneer Hy optree met sy Skeppersmag, dan doen Hy dit ter wille van jou en my. Wanneer ‘n aardbewing ons bo ons vermoë beproef, of wanneer een of ander natuurramp toeslaan, of wanneer die skoonheid van nuwe lewe ons verwonder, dan sien ons ons die Skepper aan die werk, ter wille van ons!

En waar beter sien ons dit as by die geboorte van Jesus Christus uit ‘n maagd? Geen manlike saad het haar bevrug nie, nie Josef óf ‘n ander man het met haar gemeenskap gehad nie. God het sy almag bewys deur Maria te bevrug en te sorg dat sy geboorte gegee het aan Jesus Christus. En dit is danksy hierdie skeppende optrede, dit is ter wille van sy Seun Christus, dat Hy my God en Vader is. God gebruik sy skeppende almag ter wille van my, Hy tree op tot my redding. Hy wat die hemel uitgespan en die aarde uitgesprei het, Hy is my Verlosser! Hou daarom die perspektief, broers en susters – bo u en my klein lewetjie, bo die klein lewentjies van elkeen van sy kinders, hier in Suid-Afrika, in Nederland, in China, in die bosse van Brazilië troon die Skepper. En Hy gebruik sy skeppingsmag ter wille van ons, sy kinders. Ons klein lewentjies is vir Hom belangrik genoeg om bonatuurlik kragte in Hom los te maak. En dit alles tot ons verlossing!
Ons let vervolgens daarop dat God sy volk verlos deur die regering van die wêreld.

2. In hoofstuk 45:1 maak die Here baie konkreet deur wie Hy sy volk gaan verlos: deur koning Kores. Die Here noem hom sy gesalfde – dit was ‘n titel wat normaalweg op die hoëpriester of die koning van Israel toegepas is. Maar hier geld dit vir die Persiese koning wat die Here verkies het om sy stad en tempel te laat herbou. Vir die volk moes dit ‘n geweldige skok gewees het om te hoor hoe hierdie eretitel op ‘n heidense koning toegepas word. Maar gemeente, die Here wys met hierdie benaming dat Hy die wêreldgebeure bepaal, dat Hy selfs in staat is om die wêreldheerser van daardie tyd in sy diens te neem.

En dit blyk ook duidelik uit die volgende woorde waar die Here sê dat Hy Kores se regterhand gevat het om nasies voor hom neer te werp. Normaalweg het die Babiloniese koning tydens die Nuwejaarsfees die hand van die afgod Bel vasgehou – waarskynlik as simbool dat Bel hom ook in die nuwe jaar sou help. Maar hier sien ons dat dit die Here is wat Kores se regterhand vat – Kores se sukses hang nie van homself of van die gode af nie, maar van die Here!

En dan volg daar ‘n uitgebreide beskrywing van wat die Here alles vir Kores gedoen het. Hierdie beskrywing is so uitgebreid en gedetaileerd dat ons amper vergeet waaroor dit hier gaan. Hoekom doen die Here dit? Hoekom vestig Hy soveel aandag op hierdie heidense koning? Wel, die rede vind ons in vers 4: “ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep…” Ter wille van Jakob, ter wille van Israel – die Here wys dat Hy die wêreldheerser Kores in die palm van sy hand het, omdat Hy daarmee sy vólk wil verlos. Ter wille van die verlossing van sy vólk kry Kores ‘n erenaam – hy was uiteindelik die koning wat Israel verlof gegee het om na Jerusalem terug te gaan en die tempel te herbou.

So sien ons hoe die Here sy regering van hierdie wêreld aanwend ter wille van sy volk. Deur sy ewige raad en voorsienigheid onderhou en regeer God die wêreld, tot heil van sy volk. Daardeur moet die wêreld, van die opgang van die son tot sy ondergang, dus van die ooste tot weste, weet dat daar geeneen buiten God is nie; Hy is die Here, geen ander nie.

Vir die volk in ballingskap het dit waarskynlik baie onbelangrik gelyk dat ‘n Persiese koning die heerskappy by die Babiloniërs oorgeneem het. Wat het dit hulle gehelp? Hulle was immers nog steeds in ballingskap. Maar die Here wys al 100 jaar voor die ballingskap dat Hy hier aan die werk is: Kores het nie eens God se Naam geken nie, die konings en koninkryke was nie gewillig om saam te werk nie, maar God verkondig hier sy soewereine mag en reg om hulle te laat saamwerk sodat die resultate verkry word wat Hy wil hê: ‘n herstelde Jerusalem en ‘n bevryde volk!

Broers en susters, kyk daarom met ander oë, geloofsoë, na die gang van die geskiedenis en na die gang van jou eie lewe. Die geskiedenis is nie maar ‘n samevoeging van oorsaak en gevolg, van aksie en reaksie nie. Dit is nie maar ‘n willekeurige reeks gebeurtenisse nie. Jacob Zuma en Barack Obama se regering – dis nie maar net sameloop van historiese omstandighede nie. Nee, my God en Vader is in die geskiedenis aan die werk, ter wille van my sy kind. Elke wisseling van mag, elke staatsgreep, elke nuwe wet, elke gebeurtenis in die samelewing en in ons lewens, is ‘n skakel in die plan van die God wat sy kerk op die oog het, wat my heil soek. Want Hy is my Vader, en ‘n Vader soek die beste vir sy kinders – ook al sien die kind dit nie altyd raak nie!

Ons let nog ten slotte daarop dat God se verlossing alle twyfel wegneem.

3. Dit wil voorkom asof God se gebruik van Kores, sy gesalfde, protes onder sommige van die volk opgeroep het, asof hulle God se wysheid hierin bevraagteken het. Dit blyk uit die woorde van verse 9 en 10: “Wee hom wat met sy Formeerder twis – ‘n potskerf by erdepotskerwe. Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie! Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u weë?”

Selfs wanneer die Here hulle wil verlos, dan is die volk steeds blind en opstandig teenoor die wil van die Here. Die ondenkbare gebeur: die klei protesteer teen die pottebakker se intensies, en iemand protesteer teen die feit dat ouers ‘n kind in die wêreld bring.
Maar gemeente, die Here, die Heilige van Israel en sy Formeerder eis dat hulle sy vrymag sal eer. Hy is immers die Een wat sy volk gaan verlos. Hy is die enigste wat hulle kan verlos. En daarom wil Hy nie by sy volk twyfel sien nie, Hy wil nie sien dat hulle Hom in eiewysheid sal bevraagteken nie. Die Here wil hê dat sy volk gelowig sal aanvaar wat Hy gaan doen, óók wanneer Hy sê dat Hy Israel deur middel van ‘n heidense koning gaan verlos! Immers, Hy is hulle Vader – en, só leer die Here Jesus ons in Lukas 11, vir watter Vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy ‘n eier vra hom ‘n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” Is daar een vader onder ons wat die slegte vir sy kind soek? Sal ons hemelse Vader dan wel die slegte vir ons soek? Nooit nie! En daarom die oproep van die Here in Jesaja 45:11: “Vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe.”

Dit is ‘n Vader wat hier spreek, ‘n Vader wat die beste vir sy seun, vir sy kinders, soek. En as ‘n getroue Vader wil Hy nie slegs help nie, maar as ‘n almagtige God kan Hy ook help. Hy het immers die aarde gemaak en die mens daarop geskape, Hy het die hemel uitgespan en aan sy ganse leërskare bevel gegee, Hy het Kores verwek in geregtigheid, en al sy weë gelyk gemaak – lees maar verse 12 en 13. En daarom vra die Here gelowige vertroue. “Vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe. Laat dit asseblief aan My oor.”

Broers en susters, dit is dikwels vir ons baie moeilik, want die manier waarop die Here as almagtige God in ons lewens werk, is dikwels totaal anders as wat ons verwag het of self beplan het. Dit wat die Here doen, gaan dikwels lynreg teen ons eie lewensplan in. En dit kan ons opstandig maak, dit kan ons laat twyfel aan die goeie intensies van die Here. “Hoekom Here? Hoekom ek? Hoekom het dit of dat in my lewe gebeur.” Besef dan wie jy is – ‘n potskerf teenoor die pottebakker. Maar meer nog, besef wie Hy is – jou Vader deur Jesus Christus. Hy soek die beste vir jou, langs sy weg bereik Hy sy doel met jou, bring Hy vir jou en my verlossing. Moet daarom nie daaraan twyfel dat Hy jou met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Moenie twyfel dat Hy al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor jou beskik, tot jou beswil sal verander nie. Hy kán dit doen, Hy wíl dit doen!

Rig dan ook jou aandag, vanuit jou moeite en sorge, op die toekoms. Immers, dit is waarheen God besig is om te werk. Die heerlike toekoms. Dit is wat Hy ook in Jesaja 45 vir die volk sê: “Julle kyk nou nog vas in Kores, maar kyk verby Kores, kyk na die toekoms, dan sien julle: hy sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonde geskenk” (vers 13). Hou daardie groter prentjie in die oog, gemeente. Ons is oppad na die nuwe Jerusalem, die stad van God. En om daar te kom, gaan God in menslike oë soms die vreemdste paaie, gebruik hy die vreemdste mense. Maar die einddoel is seker, want God doen dit! En daar, in die nuwe Jerusalem, sal die volke inkom. Lees maar Openbaring 21:24: “En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid daarin.” Hoe goed sal dit wees daar in die stad van God.

God die Skepper – Hy is die oorsprong van alle dinge. God die Regeerder en Onderhouder – Hy sorg vir die voortgang en die goeie einde. God, my Vader – op Hom vertrou ek só dat ek nie twyfel nie!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 95:2-4
Gebed
Lees: Jesaja 44:24-45:16
Sing Ps. 96:5-7
Teks: HK, Sondag 9
Preek
Amenlied Ps. 97:1, 5 en 7
Gebed
Belydenis van geloof
Sing Ps. 9:7 en 10
Kollekte
Slotsang Ps. 98:1, 2 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)